Die gewilde strokiesprentkarakter Winnie the Pooh word in China gesensor nadat honderde foto’s en aanmerkings op die internet opgeduik het waar sosialemediagebruikers die Chinese president op ʼn tergende wyse met dié plomp karakter vergelyk.
Die meeste van dié foto’s en kommentare teenoor Xi Jinping, die president, is op die sosialenetwerk Weibo versprei – ʼn netwerk soortgelyk aan Facebook wat 340 miljoen aktiewe gebruikers het.
Volgens die BBC is geanimeerde foto’s van dié karakter van WeChatt verwyder, terwyl gebruikers van Weibo nie meer foto’s of kommentare van Winnie the Pooh mag versprei nie. Alle foto’s of frases met verwysing na dié karakter word verwyder.
Sommige van die foto’s wat soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het, is een van Jinping en Shinzo Abe, die eerste minister van China, wat mekaar ’n handdruk gee ná ʼn perskonferensie. ʼn Foto van die twee politieke leiers is gekombineer met ʼn foto van Pooh en Tigger, nog ʼn strokiesprentkarakter uit dieselfde strokiesprentreeks, wat ook kwansuis bladskud.
Jinping is ook in ander gekombineerde foto’s te sien waar hy sy kop by ʼn amptelike motor uitsteek, en tydens ʼn gesprek met die voormalige Amerikaanse president, Barack Obama.
Volgens die BBC is dié gegekskeer met die president en ander politieke leiers strategies beplan. Volgens die nuusnetwerk het die kommunistiese party binnekort ʼn belangrike vergadering waar talle regeringsposte wat beskikbaar is, bespreek gaan word. Amptelike owerhede kan glo frases op die internet sensor wat teen dié kommunistiese party is.