
Pres. Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane, GCIS
Zuma het gesê die omstrede Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting is steeds onder bespreking en verskeie insette en wetlike opinies word oorweeg. “Ek het die wet[sontwerp] teruggestuur na die parlement om tegniese redes en hulle het dit terugbesorg met die nodige veranderinge daarin aangebring. Op ʼn gepaste tyd sal die pad vorentoe bepaal word,” het hy gesê.
“Die regerende party, die ANC, het op sy nasionale hoofraadsvergadering besluit om die 2007-konferensiebesluit oor media-transformasie, aanspreeklikheid en diversiteit te bespoedig. Dit sluit die voorgestelde parlementêre navraag oor die haalbaarheid en wenslikheid van ’n media-appèltribunaal in.”
Zuma het redakteurs en joernaliste verseker dat die bepalings oor die media en vryheid van spraak wat in die Grondwet vervat is, in ag geneem sal word wanneer daar oor die wetlike regulering van die media besluit word. “Niks sal gedoen word wat in stryd is met die Grondwet nie.”
Zuma se woorde het wyd reaksie ontlok met verskeie rolspelers wat gesê het die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting is bloot ʼn manier om die media te muilband.
Dr. Eugene Brink, senior navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut, meen die ANC probeer skynbaar om die media se waghondrol in te perk. “Media wat vry, waaksaam en onafhanklik is, is noodsaaklik om korrupte praktyke te ontbloot. Daarsonder sal politici nie deur die publiek aanspreeklik gehou kan word vir hul wandade nie en sal belastingbetalers nooit weet wat met hul belastinggeld gebeur nie,” het Brink gesê.
Brink meen die media kon die afgelope 21 jaar daarin slaag om homself te reguleer en dat die staat se planne om die media te reguleer nie geregverdig is nie. “Die media het verskeie politici en regeringsamptenare die afgelope paar jaar in die sop laat beland oor hul betrokkenheid by korrupsie en wanbesteding. Dit verklaar deels die ANC se verskerpte veldtog om mediavryheid in te perk, maar regverdig geensins die strenger regulering van die media nie. Die media het tot dusver net hul grondwetlike reg tot vryheid van spraak en demokratiese waghondplig uitgeleef,” het hy gesê.
Die Suid-Afrikaanse nasionale redakteursforum (Sanef) het intussen hul dank teenoor Zuma uitgespreek vir sy herdenking van Persvryheiddag deur met redakteurs en joernaliste te vergader. Die organisasie het egter sy kommer uitgespreek oor die president se uitlatings oor die behoefte vir ʼn parlementêre ondersoek na die instelling van ʼn media-appèltribunaal.
Volgens Sanef is dit onduidelik waarom die president te vinde is vir dié soort regulasie.