Die bestuurder van ʼn spa naby Cullinan in Gauteng het Dinsdagoggend wakker geskrik en vier gewapende rowers in haar kamer aangetref.
Konst. Conny Moganedi, woordvoerder van die polisie, het gesê die 52-jarige vrou is die bestuurder van Ukuthula Bush Spa in Leeuwkloof. Sy het omstreeks 04:00 wakker geword toe vier gewapende mans deur die vensters van haar slaapkamer geklim het.
“Hulle het haar gedreig en toegang tot die kluis geëis,” het Moganedi gesê. “Hulle het daarna twee selfone, ʼn skootrekenaar en R40 000 kontant gevat en met die spa se Renault Clio gevlug. Die voertuig is later verlate by die ingang van die spa gevind.”
Volgens Moganedi is die vrou ongedeerd. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en ʼn saak van sakeroof is aanhangig gemaak.
Mense met meer inligting oor die voorval kan die Cullinan-polisiestasie by 012 734 1431 skakel.