Die Zambiese natuurlewe-owerheid (Zawa) het gesê die verdagtes is in Gwembe by die Katokota-vliegveld in hegtenis geneem.
Een van die Suid-Afrikaners wat in hegtenis geneem is, is glo ʼn wildvanger wat gesê het hy was besig om die diere van Lusaka na Livingstone te vervoer. Die Suid-Afrikaners het glo voorgegee om net toeriste te wees. Die wildvanger het glo ʼn permit gehad om die diere te verskuif, maar daar was teenstrydighede met die permit. Hy het ook beweer hy het nie die plek in Livingstone geken waarheen hy die diere sou neem nie.
Dit het die owerheid laat vermoed dat die mans eintlik besig was om die bokke uit die land, vermoedelik na Suid-Afrika, te smokkel. Die mans is in hegtenis geneem en daar is beslag gelê op die swartwitpense en die ligte vliegtuig waarmee hulle vervoer sou word.
Zawa het in ʼn verklaring vier van die verdagtes se name bekendgemaak.
Volgens Zawa het vyf van die swartwitpense reeds gevrek van stres. Die res is in die Munda Wanga-reservaat vrygelaat waar hulle waargeneem sal word.
Ongeveer ʼn maand gelede is Theo Bronkhorst, die professionele jagter wat glo die jag op Cecil die leeu gereël het, in Zimbabwe in hegtenis geneem nadat hy na bewering swartwitpense onwettig in Suid-Afrika probeer insmokkel het.
*Die berig is gewysig nadat dit aan die lig gekom het dat die verdagtes nog nie in die hof verskyn het nie.



