
Foto: Ngkerk.org.za
“Ons moet vandag vra watter interpretasie van die Bybel ons gaan kies: Die Bybel wat streng nakoming van die wet vereis of die Bybel wat Jesus Christus as liefdevol en barmhartig interpreteer? Kan ons vandag nog die Bybel gebruik om mense uit te sluit van die liefde van Jesus Christus?” het ds. Fay van Eeden van die NG gemeente Lynnwood op die vierde dag van die Algemene Sinode van die NG Kerk gevra. Lees haar boodskap.
Hierdie woorde van ds. Van Eeden kan as profeties beskou word teen die agtergrond van die netelige kwessies wat verlede week by die sinode gedebatteer en beslis is.
Sestiende vergadering van die Algemene Sinode van die NG Kerk
Die Nederduitse Gereformeerde Kerk bestaan uit 10 samestellende sinodes en 1 100 gemeentes landwyd. Altesaam 200 afgevaardigdes van die samestellende sinodes het verlede week in Pretoria bymekaargekom vir die tweejaarlikse Algemene Sinode. Die afgevaardigdes het predikante én kerkraadslede ingesluit.
Ds. Nelis Janse van Rensburg, leraar van die NG gemeente Welgemoed en moderator van die sinode van Wes- en Suid-Kaapland, is tot nuwe moderator verkies in die plek van prof. Nelus Niemandt.
Die agenda en aanvullende agenda was lywige dokumente wat meer as 500 bladsye beslaan het en het verskeie “harige” sake ingesluit. Twee sake wat egter die mees omstrede gesprekke tot gevolg gehad het, was die stemming oor die uitslag van die stemming rondom die Belydenis van Belhar en die verslag oor selfdegeslagverhoudings.
Die gesprekke en debat was egter nie al wat die temperatuur in die saal van die Afrikaanse Hoër Seunskool laat styg het nie. Die week van 4 tot 9 Oktober is gekenmerk deur ’n landwye hittegolf en temperature in die Jakarandastad het tot 37 °C gestyg.
Hoewel die omstrede besluite rondom selfdegeslagverhoudings tans die media oorheers, kan die Algemene Sinode nie tot hierdie besluite gereduseer word nie.
Vroue by die sinode
’n Teleurstellende klein aantal vroue het die vergadering bygewoon. Minder as 30 van die afgevaardigdes was vroue en net ses van hierdie vroue was leraars. Ds. Norma Rossouw, moderator van Wes-Transvaal, is die enigste vrouemoderator. Dit is verbasend aangesien NG vroue reeds 25 jaar lank op gelyke voet met mans verkeer. Hulle word sedert 1990 tot alle ampte toegelaat. Tans is daar slegs 219 vroue onder die 2 172 predikante en proponente. Daar was wel vele vroue op die diensspanne wat die sinode help reël het en toegesien het dat alles seepglad verloop.
Die sinode het Donderdag 8 Oktober deelgeneem aan die Thursdays in Black-inisiatief. Thursdays in Black vra dat deelnemers elke Donderdag swart klere dra in protes teen verkragting en ander geweld teen vroue.
Afgesien van ds. Fay van Eeden, het twee ander vroue ook gedurende die week gepreek:
Dr. Marina Strydom van die gemeente Pretoria-Oos het die sinode in Ooskerk geopen. Sy het Richard Rohr, ’n Franciskaanse teoloog, aangehaal. Hy wys uit hoe selektief Christene soms met dualistiese denke en paradokse omgaan. Volgens Rohr bemoei ons ons dikwels met sake waaroor Jesus bykans geen uitspraak gelewer het nie en sien ons gerieflikheidshalwe heelparty van Jesus se uitdagende stellings (soos om jou goed te verkoop en aan armes te gee) oor die hoof. Sy het benadruk dat God se realiteit veel groter as ons eie perspektief is.
Me. Annemie Bosch het die derde dag se verrigtinge met ’n kort boodskap begin. Annemie is nie net die eggenoot van wyle prof. David Bosch nie, maar ook missionaris en teoloog uit eie reg.
Groen sinode
Die sinode was die eerste “groen” sinode. R1,6 miljoen is gespaar deur die geleentheid by die Afrikaanse Hoër Seuns- en Meisieskool as plekke van verblyf en byeenkoms aan te bied. Verder is glasbottels in plaas van plastiekbottels gebruik en afval in verskillende dromme verdeel vir herverbruik. Sinodenuus, inligting en reklame is ook elektronies uitgestuur om papier te spaar. ’n Toep (app) is ook gebruik.
Die sinode het teruggeploeg in die gemeenskap deur aan elke afgevaardigde ’n sak deur Ingane Yami Children’s Village vervaardig, uit te deel in plaas van die gebruiklike massavervaardigde konferensiesakke.
Belhar
Sinodes, kerkrade en gemeentes moes die afgelope jaar stem oor of die Belydenis van Belhar in die NG Kerk se belydenisgrondslag opgeneem kan word. Hierdie proses het landwyd groot debat uitgelok, maar die uitslag van die stemming was ’n beslissende nee. Die Algemene Sinode het aanvaar dat Artikel 1 van die Kerkorde nie gewysig kan word nie. In ’n pastorale brief aan gemeentes word daar geskryf: “Ons het gehoor van spanning, teleurstelling en ernstige en eerlike worsteling met vrae oor die proses, die uitslae en die moontlike gevolge daarvan vir lidmate, gemeentes, verhoudinge in die NG Kerk en die NG Kerk se verhoudinge met die ander kerke in die NG Kerkfamilie. Ons bede is dat die Here deur sy Woord en Gees nou ná alles weer heling sal bring in die gemoedere van lidmate, ons onderlinge verhoudinge en ons kerk se verhoudinge na buite.”
Later het die gevra dat toestemming verleen word dat streeksinodes voortaan self hulle belydenisskat kan uitbrei. Daar was enkele stemme van teenkanting van die vloer af, maar die vergadering het oorweldigend ten gunste van die voorstel gestem. Dit maak dit vir die Sinode van Wes- en Suid-Kaapland, wat ’n groot behoefte hieraan het, moontlik om die Belydenis van Belhar as deel van sy belydenisgrondslag te aanvaar.
Dieselfde proses moet egter gevolg word wat die afgelope tyd met Artikel 1 gevolg is: ’n Sinode moet ’n wysiging met ’n tweederdemeerderheid goedkeur. Verder moet twee-derdes van gemeentes en kerkrade ook met ’n tweederdemeerderheid ten gunste van so ’n verandering stem.
Die jeug is “skokkend positief”
Die Algemene Sinode van 2011 het opdrag gegee dat navorsing oor jongmense in die kerk gedoen word. Hierna is ’n multikerklike navorsingsprojek, Kerklike Jeug en Geloof in Suid-Afrika, van stapel gestuur.
Die resultaat van hierdie projek het so pas op die rakke verskyn: Skokkend positief. Twee redakteurs, dr. Zander van der Westhuizen en prof. Malan Nel, het met 27 skrywers en medewerkers saamgewerk om die inligting te versamel en die boek te skryf.
Die skrywers van die boek het ’n oorwegend negatiewe reaksie verwag toe die studie begin is. Hulle was egter aangenaam “geskok” oor die groot positiwiteit onder jongmense.
Klik hier om die voorwoord gratis af te laai.
Selfdegeslagverhoudings
Die Algemene Sinode van 2015 sal in die toekoms hoofsaaklik onthou word vir die Rubicon-besluite wat rondom selfdegeslagverhoudings geneem is.
“Wat ek weet, is dat gay-wees sentraal aan my is, maar steeds net een aspek van my bly. Daar is baie meer aan my as net my seksualiteit, maar my seksualiteit laat sy voetspore oral agter. Ek weet ook dat ek gebroke is: Niemand hoef my daarvan te oortuig nie. Ja, ek is, maar God is die groter IS. Ek kyk op en raak verlore in sy Heerlikheid,” skryf Dirk Nel in Gaygelowig: ingesluit in die gesprek. Hierdie boek is op die sinode bekendgestel. Die samesteller, dr. Marietjie van Loggerenberg, het onlangs haar proefskrif geskryf oor die effek van die NG Kerk se 2007-besluit oor homoseksualiteit op homoseksuele persone. Die verhale van gaygelowiges is in die boek saamgevat.
In 2013 het die Algemene Sinode ’n taakspan aangewys om ’n studie te doen oor die status van selfdegeslagverhoudings in die lig van die Bybel en Gereformeerde tradisie. Na aanleiding van hierdie opdrag het die Verslag van die Taakspan oor Etiese Riglyne vir Selfdegeslagverhoudings verskyn.
Die punt is ure lank na beide kante toe gedebatteer en daar is drie maal gestem. Klik hier om ’n volledige artikel oor die drie stemmings te lees. Die eerste stemming het die koers aangedui wat die meerderheid afgevaardigdes wou inslaan: Daar is met 102 teenoor 88 stemme aangedui dat die groen lig vir burgerlike verbintenisse tussen gaylidmate gegee word eerder as om nog verdere studies te laat doen.
Hierna het ’n verkose kommissie die besluit oornag verder verfyn om ’n finale besluit te formuleer. Hierdie besluit is met 114 teenoor 63 stemme aanvaar.
Die besluit herbevestig die feit dat slegs die verbintenis van een man en een vrou as ’n huwelik beskou word. Daar word wel in punt 2.4 erkenning gegee aan die status van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag wat gekenmerk word deur liefde en trou. Die besluit gaan verder deur toestemming te gee dat selfdegeslagverbintenisse deur predikante wat hulle weg oopsien, bevestig kan word.
Punt 2.6 van die besluit lui soos volg: “Die Algemene Sinode erken die diversiteit van beskouinge oor selfdegeslagverbintenisse binne die NG Kerk en bevestig die reg van kerkrade om hieroor hulle eie standpunte en praktyke te formuleer en te reël.”
’n Taakspan is reeds besig om ’n maklik verstaanbare oorsig van die NG Kerk se reis met homoseksualiteit saam te stel. Dit sal gemeenteleiers bemagtig in die begeleiding van hulle gemeentes.
Die sinode het ook besluit dat 2.4 nie van toepassing is op die sinode van Namibië nie omdat Namibiese landswette nie voorsiening maak vir selfdegeslagverbintenisse nie.
Klik hier om na ’n videogreep te kyk waar die nuutverkose moderator, ds. Nelis Janse van Rensburg, en assessor, ds. Dirkie van der Spuy, praat oor die besluit.
- Die Sinodebode-webwerf is hoofsaaklik as bron gebruik. Die medewerkers was Neels Jackson, ds. Rudi Swanepoel, Lenois Stander, Marileen Steyn en Liezel Lüneburg.