Die lugsoektog na Petro Nel (58), vermiste adjunkleier van die DA in Noordwes, sal Dinsdag vir die laaste keer in Nepal voortgesit word.
Chris Hattingh, voormalige DA-leier in Noordwes, het aan Maroela Media gesê indien daar Dinsdag niks gevind word nie, sal net die grondsoektog Woensdag voortgaan. “Ons is positief dat vandag moontlik iets kan oplewer, aangesien die weerstoestande baie goed is. Daar kon gister net vir ʼn kort gedeelte van die dag gesoek word omdat die weer dit nie toegelaat het nie.”
Hattingh het gesê die soektog fokus grootliks op die gebied waar daar die laaste keer ʼn sein van Nel se selfoon waargeneem is. “Dit is moeilik om vas te stel presies waar die sein vandaan gekom het, maar hulle kan die algemene gebied van waar die sein gekom het, bepaal. Soos ons verstaan, is daar baie min selfoontorings daar, wat die soektog verder bemoeilik.”
Hattingh het gesê daar sal Dinsdag vanuit die helikopters foto’s geneem word, veral van die diep klowe in die soekgebied, wat dan later vergroot en gefynkam kan word.
Nel is al sedert Donderdag vermis nadat die ligte vliegtuig waarin sy ʼn passasier was in Nepal verdwyn het. Nel en ʼn Russiese vlieënier was die enigste insittendes in die vliegtuig toe dit vermis geraak het. Sy was glo met vakansie in Nepal.
Nel se man, JC, en haar twee seuns, John-J en Juan, sal Donderdag na Nepal reis, het Hattingh gesê. Die seuns is onderskeidelik 30 en 24 jaar oud.