Dianne Kohler-Barnard, die DA se skaduminister van polisie, is gedemoveer na ʼn adjunk-posisie, enkele dae nadat sy in die sop beland het oor ʼn omstrede inskrywing oor PW Botha op sosiale media.
Maroela Media het vroeër berig Kohler-Barnard is voor die Demokratiese Alliansie (DA) se federale regskommissie geroep oor die inskrywing. Kohler-Barnard het twee weke gelede ʼn inskrywing van Paul Kirk, ʼn joernalis, gedeel waarin hy onder meer geskryf het: “Hierdie is ʼn blêddie sirkus. Kom asseblief terug PW Botha. Jy was by verre eerliker as enige van hierdie ANC skurke.”
Phumzile van Damme, die DA se nasionale woordvoerder, het gesê die feit dat Kohler-Barnard die inskrywing gedeel het, is “onverdedigbaar en heeltemal teenstrydig met die DA se waardes van vryheid, regverdigheid en geleenthede”.
Mmusi Maimane, DA partyleier, het Saterdag in ʼn verklaring aangekondig dat Kohler-Barnard voortaan as die adjunk-skaduminister van openbare werke sal dien. Zakhele Mbhele is in Kohler-Barnard se plek aangestel.
Maimane het egter geen aanduiding gegee dat Kohler-Barnard se demovering verband hou met die PW Botha-inskrywing nie. “Na aanleiding van ʼn hersiening van die DA se strategiese prioriteite en ʼn aantal vakante poste wat ontstaan het, is daar veranderinge aan die skadukabinet gemaak,” het hy gesê.
Kohler-Barnard is een van 11 skuiwe in Maimane se kabinet. Gavin Davis is as skaduminister van basiese onderwys aangestel, terwyl Van Damme as skaduminister van kommunikasie sal dien. Annette Lovemore is van basiese onderwys na openbare dienste en administrasie geskuif, Patricia Kopane is die nuwe skaduminister van openbare werke en Bridget Masango die skaduminister van maatskaplike ontwikkeling.
Johni Edwards is die nuwe adjunk-skaduminister van omgewingsake, Marius Redelinghuys is adjunk-skaduminister van polisie, Terri Stander is adjunk-skaduminister van openbare ondernemings en Erik Marais is adjunk-skaduminister in die presidensie.