Clik here to view.

Argieffoto
Die boer van Koster in Noordwes wat die naweek agter tralies moes deurbring nadat hy glo ʼn man doodgeskiet het wat hy van diefstal verdink het, is Maandag op borgtog vrygelaat.
Kapt. Paul Ramaloko, provinsiale polisiewoordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media gesê Cornelius Geldenhuys (48) het in die dorp se landdroshof verskyn en is op borgtog van R5 000 vrygelaat.
“Die saak is tot 7 Desember uitgestel vir verdere ondersoek,” het Ramaloko gesê. Geldenhuys staan tereg vir die moord op Solomon Quku. Hy was 41 jaar oud en nie 35 soos aanvanklik berig is nie.
Volgens die polisie het Geldenhuys glo omstreeks 16:00 vir Quku op die Rustenburg-Koster-pad, ʼn paar kilometer van Geldenhuys se plaas af, geskiet nadat daar glo by sy plaashuis ingebreek is en ʼn paar huishoudelike items gesteel is. Geldenhuys het in die gebied rondgery en Quku op sy fiets langs die pad sien ry.
“Die verdagte het langs die fietsryer stilgehou en hom van sy fiets af gepluk.” Geldenhuys het hom glo beveel om ʼn sak wat hy by hom gehad het te oorhandig sodat hy dit kan deursoek. “Daar is niks waardevols tussen die slagoffer se besittings gevind nie. Slegs ʼn noodhulpkissie, ʼn kussing, ʼn pet en ʼn paar skoene is in die sak gekry. Die verdagte het beweer dit is uit sy huis gesteel,” het Ramaloko gesê.
Daar het glo ʼn rusie tussen Geldenhuys en Quku ontstaan, waarna Quku twee keer geskiet is. Hy is op die toneel dood.
“Die polisie is na die toneel ontbied en die boer is in hegtenis geneem,” het Ramaloko gesê. Die verdagte se vuurwapen is vir ballistiese toetse gestuur en die polisie wag nog vir die uitslag daarvan.
Maroela Media het navraag by die polisie gedoen oor of daar ʼn saak van huisbraak aanhangig gemaak is en wag nog vir terugvoer.