Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê geen voorvalle is Sondag aangemeld nie, maar die polisie monitor steeds die gebied noukeurig.
Volgens Otto is nog twee voertuie Saterdagnag aan die brand gesteek en vier ander is deur inwoners beskadig. Die inwoners is ontevrede oor die voorstel dat hulle deel vorm van ʼn nuwe munisipaliteit wat die Malamulele-township en omliggende nedersettings sal insluit.
“Daar was geen betogings vandag nie. Dit is stil, maar gespanne en sommige paaie is steeds afgesper. Die polisieteenwoordigheid in die gebied is nog meer opgeskerp.”
Een persoon is tot dusver in hegtenis geneem in verband met die betogings. Vrydag moes alle dienste by Vuwani opgeskort word, winkels en skole in die omgewing het toegemaak en openbare vervoerdienste is tydelik gestaak weens die oproer.