Kol. Tembinkosi Kinana, woordvoerder van die polisie, het gesê deur middel van klopjagte wat gedurende die week uitgevoer is, is 180 verdagtes vir dwelmoortredings vasgetrek en daar is op meer as R12 000 se dwelms en meer as 400 liter alkohol beslag gelê.
“Altesaam 324 verdagtes is in hegtenis geneem op aanklagte van onder meer moord, poging tot moord, aanranding, die besit van gevaarlike wapens, die onwettige besit van vuurwapens, verkragting en opsetlike saakbeskadiging,” het hy gesê.
Kinana het gesê ʼn man is ook Sondag in hegtenis geneem nadat hy lukraak op ʼn polisievoertuig losgebrand het. Niemand is in die voorval beseer nie.
Brig. Vincent Beaton, bevelvoerder van die Kuilsrivier-groepering, het die polisiebeamptes geloof vir hul toewyding om misdaad in die gebied hok te slaan. Hy het ook ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om die polisie by te staan in hul geveg teen misdaad.