Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all 56621 articles
Browse latest View live

Jordaan breek sy stilte oor verkragtingbewerings

$
0
0

Danny Jordaan. Foto: GCIS

Danny Jordaan, sokkerbaas en voormalige burgemeester, het Woensdag uiteindelik reageer op die verkragtingbewerings wat deur voormalige ANC-LP Jennifer Ferguson teen hom gemaak is.

Tot nou toe het Jordaan niks gesê nie oor die bewerings wat verlede maand aan die lig gekom het toe Ferguson die uitsprake op Facebook gemaak het en dit later op Talk Radio 702 herhaal het.

Mamodupi Mohlala-Mulaudzi, Jordaan se regsverteenwoordiger, het gesê haar kliënt se oënskynlike stilswye in die lig van sulke ernstige bewerings was weens sy “empatie met die slagoffers” van geslagsgebaseerde geweld.

“In die lig van die vlaag geslagsgebaseerde geweld in die land en dr. Jordaan se sensitiwiteit teenoor hierdie kwessie, moes hy sy openbare reaksie versigtig oorweeg oor die bewerings wat deur me. Ferguson gemaak is.”

Mohlala-Mulaudzi het gesê Jordaan het egter besluit om, na versigtige oorweging, sy onskuld te verdedig. “Hoewel dr. Jordaan openbare debat ondersteun as ʼn noodsaaklike instrument om die kwessie van geslagsgebaseerde geweld te beklemtoon, is daar in hierdie geval twee teenstrydige weergawes wat nie in die media of enige ander plek as ʼn hof opgelos kan word nie,” lui die verklaring.

“ʼn Bemiddelingsproses soos deur me. Ferguson voorgestel is, bied die risiko dat die publiek dit sal sien as ʼn toesmeerdery weg van die publieke oog, en dat dit sal blyk dat daar een wet vir die magtige en ʼn ander wet vir die massas is.

“As sy regsverteenwoordigers het ons dr. Jordaan daarom aangeraai dat hy nie in ʼn openbare debat betrokke moet raak oor die bewerings wat teen hom gemaak is nie. Uit ʼn regsoogpunt kan ernstige bewerings soos wat deur me. Ferguson gemaak is net in ʼn hof bespreek word, waar die regte van al die betrokke partye beskerm is.”

Ferguson beweer die sportbaas het haar 24 jaar gelede in ʼn hotel in Port Elizabeth verkrag. Sy het by die sosialemediaveldtog #MeToo aangesluit, wat vroue aanmoedig om hul ervarings te deel en hul stem dik te maak teen verkragting en seksuele aanranding.

Gedurende die radioprogram op Radio 702 Dinsdagaand, het dit aan die lig gekom dat twee ander anonieme vroue ook die sportadministrateur van seksueel onvanpaste gedrag beskuldig. Jordaan se regsverteenwoordiger, wat ingebel het na die radiostasie, wou nie op die nuwe bewerings kommentaar lewer nie omdat dit deur “gesiglose” individue gemaak is.

Ferguson het gesê daar is duidelik geen poging van Jordaan se kant af om die saak te bemiddel nie en sy oorweeg om regstappe te doen.


Verskeie mense glo oor Swart Maandag-optogte vervolg

$
0
0

‘n Swart Maandag-optog in die Wes-Kaap. Foto: Twitter

Verskeie mense word glo deur die polisie strafregtelik vervolg in verband met die Swart Maandag-optogte wat Maandag reg oor die land gehou is.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het aan Maroela Media gesê die organisasie is in kennis gestel van verskeie mense, onder meer in Vryheid, Pongola en Winterton in KwaZulu-Natal; Polokwane en Bela-Bela in Limpopo; en Bethlehem in die Vrystaat, wat gevra is om by die plaaslike polisiestasies aan te meld.

Maroela Media verneem Pieter Wagner, ʼn eiendomsagent van Bela-Bela, is gevra om Woensdagoggend by die polisiestasie in dié dorp aan te meld. Wagner word glo daarvan beskuldig dat hy twee onwettige byeenkomste, een op die N11 en die ander voor die Spar-winkel in die dorp, op Swart Maandag gereël het.

Cameron sê Wagner het wel saam met sy regsverteenwoordiger by die polisiestasie aangemeld. Hy is glo nie amptelik in hegtenis geneem nie, maar op ʼn waarskuwing vrygelaat en moet Donderdag in die hof verskyn.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, kon nie onmiddellik die aanklag bevestig nie en Maroela Media wag op meer inligting.

Volgens Cameron is dit nog nie duidelik of van die ander mense amptelik aangekla is in verband met die Swart Maandag-byeenkomste nie. “Ons wag nog vir inligting uit die onderskeie dorpe. AfriForum het in elk geval reeds aangedui dat ons hierdie mense met regsverteenwoordiging sal bystaan,” het hy gesê.

‘n Swart Maandag-optog in Pretoria. Foto: Twitter

Maroela Media het vroeër berig drie mans is Maandagoggend op die N1 naby die Botha-afrit in Centurion in hegtenis geneem omdat hulle ʼn hindernis op ʼn nasionale pad veroorsaak het. Die mans was glo deel van die voorpunt van die Swart Maandag-optog wat deur 15 motors begin is. Die mans is na ʼn polisiestasie geneem en later met ʼn boete vrygelaat.

“Die polisie is nou besig met politiekery en hul skending van mense se burgerregte getuig van hul onvermoë om misdaad en veral plaasmoorde hok te slaan. Die polisie probeer die fokus vanaf die slagting van boere in Suid-Afrika met politieke aksies verskuif,” het Cameron gesê.

“Dit is erg genoeg dat polisieminister Fikile Mbalula nuus oor [Swart Maandag] fabriseer en versprei. Dié heksejag bewys juis die politisering van die polisie in die land.”

Hy het gesê genl.maj. JJ Tsotsesti het ook in ’n foonoproep vir Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, op Swart Maandag met optrede gedreig. Dié generaal kon egter geensins aandui wat die aanklagte sou wees nie.

“Ons moedig lede van die publiek aan om ons te kontak indien daar onregmatig teen hulle opgetree word,” het Cameron gesê.

AfriForum, TLU SA en die Solidariteit Beweging sal weer op 25 November ʼn optog teen plaasmoorde na die Uniegebou in Pretoria hou.

Bylmoorde: Henri wys hoe byl gebruik is

$
0
0

Henri van Breda. Foto: ANA

Henri van Breda is Woensdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof se getuiebank gepols toe die staat probeer bewys het hy het die tydlyn van gebeure van die aand waarin drie van sy gesinslede vermoor is, aangepas.

Susan Galloway, staatsaanklaer, het gesê sy glo hy het sy tydlyn van gebeure aangepas om met ʼn vorige staatsgetuie sʼn ooreen te stem.

Stephanie Op’t Hof, ʼn buurvrou van die Van Breda-gesin, het aan die hof gesê sy het die aand van 26 Januarie rondom 22:00 mansstemme gehoor wat rusie maak. Henri het dit toegeskryf aan die Star Trek 2-fliek wat die gesin gekyk het.

Volgens sy polisieverklaring het hulle die fliek na aandete gekyk wat omtrent 20:00 sou wees. Hy het egter Woensdag aan die hof vertel sy pa het eers na ete op sy skootrekenaar gewerk en dat hulle eers omtrent 22:00 die fliek begin kyk het.

Hy blameer die teenstellings in sy polisieverklaring en sy pleitverduidelik op kol. Deon Beneke wat glo sy antwoorde verkeerd neergeskryf het en ook op “vertalingsfoute”. Regter Siraj Desai het Henri egter vinnig daarop gewys dat sy verklaring in Engels afgeneem is en nooit vertaal is nie.

Galloway het dit aan Van Breda gestel dat sy beskrywing van die indringer in sy aanvanklike polisieverklaring stereotipies en vaag was. Hy het glo ʼn swart man wat ʼn tuisgemaakte klapmus en donker klere gedra het beskryf.

Van Breda het gesê dit kon ʼn donker óf gekleurde man gewees het. Hy het aangevoer omdat hy die meeste van sy lewe in Australië deurgebring het, is hy nie gewoond aan die verskil tussen die twee nie.

“In Australië gebruik ons nie die woord ‘kleurling’ nie. Toe ek gesê het ‘swart’, moes dit miskien ‘kleurling’ gewees het.”

Volgens hom het hy twee stemme gehoor, maar slegs een aanvaller in die slaapkamer wat hy met sy broer gedeel het gesien.

Hy het aan die hof vertel dat die aanvaller spesifiek vir Rudi geteiken het. Hy voer aan hy het uit die badkamer gekom en in die hoek gestaan en om hulp geroep. Sy pa het in die kamer ingestorm en die lig aangeskakel en toe het die aanvaller hom ook aangeval. Henri het gesê ná die aanvaller sy pa aangeval het, het die aanvaller gelag.

Regter Desai het hier gevra of dit geklink het asof die aanvaller geniet wat hy doen. “Dit wil so voorkom, ja,” het Henri gesê.

Henri het toegegee dat die aanvaller nie gepla was met sy teenwoordigheid nie, en ook nie van stryk gebring is deur sy hulpkrete nie.

Henri het verder laat hoor dat toe sy ma na die kamer gehardloop gekom het en gevra het wat aangaan, die aanvaller na haar toe beweeg het. Galloway het dit aan Van Breda gestel dat dit vreemd is dat die aanvaller nie vir Henri aangeval het nie. “Hy los jou, ʼn man, agter hom en val ʼn vrou buite die kamer aan terwyl hy bewus is van jou in die kamer?”

Van Breda het Woensdag 23 jaar oud geword en opsigtelik op sy senuwees voorgekom, veral toe hy gevra is om die bewegings van die aanvaller na te maak. Regter Desai het in ʼn stadium vir hom water aangebied.

Die staat het ʼn replika van ʼn houtbyl aan Van Breda gegee sodat hy aan die hof kan wys hoe die swaaibewegings gelyk het wat die aanvaller gebruik het toe hy sy broer en pa aangeval het.

Van Breda staan tereg op drie aanklagte van moord vir die moorde op sy ma, Teresa, sy pa, Martin, en sy broer, Rudi. Hy word ook aangekla van poging tot moord op sy suster, Marli. Hy het skuld op al die aanklagte teen hom ontken.

Marli is ook daardie aand aangeval en het ernstige breinbeserings in die aanval opgedoen. Sy het sedertdien teruggekeer skool toe, maar ly aan geheueverlies en kan glad nie die gebeure van die tragiese aand onthou nie.

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

Poppie-saak: Buurman se getuienis skok

$
0
0

Kobus en Louisa Koekemoer in die Pretoria-hooggeregshof (31 Oktober 2017). Foto: Phillip Bruwer

WAARSKUWING: Die inhoud in die berig mag sensitiewe lesers ontstel en is nie geskik vir kinders nie.

ʼn Voormalige buurman van Louisa (46) en Kobus Koekemoer (44) het Woensdag in die Pretoria-hooggeregshof getuig hoe Kobus een aand in Orania op Poppie geskree het omdat sy haar bed vuilgemaak het, waarna “sy blou moord geskreeu” het.

Jaco Roux, wat nou in die Oos-Kaap woon, het Dinsdag met ʼn bus uit Port Elizabeth na Pretoria gekom om te getuig.

Kobus en Louisa het op Orania ontmoet, in September 2015 saam ingetrek en is in November dieselfde jaar getroud. Roux het in Februarie 2016 langs die Koekemoer-egpaar ingetrek en daar gebly totdat die egpaar in September dieselfde jaar “oornag” na ʼn kleinhoewe buite Brits verhuis het.

“Toe ek daar intrek, het ek nie dadelik enige ongerymdhede opgemerk nie. Die Koekemoer-egpaar was aanvanklik vriendelik met my en het selfs by tye vir my kos gebring. Ek het wel dadelik besef die kinders is baie teruggetrokke,” het Roux getuig.

Hy het getuig die twee huise is op die naaste punt sowat ʼn meter en ʼn half uit mekaar uit en Kobus het sy motorfiets naby Roux se kamervenster parkeer. Die verhouding het kort daarna begin versuur nadat Kobus hom daarvan beskuldig het dat hy Kobus se motorfiets gekrap het. “As hy my daarna gesien het, het hy kyke gegee wat kan doodmaak.

“Soos die tyd verloop het, kon ek sien hoe die kinders soos bliksoldaatjies geword het as mnr. en me. Koekemoer naby hulle was. Mnr. Koekemoer het gevoel omdat hy die vader in die huis is, moes hy leiding neem en die dissipline toepas. As hy vir hulle take gegee het wat nie volgens hom reg uitgevoer is nie, sou hy hulle afkraak, verkleineer en slegsê.”

Hy het gesê Louisa het nie in daardie stadium “dissipline toegepas” nie en was meer met die daaglikse huistake betrokke.

“Een aand het ek ʼn dowwe geluid gehoor soos iets wat teen die muur gegooi word; kort daarna het ek die kinders hoor huil en skree. Die oggend toe sien ek Poppie loop met haar armpie teen haar bors gevou. Sy het ook mank geloop en het ʼn groot blou kol op haar voorkop gehad. Ek het gevra wat het gebeur, en mev. Koekemoer het gesê Poppie het by die trappe afgeval.”

Hy sê hy het gereeld gehoor hoe die kinders pakslae kry en hoe die kinders in die oggende van die huis op pad na die bakkie toe “rondgepluk” en aangejaag is as hulle te stadig loop.

Roux het getuig toe hy en Kobus nog gepraat het, het hulle eendag gesels terwyl Kobus besig was om tuin nat te spuit. “Die volgende oomblik het hy ʼn tuinslang gevat en hulle sopnat gespuit terwyl hulle buite op die stoepie gespeel het. Dit was winter en baie koud. Ek kon regtig nie glo wat ek gesien het nie. Hy het gesê: ‘Julle wil mos, julle sit en vry daarso, kafoefel met mekaar.’”

Hy het gesê die kinders het omtrent 20 minute in die koue gesit en huil. Louisa het volgens Roux uitgekom en aan die kinders gesê: “Julle wil mos sit en n***, kry maar koud.” Met ander tye sou hy in die vroeë oggendure wakker word as Poppie histeries wakker skrik van nagmerries.

Roux het getuig Kobus het ná die aand wat Poppie haar kop beseer het, onttrek om die kinders te dissiplineer. “Me. Koekemoer het dit toe hanteer, maar sy was moedeloos, want die kinders het konstant bed natgemaak en sy het nie geweet wat om te doen nie.

“Ná ʼn geruime tyd een aand so teen 21:00 het ek net gehoor mnr. Koekemoer skreeu op Poppie: ‘Jy het nou net in die bed geklim, om in die bed te f***** k*k!’ Ek hoor toe ʼn hou, toe het sy geskree. Dit was ʼn blou moord skreeu van ʼn pyn wat jy nie kan beskryf nie.”

Die volgende middag het hy gesien Poppie se been is in gips. Die seuntjie het aan hom gesê Poppie het “weer van die trappe afgeval”.

Hy het albei die gevalle waar hy Poppie met beserings gesien het, by die Orania Maatskaplike Raad (OMR) aangemeld, maar is nie seker wat die OMR daarna gedoen het nie.

“Nadat Poppie gips gekry het, het dinge weer rustig geraak. Maar dit was vir my vreemd dat sy met gips self in en uit die bakkie moes klim, self haar tassie en sak dra en self oor die weg kom.”

Hy het getuig hy was nie bewus daarvan toe die Koekemoers aan die einde van September getrek het nie. Hy is die Vrydagmiddag ná werk na vriende toe. Daar het ʼn vragmotor by ander bure se huis gestaan en toe hy die Saterdagmiddag terugkeer huis toe, is die Koekemoers se laaste vrag glo gelaai sonder om die Orania-raad in kennis te stel.

Staatsaanklaer Salomé Scheepers het aan regter Bert Bam gesê dit is die staat se saak dat die egpaar getrek het terwyl hulle ondersoek is en daarom niemand daarvan gesê het nie.

Adv. Adrian Nell het gesê Louisa sal getuig dat Kobus streng in die huis was, tydens die voorval met die tuinslang vir die kinders handdoeke gebring het en ontken dat sy die uitlating gemaak het. Sy sal ook getuig dat Poppie haar been by trappe buite die winkel gebreek het.

Die Koekemoer-egpaar staan tereg op ʼn aanklag van moord, twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en ʼn aanklag van kindermishandeling. Van dié aanklagte hou ook verband met die beweerde aanranding van ʼn vyfjarige seuntjie en 16-jarige meisie tussen September 2015 en Oktober 2016. Die egpaar het onskuldig gepleit op al die aanklagte teen hulle.

Die tienermeisie het Woensdag in camera getuig. Die seun sal na verwagting Donderdag in camera getuig. Die kinders is in veilige bewaring.

Die verhoor duur voort.

Lees die vorige berigte oor Poppie van der Merwe op Maroela Media.

[Foto’s] Reusevonds perlemoen in Wes-Kaap aangetref

$
0
0

Foto: Verskaf.

ʼn Intelligensie-gedrewe operasie deur die Valke en die departement van landbou, bosbou en vissery het tot die inhegtenisneming van twee verdagtes gelei vir die bestuur van ʼn onwettige perlemoenverwerkingsfasiliteit.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, het gesê twee verdagtes, 39 en 42, is vasgetrek.

Ramovha het gesê daar is opgevolg op ʼn leidraad oor ʼn verdagte motor wat glo perlemoen vervoer naby Brackenfell in die Wes-Kaap.

“Die agtervolging het hulle na ʼn adres in Rivierweg gelei waar die verwerkingsfasiliteit ontdek is. Die twee verdagtes is in hegtenis geneem en daar is beslag gelê op meer as 40 000 eenhede perlemoen wat sowat 2 233,5 kg weeg,” het Ramovha gesê.

Volgens Ramovha het dit bestaan uit nat, gedroogde en gaar eenhede van perlemoen wat meer as R5 miljoen werd is.

Die verdagtes sal Donderdag in die Kuilsrivier-landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met handeldryf met perlemoen.

SANW: ‘Ons is gereed om bendes te beveg’

$
0
0

Genl. Solly Shoke. Foto: Brenda Masilela/ANA.

Genl. Solly Shoke, hoof van die Suid-Afrikaanse weermag (SANW), het Fikile Mbalula, minister van polisie, se uitsprake dat hy soldate na die bendegeteisterde gebiede van Kaapstad wil stuur verwelkom.

Shoke het Woensdag by ʼn mediakonferensie in Pretoria gesê “as ons opgeroep word, sal ons gehoor gee. Ons ontplooi nie onsself nie en besluit nie self waarheen ons moet gaan nie, maar ons is gereed.”

“Ons is soldate, ons voer bevele uit, ons bepaal nie wat ons wil doen nie ons gaan waar die land ons nodig het. Wanneer jy ons ontplooi moet jy net gereed wees vir die nagevolge, want ons vat nie nonsens nie. Ons is nie opgelei om misdaad te beveg nie ons is opgelei om gevegte te wen,” het Shoke gesê.

Mbalula het verlede maand in ʼn verklaring gesê hy versoek die SANW om te help om bendegeweld in die Wes-Kaap en Gauteng te bekamp.

Shoke het bygevoeg dat die SANW begrotingsprobleme het.

“Die begroting van die weermag krimp nou al oor ʼn tydperk. Die inperkings is meer aan die operasionele kant. Al hoe meer take word aan die weermag gegee. Mense versoek dat die weermag die polisie help om misdaad te beveg, maar ons kan dit nie doen sonder stewels op die grond nie.”

Shoke het gesê hy sal met al die bevelvoerders van al die eenhede binne die SANW ontmoet om belangrike kwessies in die weermag te bespreek, insluitend kwessies met dissipline, die voorgestelde ontplooiing, begrotingsprobleme en die kriminele elemente in die weermag.

Mans vas ná Swart Maandag: ‘Dit is skokkend en onaanvaarbaar’

$
0
0

Foto: ANA

Die VF Plus het met skok kennis geneem dat dagvaardings uitgereik word aan boere wat aan die Swart Maandag-veldtog deelgeneem het en is tans in gesprek met die kommissaris- en minister van polisie oor die  aangeleentheid. Só het Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, Woensdg gesê.

Een van die mense wat beskuldig word, is die 69-jarige Pieter Wagner van Modimolle. “Wagner is gedagvaar om 2 November in die landdroshof op Bela-Bela te verskyn op aanklag van die reël van ʼn onwettige byeenkoms en ingevolge die padverkeerswet oor die blokkering van ʼn pad,” het Groenewald gesê.

Groenewald meen die optrede teen die mans is “skokkend en onaanvaarbaar aangesien die veldtog landswyd vreedsaam afgeloop het”.

“Niemand wat aan die landswye optogte deelgeneem het, het paaie versper met brandende bande en klippe, en eiendom verwoes nie. Mense van alle rasse het spontaan aan die veldtog deelgeneem oor ʼn legitieme saak, en dit is die onaanvaarbare hoë voorkoms van plaasmoorde wat op die huidige regering se beurtwag plaasvind.”

Groenewald het bygevoeg die regering hou met dié houding ʼn rooi vlag voor alle vredeliewende landsburgers en die optrede teen boere is ʼn klap in die gesig van die landbougemeenskap in die besonder.

“Die VF Plus was onder die indruk dat die veldtog die minister se goedkeuring gehad aangesien hy vooraf daarvan bewus was en geen waarskuwing gerig het nie. Dit is duidelik dat hierdie optrede teen die boere die gevolg is van politieke druk op die minister. Die VF Plus staan vierkantig agter die boere in hierdie aangeleentheid en sal op politieke vlak alles moontlik doen om druk op die regering te plaas om nie voort te gaan met hul optrede teen die boere nie,” het Groenewald gesê.

Aanlyn skoolregistrasie vir Gauteng weer oop

$
0
0

Argieffoto (Foto: goconqr.com)

Die Gauteng departement van onderwys het Woensdagoggend 08:00 weer aanlyn registrasie oopgestel vir ouers wat die sperdatum van 12 Junie gemis het. Dié stelsel sal van 1 November tot 10 November beskikbaar wees.

Steve Mabona, woordvoerder van die departement, het gesê geen nuwe aansoeke sal in Januarie verwerk kan word nie omdat skole reeds vol is.

Die departement het ouers aangemoedig om van die aanlyn stelsels gebruik te maak. Hulle het ook ouers wat in Mei aansoek gedoen het, maar wie se kinders nog nie geplaas is nie, gemaan om die distrikskantoor te besoek vir plasing.

Mabona het gesê ʼn totaal van 285 834 leerders het plasing nodig gehad. “222 378 van hierdie leerders is al geplaas. Dit is 123 450 graad 1’s en 98 928 graad 8’s.”

Ouers kan die departement op die volgende maniere kontak vir bystand: skakel 0800 000789 of stuur ’n e-pos aan gdeinfo@gauteng.gov.za.


Raadslid vas ná korrupsie-lokval

$
0
0
hof-hamer

Argieffoto.

ʼn Raadslid van die Polokwane-munisipaliteit is in hegtenis geneem nadat sy omkoopgeld van mense wat desperaat was vir werk aanvaar het.

Kapt. Matimba Malulele, woordvoerder van die Valke, het gesê die 35-jarige raadslid is vasgetrek nadat daar ʼn lokval vir haar gestel is en R2 000 se “omkoopgeld” aan haar betaal is deur ʼn geheime beampte van die Valke.

Die raadslid sal binnekort in die Polokwane-landdroshof verskyn op aanklagte van korrupsie.

In ʼn ander onverwante saak is Irene Pienaar, 55,  Woensdag R2 000 borgtog toegestaan deur die Tzaneen-landdroshof nadat sy glo kliënte se geld na haar eie bankrekening herlei het.

Haar werkgewer, Johan Steyn Attorneys, het glo onreëlmatighede opgemerk ná ʼn oudit op die firma gedoen is en het dit by die Valke aangemeld, waarna Pienaar in hegtenis geneem is.

Sy staan tereg op 91 klagtes van bedrog en sal 7 Desember weer in die Tzaneen-landdroshof verskyn.

D-dag vir Christopher Panayiotou

$
0
0

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Alle oë is vandag op regter Dayalin Chetty wat na verwagting in die Port Elizabeth-hooggeregshof uitspraak gaan lewer in die opspraakwekkende verhoor van Christopher Panayiotou, wat vandag 31 jaar oud word.

Chetty het die slotbetoë Dinsdag aangehoor en sy uitspraak tot Donderdag voorbehou.

Dit is in dié stadium nog onduidelik hoe lank die uitspraak sal duur omdat daar ʼn magdom bewyse is wat opgesom moet word.

Verlede jaar het die Panayiotou-familie sy verjaarsdag met koek en wegneemetes in die polisie se aanhoudingselle gevier.

Panayiotou en sy twee medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko, staan tereg op aanklagte wat verband hou met die sameswering om Jayde Panayiotou te ontvoer en vermoor op 21 April 2015. Die voortslepende moordverhoor het verlede jaar Mei begin.

Lees die vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

Kind (6) in Pta deur dwaalkoeël getref

$
0
0

Argieffoto

ʼn Sesjarige dogtertjie is gewond toe sy glo deur ʼn dwaalkoeël getref is tydens ʼn skietvoorval in Centurion waartydens ʼn 27-jarige man vermoor is.

Konst. Tumisang Moloto, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die voorval het Dinsdagaand in Olievenhoutbosch plaasgevind.

“Die polisie is kort ná 19:00 na die hoek van Kiaat- en Wild Peachstraat ontbied nadat ʼn skietery ontstaan het,” het Moloto gesê. “By hul aankoms het hulle die 27-jarige slagoffer met koeëlwonde aan sy bolyf aangetref. Hy is op die toneel dood verklaar.”

Volgens Moloto is die polisie daarna ingelig dat ʼn sesjarige meisie na bewering deur ʼn dwaalkoeël in haar regterbeen getref is. Sy was toe reeds na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Die Olievenhoutbosch-polisie ondersoek ʼn saak van moord en poging tot moord. Die motief vir die skietery is nie bekend nie. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Man weer in hof oor verkragting, seksdade met hond

$
0
0
hof-hamer

Argieffoto.

Die ANC het aangekondig die party en sy bondgenote gaan Donderdag vreedsaam buite die Bronkhorstspruit-landdroshof betoog waar ʼn 45-jarige man verskyn in verband met die beweerde verkragting van sy huiswerker.

Maroela Media het vroeër berig die man is verlede week in hegtenis geneem nadat hy glo die 41-jarige huiswerker in sy huis verkrag en na bewering gedwing het om seksuele dade met sy hond te pleeg.

Volgens kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, het die man die vrou glo verlede Maandag in ʼn kamer in sy huis in Riamarpark in Bronkhorstspruit, oos van Pretoria, ingesleep en haar herhaaldelik verkrag tot vroeg die volgende oggend, waarna hy glo die hond betrek het. Hy het Donderdag vir die eerste keer in die hof verskyn. Die saak is tot vandag uitgestel vir sy formele borgtogaansoek.

Die plaaslike ANC het gesê sy bondgenote van die SACP, Sanco en Cosatu sal by hulle aansluit. Betogers sal van 08:00 by die hof begin saamkom om aan te dring dat die man nie borgtog kry nie. Vervoer met busse is vir betogers gereël vanuit Riamarpark, Zithobeni, Rethabiseng, Ekangala, Bronkhorstspruit en Cullinan.

SAUK-werkers begin staak

$
0
0

Argieffoto

SAUK-werkers wat lede is van die Broadcasting, Electronic, Media & Allied Workers Union (Bemawu) begin Donderdag met ʼn landswye staking.

Dit volg nadat gesprekke tussen die SAUK, Bemawu en die Communications Workers Union (CWU) Woensdag ʼn dooiepunt bereik het. Die vakbonde eis ʼn salarisverhoging van 10% vir alle werknemers, terugwerkend tot April vanjaar. Die SAUK beweer egter hy kan nie tans enige verhogings bekostig nie.

Kaiser Kgyanyago, die SAUK se woordvoerder, het gesê die beginsel van geen-werk-geen-betaling geld vir alle stakende werknemers. Hy het ʼn beroep gedoen op diegene wat staak om nie hul kollegas wat wil werk, te intimideer nie.

Kganyago het gesê radio- en-televisie-uitsendings sal voortgaan soos beplan.

Tamatieboer dood in bed aangetref

$
0
0

Argieffoto: Reint Dykema

ʼn 52-jarige boer is op haar plaas, Zout van de Aarde, in die Albertinia-omgewing in die Wes-Kaap vermoor.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê Sharon Bester het glo alleen op die plaas gewoon en met tamaties geboer.

“Haar liggaam is Saterdag al in haar bed aangetref deur ʼn werker wat haar honde versorg. Daar is aanvanklik vermoed dat sy ʼn beroerte gekry het, maar nadat die nadoodse ondersoekverslag Woensdag bekend gemaak is, het dit aan die lig gekom sy is verwurg,” het Pojie gesê.

ʼn Verdagte (20), wat ‘n werker op die plaas is, is Dinsdag in hegtenis geneem nadat hy Saterdagaand laat opgemerk is waar hy met Bester se Land Rover rondgery het.

“Hy is aanvanklik in hegtenis geneem vir huisbraak en diefstal nadat daar ook ʼn skootrekenaar en tabletrekenaar by hom aangetref is. Na aanleiding van die nadoodse ondersoek is ʼn aanklag van moord aanhangig gemaak.”

Die verdagte sal vandag in die Albertinia-landdroshof verskyn.

Marius Müller, nasionale operasionele koördineerder van AfriForum, het aan Maroela Media gesê Bester is die 76ste persoon wat vanjaar op ʼn plaas vermoor is.

Boer, vrou en tuinwerker op plaas aangeval

$
0
0

Paradise Lodge. Foto: www.safarinow.com

Nog ʼn plaasaanval het Woensdag net buite Mookgopong (Naboomspruit) in Limpopo plaasgevind.

ʼn Boer, sy vrou sowel as ʼn tuinwerker is deur agt verdagtes oorrompel, vasgebind en in een van die huisies op die gasteplaas, Paradise Lodge, vasgebind.

“Dit is in dié stadium nog onduidelik of die boer die eienaar van die plaas is of nie,” het lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, aan Maroela Media gesê.

Hy het gesê die polisie het ʼn reusesoektog na die agt verdagtes, wat “gewapen en gevaarlik” is, van stapel gestuur.

“Die verdagtes het na bewering by Paradise Lodge net buite Mookgopong opgedaag, die boer, sy vrou en ʼn tuinwerker vasgebind en hulle in een van die huisies toegesluit,” het Ngoepe gesê.

Die verdagtes het op die vlug geslaan met rekenaars en selfone in ʼn Ford Ranger-bakkie sonder nommerplate.

Die bakkie is volgens Ngoepe nog nie opgespoor nie en daar is nog geen verdagtes in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ʼn Saak van sakeroof word ondersoek.

Marius Müller, nasionale operasionele koördineerder van AfriForum, het aan Maroela Media gesê die verdagtes betrokke by die aanval was glo vyf mans en drie vroue.


Nuuskommentaar: Simboliek van Swart Maandag

$
0
0

Die Solidariteit Beweging het ’n bewusmakingsaksie teen plaasmoorde by die Voortrekkermonument in Pretoria gehou (31 Oktober 2017). Foto: Reint Dykema

Die term “Swart Maandag” het nie maar uit die lug geval nie. Dit is tevore al gebruik, onder meer toe wêreldmarkte op 19 Oktober 1987 in duie gestort het. So byna was Maandag se Swart Maandag ’n presiese 30-jarige herdenking van die dag toe Wall Street ’n wêreldwye domino van stapel gestuur het.

Die skade is erger gereken as die val van 1929.

Sedertdien is telkemale vrees uitgespreek vir nog ʼn “swart Maandag” en op 30 September 1991 het sommige lande wel weer ’n Swart Maandag beleef.

Wat Suid-Afrikaners, weliswaar op verskillende maniere, die beste sal onthou, is die Swart Maandag van die afgelope Maandag. Ook hier gaan die uitkringeffek lank gevoel word. Soos die voorneme om sommige deelnemers krimineel te vervolg, en arrestasie vir nie-arrestasie-oortredings.

Die omvang wat dit aangeneem het, het man en muis verbaas. Dat ’n paar vrot appels, of fopnuus-geskepte vrot appels, deur hul deelname ’n klad op die verrigtinge gelaat het, het ’n nuwe diskoers oor die ou vlag aan die gang gesit.

Dit is nie ’n unieke verskynsel nie. In die VSA was daar onlangs rasse-onluste oor die opeis om simbole van die Konfederale State van voor die Amerikaanse Burgeroorlog te mag gebruik.

Foto: Reint Dykema

Ná die Swart Maandag in 1987 het die Occupy Wall Street-beweging in 2011 tot stand gekom wat in verskeie wêreldstede min of meer voor die effektebeurse kamp opgeslaan en ’n oorlas van hulself gemaak het. ’n Groot deel van die beswaar was oor die inhaligheid van bankbase en nyweraars wat naderhand hul kliënte gestroop het om hul eie welvaart te uitbrei.

Uit die afgelope Swart Maandag se verrigtinge blyk dit ook dat daar ’n soort selfaangestelde voortsettingsaksie is. Hulle slaan nie kamp op nie, maar gebruik tot ’n groot mate die kuberruim, waar boodskappe met ’n ruim skoot fopnuus gelaai word. So beplan die landbou glo om binnekort ’n week lange kosweerhoudingsveldtog te loods en mense word aangemoedig om kos daarvoor op te pot. Dit lyk soms of hierdie voortsettingsaksie ook die opvangpunt vir die vrot appels geword het.

Intussen het verantwoordelike organisasie met bewese organisasievermoë, AfriForum, die hande vol om mense wat gearresteer word met die oog op vervolging, by te staan met regshulp.

Vir baie deelnemers was die vernaamste simboliek dat dit in hoofsaak handel oor verootmoediging, gebed en solidariteit. Agri SA se uitslae van ’n grondoudit is bekend gestel en het die mat van retoriek onder moedswillige regeringslui, waaronder Zuma, se voete uitgeruk. Dit was waarskynlik toevallig, maar het dadelik gehelp om objektiewe perspektiewe oor die landbou weer te gee.

Die indruk wat in die buiteland (via nuusdekking) gelaat is, is een van min nuuswaardigheid. Die Nederlandse koerant Trouw dra juis nou ’n artikel oor die lot van kinders in Suid-Afrika – hoeveel sonder twee ouers grootword, hoeveel seksueel gemolesteer word ensovoorts. Niks oor Swart Maandag nie. Trouens, behalwe vir ’n BBC-berig was daar volgens Google nie veel buitelandse nuusdekking oor die aangeleentheid nie.

Sake met die ministers wat hulle op kinderagtige wyse oor die verrigtinge uitgelaat het, moet nou eers gesuiwer word. Die Vryheidsfront Plus het as parlementêre party onderneem om dit te doen. Verdere aksies moet eers op die ys gelaat word.

Intussen is dit noodsaaklik dat die onbetwisbare positiewe aspekte van die verrigtinge warm gehou word.

Salomo se wysheid is nodig.

Plaasaanvaller swaar gestraf

$
0
0

Billy van Rooyen en sy vrou, Karlien. Foto: Facebook

Thulani Hloniphani Sibiya (38) is Woensdag swaar gevonnis nadat hy vroeër skuldig bevind is aan die moord op Billy van Rooyen (37) en sy skoonpa, Ronnie Lombard (62), verlede jaar op hul plaas naby Vryheid.

Kapt. Nqobile Gwala, provinsiale polisiewoordvoerder van KwaZulu-Natal, het Woensdag gesê Sibiya het in die Madadeni-hooggeregshof verskyn waar hy twee lewenslange tronkstrafvonnisse opgelê is met ʼn bykomende tronkstraf van 40 jaar.

Sibiya se vonnis volg nadat hy skuld beken het op twee aanklagte van moord, twee van poging tot moord, een van gewapende roof en een van ontvoering.

Altesaam agt verdagtes is in hegtenis geneem nadat ʼn groep mans in April verlede jaar op die plaas in die Swart Umfolozi-distrik, naby Gluckstadt, toegeslaan het.

Maroela Media het vroeër berig Van Rooyen en Lombard is doodgeskiet en twee familielede is in die aanval beseer. Die verdagtes het met ʼn onbevestigde bedrag kontant gevlug. Die saak is by die Gluckstadt-polisie ingedien waarna die ondersoek deur die provinsiale taakspan oorgeneem is.

Ses van die verdagtes is steeds in aanhouding en hul verhoor is van die middel van April tot die middel van Mei volgende jaar op die hofrol geplaas.

Die sewende verdagte, Bongani Miya (36), is ure ná sy inhegtenisneming in aanhouding dood. Die polisie het vroeër gesê hy het homself glo in ʼn toilethokkie met ʼn bedlaken opgehang.

Verstopte drein lei tot gru-vonds

$
0
0

Argieffoto

ʼn Fetus is Woensdagaand in ʼn drein in Birchleigh in Kempton Park ontdek nadat loodgieters uitgeroep is om ʼn verstopte drein oop te maak.

Annine Siddall, woordvoerder van ER24, het gesê die fetus is omstreeks 18:00 deur die loodgieters ontdek.

“Ons paramedici is na die toneel ontbied toe loodgieters op die liggaam afgekom het nadat hulle uitgeroep is om ʼn verstopte drein oop te maak,” het Siddall gesê.

Volgens haar het paramedici by hul aankoms op die toneel omstreeks 22:00 die fetus op die sypaadjie aangetref. “Dit was duidelik die fetus was al ʼn geruime tyd dood,” het sy gesê.

Die polisie ondersoek die voorval.

Drie sterf toe man losbrand in winkel

$
0
0

Foto: Helen H. Richardson/The Denver Post via AP

ʼn Man het Woensdagaand doodluiters by ʼn Walmart-winkel in Colorado in die VSA ingestap en op mense begin losbrand.

Twee mans en ʼn vrou is tydens die voorval doodgeskiet. Die skieter het hierna in ʼn motor van die toneel gevlug.

Victor Avila, woordvoerder van die polisie in Thornton, het gesê daar word nie in dié stadium vermoed dat die voorval met terreur verband hou nie.

“Dit is ʼn gruwelike daad,” het Avila gesê. “Ons weet nie presies wat die motief van die persoon was nie, maar dit was beslis ʼn verskriklike daad.”

Die twee mans is op die toneel dood verklaar terwyl die vrou in ʼn hospitaal aan haar beserings beswyk het. Die owerhede het nie onmiddellik enige ander inligting oor die slagoffers bekend gemaak nie.

Aaron Stephens (44) was besig om vir sy inkopies te betaal toe hy ʼn skoot hoor afgaan het gevolg deur nog twee sarsies skote. “Mense het begin skree en na die uitgange gehardloop,” het hy gesê.

Die polisie is besig om beeldmateriaal van kringtelevisiekameras na te gaan en getuies te ondervra om die verdagte te probeer identifiseer. Volgens Avila is dit nog nie duidelik presies hoeveel skote afgevuur is nie.

Ragan Dickens, ʼn woordvoerder van Walmart, het gesê hulle werk nou saam met die polisie en wou geen verdere kommentaar lewer nie.

Bylmoorde: Henri byna in trane in getuiebank

$
0
0

Henri van Breda in die hof. Foto: Catherine Rice/ANA

Die hofverrigtinge in die verhoor teen die moordbeskuldigde Henri van Breda moes Donderdag tydelik verdaag nadat Van Breda, wat na aan trane in die getuiebank was, versoek het om sy gesig af te spoel.

Regter Siraj Desai het Van Breda Donderdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof gevra hoekom hy nie enige woede teenoor die aanvaller gevoel het terwyl hy sy pa en broer wreed met ʼn byl aangeval het nie. Volgens Van Breda se weergawe van die gebeure het hy “oorweldig” en “bang” gevoel toe die aanvaller op hom afstorm en het hy nie besef hy is sterker as die aanvaller nie.

“Noudat ek kan terugkyk en helder dink, wens ek ek het kwaad geraak en gereageer.” Hy het aan die hof gesê hy het eers dae ná die voorval kwaad gevoel.

Tydens ʼn hewige woordewisseling tussen Piet Botha vir die verdediging en Desai, het Botha gesê Desai se vrae is onregverdig. Desai het geantwoord: “Ek sal besluit wat regverdig is en wat nie.”

Susan Galloway, senior staatsaanklaer, het weer deur die verskille in Van Breda se oorspronklike verklaring aan die polisie en sy pleitverduideliking gegaan. Sy het Van Breda gevra om op sers. Clinton Malan, ʼn polisiebeampte, te demonstreer presies waar sy [Van Breda se] hande was toe hy met die aanvaller gestoei het.

Van Breda het ook ʼn replika van ʼn houtbyl gebruik om aan die hof te wys hoe hy die byl by die aanvaller afgeneem het en hoe dit gebeur het dat hy wonde aan sy bors en voorarm opgedoen het.

Desai het ook bevraagteken hoekom Van Breda nie die aanvaller wat agter af gegryp en hom aangeval het nie, maar eerder niks gedoen het terwyl sy broer, Rudi, en sy pa, Martin, aangeval is nie. Van Breda het gesê hy was oorweldig.

“So basies sê jy jy het niks gedoen nie, want jy was bang,” het die regter gesê. Van Breda, toe na aan trane, het vir ʼn verdaging gevra sodat hy sy gesig kan afspoel. Ná 15 minute was hy weer terug in die getuiebank en het hy kalmer voorgekom.

“Ek onthou duidelik ʼn stadium toe hy vir my keel gegaan het en ek sy hand afgedruk het,” het hy gesê. “Ek onthou hoe hy vir my bors gegaan het.”

Galloway het gesê dit sal die twee merke op die bokant van Van Breda se bolyf verduidelik, merke wat sy voorheen gesê het was selftoegedien. ʼn Deskundige in forensiese patologie het vroeër aan die hof gesê daar was ʼn “sterk kontras” tussen die wonde wat Van Breda opgedoen het in vergelyking met die res van sy familie.

Dr Marianne Tiemensma het getuig Van Breda se familielede het erge “kapwonde” gehad, terwyl Henri se wonde gering was en net die vel gebreek het, behalwe vir een wond wat effens dieper was. Sy het gesê die wonde is nie met dieselfde mening en krag toegedien nie en hy het geen verdedigingswonde gehad nie.

Die moordwapen en ‘n replika daarvan wat in die hof gebruik is. Foto: ANA

Van Breda (23) ontken skuld op drie aanklagte van moord, een van poging tot moord en een van dwarsboming van die gereg. Hy beweer sy gesin is op 27 Januarie 2015 deur ʼn inbreker in hul huis in die De Zalze-landgoed in Stellenbosch aangeval.

Die staat voer aan Van Breda het sy ouers en broer vermoor en sy geringe wonde self toegedien om dit te laat lyk asof hy ook aangeval is.

Tiemensma het in Mei aan die hof gesê Van Breda se wonde is oppervlakkig, reëlmatig, parallel, stem ooreen in dikte en is op plekke wat deur hom bereikbaar is. “Daar is geen beweging in die wonde nie, hulle is parallel. Hulle stem ooreen in voorkoms. Dit is tipies van wonde wat self toegedien is.”

Galloway het Donderdag bevraagteken hoe Van Breda die aanvaller so maklik kon ontwapen, dieselfde aanvaller wat pas sy pa en sy broer met die byl aangeval en bewegingloos op die vloer gelaat het. Van Breda het gesê hy was “verras” oor hoe maklik hy die byl uit die aanvaller se hande kom neem.

Galloway het daarna gesê hoewel die aanvaller ʼn tweede wapen, die mes, by hom gehad het, kon hy steeds net “oppervlakkige en nie-noodlottige” wonde op Van Breda veroorsaak. “Korrek,” het Van Breda geantwoord.

Galloway het ook beklemtoon Marli, “wat die hardste terugbaklei het”, was nie baie suksesvol om haarself te verdedig nie en is wreed aangeval, maar Van Breda, wat net so groot soos sy aanvaller was, het geen verdedigingswonde opgedoen nie.

“As hulle nie so voorkom nie, dan is dit so,” het hy gesê.

Van Breda sou staande moes wees om die parallelle wonde op te doen, het Galloway gesê. Sy het Van Breda gevra of daar beweging was. Hy het geantwoord ja, maar dat hy nie kan onthou wat hulle met hul voete gedoen het nie.

Van Breda het ook aan die hof gedemonstreer hoe hy die mes uit sy sy getrek het. Dit was ʼn lomp beweging, aangesien hy die byl in dieselfde hand gehou het.

Volgens Van Breda se pleitverduideliking het hy agter sy aanvaller aangehardloop toe hy uit die slaapkamer, wat hy met sy broer gedeel het, gevlug het. Galloway het gesê nadat die res van sy gesin aangeval is, was hy toe “alleen” by die aanvaller, maar kon steeds die “moed” vind om agter hom aan te hardloop.

“Ek het waarskynlik moed gehad omdat hy weggehardloop het,” het Van Breda aan die hof gesê.

Galloway het egter gehamer op sy weergawe dat daar minstens nog een persoon op die onderste vloer was. “Ondanks die feit dat jy nie geweet het hoeveel mense op die onderste vloer is of watter wapens hulle by hulle het nie, het jy die moed gehad om agter die vlugtende man aan te hardloop en hierdie mense uit jou huis uit te jaag.”

Van Breda beweer hy het die byl na sy aanvaller toe gegooi wat by die trappe afgehardloop het. Regter Desai het gevra: “Hoekom het jy nie die byl by jou gehou om jouself te verdedig in geval hulle terugkom nie?”

Van Breda het geantwoord: “Ek moes dit gedoen het.”

Galloway het aan die hof gesê Van Breda het in sy verklaring talle besonderhede uitgelaat wat later in sy pleitverduideliking verskyn het. Van Breda het hierdie weglatings op die polisiebeamptes blameer wat sy oorspronklike verklaring afgeneem het.

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

Viewing all 56621 articles
Browse latest View live