![]()
‘n Swart Maandag-optog in Pretoria. Foto: Facebook
As jare lange rubriekskrywer vir Maroela Media en lid van AfriForum via vroulief se sake-onderneming, moes die uwe met verbystering toesien watter etikette deur minstens twee ministers en ’n adjunkminister vir hom omgehang word. Hieronder tel Isis en die KKK, en ’n string lelike dinge soos rassisme. Dít terwyl ’n advertensie van AfriForum Jeug feitlik daagliks op ’n plaaslike radiostasie speel waarin beklemtoon word dat dié organisasie nie rasseklassifikasie voorstaan nie.
AfriForum en Maroela Media is albei deel van die Solidariteit Beweging, waarvan ook Helpende Hand en die FAK deel is. Ook hulle word onregstreeks betrek. Hulle sou deur deelname of simpatie met Swart Maandag op ’n manier OR Tambo en Umkonte we Siswe geminag het. Dat die byeenkomste wel deur gebed en oproepe om versoening gekenmerk is, word verswyg.
Adj.min. Bongani Mkongi, min. Fikile Mbalula se regterhand, het duidelik verbaal die kluts kwytgeraak toe hy vir sy ewe breedsprakerige minister in die bresse probeer tree het.
Nathi Mthetwa, minister van kultuur en vorige minister van polisie, het sy gebruiklike onderrok oor plaasaanvalle duidelik laat uithang. Waar hy tevore protesaksie in enige vorm deur AfriForum as “goedkoop propaganda” afgemaak het, was hy weer op sy stukke deur ook die fopnuus oor die verbrand van vlae as feite op te dis.
Die kern van die beskuldigings, as min. Mbalula se effens meer gebalanseerde mening ingewerk word, is dat ’n groep onverantwoordelike mense die ou landsvlag na (van) die saamtrekke geneem het, en dat die nuwe landsvlag ook by van die saamtrekke verbrand is.
Mense het die kuberruimte ingespan om die bewerings van die ou landsvlag verder te versprei. Heel gepas noem Netwerk24 hulle vandag in die hoofartikel “internet-trolle” en voeg by dat hulle nou reeds daarvoor bekend is. Netwerk24 meld selfs dat ’n Johannesburgse dagblad in die slaggat getrap het om so ’n foto te plaas as sou die ou vlag by die Swart Maandag-saamtrek vertoon gewees het, terwyl dit ’n ou foto is.
![]()
‘n Swart Maandag-optog in Pretoria. Foto: Facebook
Verskeie instansies wys daarop dat die Swart Maandag-geleentheid nie deur hulle gereël is nie, maar deur ’n Stellenbosse student en plaasmeisie, wat onderweg van die huis na die universiteit by die Conradies se plaas by Klapmuts verbygery het.
AfriForum was wel in volle solidariteit. Volgens verskeie leiers van AfriForum was daar geen vlae by van hul saamtrekke nie. Fopnuus het klaarblyklik ’n belangrike rol gespeel om die verhoudinge tussen die ministers en AfriForum te vertroebel.
Mbalula het baie onlangs aangedui dat ’n taakspan, hoofsaaklik met die samewerking van Agri-SA, saamgestel is wat sal lei tot ’n soort spesiale reaksiemag op grondvlak wat spesifiek op plaasaanvalle sal fokus. Agri-SA het opgewonde en positief daarop reageer. Dit sal jammer wees as die Swart Maandag-gebeure (veral gelaai met fopnuus) dié inisiatief laat ontspoor.
Dit mag natuurlik wees dat Mbalula sedert sy aankondiging oor die taakmag deur kollegas aangespreek is, en dat hy ’n verskoning gesoek het om hom daaruit te wikkel. Toe Swart Maandag nie die vandalisme en chaos oplewer wat Suid-Afrikaanse betogings gewoonlik kenmerk nie, is fopnuus bygewerk.
Dit is baie belangrik dat enigeen wat weer ’n soortgelyke gebeurtenis wil beplan, dit in oorleg met die vernaamste rolspelers sal moet doen. Dit moet behoorlik georganiseer word. Die uwe het al tevore self agterop ’n bakkie as deel van ’n optog teen plaasmoorde deur Bethlehem se strate gery, en bra skaapagtig gevoel soos die publiek die prosessie toetende lawaaimakers geamuseerd aangekyk het. Dit het geblyk die byeenkoms is deur twee regse kerke gereël en die res van die gemeenskap is doelbewus nie geken nie.
Dit moet oorweeg word om ’n alternatief vir die ontwrigting van verkeer te vind – in elk geval die omvang wat dit plek-plek Maandag aangeneem het. Mbalula het reeds verskerpte wetstoepassing beloof. Die groot gevaar is egter dat sulke optrede die simpatie van die publiek kan laat verbeur.
Mbalula en Kie gebruik die argument dat daar baie ander moorde in die land ook voorkom, en lê veral klem op babas en jong kinders wat tragies weggeruk word wanneer hulle op speelterreine in die kruisvuur van bendes beland. Of jong meisies wat ontvoer, verkrag, vermoor en tussen die duine weggegooi word.
![]()
‘n Swart Maandag-optog in die Wes-Kaap.
Uit kerkgeledere kom daar ’n “verwyt” dat die slagting van babas in die vorm van aborsies uit die openbare gewete verdwyn.
Die Swart Maandag word verwyt asof dit onsimpatiek teenoor hierdie ander tragedies staan.
Miskien sal dit ’n goeie idee wees om die volgende optog te kombineer met belange- en drukgroepe wat hierdie sake dryf. Selfs die polisie kan genooi word om hul protes teen vermoorde kollegas hierby te voeg. Sou dit suksesvol wees (dit is te betwyfel of die wetstoepassers ’n ogie oor die omvang van so iets sal kan hou), sal die boere nie weer verwyt kan word dat hulle die lewe van jong bruin bendeslagoffers minder ag as dié van ’n boer nie, en behoort dié kategorie sy eie werklikheid in protes te kan uitdruk – ’n werklikheid van 156 moorde per 100 000 per jaar. Dis amper vier keer meer as die gemiddeld vir die land, en veel hoër as die vermoorde polisielede per 100 000 per jaar.
Die uwe daag ook die ministers uit om met ’n fynkam deur die nuuskommentare wat min of meer betrekking het op plaasmoorde (en daar was werklik baie) en Swart Maandag te gaan om te sien of enige vorm van sedisie of rassisme bepleit word. Terselfdertyd kan gelet word op die aantal kere dat oproepe om versoening gedoen word. Om te druk vir minderheidsregte is in pas met die Grondwet en die internasionale reg.
Kyk liewer wie in die kabinet probeer die land via ’n kernprogram aan die Russe verkneg. Kyk liewer wie probeer die land se mense deur fopnuus in ’n kennisvakuum hou. Kyk liewer wie die land deur staatskaping en korrupsie help beroof het.
En toon simpatie met die boere wat so ’n enorme vlak van landbouterreur “moet” verduur en laat die staat sy plig nakom.