Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all 56621 articles
Browse latest View live

Nóg ʼn aanval by Klapmuts

$
0
0

Argieffoto

ʼn Man is op Swart Maandag in sy huis op ʼn plaas in die Klapmuts-omgewing in die Wes-Kaap aangeval en beroof.

Kapt. Nopaya Madyibi, woordvoerder van die polisie, het gesê die man is omstreeks 4:00 in sy huis oorval. “Die verdagte het die slagoffer met ʼn onbekende voorwerp oor sy kop geslaan.” Volgens Madyibi het die verdagte hierna met ʼn skootrekenaar, ʼn videospeletjiekonsole en ʼn sonbril gevlug.

Volgens Madyibi is daar ook in ʼn motor buite die huis ingebreek en is ʼn navigasietoestel gesteel. “Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie.” Die polisie ondersoek ʼn saak van huisroof.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het gesê die aanval het naby die plaas van Joubert Conradie plaasgevind. Conradie is verlede week Dinsdag op sy plaas in die Klapmuts-omgewing tussen Stellenbosch en die Paarl vermoor. Twee dae later is ʼn vrou en haar dogters op ʼn kleinhoewe in die Klapmuts-omgewing beroof.

Duisende mense het Maandagoggend by Kanonkop, naby die plek waar Conradie vermoor is, bymekaargekom as deel van die Swart Maandag-protesoptogte. Die groep het hierna na Kaapstad beweeg.


Plaasaanval in Vrystaat afgeweer

$
0
0

Argieffoto

ʼn Plaasaanval is na bewering Sondagaand naby Marquard in die Vrystaat afgeweer toe ʼn vrou ʼn skoot op ʼn verdagte afgevuur het wat deur ʼn venster toegang tot die huis wou verkry.

Jan van Niekerk, provinsiale leier van die VF Plus in die Vrystaat, het gesê die voorval het net na 22:00 op die plaas Wildebeeslaagte gebeur.

Volgens Van Niekerk het die Pilcher-egpaar wakker geword van geluide buite die slaapkamervenster. “ʼn Venster is gebreek en mev. Pilcher het ʼn skoot in die rigting van hul slaapkamervenster afgevuur toe hulle merk dat iemand besig was om daar in te klim. Die aanvallers het gevlug,” het hy gesê.

“Danksy die Pilchers se paraatheid en vinnige optrede kon hulle die aanval afweer. Dit is uiters belangrik vir alle Suid-Afrikaners en veral die boeregemeenskap om hulself weerbaar te maak teen sulke aanvalle.”

Van Niekerk het gesê hy is dankbaar dat die Pilchers ongedeerd is, maar betreur die feit dat hulle deur booswigte geteiken is.

Dié voorval is een van minstens drie voorvalle van misdaad wat sedert gisteraand in landelike gebiede plaasgevind het. ʼn Bejaarde man is dood nadat hy Maandagoggend in die Vryheid-omgewing in KwaZulu-Natal verskeie kere met ʼn mes gesteek is.

Volgens Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, is nog ʼn persoon in die hospitaal opgeneem nadat hy Sondagnag op ʼn plaas in die Klapmuts-omgewing aangeval en met ʼn voorwerp oor die kop geslaan is.

Die Vrystaatse polisie het Maandag aan Maroela Media bevestig inligting wat op sosiale media versprei word dat ʼn boer in die Deneysville-omgewing in die Vrystaat tydens ʼn plaasaanval doodgeskiet is, is onwaar. ʼn Man het wel gesterf nadat hy tydens ʼn huisbraak op die dorp verskeie kere geskiet is.

[Foto’s] Swart Maandag: ‘Genoeg is genoeg’

$
0
0

Foto: ANA

Die organiseerders van Maandag se konvooi van Kanonkop by Klapmuts naby Stellenbosch na Kaapstad sê die protesaksie is nie net oor plaasmoorde nie, maar vir almal wat jaar ná jaar vermoor word.

“Ons sê genoeg is genoeg,” het Daniel Briers, een van die organiseerders, gesê. Die protesaksie by Kanonkop het spesifiek daar plaasgevind aangesien dit naby die plek is waar Joubert Conradie van die plaas Uitkyk op 24 Oktober vermoor is. “Hy [Conradie] was ʼn pa, ʼn man vir sy vrou en ʼn werkgewer wat wonderlike mense gehad het en dan was hy ʼn boer.”

Foto: ANA

ʼn Emosionele Briers het gesê die organiseerders gaan nie ʼn petisie aan die regering oorhandig nie, aangesien die regering reeds weet wat aan die gang is in die land, maar niks daaraan doen nie. “Ons moet Suid-Afrika terugvat en ons sê genoeg is genoeg want dit eindig nie hier nie, dit is maar net die begin,” het Briers aan ʼn skare van duisende mense gesê in die omgewing van Kaapstad-stadion.

Die konvooi van honderde voertuie het vroeër van Klapmuts na Kaapstad beweeg. Hulle het op die R44 en R101 gery tot by Voortrekkerweg voordat hulle in die stad inbeweeg het. Optoggangers het plakkate met die woorde “Stop plaasmoorde” en “Kriminele het meer regte as slagoffers” vertoon.

Foto: ANA

Foto: ANA

Foto: ANA

Foto: ANA

Foto: ANA

Toegewings vir matrikulante ná optogte

$
0
0

Foto: Twitter

Die Gautengse departement van onderwys het gesê daar is Maandag toegewings gemaak vir leerders wat laat was om hul Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)-eksamen te skryf weens #SwartMaandag-betogings wat verkeer in die provinsie tot stilstand gedwing het.

Steve Mabona, woordvoerder van die departement, het in ʼn verklaring gesê verskeie gr. 12-leerders het laat by hul eksamenlokale in die Tshwane- en Sedibeng-area opgedaag weens dié verkeersontwrigtings. Hulle is toegelaat om wel hul vraestelle te skryf, selfs nadat hulle ná die uur afsnytyd by die lokale opgedaag het.

Ander leerders is toegelaat om by alternatiewe eksamenlokale te skryf. “Administratiewe voorskrifte sal geld vir almal wat dalk vandag se vraestel gemis het,” het Mabona gesê.

“Volgens die inligting tans tot ons beskikking is daar aan die meerderheid van leerders wat laat vir hul eksamen was die geleentheid gegee om hul vraestel te skryf en daarom verwag ons minimale uitsonderings waar leerders die vraestel gemis het.”

Verkeer op die N1-Suid in Pretoria was vir die grootste gedeelte van die werksdag ontwrig nadat ʼn konvooi van vroegoggend af stadig vanaf Sefako Makgatho-weg (Zambesiweg) in Montana beweeg het. Verkeer is ook ontwrig op die R21 in die rigting van die OR Tambo-lughawe terwyl die R24 ook geraak is. Verkeer op die N4 is erg ontwrig, asook op die R57 in die Vaaldriehoek en op die R59.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in die provinsie, het gesê dit is in die departement se beste belang om nie leerders te benadeel nie weens omstandighede buite hul beheer. “Dit is betreurenswaardig dat hulle hierdie eksamen onder sulke slegte omstandighede moet skryf.” Hy het leerders sterkte toegewens vir die res van die eksamen.

Student beurs kwyt ná rassistiese video

$
0
0

Die foto van Catherine Michelle Reynders het op die Blou Bulle se webtuiste verskyn, maar is intussen verwyder.

ʼn Student aan die Universiteit van Pretoria (UP) is haar studiebeurs kwyt nadat ʼn video waarin sy rassistiese uitlatings maak aan die lig gekom het.

Sy en ʼn medestudent wat saam met haar in die video te sien is, is ook intussen uit die universiteit geskors hangende ʼn dissiplinêre ondersoek na die voorval.

Die video, wat sedert verlede week wyd op sosiale media gedeel is, het aan die lig gekom nadat dit skynbaar per abuis op ʼn WhatsApp-groep vir studente gedeel is. Op die video kan twee vrouestudente gesien word wat herhaaldelik die k-woord gebruik. Die studente is later as Catherine Michelle Reynders en Bodene Benade geïdentifiseer.

In ʼn skermskoot van die WhatsApp-gesprek wat volg nadat die video 23:00 die aand op die groep gedeel is, vra Benade om verskoning vir die video en sê sy dat dit per ongeluk gestuur is. “Ek is met my hele hart jammer as ek julle ontstel het. Dit is nie enigsins my opinie nie. Ek kan nie genoeg jammer sê nie. Ek is so jammer,” skryf sy.

Iemand reageer dan op haar boodskap: “So sê vir my, verwag jy ons almal moet nou net stilbly na al die drama wat jy sopas geplaas het. Kan jy asseblief vir ons duidelikheid gee oor wat jy sopas gesê het?”

Die Cyril Ramaphosa Education Trust (CRET) het in ʼn verklaring bevestig dat een van die studente wat in die video gesien kan word ʼn CRET-beurshouer is. “CRET veroordeel die afskuwelike gedrag wat in die video gesien kan word en het die student se beurs met onmiddellike effek teruggetrek,” lui die verklaring.

In ʼn skermskoot van die WhatsApp-gesprek wat volg nadat die video op die groep gedeel is. Foto: Twitter

“Die CRET-beursprogram roem homself op sy nie-rassige, niediskriminerende program wat benadeelde studente oor alle rasgroepe ondersteun. In 2017 het die CRET altesaam 66 studente ondersteun, waarvan 64 swart en twee wit is. Ons is platgeslaan om te hoor dat een van ons eie familielede ons tot so mate teleurstel in ʼn tyd wat Suid-Afrika diversiteit moet omarm.”

Die trust het gesê hy sal enige verdere stappe wat deur UP gedoen word na afloop van ʼn dissiplinêre ondersoek ondersteun.

UP het Vrydag in ʼn verklaring bevestig dat die twee meisies wat in die video gesien word UP-studente is. Die universiteit het gesê die twee studente is geskors hangende die dissiplinêre ondersoek na die voorval. “Die Universiteit van Pretoria veroordeel die gebruik van sulke neerhalende en rassistiese taal,” lui die verklaring.

Intussen het die Blou Bulle-maatskappy ook bevestig dat Reynders na aanleiding van die video uit haar posisie as rasieleier by die Vodacom Bulls Babes verwyder is. Die maatskappy het gesê die Vodacom Bulls Babes word bestuur deur ʼn eksterne konsultant en Reynders was dus nie direk in diens van die Blou Bulle-maatskappy of deur die maatskappy gekontrakteer nie. Die maatskappy het wel versoek dat sy uit die groep verwyder word.

“Die Blou Bulle-maatskappy, tesame met die konsultant wat die Vodacom Bulls Babes bestuur, wil dit kategories stel dat ons nie enige misbruik op grond van ras goedkeur nie.”

Oscar bekroonde akteur sê jammer na aantyging

$
0
0

Kevin Spacey. Foto: Evan Agostini/Invision/AP, File

Die akteur Kevin Spacey het sy verskoning aangebied nadat ʼn veel jonger akteur hom daarvan beskuldig het dat Spacey seksuele toenadering by hom gesoek het toe hy net 14 jaar oud was.

Die akteur Anthony Rapp het in ʼn onderhoud met BuzzFeed gesê hy het in 1986 ʼn partytjie bygewoon wat deur Spacey (58) gereël is. Volgens Rapp het Spacey bo-op hom gelê op ʼn bed nadat die ander gaste reeds weg was. Rapp het gesê hy het Spacey weggestoot en toe die huis verlaat.

Spacey het in reaksie hierop gesê hy kan nie die voorval onthou nie. Hy het egter onvoorwaardelik verskoning aangebied en gesê hy was seker onder die invloed van alkohol. Spacey, wat reeds twee Oscar-toekennings gewen het, het ook intussen erken hy is gay.

“Ek het my lewe lank al romantiese verhoudings met mans gehad en ek kies om my lewe nou as ʼn gay man te lei. Ek wil dit openlik en eerlik hanteer en derhalwe begin dit by my wat my eie gedrag ondersoek.”

Volgens Rapp het hy besluit om sy storie te vertel in die lig van talle akteurs en aktrises wat die afgelope tyd die stilte verbreek het oor voorvalle van seksuele aanrandings en misbruik.

Talle bekendes het hul stemme by die internasionale #MeToo-veldtog gevoeg nadat die Amerikaanse aktrise Alyssa Milano dié veldtog begin het. Milano se inskrywing was in reaksie op die bewerings dat die bekroonde rolprentvervaardiger en medestigter van The Weinstein Company, Harvey Weinstein (65), minstens drie vroue verkrag en tien ander seksueel geteister het.

Hy is ook daarvan beskuldig dat hy meer as agt vroue, onder wie Rose McGowan, Asia Argento en Lucia Evans (née Stoller), betaal het om nié oor die seksuele teistering en aanranding te praat nie. Talle vroue, onder wie bekendes soos Cara Delevingne, Angelina Jolie en Gwyneth Paltrow, het ná die bewerings ook hul stemme by die klagte gevoeg.

Man in hof ná wrede moord op bejaardes

$
0
0

hof-hamer

Argieffoto.

ʼn 21-jarige man het Maandag in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn in verband met die moord op ʼn bejaarde egpaar verlede maand.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê Vuyani Sifunda het vlugtig in die hof verskyn voordat die saak tot 7 November uitgestel is. Sifunda, wat tereg staan op drie aanklagte van moord en twee van roof met verswarende omstandighede, sal na verwagting tydens sy volgende verskyning om borgtog aansoek doen.

Maroela Media het vroeër berig Sifunda is verlede week in hegtenis geneem toe hy in die Paterson-landdroshof verskyn het in verband met ʼn saak van huisbraak. Hy word verdink van die moorde op Ken Alexander (76) en Elaine Allwright (78).

Die egpaar is einde September wreed in hul huis in Schoenmakerskop aangeval. Alexander is tydens die aanval doodgeslaan. Allwright is erg aangerand tydens die aanval en in ’n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem waar sy ʼn paar dae later dood is.

Volgens Naidu word die verdagte ook aangekla van ʼn moord wat op 23 September op die terrein van die Forest Hill-begraafplaas in Schoenmakerskop plaasgevind het. Tyrone Plaatjies (49) is met ʼn hamer doodgeslaan terwyl hy en ʼn vriend in ʼn woonwa gelê en slaap het en deur twee mans oorval is. Die aanvallers het met R50, ʼn selfoon en Plaatjies se voertuig op die vlug geslaan. Plaatjies het op pad na ʼn hospitaal aan sy beserings beswyk.

Naidu het vroeër gesê die polisie verwag om binnekort nog inhegtenisnemings te maak.

Swart Maandag-optogte veroordeel

$
0
0

ʼn Foto van die ou landsvlag wat glo tydens ʼn Swart Maandag-betoging vertoon word. Foto: Facebook

Fikile Mbalula, minister van polisie, het Maandag na die DA se Mmusi Maimane gekap oor sy party se ondersteuning van die #SwartMaandag-veldtog.

Mbalula het foto’s, glo van Swart Maandag-betogings, gedeel waar die ou landsvlag vertoon word en hom gevra of dit die Swart Maandag is wat hy ondersteun. “Wat is hierdie arrogante vertoning van onsensitiwiteit en miskenning van ons verlede?” het Mbalula getwiet.

Die DA het hom Maandag op sy Facebook-blad uitgespreek teen die gebruik van die apartheidsvlag tydens die Swart Maandag-betogings. “Daar is geen plek vir daardie vlag in Suid-Afrika nie. Die hartseer realiteit is dat 52 mense van alle rasse elke liewe dag in Suid-Afrika vermoor word. Staan op vir hulle. Moenie deur rassiste van stryk gebring word nie,” lui die inskrywing.

Mbalula was nie die enigste een wat hom teen die Swart Maandag-protesoptogte uitgespreek het nie. Black First Land First (BFLF) het oudergewoonte in ʼn omstrede verklaring ʼn beroep op die publiek gedoen om nie vandag swart aan te trek “vir gronddiewe” nie.

“Wit boere is nie spesiaal nie. Inteendeel, as jy [vandag] swart dra, doen dit om te rou oor die duisende plaaswerkers wat steeds slawe op plase is. Wit boere is rassistiese, wrede gronddiewe wat nie ons simpatie verdien nie,” lui die verklaring.

ʼn Foto van die ou landsvlag wat glo tydens ʼn Swart Maandag-betoging vertoon word. Foto: Facebook

“Dit is ʼn leuen om te sê wit boere voed die nasie. Die helfte van die Suid-Afrikaanse bevolking is sonder voedselsekerheid. Wit boere vergiftig die nasie met geneties gemodifiseerde organismes (GMO’s). Hulle produseer vir wins en gee nie om oor die gesondheid van die nasie nie. Wit boere het plase in geweldsones teen swart mense verander. Plase is gevaarlike en hartseer plekke vir ons mense.”

Die organisasie het weer eens ʼn beroep op die regering gedoen om wit boere se grond sonder vergoeding te onteien en plaaswerkers te prioritiseer.

Julius Malema, leier van die EFF, het op Twitter aan Mbalula getwiet en gesê: “Wit boere sper onwettig die paaie af en die polisie skiet nie rubberkoeëls nie, maar as dit swart jeugdiges was, joh!” Mbalula het hierop geantwoord deur te sê wetteloosheid van enige deel van die samelewing is onaanvaarbaar en moet veroordeel word. “In hierdie geval mag jy reg wees. Die polisie het verslap.”

Die departement van basiese onderwys het in ʼn verklaring ook teen die Swart Maandag-optogte uitgevaar omdat dit tot die ontwrigting van die matriekeindeksamen gelei het. Die departement het in die verklaring verkeerdelik genoem dat die AfriForum die Swart Maandag-optogte gereël het en het die burgerregteorganisasie hiervoor veroordeel.

“Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat ʼn organisasie wat beweer dat hy in die beste belange van Suid-Afrikaners optree willens en wetens die onderrig van leerders op so ʼn manier in gedrang bring. Ons doen ʼn beroep op diegene wat hul reg tot protes wil beoefen om dit op só ʼn manier te doen dat dit nie inmeng met die regte van leerders, veral gedurende eksamentyd nie,” lui die verklaring.


[Video] PE-boere maak ook stem dik teen plaasmoorde

$
0
0

Die Swart Maandag-optog in Port Elizabeth. Foto: Raahil Sain/ANA

Honderde boere het Maandag by Cows Corner in Port Elizabeth saamgetrek om ʼn beroep op die regering te doen sodat gespesialiseerde eenhede op die been gebring kan word om plaasmoorde reg oor die land te bekamp.

Verskeie buurtwaggroepe, onder meer van Seaview, Lorraine en Colleen Glen, het deelgeneem aan die #SwartMaandag-veldtog wat vandag regoor die land gehou is. Duisende mense het in swart geklee saamgetrek ter gedagtenis aan die slagoffers van plaasmoorde en om hul stem dik te maak teen die aanvalle teenoor mense wat op plase woon en werk.

Honderde mans, vroue en kinders het met voertuie en motorfietse ook op die N2-snelweg in die Oos-Kaap saamgetrek. Willie Bosch, lid van ʼn plaaslike landelike beveiligingsgroep en organiseerder van dié saamtrek, het gesê die konvooi is beplan om die dood van alle boere van alle rasse wat reg oor die land vermoor is te betreur. Bosch het gesê die konvooi was nie polities of rasgedrewe nie.

Die Swart Maandag-optog in Port Elizabeth. Foto: Raahil Sain/ANA

Volgens die jongste statistieke is 74 mense tot dusver vanjaar op plase vermoor, reeds meer plaasmoorde as wat in totaal in 2016 aangeteken is. Volgens die jongste nasionale misdaadstatistieke is 19 016 moorde in die 2016/2017 finansiële jaar aangeteken.

Die Swart Maandag-optogte het ook baie kritiek uitgelok met talle sosialemediagebruikers wat bevraagteken waarom boere spesiale aandag moet kry wanneer moorde deur die hele land ʼn probleem is. Bosch het aangevoer ʼn spesiale eenheid is op die been gebring om die vlaag politieke moorde in KwaZulu-Natal te ondersoek.

“Mense kan sê hoekom kry [plaasmoorde] so baie aandag, maar ons kan dan ook sê ʼn spesiale eenheid is op die been gebring om die vlaag politieke moorde in KwaZulu-Natal te ondersoek. Miskien moet ons vra waar is hierdie spesiale eenhede om Suid-Afrika te beskerm. Jy kan nie die aantal politieke moorde in KwaZulu-Natal vergelyk met wat in Suid-Afrika gebeur nie. So ja, ons soek gelyke behandeling,” het hy gesê.

Die Swart Maandag-optog in Port Elizabeth. Foto: Raahil Sain/ANA

Fikile Mbalula, minister van polisie, het vroeër vanjaar aangekondig ʼn polisietaakspan wat uit lede van die Valke, misdaadintelligensie en spesiale ondersoekeenhede bestaan, sal die politieke moorde in KwaZulu-Natal ondersoek.

Rudy Orban, ʼn boer van Addo, het Maandag gesê geweld is ʼn ernstige kwessie en landelike gemeenskappe is veral weerloos en vatbaar vir gewelddadige aanvalle. Orban het ook gesê politici hits soms geweld aan deur “rasse-uitsprake” oor grond te maak.

Hy het ʼn beroep op die regering gedoen om ʼn plan te beraam om plaasmoorde te beëindig. “Ons wil hê mense, veral die regering, moet kennis neem. Op die oomblik is daar geen werklike plan nie. Daar is geen plan om geweld stop te sit of selfs te verminder nie en niks word daaraan gedoen nie. Die uitsprake oor geweld vanaf politici maak dinge erger en niks word ook daaraan gedoen nie. Mense sê goed om hierdie geweld aan te hits,” het Orban gesê.

Patsy Kree, ʼn boer van Elandsrivier, het gesê wanneer ʼn boer vermoor word, het dit ʼn rimpeleffek op plaaswerkers en hul families. “Daar gaan so baie plaaswerkers wees wat sonder werk sit, omdat die vroue en families daardie plase verkoop wanneer hulle onproduktief raak. So dit is nie net die voedsel nie, dit is werksgeleenthede in geheel wat verlore gaan,” het sy gesê.

[Video] Oomblik toe vragmotor in Swart Maandag-optog inploeg

$
0
0

‘n Skermskoot uit die video.

‘n Kajuitkamera het die angswekkende oomblik vasgevang toe ʼn vragmotor in talle motors en vragmotors ingeploeg het tydens ʼn Swart Maandag-optog op die N4 in Mpumalanga.

Drie mense is beseer in die botsing wat sowat 5 km buite Middelburg plaasgevind het. Jaco Pretorius, ‘n direkteur by Jabula Plant Hire, het die opname van hul vragmotor se kajuitkamera aan Maroela Media verskaf.

Die opname wys hoe Jabula se vragmotor in die regterbaan agter ‘n ander vragmotor ry. In die agtergrond kan daar skielik skreeuende remme gehoor word voor ‘n ander vragmotor van die linkerkant af in die regterbaan inbeweeg en teen ‘n bakkie bots.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê drie vragmotors en tien motors was in die botsing betrokke.

Hy het gesê twee mense het ernstige beserings opgedoen terwyl ʼn derde persoon slegs geringe beserings opgedoen het. “Paramedici het die beseerdes op die toneel behandel voordat hulle na ʼn hospitaal in Middelburg geneem is vir verdere mediese sorg.”

Marius Müller, nasionale operasionele koördineerder van AfriForum, het gesê die bestuurder van die vragmotor is op die toneel in hegtenis geneem. Die polisie kon nie onmiddellik bereik word om die inhegtenisname te bevestig nie.

Indien jy nie die video hieronder kan kyk nie, klik hier om dit op YouTube te kyk.

Reusebeloning uitgeloof ná plaasvoorman se moord

$
0
0

Kyle Stols. Foto: Facebook

ʼn Groot beloning is uitgeloof vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die moordenaars van Kyle Stols, die jong voorman wat net meer as ʼn week gelede op ʼn plaas in die Jagersfontein-distrik in die Vrystaat doodgeskiet is.

Inligting oor die beloning is op DIY Superstore in Bloemfontein se amptelike Facebook-blad gedeel. DIY Superstore word deur Marius Eksteen, die eienaar van die wildsplaas waar Stols vermoor is, besit.

Maroela Media het vroeër berig Stols (21), die voorman van Hatari Big Game Safaris, is op 22 Oktober doodgeskiet, vermoedelik toe hy gaan ondersoek instel het nadat ʼn alarm op die plaas afgegaan het. Hy is in sy bors en kop geskiet. Sy vuurwapen is naby sy liggaam gevind. Niks is tydens die aanval gesteel nie.

Gawie Stols, die broer van Kyle Stols (25 Oktober 2017). Foto: Reint Dykema

Gawie Stols, Kyle se broer, het verlede week tydens ʼn mediakonferensie wat deur AfriForum gehou is, bevraagteken wat die doel van die moord op sy broer was aangesien daar niks tydens die aanval gesteel is nie. “In die laaste ure wat hy geleef het, was daar niemand om hom by te staan en vertroosting te bied nie. Niemand om net vir hom te sê, byt vas, of, die Here kom haal jou nie. Hy was alleen.”

Die NG Kerk Verkeerdevlei was Vrydag stampvol met meer as 300 familielede, vriende en ondersteuners teen plaasmoorde wat Kyle Stols gegroet het.

Inligting oor die aanval kan by 051 724 9000 aangemeld word.

Begroting belemmer markvryheid en rykdomskepping net verder

$
0
0
Malusi Gigaba

Malusi Gigaba, minister van finansies.. Foto: Flickr/GovernmentZA

Malusi Gigaba se mediumtermynbegroting van Oktober 2017 herinner in vele opsigte aan die begrotings van Pravin Gordhan. Soos in die Gordhan-era val die fokus sterk op ʼn begroting wat herverdeel en die staat sien as ʼn primêre rykdomskepper. Dit is ʼn begroting wat hewige regeringsinmenging in die ekonomie steeds ondersteun en net verder bemagtig.

Dit is nie ʼn begroting wat vrye ondernemerskap en rykdomskepping bevorder nie.

Die groot verskil, soos talle ontleders nou al aangedui het, is dat hierdie begroting die land se fiskale toestand met hewige en skokkende realisme aangedui het.

Dit is nou nie meer ʼn geheim dat die regering nie sy verwagte belastinginkomstes oor die medium termyn sal haal nie. Die projeksies dui daarop dat die tekort tussen dit wat die regering invorder en dit wat hy beplan om te bestee nog verder sal vergroot. Die verwagte skuld-tot-BBP-verhouding nader nou 60% oor die medium termyn en is in die begrotingsdokument met ʼn reusesprong opwaarts aangepas.

Daar is verder bestaande skuld wat betaalbaar raak (en “oorgerol” moet word). Hiervoor sal die regering geld leen onder minder gunstige omstandighede as in die verlede. Dit beteken dat die bruto leningsvereiste[1] in die Gigaga-begroting met sowat R30 miljard rand van sowat R220 miljard na sowat R250 miljard vir FJ2018 aangepas is. Die begroting voorsien om bykans R1 000 miljard oor die drie opvolgende begrotingsjare te leen.

Dié begroting is ʼn reuseskuldbegroting. ʼn Skuld tot BBP-verhouding van 60% is kommerwekkend vir ʼn land soos Suid-Afrika en die kredietgraderingsagentskap Fitch Ratings het reeds negatief gereageer. Dit voorspel sekerlik verdere afgraderings.

Ekonomies gesproke is daar altyd afruilings om te oorweeg. Soos met die Gordhan-begrotings ook die geval was, is ʼn groot afruiling hier ter sprake tussen herverdeling en markgebonde ontwikkeling. Laasgenoemde is die enigste volhoubare en lonendste manier om Suid-Afrika se probleme by te lê, maar dit is nie waarop die begroting begrond word nie.

ʼn Mens kan kibbel oor “veiligheidsnette” en ek reken self nie dat dié summier weggeneem moet word nie, maar indien markgedrewe ontwikkeling die enigste manier is om Suid-Afrika uit sy penarie te lig, sal die Gigaba-begroting en die ANC-beleid wat dit bevestig nie daartoe lei nie.

Wanneer die regering bykans 31c van elke rand in BBP in die ekonomie spandeer, sowat 26c van elke rand BBP in belasting inneem en die tekort opmaak deur geld in die markte te leen beteken dit eenvoudig dat minder hulpbronne vir private ondernemerskap en belegging beskikbaar is. Die geld wat die regering leen beteken ʼn verdere rentelas op belastingbetalers.

Gemeet aan die wêreld is Suid-Afrika is nie ʼn ryk land nie. Ons is armer in produktiewe kapitaal (in beleggings en fondse vir beleggings in produktiewe ondernemings, aanlegte en toerusting).

Om meer produktief te word en ryker te word moet ons ryker word in produktiewe kapitaal. Daarvoor is ten minste twee dinge nodig: Geld in die hande van verdienstelike entrepreneurs en produsente en ʼn raamwerk waarbinne sakesukses op meriete berus – dit wil sê afhang van hoe suksesvol produsente aan die behoeftes van plaaslike en internasionale verbruikers voorsien.

Deur ʼn gunstige grondgebied te skep kan jy selfs kapitaal van ander lande aantrek, wie sou kon raai?

Dit is so dat talle ryk Westerse land groot regerings het. Vergelyk ʼn land soos Denemarke, ʼn gunsteling onder sommige plaaslike beleidmakers. Denemarke se regering bestee sowat 54c van elke R1 in BBP aan sy begroting. Dit word deels moontlik gemaak deur Denemarke se voorafgaande rykdom (wat myns insiens deur dekades van vryheid van ondernemerskap moontlik gemaak is) en sy ingesteldheid op oop en vrye markte.

Die Dene word swaar belas, maar ondernemerskap word tot ʼn baie groter mate as in Suid-Afrika onbelemmerd gelaat. Gegewe ons klein belastingbasis en ander realiteite, soos die swak terugbetaling op belastinggeld, word Suid-Afrikaners reeds ook swaar belas. Belastingbetalers is eenvoudig vuisvoos en die begroting se swakker belastingsyfers reflekteer dit. Met dié kwalifisering in ag geneem kan ʼn mens wonder of Denemarke se voorbeeld nie eintlik ʼn stap vorentoe sal wees nie.

Wat sal gebeur selfs indien die ANC-regering belasting en besteding op dieselfde vlakke hou, maar die mark oper stel, aggressief dereguleer en minder belemmer? Sal selfs dít nie ʼn groot stap in die regte rigting wees nie? Om besteding en belasting te besnoei is nodig, maar ek reken selfs daarsonder sal deregulering en die bevestiging van private eiendomsregte tans ʼn reuseverskil kan maak.

Dit is nie wat die Gigaba-begroting doen nie. Die Gigaba-begroting weerspieël ʼn hardnekkige voortsetting van beleid en ingrepe wat teen markvryheid indruis. Dit ʼn begroting wat die reuseprobleme en risiko’s wat in die openbare sektor gevestig bykans klakkeloos voortsit.

Die regering beoog om oor die volgende drie jaar gemiddeld 31% van die bruto binnelandse produk aan sy skuld en programme te bestee terwyl vooruitgeskatte belastinginkomste van slegs sowat 26% van BBP voorsien word. Die plan is om regeringsbesteding min of meer op die Gordhan-trajek te hou. Besnoeiings sal oënskynlik eers plaasvind wanneer daar geen ander alternatief oor is nie.

Hoewel daar nog nie in hierdie begroting verdere belastingverhogings aangekondig is nie, word daar soos altyd van die belastingbetaler verwag om eenvoudig net verder op te dok. Die begrotingstoespraak het self genoem dat die sukses van verdere belastingverhogings om belasting in te gaar twyfelagtig is, maar gegewe die regering se toewyding aan huidige bestedingsvlakke en skuldvlakke, blyk verdere verhogings onvermydelik te wees.

Wat wel seker is, is dat ʼn twyfelagtige belastinggaarder gereed staan om die skroewe as’t ware stywer aan te draai.

Die tesourie se vooruitsig verwag verder dat bruto vaste kapitaalbelegging jaarliks met 3,0% en 3,5% sal groei in 2018 en 2019, maar waarop gebaseer? Die tesourie skoei hierdie verwagting oënskynlik op die hoop van ʼn herstel uit die buiteland wat plaaslike sake sal bevoordeel, maar dit terwyl daar erken word dat “beleidsonsekerheid” ʼn probleem is.

Beleidsonsekerheid soos die regering dit gebruik is dubbelspraak.

Gigabe se begroting skep juis beleidsekerheid. Sekerheid oor groot skuld, groot belasting op ʼn klein basis en groot besteding. Dit bevestig groot inmenging, herverdeling en weerspieël sterk anti-marksentiment.

Dit bevestig die markposisie van te groot en riskante staatsbeheerde instellings in die ekonomie. Dit berus op die ideologie van “regeringsgedrewe” eerder as “markgedrewe” groei en vereis skynbaar toenemend die sosialistiese sentralisering van die private sektor. Die Gigaba-begroting skep sekerheid dat beleid wat teen die werking van vrye markte indruis gehandhaaf sal word. Van die private sektor word verwag om eenvoudig by hierdie beleidsomgewing wat ondernemerskap wesenlik belemmer in te val.

Die Gigaga-begroting bevestig dat die ANC-regering verbete gaan klou aan sy inmengingsbeleid wat rompslomp en ekonomiese ondoeltreffendheid verhoog en van Suid-Afrika ʼn duurder beleggingsbestemming maak.

Ons kan heelwat praat oor die begroting se syfers, maar eenvoudig gestel, die syfers is uiters kommerwekkend en onnodig swak. Die belangriker ding om te verstaan is dat ʼn omgewing van werklike vryheid van markte en ondernemerskap, wat al talle lande ryk gemaak het, nie nagestreef word nie. Soos die Gordhan-begrotings van te vore, is die Gigaba-begroting ook nie ʼn resep om ʼn ryk en suksesvolle land te word nie.

Dit is eerder ʼn resep vir die voortsetting van ekonomiese stagnasie en die agteruitgang wat reeds sterk in aanvang is. Die begroting stuur af op ʼn ekonomiese krisis. Krisisse neem verskeie vorms aan en is gewoonlik nie permanent nie, maar verg wel goeie voorbereiding.

Vir die man op straat verg dit omsigtige finansiële beplanning vir bykomende belastingonkoste en slim beleggings ten doel verskansing teen plaaslike stagnasie. Dit verg die bou van veerkragtigheid in ons gemeenskappe, soos deur die oprig van private skole en eie onderriginstellings, gemeenskapsveiligheidsnetwerke en buurtwagte, en maatskaplike oplossings wat nie van die staat afhanklik is nie. Basies gestel: Dit verg soeke na oplossings buite ʼn denkraamwerk wat meen “die regering sal moet sorg”.

Nota’s:

[1] Dit wat die regering moet leen om die begrotingstekort en bestaande skuld wat betaalbaar is te finansier.

Jhb-vrou (32) kritiek ná sy ure onder grond om lewe veg

$
0
0

Jhb-vrou (32) kritiek ná sy ure onder grond in sloot om lewe veg (Foto: ER24)

ʼn 32-jarige vrou van Actonville in Benoni aan die Oos-Rand is in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal gehaas nadat sy Maandagmiddag sowat drie uur lank in ʼn sloot onder grond begrawe was.

Annine Siddall, ER24-woordvoerder, sê nooddienste het omstreeks 16:00 op die toneel aangekom. Die vrou, wat vermoedelik aan die sloot help gegrawe het, was onder die grond vasgevang.

“Brand- en reddingsdienste het byna daarin geslaag om die vrou te bevry, toe vyandige gemeenskapslede ʼn tweede ineenstorting van die sloot veroorsaak, waarna die vrou vir ʼn verdere uur onder die grond vasgevang was,” sê Siddall.

Die vrou is na die Sunshine-hospitaal gehaas vir dringende mediese sorg.

Die presiese oorsaak van die voorval is nie in dié stadium bekend nie. ʼn Polisieondersoek is van stapel gestuur.

ANC veroordeel ‘rassistiese gedrag’ tydens Swart Maandag-veldtog

$
0
0

Argieffoto

Die ANC het in ʼn verklaring gesê hy veroordeel die “afstootlike en rassistiese gedrag” van sommige van diegene wat Maandag aan die #SwartMaandag-veldtog deelgeneem het.

Die regerende party het gesê die “rasse-karakterisering van misdade en die stook van rassehaat” was duidelik weens onder meer elemente soos “die arrogante en aanstootlike uitbeelding van die apartheidsvlag”.

Die party sê in die verklaring voorbeelde soos dié dui daarop dat talle ʼn “wit oppergesag en die apartheidsbedeling begeer” en daardeur ʼn bespotting van die nasionale versoeningsprojek maak. Volgens die party is aksies soos dié struikelblokke in die pad na ʼn nie-rassige Suid-Afrika in die toekoms.

Die verklaring maak melding van die Nasionale Ontwikkelingsplan wat onder meer daarop wys dat “alle inwoners van Suid-Afrika veilig moet voel, nie in vrees vir misdaad moet leef nie en behoorlik deur die polisie en die howe gedien moet word”.

“Hierdie nasionale noodsaaklikheid [die ontwikkelingsplan] streef na die veiligheid van alle Suid-Afrikaners en nie bloot ʼn spesifieke ras of groep nie,” lui die verklaring. “Die uitroep vir die beskerming van boere, wat spesifiek verwys na wit boere, wys daar is ʼn ondeurdagte aanspraak op geregtigheid; skep ʼn bevooroordeelde rassige karakter van misdaad, wreedheid en geweld; en ondermyn die sterftes van plaaswerkers en ander wat op plase dood is.”

Die ANC het gesê hy doen ʼn beroep op die plaasgemeenskappe om “alle lewe te waardeer, en nié net wit lewens nie”. Die party sê dit was net in die apartheidsera dat “ʼn bevoorregte wit minderheid” deur die regering beskerm is “ten koste van ʼn swart meerderheid”.

“Daar is talle verslae wat dui op die onmenslike gebruike van boere teen hul werkers en die wreedaardige moorde van swart mense wat belaglike verduidelikings kry soos dat die werkers vir ‘bobbejane aangesien is’. [Daarom vra ons dat] die boere-gemeenskappe die belangrikheid van alle lewens waardeer.”

Die ANC sê hy is doelgerig om die misdaad waaronder Suid-Afrika gebuk gaan, beslissend te hanteer. “Omvattende strategieë is in hierdie verband ontwikkel en in die proses om geïmplementeer te word. Dit sluit in die aftakeling van [Suid-Afrika] se rassistiese nalatenskap en die bevegting van kwessies soos haatspraak en die blokkering van paaie tydens protesoptogte. Die ANC nooi die voorstanders van #SwartMaandag uit om aan te sluit by die meerderheid Suid-Afrikaners in die stryd teen misdaad en nié hierdie groep te vervreem nie.”

Oud-raadslid gevonnis ná sameswering om premier se dood

$
0
0
hof-hamer

Argieffoto.

Eunice Legalatladi, ʼn voormalige munsipale raadslid van Mahikeng, is Maandag in die Lehurutshe-streekhof tot vyf jaar tronkstraf gevonnis nadat sy skuldig bevind is aan sameswering om Supra Mahumapelo, premier van die Noordwes, dood te maak.

Die Valke het Legalatladi (44) in 2014 buite Zeerust in hegtenis geneem nadat sy die hulp van ʼn sogenaamde tradisionele geneser gevra het om Mahumapelo, wat ook die provinsiale voorsitter van die ANC in Noordwes is, dood te maak.

Kapt. Tlangelani Rikhotso, woordvoerder van die Valke, sê sy is in Januarie verlede jaar op R3 000 borgtog vrygelaat waarna sy verskeie verskynings in die hof gemaak het.

Mahumapelo het vroeër aan die ANC se provinsiale algemene raad gesê hy weet van minstens nege mense wat hom dood wil hê.

Dit volg kort nadat ʼn man in Augustus vanjaar ook in hegtenis geneem is in verband met SMS-doodsdreigemente wat aan Mahumapelo gestuur is. Mahumapelo het ’n saak van intimidasie aanhangig gemaak nadat hy doodsdreigemente op sy selfoon ontvang het. Die verdagte is deur die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) in Noordwes vasgetrek.


Kutama-ontsnapping: Twee vas wat verdagtes skuiling gee

$
0
0

Argieffoto

ʼn 32-jarige man en ʼn 20-jarige vrou is in hegtenis geneem nadat hulle glo skuiling gebied het aan vier van die verdagtes wat vroeër uit aanhouding by ʼn maksimumsekuriteitgevangenis ontsnap het.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê dié vier ontsnapte gevangenes het glo Donderdagaand, nadat hulle ontsnap het, by die verdagtes se huis in Louis Trichardt geskuil, waarna hulle Vrydag in die vroeë oggendure weer op die vlug geslaan het.

Mojapelo sê uniforms wat na bewering deur die gevangenes gedra is, is op die perseel gevind.

Al vier dié verdagtes is reeds weer in hegtenis geneem nadat sewe gevangenes Donderdagaand ná ʼn oproer uit die Kutama Sinthumule-tronk ontsnap het. Chris Faku (37), wat skuldig bevind is op aanklag van roof met verswarende omstandighede, is Vrydag aangekeer. Jabulani Isaac Mahlangu en Thomas Munyai, wat onderskeidelik tronkstraf uitdien op aanklagte van verkragting en moord, is vroeër Saterdag aangekeer. Ntshengedzeni Manukha (37) van Thohoyandou, die vierde verdagte wat in hegtenis geneem is, is Saterdagmiddag in Waterval buite Louis Trichardt vasgetrek. ʼn Vyfde voortvlugtige is ook intussen in hegtenis geneem.

Die soektog na twee oorblywende voortvlugtiges duur voort. Al vyf verdagtes sal Dinsdag voor die hof verskyn.

Mojapelo sê die man en vrou sal ook Dinsdag in ʼn hof in Louis Trichardt verskyn.

Poppie-saak: Juffrou raak emosioneel in getuiebank

$
0
0

Kobus Koekemoer in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Esna Schumann, ʼn onderwyseres en bestuurder van die Huppelkind-dagsorgsentrum op Orania in die Noord-Kaap, het Maandagmiddag emosioneel geraak toe sy oor beserings aan Poppie Koekemoer (3) se voorkop getuig het.

Schumann was een van die nagenoeg 30 getuies wat die staat beplan om te roep in die verhoor wat vir twee weke lank op die hofrol by die Pretoria-hooggeregshof geplaas is.

Poppie se ma en stiefpa, Louisa (46) en Kobus Koekemoer (44), se verhoor het Maandag in die hof begin. Die egpaar staan tereg op ʼn aanklag van moord, twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en ʼn aanklag van kindermishandeling. Van dié aanklagte hou ook verband met die beweerde aanranding van ʼn vyfjarige seuntjie en 15-jarige meisie tussen September 2015 en Oktober 2016. Die egpaar het vroeër die dag skuld ontken op al die aanklagte teen hulle.

Schumann het verwys na ʼn voorval in Junie 2016 toe Poppie een Maandag by die dagsorgsentrum opgedaag het met ʼn “geweldige” knop aan haar voorkop en ʼn blou ogie.

“Louisa het vir my gesê sy het poppie se kop teen die bakkie se kap gestamp toe sy haar uit die bakkie gelaai het. Ek het haar nie geglo nie. Sy het nie direk vir my gekyk nie. Sy was baie haastig gewees en die blou kol het nie gelyk soos iets wat pas gebeur het nie,” het Schumann getuig.

Schumann het gesê sy het ʼn foto van Poppie se beserings geneem. Dié foto is Maandag aan die hof gewys en as ʼn bewysstuk ingedien. In die foto kyk Poppie op en na die kamera. Schumann het destyds ook die foto aan Heidi Smit, ʼn berader van die Orania Maatskaplike Raad (OMR), gestuur. Die OMR het in April 2016 opdrag gegee dat die gesin gemonitor en die kinders onder meer weekliks deur ʼn geneesheer ondersoek word nadat bure bewerings van “oordadige geweld” gemaak het.

Poppie van der Merwe.

“Ek het later die oggend toe Louisa weg is vir Poppie gevra wat gebeur het. Sy het my met daai selfde gesiggie aangekyk as hoe sy daar op die foto staan en gesê haar ma het haar met ʼn vuis geslaan,” het Schumann emosioneel gesê. “Dit was nog voor al haar hare afgeskeer was. Haar hare was tot op die kopvel afgeskeer soos wat ʼn mens met seuns sou doen as hulle luise het, maar ek weet sy het nie luise gehad nie.”

Schumann het getuig sy het Poppie gereeld “van kop tot tone” deursoek vir enige tekens van blou kolle en sy het nooit luise opgemerk nie.

Sy het gesê sedert sy in April 2015 by die dagsorgsentrum begin werk en met Poppie te doen gekry het, is die beserings wat uitgestaan het die hou aan haar kop, haar been wat gebreek was en blou kolle aan die bopunt van Poppie se ore “wat lyk soos knypmerke”. Sy sê sy het in die tydperk ander skraapmerkies en kneusplekke opgemerk, maar dit was nie iets waaroor hulle onrustig was nie.

“Sy was ʼn bedrywige dogtertjie gewees en kinders kry mos maar skrapies.” Oor Poppie se been wat gebreek was, het Louisa aan haar gesê Poppie het by ʼn trap afgeval.

“Ek het haar daai tyd gevra wat met haar been gebeur het en sy het gesê: ‘Hulle het my seergemaak,’” het Schumann gesê.

Die beskuldigdes hou egter vol Poppie se been het gebreek toe sy by ʼn trappie by ʼn winkel afgeval het. Hulle het aan Schumann en Smit gesê Poppie en haar boetie het blou kolle en kneusplekke opgedoen omdat hulle mekaar “afknou”.

Smit het vroeër die dag getuig dat Louisa in 2014 van Westonaria aan die Wes-Rand na Orania gevlug het nadat haar vorige lewensmaat haar glo aangerand het. Die OMR en die gemeenskap het haar en haar kinders finansieel en met kospakkies bygestaan totdat sy weer op haar voete kon kom. Finansiële bystand is gestaak toe Louisa ʼn werk, onderhoudgeld en pensioengeld uit haar vorige verhouding ontvang het.

Kobus het later in Orania ingetrek en vir Louisa daar ontmoet. Hulle het in September 2015 saam ingetrek en is op 14 November 2015 getroud.

Louisa Koekemoer in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Nadat die OMR die kinders begin monitor het, het Smit glo gereeld ʼn maatskaplike organisasie buite Orania en die streek se maatskaplike werker in Hopetown van die situasie ingelig, aangesien Orania nie ʼn polisiestasie of die nodige regte het om kinders uit sorg te verwyder nie. Volgens Smit het die plaaslike departement van maatskaplike ontwikkeling, in Hopetown, nooit by hulle uitgekom voordat die Koekemoer-egpaar aan die einde van September “oornag” uit Orania na ʼn kleinhoewe in Mamogaleskraal naby Brits in Noordwes verhuis het nie.

Adv. Adrian Nell, Louisa se regsverteenwoordiger, het tydens kruisondervraging aan Schumann gestel dat daar nêrens in die hele Noord-Kaap ʼn klag oor die mishandeling by die polisie ingedien is nie. Hy het gesê die streek se maatskaplike werker sal ook getuig dat sy nie van die beweerde mishandeling ingelig is nie en het eers daarvan in die media gelees.

“Die eerste keer wat die polisie hierby betrokke geraak het, was toe die Brits-polisie dit begin ondersoek het ná Poppie se dood,” het Nell gesê.

Maroela Media het laat in Oktober 2016 die nuus gebreek van Poppie se tragiese dood, wat skokgolwe deur die land gestuur het. Die Koekemoer-egpaar het toe reeds na Mamogaleskraal verhuis. Poppie is op 25 Oktober 2016 na ʼn hospitaal in Brits gehaas en kort daarna dood verklaar. Kobus is kort daarna vir Poppie se moord in hegtenis geneem.

Die patoloog het tydens Koekemoer se borgtogaansoek in November in die Brits-landdroshof getuig die hoofoorsaak van Poppie se dood was ʼn harde hou teen haar kop.

Die patoloog het verder bevind Poppie het ronde kneusplekke aan albei hande, voorarms en voete gehad en albei oorskulpe was gekneus, “wat dui op oormatige aanranding van die kind”. Die patoloog het ook aangedui daar was bloed aan die onderkant van Poppie se skedel en bloeding aan die linkerkant van haar brein.

Louisa is op 15 Desember in hegtenis geneem. Albei beskuldigdes is sedertdien in aanhouding nadat hulle borgtog geweier is.

Die verhoor duur Dinsdag voort.

Lees die vorige berigte oor Poppie van der Merwe op Maroela Media.

Esidimeni: Mahlangu gedagvaar om te getuig

$
0
0

Qedani Mahlangu, voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng. Foto: ANA

Qedani Mahlangu, voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng, is gedagvaar om in Desember voor die arbitrasieverhoor oor die Life Esidimeni-voorval te getuig.

Mahlangu het egter aangedui sy sal eers einde Januarie 2018 beskikbaar wees om te getuig.

“Die voormalige LUR word deur Ngcebetsha Madlanga-prokureurs verteenwoordig en sy het deur haar prokureurs laat weet dat sy tussen 21 en 31 Januarie eers beskikbaar sal wees om te getuig. Ons het egter die besluit geneem om haar te dagvaar om op 6 Desember te verskyn,” het Tebogo Hutamo, vir die staat, Maandag gesê.

Hutamo het bygevoeg dat dit moeilik was om Mahlangu op te spoor. Hy het aanvanklik aan die arbitrasieverhoor gesê dat Mahlangu nie kan verskyn nie omdat sy voorberei vir eksamens wat sy in die buiteland moet skryf.

“Die enigste moeilike ding is nou waar sy haarself bevind. Ons het haar prokureurs versoek om ons van haar formele adres te voorsien sodat die dagvaarding afgelewer kan word,” het Hutamo gesê.

Waar Mahlangu haarself bevind, het onder die loep gekom ná daar berig is dat sy in die Verenigde Koninkryk is en by die London School of Economics (LSE) studeer. Die Mail & Guardian het egter Saterdag berig die LSE het geen rekord van haar registrasie as student nie.

Die ANC in Gauteng het Sondag weereens aantygings dat die party glo nie weet waar Mahlangu haar bevind nie en dat sy huiwer om voor die arbitrasieverhoor oor die Life Esidimeni-voorval te getuig, verwerp.

Motalatale Modiba, woordvoerder vir ANC, het gesê die ANC wás glo al in gesprek met Mahlangu oor haar beskikbaarheid om voor die arbitrasieverhoor, wat deur adjunkhoofregter Dikgang Moseneke gelei word, te getuig.

“Sy het aangedui dat sy geen probleem het om te verskyn nie, maar dat sy nie op die lys van getuies is nie. Sy het kontak gemaak met die kantoor van die arbitrasie om die logistieke aspekte van die verskyning te bespreek,” het Modiba gesê.

Teen die einde van Augustus 2017 het Mahlangu aansoek gedoen om tydelik van haar pligte as lid van die provinsiale uitvoerende komitee onthef te word om haar nagraadse studie voort te sit. “Daarom is enige aantyging dat die organisasie nie weet waar sy haar bevind nie ongegrond. Qedani is steeds ʼn verkose lid van die provinsiale uitvoerende komitee.”

Mahlangu word wyd blameer vir die mislukte oorplasing van meer as 3 000 psigiatriese pasiënte van Life Esidimeni na ongelisensieerde NRO’s. Minstens 141 van dié pasiënte is in dié NRO’s dood as gevolg van verwaarlosing en honger. 59 van dié pasiënte word steeds gesoek.

Barney Selebano, die hoof van die Gautengse gesondheidsdepartement, en Makgabo Manamela, direkteur van geestesgesondheid by die departement, is ook gedagvaar om voor die verhoor te verskyn. Hulle is vroeër geskors kort nadat die gesondheidsombudsman se verslag oor die Life Esidimeni-tragedie vrygestel is.

Moseneke het gesê die verhoor sal aan die einde van 2017 tot ʼn einde kom. “ʼn Dagvaarding gee nie vir ʼn getuie ʼn keuse om te getuig nie. Dit gee vir hom ʼn datum waarop hy moet getuig. Dit is belangrik dat hierdie verrigtinge voor einde 2017 afgehandel word,” het Moseneke gesê.

Seun (10) saam met oupa toe rowers toeslaan

$
0
0
misdaadtoneel

Argieffoto

ʼn Jong seun was Maandag saam met sy oupa toe hulle in die vroeë oggendure in hul huis in Deneysville in die Vrystaat deur vier gewapende rowers oorval is.

Maroela Media het vroeër berig paramedici is omstreeks 03:00 deur lede van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) na die huis ontbied. Daar het hulle ʼn man in ʼn slaapkamer aangetref. Hy het verskeie skietwonde opgedoen en was in ʼn kritieke toestand.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, het gesê die 62-jarige man en sy 10-jarige kleinseun het glo geslaap toe hulle wakker geword en vier onbekende mans in die kamer gesien het. “Die man het probeer om sy skoktoestel te gryp en soos hy omgedraai het, het een van die verdagtes hom drie keer geskiet,” het Mbambo gesê.

“Die verdagtes het toe die kleinseun met skoenveters vasgemaak en met ʼn Honda CRV-voertuig, twee selfone, ʼn televisie en kontant van die toneel gevlug.”

Die gewonde man is na die Vereeniging Mediclinic gehaas, waar hy kort na sy aankoms gesterf het. Jan van Niekerk, leier van die VF Plus in die Vrystaat, het Maandag die man in ʼn verklaring as Sarel Erxleben geïdentifiseer.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

‘Rudi het gewelddadig rondbeweeg’

$
0
0

Henri van Breda. Foto: ANA

Henri van Breda het Dinsdag in die getuiebank in die Wes-Kaapse hooggeregshof telkens sweet van sy wenkbroue gevee en benoud gelyk.

Van Breda het vroeër getuig oor sy gesin se hegte band. Terwyl Van Breda getuig het oor hoe hy glo die aanvallers gesien het, het hy al hoe meer benoud geraak. Regter Siraj Desai het Van Breda gevra of hy ʼn blaaskans wil vat waarna die hof verdaag het.

Van Breda het later verder getuig hoe sy pa die kamer binnegekom en ʼn lig aangeskakel het. “Hy is op die kop geslaan en daarna weer verskeie kere. Ek onthou duidelik ʼn lag.” Hy sê sy ma het gevra wat aangaan.

Piet Botha, Van Breda se regsverteenwoordiger, het gevra hoekom hy nie sy ma te hulp gesnel het nadat hy gesien het hoe sy pa en broer aangeval word nie. “Ek was net bang. Ek kan nie onthou wat deur my kop gegaan het nie. Ek was definitief nie helder van verstand nie. Ek was baie bang.”

Van Breda het noukeurig verduidelik hoe die aanvaller na die kamer teruggekeer het “en stadig na my toe geloop het”. “Hy het weer gelag. Ek kon sien hy het ʼn masker aan met gate ingesny vir sy oë. Dit het nie gelyk of hy veel gesteur was deur my nie.”

Volgens Van Breda het hy in ʼn struweling met die aanvaller betrokke geraak en kon hy daarin slaag om hom weg te stamp. Die aanvaller het toe glo die kamer verlaat. “Rudi het gewelddadig rondbeweeg, ek het gesien hoe sy arms en bene skud. Dit was nie ʼn gemotiveerde of doelgerigte beweging nie. Hy het geskud en rondgeswaai. ”

Op ʼn vraag aan Van Breda oor hoekom hy nie hulp ontbied het nie, het hy gesê daar was nie ʼn spesifieke rede nie “maar met nawete is dit seker iets wat ek moes gedoen het”.

Van Breda het ook in detail beskryf hoe hy die wonde aan sy liggaam opgedoen het. Hy het verduidelik waar sy hande en die aanvallers se hande was tydens die struweling. Die staat het tydens die verhoor aangevoer Van Breda se wonde was self toegedien.

Van Breda het verder getuig hoe hy die aanvaller gejaag en die byl na hom gegooi het. Hy het gesê hy het in die proses van die trappe afgeval en sy bewussyn verloor nadat hy sy vriendin probeer kontak het en vir noodnommers op Google gesoek het.

Van Breda het getuig die laaste ding wat hy onthou voordat hy sy bewussyn verloor het, was dat hy sy ma en suster aan die bokant van die trap sien lê het. Volgens Van Breda was dit lig, het ʼn foon gelui en ʼn hond geblaf toe hy sy bewussyn herwin het.

“Ek het op die trap bygekom en stadig begin onthou. Dit was asof ek ʼn droom onthou en ek kon sien hoe Marli bietjie rondbeweeg het en op een been. Dit is toe dat ek weer my bewussyn herwin het. Ek kon weer roggelgeluide hoor, wat ek vermoed van Rudi sa kamer af gekom het.”

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

Viewing all 56621 articles
Browse latest View live