Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all 56621 articles
Browse latest View live

Lichtenburg-saak: NW-regering vra vir kalmte

$
0
0

Tonele buite die hof. Foto: Molaole Montsho/ANA.

Die provinsiale regering in Noordwes het inwoners van Blydeville gemaan om kalm te bly nadat Jaco du Plooy (46), ʼn plaaslike inwoner wat in hegtenis geneem is nadat ʼn 15-jarige seun tydens ʼn gewelddadige betoging doodgeskiet is, op borgtog vrygelaat is.

Sello Lehari, LUR vir onderwys en sportontwikkeling in Noordwes, het gesê die feit dat Du Plooy se borgtog op R20 000 vasgestel is, wys dat die hof die saak ernstig neem.

Hy het inwoners gemaan om kalm te bly sodat die reg sy gang kan gaan. Du Plooy word daarvan beskuldig dat hy op 10 Oktober vir Spencer Tshukudu van Blydeville, vermoedelik ʼn betoger, op die Boikhutso/Lichtenburg-pad doodgeskiet het. Twee jeugdiges, onderskeidelik 17 en 20 jaar oud, is tydens die skietvoorval gewond.

“Die plaaslike munisipaliteit doen alles in sy vermoë om die familie [van die slagoffer] in dié tyd by te staan. Sy begrafnis sal dié naweek gehou word in Blydeville,” het Lehari gesê.

Hy het ʼn beroep op die inwoners gedoen om die oorledene se gesin die ruimte te gee om hom in vrede te kan begrawe.

Lehari het ook gesê ʼn taakspan doen sy bes om te verseker dat daar dienste na die omgewing gebring word. “Laat diensverskaffers saam met regeringsamptenare toe om die omgewing binne te gaan,” het Lehari gevra.

Lehari is die voorsitter van ʼn taakspan wat vroeër vanjaar op die been gebring is deur die Noordwes-regering om die oorsaak van betogings in Ditsobotla vas te stel en stabiliteit te herstel.

Maroela Media het vroeër berig ten spyte van ʼn groep inwoners wat Donderdag buite die hof saamgedrom het om teen Du Plooy se vrylating te betoog, het die landdros in ʼn volgepakte hof borgtog toegestaan. Die saak is tot 30 November uitgestel vir verdere ondersoek.

Tonele buite die hof. Foto: Molaole Montsho/ANA.

Maroela Media het vroeër berig Du Plooy, wat werksaam is in die boubedryf, staan tereg op ʼn aanklag van moord en twee aanklagte van poging tot moord.

Du Plooy voer aan hy het glo skote afgevuur om homself te verdedig nadat betogers hom en sy werkers die oggend in sy voertuig met klippe bestook het.

Die staat het die aansoek teengestaan. Die staat het aangevoer borgtog moet geweier word aangesien dit die openbare orde gaan versteur en Du Plooy se lewe in gevaar gaan wees as hy vrygelaat word.

Die skietvoorval het gevolg nadat ʼn groep inwoners van Blydeville vroeër die oggend die dorp se strate ingevaar, verskeie paaie met voorwerpe versper en ook ʼn vragmotor geplunder en aan die brand gesteek het.

Die inwoners betoog oor ʼn tekort aan dienslewering en bewerings van korrupsie in die munisipaliteit. Hulle dring onder meer aan op bekostigbare behuising, ʼn kliniek wat 24 uur per dag oop is en ʼn skool.

Betogers het vroeër vanjaar ook die strate ingevaar om oor dienslewering te betoog. Die betogers het op 24 Mei vir Daniel Buthelezi, die burgemeester van die Ditsobola-munisipaliteit, as gyselaar geneem en ʼn gedeelte van die munisipale gebou aan die brand gesteek. Buthelezi is ure later bevry.


10111-staking opgeskort

$
0
0

Argieffoto: https://pixabay.com

Die staking deur personeel by die polisie se 10111-inbelsentrums is opgeskort.

Oscar Skommere, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Polisie-unie (Sapu), het Vrydag aan Maroela Media bevestig die staking is verby en dat die vakbond opnuut planne gaan beraam sodat die polisiebestuur aan die eise van sy lede voldoen.

Sapu se lede het in Augustus voltyds begin staak onder meer om hoër salarisse te eis. Skommere het gesê al is die staking verby sal hulle steeds beter salarisse by die bedingingsraad eis.

Die arbeidshof in Johannesburg het Donderdag uitspraak gelewer in ʼn aansoek van Sapu om die polisiebestuur te verhoed om tugstappe te doen teen sy stakende lede.

Die hof het bevestig die ooreenkoms wat in September tussen die Veiligheidsektorbedingingsraad (SSSBC), waarvan Popcru die meerderheidsvakbond is, en die polisie onderteken is, geldig is. Hoewel Sapu nie die ooreenkoms onderteken het nie, is die ooreenkoms afdwingbaar en die staking onbeskermd verklaar. Die hof het ook bevind dat die polisie wel die reg het om tugstappe te doen teen werkers wat nie op 29 September teruggekeer het na hul werk nie.

Die arbeidshof het Sapu se dringende aansoek vir dié interdik met koste van die hand gewys.

Die polisie het ná die uitspraak die hof se besluit verwelkom. Die polisiebestuur het ʼn beroep op oorblywende stakers landwyd gedoen om terug te keer werk toe. Die oorblywende werkers sal na verwagting Maandag terugkeer werk toe.

Maroela Media het vroeër berig operateurs beweer dat hulle R100 000 per jaar verdien en erg oorwerk is. Sentrums is volgens hulle ook onderbeman. Dit beteken dat sommige noodoproepe nie opgevolg word nie omdat werkers skofte van tien tot 12 uur moet werk. Die vakbond eis dat die SAPD-werkers se salarisse met twee vlakke verhoog word, ʼn geraamde verhoging van R50 000 per jaar. Geskille ten opsigte van betaling en werksomstandighede sloer sedert 2013.

Lees die vorige berigte oor die 10111-staking op Maroela Media.

Ma skenk nier vir siek dogter

$
0
0

Larochelle en haar ma Lisa groet voor die operasies. Foto: Facebook

Lisa Steenberg het 50 kg se gewig afgeskud en haar gesondheid reggeruk om ʼn nier te kan skenk vir haar 13-jarige dogter Larochelle.

Larochelle is in November 2015 met ’n chroniese niersiekte gediagnoseer en moes sedertdien met ’n nierfunksie van net 5% oorleef. Woensdag het alles egter verander toe Lisa (31) ʼn nier vir Larochelle geskenk het.

“Dit het baie goed afgeloop en die nier het dadelik begin reageer,” het Donald Plekker, Larochelle se pa, aan Maroela Media gesê. Volgens Plekker is Lisa omstreeks 7:30 in die teater in en is Larochelle omstreeks 9:30 ingestoot.

Larochelle, ʼn leerder aan die Laerskool Dagbreek in Welkom, moes die laaste tyd vier tot vyf keer per dag dialise ontvang. Haar ouers het die dialise tuis vir haar gedoen. Sy kon sedert Januarie nie meer skoolgaan nie.

“Alles lyk goed. Hulle sukkel net nog ʼn bietjie om Larochelle se bloeddruk af te bring. Ma en dogter is nog in die hospitaal en Lisa sê dit is seerder as wat sy gedink het dit gaan wees. Larochelle gaan goed aan hoewel die pyn kom en gaan.”

Volgens Plekker sal Lisa en Larochelle nog ʼn rukkie in die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg moet vertoef.

Larochelle het in Mei vanjaar in ’n koma verval en is in die waakeenheid van die Universitas- Akademiese-hospitaal in Bloemfontein behandel.

[Video] Verdagte doodgeskiet ná hy, makkers op huis losbrand

$
0
0

‘n Skermskoot uit die video.

Die polisie het ʼn reusesoektog van stapel gestuur na verdagtes wat Donderdagaand betrokke was by ʼn plaasaanval in die omgewing van die Leeukuilplotte naby Polokwane.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het omstreeks 23:30 plaasgevind.

“Die eienaar van die huis het glo sy honde hoor blaf en gaan ondersoek instel. Hy het twee onbekende gewapende verdagtes gesien wat buite sy huis rondloop,” het Ngoepe gesê.

Die man het toe glo ʼn waarskuwingskoot afgevuur waarna die verdagtes weggehardloop het.

“Hulle het egter kort daarna teruggekeer en blindweg op die huis losgebrand en onder meer ʼn glasdeur beskadig,” het Ngoepe gesê.

Die eienaar het teruggeskiet en een verdagte is doodgeskiet. Die ander verdagte het volgens Ngoepe weggehardloop en in die bosse verdwyn. Niks is tydens die voorval gesteel nie. ʼn Saak van huisroof en poging tot moord word ondersoek.

Ben Engelbrecht, ʼn direkteur van die Heritage Protection Group (HPG), het aan Maroela Media gesê daar was volgens hulle inligting drie verdagtes.

“Jy kon duidelik sien twee ander het die gewonde verdagte probeer sleep, maar hulle het nie ver gekom nie. Die spoorsnyers en die polisie het die oorledene daar aangetref waar hulle hom gelaat het,” het Engelbrecht gesê.

Engelbrecht het gesê hul spoorsnyers het twee verdagtes se spore tot in ʼn nabygeleë nedersetting gevolg. “Dieselfde verdagtes was Woensdagaand ook op die plaas en toe het hulle twee fietse gesteel, dit was dieselfde spore.”

Enigiemand met inligting oor die voorval kan kapt. Wilson Dikgale by 082 565 8566 bel.

Die ondersoek duur voort.

Soektog na vermiste Benoni-vrou eindig tragies

$
0
0

Marie Brisley-Clarvis. Foto: Via Facebook.

Die soektog na ʼn vrou van Benoni aan die Oos-Rand wat vroeër die week in Mosselbaai verdwyn het, het tragies geëindig toe haar liggaam Donderdag gevind is.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaapse polisie, het Vrydag aan Maroela Media gesê Marie Brisley-Clarvis (54) en ʼn vriend het Dinsdag in Mosselbaai aangekom en by die Pinnacle Point-gholflandgoed vir ʼn vakansie tuisgegaan.

Sy is Woensdag die laaste keer gesien toe sy teen 10:30 gaan stap het. Haar vriend het nie saam gaan stap nie. Hy het onraad vermoed toe sy teen 15:00 nog nie teruggekeer het nie en by die nabygeleë Garden Route Casino en omliggende gebiede na haar gaan soek. Die polisie is daarna van haar verdwyning in kennis gestel en ʼn soektog is van stapel gestuur.

“Die soektog is teen Woensdagaand weens swak lig uitgestel en is Donderdagoggend hervat,” het Pojie gesê. “Die polisie se honde-eenheid en soek-en-reddings-eenheid van George en Mosselbaai het aan die soektog deelgeneem.”

Brisley-Clarvis se liggaam is later onder op die rotse langs ʼn wandelpad op ʼn krans opgespoor. Die vermoede bestaan dat sy na haar dood geval het.

“Die presiese omstandighede rondom haar dood is onbekend en word deur ʼn geregtelike doodsondersoek vasgestel. In dié stadium word geen gemene spel vermoed nie,” het Pojie gesê.

EFF kraai koning by nóg ʼn universiteit

$
0
0

Leiers van die EFFSC by Wits-universiteit vier hul oorwinning. Foto: ANA/@WitsEFF Twitter

Die EFF se studentevleuel (EFFSC) het nóg ʼn oorwinning by ʼn Suid-Afrikaanse universiteit behaal deur in ʼn vurig betwiste verkiesing 12 van die 15 setels in die studenteraad (SR) van die Universiteit van Witwatersrand (Wits) op te raap.

Dit is die eerste keer dat die EFFSC koning kraai in hierdie universiteit se SR-verkiesing. Die EFFSC neem beheer van die SR by die ANC-belynde Progressive Youth Alliance oor.

Die SR-verkiesing is Dinsdag en Woensdag by die universiteit gehou en die uitslae is Donderdag laat aangekondig. “Dit is met groot vreugde dat ons aankondig dat die EFF 12 van die 15 SR-setels gewen het. Wits is gereed vir ʼn studenteraad gelei deur die EFF,” het die EFFSC in ʼn verklaring gesê.

Die EFF se nasionale leiers, insluitend Julius Malema, sy adjunk, Floyd Shivambu, en Mbuyiseni Ndlozi, die party se woordvoerder, het die Wits-studentelede gelukgewens met die oorwinning.

Die EFFSC het in Mei die SR-verkiesing by die Universiteit van Kaapstad gewen. Vroeër vandeesmaand het die EFFSC ook ʼn oorwinning behaal in die SR-verkiesing by die Vaal-Universiteit van Tegnologie (VUT) in Vanderbijlpark.

Ma sterf ná hospitaalbesoek aan vroeggebore babas

$
0
0

Die Evans-gesin (Foto: Youcaring.com)

ʼn Ma van ses van die Amerikaanse deelstaat Kalifornië is in ʼn motorongeluk dood enkele oomblikke nadat sy ʼn hospitaalbesoek aan haar vroeggebore tweeling gebring het.

Volgens ʼn polisieverklaring is ʼn 21-jarige vrou vandeesweek in verband met die ongeluk in hegtenis geneem. ʼn Voorlopige ondersoek dui glo daarop dat die vrou se alkoholvlak minstens drie keer hoër as die perk was toe die ongeluk op 6 Oktober plaasgevind het. Toe die verdagte onmiddellik ná die ongeluk na die hospitaal geneem is, is leë alkoholbottels ook in haar motor gevind.

Katie Evans, die slagoffer, en haar man, Jacob, woon volgens berigte al vir langer as ʼn dekade in Kalifornië. Die egpaar het vier kinders tussen die ouderdomme van twee en 12 en ook die pasgebore tweeling.

Katie Evans saam met haar tweeling (Foto: Youcaring.com)

Natalie Mortensen, ʼn vriendin van die oorledene, het onlangs ʼn skarefinansieringveldtog begin om geld in te samel sodat Jacob ná die verlies van ʼn inkomste steeds vir sy gesin kan sorg.

Die veldtog het aanvanklik ʼn teiken van $100 000 (bykans R1,4 miljoen) gehad, maar meer as $300 000 is sedert die ongeluk vir die gesin ingesamel.

“Katie kon nie ʼn dag laat verbygaan sonder om vir haar tweeling in die hospitaal te gaan kuier nie. Sy was ʼn toegewyde ma, suster en vrou en sal ongelooflik baie gemis word. Jacob het aanvanklik gedink hy sal sy gesin moet ontwortel waar hulle grootgeword het in Kalifornië en nader aan sy familie trek om koste te bespaar, maar danksy mense se vrygewigheid het hy nou die moontlikheid om in Kalifornië aan te bly waar sy kinders grootgeword en reeds vriende het,” het Mortensen op ʼn webwerf vir die skarefinansieringsveldtog geskryf.

Die 21-jarige vrou is volgens die Kaliforniese polisie sedert Woensdag in polisieaanhouding. Daar is ook ʼn klag van strafbare manslag teen haar en borgtog van $200 000 (ongeveer R2,7 miljoen) is vasgestel.

Jacob en Katie Evans (Foto: Youcaring.com)

Nog drie vas ná skietvoorval op kleinhoewe

$
0
0

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

Nog drie verdagtes is in hegtenis geneem nadat ʼn vermeende inbreker Donderdag in die vroeë oggendure op ʼn kleinhoewe buite Potchefstroom geskiet is.

Lt.kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie, het gesê die Klerksdorp-trio-taakspan het die verdagtes, almal tussen 20 en 40 jaar oud, in Soweto en die omliggende gebiede in hegtenis geneem. “Die inhegtenisneming volg nadat inligting oor die verdagtes ontvang is. Die verdagtes is nagespoor en uiteindelik vasgetrek,” het Myburgh gesê.

Daar is tydens die inhegtenisneming op vermoedelik gesteelde goedere, waaronder televisies, skootrekenaars, selfone en elektriese toerusting, met ʼn geraamde gesamentlike waarde van R30 000 beslag gelê.

Maroela Media het vroeër berig die eienaar van die kleinhoewe in die Vyfhoek-omgewing het omstreeks 01:00 gehoor hoe glas by ʼn ander huis op die kleinhoewe breek en gaan ondersoek instel. Hy het na bewering gesien hoe verdagtes goedere uit die huis uitdra en skote is afgevuur. Een verdagte wat gewond is, het op die toneel agtergebly, terwyl sy makkers gevlug het.

Die verdagte is later onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem. Inhoud wat uit die huis gesteel is, is ook op die toneel gevind.

Volgens Myburgh is daar eers ná die ander drie verdagtes se inhegtenisneming vasgestel dat hulle ook gewond is, vermoedelik toe die kleinhoewe-eienaar skote in hul rigting afgevuur het. “Een van die verdagtes is in sy linkerbeen gewond, die ander in sy heup en nog een in sy boud. Hulle het mediese behandeling ontvang nadat hulle in hegtenis geneem is, maar is nie in die hospitaal opgeneem nie,” het Myburgh gesê.

Sy het gesê die verdagte wat eerste in hegtenis geneem is, word steeds in ʼn hospitaal behandel. Hy sal in die Potchefstroom-landdroshof verskyn op ʼn aanklag van huisbraak sodra hy uit die hospitaal ontslaan word.

Die ander drie verdagtes sal Maandag in die hof verskyn op aanklagte van huisbraak en die besit van gesteelde goedere.

Myburgh het bevestig die polisie ondersoek die moontlikheid dat die verdagtes moontlik by ander misdade betrokke kan wees.

ʼn Saak van poging tot moord is ook deur die polisie aanhangig gemaak en word ondersoek.


[Foto’s] Paartjie met hordes gekloonde kaarte betrap

$
0
0

Die bankkaarte waarop beslag gelê is. Foto: Verskaf

ʼn Klagte van huishoudelike geweld het tot die inhegtenisneming van ʼn Kaapstad-paartjie gelei nadat talle gekloonde bankkaarte onder meer in hul besit gevind is.

Kapt. Lloyd Ramovha, provinsiale woordvoerder van die Valke in die Wes-Kaap, het Vrydag gesê die twee verdagtes, onderskeidelik 30 en 31 jaar oud, is Donderdag in Tafelsig in hegtenis geneem.

“Beamptes van die Tafelsig-polisie is na die paartjie se huis gestuur nadat klagtes van huishoudelike geweld aangemeld is. Hulle is ook ingelig dat die huis ʼn nes van verdagte aktiwiteite is,” het Ramovha gesê.

Die polisie het ʼn soek-en-beslagleggingsoperasie by die huis uitgevoer en op nagenoeg 700 beweerde gekloonde bankkaarte, sewe betalingstoestelle, ʼn .22 met ammunisie, verskeie paspoorte, ID-dokumente, rybewyse, elektroniese toerusting en vier gram kokaïen beslag gelê.

Die Valke se eenheid vir ernstige kommersiële misdaad is by die ondersoek betrek aangesien daar vermoed word dat die paartjie waarskynlik betrokke is by ongerymdhede wat verbind word met ʼn nasionale sindikaat.

Die paartjie sal na verwagting Maandag in die Kaapstad-landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies. Aanklagte van vervalsingsbedrog en uitgifte gaan bygevoeg word.

Slegs ‘sny op duim’ ná noodlanding

$
0
0

Die vliegtuig se wrak. Foto: Verskaf

ʼn Vlieënier het Vrydag ongedeerd daarvan afgekom nadat hy ʼn noodlanding in Limpopo moes uitvoer.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici is teen 12:15 deur boere van die Letsitele-omgewing, oos van Tzaneen, ontbied nadat die ligte vliegtuig ʼn noodlanding op die R529 gemaak het.

“Met paramedici se aankoms op die toneel is die vliegtuig se wrak aan die kant van die pad teen ʼn telefoonpaal aangetref. Die vlieënier het op die toneel rondgeloop,” het Meiring gesê.

Paramedici het die man ondersoek en bevind dat hy slegs ʼn klein sny aan sy duim opgedoen het.

Volgens Meiring moes die vlieënier glo ʼn noodlanding uitvoer nadat die vliegtuig krag verloor het. Beamptes was op die toneel om nadere ondersoek in te stel.

Talle ‘taxi’-malariagevalle waargeneem

$
0
0

Argieffoto. Foto: Pixabay.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) sê talle gevalle van “lughawe”- of “taxi”-malaria is in Gauteng waargeneem terwyl daar ʼn toename in malariagevalle in Limpopo en Mpumalanga is.

“Lughawe”- of “taxi”-malaria verwys na mense wat malaria opdoen al was hulle nie in malariagebiede nie. Dan is dit die anofelesmuskiet wat ʼn ry- of vlieggeleentheid uit ʼn malariagebied gekry het.

Volgens Nios is vier gevalle van “taxi”-malaria in Kilnerpark (Pretoria) en een in Akasia (Pretoria) aangemeld. Twee gevalle is ook in Kempton Park aangemeld en een mens is dood. Volgens Nios is dié soort malaria egter baie skaars. Daar is sedert 2007 nog net 72 sulke gevalle in Suid-Afrika aangemeld, waarvan die meeste in Gauteng.

Nios het gesê aangesien ʼn mens wat dié soort malaria opgedoen het nie na ʼn malariagebied gereis het nie, word dit dikwels verkeerdelik as griep gediagnoseer.

Volgens Nios beteken die onlangse gevalle nie dat malaria nou na nuwe gebiede in Suid-Afrika versprei nie.

In Limpopo en Mpumalanga is daar intussen ʼn toename in malariagevalle waargeneem, veral op plase langs die Lephalalerivier in die Waterberggebied en in die Krugerwildtuin en omgewing.

Nios het gesê die hoofvoorkomingstrategie vir endemiese omgewings is om huise met langwerkende insekdoders te spuit.

Nios het weereens die belangrikheid van vroeë behandeling benadruk. Hy het ook die versekering gegee dat daar dié seisoen genoeg medikasie en malariatoetse by gesondheidsgeriewe is om dié toename in gevalle te bestuur.

Reisigers van malariagebiede in Limpopo, Mpumalanga en die verre noordelike dele van KwaZulu-Natal, asook inwoners van buurlande soos Mosambiek, Botswana, Zimbabwe en Namibië wat griepsimptome ervaar, word aangeraai om dringend bloedtoetse te laat doen.

Lees gerus hier vir simptome en voorkomende maatreëls.

Mahlobo net die man vir Zuma se kernkragplan

$
0
0

David Mahlobo, die voormalige minister van staatsveiligheid en nou minister van energie. Foto: GCIS (Maart 2017)

Skaars twee dae nadat David Mahlobo as die nuwe minister van energie aangestel is, het hy in sy eerste amptelike toespraak gesê Suid-Afrika sal met sy kernkragplanne voortgaan.

Verskeie politieke rolspelers het Dinsdag in reaksie op pres. Jacob Zuma se jongste kabinetskommeling gesê die president het juis die regering se omstrede kernkragplanne in gedagte gehad toe hy op dié kabinetsverandering besluit het.

Mahlobo het op ʼn beleidsvergadering van die internasionale forum oor vierdegeslagkernreaktors, wat Donderdag in Kaapstad gehou is, gesê Koeberg-kernkragsentrale is een van die land se goedkoopste bronne van elektrisiteit.

“Derdegeslagkernkragaanlegte is steeds ʼn goeie ekonomiese keuse vir Suid-Afrika, terwyl vierdegeslagkernreaktors ʼn nog beter ekonomie belowe. Ons sien daarna uit om hierdie gevorderde energiestelsels vir Suid-Afrika se ontwikkeling in te span,” het Mahlobo gesê.

Die minister het in sy toespraak verwys na die regering se geïntegreerde hulpbronplan van 2010 waarin voorsiening gemaak word vir 9,6 GW nuwe kernkrag.

Die meesterplan vir Suid-Afrika se energietoekoms tot 2030 word egter as heeltemal verouderd beskou. ʼn Konsepweergawe van die nuwe plan vir energie tot 2050 wys dat kernkrag onnodig is voor 2037, en dat dit boonop te duur is vir die land.

Omgewingsaktiviste buite die Wes-Kaapse hooggeregshof (April 2017) Foto: Catherine Rice/ANA

ʼn Kernbom vir SA se ekonomie

Kernkrag is nie hoofsaaklik ʼn omgewingskwessie nie, maar eerder ʼn ekonomiese kwessie. Min. Tina Joemat-Pettersson het al in 2014 ʼn ooreenkoms met die Russe in die geheim gesluit wat Suid-Afrika tot ʼn strategiese vennootskap van 20 jaar met dié land verbind.

Volgens ʼn video wat die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) oor die regering se kernkragbouplanne gemaak en in September 2016 geplaas het, is die ooreenkoms met Rosatom aangegaan, wat dit die geleentheid sou bied om kernkragstasies in SA te bou. Rosatom is ʼn Russiese staatsbeheerde entiteit wat berug is vir wanbestuur.

Outa beweer die land se planne om kernkragstasies te bou was deurentyd gehul in geheimhouding. “Dit is in die tyd tussen die afdanking van Nhlanhla Nene en die heraanstelling van Pravin Gordhan in Desember 2015 goedgekeur, moontlik terwyl Des van Rooyen minister van finansies was. Die kernkragplanne se goedkeuring hou ook direk verband met die berugte Gupta-familie se verkryging van ʼn uraanmyn aan die einde van 2015,” het Wayne Duvenhage op Outa se webwerf geskryf.

“Rusland verdien ook glo twee roebels uit elke roebel wat in die buiteland belê word. Dit is duidelik Rusland sal baat by die kernkragplanne, en nie Suid-Afrika nie.

“Indien Suid-Afrika besluit om wel voort te gaan met die kernkragplanne en geld hiervoor leen, sal die nasionale skuldlas tot R3 biljoen (“trillion”) styg, uitgeskryf lyk die bedrag so: R3 092 300 795 221,00. Dit sal Suid-Afrika se voorland word, tensy ons dit stopsit,” het Outa gesê.

Die regte minister vir die kernkragbouprogram

Mahlobo is Suid-Afrika se derde minister van energie binne die bestek van ʼn jaar. Joemat-Pettersson is van die pos onthef in Maart kort voordat die Wes-Kaapse hooggeregshof bevind het die staat se verkrygingsprosesse vir sy kernkragbouprogram is onwettig en ongrondwetlik.

Maroela Media het berig regter Lee Bozalek het in sy uitspraak die Suid-Afrikaanse regering se ooreenkomste met Rusland, die VSA en Suid-Korea vir die bouprogram ter syde gestel. Die hof het ook bevind Joemat-Pettersson het onwettig opgetree toe sy in 2016 die verkryging van kernkrag na Eskom oorgeplaas het.

Joemat-Pettersson se opvolger, Mmamoloko Kubayi, is die week herontplooi na die kommunikasie-ministerie nadat pres. Zuma glo nie gelukkig was met haar vordering met die kernkragbouprogram nie.

Daar word ook wyd deur politieke en ekonomiese kenners bespiegel dat sowel Nene as Gordhan as ministers van finansies afgedank is nadat hulle onder meer die regering se beoogde kernkragplan teengestaan het.

sonkragpaneel-kernkrag-elektrisiteit

Foto: Skeeze/Pixabay.com

Kernkragplan, ʼn ramp in wording

Dr. Roelof Botha, ʼn ekonomiese navorser en deeltydse dosent by GIBS, het vroeër vanjaar in ʼn meningstuk op Maroela Media gesê toekomstige geslagte Suid-Afrikaners sal nog duur betaal indien die land se planne vir kernaanlegte van R1 biljoen (“trillion”) sou voortgaan.

“Dit is kommerwekkend dat die departement van energie skynbaar tot nou toe die raad van tegniese deskundiges rakende die koste van die kernkragprojek ignoreer.

“Een van die grootste enkele foute wat deur dié departement begaan en wat aan die kaak gestel behoort te word, is die oorskatting van die koste van hernubare bronne van energie, veral wind- en sonkrag,” het Botha gesê.

Hy het gepleit dat die departement na die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) se model vir ʼn optimale toekomstige energiebeleid moet luister. Die beleid is gegrond op die jongste beskikbare koste en bevat ook geen kunsmatige beperkings op die hoeveelheid elektrisiteit wat in die toekoms uit hernubare bronne verkry kan word nie.

“Die insluiting van sulke beperkings in die departement se weergawe van die langtermyn-samestelling van die verskillende energiebronne is natuurlik gedoen om die uitsluitlike rede om voorsiening te tref vir die vergroting van die aandeel van kernkrag.

“Dit gaan ʼn mens se verstand te bowe dat ʼn regering so met die sekerheid en bekostigbaarheid van die land se toekomstige energiebehoeftes kan dobbel,” het Botha bygevoeg.

Talle stemme teen kernkrag

Brian Dames, voormalige uitvoerende hoof van Eskom, het Woensdag nog bevestig Suid-Afrika het nie kernkrag nodig nie.

Dames het voor die parlementêre portefeuljekomitee vir openbare ondernemings getuig as deel van ʼn ondersoek oor staatskaping van ondernemings in staatsbesit. Hy het gereageer op ʼn LP se vraag oor of dit voordelig sou wees vir Suid-Afrika om nuwe kernkragstasies te bou.

“Daar is absoluut geen behoefte aan [nuwe] kernkrag … ons het dit nie nodig nie. Tweedens, ek dink nie ons kan dit bekostig nie,” het hy gesê.

Nic von Wielligh het in 2014 tydens die bekendstelling van sy boek, Die Bom, wat handel oor Suid-Afrika se kernwapenprogram, op ʼn vraag uit die gehoor gesê hy weet nie waarom die regering weer met ʼn kernkragbouprogram sou wou begin nie. Von Wielligh het toe gesê die kerntegnologie word as verouderd beskou en bykans niemand word daarin opgelei nie.

Von Wielligh skryf in sy boek: “Daar is tans wêreldwyd ʼn tekort aan kernkundiges. Selfs in Frankryk, waar sowat 78% van die elektrisiteit deur kernkragstasies opgewek word, is daar ʼn ernstige tekort aan belangstelling. Die Franse beraam dat 500 nuwe ingenieurs jaarliks in die veld opgelei moet word. Tans haal hulle nouliks 350.

“Selfs al word al die kernkragstasies in ʼn land afgeskakel, kan kernkundiges nog dekades lank nodig wees om die reaktors uit diens te stel en veilig af te skakel, asook kernafval veilig te hanteer en te berg. Die probleem hoe om kernbegrafnisondernemers op te lei en gemotiveerd te hou, is ʼn tameletjie vir menige lande.”

Von Wielligh meen behalwe die tegniese en finansieringstruikelbokke is daar ook nog die hoë politieke hekke wat oorkom moet word. “As die kernprogram beskou gaan word as ʼn middel om aansien en mag te verwerf en nie om in ʼn arm land duur maar noodsaaklike energie te lewer nie, wag daar groot probleme. Daar lê interessante tye vir Suid-Afrika voor.”

Die sonkragaanleg in De Aar in die Noord-Kaap (Foto: @eskom_sa, Twitter)

Wat kan jy doen?

Dit laat ʼn mens vra: Wat kan gewone Suid-Afrikaners tog doen ten opsigte van ʼn kernkragplan wat lyk of dit eenvoudig oor die land se ekonomie gaan stoomroller?

Suid-Afrikaners kan organisasies soos Outa, die Suider-Afrikaanse geloofsgemeenskappe se Omgewingsinstituut (Safcei) en Earthlife Africa ondersteun in hulle deurlopende stryd teen die planne se instelling.

Verder kan gewone landsburgers ook in hulle elektrisiteitsbehoeftes begin voorsien deur te belê in hernubare energiebronne. “Verbruikers kan die kaping van energievoorsiening stuit deur gedeeltelik aan hulle eie energiebehoeftes te voldoen. Verbruikers mag tans tot 1 megawatt opwekkingsvermoë vir eie gebruik ontwikkel,” het dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se provinsiale leier in die Noord-Kaap, gesê.

“Dit lyk dus of dit vir die huidige ANC nie genoeg is om die staat te kaap nie, hulle kaap nou die burgers ook. Suid-Afrikaners kan dit afweer deur, terwyl dit nog nie gereguleer word nie, soveel moontlik hernubare krag te installeer,” het hy bygevoeg.

Molefe ‘moes nooit Eskom-pensioenlid gewees het’

$
0
0

Brian Molefe

Die hoof van Eskom se pensioen-en-voorsorgfonds het Vrydag erken Brian Molefe, die voormalige uitvoerende hoof van Eskom, was nooit geregtig op ʼn pensioen van die kragvoorsiener nie aangesien hy op ʼn vaste vyfjaarkontrak aangestel was.

“Hy moes ten eerste nooit ʼn lid van die fonds gewees het nie,” het Sibusiso Luthuli, uitvoerende hoof van die Eskom-pensioen-en-voorsorgfonds, aan die parlementêre komitee wat sake by Eskom ondersoek, gesê.

Op ʼn vraag van Nthuthuzelo Vanara, die leier van die ondersoek, het Luthuli bevestig Eskom het die indruk gewek dat Molefe ʼn permanente aanstelling gehad het voordat die opdrag gegee is dat hy buitengewone pensioenvoordele op 50-jarige ouderdom moet ontvang.

“Met ander woorde, jy het uit goeder trou opgetree nadat die indruk by jou gewek is dat mnr. Molefe ʼn permanente werknemer was? En ons weet nou dat daardie indruk nie korrek was nie. Met ander woorde, Eskom het ʼn wanvoorstelling van die feite aan die pensioenfonds gemaak, of hoe?”

Luthuli het geantwoord die fonds het geen rede gehad om die inligting te betwyfel wat deur die destydse Eskom-voorsitter, Ben Ngubane, aan die fonds gegee is nie. Hulle het gevolglik die reëls van die fonds normaalweg toegepas.

Hy het vroeër verduidelik hoe Eskom opdrag gegee het dat ʼn bykomende 156 maande bygevoeg word by die werklike 16 maande wat Molefe in diens van Eskom was, wat hom toegelaat het om op 50 jaar af te tree met dieselfde voordele wat hy sou ontvang het indien hy tot op 63 jaar by die maatskappy aangebly het.

Die fonds is ook opdrag gegee om alle boetes te laat vaar met die ooreenkoms dat Eskom die fonds sal vergoed.

Volgens die fonds se berekeninge moes Molefe dus ʼn pensioenuitbetaling van ongeveer R26 miljoen ontvang het, maar dit het tot R30,1 miljoen gestyg om twee redes. Eerstens, die fonds het sy berekeninge gedoen met die aanname dat sy salaris onveranderd gebly het en dat sy gade vyf jaar jonger is as hy.

Die berekeninge moes daarna weer gedoen word met sy salarisverhoging in ag genome, asook die feit dat sy vrou “aansienlik jonger” is en in geval van sy dood moet die pensioen vir haar voorsien.

Molefe het gekies om ʼn derde van die pensioen kontant te neem, en ʼn maandelikse uitbetaling uit die oorblywende tweederdes, wat hom ʼn bruto pensioeninkomste van R110 000 gegee het.

Molefe is einde 2016 onder ʼn wolk by Eskom weg nadat ʼn ondersoek deur die destydse openbare beskermer, Thuli Madonsela, hom by verdagte transaksies tussen die kragvoorsiener en die Gupta-familie betrek het.

Die raad het hom sy vorige pos by Eskom teruggegee ʼn jaar nadat Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, die pensioenuitbetaling verwerp het, maar ʼn ministeriële taakspan het kort daarna aanbeveel dat hy van die pos onthef word nadat die pensioenkwessie en sy heraanstelling openbare opslae gemaak het.

Die ondersoek deur die parlement se portefeuljekomitee oor openbare ondernemings na Eskom se sake het vandeesweek begin. Dit is gedeeltelik deur Madonsela se bevindinge gedryf.

Vermeende bendebaas glo in hospitaal geteiken

$
0
0

Foto: ANA.

Drama het glo Donderdag by die Wes-Kaapse hospitaal ontvou waar die beweerde bendebaas behandel word nadat hy vroeg Woensdagoggend buite die Kaapstad Internasionale Lughawe tydens ʼn skietery gewond is.

Sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, wou slegs bevestig dat een man in hegtenis geneem is in verband met ʼn voorval wat by dié hospitaal afgespeel het.

Rwexana sê die man is glo in hegtenis geneem in verband met ʼn gesteelde voertuig en sal in die Bellville-landdroshof verskyn sodra hy aangekla word.

Volgens talle mediaberigte het ʼn man, wat hom glo as ʼn vrouedokter vermom het, toegang tot die saal probeer verkry waar Jerome “Donkie” Booysen, vermeende leier van die 26-bende en Sexy Boys, behandel word.

Dit volg nadat Booysen Woensdagoggend in ʼn skietery, wat glo bendeverwant is, gewond is en steeds in dié hospitaal behandel word. Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het vroeër vandeesweek bevestig dat ʼn omstander ook in dié voorval raakgeskiet en na die hospitaal gehaas is.

ʼn Geveg het glo ook buite die hospitaal waar ʼn groep gewapende mans saamgedrom het, ontstaan. Dit is nie seker of dié geveg met die skietery by die Kaapstad-lughawe verbind kan word nie.

Die polisie wou nie bevestig dat Booysen in die hospitaal geteiken is nie. Sekuriteit is glo wel by die hospitaal opgeskerp en geen pasiënte is na wat berig word in gevaar nie.

Eiertekort staar Wes-Kaap in die gesig

$
0
0

Eiers (Foto: Pixabay)

Die Wes-Kaapse regering het Vrydag gesê ʼn erge tekort aan eiers staar inwoners van dié provinsie in die gesig weens voortgesette voëlgriep onder hoenders.

Anton Bredell, die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, sê dié tekort geld vir die hele Wes-Kaap weens die provinsie se gesondheidspanne wat voëlgriep die stryd aansê.

“Die tekort was onvermydelik gegewe die omvang van die voëlgriep-uitbreking. Ons doen wat ons kan om die bedryf so gou moontlik te herstel,” het Bredell gesê.

Alan Winde, die Wes-Kaapse LUR vir ekonomiese geleenthede, het in ʼn verklaring gesê die getal voëlgrieplyers staan in dié stadium op 56.

Volgens Winde is 2,7 miljoen hoenders weens die virus van kant gemaak, waarvan sowat 2,6 miljoen lêhoenders was.

“Daar is net meer as 4,2 miljoen lêhoenders in die Wes-Kaap, wat beteken dat ons 63% van ons hoenders verloor het wat veronderstel was om eiers te lê,” het hy in die verklaring gesê.

Talle Gauteng-boere het weer hul boerderye begin voortsit nadat die virus nie meer in dié provinsie opgemerk is nie. Wes-Kaapse boere word egter steeds ten sterkste afgeraai om nuwe hoenders in te neem omdat dié virus nog nie uitgewis is nie.

Winde het gesê nagenoeg 144 volstruisplase is tans onder kwarantyn, maar geen volstruise is in dié stadium weens voëlgriep van kant gemaak nie.

Die Wes-Kaapse provinsie ly na raming ʼn verlies van R900 miljoen weens die virus.


Een dood, vier kritiek ná voertuie van voor bots

$
0
0

‘n Foto van die toneel (Foto: ER24)

ʼn Man is dood en vier ander mense ernstig beseer toe ʼn bakkie en ʼn motor Vrydagoggend op die R59 in Meyerton in Gauteng reg van voor gebots het.

Russel Meiring, ER24-woordvoerder, sê twee mans het met die aankoms van die nooddienste op die toneel buite die bakkie gelê. Hy sê twee ander mans was in die wrak van die bakkie vasgekeer en ʼn vyfde persoon, die bestuurder van die motor, was ook in ʼn ernstige toestand in die motor vasgekeer.

Meiring sê paramedici het die beseerdes onmiddellik ondersoek. ʼn Passasier in die bakkie was glo reeds dood weens die omvang van sy beserings. Drie ander beseerdes in die bakkie, onder wie die bestuurder, is onmiddellik met lewensondersteunende middels behandel.

Midvaal-brandweerdienste moes die bestuurder van die motor met behulp van meganiese toerusting uit die wrak bevry, waarna hy ook behandel is.

Meiring sê die bestuurder van die bakkie, wat die ernstigste beserings opgedoen het, is per helikopter na ʼn hospitaal vervoer. Die drie ander beseerdes is per ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer.

Die presiese oorsaak van die ongeluk is nie in dié stadium bekend nie. Polisiebeamptes was op die toneel om ʼn ondersoek te begin.

‘n Foto van die toneel (Foto: ER24)

Minister se woordvoerder skiet glo homself

$
0
0

Joe Maila (Foto: ANA)

Die Suid-Afrikaanse departement van gesondheid het Vrydag bevestig dat Joe Maila, woordvoerder van Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, dood is in ʼn skietvoorval.

Motsoaledi het dié nuus in ʼn verklaring bevestig. Volgens die verklaring is Maila Donderdagaand dood.

“Die presiese omstandighede rakende sy dood is nog nie aan die ministerie bekend nie. Maila word oorleef deur sy vrou en twee kinders. Ek doen ʼn beroep op die media en lede van die gemeenskap om die gesin ruimte te gee om sy dood te verwerk,” het Motsoaledi gesê.

Maila het homself glo per ongeluk by ʼn skietbaan in Pretoria geskiet.

Kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie ondersoek egter bewerings dat hy met opset sy eie lewe geneem het. Dlamini het ook bevestig dat ʼn geregtelike nadoodse ondersoek begin is.

“Die polisie is bewus van die bewerings dat hy sy eie lewe geneem het deur homself te skiet en dit word tans ondersoek. Ons kan egter niks in dié stadium bevestig nie,” het hy gesê.

Die departement het gesê meer besonderhede oor sy roudiens en begrafnis sal weldra bekend gemaak word.

Maila was sedert Mei 2012 woordvoerder vir Motsoaledi.

Vier in hof vir onwettige ivoor

$
0
0
hof-hamer

Argieffoto.

Vier mans het vandeesweek in die Olifantshoek-landdroshof verskyn op aanklag van die onwettige besit van nagenoeg agt olifanttande.

Kapt. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, sê die vier mans is Dinsdag op die N14 tussen Upington en Olifantshoek in hegtenis geneem.

Nkwalase het die mans geïdentifiseer as Jacob Kahaka (34), Pastor Bouletswe (35), Emmanuel Kabhae (38) en Albert Nosimongane (53).

Die saak teen al vier verdagtes is uitgestel tot 30 Oktober vir nadere ondersoek. Die verdagtes is beveel om in aanhouding te bly.

Privaat kragopwekking: Waghond wil verpligte registrasie keer

$
0
0

Argieffoto

Die sakeregtewaghond AfriSake sal die voorgestelde wysiging van die Wet op Elektrisiteitsregulering, wat beoog om huishoudings wat hul eie krag opwek én kleinskaal-elektrisiteitsvervaardigers te dwing om by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) te registreer, teëstaan.

Armand Greyling, ʼn regs-en-beleidsanalis vir die organisasie, sê dit blyk dat dié skuif gemaak is omdat die departement van energie en Nersa bekommerd is oor die toename in privaat kragopwekking, wat uiteindelik die inkomste van Eskom en munisipaliteite sal beïnvloed.

“Ons beraadslaag tans met ons regspan om die voorgestelde wysiging teë te staan,” sê Greyling. “Mense wat weens Eskom se swak etiek, korrupsie en swak dienslewering hul eie krag opwek, kan op geen manier gepenaliseer word nie. In die topfase van beurtkrag het Eskom mense aangemoedig om minder elektrisiteit te gebruik. En nou, omdat ons juis dít gedoen het, is daar ontevredenheid oor ’n afname in inkomste.”

Greyling sê die regering moet “alternatiewe maniere” kry om sy geldtekort aan te vul.

“Die regering kan dit byvoorbeeld bewerkstellig deur maatskappye in staatsbesit beter te bestuur en nuttelose en verkwistende uitgawes te vermy, eerder as om te teer op die paar getroue belastingbetalers wat die ekonomie in hierdie moeilike ekonomiese tye aan die gang hou.

“In ’n ongeslote, vryemarksamelewing voel ons dat die departement en Nersa duidelik hul mandaat oortree deur tekorte aan te vul met die slim manipulasie van wetgewing.”

Sassa-toelae: Ooreenkoms met Poskantoor van die baan

$
0
0

Argieffoto

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, het Maandag gesê die Suid-Afrikaanse Poskantoor (SAPO) sal nie meer in aanmerking kom om die betaling van maatskaplike toelae oor te neem nie.

Sy het gesê die Poskantoor het nie die vermoë om al die dienste rondom die betaling van toelae aan 12 miljoen ontvangers te behartig nie.

Volgens Dlamini kan die Poskantoor nie die 4,2 miljoen kaarte wat per jaar vir ontvangers benodig word druk nie. Sy het gesê hulle kan ook nie ʼn volskaalse bankdiens bied nie. Dit behels ʼn uitbetalingsrekening wat aan ʼn kaart met biometriese verifikasiedata gekoppel is en om te verseker dat kaarte versoenbaar is met alle bestaande OTM’e.

Volgens haar sou dít die ontvangers van toelae dwing om te reis om hulle toelae te ontvang en dit sal hulle veiligheid in gedrang bring.

Die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) sal daarom ʼn nuwe verkrygingsproses van stapel stuur vir diensverskaffers wat die funksies kan bied wat die Poskantoor nie kan bied nie. “Die proses sal op 28 Februarie 2018 sluit.”

Dié datum is ʼn maand voor die sperdatum wat deur die grondwethof gelas is vir ʼn nuwe kontrak.

Kritici het Dlamini daarvan beskuldig dat sy nog ʼn betalingskrisis wou skep en só die kontrak met Cash Paymaster Services verleng.

Viewing all 56621 articles
Browse latest View live