Mosebenzi Zwane, minister van minerale bronne, se beswaar oor hoekom die parlementslede wat staatskaping in die Eskom-konteks ondersoek juis die Guptas as familie, met wie hy bande het, uitsonder, het waarskynlik menige Suid-Afrikaanse nuuskyker se oë laat rek. Die Guptas se dominante rol in staatskaping het immers in die Suid-Afrikaanse kollektiewe gedagtegang “algemene kennis” geword. Die sogenaamde “Gupta Leaks” speel hierin ’n belangrike rol.
Veel van ’n getuie is Zwane nie nou nie. Hy is in verskeie ander juridiese prosesse wat met die Guptas en staatskaping verband hou, betrokke, en wil nie nou getuienis lewer wat hom daar kan inkrimineer nie.
Maar Zwane is nie die enigste getuie nie. Namate die ondersoek vorder sal die omvang en karakter van staatskaping beslis al duideliker gestalte kry.
En dis nog net Eskom.
Wat duidelik is, is dat staatsentiteite weens kwesbare praktyke wat korrupsie ruim moontlik gemaak het, gewilde teikens vir staatskaping was.
Sondag berig Rapport dat Gupta-groepe Transnet-pensioene gesteel het. Dit verwys na die arm Tweede Vaste Voordelefonds waarvan die pensioentrekkers so min as R1 000 per maand verdien, en die pensioene elke jaar met 2% verhoog word.
Op ’n effens ander noot, is SAL se omstrede voorsitter, Dudu Myeni, en van die ander raadslede, afgedank. Hulle is op die oog af deur kundiges vervang. Hoe lank moet politieke aanstellings ’n instansie in die grond bestuur voordat die regering besef kundigheid is belangrik. Veral iets soos SAL wat in ’n baie komplekse en mededingende omgewing moet kompeteer.
Die SAUK het uiteindelik ’n vaste raad gekry, en dadelik was daar kommer dat veral die voorsitter noue Zuma-bande het. Hy het dit intussen weerlê.
Ook die SAUK is in finansiële tamatiestraat nadat Zuma se Wunderkind, Hlaudi Motsoeneng, nog onlangs gespog het oor die wonderlike finansiële voet waarop hy die SAUK gebring het.
Die nuwe raad het egter ook ’n groot taak om talle bestuurders so ver te kry om bestuurstyle aan te neem wat met die grondwet strook.
Op die oog af lyk dit of Zuma nou skielik toelaat dat dinge in semi-staatsinstellings verbeter. Dit moet egter onthou word dat nog net een van die rafels van staatskaping nou in die parlement uitgetorring word. Die ander komitees sleep voete, en die groot regterlike ondersoek wat die vorige openbare beskermer, Thuli Madonsela, gelas het, bly steeds op die langebaan.
Om ’n idee van die geheelbeeld te kry, is die burgery grootliks van ondersoekende joernaliste afhanklik wat veral op die Gupta Leaks fokus. Die Gupta-troue by Sun City, wat met die Waterkloofgate-sage saamgeval het, is juis ’n lekker warm patat omdat ’n papierspoor aandui dat R30 miljoen van die ewe omstrede Vrede-melkplaasprojek gebruik is om vir die troue te betaal.
En dit alles staan en val by een man wat eintlik die hele konsep van die regstaat en demokrasie as gyselaar hou, adv. Shaun Abrahams. As hoof van die nasionale vervolgingsgesag het hy tot dusver alles in sy vermoë gedoen om Zuma in die sogenaamde bande-saak skotvry daarvan te laat afkom. Dit laat die bekende rubriekskrywer, dr. Leopold Scholtz, vra of Suid-Afrika ’n demokrasie en regstaat is. Hy kom tot geen besliste gevolgtrekking nie.
Kan ’n gekaapte staat nog ’n demokrasie en ʼn regstaat wees? Die interessantheid is dat die huidige grondwet, anders as die oorgangsgrondwet, nie bepaal dat Suid-Afrika ’n regstaat moet wees nie. Dit bring egter meer van ’n teoretiese nuanseverskil teweeg, want uit die inhoud van die grondwet is dit duidelik dat dit ’n regstaat veronderstel – of iets bitterlik naby daaraan.
Nou moet nieregeringsorganisasies en die opposisie eers veg daarvoor dat dit in die praktyk neerslag vind.