![]()
Argieffoto
Sandra de Villiers, wie se broer tydens die Esidimeni-tragedie gesterf het, het Woensdag tydens ʼn arbitrasieverhoor getuig oor die haglike omstandighede by die Cullinan-sorg-en-rehabilitasiesentrum (CCRC) waar haar broer en ander pasiënte behandel is.
De Villiers het getuig by die verhoor, onder leiding van afgetrede regter Dikgang Moseneke.
Die tragedie, waar talle pasiënte gesterf het nadat hulle van Esidimeni na nieregeringsorganisasies oorgeplaas is, was deel van die departement van gesondheid se plan om pasiënte, wat aan geestelike versteurings lei, na NRO’s oor te plaas. Die departement het gesê die besluit het ten doel gehad om kostes te bespaar en nuwe gesondheidsdiensverskaffers toe te laat.
De Villiers beskuldig die departement van gesondheid vir die tragedie. Haar broer, Jaco Stols, is in Oktober 2016 by Mamelodi-hospitaal in Pretoria oorlede.
“Dit voel of hierdie mense [gesondheidswerkers] instruksies van bo af gekry het. Selfs nie eers ʼn dier kan só behandel word nie. Daar was ʼn kind by CCRC, en as hy my gesien het, het hy my omhels en my ‘mamma’ genoem. Ek hoop hy leef nog,” het sy tydens die verhoor gesê.
De Villiers het gesê sy is nooit toegelaat om die saal te sien waar haar broer by Siyabadinga gehou is nie. Sy weet nie of hy ʼn bed gehad het om op te slaap nie. Wanneer sy hom ook al besoek het, was hy honger en het dun klere aangehad, selfs op koue dae.
Sy het gesê die pantoffels wat sy vir haar broer gebring het, het die heeltyd verdwyn.
“Ek het hom een keer in September gaan besoek, en hulle het hom in ʼn rolstoel na my toe gebring. Ek wou by die verpleegster weet waarom sy gesondheid agteruitgaan, maar sy het gesê ek moet nie emosioneel wees nie. Ek het nooit ʼn dokter daar gesien nie. Ek moes hom elke keer na ʼn privaat dokter toe neem as hy siek was,” het sy verduidelik.
Sy het getuig dat die persone wat na die pasiënte omgesien het, onervare en ongekwalifiseerd voorgekom het en dat hulle niks geweet het van die medikasie wat uitgedeel word wanneer sy daaroor navraag gedoen het nie.
Tydens ʼn ondersoek, het ʼn privaat dokter vir haar gesê haar broer is ondervoed en gedehidreer. Sy het hom teruggeneem en seker gemaak dat die personeel sy medikasie vir hom gee.
Toe sy in ʼn latere stadium terugkeer, het dit goed gegaan met haar broer en hy kon self rondloop.
Sy het in Oktober ʼn oproep ontvang dat haar broer na ʼn hospitaal geneem word.
“Die dokter het gesê hy is baie erg gedehidreer en hy moet opgeneem word. Hulle het gesê hy was só siek dat hy in die hoësorgeenheid opgeneem moet word, maar daar was nie plek vir hom nie. Ek het in die hospitaal rondgehardloop om hulp te soek vir my broer,” het De Villiers verduidelik.
“Op 14 Oktober het die hospitaal my gebel om te sê dat my broer … iets in my het ook gesterf. Ons was baie naby aan mekaar.”
Sy het haar broer se afsterwe by die Cullinan-polisiestasie aangemeld. De Villiers het gehoor ʼn outopsie sal gedoen word, maar sy het tot dusver nog steeds nie die verslag ontvang nie.
David Makhura, premier van Gauteng, het in Februarie die departementshoof Barney Selebano geskors op aanbeveling van die ombudsman vir gesondheid, Malegapuru Makgoba, ná talle pasiënte by verskeie NRO’s gesterf het.
Qedani Mahlangu, voormalige LUR vir gesondheid, het in daardie stadium haar bedanking ingedien.
Volgens Makgoba se verslag in daardie stadium het minstens 94 pasiënte, wat van Esidimeni na ongelisensieerde sentra oorgeplaas is, gesterf as gevolg van wanvoeding en verwaarlosing.
Die getal sterftes het toegeneem toe meer inligting aan Makgoba bekend gemaak is en dit is uiteindelik tot 118 aangepas – ʼn getal wat hy verlede week tydens die verhoor bekend gemaak het. Die getal is weer na 141 aangepas, toe die waarnemende hoof van die departement, Enerst Kenoshi, by die arbitrasieverhoor getuig het. Nog 59 pasiënte word vermis ná die chaotiese oordrag van Esidimeni.
Die verhoor duur voort.
Lees alle vorige berigte oor Life Healthcare Esidimeni op Maroela Media.