![]()
Argieffoto
Deur: Dr. Renier Labuschagne (Sielkundige en ouderling in Gemeente Sionspoort)
Depressie neem tans wêreldwyd groot afmetings aan en die voorkoms daarvan kan tereg ’n moderne krisis genoem word. In die Suid-Afrikaanse konteks word die voorkoms daarvan op tussen ongeveer 10% en 16% beraam. Dit kom ook toenemend onder kinders voor.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie beraam dat depressie teen 2020 een van die grootste oorsake van verlies aan produktiwiteit sal wees. Daar is drie groepe gemoedsteurings, maar hier word slegs op die major depressiewe siekte gefokus.
Depressie is ’n siekte van die brein. Die direkte oorsaak daarvan is ’n wanbalans in die neuro-oordragstowwe (serotonien, noradrenalien en dopamien) van die brein. Omdat die chemiese oordrag van boodskappe tussen neurone belemmer word, kan simptome van depressie ontstaan. Depressielyers het moontlik ’n oorerflike kwesbaarheid om hierdie chemiese wanbalans te ontwikkel.
Sielkundige en sosiale faktore kan snellers wees. Die grootste sneller in depressie is erge stres en trauma.
Ander moontlike snellers is byvoorbeeld verlies by die dood van ’n geliefde, egskeiding, gesinskonflik, en die politieke en ekonomiese klimaat. Enige persoon kan onder sekere omstandighede depressie ontwikkel.
Sommige mense is egter meer kwesbaar, byvoorbeeld diegene met ’n familiegeskiedenis van depressie, dié wat al vroeër episodes van depressie beleef het, vroue (tot selfs twee keer meer as mans), ouer persone (65+), mense wat baie stres beleef het, en persone wat alkohol misbruik of dwelms gebruik.
Dit is normaal dat ’n mens soms ietwat neerslagtig voel, solank die gevoel nie vir lank duur nie en ook nie so erg is dat dit jou persoonlike en sosiale lewe en werk nadelig raak nie. Depressie is egter ’n siekte wat nie net ’n vorm van neerslagtigheid is nie. Dit affekteer elke aspek van die lyer se bestaan en menigmaal ook die lewens van diegene wat naby aan hulle leef. Geen mens wat self nog nie depressie ervaar het, kan beskryf hoe ’n depressiewe persoon voel nie.
Wanneer ’n persoon bewus raak van die simptome van depressie, moet daar spoedig hulp gesoek word by verkieslik ’n professionele persoon (’n mediese dokter, sielkundige of psigiater). Dit is belangrik dat die regte diagnose gemaak word en dat die regte behandeling gevolg word. Die mediese dokter en psigiater kan medikasie voorskryf, maar dit is gewoonlik beter om ’n multiprofessionele benadering te volg waar die sielkundige ook betrek word. Dié hulpverlening staan bekend as psigoterapie. Dit is ’n wetenskaplike wyse van hulpverlening wat ten doel het om die simptome van depressie te verlig of om dit, met die gebruik van medikasie, selfs uit te skakel.
Enkele van die simptome wat by ’n major depressiewe versteuring kan voorkom, is bedrukte gemoed, belangstellings wat afneem, slaappatrone wat verander, moegheid en lusteloosheid, gevoelens van waardeloosheid, selfverwyt, gebrekkige kommunikasie, en gedagtes oor die dood of selfdood.
’n Groot aantal depressiewe mense kry nooit hulp van enige aard nie. Een moontlike rede is omdat daar ’n stigma aan depressie kleef en nie maklik daaroor gepraat word nie. Depressiewe mense is nie swakkelinge wat nie die lewe in die oë kan kyk nie. Daar is verder heeltemal te veel mites rondom depressie wat aanmelding en behandeling kan verhoed – byvoorbeeld dat depressie ’n straf vir sonde is.
Depressie is ’n (baie ernstige) siekte en hoe gouer dit behandel word, hoe beter. As ’n persoon een episode van depressie beleef het, is daar ’n groter moontlikheid dat hy of sy meer episodes kan beleef.
Die Suid-Afrikaanse Angs- en Depressiegroep (SADAG) se 24 uur-noodnommer kan tolvry geskakel word by 0800 567 567 (SMS 31393). Predikante behoort aangemoedig te word om van die Algemene Kommissie se Welstandsprogram gebruik te maak. Daar is hulp en daar is hoop!
Bron: Blitspos – Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika