Tekenprent: Repokoers verlaag, maar…
Seun met tuinslang gespuit: Ouers en skool vergader

Die foto is digitaal gemanipuleer om die seuntjie, skool en werker se identiteite te beskerm. Foto: Facebook
Die ouers van die driejarige seuntjie wat Maandag in die bibberende koue in Rustenburg heeltemal kaal met ‘n tuinslang afgespuit is, het Donderdag uiteindelik met rolspelers vergader by die kleuterskool waar die voorval plaasgevind het.
Die seun se 38-jarige pa, wie se naam weerhou word om die seuntjie se identiteit te beskerm, het aan Maroela Media gesê hulle het om 17:30 met die skoolhoof, wat ook die eienaar van die kleuterskool is, ʼn juffrou wat in ʼn senior posisie is, en die werker wat die seuntjie gewas het, vergader.
“Ná sowat ʼn uur het ons ʼn doodloopstraat bereik. Die skool sien niks fout met wat hulle gedoen het nie, toon geen berou en het nie eens om verskoning gevra nie,” het hy Vrydag aan Maroela Media gesê.
“Ek het hulle pertinent gevra of hulle dink dit is reg om ʼn kind kaal buite in die koue met koue water nat te spuit en hulle bly by hul standpunt hulle het bloot net ʼn kind skoongemaak wat ʼn glipsie gehad het.”
Die pa het gesê daar is aan hom verduidelik dat al die kinders buite gespeel het toe die voorval plaasgevind het.
Die juffrou wat toesig gehou het, is vlugtig in die gebou in om haar kosblik te gaan bere toe sy hoor daar loop water in die seuntjies se badkamer. Sy het glo die werker opdrag gegee om te gaan kyk of een van die kinders dalk ʼn kraan oopgelos het.
“Die werker sien toe my seuntjie se maag het gewerk en hy was met toiletpapier en water besig om te probeer skoonmaak. Hy wou gaan piepie en toe het sy magie gewerk. Sy klere en die badkamer was glo bemors.”
Volgens die pa is daar aan hom verduidelik die werker het die seun na buite geneem aangesien die badkamer bemors was. Die seun en die werker is na buite na ʼn afgesonderde hoekie wat uit die publiek en ander kinders se oog is.
“Die werker beweer sy het daar sy klere uitgetrek, warm water in ʼn 5ℓ-emmer gegooi waarmee sy hom eers afgewas het, terwyl die tuinier sy klere met ʼn tuinslang afgespuit het. Die werker het dit self aan ons verduidelik en het haarself in ʼn stadium weerspreek en gesê daar was koue water in die emmer. So ons weet nie eintlik of daar regtig warm water in was nie.”
Hy het gesê daarna het sy die tuinslang, met koue water, gebruik net om van die knie af ondertoe te spuit. Die seun het erg gehuil en die juffrou het omgestap om te kyk wat aangaan en het toe gesien die werker is “amper klaar” met die skoonmaakproses.
Dit is in dié tyd wat die vrou wat alles aan die lig gebring het, Annelie Nel (52), en haar kollega, ʼn onderwyser, by die skool stilgehou het om aanwysings te vra.
“Annelie is na die voorhek en het daar die skoolhoof ontmoet en die skoolhoof vir aanwysings gevra. Intussen het Annelie en haar kollega gehoor hoe erg huil my kind. Die skoolhoof beweer egter sy het hom nie hoor huil nie. Toe Annelie terugkom by die voertuig waarin sy en die kollega was, het haar kollega vir haar gesê die seun is kaal en word natgespuit en dit is toe dat die kollega die foto (presies om 12:46) geneem het.”
Hy verduidelik dat die plek waar sy seuntjie, een van ʼn tweeling, gewas en afgespuit is, nie sigbaar van die pad of van die skoolhek is nie. “Die werker beweer sy het die handdoek in die kombuis vergeet. Die foto is presies geneem toe my seuntjie kaal agter haar aangeloop het om die handdoek te gaan kry. Dit was wel in die openbaar,” het hy bygevoeg.
“Hulle beweer dit is die eerste geval wat hulle ʼn kind só skoon gemaak het omdat die badkamer bemors was. Ons het egter bewyse van meer ouers en ʼn oudonderwyser wat daar gewerk het wat beweer dit het al verskeie kere gebeur.”
Die pa het ook gevra wie opdrag gegee het dat sy seun só skoongemaak moes word. “Die werker het gesê sy het self besluit om dit te doen. Maar ek neem die juffrou kwalik, want sy het gesien wat gebeur het, maar nie tussenbeide getree nie omdat sy gesien het hulle is amper klaar. Sy is ʼn senior personeellid en kon besef het dit is gevaarlik en my kind kan siek word om kaal op die koudste dag van die winter só skoongemaak te word. Die juffrou is toe na die skoolhoof om te sê wat gebeur het en dat my seun huil. Die skoolhoof het toe gaan kyk vir skoon klere en daar was nie en dit is tóé dat sy my vrou (presies om 12:49) gebel het. Ons woon skaars vyf minute se ry van die skool en my vrou het soontoe gery om vir hom klere te vat.”
Toe die 36-jarige ma daar opgedaag het, het haar seuntjie buite op die skoolhoof se skoot gesit met ʼn handdoekie om hom. “Die skoolhoof sê dit was haar manier om hom te troos en compassion te wys, want hy het toe nog gehuil, waarna my vrou hom huis toe gevat het.”
Die skool het glo aanvanklik Maandag ʼn ander weergawe vertel en die ma was nie dadelik bewus daarvan nie. Hulle het dit eers die volgende dag uitgevind nadat hulle Nel se veelbesproke plasing op Facebook gesien het. Sy het die foto, wat haar kollega geneem het, op Facebook gedeel omdat sy ʼn passie vir kinders het, fout daarmee gesien, en wou graag die ouers opspoor. Die seuntjie se ma was woedend toe sy Dinsdag die plasing sien en het dadelik haar seuns uit die skool gaan haal.
Die seuns was in dié kleuterskool sedert hulle een jaar oud was.
Die pa het gesê hulle is in die proses om ʼn nuwe kleuterskool vir hul seuns te vind en dat hulle nie oor die voorval met hulle praat nie. “Sy boetie het eergisteraand uit sy eie uit gesê hy het sy boetie jammer gekry en wou graag na hom toe gaan toe hy hom so erg hoor huil.”
Die pa het gesê hy gaan beslis verdere stappe doen deur die departement van maatskaplike werk en die departement van onderwys van die voorval in te lig vir ʼn behoorlike ondersoek by dié kleuterskool.
Childline is ook intussen van die voorval bewus gemaak en begin volgende week met ʼn ondersoek om te bepaal of dit moontlik kindermishandeling was.
“Wat vir my die ergste is, is dat hulle niks fout sien met wat gebeur het nie en ‘dat die hele bohaai ongegrond is’. In ʼn stadium wou ons weet of hulle dit met hul eie kinders sou doen waarop die juffrou geantwoord het, nee sy sou nie,” het die pa gesê.
Die eienaar van die kleuterskool kon Vrydag steeds nie vir kommentaar bereik word nie ná verskeie pogings sedert Dinsdag aangewend is. Sy is glo Dinsdag in die hospitaal opgeneem en moes Woensdag ʼn operasie ondergaan en is intussen ontslaan. Maroela Media kon wel Dinsdagoggend die skoolhoof bereik, maar sy het geweier om oor die telefoon kommentaar te lewer en het ʼn persoonlike onderhoud versoek. Sy het sedertdien op geen verdere navrae reageer nie.
Khoza: ‘Ek sal nie in stilte sterf nie’
ANC-LP Makhosi Khoza sê indien die doodsdreigemente wat sy tans ontvang wel tot haar dood lei, sy nie in stilte sal sterf nie.
Dit kom nadat die ANC in KwaZulu-Natal vroeër vandeesweek gesê het die party sal dissiplinêre stappe teen Khoza doen omdat sy “die kernwaardes van die ANC blatant verraai het”. Khoza het Dinsdag by ʼn geleentheid wat as deel van Nelson Mandela-dag gehou is, ʼn beroep op pres. Jacob Zuma gedoen om te bedank en gesê sy vind dit onuithoudbaar om gelei te word deur ʼn man wat daarvan beskuldig word dat hy vroue teister.
Sy het gesê hoewel sy vanaf die ouderdom van 12 jaar deel van die ANC was, het sy begin om die konsep van demokratiese sentralisme te bevraagteken. “Ek het gevind dat uitsprake van die ANC-leierskap, wat kies om witmonopolie-agente te sien eerder as opregte bekommernisse van die mense, teenstrydig is met die einste ANC-grondwet wat nog altyd my politieke morele gewete gevorm het.”
Khoza het Donderdag in ʼn inskrywing op haar Facebook-profiel gesê sy word nou as ʼn moeilikheidmaker uitgebeeld deur diegene wat wil hê sy moet stilbly. “Ek word van uitsonderlike swak dissipline beskuldig omdat ek opstaan vir dit waarin ek glo,” het sy geskryf. “Hoewel sommige van my comrades my ondersteun, het ander teen my gedraai en my van opstandigheid beskuldig terwyl hulle kies om hulle te skaar by diegene wat my en ons beweging wil seermaak en inderwaarheid ons nasie wil vermoor.”
Khoza het gesê baie mense moes “ʼn stille dood sterf” toe hulle probeer het om op te staan vir dit waarin hulle glo. “Die herinnering van ʼn jong vrou wat gedurf het om ’n magtige man van verkragting te beskuldig, hang steeds in die lug, selfs nadat sy verban is tot ʼn stille dood. Hoekom moet my liggaam gevoeg word by die ander wat onskuldig gesterf het en ek moet stilbly daaroor? Hulle kan my maar etiketteer, maar my besluit is gemaak. Ek sal nie in stilte die nag ingaan nie.”
Sy het beklemtoon dat sy nie die enigste ANC-LP is wat al uitsprake van dié aard gemaak het nie en het genoem dat Pravin Gordhan ook ʼn paar dae gelede gesê het Zuma moet bedank. Volgens Khoza is daar ʼn ander regstelsel in die ANC vir vroue, aangesien verskeie ANC-leiers hulle al in die openbaar teen die president uitgespreek het.
Boer met tuinvurk gesteek
ʼn Boer van die Theunissen-distrik in die Vrystaat is Donderdag tydens ʼn aanval op sy plaas vier keer met vermoedelik ʼn tuinvurk in sy gesig en rug gesteek.
Louis Kotze en sy vriendin is omstreeks 18:20 in sy huis op sy plaas Kopfbrunen deur drie verdagtes oorval net nadat hulle op die plaas aangekom het. Vrystaat Landbou het in ʼn verklaring gesê Kotze is vier keer tydens die aanval met die tuinvurk gesteek en het 16 steekwonde opgedoen.
Kapt. Malebo Khosana, polisiewoordvoerder, het gesê ʼn struweling het tussen Kotze en die aanvallers ontstaan. Volgens Khosana het die verdagtes met twee sakke vol klere op die vlug geslaan. Kotze se vriendin kon die polisie ontbied en hy is na ʼn hospitaal in Bloemfontein gehaas.
Alani Janeke, woordvoerder van Vrystaat Landbou, het gesê ongeveer 50 van die omliggende boere en inwoners het met 30 voertuie die paaie tussen Theunissen en Windburg gepatrolleer op soek na die drie verdagtes. Die gesteelde goedere is later ongeveer 500 m van die toneel gevind. Volgens Janeke word die motief vir die aanval nog ondersoek, asook hoe die aanvallers toegang tot Kotze se huis verkry het.
Khosana het gesê sake van aanranding met die doel om ernstig te beseer en diefstal word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Tommie Esterhuyse, voorsitter van Vrystaat Landbou se Landelike Veiligheidskomitee, het gesê daar was die afgelope jaar verskeie voorvalle in die provinsie waar aanvallers toegang tot die slagoffers se huise verkry het sonder om deure oop te breek of die slagoffers buite die huis in te wag.
“Dit is ’n bron van kommer en ons wil landbouers aanmoedig om streng sleutelbeheer toe te pas,” het Esterhuyse gesê. “[Landbouers moet] ook oplettend wees vir enige vreemde situasies wanneer hulle by hul huise aankom. Verder wil ons weereens die belangrikheid van goeie verhoudinge met werkers beklemtoon, ook wat kommunikasie ter bevordering van veiligheid betref.”
Esterhuyse het die landbouers in die omgewing van Theunissen en Winburg, asook die polisie bedank vir hul vinnige optrede ná die aanval op Kotze se plaas. Hy het gesê dié aanval was die vierde plaasaanval in dié provinsie sedert 13 Julie.
“Op 13 Julie 2017 het ’n aanval op ’n kleinhoewe in die Oranjeville-gebied voorkom, op 17 Julie is ’n voorval op ’n kleinhoewe in die Navalsig-gebied by Bloemfontein aangeteken, wat gevolg is deur ’n voorval op die plaas Habitali naby Rosendal op 19 Julie,” het hy gesê.
“In al drie gevalle is werkers beroof en vasgebind. In twee gevalle het aanvallers erwe betree nadat eienaars die perseel gedurende daglig verlaat het. Die verdagtes was in al drie voorvalle gewapen en het werkers buite wonings aangeval. Selfone, rekenaartablette, televisies, kontant, juwele en selfs ’n sleepwa is geroof.”
Volgens Vrystaat Landbou was daar reeds 35 plaasaanvalle in die Vrystaat vanjaar, waartydens drie moorde plaasgevind het.
Die wêreld in foto’s – 21 Julie 2017
Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Twee mense is oorlede en 55 beseer ná ’n ontploffing by ’n winkelsentrum in Hangzhou, China. (Foto: Huang Zongzhi, Xinhua)

Ondersteuners van die Jammu Kashmir Liberation Front (JKLF) tydens ’n protes-aksie in Indië. (Foto: Dar Yasin, AP)

’n Motor wat skade opgedoen het gedurende die aardbewing van 6,3 wat die kus aan die suid-weste van Turkye getref het. (Foto: DHA/Depo photos, Xinhua)
Vrou wat haarself aan brand steek vertel van dáái dag
“Dis was nog nie my tyd gewees nie. Ek sal nooit weer my eie lewe probeer neem nie; die Here het ‘n doel vir my op aarde.”
Só het Susan van Rooyen (53) vanuit die brandsorgeenheid by die Leratong- provinsiale hospitaal aan haar oudste dogter, Susan Cloete (35), gesê nadat sy verlede Maandagmiddag in Randfontein, wes van Johannesburg, petrol oor haarself uitgegooi en haar buite ʼn winkel aan die brand gesteek het.
“Sy sterk goed aan en die dokters is tevrede met haar vordering. Ons is ook tevrede met die diens wat sy by die hospitaal ontvang, hulle kyk mooi na haar,” het Cloete dankbaar gesê. “Dit is ʼn wonderwerk dat sy oorleef het. Ek is baie dankbaar teenoor God vir die tweede kans saam met my ma.”
Cloete het gesê haar ma is verlede Vrydag van die ventilator afgehaal en kan nou self eet en praat. Sy het erge brandwonde aan haar gesig, nek en ore opgedoen, waarvoor sy ʼn veloorplanting sal moet ondergaan.
Omstanders kon daarin slaag om die vlamme te stop en sy het net tot by die haarlyn gebrand. “Al haar hare is geskroei, maar haar kopvel is gelukkig nie beskadig nie – dit is deel van die wonderwerk,” het sy gesê.
“Die swelsel in haar gesig begin sak en sy loop selfs rond en wil net huis toe gaan, maar ons vermoed sy gaan nog ʼn rukkie daar moet bly. Buiten die brandsorg wat sy ontvang, ontvang sy ook sielkundige behandeling. Haar gesig gaan nooit weer dieselfde wees nie. Vir eers wil hulle haar verhoed om enigsins in ʼn spieël te kyk aangesien dit haar kan skok. Sy is nog baie emosioneel, maar almal se gebede dra haar.”
Cloete het vroeër verduidelik haar ma is ʼn ruk gelede van haar man geskei en het ’n geruime tyd by haar in hul huis in Randfontein gewoon. Bipolêre gemoedsversteuring is by haar gediagnoseer. Sy het nie gewerk nie en is afhanklik van ongeskiktheidspensioen wat sy ná ʼn rugbesering ontvang.
Sy het volgens Cloete sowat sewe jaar gelede ʼn vriend ontmoet en het op 1 Julie by hom ingetrek. Die dag wat sy gepoog het om haar eie lewe te neem het die twee glo rusie gemaak. “Sy is juis daai dag dorp toe om te gaan werk soek om onafhanklik te wees. Sy was net baie moedeloos omdat sy nie kon werk kry nie, en oor al die omstandighede en emosionele dinge.”
Cloete het gesê die sielkundige het haar gevra of haar ma al voorheen probeer het om haar eie lewe te neem, maar dit was die eerste keer. “Sy het gesê sy hét al daaraan gedink, maar het dit nooit deurgevoer nie. Die sielkundige sê dit is ʼn goeie teken.”
Cloete het gesê haar ma wil graag haar eie blyplekkie hê, maar Cloete het vir haar gepreek en gesê sy moet nou eers daarop fokus om gesond te word. “Ons glo daar sal ʼn uitweg kom. God sorg vir sy mense en daar is ʼn rede hoekom hy haar lewe gespaar het. Selfs my ma sê dit.”
Volgens Cloete is haar ma baie vaardig met haar hande en wil sy graag besig bly. “Van breiwerk, hekel tot houtwerk. Sy help gereeld haar vriendinne uit om nutswerk te verrig en selfs om blokkasies in dreine te verwyder. Sy is baie goed met handwerk en mal daaroor om mense te help. Sy wou besig bly en het ook gehelp om bejaarde tannies se huise skoon te maak; sy wou net ander mense gelukkig maak. Ons dink daaraan om vir haar lappe en verf te kry sodat sy dalk lapverf kan doen en ʼn inkomste daaruit kan maak,” het sy gesê.
Cloete se jonger suster, Norina van Zyl (33), woon in Bethal, Mpumalanga. “Sy gaan die einde van die maand vir ʼn week deurkom en dan sal ons meer met die dokters kommunikeer om die pad vorentoe te bepaal.”
Van Rooyen het Cloete versoek om “baie dankie” te sê vir die mense wat haar lewe gered het en wat vir haar gebid het. “Hou asseblief aan met bid. Hoe meer mense bid, hoe beter is haar kans om ten volle te herstel. My ma het gesê sy sal nooit weer so iets doen nie. Dit is nog nie haar tyd nie.”
- Mense wat angstig of depressief voel en graag met iemand wil gesels, is welkom om SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep) te kontak. Hulle het opgeleide beraders wat ʼn mens deurgaans kan bystaan. Kontak hulle hier: 011 234 4837 of 0800 20 50 26 of stuur ʼn e-pos na zane1@medport.co.za.
Drie verkeersbeamptes vas vir korrupsie
Drie beamptes van die Gautengse verkeerspolisie is Vrydagoggend vir korrupsie in hegtenis geneem.
Volgens die provinsie se departement van gemeenskapsveiligheid was die drie beamptes verbonde aan die Langlaagte-verkeersdepartement in Johannesburg.
“Die drie is in hegtenis geneem in verband met omkopery ter waarde van nagenoeg R9 000. Die geld is in hul besit gevind nadat die Valke ʼn lokval vir hulle gestel het,” het die departement in ʼn verklaring gesê.
Die inhegtenisnemings volg in samewerking met die Gautengse departement van gemeenskapsveiligheid en Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC).
Sizakele Nkosi-Malobane, LUR vir gemeenskapsveiligheid, het die inhegtenisnemings verwelkom en die rolspelers geprys.
“Ek het nog altyd gesê ons sal streng optree teen enige beampte wat onwettige praktyke pleeg. Vandag se inhegtenisnemings sal ʼn streng boodskap uitstuur aan ander beamptes wat hulself aan korrupsie wil skuldig maak,” het Nkosi-Malobane gesê.
Bejaarde vrou aangerand, beroof
ʼn Bejaarde vrou van Port Elizabeth is Vrydagoggend erg aangerand tydens ʼn huisroof.
Kapt. Johan Rheeder, polisiewoordvoerder, het gesê die vrou is deur ʼn verdagte met ʼn blou oorpak aan, in haar huis in Haworthiaweg in Malabar oorval.
“Sy het na haar kombuisdeur geloop waar hy haar ingewag het. Hy het haar met toue vasgebind en verskeie kere in haar gesig geslaan. Hy met haar selfoon, skootrekenaar en beursie gevlug,” het Rheeder gesê.
Buiten haar beserings is die vrou erg getraumatiseerd en is sy na ʼn hospitaal geneem vir behandeling.
Die Port Elizabeth-polisie ondersoek ʼn saak van huisroof.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Weldoeners maak harte en beursies oop vir klein Juandré
Die ouers van die tweejarige Juandré Gouws – die jong kankerlyertjie van Vereeniging – sê hulle is oorstelp van vreugde en dankbaarheid nadat weldoeners landwyd genoeg fondse geskenk het sodat dié jong vegtertjie ʼn lewensnoodsaaklike operasie kan ondergaan.
Amor Schoeman, woordvoerder van die Child Medi-organisasie, het Vrydagoggend bevestig dat genoeg geld tot dusver ingesamel is om vir die eerste operasie te betaal.
Maroela Media het vroeër berig retinoblastoom (oogkanker) is vroeër vandeesmaand by Juandré gediagnoseer in sy regteroog. Die gesin het egter nie ʼn mediese fonds nie, en het ʼn pleidooi aan die publiek gerig om hul seun se lewe te help red.
Schoeman sê hoewel die gesin opgewonde is dat die eerste operasie befonds is, lê ʼn ver pad nog vir die gesin voor.
Eurika Maass van die Gautengse hospitaal waar Juandré behandel gaan word, het bevestig dat hy na dié operasie ten minste nog twee ander ook moet ondergaan.
“Tydens die tweede operasie sal die rekonstruksie van die oogkas plaasvind, waartydens ʼn hidroksie-apatiet-prostese met donorsklera ingeplant word. Die beraamde koste daarvan is R40 000. Die kunsoog sal tydens die derde operasie by ʼn okularis gemaak word, en die beraamde koste daarvoor is R10 000,” het sy in ʼn e-pos gesê.
Al die fondse wat tot dusver aan klein Juandré geskenk is, sal oorgedra word vir die derde en vierde operasie. Schoeman sê egter daar is steeds ʼn tekort aan finansies om die laaste operasies te befonds.
Die gesin fokus egter nou op die eerste operasie wat op 2 Augustus plaasvind, sodat al die kanker verwyder kan word voor dit na die brein en die res van die liggaam versprei.
Juandré is reeds grotendeels blind in sy regteroog en sy aanpassing met ʼn kunsoog sal volgens dokters nie te lank neem nie.
“’n Mens kom nie sommer goedgunstigheid teë soos dit wat baie mense reg oor die land aan ons bewys het nie. Ons was in sak en as, met geen uitweg of antwoorde nie, en mense het net betrokke geraak om te help. Ons is baie dankbaar daaroor, en mense lewer ʼn bydra tot ʼn seuntjie wat weer ʼn kinderlewe in die vooruitsig het. Ons vra weldoeners om ons steeds te help tot die beproewing verby is.”
Vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak, kontak die Child Medi-organisasie by info@childmedi.org of bel Amor Schoeman by 062 266 0486. Besoek ook die Child Medi-webwerf of Facebook-blad. Dié organisasie reik A18-belastingsertifikate vir weldoeners uit.
Graça Machel dreig met regstappe oor Mandela-boek
Graça Machel, weduwee van die ontslape oudpresident Nelson Mandela, het die splinternuwe boek oor Mandela se laaste jare voor sy dood veroordeel en dreig om dr. Vejay Ramlakan, die skrywer, te dagvaar.
Machel het gesê sy is besig om regsadvies in te win aangesien sy van mening is die boek skend die vertroulikheid wat daar tussen ’n dokter en sy of haar pasiënt is.
Maroela Media het vroeër berig Mandela’s Last Years werp lig op kwessies van sy laaste jare, soos sy gesondheid en gebeure gedurende die maande voor sy dood. Ramlakan, wat aan die hoof van Mandela se mediese span gestaan het, maak ook talle onthullings in die boek – soos onder meer dat ʼn militêre ambulans wat Mandela na die Mediclinic Hart-hospitaal in Pretoria vervoer het, aan die brand geslaan het.
In die boek praat Ramlakan ook oor die geliefde oudpresident se laaste oomblikke in sy kamer saam met nabye familie, die oudstes van die stam uit die Oos-Kaap en ook Graça Machel.
Volgens die oorspronklike verklaring van die uitgewer, Penguin Random House, is dié boek geskryf “met respek” en met “die goedkeuring van die familielede”.
Penguin Random House het ná Machel se verklaring gesê hulle het dié boek vir publikasie aanvaar nadat Ramlakan by die familie toestemming gekry het om dit te skryf.
“Ons het die boek aanvaar nadat die skrywer, Vejay Ramlakan, Penguin Random House South Africa verseker het dat hy goedkeuring van die familie gekry het. Die familie se verteenwoordiger is met ʼn kopie van die boek voorsien,” lui die uitgewer se verklaring.
Pedofiel hoor sy lot
Uitspraak is Vrydag in die Wes-Kaapse hooggeregshof gelewer in die appèl van die direktoraat van openbare vervolging wat ʼn swaarder straf vir die pedofiel Andries Petrus Retief (37) versoek het.
Landdros Mandy van Leeve het Retief, ʼn siviele ingenieur, in Augustus 2015 in die hof vir seksuele misdrywe in Parow tot agt jaar tronkstraf gevonnis op die voorwaarde dat hy nie binne vyf jaar weer dieselfde oortredings begaan nie. Die vonnis is egter heeltemal opgeskort, wat beteken het dat hy nie tronkstraf moes uitdien nie.
Dit volg nadat Retief skuldig gepleit het op verskeie aanklagte rakende die vervaardiging en besit van kinderpornografie sowel as seksuele aanranding.
Retief, ʼn eerste oortreder, het toe skuldig gepleit op 2 130 aanklagte. Hy het jong kinders na ʼn plaas naby Durbanville gelok met die oog daarop om pornografiese foto’s en video’s van hulle te neem. Van sy slagoffers sluit in ʼn sesjarige, agtjarige en negejarige kind wat almal seksueel aangerand is terwyl hulle geslaap het.
Van Leeve het wesenlike redes gevind om Retief ʼn minimum vonnis te gee. Die landdros het gesê Retief se inhegtenisneming het gelei tot sy besef dat hy ernstige emosionele probleme gehad het en dat hy ʼn dringende behoefte aan langdurige psigoterapie het. Sy het gesê hy het homself onmiddellik vir terapie beskikbaar gemaak.
Die Wes-Kaapse direktoraat van openbare vervolging het egter teen sy “skokkend onvanpaste ligte vonnis” geappelleer.
Regter Le Grange het Vrydag die direktoraat van openbare vervolging se appèl toegestaan. Le Grange het Retief tot 10 jaar tronkstraf gevonnis waarvan twee jaar vir vyf jaar opgeskort is. Le Grange het Retief ook tot ʼn verdere agt jaar tronkstraf gevonnis op van die ander aanklagte. Hy het egter gelas dat die vonnisse gelyklopend uitgedien moet word. Retief moet dus effektief agt jaar tronkstraf uitdien.
Sy naam moet ook op die lys van seksuele oortreders geplaas word.
Wayde en Caster draf Monaco-rekords kaf

Foto: AP Photo/Natacha Pisarenko
ʼn Mens aanvaar dit feitlik as vanselfsprekend, maar Suid-Afrika se twee goue medaljewenners by verlede jaar se Olimpiese Spele, Wayde van Niekerk en Caster Semenya, lyk werklik onoorwinlik.
Van Niekerk het Vrydagaand in Monaco by die Diamantligabyeenkoms die soveelste rekord van die legendariese Michal Johnson met sy tyd van 43:74 in die 400 m verbeter. En sommer net om die talent in die suide van Afrika ten toon te stel, het die twee Botswana-atlete, Isaac Makwala (43:84) en Baboloki Thebe (44:26) onderskeidelik tweede en derde geëindig.
Johnson se byeenkomsrekord is op twee weke na 19 jaar gelede opgestel, maar sy 43:96-tyd is maklik deur Van Niekerk verbeter.
♦ Semenya het kwaai teenstand gehad, maar was weer net te sterk vir haar teenstanders toe hulle die pylvak binnekom.
Haar wentyd van 1:55.27 is die vinnigste vanjaar, meer as ʼn sekonde vinniger as die vorige beste (1:56.61) en ook beter as haar eie byeenkomsrekord van 1:55.33.
Sy is gevolg deur Francine Niyonsaba (1:55.47) en Ajee Wilson (1:55.61).
♦ Suid-Afrika se Akani Simbine het derde ná Usain Bolt (9:95) en Isiah Young (9:98) in die 100 m geëindig. Simbine se tyd was 10:02.
♦ Wanda Nel het meer as ʼn sekonde stadiger as haar beste seisoentyd gehardloop toe sy vyfde in die 400 m-hekkies geëindig het. Haar tyd was 55:90 – meer as twee en ʼn halwe sekonde stadiger as Cori Carter van die VSA se wentyd van 53:36.
‘Positiewe tekens om staatsdiens se pensioenfondse te beskerm’
Die VF Plus het gesê adjunkpresident Cyril Ramaphosa is verlede maand deur die party in die parlement versoek om stappe te neem om die staatsdiens se pensioenfondse te beskerm en dit blyk uit parlementêre vrae aan die minister van finansies, Malusi Gigaba, dat die bal reeds aan die rol gesit is om aan hieraan uitvoering te gee.
“Verdere goeie nuus is die minister se antwoord op ʼn vraag dat die staatsdienspensioenfonds ten volle befonds is en al sy verpligtinge teenoor pensioenarisse kan nakom,” het adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus, in ʼn verklaring gesê.
“In antwoord op ʼn vraag oor die stappe wat die minister doen om pensioenfondse te beskerm wat deur die staat en staatsbeheerde ondernemings beheer word, is die antwoord dat die nasionale tesourie reeds ondersoek daarna ingestel het om alle staatsdienspensioenfondse onder die beheer van die Wet op Pensioenfondse te plaas.”
Alberts het gesê dit sal beteken dat lede toegang sal hê tot die Beregter vir Pensioenfondse wat kan ingryp en gratis ondersoeke doen na enige onreëlmatighede om lede se belange te beskerm.
“Die VF Plus sal voortgaan om hierdie saak te dryf en ons is vol hoop dat die stappe spoedig in werking gestel sal word. Ons vra dat die staatsdienspensioenfonds en alle ander pensioenfondse, insluitende Transnet se fondse, onder Die Wet op Pensioenfondse sal val sodat die pensioenfondsberegter toeganklik sal wees vir fondslede.”
Hy het gesê dit was juis die probleem met die twee gestroopte Transnet-pensioenfondse wat tans in ʼn regstryd teen Transnet gewikkel is dat die pensioenfondsberegter nie enige jurisdiksie oor die fondse gehad het nie.
“Alle fondslede sal ʼn groot sug van verligting kan slaak wanneer hierdie planne realiseer. Die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om toe te sien dat dit wel spoedig ʼn werklikheid word,” het hy bygevoeg.
ATKV reageer op klagtes oor nuwe strategie
Die ATKV het gesê die vereniging neem kennis van die uiteenlopende reaksies op sy Afrikaans Plus-inisiatief.
Dit kom nadat Deidre le Hanie, nuwe besturende direkteur van die ATKV, vandeesweek aangekondig het dat die organisasie ʼn nuwe strategiese fokus het en ʼn nuwe rigting inslaan deur Afrikaans in ʼn meertaligheidskonteks te bevorder.
“As ’n nasionale taal- en kultuurorganisasie neem ons voortdurend deel aan die gesprekke oor Afrikaans,” het Mercia Eksteen, woordvoerder, in ʼn verklaring gesê.
“Die 2011-sensus wys dat die aantal Afrikaanssprekendes sedert die 2001-sensus toegeneem het. Dit toon dat Afrikaans in ses van die nege provinsies onder die eerste drie tale vir eerstetaalsprekers tel. Dit toon verder dat 75% van bruin Suid-Afrikaners, 60% van wit Suid-Afrikaners, bykans 5% van Indiër Suid-Afrikaners en meer as 600 000 swart Suid-Afrikaners se eerste taal Afrikaans is. Afrikaans word wyd deur Suid-Afrikaners verstaan. Indien maatskaplike samehorigheid en nasiebou bevorder wil word, is Afrikaans en Afrikaanssprekendes pertinent deel daarvan.”
Sy het gesê met Afrikaans Plus wil die ATKV bloot voortbou op die jare lange tradisie binne die ATKV om brûe te bou eerder as mure.
Jong man sterf in motorfietsbotsing in Pretoria
ʼn 23-jarige man is Vrydag in ʼn motorfietsbotsing in Centurion dood.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die ongeluk het op ʼn gedeelte van Solomon Mahlangu (Hans Strijdom)-rylaan plaasgevind.
“Die motorfiets het teen die agterkant van ʼn bakkie gebots. Met die paramedici se aankoms op die toneel is die bakkie en die motorfiets se wrak in die middel van die pad aangetref. Die motorfietsryer het ʼn paar meter van sy motorfiets af gelê,” het Meiring gesê.
Volgens Meiring was omstanders reeds besig om noodhulp op die man toe te pas. Paramedici het by hulle oorgeneem en vir nagenoeg 30 minute gepoog om hom by te bring.
“Ongelukkig was alle pogings onsuksesvol en is hy op die toneel dood verklaar.”
Die bestuurder van die bakkie is deur die paramedici ondersoek en is ongedeerd.
Die presiese oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie en word deur plaaslike owerhede ondersoek.
10111-staking tydelik opgeskort
Die Suid-Afrikaanse Polisie-unie (Sapu) het aangekondig dat die staking van operateurs by die polisie se 10111-noodinbelsentrum tydelik opgeskort is.
Oscar Skommere, Sapu se hoofsekretaris, het gesê die staking is opgeskort om onderhandelinge, wat deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gelei word, ʼn kans te gee.
“As ʼn verantwoordelike vakbond het ons besluit om die staking tydelik op te skort ter wille van die publiek wat ons dien. Die KVBA-inisiatief moet ʼn kans gegun word sonder onnodige druk,” het Skommere gesê.
“Sapu sal Maandag se vergadering by die KVBA met ʼn oop gemoed bywoon. Die opskorting van die staking moet nie deur die polisiebestuur beskou word dat ons ingee tot hul arrogansie nie.”
Hy het gesê daar is met hul lede gekommunikeer om Saterdag reeds terug te keer werk toe.
Die lede het Woensdag met die beskermde staking begin.
Volgens die vakbond word sy lede die minste van alle inbelsentrumwerkers betaal. Sapu het gesê die staking is wettig, maar het gewaarsku dat werkers wat daaraan deelneem, moontlik nie betaal gaan word nie.
Motoris skiet ‘kaper’ dood
ʼn Motoris het Vrydag ʼn vermeende kaper in Pretoria se middestad doodgeskiet.
Nick Dollman, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die voorval het by die kruising van Nana Sita (Skinner)- en Du Toitstraat in Arcadia plaasgevind.
Paramedici van die Tshwane-nooddienste en Netcare 911 het op die voorval gereageer.
“ ʼn Motoris is in spitsverkeer deur die vermeende kaper aangeval, waarna die motoris die verdagte geskiet het,” het Dollman gesê.
Volgens Dollman is die verdagte, vermoedelik 30 jaar oud, in die been geskiet en het baie bloed verloor. “Paramedici het alles in hul vermoë gedoen om die man se lewe te red, maar hy het te veel bloed verloor en is op die toneel dood.”
Die polisie ondersoek die voorval.
Mbete vra meer tyd om oor geheime stemming te besluit
Baleka Mbete, speaker van die nasionale vergadering, het meer tyd versoek om ʼn besluit te maak of die mosie van wantroue teen pres. Jacob Zuma in geheim moet geskied.
Die mosie van wantroue is vir 8 Augustus belê.
Die Demokratiese Alliansie (DA), wat die mosie gebring het, het vandeesweek aan die speaker geskryf om te versoek dat sy voor Vrydag haar besluit maak.
Die parlement het Vrydag in ʼn verklaring gesê die speaker het aan die DA se hoofsweep, John Steenhuisen, geantwoord die besluit oor hoe die stemming gaan geskied, moet nog gemaak word en sal voor of op 8 Augustus aan al die partye gekommunikeer word.
“Terwyl die konstitusionele hof bevind het dat die speaker die diskresie het om ’n stemprosedure tydens die mosie van wantroue te bepaal, moet daardie besluit verskeie faktore en omstandighede in ag neem, insluitend dat so ’n besluit rasioneel en nie arbitrêr moet wees nie,” lui die verklaring.
“Die hof het in hierdie verband nie ’n spesifieke tydraamwerk voorgeskryf waarbinne die besluit geneem moet word nie, maar behoorlike oorweging moet gegee word aan die omstandighede in hierdie geval om te verseker dat dit die toets van rasionaliteit slaag. Die omstandighede vereis noukeurige oorweging. Die speaker doen ʼn beroep op alle partye om haar die nodige ruimte te gun om ʼn behoorlike besluit te neem.”
Die DA het vroeër die week gesê daar is geen rede hoekom die speaker nie haar besluit voor Vrydag kon gemaak het nie en wag tot op die nippertjie.
Branderplankryer red vrou, meisie en baba
ʼn Branderplankryer het Vrydag ʼn volwasse vrou, ’n 14-jarige meisie en ʼn 8 maande oue baba se lewens gered.
Nick Dollman, woordvoerder van Netcare 911, het Saterdag gesê paramedici is die middag na Westbrookstrand in die Tongaat-omgewing in KwaZulu-Natal ontbied nadat hulle kennis ontvang het van ʼn voorval van verdrinking wat verskeie mense behels.
“Drie vroue saam met ʼn babadogtertjie en ʼn meisie het die strand gaan besoek. Hulle is nie plaaslike inwoners nie. Hulle het op die strand in die water gestaan toe ʼn baie groot golf hulle skielik omgeslaan en die see ingesleur het,” het Dollman gesê.
Twee van die vroue kon op hul eie na die strand terugkeer, maar een vrou, die meisie en die baba het in die moeilikheid beland.
“Gelukkig was daar baie mense in die omtrek en het gesien wat gebeur het en toe hulp ontbied. Die drie is deur ʼn onbekende branderplankryer gered wat hulle veilig na die strand gebring het.”
Paramedici van Netcare 911 en lewensredders het die vroue daarna bygestaan en ondersoek. “Die twee vroue wat self uit die see kon kom was geskok, maar ongedeerd. Die ander vrou, die meisie en die baba moes egter behandeling ontvang vir simptome van verdrinking. Die meisie se toestand was die ernstigste van die drie.”
Al vyf mense is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem. Die vrou het later in die hospitaal die man wat tot hul redding gekom het, as “hul engel” beskryf. “Hy het uit nêrens uit verskyn en ʼn paar minute later toe ons veilig was, net weer verdwyn,” het die vrou gesê.
Besprekingsdatum by wildtuine gewysig
SANParke het sy besprekingsdatum vir volgende jaar se wintervakansie gewysig.
Janine Raftopoulos, SANParke se woordvoerder, het in ʼn verklaring bekendgemaak besprekings vir Junie en Julie volgende jaar by enige SANParke-bestemming kan eers vanaf 1 Augustus gedoen word en nie 25 Julie soos aanvanklik beplan was nie.
Raftopoulos het gesê die datum is verander weens die moontlikheid dat sommige personeel aan ʼn beplande staking gaan deelneem.
“SANParke is steeds in gesprek met die vakbond Hospersa wat die meerderheid van die personeel verteenwoordig. Die sperdatum om ʼn skikking te bereik, is 24 Julie. In afwagting op enige onenigheid tussen die twee partye moes die besprekingsdatum oorweeg word.”
SANParke het om verskoning gevra vir enige ongerief wat weens die situasie veroorsaak word.
“Ons wil alle gaste gerusstel dat ʼn besluit binnekort bereik sal word en dat alle bedrywighede weer normaal sal wees.”
Besprekings kan vanaf 1 Augustus om 07:30 gedoen word deur inbelsentrums of per e-pos. Aanlynbesprekings kan vanaf 2 Augustus gedoen word.
SANParke het verlede Vrydag gesê hy het ʼn amptelike kennisgewing van Hospersa ontvang dat sy lede gaan staak nadat onderhandelinge oor salarisverhogings ’n dooie punt bereik het.
Die staking is uitgestel ná ʼn vergadering tussen die partye, SANParke en Hospersa voor die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA).