![]()
Die Afrikaanse taalmonument in die Paarl. Foto: Nico Strydom
Is daar nie in ’n mate ’n geval van bymekaar verby praat in die debat oor die ATKV se aangekondigde aksie van Afrikaans Plus nie? Die woordestryd hieroor is onverkwiklik en staan boonop in die konteks van die wegdoen van Afrikaans op kampusse.
Sosiale media het net te groot en te invloedryk geword om nie te verreken wanneer ’n mens ’n stelling maak of standpunt stel nie. Pas het ons die ontploffende impak gesien van lesers op die nuwe koers van die ATKV soos aangekondig. En Suid-Afrika het net te veel kwessies wat haat via die sosiale media skep of aanblaas, soos pas blyk uit Waldimar Pelser se skrywe in Rapport, “Pasop. Haat kan ons verteer”.
Dit het werklik nie die ATKV-kwessie as brandpunt ook nog nodig nie.
Op die gevaar af dat die verwysings van verskillende skrywers hieronder effe kunsmatig aan mekaar gelas word, word dit nogtans so gedoen omdat dit is hoe baie lesers dit ervaar het.
Nadat die voor- en nadele van die voorgestelde Afrikaans Plus van Deidre le Hanie, die ATKV se nuwe besturende direkteur, deeglik, en dikwels moddergooiend, onder die loep geneem is, het ’n woordvoerder van die ATKV, Mercia Eksteen, gesê die ATKV wil met Afrikaans bloot voortbou op die jarelange tradisie om brûe en nie mure te bou nie. Leserskommentare dui egter daarop dat baie mense, soos in die geval van die Spur-verskoning, nie met dié “gerusstelling” tevrede is nie. Dis natuurlik moeilik om te bepaal hoe verteenwoordigend hierdie reaksie is.
Hoe het hierdie debat so ’n omvang aangeneem? Dit is gewoon omdat die kwessie van inklusiwiteit, eksklusiwiteit en beweerde uitsluiting ook te berde kom in ander kwessies waar Afrikaans nog ’n staanplek het, of tot onlangs nog gehad het.
Onbedoeld het prof. Jonathan Jansen, oudrektor van Kovsies, se skrywe op Netwerk 24, “Afrikaans ‘sal nie op kampusse oorleef’”, die debat “ingelui.” Lees gerus Maroela Media se reaksie, “Nuuskommentaar: Jansen se siening onvanpas vir Grondwet”.
Jansen se skrywe is deur prof. Hermann Giliomee beskryf as “verskriklik”. Ander skrywers, soos Flip Buys, het min of meer soortgelyke standpunte ingeneem.
Dit is teen hierdie agtergrond dat Le Hanie se Afrikaans Plus-visie bekend gestel is. Net te veel van wat sy gesê het, het geklink of dit van dieselfde atmosfeer as Jansen teug. Die reaksie was blitsig, onder meer in ’n deeglik verwoorde artikel in Maroela Media deur Solidariteit se dr. Eugene Brink. Die titel, “ATKV ly aan ‘mission creep’”, is selfverduidelikend.
Die volgende swaargewigbydrae tot die debat het gekom van dr. Christo van Rheede. Hy skryf onder meer: “’n Verdagmakery van die ATKV omdat dié organisasie na inheemse taalgemeenskappe uitreik versterk slegs die persepsies dat Afrikaanssprekendes rassiste is.” Ook ander, soos mnr. Flip Buys van die Solidariteit Beweging, het aan die debat deelgeneem.
Wanneer na definisies van eksklusief en inklusief in Engels gekyk word, is dit duidelik dat die betekenis hemelsbreed verskil van dít wat normaalweg in Afrikaans bedoel word. Inklusief se betekenis in Engels kom primêr ooreen met “ingesluit”, soos ’n produk se prys wat die BTW insluit. Eksklusief se Engelse begrip sluit juis weer, in hierdie geval, die BTW uit.
Is dit nie dalk deel van die probleem nie … dat die stryd om minstens ’n mate van eksklusiwiteit vir Afrikaans te behou, geknel word met die begrip dat dit op totale uitsluiting van ander sou neerkom nie? Word daar in die debat oor die ATKV se nuwe benadering nie in ’n mate bymekaar verby gepraat nie?
En kom dit nie daarop neer dat in hierdie debat waar eksklusief met uitsluiting vertaal word, Afrikaans dan by verstek sy grondwetlike en volkeregtelike regte moet verbeur nie?
In ’n multikulturele land soos Suid-Afrika, veral een waarin grondwetlike regte “verskans” word, gerugsteun deur die internasionale reg, is dit nie altyd so eenvoudig om eksklusief en inklusief vas te pen nie. En albei terme word mildelik deur voor- en teenstanders van die begrippe misbruik, soos om aan te voer dat die blote teenwoordigheid van Afrikaans op ’n kampus (laat staan nog die gelykberegtiging daarvan) op ’n manier “uitsluitend” sou inwerk. En maak die taal melaats, dan word die sprekers met “melaatsheid” geslaan. Dr. Leopold Scholtz het juis in sy artikel “Misverstand oor Afrikaans” die kwessie aan die bod gestel. Hy skryf onder meer: “Jansen en (afgetrede regter) Van der Westhuizen se boodskap is in wese dieselfde: Aandrang op Afrikaans kom noodwendig op rassediskriminasie neer.”
Maar hoe manifesteer ’n meer inklusiewe benadering in Suid-Afrika? Op ’n lukrake manier is na die webwerwe van ’n aantal instansies gekyk om te sien hoe Afrikaans – eens dikwels die dominante taal daar – geakkommodeer word:
- Die Suid-Afrikaanse Bloeddiens: Die webwerf is net in Engels.
- Die Nasionale Museum, Bloemfontein: Die webwerf is net in Engels.
- Die Oorlogsmuseum, Bloemfontein: Slegs Engels met ’n enkele Afrikaanse inskrywing.
- Nasionale Outismevereniging: Outisme Suid-Afrika se webwerf, slegs Engels.
- Die ACDP: Webwerf slegs Engels.
- Die DA: Voorblad van webwerf slegs in Engels. In ’n stadium was daar Afrikaanse mediaverklarings as sake spesifiek oor Afrikaans gehandel het.
- Kansa se “gesig” is nou so Engels dat Afrikaans publikasies in Afrikaanse teks van “Cansa” begin verwys het.
Dit lyk of sommige instansies, wat onder geen wetlike verpligting / dwang verkeer om slegs Engels te wees nie, bloot Engels as verstektaal inspan. Soms speel transformasie ’n groot rol wanneer ’n instansie byvoorbeeld ’n skakelbeampte aanstel wat nie Afrikaans magtig is nie. Die FW de Klerkstigting, wat eens pligsgetrou alles in Afrikaans en Engels weergegee het, span nou feitlik net Engels in, behalwe as sy Afrikaanssprekende uitvoerende hoof, dr. Theuns Eloff, iets vir die Afrikaanse media in Afrikaans voorberei.
Ten spyte van ontkennings reik die Suid-Afrikaanse Landbou-unie heelwat materiaal, insluitend heelwat mediaverklarings, slegs in Engels uit.
Of die drywers hiervan dit besef of nie, dit laat baie Afrikaanssprekendes soos vreemdelinge in hul eie land voel.
Is dit dan so vreemd dat hierdie Afrikaanssprekendes veral op godsdienstige en kulturele terrein na iets streef wat “eksklusief” Afrikaans is? En dit geld nie net Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika nie – Afrikaanssprekendes in Nieu-Seeland gee byvoorbeeld ’n Afrikaanse e-tydskrif, Brokkies, uit en daarin word ’n ongelooflike aantal kerkdienste in Afrikaans geadverteer.
Maar terug in Suid-Afrika. Sal ’n Afrikaanse gemeente ’n Engelssprekende gesin wat graag daar dienste wil bywoon of lidmate word, uitsluit omdat hulle nie Afrikaanssprekend is nie? Hulle is welkom, solank hulle bereid is om die dienste in Afrikaans te volg. Daar is immers ook gemengde egpare waar of die man, of die vrou, Engelssprekend of van ander herkoms is. Eksklusief Afrikaans beteken dus selde fisieke uitsluiting.
Tog is daar in skynbaar veral akademiese kringe ’n groot vertoon dat die blote teenwoordigheid van Afrikaans op totale uitsluiting, noodwendige diskriminasie en ’n handvol ander liederlikhede neerkom. Dit ten spyte daarvan dat, soos by Kovsies, daar volwaardige Afrikaanssprekende en Engelssprekende klasse was. ’n Klomp spookstories soos dat dosente in Afrikaans die eksamenvrae aan hul studente verskaf, is as kapstok gebruik om op “probleme” met die stelsel te wys, in plaas daarvan om die spookstories met dikwels sterk rassistiese ondertone, hok te slaan.
In Engels is daar ’n woord wat die posisie van Afrikaans mooi beskryf, die “bottom line.” Die Afrikaans, slotreël, is egter net so beskrywend. Dit is die punt waar, ná al die uitreik en wegkoes van diskriminasie, nog ’n groter pond vleis geëis word. Dit is dan waar Afrikaanse instellings se inklusiwiteit en eksklusiwiteit uiteindelik onbuigbaar ontmoet, en waar ’n getorring daarmee konflik en die howe afgee.
Komplekse kwessies kan nie deur rigiede filosofiese benaderings beredder word nie. Onder Jansen se bestuur is die kultuurkoshuise op Kovsies, wat op aandrang van swart studente ingestel is, as boos geklassifiseer en moes mee weggedoen word. Dit het wel met die bereik van ’n kantelpunt gepaard gegaan waar swart studente die meerderheid geword het. Die TV in die “gazellie” is spreekwoordelik van Afrikaans, en rugby-uitsendings, oorgeskakel na Engels en sokkeruitsendings, as voorbeeld. In die VSA het verskeie universiteite begin om afsonderlike koshuise vir die swart minderheid in te rig, of minstens gange waar swart studente ’n soort eiesoortigheid kan handhaaf.
Die fusie van taalgroepe bring nie noodwendig minder probleme teweeg as die alternatiewe nie.
Uiteindelik gaan die brûe wat die ATKV met die Afrikaans Plus-veldtog beplan, en eintlik lankal reeds mee besig is, asook soortgelyke aksies van ander Afrikaanse kultuurorganisasies, se lakmoestoets wees of dit in die eerste plek Afrikaanse organisasies gaan bly, en tweedens of dit doeltreffend gaan aandag gee aan die posisie van Afrikaans in ’n omgewing van vooropgesette vooroordele en selfs haat.
Daardie taak is egter nie net kultuurbewegings en ander s’n nie. Die mooiste verhale van genormaliseerdheid kom byvoorbeeld van judo- en ander toernooie wat in groot harmonie plaasvind. Soms word wel “ter wille van” van Afrikaans as een van die toernooitale afgestap, maar dikwels word dit sonder ’n rimpeling saam met Engels gebruik.
Ongelukkig wys Waldimar Pelser in sy artikel hierbo genoem na oorgenoeg terreine waar konfliklose assosiasie nié gebeur nie. En dit sluit nie eens die regering in wat ’n president in stand hou wat die rassekaart mildelik as verdelende faktor inspan nie. En is dit naby verkiesings nie amper komies om te sien watter ministers skielik Afrikaans kan praat nie?
Ja, ons moet uitreik en brûe bou, maar nie ten koste van kultuurgroepe se grondwetlike reg om as sodanig hul reg tot bestaan en uitlewing te verskans nie.