![]()
Jacob Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA
Dit is nie ongewoon dat die burgery van ’n land selfs betreklik kort ná ’n verkiesing kan voel die regerende party hou nie by sy mandaat /sosiale kontrak nie, en dat die demokrasie só eintlik gesteel is. Dit blyk immers uit ’n nuwe Amerikaanse peiling. Maar dat die demokrasie op die omvang van dit wat nou voor ons oë ontvou, in die vorm van ’n staatskaping gesteel is, is stellig sonder weerga. Die kapers het wel vyfdekolonners tot hul beskikking gehad, maar die vraag is nou hoe om die land vir die demokrasie te herwin.
Vanuit regeringskringe, en veral uit die mond van pres. Jacob Zuma, gaan daar gereeld stemme op dat die land se onafhanklike howe die demokrasie ondermyn. Die howe is al as deel van die land se opposisie beskryf, soos wat meerderheidsbesluite deur die ANC in die howe omgekeer word. Dit word dan sommer as kapstok gebruik oor hoekom die staat nie by sy ontwikkelingsdoelwitte sou kon uitkom nie – die howe steek net te gereeld ’n stok in die wiel om behoorlike uitvoering te gee.
Maar het die ANC hom nie deur die hantering van die staatskaping skuldig gemaak aan die ernstige verwonding van die demokrasie nie? Dit waaroor die ANC wel so kla, is internasionale praktyk. Op die oomblik word Pole gedreig dat dit sy stemreg in die Europese Unie kan verbeur as deurgedruk word met vier wette wat ten doel het om die howe van hul onafhanklikheid te stroop, en onder die gesag van die minister van justisie te plaas.
Wat die ANC skynbaar as demokrasie verstaan, kom eerder neer op die tirannie van die meerderheid.
’n Regering verkry ’n mandaat van die kiesers, wat ook as sosiale kontrak bekend staan. Nie alles kan in so ’n kontrak en sy fynskrif voorsien word nie, soos dat omstandighede die regering kan verplig om sonder oorleg met die bevolking oorlog te verklaar – iets wat immers nie deel van die regerende party se verkiesingsbeloftes was nie. Tog is dit nie ongewoon dat kiesers meen hulle is deur hul regering aan die hakskeen gebyt nie. In die VSA meen net 23 % van die kiesers die regering het ’n mandaat van die kiesers om te doen wat hy doen. Bykans 60 % van die kiesers meen die regering het nie ’n mandaat vir wat hy doen nie, en ongeveer 20 % meen hulle is nie seker nie.
Maar Suid-Afrikaanse kiesers het rede om te brom. Geen party het immers met die laaste, of vorige verkiesing, aangedui dat hulle ten gunste van staatskaping is nie. Niemand kon dus daarvoor stem nie. En meer as genoeg data het reeds aan die lig gekom om die staatskaping as ’n nare werklikheid te aanvaar.
Volgens getuienis in die dissiplinêre verhoor van diegene wat geoffer word oor die Nkandla-skandaal, het dit in getuienis aan die lig gekom dat daar geen tenderproses was om die kontrakteur aan te stel wat die hoofkompleks gebou het nie. Volgens getuienis het Zuma self aangedring dat die betrokke kontrakteur aangestel word, omdat hy reeds op die terrein was om ander werk te doen. Die demokrasie kon nie vroeër hierop reageer nie, want dit is in die geheim uitgevoer.
En dan was dit boonop nog eerder ’n geval van brouwerk as bouwerk.
Dit blyk boonop ’n onbegonne taak te wees om Zuma af te dank, of om die staatskaping in sy spore te stuit.
Het die demokrasie dan misluk?
Volgens Zuma se vertolking gee ’n verkiesing vir die oorwinnaar grasie (van vervolging weens misdaad, en ’n verskansing teen die gevolge van brouwerk), en hoef hy hom ook nie aan sy ampseed te steur nie. En die sosiale kontrak? Watter sosiale kontrak?
Tog is daar ratte wat stadig, maar seker, draai. Terwyl die ANC, en spesifiek die ANC in Zuma se vesting, KwaZulu-Natal, dissiplinêre stappe instel teen dr. Makhosi Khosa, wat haar teen vergrype in die ANC uitspreek, het die parlementêre komitee oor openbare ondernemings, die Guptas en Duduzane Zuma, seun van die president, ontbied om vrae oor die staatskaping te beantwoord.
Dit is duidelik dat ’n deel van die ANC nie die staatskaping gesluk kan kry nie. Dit reflekteer immers swak op hulle dat die land so onder hul neuse uitgesteel is. Daar kan selfs, politiek-inkorrek, gevra word of die Guptas se ras nie deel van die verontwaardiging uitmaak nie – Indiërs wat ’n swart regering behoorlik vir ’n ride gevat het.
En dan sal daar stellig ook hier en daar een wees wat afgunstig is omdat hy/sy “oorgeslaan” is toe die ruim lokaas, en later ’n deel van die buit, milddadig van hande verwissel het.
Dit sal interessant wees om te sien of die regering (as deel van ’n paleisrewolusie) self die demokrasie kan herstel. Tog is dit duidelik dat die burgerlike samelewing die spore diep sal moet bly inslaan om te verseker dat die krisis op die een of ander manier opgelos kan word.