Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all 56621 articles
Browse latest View live

Pta-gebou ontruim

$
0
0

Nooddienste by die gebou wat ontruim is in Pretoria se middestad. Foto: Verskaf

ʼn Gebou in Pretoria se middestad moes Woensdagmiddag ontruim word.

Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, het aan Maroela Media gesê die mense is ontruim nadat die gebou in digte rook gehul is. Die City Property-gebou, die Apollo, is op die hoek van Helen Joseph (Proes)- en Du Toitstraat.

Die Citizen-dagblad se Pretoria-kantoor is in dié gebou geleë. Pieterse het gesê brandbestryders is tans in die gebou se kelderparkeergebied waar ʼn transformator brand.

“Die brandweer is 12:15 na die toneel ontbied. Brandbestryders het weens die digte rook lank na die oorsaak gesoek omdat daar net rook was en geen vlamme nie. Die oorsaak van die brand het agter die transformator begin en kan weens rommel of elektriese drade wees,” het hy gesê.

Drie mense is behandel vir ligte rookinaseming. Geen ander beserings is aangemeld nie.

“Alles is onder beheer en word gemonitor. Hier is wel voertuie in die kelder, maar dit is veilig,” het Pieterse bygevoeg.

Lize Nel, woordvoerder van City Property, het hul dank uitgespreek teenoor die Tshwane-nooddienste wat vinnig op die toneel was. “Ons is ook dankbaar dat hulle ons deurlopend op hoogte gehou het van verwikkelinge,” het sy gesê.

Sy het al die rolspelers bedank wat met die ontruiming gehelp het. “Die hele ontruimingsproses het sonder enige voorvalle plaasgevind en ons is dankbaar dat al ons huurders veilig is. Hul veiligheid is ons eerste prioriteit.”

Nooddienste op die toneel. Foto: Aserie Ndlovu


Vermiste vissermanne: Nog ʼn liggaam gevind

$
0
0

Die omgeslaande vissersboot is Sondag naby die kuslyn by Sunset Rocks gevind. Foto: SAPD

ʼn Liggaam van een van die agt vissermanne wat sedert Sondag vermis word nadat hul boot in die see naby Kaap St. Francis in die Oos-Kaap omgeslaan het, is Woensdag gevind.

Sers. Majola Nkohli, woordvoerder van die polisie, het gesê die lede van die reddingspan het omstreeks 09:00 gesien hoe ʼn liggaam in die see naby Blue Horizon Bay in Port Elizabeth dryf. Die liggaam is uit die water gehaal en na die hawe by St. Francisbaai geneem.

“Die persoon is intussen as Mbongeni Gift Zulu (43) van Jeffreysbaai geïdentifiseer. Zulu was een van die vissermanne wat Sondag vermis geraak het,” het Nkohli gesê. ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

Maroela Media het vroeër berig ʼn tjokka-boot met 16 vissermanne aan boord het Sondag omstreeks 03:30 in die see by Thyspunt omgeslaan. Sewe vissermanne is later lewend op ʼn strand gevind en ses van hulle is gehospitaliseer. Een van die vissermanne se liggaam is Sondag langs die kuslyn naby Sunset Rocks gevind.

Nkohli het ʼn dringende beroep gedoen op enige vrywilligers wat bereid is om met die soektog te help, om kapt. Johan Du Toit by 071 475 1831 te kontak. Die soektog na die oorblywende sewe vissermanne duur voort.

Hier is SA se 20 beste hospitale

$
0
0

Argieffoto

Die mediesefondsadministrateur Discovery Health het pas weer sy jaarlike peiling oor hospitale bekend gemaak.

Die uitslae is die gevolg van Discovery se peiling waar lede van mediese fondse die geleentheid kry om konstruktief hul menings uit te spreek oor gesondheidsorgverskaffers en die sorg wat hulle in hospitale ontvang het.

Dr. Roshini Moodley Naidoo, hoof van gehaltesorg by Discovery Health, het gesê dit is wêreldwyd standaardpraktyk om die gehalte van gesondheidsorg, insluitend die pasiënt se ervaring daarvan, te meet.

“Bewustheid rakende die gehalte van gesondheidsorg het toegeneem weens ons peiling. Sedert ons drie jaar gelede die resultate begin bekend maak het, het ons positiewe veranderinge begin sien in hoe pasiënte gesondheidsorg ervaar.”

Naidoo het gesê die analise van die resultate neem faktore soos die aard van siektes en die ouderdom en geslag van pasiënte in ag ten einde ’n regverdige vergelyking tussen hospitale te verskaf. Altesame 136 hospitale is in die peiling ontleed.

Nege hospitale is vir drie jaar agtereenvolgens onder die land se top-20-hospitale.

Die 20 beste hospitale word alfabeties gelys en nie volgens ’n ranglys nie.

  1. Cormed-kliniek (Gauteng)
  2. Ethekwini-hospitaal en -hartsentrum (KwaZulu-Natal) – Top-20-hospitaal oor die afgelope drie jaar
  3. Gateway- private hospitaal (KwaZulu-Natal)
  4. Hillcrest- private hospitaal (KwaZulu-Natal) – Top-20-hospitaal oor die afgelope drie jaar
  5. Life Bay View- private hospitaal (Wes-Kaap)
  6. Life Rosepark-hospitaal (Vrystaat)
  7. Lowveld-hospitaal (Mpumalanga) – Top-20-hospitaal oor die afgelope drie jaar
  8. Mediclinic Cape Gate (Wes-Kaap)
  9. Mediclinic Ermelo (Mpumalanga)
  10. Mediclinic George (Wes-Kaap)
  11. Mediclinic Hoogland (Vrystaat)
  12. Mediclinic Louis Leipoldt (Wes-Kaap)
  13. Mediclinic Milnerton (Wes-Kaap) – Top-20-hospitaal oor die afgelope drie jaar
  14. Mediclinic Panorama (Wes-Kaap) – Top-20-hospitaal oor die afgelope drie jaar
  15. Mediclinic Stellenbosch (Wes-Kaap) – Top-20-hospitaal oor die afgelope drie jaar
  16. Midvaal- private hospitaal (Gauteng) – Top-20-hospitaal oor die afgelope drie jaar
  17. Netcare Jakaranda-hospitaal (Gauteng)
  18. Netcare N1 City-hospitaal (Wes-Kaap)
  19. Wilmed Park- private hospitaal (Noordwes) – Top-20-hospitaal oor die afgelope drie jaar
  20. Zuid-Afrikaans-hospitaal (Gauteng)– Top-20-hospitaal oor die afgelope drie jaar

SAUK-hoë se bedanking ‘ʼn erkenning van skuld’

$
0
0

James Aguma. Foto: SAUK

Die staande komitee oor openbare rekeninge in die parlement (Scopa) het Woensdag sy skok uitgespreek oor die skielike bedanking van James Aguma, die hoof finansiële beampte van die beleërde SAUK.

Aguma se bedanking kom voordat daar uitspraak gelewer kon word in verband met die dissiplinêre prosesse teen hom.

Themba Godi, Scopa-voorsitter, het in ʼn verklaring gesê die komitee sien Aguma se bedanking as “ʼn erkenning van skuld vir die finansiële gemors waarin die SAUK homself bevind”.

“Mnr. Aguma het miskien vermy dat ʼn lys van klagtes teen hom ondersoek word, maar as Scopa doen ons ʼn beroep op die tydelike SAUK-raad om die ondersoek voort te sit om die strafregtelike aanspreeklikheid van alle beamptes en bestuurders by die SAUK, insluitende mnr. Aguma, te bepaal.

“Na aanleiding van die interne ouditverslag oor kontrakte wat outomaties hernu word, glo Scopa dat sommige beamptes, insluitend mnr. Aguma, verdere vrae het om te beantwoord. Scopa doen ʼn beroep op die interne forensiese ouditeenheid van die SAUK en die spesiale ondersoekeenheid om die ondersoek te bespoedig sodat die persone wat verantwoordelik is vir onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende besteding aanspreeklik gehou kan word.”

Scopa het ook die SAUK se tydelike raad gelukgewens met hul pogings om die SAUK reg te ruk en “ʼn einde te bring aan die strafloosheid wat oortreders soos mnr. Aguma vir te lank geniet het”.

“Soos Scopa voorheen gesê het, die gety het gedraai teen korrupte beamptes by die SAUK en as ʼn komitee sal ons voortgaan om die SAUK fyn dop te hou totdat daar streng gehoor gegee word aan die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en die regulasies van die nasionale tesourie oor die bestuur en besteding van openbare fondse.”

Dís hoekom China Winnie the Pooh sensor

$
0
0

Sommige van die foto’s wat op die sosialemedianetwerk gedeel word

Die gewilde strokiesprentkarakter Winnie the Pooh word in China gesensor nadat honderde foto’s en aanmerkings op die internet opgeduik het waar sosialemediagebruikers die Chinese president op ʼn tergende wyse met dié plomp karakter vergelyk.

Die meeste van dié foto’s en kommentare teenoor Xi Jinping, die president, is op die sosialenetwerk Weibo versprei – ʼn netwerk soortgelyk aan Facebook wat 340 miljoen aktiewe gebruikers het.

Volgens die BBC is geanimeerde foto’s van dié karakter van WeChatt verwyder, terwyl gebruikers van Weibo nie meer foto’s of kommentare van Winnie the Pooh mag versprei nie. Alle foto’s of frases met verwysing na dié karakter word verwyder.

Sommige van die foto’s wat soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het, is een van Jinping en Shinzo Abe, die eerste minister van China, wat mekaar ’n handdruk gee ná ʼn perskonferensie. ʼn Foto van die twee politieke leiers is gekombineer met ʼn foto van Pooh en Tigger, nog ʼn strokiesprentkarakter uit dieselfde strokiesprentreeks, wat ook kwansuis bladskud.

Jinping is ook in ander gekombineerde foto’s te sien waar hy sy kop by ʼn amptelike motor uitsteek, en tydens ʼn gesprek met die voormalige Amerikaanse president, Barack Obama.

Volgens die BBC is dié gegekskeer met die president en ander politieke leiers strategies beplan. Volgens die nuusnetwerk het die kommunistiese party binnekort ʼn belangrike vergadering waar talle regeringsposte wat beskikbaar is, bespreek gaan word. Amptelike owerhede kan glo frases op die internet sensor wat teen dié kommunistiese party is.

Sommige van die foto’s wat op die sosialemedianetwerk gedeel word

Sommige van die foto’s wat op die sosialemedianetwerk gedeel word

Sommige van die foto’s wat op die sosialemedianetwerk gedeel word

Die wêreld in foto’s – 19 Julie 2017

$
0
0

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Sung-Hoon Kang van Korea tydens ’n oefenronde by die Britse Ope-gholftoernooi in Southport, Engeland. (Foto: Dave Thompson, AP)

Kate Middleton, die Hertogin van Cambridge, hou haar dogtertjie, prinses Charlotte, se hand vas terwyl hulle ’n Poolse lughawe verlaat. Die Britse koninklikes, William en Kate, was op besoek in Pole om vriendskaplike bande te versterk noudat Brittanje die Europese Unie verlaat. (Foto: Czarek Sokolowski, AP)

Boere van Indië luister na ’n spreker tydens ’n protesaksie in Nieu-Delhi teen Narendra Modi, die premier van Indië, en sy regering. Die boere eis beter pryse vir hul produkte en verligting van skuld. (Foto: Altaf Qadri, AP)

’n Polisiehond speel in ’n swembad om af te koel in die suid-weste van China. Die honde se hanteerders maak gebruik van verskillende maniere om die honde lafenis teen die hitte te bied. (Foto: Cao Feng, Xinhua)

Kinders van Afganistan ontvang water nadat die regering besluit het om water te verskaf aan 4 000 gesinne in Shiberghan. Die omgewing beleef tans ’n waterskaarste. (Foto: Mohammad Jan Aria, Xinhua)

Jong man skok dood

$
0
0

Paramedici op die toneel. Foto: Verskaf

ʼn 20-jarige man is Dinsdag dood nadat hy vermoedelik by ʼn treinstasie in Stellenbosch doodgeskok het.

Ineke van Huyssteen, woordvoerder van ER24, het gesê die voorval het omstreeks 17:00 by die Du Toit-stasie in Cloetesville in Stellenbosch in die Wes-Kaap plaasgevind.

“Met paramedici se aankoms op die toneel is die man langs die treinspore aangetref en ʼn groot groep mense het hom omring,” het Van Huyssteen gesê.

“Ongelukkig kon daar niks vir hom gedoen word nie en hy is op die toneel dood verklaar.”

Die presiese omstandighede rondom die man se dood is onduidelik en word deur die polisie ondersoek.

 

Wildtuin-werkers se staking uitgestel

$
0
0

Argieffoto: Sanparke

Die bestuur van SANParke het Woensdag bevestig dat ʼn aantal van sy werknemers in verskeie afdelings en by verskeie parke begin staak het.

Die staking is egter gou uitgestel ná ʼn vergadering tussen die partye, SANParke en die vakbond Hospersa by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA). Albei partye het ingestem dat die staking tot 24 Julie uitgestel word.

SANParke het Vrydag reeds gesê hy het ʼn amptelike kennisgewing van die vakbond Hospersa ontvang dat sy lede gaan staak nadat onderhandelinge oor salarisverhogings ’n dooie punt bereik het.

“Alle nasionale parke is geëvalueer en ons het bevind dat daar sekere plekke is waar personeel nie vir werk aangemeld het nie, of wel aangemeld het en toe as gevolg van die staking weg is,” het Janine Raftopoulos, hoof van kommunikasie by SANParke, vroeër Woensdag gesê. “Ons het gebeurlikheidsplanne in alle parke in werking gestel en sal die situasie noukeurig monitor.”

Raftopoulos het gesê die polisie, weermag en vrywilligers van Working for Water is Woensdag na alle ingange ontplooi om besoekers se veiligheid te verseker.

Hospersa dring aan op ʼn 9%-salarisverhoging vir hul lede, terwyl SANParke bereid is om ʼn 6% plus 1% se betalingsverhoging toe te staan. Hospersa het vroeër in ʼn verklaring gesê SANParke het in die vorige boekjaar ʼn wins van R1,29 miljard aangeteken, en dat ʼn 9%-verhoging dus in hul mening geregverdig is.

Die KVBA het albei partye versoek om terug te keer na die onderhandelingstafel om voor dan te probeer om die kwessies op te los.

SANParke het die KVBA bedank vir sy volgehoue poging om ’n werkbare oplossing te vind.


Eerste dubbele handoorplanting vir kind ’n sukses

$
0
0

Zion Harvey. Foto via inspiremykids.com

Dokters van Amerika het vandeesweek gesê die eerste dubbele handoorplanting vir ’n kind was ʼn sukses nadat die agtjarige ontvanger van dié twee hande nou ʼn doodnormale lewe lei.

Zion Harvey (nou 10) van Baltimore in Maryland, Amerika, het twee jaar gelede die eerste kind geword wat só ʼn uiteenlopende en gevaarlike operasie ondergaan het.

Dokters het vandeesweek aan die mediese joernaal The Lancet Child & Adolescent Health gesê dié grensverskuiwende operasie kan nou vir ander ook die moontlikheid bied om weer ʼn “normale” lewe te lei.

Harvey se hande en voete is op tweejarige ouderdom geamputeer nadat hy septisemie opgedoen het.

“18 maande ná die oorplanting het Harvey uitstekend aangepas. Hy kan nou skryf, homself alleen aantrek en alles meer doeltreffend doen as wat hy voor die oorplanting kon doen,” het dokters van die Children’s Hospital in Philadelphia gesê.

Die 10-jarige sê hy is dankbaar om deesdae normaal te kan leef en om daartoe in staat te wees om sport en ander aktiwiteite te beoefen. “Daar was ʼn deel van my wat vermis was. Noudat ek weer hande het, is my lewe volmaak,” het hy gesê.

Die operasie het sowat 11 uur geduur en vier spanne dokters was daarby betrokke.

Orgaanoorplanting, veral op kinders, is nooit ʼn definitiewe sukses nie omdat die liggaam die nuwe organe altyd kan verwerp. Volgens dokters het die medikasie wat hy voor en ná die oorplanting moes gebruik, ook talle gesondheidsrisiko’s ingehou.

Lorna Marson, uitvoerende hoof van die Britse oorplantingsvereniging, sê suksesverhale soos dié wys hoe innovasie en wetenskap die potensiaal het om die gehalte van talle mense se lewens te verbeter.

“Die mediese veld van oorplantings verander en groei konstant, en dit is wonderlik om positiewe uitkomste soos dié van Zion te hoor,” sê sy.

Meer as 100 mense wêreldwyd het al ʼn hand- of armoorplanting ondergaan sedert die eerste van dié oorplantings in 1998 uitgevoer is.

 

Agt sterf op Mpumalanga-paaie

$
0
0

Een van die wrakke. Foto: Verskaf

Agt mense is in twee afsonderlike botsings in Mpumalanga dood.

Joseph Mabuza, woordvoerder van Pat Ngomane, die LUR vir gemeenskapsveiligheid in die provinsie, het Woensdag gesê die eerste ongeluk het Dinsdag om 14:30 op die N4 tussen Komatipoort en Hectorspruit plaasgevind.

“ʼn Swaarvoertuig en ʼn sportnutsvoertuig het mekaar reg van voor getref. Drie insittendes van die sportnutsvoertuig is op die toneel dood. Een persoon moes met ʼn helikopter na ʼn hospitaal geneem word en ʼn vyfde persoon is in ʼn ernstige toestand met ʼn ambulans na ʼn hospitaal geneem.”

Die tweede ongeluk het Woensdag omstreeks 11:15 op die R536 tussen Mkhuhlu en die Krugerwildtuin plaasgevind.

“Vyf mense is dood toe ʼn minibustaxi met ʼn konstruksievoertuig gebots het. Een van die oorledenes sluit ʼn vier maande oue baba in. Twee mense is kritiek beseer, twee ernstig en vyf het geringe beserings opgedoen. Hulle is op die toneel behandel en na nabygeleë hospitale geneem.”

Ngomane het sy innige meegevoel met die oorledenes se familie betuig.

Hy het gesê die aard van die botsing dui op die nalatigheid van sommige motoriste. “Die meeste botsings word veroorsaak deur swak besluite wat deur bestuurders gemaak word wat ongeduldig en ongehoorsaam is.”

Volgens Ngomane kan 99% van die ongelukke verhoed word as motoriste hul houdings teenoor ander motoriste verander wanneer hulle agter die stuurwiel inklim.

‘Geldprobleme’ lei tot tragedie

$
0
0

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

ʼn 60-jarige man het Woensdag glo twee mense geskiet voor hy homself om die lewe gebring het.

Kapt. Johan Rheeder, polisiewoordvoerder, het gesê die voorval het in Bethelsdorp, suid van Port Elizabeth, plaasgevind.

Volgens Rheeder het die man, Ronald Vogelstruis, glo geweldige finansiële stres ervaar oor die aankoop van ʼn eiendom.

“Volgens die man se vrou was hy nie in ʼn goeie finansiële posisie nie en het hy ook nie vandag goed gevoel nie,” het Rheeder gesê.

Rheeder het gesê Vogelstruis het na bewering omstreeks 06:00 na sy bure naby die Broadway-winkelsentrum gegaan en lukraak op die twee mans, onderskeidelik 40 en 52 jaar oud, begin skiet. Hulle is gewond en moes na ʼn hospitaal geneem word vir behandeling. Die motief vir die skietery is onbekend.

“Ná dié voorval het hy ʼn ander vuurwapen gaan haal en na sy broer se huis gegaan wat sowat ʼn kilometer verder was. Niemand was by die huis nie en hy het homself daarin toegesluit.”

Die polisie is na die toneel en het vir twee en ʼn half uur probeer om Vogelstruis te oortuig om uit die huis te kom.

Rheeder het gesê die polisie het omstreeks 09:00 ʼn skoot in die huis hoor afgaan.

Die polisie ondersoek twee sake van poging tot moord en ʼn doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

Die polisie het ook beslag gelê op twee geregistreerde vuurwapens.

‘Massa-grondbesettings kom op 31 Desember’

$
0
0

Andile Mngxitama, die leier van Black First Land First (BLF), en sy adjunk, Zanele Lwana, praat met verslaggewers in Pretoria. Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Andile Mngxitama, die leier van Black First Land First (BLF), het Woensdag gesê die organisasie maak gereed om uitgebreide grondbesettings reg oor Suid-Afrika uit te voer, wat volgende jaar nog verder verskerp sal word.

“Swart mense het nie grond nie. Ons het nog heeltyd net klein deeltjies hier en daar gevat, maar nou vat ons meer en meer. Julle sal sien dat hierdie veldtog gaan verskerp. Die nag van 31 Desember is die nag wat ons gaan seker maak ons is gereed. Ons is besig om grondonteieningkomitees reg oor die land op die been te bring om wit gesteelde grond te identifiseer,” het Mngxitama aan verslaggewers in Pretoria gesê.

“Ons gaan inbeweeg. Julle sal vanaf die begin van Januarie 2018 massiewe grondbesetting sien. Maar hierdie Saterdag al het ons ʼn grondbesetting in Ekurhuleni, so dit gaan voort. Dit is alles net deel van die kleedrepetisie. Ons is ook besig om ʼn landboukollege op te stel om ons mense te leer hoe om grond [boerdery] op ʼn alternatiewe manier te doen.”

Mngxitama het gesê BLF het ook ʼn aanmaningsbrief van die “rassistiese, ekstremistiese en kriminele organisasie AfriForum” ontvang waarin BLF gemaan word om op te hou om te dreig om grond te beset.

“AfriForum is ʼn spul gronddiewe. Soos hulle aangaan, sal ek seker maak hulle verlaat hierdie land. Ons sal nie toelaat dat gronddiewe soos AfriForum ons boelie deur die howe te gebruik nie. Ons het ʼn brief van hulle prokureurs af ontvang wat sê ons moet ons daarvan weerhou om te sê ons gaan die grond terugvat. Dit is absolute nonsens,” het Mngxitama gesê.

Mngxitama het joernaliste by die Mededingingskommissie toegespreek kort nadat die BLF-leierskap ʼn vergadering met kommissaris Tembinkosi Bonakele gehad het. Volgens Mngxitama is een van die kwessies wat bespreek is die boetes wat maatskappye opgelê word wanneer daar bevind word dat hulle by korrupte aktiwiteite betrokke was.

Hy het gesê volgens wet kan die maatskappy tot ʼn maksimum van 10% van sy jaarlikse omset beboet word, maar BLF voer aan boetes moet 100% van die jaarlikse omset wees. “Ons het ʼn baie deeglike gesprek gehad oor die noodsaaklikheid om die wet in hierdie verband te verander. Ons gaan hard druk en met LP’s en ander rolspelers praat om seker te maak dat hierdie kwessie opgelos word.”

Hy het gesê BLF voer ook aan dat korrupte maatskappye persoonlik aanspreeklik gehou moet word vir hierdie misdade. “Hierdie mense kruip agter die maatskappye weg. Byvoorbeeld die konstruksiekartel wat van ons gesteel het in die tyd rondom die FIFA Wêreldbeker. Hulle was maar te bly om die 10% te betaal en hulle was betrokke by die sameswering. Kom ons noem dit korrupsie, want wit korrupsie word samespanning genoem in hierdie land. Daardie wit bestuurders het miljarde by ons mense gesteel en het net ʼn bietjie geld betaal om skotvry daarvan af te kom,” het hy gesê.

Mngxitama het ook verwys na die beslissing van die hooggeregshof in Johannesburg wat vroeër vandeesmaand ʼn interdik aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) uitgereik het om BLF te verhoed om om joernaliste te dreig en te intimideer.

“Ons het geen stryd verloor nie. As daar enige joernalis daar buite is wat ons uitvind rassisties is, sal ons met hulle afreken. Daar is geen stryd wat hier verloor is nie. Die stryd gaan voort. Inteendeel, die stryd het nou net begin. Wys vir ons ʼn rassis en ons wys vir jou hoe hanteer ons ʼn rassis sommer baie vinnig. Rassisme moet nou tot ʼn einde kom. Niemand kan gemaklik daarmee wees dat die hof besluit het rassiste het die reg om rassisties te wees nie.”

Tweede outopsie dui op oorsaak vir Jhb-man se dood

$
0
0

Edward Blonski. Foto: Facebook

ʼn Tweede nadoodse ondersoek wat gedoen is nadat die liggaam van Edward Blonski (32) op 11 Julie in ʼn dam by die dieretuinmeer in Johannesburg gevind is, het meer lig gewerp op die oorsaak van die argitekstegnoloog se raaiseldood.

Jacqueline Wijtenburg, Blonski se niggie, het vroeër aan Maroela Media gesê die familie het ʼn private patoloog aangestel om ʼn tweede nadoodse ondersoek te doen nadat die uitslag van die eerste nadoodse ondersoek onbeslis was weens die gevorderde ontbinding van die liggaam. “Ná die tweede outopsie gedoen is, dui die bewyse daarop dat Edward verdrink het,” het Wijtenburg gesê.

“Dit is onmoontlik vir die forensiese patoloog om te bepaal wat veroorsaak het dat hy verdrink het. Ons sal waarskynlik nooit weet nie en sal met tyd daarmee vrede maak. Die polisie se ondersoek duur steeds voort en ons wag op hul volledige verslag. Daarna sal die howe ʼn geregtelike doodsondersoek doen wat dalk, of dalk nie, nog antwoorde aan die lig kan bring.”

Maroela Media het vroeër berig Blonski het op 24 Junie in Parkview, Johannesburg, vermis geraak. ʼn Grootskaalse soektog is van stapel gestuur en beeldmateriaal van veiligheidskameras het later gewys hoe Blonski sonder skoene om die dieretuinmeer draf. Sy liggaam is op 11 Julie deur verbygangers in ʼn dam by die dieretuinmeer gevind. Daar was geen sigbare beserings aan sy liggaam nie omdat dit reeds in ʼn gevorderde stadium van ontbinding was.

Blonski se begrafnis is Woensdag in die Holy Trinity Katolieke Kerk in Braamfontein gehou. Volgens Wijtenburg was daar ʼn groot groep van sy familie en vriende om hom finaal te groet.

“Edward was vir ʼn hele paar jaar ʼn vrywilliger by ʼn gemeente-sopkombuis wat kos aan haweloses gee. Priester Matthew Charlesworth het in sy huldeblyk vertel van Edward se onvergeetlike goedheid aan die mense wat hy bedien het. Soveel so, dat 12 van die hawelose mans en vrouens aan hom gesê het hulle het soekgeselskappe georganiseer om na hom te soek toe hulle einde Junie uitgevind het hy word vermis,” het Wijtenburg gesê.

“Daar is niks verder wat ons nou met die publiek kan deel nie en ons sal nou met ons reis van private genesing begin.”

Twee hoërskoolseuns sterf tragies

$
0
0

Raymond Olivier en Cornel Bekker

’n Visvanguitstappie het tragies geëindig vir twee matriekleerders aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp.

Raymond Olivier en Cornel Bekker, albei 18 jaar oud, is Woensdag dood nadat ʼn gasverwarmer in hul tent vermoedelik gelek het of ʼn tekort aan suurstof veroorsaak het.

Constance Strydom, bemarkingsbestuurder van die Hoërskool Monument, het aan Maroela Media gesê die twee matriekseuns het Dinsdag by ’n kampeer- en visvangplek buite Krugersdorp aangekom. “Volgens die inligting wat ons het, het hulle deur die nag visgevang. Hulle het toe glo 05:00 Woensdagoggend in hul tent gaan slaap en die gasverwarmer aangesit aangesien dit baie koud was.”

Volgens Strydom het ’n werker omstreeks 16:00 snaakse geluide uit die tent gehoor en ’n bestuurder in kennis gestel. “Met die bestuurder se aankoms by die tent was een van die seuns reeds dood. Daar is onmiddellik met noodbehandeling op die ander seun begin, maar hy is kort daarna dood verklaar.”

Strydom het gesê ’n roudiens sal vir die twee leerders gehou word nadat die skool volgende week heropen het. “Cornel en Raymond sal onthou word vir die dierbare en geliefde seuns wat hulle was. Hul afsterwe los ’n leemte in ons hart, maar ons is ook dankbaar dat ons die voorreg gehad het om hulle te kon leer ken.”

Die skool het hul innige simpatie betuig met die seuns se ouers, familie en vriende. Bekker het op die skool se matriekraad gedien.

Sassa kry tussentydse hoof

$
0
0

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling (Foto: ANA)

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, het ʼn tussentydse uitvoerende hoof vir die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) aangestel.

Phearl Bhengu vervang Thokozani Magwaza nadat sy kontrak vroeër vandeesweek gekanselleer is.

Bhengu dien sedert 2012 as Sassa se streeksbestuurder in KwaZulu-Natal.

Die departement het in ʼn verklaring gesê Dlamini het Woensdag met Sassa-personeel vergader om hulle in kennis te stel van die aanstelling.

“Die minister het gesê die tussentydse uitvoerende hoof se eerste prioriteit is om stabiliteit in Sassa te bring en ook te verseker dat Sassa fokus op sy konstitusionele mandaat om maatskaplike toelaes te administreer en te betaal,” lui die verklaring.

Die departement het Maandag in ʼn verklaring gesê Dlamini en Magwaza het ooreengekom om sy dienste te kanselleer ná ʼn konsultatiewe proses deur die hoof van regsdienste, adv. Nkosinathi Dladla. Lees meer hier.

Magwaza en Dlamini het gereeld kop gestamp oor hoe die toelaag-debakel hanteer is en Magwaza was glo besig om met die poskantoor te onderhandel om toelaes daar te laat uitbetaal toe hy Maandag die trekpas gekry het.


Berugte juweledief (86) weer aangekeer

$
0
0

Doris Payne (Januarie 2016) Foto: AP Photo/John Bazemore, File

ʼn Berugte juweledief met ʼn misdaadloopbaan wat oor ses dekades strek, is weer aangekeer toe sy gesteel het.

Doris Payne (86) is Maandag by ʼn Walmart-winkel in hegtenis geneem nadat sy goedere ter waarde van $86.22 (ongeveer R1 100) gesteel het, het die Chamblee-polisie in Georgia, VSA, gesê.

ʼn Dokumentêre fliek oor Payne se lewe, The Life and Crimes of Doris Payne, het in 2013 verskyn. In ʼn onderhoud met The Associated Press in 2016 het sy ruiterlik erken sy was ʼn dief. Sy is ʼn bekende in juwelekringe en owerhede voer aan sy het al duur juwele uit winkels oor die wêreld heen gesteel.

Haar prokureur, Drew Findling, het egter gesê hierdie geval is anders. “Dit is in skrille kontras met die sake van die verlede. Ons praat nie hier van duur juwele nie. Dit is in hierdie geval dit wat ʼn 86-jarige vrou nodig het om daagliks te oorleef: kos en medikasie.”

Die polisieverklaring het nie besonderhede oor die goedere wat Payne glo wou steel nie.

Findling het gesê hy het na die polisieverklaring gekyk, maar hy moet nog kringtelevisiebeeldmateriaal bestudeer om te sien wat gebeur het.

Payne is in hegtenis geneem toe ʼn werknemer van Walmart ʼn veiligheidswag in kennis gestel het dat Payne sommige items in haar waentjie gelaai het, maar ander items in haar handsak en ʼn inkopiesak gelaai het.

Payne het vir die items in haar waentjie betaal, maar nie dit wat sy in haar handsak of inkopiesak gelaai het nie. Toe sy die winkel wou verlaat, het die veiligheidswag en werknemer haar voorgekeer.

Terwyl sy in die Chamblee-tronk was, het die polisiebeamptes ontdek dat sy ʼn elektroniese enkelmonitor dra, omdat sy vrygelaat is op parool ná ʼn vorige inhegtenisneming in DeKalb. Sy het in Maart skuld erken op ʼn aanklag van winkeldiefstal nadat owerhede gesê het sy wou in Desember 2016 ʼn halssnoer ter waarde van $2 000 (byna R26 000) van ʼn Von Maur-winkel steel.

Payne se enkelmonitor sou oor 10 dae verwyder word, maar sal nou waarskynlik na DeKalb geskuif word omdat sy die voorwaardes van haar parool oortree het.

Payne het in Wes-Virginia grootgeword en het as tiener saam met haar gesin na Ohio verhuis. Owerhede sê sy het al minstens 22 skuilname gebruik oor die jare heen en waarskynlik meer kere met diefstal weggekom as die kere wat sy gevang is. Die Jewelers’ Security Alliance het in die 1970’s reeds ʼn waarskuwing oor haar uitgereik.

Payne het aan AP gesê sy was nog ʼn kind toe ʼn vriendelike winkeleienaar haar toegelaat het om horlosies aan te pas en sy het toe vergeet dat sy die juwele dra. Sy het verduidelik sy het ontdek dat, indien iemand se aandag deur iets eenvoudig afgelei word, dit maklik is om met ʼn sieraad in haar hand te verdwyn. Haar misdaadloopbaan het in haar 20’s begin toe sy besef het dat sy finansieel sou kon oorleef deur juwele te steel.

[This post contains video, click to play]

#GuptaLeaks: Dit is wat jy moet weet

$
0
0
Gupta

Pres. Zuma (foto: Flickr/GovernmentZA- en die drie Gupta-broers (foto’s: who’s Who).

Sunday Times en City Press het einde Mei ʼn berig gepubliseer met bewyse dat die omstrede Gupta-familie Suid-Afrika beheer, nadat hulle toegang gekry het tot 650 e-posse wat tussen die Gupta-broers en hul medewerkers gestuur is.

Op 1 Junie vanjaar het die Daily Maverick se nuwe ondersoekende joernalistieke eenheid, Scorpio, en die onafhanklike nie-winsgewende sentrum vir ondersoekende joernalistiek, amaBhungane, die een na die ander berigte oor vergrype en staatskaping gepubliseer nadat hulle honderde gigagrepe se inligting uit sowat 200 000 unieke e-posse en ander dokumente bekom het.

Die bewyse vir die berigte staan deesdae as die #GuptaLeaks bekend en het Suid-Afrikaners tot in hul wese geskok.

Bruce Whitfield van The Money Show op 702 Talk Radio het verlede week met Susan Comrie, ʼn joernalis van amaBhungane gesels. Whitfield het haar gevra om vir Suid-Afrikaners die grootste onthullings oor die #GuptaLeaks saam te vat:

vega gupta

Die bruidspaar, Vega Gupta en Aakash Jahajgarhia Foto: @ReneDelCarme op Twitter

Estina, KPMG en die troue se uitgawes

Estina, ʼn onbekende maatskappy, het ʼn stuk grond gratis van die Vrystaatse provinsiale regering bekom om ʼn melkery te begin met die bedoeling om plaaslike inwoners te bemagtig. Befondsing van R114 miljoen is ook aan die maatskappy beloof sonder dat die nodige tenderprosesse gevolg is. Dit blyk nou dat Estina uiteindelik R210 miljoen van die provinsiale regering ontvang het.

Die Guptas het hul betrokkenheid by Estina tot dusver ontken, maar ná die onthulling uit die #GuptaLeaks-e-posse weet Suid-Afrikaners daar is verskeie leuens verkondig. Die groot vraag is egter: Wat het met die geld gebeur wat aan Estina vir bemagtiging geskenk is?

Die joernaliste van amaBhungane het bevind dat R84 miljoen na Dubai oorgedra is. Slegs R1,7 miljoen is gebruik om toerusting vir suiwelproduksie aan te koop. Die res van die geld is deur verskeie maatskappy gewas, wat met die Guptas verbind kan word, voordat dit weer na Suid-Afrika teruggekom het.

R30 miljoen is na Linkway teruggestuur om vir die Guptas se troue te betaal.

Vega Gupta, ʼn susterskind van die Guptas, het in 2013 met Aakash Jahajgarhia by Sun City in Noordwes getrou. Die troue was ʼn vierdaagse affêre van ʼn oordadige skaal wat nog nie voorheen in Suid-Afrika gesien is nie.

Mediaberigte dat die troue se gaste die Waterkloof-lugmagbasis as hul persoonlike lughawe vir die geleentheid gebruik het, het die land woedend gehad.

Van die uitgawes wat vir die troue aangegaan is, sluit onder meer R2,3 miljoen vir serpe in en R250 000 wat vir vuurwerke betaal is.

Intussen het siek, honger koeie op die Estina-melkplaas in die Vrystaat op ʼn streep gevrek en is hul karkasse in ʼn sloot gestort.

Linkway het die troue se uitgawes as ʼn besigheidskoste geëis en so is belasting van sowat R8 miljoen glo ontduik.

ʼn Junior ouditeur van die ouditeursfirma KPMG het die eis tydens ʼn oudit  bevraagteken, maar sy kommer is bloot geïgnoreer. Dit terwyl die destydse uitvoerende hoof van KPMG, Moses Kgosana, e-posse aan die Guptas gestuur het waarin hy hulle bedank dat hy die troue kon bywoon en dit as die “gebeurtenis van die millennium” beskryf het.

Nadat sy korrespondensie en betrokkenheid by die Gupta-familie aan die lig gekom het, het Kgosana besluit om nie ʼn pos by Alexander Forbes te aanvaar nie. Die onafhanklike reguleringsraad vir ouditeure (Irba) het ook besluit om hulle eie ondersoek na KPMG se 2014-oudit van Linkway in te stel.

Argieffoto: GCIS

McKinsey en Trillian

McKinsey, ’n internasionale konsultasiemaatskappy, het 30% van ʼn kontrak van Eskom wat ongeveer R1 miljard beloop aan Trillian Management Consulting uitgekontrakteer. Trillian is nog ʼn maatskappy wat met die Gupta-familie verbind word.

McKinsey het hul vennootskap met Trillian as ʼn “ongewenste stuk bagasie” beskryf wat “net daar is vir die 30%” en “in ruil is vir nie veel werk nie”.

Eskom en Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, het voorheen ontken dat enige oorbetalings aan Trillian gemaak is. Tog toon die fakture dat minstens R266 miljoen aan die konsultasiemaatskappy oorbetaal is en dit sluit nóg ʼn faktuur van R153 miljoen uit waarvan amaBhungane bewus is.

McKinsey het sy Suid-Afrikaanse direkteur, Vikas Sagar, gekors en is tans besig om die bewerings te ondersoek.

Die parlement wil nou ook by Brown weet hoekom daar oor die uitbetalings aan Trillian gejok is.

SAP en Sahara

Volgens die Guptas se e-posse blyk dit dat die ITK-groep SAP sowat R100 miljoen betaal het aan ʼn klein maatskappy, wat 3D-drukkers verkoop en op die buitewyke van die Gupta-ryk is.

Daar was ʼn ooreenkoms rondom verkopekommissie wat op die nippertjie gemaak is met CAD House wat bepaal het dat hulle 10% kommissie op die kontrak van R100 miljoen sou kry as dit direkte aanleiding sou gee dat SAP ʼn kontrak met Transnet sou bekom.

SAP beweer dat hulle CAD House se dienste bekom het omdat hulle Transnet as ʼn onderneming buitengewoon goed geken het. Transnet sê egter hulle het nog nooit sake met CAD House gedoen nie.

Voorts het SAP ook gesê hulle het verkies om sake met CAD House te doen omdat hulle 3D-modelle van hul sagteware-oplossings kan vervaardig. Die vraag is egter of R10 miljoen ʼn regverdige uitbetaling is vir plastiekmodelle.

Die kontrakte beloop R10 miljoen, maar amaBhungane weet dat ʼn bedrag van R100 miljoen by die transaksie betrokke was.

SAP sê as daar nog kommissie uitbetaal is, was dit omdat daar nog ander kliënte betrokke is.

Joernaliste van amaBhungane glo daar is genoeg bewyse wat toon dat CAD House ʼn front vir die Guptas was, aangesien meer as 90% van die geld gou vanuit CAD se rekening na Sahara en verskeie maatskappye in die Guptas se besit oorbetaal is.

Seksuele teistering van personeel

ʼn Ontleding van die e-posse in die #GuptaLeaks-skandaal toon dat die Gupta-broers hulself glo verskeie kere skuldig gemaak het aan die seksuele teistering van vroulike personeellede en dat hulle boonop kontant betaal het om hul stilte te koop.

Ten minste drie vroulike personeellede van die Guptas beweer dat hulle seksueel geteister, onbehoorlik aangeraak en met tye geïntimideer is deur twee van die Gupta-broers.

Twee van die vroue het gesê hulle is ná die voorvalle afbetaal.

Bell Pottinger

Die Britse skakelmaatskappy het nog altyd erken dat Oakbay Investment hulle kliënt was.

Dit is nou ook duidelik dat hulle nie net vir die Guptas gewerk het nie, maar ook vir die breër Zuma-faksie, wat onder meer die skryf van toesprake vir militêre veterane van uMkhonto weSizwe en die ANC se jeugliga ingesluit het.

Bell Pottinger se veldtog was daarop gemik om die aandag van Zuma en die Guptas se staatskaping weg te lei en dit eerder op ekonomiese bevryding en witmonopoliekapitaal te vestig.

Die maatskappy is ook daarvan beskuldig dat hulle rassespanning onder Suid-Afrikaners aangewakker het.

Bell Pottinger is glo £100 000 per maand vir hul werk betaal.

Die maatskappy moet volgende maand voor ʼn dissiplinêre verhoor van die bedryfsliggaam wat die Britse industrie vir skakelwerk en bemarking reguleer verskyn. Bell Pottinger het self ook ʼn regsfirma gehuur om hul werk te hersien en een van hul vennote is ontslaan terwyl nog drie werknemers geskors is.

Die maatskappy het ook ʼn verskoning uitgereik waarin hulle gesê het dit wat hulle reeds oor die aanklagtes teen hulle werk vir die Guptas gesien het, is “ontstellend” en “onvanpas en aanstootlik”.

Verskeie organisasies, politieke partye en Suid-Afrikaners is egter skepties oor die verskoning en het baie vrae oor die bewerings wat in die verskoning gemaak is.

Bell Pottinger het ʼn wêreldwye reputasie dat dit diktators se eerste keuse as beeldpoetser is. Die maatskappy het al veldtogte vir regimes van Sirië tot Chili gedoen.

‘Bose gees’ laat Pta-seun sy ma vermoor

$
0
0
mes-aanval

Argieffoto

ʼn Man (31) is in hegtenis geneem nadat hy glo sy 57-jarige ma in Pretoria vermoor het.

“Die man het Woensdag kort voor middernag by die Sunnyside-polisiekantoor ingestap en aan beamptes gesê hy is deur ʼn bose gees beveel om sy ma dood te maak,” het kapt. Daniel Mavimbela aan Maroela Media gesê.

Mavimbela het gesê die polisie het gaan ondersoek instel en op ʼn grutoneel by die man se woonstel in Sunnyside afgekom.

“Hulle het die verdagte se ma in ʼn plas van haar eie bloed sien lê. Die vrou is vermoedelik dood nadat sy verskeie kere met ʼn mes gesteek is.”

Die polisie het ʼn mes op die toneel gevind en daarop beslag gelê.

Die verdagte is in hegtenis geneem en moet binnekort in die Pretoria-landdroshof verskyn op aanklag van moord.

Volgens Mavimbela sal die polisiekantoor se werknemersgesondheids- en welsynseenheid berading aan die beamptes bied wat na die toneel is, sodat hulle die skok daarvan so gou as moontlik kan verwerk.

Dogters wag op afsluiting ná pa sterf

$
0
0

William Johannes Laing. Foto: Verskaf

Vier susters, wie se pa byna drie weke gelede dood is nadat die motor waarin hy tydens ʼn botsing was, aan die brand geslaan het, wag steeds op DNS-toetse om afgehandel te word voordat hulle hom kan veras.

William Johannes Laing (63), ʼn werknemer van Silicon Smelters, en sy buurman was saam in die voertuig toe dit die aand van 1 Julie omstreeks 22:00 op die N1-suid naby Polokwane met ʼn Range Rover gebots het. Die voertuig het in vlamme uitgebars en die twee mans se liggame is onherkenbaar verbrand.

Natascha du Toit, Laing se dogter, vertel sy het die volgende dag van die ongeluk op Maroela Media gelees, maar nooit geweet dat dit haar pa was wat in die ongeluk gesterf het nie. “Ons het laatmiddag ʼn boodskap ontvang dat my pa in ʼn motorongeluk oorlede is en dat die voertuig aan die brand geslaan het en toe het ek met ʼn skok besef dit is die berig wat ek daardie oggend op Maroela Media gelees het,” het Du Toit gesê.

Sy het gesê die familie het daarna probeer om deur die polisie uit te vind of dit wel hul pa was wat in die ongeluk gesterf het. Die Maandag het ʼn man by Laing se werk bevestig dat hul pa nie vir werk opgedaag het nadat hy 13:00 Vrydag huis toe is nie. Hy het gesê dit is Laing en nog ʼn man wat in die betrokke ongeluk gesterf het.

Die ongelukstoneel nadat dit opgeruim is. Foto: Verskaf

Die polisie het die familie bygestaan om DNS-toetse te laat doen om die identiteit van die oorledenes te bevestig. “Omdat hulle so erg verbrand het, moet die toetse gedoen word om hul identiteit te bevestig. Die ander man kon wel aan sy hare en neus uitgeken word,” het Du Toit gesê.

“Sy vrou het aan my gesê haar man en my pa het saam gery om iemand by ʼn bushalte te gaan haal. Sy sou saamgery het, maar het toe besluit om te bly. Sy het die hele nag vir hulle gewag om terug te kom en het gedink hulle het dalk besluit om self Vereeniging toe te ry om die persoon te gaan oplaai. Sy het eers die volgende dag van die ongeluk uitgevind.”

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn saak van strafbare manslag is ná die ongeluk geopen.

Volgens Du Toit het die familie besluit om op 14 Julie ʼn gedenkdiens vir haar pa te hou aangesien hulle steeds wag vir die DNS-toetse om afgehandel te word. “Hulle het vir ons gesê die toetse sal so spoedig as moontlik afgehandel word,” het sy gesê.

“My pa se dood en die manier waarop dit gebeur het, was vir ons almal ʼn groot skok. Ons sal hom altyd onthou as iemand wat baie hardwerkend was en nooit teruggestaan het vir enige uitdaging nie. Hy was baie lief vir lees en visvang en sy gunstelingmusiek was Freddie Mercury. Ons gaan hom baie mis, maar ons weet dat hy nou op ʼn beter plek is.”

Laing word oorleef deur sy vier dogters, Natascha du Toit, Melody du Preez, Desire Nortje en Patricia Cilliers, asook agt kleinkinders en sy broer, Jimmy Laing. Sy vrou is in 2002 aan kanker oorlede.

“Ons familie wil graag dankie sê aan die Westenburg-polisiekantoor in Polokwane wat ons na die ongelukstoneel geneem en gehelp het met die DNS-toetse, asook Sanet de Beer van Avbob Polokwane wat alles so mooi hanteer het,” het Du Toit gesê. Sy het ook haar medelye en ondersteuning uitgespreek aan die familie van Laing se buurman wat ook in die ongeluk gesterf het.

Ouers waarsku ná soen glo tot baba se dood lei

$
0
0

Mariana Sifrit (Foto: Nicole Sifrit/Facebook)

ʼn Babadogtertjie van net 18 dae oud is dood nadat sy virale meningitis opgedoen het weens ʼn herpesvirus wat sy vermoedelik gekry het toe sy gesoen is.

Nicole Sifrit, die baba se ma van die Amerikaanse deelstaat Iowa, het vandeesweek op Facebook geskryf sy en haar man, Shane, is gebroke ná die afsterwe van hul babadogtertjie.

Sifrit het op Facebook gesê hul babatjie het aanvanklik gesukkel om te eet. Sy kon later ook nie meer wakker bly nie, en haar asemhaling het kort ná die eerste gevaartekens abnormaal vinnig en vlak geraak.

Die klein Mariana is met virale meningitis gediagnoseer, en die dokters kon niks aan haar toestand doen nie omdat die virus reeds te veel skade aan haar liggaampie aangerig het.

Mariana Sifrit (Foto: Nicole Sifrit/Facebook)

“Haar gesondheidstoestand het teen rasse skrede agteruitgegaan. Haar toestand het elke dag versleg. Die virus het al haar organe beskadig. Sy het lewerversaking gekry, en later nierversaking. Daar was niks wat ons kon doen, behalwe om haar laaste paar dae vir haar gemaklik te probeer maak nie,” sê Sifrit.

Volgens dokters het Mariana virale breinvliesontsteking opgedoen as gevolg van ʼn herpesvirus wat in wese eintlik ʼn koorsblaar is. Dokters het gesê hul baba moes deur iemand gesoen gewees het wat ʼn koorsblaar gehad en uiteraard ook dié virus onder lede gehad het.

Albei ouers is intussen vir die herpesvirus getoets en die uitslae was negatief.

Babas word nie met ʼn ontwikkelde immuunstelsel gebore nie. ʼn Virus soos dié van ʼn koorsblaar kan dus die lewe van ʼn baba eis, terwyl dit geen skade aan ʼn volwassene sal aanrig nie. Volgens navorsing van Johns Hopkins Medicine is sowat 50% tot 80% van alle volwassenes draers van dié herpesvirus.

Sifrit het haar intussen tot sosiale media gewend om ander ouers te waarsku. “Ek het nooit gedink dit kan met ons gebeur nie,” het sy gesê. “Ons wil bewusmaking bewerkstellig onder ander ouers van pasgebore babas. Hulle moet versigtig wees wanneer mense hulle besoek en hul baba wil vertroetel – en moenie toelaat dat enigiemand jou baba soen nie,” sê sy.

“Ons is net dankbaar dat ons haar kon groet. Daar is baie ouers wie se kinders skielik sterf. Nou het ons ʼn doel om bewusmaking te skep.”

Viewing all 56621 articles
Browse latest View live