Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all 56621 articles
Browse latest View live

Die wêreld in foto’s – 18 Julie 2017

$
0
0

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

‘n Vliegtuig word ingespan om ’n veldbrand te blus in Podstrana, ’n dorp in Kroasië (Foto: Ivo Cagalj, Xinhua)

Mense bad in water met ’n hoë soutinhoud in ’n oord in Dalian in China se Liaoning-provinsie. (Foto: Pu Feng, Xinhua)

Deelnemers spring weg by die 10 km mans ope-finaal by die Wêreldswemkapioenskap in Boedapest, Hongarye. (Foto: Zsolt Szigetvary, AP)

Vrywilligers in Pakistan help om mense te soek wat moontlik vasgevang is in die puin nadat ’n vervalle gebou inmekaargestort het. Die gebou met drie verdiepings is geleë in ’n arm gebied in Karachi. (Foto: Shakil Adil, AP)

’n Stalletjie in Chinatown, Bangkok, verkoop gedroogde vis. Dié spesifieke vis is inheems aan Asiese lande, insluitend Thailand, en verkoop teen ongeveer $5 per kg. (AP Photo/Kankanit Wiriyasajja)


Speaker ‘op kort afstand’ doodgeskiet

$
0
0

Thozama Njobe. Foto: Facebook

Thozama Njobe, speaker van die Raymond Mhlaba plaaslike munisipaliteit, is Maandagaand koelbloedig in Fort Beaufort in die Oos-Kaap doodgeskiet.

Die Oos-Kaapse polisie het in ʼn verklaring gesê Njobe was omstreeks 22:40 saam met nog ’n persoon op pad terug van ʼn geleentheid in New Town toe sy “op kort afstand deur ʼn onbekende persoon” geskiet is. Sy het skietwonde aan haar bolyf opgedoen en is na ʼn hospitaal gehaas. Njobe is met haar aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Volgens die polisie word ʼn saak van moord ondersoek, maar wil hulle nie bespiegel oor die motief vir Njobe se moord nie.

Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) het egter gesê dit blyk dat Njobe se moord ʼn sluipmoordaanval was. Njobe was ook ʼn taksekretaris van die ANC.

“Ons hoop dat haar dood nie verband hou met faksiegevegte en politieke struwelinge in die ANC nie. Ons provinsie word nog altyd geken deur ʼn kultuur van politieke verdraagsaamheid en dit is ook hoe dit moet wees,” het Siyabonga Mdodi, provinsiale woordvoerder van die SAKP, gesê. “Indien [Njobe se moord] wel met politieke onverdraagsaamheid verband hou, sal dit ʼn jammerlike afwyking wees van hoe die politieke stand van sake in die provinsie nog altyd was.”

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, het gesê gesoute speurders werk onverpoosd om inligting oor die moord op te volg, sodat die skuldiges aan die pen kan ry. “Ons versoek die gemeenskap van Fort Beaufort om saam te staan en inligting oor die identiteit en doen en late van die oortreder, of enige inligting wat met die ondersoek kan help, aan die polisie te verskaf,” het Ntshinga gesê.

[Foto’s] Duisende kospakkies om hongersnood te voorkom

$
0
0

Die span van Sun International handig verskeie kospakkies oor aan die Rise Against Hunger-inisiatief. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die parkeerarea van die Time Square-kasinokompleks in Pretoria was Dinsdag ʼn miernes van bedrywigheid soos honderde vrywilligers van Sun International en ander sakeondermenings kospakkies vir die Rise Against Hunger-inisiatief gepak het.

Verskeie plaaslike bekendes, onder andere Demi-Leigh Nel-Peters, mej. Suid-Afrika, en die eerste prinses, Adè van Heerden, asook werknemers van Carnival City in Boksburg en The Maslow Hotel in Sandton en lede van die media het 67 minute van hul tyd gegee om tydens vanjaar se Mandela-dag kospakkies vir behoeftige kinders te pak.

Dit is ʼn landwye veldtog van Sun International met soortgelyke geleenthede wat by die Boardwalk in Port Elizabeth, Grand West in Kaapstad en die Wild Coast Sun in Port Edward plaasgevind het.

Sun International se teiken is vanjaar om drie miljoen maaltye as deel van Mandela-dag-vieringe te verpak.

Elke boks wat gepak is, bevat 36 kospakkies en elke kospakkie bestaan uit ses maaltye. Die inhoud van elke maaltyd is noukeurig beplan om voorsiening te maak vir die voedingsbehoeftes van kinders. Die kospakkies bestaan uit rys, sojabone, ʼn sopmengsel en ʼn vitamienpakkie wat 23 noodsaaklike vitamienes en minerale bevat.

“Ons vier elke jaar op 18 Julie die verjaardag van ʼn ware Suid-Afrikaanse leier. Boonop vier ons die waardes waarvoor hy gestaan het, soos om ʼn verskil in minderbevoorregtes se lewens te maak. Dit is die derde jaar wat Sun International aan hierdie voedselverpakkingsinisiatief saam met Rise Against Hunger deelneem en ons was verheug toe Time Square gekies is om gasheer vir een van die geleenthede te wees.

“Die organisasie doen uitstekende werk om die nood van honger kinders in Suid-Afrika te verlig. Die voorkoming van hongersnood is iets wat ons na aan die hart lê en daarom voel ons bevoorreg om deel te kan wees van hierdie betekenisvolle Mandela-dag-inisiatief, wat ’n verreikende impak op behoeftige gemeenskappe het,” sê Brett Hoppé, hoofbestuurder van Time Square.

In 2015 het die inisiatief daarin geslaag om 1,2 miljoen maaltye te verpak. Die Sun-maaltydverpakkingsuitdaging het in 2016 ook drie miljoen kospakkies verpak.

Man nag lank vasgebind ná kleinhoewe-aanval

$
0
0

Argieffoto: Reint Dykema

ʼn Bejaarde man moes ʼn nag lank vasgebind op die grond in sy slaapkamer lê nadat hy Maandag in sy huis op ʼn kleinhoewe buite Bela-Bela in Limpopo deur vier gewapende aanvallers oorval is.

Martin Neal (77) se huishulp het eers omstreeks 07:00 Dinsdag op hom afgekom toe sy aangemeld het vir werk waarna sy hulp ontbied het.

Deon Beukes, voorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringforum (GPF), het aan Maroela Media gesê Neal was vroegaand reeds in sy slaapkamer toe hy ʼn geluid by sy voordeur gehoor het. Hy het nader gestap, maar die geluid het stil geword en hy is terug kamer toe. In die slaapkamer het vier onbekende mans hom ingewag.

“[Neal] het gesê drie van die mans het vuurwapens gehad en die vierde een het iets in sy hand gehad wat ons vermoed dalk ʼn piksteel was. Die aanvallers het toegang tot die huis verkry deur die skuifdeur van die slaapkamer uit die spoor te lig,” het Beukes gesê.

Hy het gesê die aanvallers het Neal in sy gesig geslaan en hy het op die grond geval. Hulle het gesê hulle gaan hom skiet. Hy het die aanvallers gesmeek om net te roof wat hulle wil en hom nie seer te maak nie. Die aanvallers het Neal vasgebind en ʼn kombers oor sy kop gegooi. “Hy het gewag dat hulle hom skiet, maar dit het later net stil geraak. Die aanvallers het met [Neal se] RAV 4-voertuig op die vlug geslaan,” het Beukes gesê.

Hy het gesê die aanvallers het ook sy selfoon en twee vuurwapens geroof. Daar is later gesien dat die aanvallers die veiligheidshek voor die voordeur oopgebreek het en ook probeer het om die houtdeur oop te breek. Daar is egter geen drade geknip om by die kleinhoewe in te kom nie.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê behalwe vir die vuurwapens en selfoon, is daar ook bankkaarte, ʼn skootrekenaar en twee televisies gesteel. Ngoepe het gesê Neal moes na ʼn hospitaal geneem word vir mediese behandeling, maar hy is nie ernstig beseer nie.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Mandela-onthullings: ʼn Ambulans wat brand en die oomblikke voor sy dood

$
0
0

Dr. Vejay Ramlakan saam met oudpres. Nelson Mandela (Foto: Penguin Random House)

Mandela’s last years – ʼn splinternuwe boek oor die lewe van oudpresident Nelson Mandela wat Dinsdag op Mandela-dag die lig gesien het – werp lig op kwessies van sy laaste jare soos sy gesondheid en gebeure gedurende die maande voor sy dood.

Dié boek, geskryf deur dr. Vejay Ramlakan wat aan die hoof van Mandela se mediese span was, gee ook ’n blik oor aangeleenthede in die binnekamer van die oudpresident.

Mandela’s last years vertel die storie soos Ramlakan dit eerstehands as deel van sy mediese span beleef het. Die boek dokumenteer die komplekse mediese uitdagings waaronder hy gebuk gegaan het, die interaksies tussen familielede en personeel, die voortdurende kritiek van die media en die aksies en reaksies van Mandela.

Ramlakan skryf in die boek oor voorvalle wat nog nie voorheen in die media was nie.

8 Junie 2013 – Die ambulans wat Madiba vervoer het, slaan aan die brand

Ramlakan skryf oor ʼn voorval op 8 Junie 2013 toe Mandela na die Mediclinic Hart-hospitaal in Pretoria per ambulans vervoer moes word. Volgens hom het ʼn militêre ambulans die oudpresident na dié hospitaal vervoer nadat dr. Steve Komati, ʼn dokter wat Mandela ook versorg het, hom met die nuus gebel het dat hy dringend na ʼn hospitaal gehaas moet word.

Ramlakan skets ʼn prentjie van die ambulans wat aan die brand geslaan het op pad na die Mediclinic Hart-hospitaal.

“Die bestuurder van die ambulans het sowat 20 km van die huis af aan Komati gesê: ‘Meneer, ons verloor krag.’
‘Verloor krag? Hoe bedoel jy julle verloor krag?’ het Komati half vererg gevra.
Die revolusies van die enjin was skrikwekkend laag, en ʼn swart wolk rook het om die ambulans gehang soos die voertuig tot stilstand gekom het in die vinnige baan op die snelweg.
Ek en Tipping [die spesialis in geriatriese medisyne] het teen ʼn hoë spoed gery toe ek hom hoor sê dat dit lyk of daar ʼn probleem voor in die pad is.
Ek het my oë weggedraai van die deel van die pad wat deur my motor se ligte verlig is en ’n voertuig gesien wat lyk of dit aan die brand is.
‘Ek hoop nie dis ons ambulans nie,’ het Tipping skertsend gesê. Hy het groot geskrik toe ons verbyjaag. ‘Dis ons mense!’ het hy gesê.
‘Is jy seker?’
‘Byna positief.’
Ek het aan die linkerkantse noodbaan stilgehou. ‘Kan jy seker maak?’
Tipping was reeds uit die kar soos ek die vraag gevra het. Hy was binne enkele sekondes terug. ‘Dis ons mense! Dis ons mense.’
Dit was aaklig. Madiba in ʼn brandende ambulans…”

5 Desember 2013 – Mandela sterf

“Nabye familie en die oudstes van die stam uit die Oos-Kaap het hom ook besoek. Toe Mandla Mandela in die kamer was, het Madiba sy oë oopgemaak – hy het sy kleinseun herken. Toe het hy weer sy oë gesluit en verder geslaap.
Dit was donker en ʼn groot hartseer het die huis omhul.
Die hele familie en nie-mediese personeel was in die kamer wat gevul was met ʼn diep hartseer. Madiba het nog nooit so siek vir hulle gelyk nie.
Die mediese personeel wat aan diens was, was almal somber. Daar was niks om te doen behalwe die protokolle wat Madiba die afgelope ses maande lewendig gehou het nie. Ten spyte van al die mediese kundigheid beskikbaar, kon niks meer gedoen word nie…”

“Hoewel sy asemhaling laag was en sy bloeddruk bly val het, was sy uitdrukking een van bosintuiglike vrede.
Behalwe die mediese span by Madiba se bed, was daar nou net Winnie Madikizela-Mandela. Sy was geklee in swart, haar oë was rooi en sy het roerloos aan sy sy gesit.
Toe die alarms van die ventilator afgaan, het Komati die masjien aangepas sodat daar geen harde geluide was nie.
In ʼn stil stem het ek gehoor hoe Winnie Madikizela-Mandela sê: ‘Dokter, hy snak na sy asem.’ Nie ek of Komati kon direk vir haar kyk nie.
Ek het na my horlosie gekyk. Dit was 21:48. Ek het toe na mev. Madikizela-Mandela gekyk en gesê: ‘Mama, hy het gesterf.’”

Mandela’s last years word uitgegee deur Penguin Random House. Die boek kos R230. Vir meer inligting, besoek Penguin se webwerf.

Mandela’s last years (Foto: Verskaf)

Digkunsprojek wil berusting aan Suid-Afrikaners bied

$
0
0
avbob-digkunsprojek

Van links is Johann de Lange, hoofredakteur van die Avbob-digkunsprojek, Frik Rademan, uitvoerende hoof van Avbob, dr. Mantoa Motinyane-Masoko, senior lektor en hoof van Afrikatale en-literatuur by die Universiteit van Kaapstad en dr. Stanley Madonsela, direktoraat: Afrikatale, Universiteit van Suid-Afrika en Daniel Hugo, Afrikaanse redakteur vir die Avbob-digkunsprojek. Foto: Verskaf.

Die begrafnisversekering- en diensteoplossingsmaatskappy Avbob het Dinsdag ʼn splinternuwe webwerf bekendgestel wat daaraan toegewy is om nuwe digters se digkuns in al elf amptelike landstale ten toon te stel.

Dit is dié maatskappy se bydrae tot Mandela-dag-vieringe wat jaarliks wêreldwyd op 18 Julie op oudpresident Nelson Mandela se verjaardag gehou word.

“Ons wil soveel as moontlike gehaltepoësie in al elf van Suid-Afrika se landstale publiseer en hierdie gedigte sal dan gratis beskikbaar wees vir mense wat dié soort kuns waardeer. Die webwerf is ook ʼn platform waarop Avbob se landwye gedigtekompetisie van stapel gestuur sal word. Ons wil die verskeidenheid van ál die stemme in ons land vier,” het Frik Rademan, die uitvoerende hoof van Avbob, gesê.

Elke gedig sal eers deur een van Avbob se redakteurs gekeur word voordat dit op die webwerf geplaas word. So word dit dan deel van ʼn biblioteek van woorde wat skoonheid en berusting aan die mense van Suid-Afrika kan bring.

“Elke gedig wat goedgekeur word vir publikasie sal ʼn R300-prys ontvang as deel van ons waardering vir die digter se werk. Boonop sal elke gekeurde gedig ook in aanmerking kom vir ʼn verdere kontantprys as dit gekies word as die beste gedig in die onderskeie taal,” het Rademan verduidelik.

Elke gedig staan ook ʼn kans om gepubliseer te word saam met gevestigde en bekende digters se werke in ʼn digbundel wat uit 100 werke sal bestaan met die titel I wish I’d said. Die digbundel sal in Augustus 2018 gepubliseer word en die tema van die digbundel sal handel oor die gerusstelling dat ons almal in ʼn stadium in ons lewens spyt is omdat ons dinge ongesê gelaat het, dinge soos “ek is lief vir jou”, “vergewe my” of “ek sal jou nooit vergeet nie”.

“Ons hoop dat die Avbob-digkunsprojek ʼn voertuig sal word vir mense waar hulle uiteindelik die onuitgesproke fluistering van hul harte kan uitdruk, ongeag wat die frase vir elke individu mag beteken. Wanneer hartseer ʼn mens stom laat, stel dit ons in staat om die nalatenskap van ons geliefdes vir ewig vas te vang en ons verlies op ʼn sinvolle wyse uit te druk.

“Dit is nou belangriker as ooit dat ons as nasie die pen eerder as die swaard moet opneem. Net soos met die stigting van Avbob in 1918 tydens die moeilike jare ná die Eerste Wêreldoorlog, ly mense steeds 99 jaar later. Dit is ontevredenheid en die bedreiging van Suid-Afrikaners se selfbehoud wat mense nou laat ly. Mense is ook oor die algemeen verdeeld en word verder verskeur deur onsekerheid, terwyl werk skaars is en sinvolle werk selfs nóg skaarser.”

Rademan glo sy maatskappy se borgskap van die gedigteplatform sal aan alle digters die geleentheid bied om kalmte en waardigheid aan hul medelandsburgers deur hul woorde te gee.

“Avbob se uitnodiging aan beide opkomende en gevestigde digters is om vir ons gedigte te stuur wat die tema aanspreek. Dit is natuurlik ook ʼn strategiese besluit, want so help ons om ʼn brug tussen mense wat die woorde het en mense wat van hul woorde beroof is te bou,” het Rademan bygevoeg.

Dieretuin-staking verby

$
0
0

Foto: Pretoria Nasionale Dieretuin

Die staking by die Pretoriase dieretuin het Dinsdag tot ʼn einde gekom.

Craig Allenby, woordvoerder van die dieretuin, het in ʼn verklaring bevestig die dieretuin en werknemers verbonde aan die National Trade Union Congress (NTUC), wat op 8 Julie begin staak het, het ʼn ooreenkoms onderteken en die staking is beëindig.

“Die dieretuin en NTUC het ooreengekom om die staking te beëindig en werknemers sal Woensdag terugkeer werk toe. Die besonderhede van die ooreenkoms sal met die dieretuin se werknemers, wat nie gestaak het nie, en ander belanghebbendes bespreek word,” het Allenby verduidelik.

“Die dieretuin bedank die lede van die publiek vir hul ondersteuning tydens hierdie periode en ons betuig ook ons waardering vir die vrywilligers wat die organisasie bygestaan het.”

Gewapende rower kruip in die yskas weg

$
0
0

Argieffoto

Speurders van Vredenburg in die Wes-Kaap het ʼn gewapende rower in ʼn yskas gevind.

“Lede van die eenheid was Dinsdagoggend vroeg besig met ʼn operasie in Louwville in Vredenburg en was op soek na ʼn misdadiger in Oxfordweg,” het kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die beamptes het die huis omstreeks 06:30 genader en ʼn inwoner het ontken dat die gesoekte persoon op die perseel bly.”

Die speurders het egter ʼn lasbrief vir inhegtenisneming gehad en hulle het die huis betree en dit deursoek. “Hulle het die yskasdeur oopgemaak en die man daar binne gevind.”

Die 29-jarige verdagte word gesoek in verband met ʼn saak van gewapende roof wat in Februarie 2016 plaasgevind het. Hy is in hegtenis geneem en het vandag weer in die Vredenburg-landdroshof verskyn.


Adjunk se uitlatings is betreurenswaardig, sê polisieminister

$
0
0

Fikile Mbalula, die minister van polisie (Foto: ANA)

Fikile Mbalula, die minister van polisie, het Dinsdag gesê hy het sy adjunk, Bongani Mkongi, aangesê om sy onlangse opmerkings oor misdaad en uitlanders in Johannesburg reg te stel.

“Ek het gekyk na dit wat hy gesê het, en dit is inderdaad te erg. Ek verstaan wat hy gesê het. Hy wou ʼn probleem in Hillbrow aanspreek. Onthou julle wat Herman Mashaba gesê het en ons het hom gekritiseer daaroor? Ons kan dit nie sê nie. Ons moet binne die wet optree,” het Mbalula aan verslaggewers gesê tydens ʼn besoek aan Sunnyside-polisiestasie in Pretoria vir die jaarlikse Mandeladag-diens.

“Ons moet hierdie mense wat onwettig hier is, hier uit kry. Diegene wat immigrante is, is nie ʼn probleem nie. Hulle moet daar bly. Ons kan nie ʼn houding hê dat hulle nie veronderstel is om daar te wees nie. Dis problematies en die uitlating deur Mkongi is betreurenswaardig.”

Mbalula het gesê hy het die saak met Mkongi bespreek en die adjunkminister sal binnekort sy uitlatings wysig.

Terwyl hy besware oor misdaad en gekaapte geboue in Johannesburg aangespreek het, het Mkongi gesê Suid-Afrikaners het hul stad oorgegee. “Hoe kan ʼn stad in Suid-Afrika 80% deur uitlanders bewoon word? Dit is gevaarlik. Suid-Afrikaners het hul eie stad aan die uitlanders oorgegee,” het hy glo gesê.

“Die adjunkminister en ek het ooreengekom dat hy ʼn verklaring sal uitreik om sy kommentaar te verduidelik. Alhoewel dit goed bedoel was, kan dit misbruik word om ons Afrika-broers aan te val. Die uitlating grens aan xenofobie.”

Die Menseregtekommissie (MRK) het Maandag die “onverantwoordelike” uitlatings deur Mkongi veroordeel. Die MRK het gesê dié uitlatings kan xenofobie laat opvlam. “Suid-Afrika sukkel reeds met gewelddadige xenofobiese aanvalle. As ʼn leier in die polisie, word daar van die adjunkminister verwag om versigtig te wees in sy openbare uitsprake. Die feite is boonop nie korrek nie, en dit kan ook nie gebruik word om misdaad toe te skryf aan uitlanders nie,” het die MRK in ʼn verklaring gesê.

Vermeende reeksverkragter in Gauteng aangekeer

$
0
0

Argieffoto

ʼn Vermeende reeksverkragter is in die Wes-Rand in hegtenis geneem.

Die polisie vermoed die 37-jarige man is verantwoordelik vir minstens 10 verkragtings in Kagiso die afgelope agt maande.

Kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het gesê beamptes van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdade glo hulle het “ʼn deurbraak gemaak in die ondersoek van meer as 10 sake van verkragting wat sedert November 2016 in Kagiso aangemeld is”.

“Nog slagoffers wat in ander gebied verkrag is, sal moontlik ook na vore kom terwyl die ondersoek voortduur,” het Dlamini bygevoeg.

Die man het Dinsdag in die Kagiso-landdroshof verskyn op aanklag van verkragting en roof. “Sy saak is tot 2 November 2017 uitgestel vir verdere ondersoek. Hy kan dan formeel aansoek doen om borgtog.”

Volgens die polisie is meeste van die slagoffers by die Parkstasie-taxistaanplek genader en hy sou saam met hulle na Tsepitsong reis waarna hy hulle in ʼn oop veld, naby ʼn plaaslike fabriek, sou verkrag.

“Dit het gewoonlik in die middae of vroegaand op Vrydae en Saterdae gebeur. Meeste van die slagoffers se selfone en kontant is gesteel.”

Die man is Maandag in Tsepisong in hegtenis geneem. Die polisie het van die slagoffers se besittings in sy besit gevind.

Biskop se korrupsiesaak uitgestel

$
0
0

Argieffoto

Die vonnisoplegging van ʼn bekende kerkleier van Port Elizabeth, wat skuldig bevind is op korrupsieaanklagte van R3 miljoen, is Dinsdag in die handelsmisdaadhof in Port Elizabeth uitgestel.

Biskop Samuel Banzana is vroeër skuldig bevind dat hy omkoopgeld van ʼn konstruksiemaatskappy aanvaar het om tenders aan die maatskappy toe te ken om honderde lae koste HOP-huise te bou.

Tom Langenhoven, vir Banzana, het Dinsdag aangevoer sy kliënt is die primêre versorger van sy twee kinders, waarvan een ʼn minderjarige is.

Langenhoven het die hof uitstel versoek sodat ʼn proefbeampte ondersoek kan instel en ʼn verslag saam kan stel oor die bydraes in die Bazana-huishouding.

Staatsaanklaer Ronelle Brink het aangevoer die minderjarige kind het verskeie versorgers en dat dit nie ʼn verskil maak indien Banzana nie meer beskikbaar sou wees om ʼn bydrae te maak nie.

Banzana is in Maart skuldig bevind op vier aanklagte van korrupsie ter waarde van R3 miljoen.

Banzana was ten tyde van die misdade, tussen 2004 en 2009, die bestuurder van die Mzingisi-ontwikkelingstrust, wat deur ANC-veteraan Govan Mbeki op die been gebring is. Die trust bou HOP-huise in behoeftige gebiede, insluitend Soweto on Sea, Veeplaas, Westview en Bethelsdorp.

Die batebeslagleggingseenheid het intussen beslag gelê op Banzana se huis en drie luukse motors, ter waarde van R2,9 miljoen. Die verlies van R378 000 moet nog gedek word. Die afgetrede biskop bly tans by sy skoonouers.

Die saak is tot 14 September uitgestel vir die proefbeampte se verslag.

Vermoorde Wellington-sakeman vandag gegroet

$
0
0

Johan Fourie. Foto: Facebook.

‘n Gedenkdiens word Woensdag gehou vir Johan Fourie, die eienaar van die Dick and Allsop Mica op Wellington, nadat hy Donderdag koelbloedig vermoor is.

Fourie is ten aanskoue van sy seuntjie in die kop geskiet nadat hy geld by die Standard Bank gedeponeer het. Twee mans het hom glo genader toe hy in die bakkie wou klim en hom geskiet en beroof.

Fourie het in die Mediclinic Paarl aan sy wonde beswyk. Intussen het sy vrou, Carike, op Facebook hulde aan hom gebring. “My beste vriend en lewensmaat. Ek kan dit nie aanvaar nie. Waar is jy vanoggend? Ek is stukkend gebreek. Ons vriende en familie staan my by….weet net ek lewe nou vir Jaytê…ek is lief vir jou my man.”

Cara Fourie, Johan se suster, het op Facebook gesê haar broer was so dapper. “Jy het vreesloos liefgehad.”

Lt. kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.  ʼn Saak van moord, poging tot moord en roof met verswarende omstandighede word ondersoek.

“Daar is geen nuwe verwikkelinge in die saak nie. Dit word nog ondersoek,” het Traut gesê.

‘n Gedenkdiens word om 11:00 vanuit die NG Moederkerk in Wellington vir Fourie gehou.

Dawie Theron, een van Fourie se goeie vriende, sal die diens lei.

Vermiste egpaar se lyke ná 70 jaar in ys gevind

$
0
0

‘n Foto van die toneel waar Marcelin en Francine Dumoulin se liggame ontdek is (Foto: ANA)

Twee liggame wat vermoedelik dié van ʼn Switserse egpaar is wat meer as 70 jaar gelede vermis geraak het, is onlangs in ʼn smeltende gletser in die Alpe in dié land opgespoor.

Marceline Udry-Dumoulin (79), die dogter van Marcelin en Francine Dumoulin, het aan die Switserse koerant Lausanne daily Le Matin vertel sy en haar ses boeties en sussies het sedert hul ouers in Augustus 1942 vermis geraak het nog nooit ophou soek na hulle nie.

Udry-Dumoulin het gesê die gesin het aanvanklik nie hoop verloor om hul ouers lewend op te spoor nie, maar het later net gehoop om vir hulle ʼn roudiens of begrafnis te hou.

Marcelin en Francine het glo 75 jaar gelede vermis geraak toe hulle na hul koeie in die Alpe gaan omsien het. Owerhede het sowat twee maande na die vermiste egpaar gesoek voor hulle die soektog afgelas het.

Die liggame is verlede week deur ʼn werknemer van die ski-maatskappy Glacier 3000 in die omgewing van die Les Diablerets-oord opgespoor. Die man het op ʼn rugsak, blikemmers, ʼn glasbottel, asook manlike en vroulike skoene en ʼn deel van ʼn liggaam afgekom.

Owerhede wat later die liggame opgegrawe het, sê beide mense was aangetrek in klere en skoene wat inderdaad van 70 jaar of meer gelede kon wees.

“Die liggame het naby mekaar gelê. Dit was ʼn man en vrou wat klere uit die tydperk van die Tweede Wêreldoorlog aangehad het,” het die Valais-polisie in ʼn verklaring gesê.

Udry-Dumoulin sê haar ma het selde saam met haar pa, ʼn skoenmaker, gegaan om die koeie te melk, omdat dit ʼn gevaarlike gebied is. Sy sê die gesin het nooit hoop verloor om hul ouers se liggame op te spoor nie, en sy het selfs drie keer die groot ysberge uitgeklim om na hulle te soek.

Sy het aan die Lausanne daily Le Matin gesê die kinders wil binnekort vir hul ouers ʼn begrafnis hou, maar sy wil wit na dié begrafnis dra, omdat dit hoop simboliseer.

DNS-toetse van die liggame is nog nie voltooi nie.

Bronne: CBS, BBC

Vrou vas na ‘valse’ aantygings op Facebook

$
0
0

‘n Skermskoot van die plasing. Foto: Facebook.

ʼn Jong vrou van Brackenfell in die Wes-Kaap is in die sop ná ʼn inskrywing wat sy Maandag op Facebook geplaas het.

Die vrou het in ʼn inskrywing op Facebook beweer sy het Maandag oudergewoonte ʼn parkie naby haar huis in die Proteahoogte-omgewing besoek.

“Twee swart mans het op ʼn bankie gesit. Ek het verby hulle geloop en onder ʼn boom gaan sit. Toe ek weer sien, het hulle weggeloop. Vyf minute daarna het hulle van agter af gekom en een het my kop teen die boom vasgestamp. Hy het my opgetel en ʼn skerp voorwerp teen my keel gehou en gesê as ek ʼn geluid maak sal hy my lewe neem,” het die inskrywing gelui.

Sy voer aan dat hulle haar deursoek het vir haar selfoon, maar dat sy dit tuis gelos het.

“Hy het sy houvas op my begin verloor en ek het gedink dit is my kans om te vlug. Soos ek weggeruk het, het hy my aan die kant van my kop gesteek. Ek het baie bloed verloor terwyl ek huis toe gehardloop het. Ek is so dankbaar niks erger het gebeur nie.”

Die vrou gee dan ʼn beskrywing van die twee aanvallers, en noem dat daar ʼn lasbrief vir hul inhegtenisneming uitgereik is. Die plasing is ook vergesel deur ongeveer vyf of ses foto’s van haar bebloede gesig en hande.

“Hulle verdien nie om te lewe nie. Dit maak my so kwaad dat hulle ʼn meisie wat haarself nie kan verdedig nie aanval.”

Die vrou dui op haar Facebook-profiel aan dat sy 20 jaar oud is, maar volgens die polisie is sy 17 jaar oud. Maroela Media maak dus nie haar naam bekend nie, omdat minderjariges volgens wet nie geïdentifiseer mag word nie.

Lt.kol. Andre Traut, woordvoerder van die polisie, het aanvanklik Dinsdag aan Maroela Media gesê ʼn saak van poging tot roof en aanranding word ondersoek nadat ʼn meisie na bewering Maandag omstreeks 11:00 in Hibiscusweg in Proteahoogte deur twee verdagtes aangeval is.

Traut het egter Woensdagoggend gesê die jong vrou is Dinsdagmiddag in hegtenis geneem op aanklag van dwarsboming van die gereg nadat daar deur ʼn polisieondersoek vasgestel is haar aantyging was vals. “Die ondersoek duur voort,” het hy gesê.

Die vrou se plasing is intussen van Facebook verwyder.

Tugstappe kom teen ANC-LP oor Zuma-uitlating

$
0
0

Dr. Makhosi Khoza, ANC-LP (Foto: Facebook)

Die ANC in KwaZulu-Natal het Woensdag gesê ANC-LP Makhosi Khoza “het te ver gegaan” deur ʼn beroep op pres. Jacob Zuma te doen om te bedank.

Khoza het hierdie uitlating Dinsdag by ʼn geleentheid gemaak wat deur die Ahmed Kathrada-stigting en Save South Africa ter viering van Nelson Mandela-dag gehou is. Die uitgesproke LP, wat al voorheen doodsdreigemente ontvang het, het gesê sy vind dit onuithoudbaar om gelei te word deur ʼn man wat daarvan beskuldig word dat hy vroue teister.

Mdumiseni Ntuli, provinsiale woordvoerder van die ANC in KwaZulu-Natal, het in ʼn verklaring gesê die ANC in KwaZulu-Natal “is sterk oortuig dat Makhosi Khoza nou te ver gegaan het en onmiddellik die gevolge van haar dade in die gesig moet staar”.

“Comrade Makhosi is ʼn lid van die ANC en ontplooi as ʼn LP wat nie immuun is teen die politieke dissipline van die ANC nie,” het Ntuli gesê. “Haar openbare streke en deelname aan ʼn platform wat bedoel is om die samelewingsleierskaprol van die ANC te vervang, kom neer op blatante verraad van die kernwaardes van die ANC.”

Ntuli het gesê Khoza se uitlatings is “die ergste vorm van arrogansie” wat heeltemal teenstrydig is met die gedrag wat van ANC-verteenwoordigers verwag word.

“Die provinsiale werkkomitee het gevolglik die ANC se provinsiale beamptes opdrag gegee om dringend en onmiddellik dissiplinêre stappe teen comrade Khoza te doen. Sy behandel die ANC met absolute minagting en ʼn algehele straffeloosheid.”

Die party het bygevoeg hy is diep geraak deur die bydraes van vrywilligers en ondersteuners van die ANC wat die Nelson Mandela-dag-vieringe in die provinsie ʼn dawerende sukses gemaak het.


Bell Pottinger voor dissiplinêre verhoor geroep

$
0
0

Die DA het Dinsdag bevestig dat die omstrede Britse skakelmaatskappy Bell Pottinger in Augustus voor ʼn dissiplinêre verhoor moet verskyn om te antwoord op dié party se klagtes dat die maatskappy rassespanning in Suid-Afrika aangewakker het.

Phumzile van Damme, die DA se skaduminister van kommunikasie, het die Openbare Betrekkinge en Kommunikasievereniging (PRCA), die bedryfsliggaam wat dié Britse industrie reguleer, se besluit om die dissiplinêre verhoor in te stel om die gedrag van die maatskappy te ondersoek, verwelkom.

Die verhoor sal volgens beplanning op Vrydag 18 Augustus in Londen begin. Beide die DA en Bell Pottinger moet nou binne tien werksdae ʼn opsomming van hul vertoë en afskrifte van dokumente wat as bewyse moet dien aan die PRCA verskaf vir hersiening.

Intussen het verskeie burgerlike organisasies aangedui dat hulle ook graag voorleggings vir die verhoor sal wil doen. Die Helen Suzman Stigting, Section 27 en Save SA het versoek om deel van die ondersoek na die maatskappy se werksaamhede te wees om te verseker dat hul optrede in ʼn Suid-Afrikaanse konteks beskou word.

Bell Pottinger het vroeër die maand om verskoning gevra ná dit uit die #GuptaLeaks-ondersoeke geblyk het dat die beeldpoetser ʼn anti-wit mediaveldtog gedryf het. Die maatskappy het onder meer ook die mite rondom “witmonopoliekapitaal” geskep. Verder het dit ook uitgekom dat hulle glo gehelp het om ANC-politici se toesprake te skryf waarin daar verwys is na die moontlikheid van ʼn komende burgeroorlog.

James Henderson, die uitvoerende hoof van Bell Pottinger, het op 6 Julie ʼn amptelike verskoning uitgereik ná die DA ʼn klag teen die maatskappy se werksaamhede by die PRCA gelê het. Bell Pottinger het self ook ʼn prokureursfirma aangestel om die Gupta-rekening en die werk wat hulle vir die familie se sakeondernemings in Suid-Afrika gedoen het, volledig te hersien.

Henderson het verder gesê hul maatskappy het hul rekening met die Guptas se Oakbay Investments gekanselleer, terwyl ʼn vennoot en twee werknemers geskors is sodat hul presiese rol in die gebeure bepaal kan word.

“Ons het dadelik opgetree nadat ons in kennis gestel is dat Bell Pottinger mislei is en dat daar werk gedoen is wat buite die kern van ons etiese beleid val,” het Henderson gesê.

Die verskoning het egter ʼn storm ontketen waarin verskeie Suid-Afrikaners dit as net nog ʼn beeldpoetsaksie van die maatskappy afgemaak het. Verskeie politieke partye, soos die VF Plus en die SAKP het ook die maatskappy se verskoning verwerp.

“Bell Pottinger het ʼn propagandaveldtog namens die Guptas en die Zumas geskep en gedryf. Dit het haat en verdeeldheid gesaai in ʼn land wat daagliks steeds sukkel om sy eie pynlike verlede te verwerk.

“Die DA verwelkom die verhoor, want dit is ons plig om op te staan teen  diegene wat Suid-Afrika wil verdeel. Ons sal ook verder gaan om te eis dat Bell Pottinger alle inligting rondom die Gupta-rekening openbaar moet maak, en sal sorg dat die geld wat die maatskappy uit die rekening gemaak het, weer aan Suid-Afrika terugbetaal word.

“Ons sien daarna uit om ons vertoë tydens die verhoor te lewer sodat ons kan verseker Bell Pottinger word vir hul optrede aanspreeklik gehou,” het Van Damme gesê.

Reddingspanne ‘sal nie ophou soek’ na vermiste vissermanne

$
0
0

Die omgeslaande vissersboot, die Maredon, in die see nadat die boot naby Kaap St. Francis in die Oos-Kaap omgeslaan het. Foto: NSRI

Pres. Jacob Zuma het Woensdag gesê reddingswerkers sal nie ophou soek totdat die agt vissermanne, wat vermis word nadat hul boot Sondag in die see naby Kaap St. Francis in die Oos-Kaap omgeslaan het, gevind word nie.

Zuma het in ʼn verklaring sy medelye uitgespreek teenoor die familie van die visserman wie se liggaam Sondag deur reddingswerkers uit die water gehaal is. Die president het ook sy ondersteuning uitgespreek teenoor die families van die agt vissermanne wat steeds vermis word en het ʼn beroep op reddingspanne gedoen om voort te gaan met die soektog totdat die vermiste mans gevind word.

“Ons gedagtes en gebede is met die familie in hierdie donker en beangste tyd. Ons wil hulle gerusstel dat die reddingspanne nie sal rus totdat die vermiste lede van hul families gevind is nie. Ek wens ook die gehospitaliseerde vissermanne sterkte en ’n vinnige herstel toe,” het Zuma gesê.

Maroela Media het vroeër berig ʼn tjokka-boot met 16 vissermanne aan boord het Sondag omstreeks 03:30 omgeslaan. Sewe vissermanne is later lewend op ʼn strand gevind en ses van hulle is gehospitaliseer. Een van die vissermanne se liggaam is langs die kuslyn naby Sunset Rocks gevind.

Sers. Majola Nkohli, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn soektog na die agt vermiste vissermanne het sedertdien nog niks opgelewer nie. Die soektog is vanoggend weer voortgesit. “Reddingswerkers en ander rolspelers het die soektog Dinsdag na Ashtonbaai en Paradise-strand uitgebrei, wat ongeveer 30 km vanaf Thyspunt is, die plek waar die boot omgeslaan het,” het Nkohli gesê.

“Die soek-en-reddingspanne gaan vandag voort om die kuslyn te fynkam. Daar is ook ʼn span vrywilligers wat met die soektog help.”

Nkohli het gesê vrywilligers wat graag met die soektog wil help, kan kapt. Johan Du Toit by  071 475 1831 kontak.

Pa praat ná seuntjie met tuinslang afgespuit word

$
0
0

Die foto is digitaal gemanipuleer om die seuntjie, skool en werker se identiteite te beskerm. Foto: Facebook

Die ouers van die driejarige seuntjie wat Maandag glo met ʼn tuinslang afgespuit is in die snerpende winterkoue nadat hy sy broek bevuil het, wil graag met die rolspelers by die Rustenburgse kleuterskool vergader waar die voorval plaasgevind het.

Maroela Media en die ouers van die seuntjie het egter verneem die skoolhoof is Dinsdag in die hospitaal opgeneem weens ʼn toestand wat glo nie verband hou met die herrie wat oor die kleuterskool se kop losgebars het nie.

“Ek wil met almal praat wat Maandag daar was en presies uitvind wat gebeur het en gaan dan besluit watter stappe om verder te doen. Maar ek waarborg jou stappe sal gedoen word,” het die seun se 38-jarige pa Woensdag aan Maroela Media gesê.

Die ouers se name word weerhou om die kind se identiteit te beskerm. Volgens die pa, wat al 20 jaar in dié Noordwes-dorp woon en in die konstruksiebedryf werk, verskil die weergawe van die voorval wat sy 36-jarige vrou Maandag by die kleuterskool gehoor het, met die weergawe wat Annelie Nel (52) verskaf het. Nel,  ʼn weduwee van Rustenburg, het die foto van die seuntjie en ‘n inskrywing op sosiale media gedeel in ‘n poging om die seuntjie se ouers op te spoor.

“Die skoolhoof het my vrou Maandag, op die koudste dag van dié jaar, presies om 12:49 gebel en gesê ons seun het ʼn glipsie gehad en sy sien daar is nie ekstra kleertjies in sy sak nie. My vrou het geantwoord dit is nie ʼn probleem nie; sy sal klere skool toe bring, want ons bly skaars vyf minute se ry van daar af.”

Toe die ma daar aankom, hoor sy haar seun in die agtergrond huil. “Toe sy daar kom, sit hy buite in die koue net met ʼn oranje handdoekie om hom. My vrou het hom aangetrek en huis toe gevat, maar het toe nog nie presies geweet wat gebeur het nie. Die skoolhoof het wel gesê hulle het hom skoongemaak met warmwater wat met ʼn tuinslang uit die kombuis gekom het. Hulle het hom glo om die hoek afgespuit omdat hulle hom die vernedering wou spaar om hom voor die ander maatjies in die badkamer skoon te maak.”

Die seuntjie het daarna aan sy ma gesê hy was badkamer toe om te “piepie”, maar sy maag het gespoel en hy kon dit nie keer nie en dat ʼn hulle hom daarna buite skoongemaak het.

Die skoolhoof het die ma Maandagaand gebel om te hoor of die seuntjie, een van ‘n tweeling, oukei is en die ouers vermoed dit is nadat die bom op sosiale media ontplof het – hulle was toe nog nie eens bewus daarvan nie.

“Snaaks genoeg, Maandagaand voel ons ons seun is koorsig. Ons het in daai stadium nog nie geweet dat hy glo met koue water buite in die koue afgespuit is nie. Ons het besluit as hy die volgende dag nog koors het, dat ons hom dokter toe sal vat, maar hy het darem verbeter.”

Die ma het die volgende oggend [Dinsdag] die foto en Nel se plasing op Facebook raakgesien nadat dit soos ʼn veldbrand versprei en sosialemediaverbruikers warm onder die kraag gehad het. “Toe sy dit sien, het sy dadelik skool toe gery en ons kinders gaan haal. Die skoolhoof was nie daar nie. ʼn Ander juffrou wou nog verduidelik, maar my vrou het net die seuns gevat en gery. Sy het my seuntjie weer uitgevra en hy het in sy eie woorde gesê hy is met ʼn tuinslang met koue water gespuit.”

Die ouers het Dinsdagmiddag met Nel vergader om presies te hoor wat sy en haar kollega gesien het.

Maroela Media het vroeër berig Nel en ʼn kollega wat ʼn onderwyseres is, het by die kleuterskool stilgehou om aanwysings te vra toe hulle die voorval gesien het. Nel se kollega het ʼn foto daarvan geneem en Nel het die toesighouer wat vir haar aanwysings gegee het gesê sy gaan die voorval nie daar los nie. Nel-hulle kon nie dadelik die seun bereik nie, aangesien daar elektriese heinings tussen hulle was. Sy het wel die eienaar van die perseel, by wie die skoolhoof die gebou huur, gebel en daarvan ingelig voor sy later die plasing op Facebook gemaak het.

Volgens die pa soek hulle antwoorde oor wat gebeur het. “Ons wou daarna met die skoolhoof, die onderwyseres wat toesig gehou het of enigiemand wat verantwoordelikheid kan vat praat, maar al ons oproepe is geïgnoreer. Ons het later gehoor die skoolhoof is in die hospitaal. Ons is steeds bereid om met hulle te praat. Ek wil uit hulle monde hoor wie het vir wie opdrag gegee om dit doen, waarna ons sal besluit op die volgende stappe,” het die pa gesê.

“Ek dink die werker het bloot ʼn opdrag uitgevoer van iemand wat gesê het om my kind buite te gaan afspuit. Die hoof en toesighouers was daar en hulle moes my seun hoor huil het en geweet het iets is nie reg nie. Ek twyfel sterk dat die werker dit uit haar eie sou doen.”

Die pa is van mening die skoolhoof het slegs opgetree nadat Nel die toesighouer met verdere stappe gedreig het. “Ons kon gister, toe ons met Annelie [Nel] vergader het, sien die foto is om 12:46 geneem. My vrou het eers 12:49 die oproep van die skoolhoof gekry. Ek glo nie hulle sou iets gesê het as Annelie nie uitgekom het met die foto waar my seun naak in die koue staan, ná hy huilend afgespuit is nie.”

Volgens die pa het hy albei sy seuns uit die skool uitgehaal. Sedert Maandagaand het hulle nog geen terugvoer van enigiemand by die skool gehad nie en hy het onderneem om ʼn klagte by die departement van onderwys aanhangig te maak sodat die voorval verder behoorlik ondersoek kan word.

Die ouers het hul dank aan Nel betuig. “Ons is baie dankbaar vir wat sy gedoen het. Mense dreig haar oor naamskending en om die foto af te haal aangesien dit ‘kinderpornografie’ is, maar ek het my toestemming gegee dat sy die foto daar kan hou. My seun is onherkenbaar en ʼn mens kan glad nie sy geslagsdele sien nie. Ons wil nou net die skool se weergawe hoor.”

Die pa het gesê sy seuns, wat in November vier jaar oud word, was in die skool sedert hulle een jaar oud was en hulle het nog nooit onraad vermoed nie. Die egpaar het ook ʼn negejarige dogter.

“My seun is darem heeltemal gesond en speel met sy boetie. Hy lyk darem nie te erg getraumatiseerd nie, maar ons praat nie oor die voorval voor hom nie,” het die pa bygevoeg.

Die skoolhoof kon Woensdag steeds nie vir kommentaar bereik word nie en haar telefoon was afgeskakel. Die eienaar van die perseel waarop die kleuterskool geleë is, het aan Maroela Media gesê net die skoolhoof is in die posisie om kommentaar te lewer en sal dit glo doen as sy gesond genoeg is.

Anéll Engelbrecht, die hoof van die Koeitjies en Kalfies-kleuterskool in Centurion wat die afgelope nege jaar ʼn kleuterskool met ʼn plaasatmosfeer bedryf, het Woensdag aan Maroela Media gesê sy het simpatie vir die skoolhoof.

“Ek het jare se ervaring daarin. Die skoolhoof kan nie elke sekonde oral wees nie en is afhanklik van hul personeel. Wie ook al opdrag gegee het dat die kind so afgespuit word, moet streng aangespreek word.”

Sy het gesê voor sy haar eie kleuterskool begin het, het sy by verskeie ander kleuterskole gewerk, maar nog nooit het sy gesien dat kleuters met tuinslange, al is daar glo warm water in, gespuit word om hulle skoon te kry ná ʼn glipsie nie.

“By ons vat ons die kinders badkamer toe, haal die doek of broekie af en maak met ʼn warm lappie of wet wipes skoon voor skoon klere aangetrek word. Dit is glad nie standaard praktyk om ʼn tuinslang te gebruik nie,” het Engelbrecht gesê.

Sy het gesê sy sien geen rede hoekom die seun nie in die badkamer skoongemaak kon word nie, veral in die winter wanneer dit so koud is.

  • Die kleuterskool se naam word vir eers weerhou om al die partye kans te gee om te reageer.

Student se skorsing opgehef ná FB-uitsprake

$
0
0
nwu-potch-puk

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

ʼn Klagte teen ʼn student aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus in verband met beweerde rassistiese uitsprake op Facebook, is voorlopig teruggetrek.

Die NWU het gesê die student se dissiplinêre verhoor was vir 18 Julie geskeduleer, maar die saak is Dinsdag tydelik uitgestel en die voorlopige skorsing van die student is opgehef om hom toe te laat om met klasse voort te gaan.

Die klagte hou verband met ʼn beweerde woordewisseling op Facebook tussen Hanno Bisschoff en Jeandré Goliath, albei Puk-studente, in Mei vanjaar. Die twis het op Afriforum Jeug se Facebook-blad plaasgevind onderaan ʼn plasing op die blad wat met die universiteit verband hou.

Bisschoff het in die kommentaar aan Goliath gesê as hy nie van die universiteit hou nie, hy by ʼn ander instansie moet gaan studeer wat “sy soort” mense akkommodeer. “Dis nadat ons ondankbare apies soos julle ʼn kans gegee het wat julle die mat onder ons voete uitgepluk het (sic),” het Bisschoff gesê.

Goliath het hierop geantwoord en gesê: “Ons ‘soort mense’ is nie hier op jou uitnodiging nie. En daar was in elk geval nie ʼn mat onder jul voete om meer te begin nie (sic).” Hy het verder gesê dit is Bisschoff se “inherente rassisme” wat hom noop om ander mense “apies” te noem.

Die studente se kommentaar is kort daarna verwyder, maar nie voordat daar skermskote van die gesprek gemaak is nie.

Prof. Dan Kgwadi, NWU se vise-kanselier oor studente- dissiplinêre sake, het in ʼn verklaring gesê Bischoff is tydens ʼn verhoor op 30 Mei aan twee klagtes skuldig bevind. Die eerste klagte was dat sy optrede nadelig was of nadelig kon wees vir die goeie naam, orde, dissipline of prestasie van die universiteit, en die tweede was ’n klagte dat stellings op sosiale media gemaak is wat op diskriminasie in die vorm van rassisme neerkom.

“Hy is vir twee jaar uit die universiteit geskors, maar die vonnis is vir die res van die duur van sy studies opgeskort. Hy is ook met ’n boete van R5 000 gestraf,” het Kgwadi gesê.

Hy het gesê nadat hy met ʼn senior bestuurspan die klagtes teen Goliath bespreek het, is daar besluit dat die klagtes teruggetrek moet word. “Die rede hiervoor is dat die getuienis wat aangebied is, nie duidelik die voortsetting van die saak regverdig nie,” het hy gesê.

“Ek en my span werk hard daaraan om ’n kultuur te bou wat sosiaal inklusief, samebindend en verwelkomend is, en die diversiteit van ons universiteitsgemeenskap omhels, terwyl ons historiese konteks in gedagte gehou word. Voorvalle soos hierdie is teen al hierdie beginsels en ons moet die personeel en studente van die NWU en trouens die algemene publiek om verskoning vra. Dit is duidelik dat ons meer moet doen in ons missie om studente op te voed om in Suid-Afrika te woon en te werk – in die gees van ons missie, ons waardes en ons land se grondwet.”

Ohann Fourie, AfriForum Jeug se koördineerder vir die Puk-kampus, het gesê die organisasie meen die universiteit het reg opgetree deur dissiplinêre stappe teen albei studente in te stel. “Ek kan nie kommentaar lewer oor wat daar tydens die dissiplinêre verhore besluit is nie. Ek voel wel dat alle sosialemediagebruikers verantwoordelik gehou moet word vir die uitsprake wat hulle op sosiale media platforms maak en daarom het die universiteit die regte ding gedoen deur die saak te ondersoek.”

Fourie het gesê AfriForum Jeug distansieer hom ten volle van die betrokke uitlatings en enige ander rassistiese en beledigende kommentaar op sy sosialemediaplatforms.

Ouers smeek om hulp ná seun se kankerdiagnose

$
0
0

Jaundré Gouws (Foto: Verskaf)

Die verpletterde ouers van ʼn tweejarige seuntjie van Vereeniging in Gauteng het hulle vandeesweek tot die publiek gewend om te pleit vir fondse vir ʼn lewensnoodsaaklike operasie vir hul seun by wie oogkanker onlangs gediagnoseer is.

Amor Schoeman, woordvoerder van die Child Medi-organisasie, het Woensdag aan Maroela Media vertel die ouers is stukkend en bekommerd oor hul seun se toekoms, veral omdat hulle nié die fondse het om vir ʼn lewensnoodsaaklike operasie te betaal nie.

Janine Gouws, klein Jaundré se ma, het aanvanklik in ʼn brief aan die organisasie gesê haar seun is drie maande gelede na ʼn oogarts geneem nadat sy ouers onraad vermoed het met sy een oog.

Hoewel die oogarts gesê het dat sy oog vanself sal herstel, het die ouers hom ʼn week gelede weer na die hospitaal geneem nadat hulle vir ʼn tweede keer onraad vermoed het.

Gouws het aan Maroela Media gesê die gesin het nooit dié nuus verwag nie.

“Dié keer was sy pupil nie net vergroot nie, maar daar was wit water en slym aan die binnekant van sy oog. Ons het hom toe na ʼn spesialis gevat en die volgende dag ʼn sonar laat doen. Ons het die mees onstellende nuus gekry – hy het oogkanker,” lui die brief.

Volgens Gouws het dr. Robert Reid, ʼn spesialis in Vereniging, aanbeveel dat Juandré se regteroog verwyder word om te keer dat die kanker na sy brein of ander dele van sy liggaam versprei.

Sy sê dié operasie is lewensnoodsaaklik, maar die gesin het nie ʼn mediese fonds nie en kan nie die geld vir die operasie bybring nie.

“Die dokter het gesê die kanker is net in die oog en het na die senuwee versprei. Dit is daarom belangrik om sy oog so vroeg as moontlik te verwyder. Hy gaan ná die operasie ʼn kunsoog kry.”

Juandré is reeds grotendeels blind in sy regteroog en sy aanpassing sal daarom volgens dokters nie te lank neem nie.

“Ons is doodbekommerd oor ons seun. Hy is ʼn jong seuntjie wat net die beste verdien, en nou moet hy sulke dinge deurgaan. Ons wil hom help om so normaal moontlik te leef. Ek weet hoe wreed die wêreld is, ek weet dat mense my kind gaan spot – maar as dit sy lewe red, is dit wat ons moet doen.”

Die aanvanklike operasie kos sowat R25 000.

Vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak, kontak die Child Medi-organisasie by info@childmedi.org of bel Amor Schoeman by 062 266 0486. Besoek ook die Child Medi-webwerf of Facebook-blad.

Viewing all 56621 articles
Browse latest View live