Die ATKV is steeds trots Afrikaans, maar “nie meer op ʼn selfsugtige basis nie,” sê Deidre le Hanie, die nuwe besturende direkteur van die ATKV.
Le Hanie het Maandag tydens ʼn ontbytgesprek in Kaapstad Afrikaanse en Engelse lede van die media toegespreek oor dié organisasie se nuwe strategiese fokus en die nuwe rigting wat die ATKV inslaan.
“My voorgangers het ʼn stabiele fondasie gebou en ons wil deur Afrikaans Plus op hierdie fondasie voortbou om gemeenskappe te bereik wat ons voorheen nog nie bereik het nie,” het Le Hanie, wat op 1 Junie vanjaar die leisels by Japie Gouws oorgeneem het, gesê.
Sy het verduidelik dat die Afrikaans Plus-strategie dit onder meer vir leerders sal moontlik maak om ʼn Afrikaanse toespraak óf ʼn toespraak in die taal van hul keuse (byvoorbeeld Sotho of Tswana) of selfs albei te kan lewer tydens die ATKV-redenaarskompetisie. Dié kompetisie sal voortaan Afrikaanse, Engelse en Afrikataal-beoordelaars hê, “sodat ons aan die behoeftes van die gemeenskap kan voldoen”.
Die organisasie is ook besig met derdetaalkursusse vir sy personeel.
“As ons deur ons bedrywighede die leiding wil neem, dan moet ons dit ook uitleef in wat ons sê en wat ons doen. Alles waarmee die ATKV tans besig is, is gefokus daarop om in vaardighede te belê.”
Sy meen die organisasie kan miljoene kinders se lewens in Suid-Afrika verbeter en ʼn beduidende bydrae lewer vir dié kinders.
Hoewel Le Hanie in ʼn Afrikaanse skool was, het sy hoofsaaklik ʼn Engelse agtergrond. Sy neem tans Afrikaanse klasse om seker te maak dat sy “keurige Afrikaans” kan praat.
Le Hanie het verduidelik dat ongeveer 98.5% van die ATKV se inkomste deur die organisasie self gegenereer word uit hoofsaaklik drie inkomstestrome: wins uit die ATKV se vakansieoorde, wins uit Lapa Uitgewers, en die sowat 70 000 ATKV-lede se maandelikse R81-ledegeld. Dié besigheidsmodel vorm die basis vir die maatskappy se omset van R92 miljoen per jaar.
“Dit is ʼn groot verantwoordelikheid om hierdie geld korrek aan te wend,” het Le Hanie verduidelik. “Ons moes ʼn fundamentele oordeelsbesluit maak en die rigting van die organisasie effens verander.”
Sy het verwys na ʼn gesegde wat sy al 12 jaar lank volg: “The bend in the road is not the end of the road, unless you fail to make the turn.” Sy het gesê dit laat haar dink aan die paaie in die Alpe – as jy nie die draaie saam met die pad maak nie, sal jy oor die afgrond stort.
Volgens haar het rolspelers en beleggers in die ATKV vier jaar gelede al tydens die Algemene Jaarvergadering aangedui dat die raad van die ATKV ondersoek moet instel oor hoe die organisasie by die onderwysbedryf wyer as slegs Afrikaanse skole betrokke kan raak. “Daarom het ons die Afrikaans Plus strategiese fokus aangeneem – dit is ʼn uitdagende en opwindende nuwe rigting.”
Sy het gesê die organisasie se reikwydte is tans baie beperk – grootliks tot Afrikaanse skole. “Dit het swaar op ons gewete gelê.”
Volgens Le Hanie is Afrikaans Plus nie bloot ʼn versoek vir meer lede en meer finansiële ondersteuning nie, maar dat maatskappye, wat korporatiewe maatskaplike beleggings moet doen, ook by die organisasie betrokke sal raak.
“Ons doelwit vir Januarie 2018 is ʼn ATKV-ledetal van 1 miljoen.”
Le Hanie het gesê die ATKV se visie en missie sal die beginpunt wees, maar daar is ook vier fokusareas, naamlik taal, onderrig, gemeenskappe, en kuns en kultuur.
“Ons het tans jaarliks ʼn impak op ongeveer 600 000 leerders met 40 projekte wat op ʼn nasionale basis plaasvind, onder meer Muziqanto [ʼn klassiekemusiekkompetisie], Crescendo [ʼn sangkompetisie], tienertoneel en verskeie ander gemeenskapsprojekte. Gemeenskapskore wat aan die korekompetisie deelneem, moet ook minstens een lied sing in ʼn taal buiten Afrikaans of Engels.”
Sy het gesê ʼn derde van die takke van die ATKV is jeugtakke en word bedryf deur persone uit die gemeenskap. Op dié manier het leerders van die Hoërskool Jan van Riebeeck hande gevat met ʼn skool in Khayelitsha om die leerders van Khayelitsha te help met wiskundevaardighede, terwyl die leerders van Jan van Riebeeck Xhosa aangeleer het. “Hulle het dit vrywillig op Saterdae, in hul eie tyd, gedoen,” het Le Hanie verduidelik.
“Van die 24 000 openbare skole wat geen-fooi-skole of lae-fooi-skole is, presteer tans baie swak. Altesaam 21 000 van hierdie skole het ernstige ingryping nodig. Die ATKV is elke vier jaar intensief betrokke by 1 000 skole, maar as ons al 21 000 hierdie skole wil bedien, sal ons nooit [teen die huidige tempo en met bestaande bronne] daarby uitkom nie!”
Rally Tsoari, van die departement van onderwys in Gauteng, het ook as gasspreker tydens die geleentheid opgetree. Hy het verduidelik hy het 38 skole onder sy leiding en dat daar ʼn beduidende impak gesien kan word waar die ATKV by die skole betrokke raak – van die beheerliggame tot onderwysers, leerders, administrasiepersoneel en selfs die skoonmakers.
“Sommige skole in Gauteng het ʼn beduidende styging in hul slaagsyfer gesien danksy onder meer motiveringsessies van die ATKV,” het Tsoari verduidelik. “As een skool sukkel, dan ly die distrik, die provinsie en uiteindelik die land daaronder. Dit waarmee die ATKV besig is, het ʼn impak en dit bring verandering mee.”
Ruschda O’Shea, skoolhoof van Tafelsig Secondary School in Mitchells Plain het ook as gasspreker opgetree. “Ons het sedert 2015 ʼn beduidende impak in ons slaagsyfer gesien danksy die impak van die ATKV,” het sy verduidelik. Sy het gesê die ATKV het met die matrikulante begin en hulle gehelp met motivering, introspeksie en selfmotivering. “Die personeel se moraal was ook laag en die personeel is ook gemotiveer en geleer hoe om ʼn balans te kry tussen mens se eie lewe en jou werk.”
O’Shea het gesê ouerskapwerkswinkels wat die ATKV aangebied het, was ook baie gewild in haar gebied. Die ATKV het ook met die bestuur van 10 skole in die gebied vergader sodat hulle mekaar kon leer ken en by mekaar kon leer. “Die ATKV is soos ʼn vars briesie wat geleenthede skep.”
Le Hanie moedig die publiek aan om deel te word van dié nuwe rigting en nou by die ATKV aan te sluit.