![]()
Inwoners volg Mmusi Maimane in Matjhabeng, Vrystaat (20 Mei 2017) Foto: @Our_DA, Twitter
ʼn Kultuur van korrupsie het deel geword van die ANC en dit kan nie reggestel word nie, het DA-leier Mmusi Maimane Saterdag gesê.
Maimane het by ʼn openbare vergadering in Matjhabeng in die Vrystaat, as deel van sy nasionale #Change19-veldtog, ges6e hy glo almal stem in dat daar ʼn behoefte vir verandering is.
“Ek dink ons almal stem ooreen dat ons verandering nodig het. Ons land is op pad in die verkeerde rigting en dit kan binnekort te laat wees om om te draai. Ons maak nie meer vordering as ʼn land nie. Ons is nie meer op pad na ekonomiese vryheid vir almal nie.
“Gemeenskappe soos julle in Matjhabeng word agtergelaat deur ʼn regering wat onderneem het om julle vorentoe te neem, maar glad nie van plan is om dié belofte na te kom nie. Hier in die Vrystaat gaan julle gebuk onder ʼn dubbele bedreiging van die ANC-regering onder Jacob Zuma en ʼn provinsiale ANC-regering onder [premier] Ace Magashule.
“Want hierdie twee mans is dieselfde. Die beloftes wat hulle vir hul ryk vriende, die Guptas, maak, beteken baie meer as die beloftes wat hulle aan julle maak voor die verkiesing,” het Maimane gesê.
“Daar was talle gerugte of die ANC Jacob Zuma sal uitskop en hom met iemand anders sal vervang. Ek verseker julle, dit sal geen verandering maak aan die ANC nie. Die kultuur van korrupsie – om geld te steel wat vir gemeenskappe soos julle bedoel is – is nou deel van die ANC. Dit kan nie meer reggestel word nie.
“Om Zuma met iemand anders te vervang, sal mense se lyding vererger. Net so sal dit ook nie die manier waarop die Vrystaat bestuur word, verander indien Magashule met ʼn ander ANC-leier vervang word nie. Dit sal net beteken die naam van die persoon wat kontrakte en tenders aan vriende en familie oorhandig, verander.
“Wanneer ek tydens hierdie veldtog van verandering praat, bedoel ek algehele verandering. Ek bedoel ʼn hele nuwe manier om na Suid-Afrika te kyk. Ek praat van ʼn Suid-Afrika wat sy tweede struggle era ingegaan het, hierdie keer is dit ʼn stryd vir ekonomiese vryheid vir almal. Die stryd om onder die ekonomiese verdrukking onder die ANC-heerskappy te ontsnap.
“Ek praat van ʼn Suid-Afrika waar ons almal ʼn sê het hoe hierdie land van ons herbou moet word: hoe dit moet lyk en hoe ons almal bevoordeel kan word. Ek praat van ʼn Suid-Afrika wat op verdraagsaamheid en respek vir mekaar gebou is… waar geweld teen vroue nie geduld word nie. Waar ons saam opstaan teen enigiemand wat dink hulle het die reg om vroue te behandel soos iets wat hulle besit,” het Maimane bygevoeg.
“Ek praat van ʼn Suid-Afrika wat nie meer die verkragting- en moordhoofstad van die wêreld is nie; waar kinders nie daagliks verdwyn nie en waar ons strate en woonbuurte behoort aan die mense wat daar bly. ʼn Suid-Afrika waar die leiers die voorbeeld stel wat ander kan volg. Waar wet en orde by die leiers begin. ʼn Suid-Afrika wat werk. Wat werk in elke dorp en stad skep en wat belê in opleiding en opvoeding vir ons jeug om hierdie poste te vul.
“Ek praat van ʼn Suid-Afrika wat vry is van die ANC. Ons moet begin om oor ons toekoms sonder die ANC te praat. Slegs dan kan ons vorentoe beweeg. Dit help nie ons dink aan ons self as net DA, net ANC of net EFF en almal anders as ons vyande nie. Ons moet oor hierdie grense begin dink. Ons moet diegene wat dieselfde Suid-Afrika wil bou, as ons vriende beskou.
“ʼn Nuwe regering wat ons land van die ANC red sal op koalisies en samewerking gebou wees. Dit is hoe ons besig is om munisipaliteite soos Johannesburg, Tshwane en Nelson Mandelabaai om te draai, en dit is hoe ons Suid-Afrika sal omdraai.
“Ons moet anders dink en anders stem. En die enigste mense wat dit kan laat gebeur, is julle, die kiesers. Julle het die mag om ons toekoms te vorm,” het Maimane gesê.