![]()
Marlette as “oorwinnaar” in die hospitaal. Foto: Verskaf
Ses verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die plaasmoord Dinsdagaand in die Biesiesvlei-omgewing naby Sannieshof in Noordwes.
Sers. Kelebogile Moleko, provinsiale polisiewoordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media gesê die verdagtes, tussen 27 en 38 jaar oud, is Donderdagaand in Sannieshof in hegtenis geneem.
“ʼn Skootrekenaar en drie selfone wat vermoedelik tydens die voorval geroof is, is in die verdagtes se besit gevind.” Die verdagtes sal na verwagting Maandag in ʼn nabygeleë landdroshof verskyn.
Maroela Media het vroeër berig die Greyling-egpaar, Marlette (57) en BC (59), en BC se ma, Magdaleen Greyling (87), het die aand omstreeks 19:30 aan tafel gesit besig met aandete terwyl hulle nuus gekyk het.
Drie verdagtes het toegang tot die huis verkry deur een van die slaapkamers se groot vensters te breek. Drie het glo buite die huis gewaak. BC het gaan ondersoek instel en was skaars in die portaal toe ʼn verdagte hom trompop in die bors geskiet het sonder om ʼn woord te sê.
Marlette is tydens die voorval in haar regterblad geskiet. Die koeël is by haar links bó haar buik uit en het een van haar longe skrams gemis. Magdaleen het na die sitkamer gevlug en het onder ʼn tafel weggekruip.
BC is op die toneel dood. Marlette moes na ʼn hospitaal geneem word. Magdaleen is ongedeerd maar getraumatiseerd.
Die verdagtes het met vuurwapens, drie selfone en die egpaar se bakkie van die toneel gevlug en het ontsnap deur van ʼn dienspad langs ʼn spoorlyn gebruik te maak om blokkades wat deur omliggende boere gestel is te vermy.
Die bakkie is later verlate naby Ottosdal opgespoor.
Hoewel Marlette nog in rou is oor haar man se dood, is sy Vrydag ontslaan en het kop om hoog as ʼn “oorwinnaar” uit die hospitaal gestap.
“Sy kan nog nie teruggaan na haar huis toe nie omdat die polisie steeds besig is om die huis vir leidrade te fynkam, maar sy wil teruggaan plaas toe. Sy gaan nie dat hierdie voorval haar onder kry nie,” het Carin Visser, Marlette se jarelange vriendin en Sannieshof se DA-raadslid, Vrydag aan Maroela Media gesê.
Visser is ook die DA se voorsitter vir Noordwes en is vol lof vir die polisiebeamptes se “puik” speurwerk wat tot die verdagtes se inhegtenisneming in die Agisanang-nedersetting gelei het. Volgens Visser ken Marlette nie die aanvallers nie.
Sy het gesê Marlette gaan by ʼn vriendin woon totdat sy weer kan terugkeer na haar plaashuis.
“Sy het in die hospitaal ʼn rooi vlag vasgehou om te wys dat sy ʼn oorwinnaar is. Sy wil nie hê mense moet dink sy is lighartig oor die voorval nie – sy is gebroke, maar gaan hierdie situasie oorwin. Sy het gesê sy kan nie toelaat dat sulke slegte omstandighede haar karakter en menswees vir die res van haar lewe só skend dat sy ʼn versukkelde mens gaan wees nie.”
Die Greyling-egpaar het drie seuns, Gerhard, hul oudste, Marius en Christo. Gerhard en Marius woon in Kanada. Christo woon op ʼn plaas naby sy ouers. Die egpaar het ook drie kleinkinders.
Gerhard en Marius het intussen vanuit Kanada in Suid-Afrika aangekom om hul ma by te staan en met die begrafnisreëlings te help. Die gesin hoop om BC volgende week te ruste te lê.
Die skoondogters en kleinkinders sal na verwagting Maandag in Suid-Afrika aankom.
![]()
BC en Marlette Greyling. Foto: Verskaf