Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all 56621 articles
Browse latest View live

Eskom-ondersoek moet Duduzane Zuma se ‘intelligensieverslag’ insluit

$
0
0

Argieffoto: GCIS

Die Demokratiese Alliansie sal die parlementêre komiteevoorsitter Cedric Frolick versoek om ondersoek in te stel oor die jongste bewyse van moontlike politieke inmenging in Eskom, hierdie keer deur Duduzane Zuma.

Die DA sal versoek dat dit tydens die ondersoek plaasvind wat hy reeds versoek het. Die DA het net meer as ʼn week gelede die parlement se openbare ondernemingskomitee versoek om dadelik ʼn volskaalse parlementêre ondersoek te doen oor Eskom, het Natasha Mazzone, woordvoerder van die DA, Sondag gesê.

“Ek sal nou inligting versoek om te bepaal wanneer die ondersoek sal begin. Berigte in die media beweer dat pres. Jacob Zuma se seun Duduzane Zuma ʼn vervalste intelligensieverslag saamgestel het wat daarna deur pres. Zuma gebruik is om vier hoofde van Eskom in 2015 af te dank.

“Ná die skorsing van die Eskom-hoofde, is Brian Molefe as uitvoerende hoof aangestel en Trillian, ʼn Gupta-maatskappy, het ʼn steenkoolkontrak ter waarde van R400 miljoen ontvang ondanks bewyse dat steenkool van Trillian se Brakfontein-myn nie binne die spesifikasies val nie,” het sy gesê.

“Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, moet nou, meer as ooit tevore, Dinsdag voor die parlement se portefeuljekomitee verskyn en rekenskap gee vir die nagmerrie by Eskom.

“Die jongste inligting en die terugkeer van Brian Molefe as uitvoerende hoof van Eskom is nie toevallig nie. Die Gupta-Zuma-mafia het gewys dat hulle nie sal stop voordat Eskom hul eie persoonlike ryk geword het waar hulle kan maak wat hulle wil ten koste van Suid-Afrika en sy mense nie.

“Die DA sal alle beskikbare opsies gebruik om seker te maak dat goeie regeringsbeginsels herstel word by Eskom en dat die misbruik van staatsgeld en onregmatige invloed in sy geheel verwyder word uit die raadsale van ons openbare ondernemings,” het Mazzone bygevoeg.


Nuuskommentaar: Wie verdien om vereer te word, en wie is ‘trash’?

$
0
0

Jeff Radebe. Foto: GCIS

Opsomming

Verdien ’n leier ’n standbeeld en om in ’n praalgraf begraaf te word bloot omdat hy ’n leier was, of moet ’n leier terwyl hy in die amp dien, ’n goeie en navolgenswaardige voorbeeld stel om vereer te word? Volgens verskeie verslae is die afgetakelde moraliteit in die land ten minste ten dele te wyte aan die swak voorbeeld wat die land se politieke leiers stel – ’n vis verrot immers van sy kop af.

Daar was onlangs ’n storm oor die Noordwes-regering wat miljoene rande wou bestee om ’n standbeeld van pres. Jacob Zuma op te rig.

In Spanje is daar ’n storm oor planne om oud-diktator Franco se lyk uit ’n indrukwekkende mausoleum te neem en meer obskuur te begrawe.

Weer hier te lande het onder meer die EFF laat blyk dat oudpres. FW de Klerk nie verdien om deel van leiers van stigtings te wees wat sake in Suid-Afrika weer op die regte koers kry nie.

’n DA-LP beland in die sop oor die aanstuur van ’n inskrywing in die sosiale media waarin oudpres. PW Botha se pogings om wet en orde te handhaaf uitgewys word.

Die afgelope naweek het ’n deel van die media berig oor twee ministers wie se beweerde buite-egtelike kaperjolle nou in hul gesigte ontplof. Die minister van finansies, Malusi Gigaba, se beweerde gewese minnares en sy vrou het mekaar op sosiale media getakel. Die beweerde minnares, Buhle Mkhize, het sommer Gigaba daarvan beskuldig dat hy en die Gupta-kamp samesprekings gevoer het. Sy vrou se kwalifikasies sou vervals wees.

Die minister in die presidensie met selfverklaarde presidensiële aspirasies, Jeff Radebe, sou glo ’n sekspes van homself gemaak het en ’n jong vrouewerknemer per teksboodskap vir naakfoto’s van haarself gevra het. Dié teksboodskappe het nou in die openbare domein gekom. Op RSG se program, Kommentaar, is die mening uitgespreek dat Radebe nou sy kanse om toekomstige president te word, ’n fatale hou toegedien het.

Die pikantheid is egter dat pres. Jacob Zuma ’n onstuimige lewe buite die eg gevoer het. Hy het onder meer owerspel suksesvol as verweer teen ’n aanklag van verkragting in die hof aangevoer. Hy is deur die ANC se kring van oudstes aangespreek nadat hy ’n familievriend se dogter swanger gemaak het.

Dit wat Zuma teen die kop geslinger word, is egter veel, veel meer as sy buite-egtelike kaperjolle. Hy word onder meer daarvan beskuldig dat hy die land letterlik in ’n staatskapingsaksie verkwansel. Skandaal op skandaal volg hom. Nou weier hy om die beweerde “intelligensieverslag” beskikbaar te stel wat hy volgens eie aansprake gebruik het om min. Pravin Gordhan in die pad te steek. In die jongste debakel word beweer dat ’n noue, skatryk vriend van Zuma, Philani Mavundla, ’n voorskot van R81 miljoen ontvang het vir ’n tender om suur mynwater te ondersoek.

Oudpres. Thabo Mbeki, wat jare lank kinderloos getroud is, se buite-egtelike seun het tydens die struggle “vermis” geraak.

De Klerk het tydens sy presidentskap sy vrou gelos, en is met die vrou van ’n Griekse magnaat (wat haar man hieroor gelos het) getroud.

Meer as een kenner het beweer dat die probleem van geweld teen vroue en kinders wat oor die land spoel, minstens ten dele te make het met die vlakke van moraliteit wat topregeringsleiers stel. Ander faktore sluit armoede in.

Wanneer in die argiewe gedelf word, blyk dit dat die lysie hierbo heeltemal onvolledig is. Daar is berigte/bewerings oor mense met wie ministers (ook vroueministers) ongesonde verhoudinge het wat ruim baat by tenders, oorsese reise en vele meer. ’n Oudpresident het glo ’n nyatsi gehad wat by die SAUK gewerk het, en dikwels saam met die president op sy oorsese reise beland het.

Dit het trouens nou feitlik mode geword dat leiersfigure in die ANC self die organisasie van ’n gebrek aan moraliteit beskuldig, en dat dit reggestel moet word as die ANC sy bewind veel langer wil voorsit. Trouens, tans behaal adj.pres. Cyril Ramaphosa na berig word aansienlike sukses deur die gebrekkige moraliteitskwessie binne die ANC (wat korrupsie insluit) as invalshoek te gebruik vir sy eie veldtog om as volgende president van die ANC verkies te word. Maar watter waarborge het ons dat Ramaphosa nie ook maar voete van klei het nie?

Hierteenoor lyk dit of Zuma se eksvrou, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, se veldtog groot skade gely het deur haar veldtog te nou met die persoon van Zuma te verweef.

’n Ou Chinese spreekwoord lui dat ’n vis van sy kop af verrot.

’n Slagspreuk het in die kuberruim vlerke gekry, “Men are trash”. Natuurlik is daar ’n gebelgdheid onder mans wat hulle beslis nie aan seksuele misdaad en selfs moord teenoor vroue en selfs babas skuldig maak nie. Maar omdat verreweg die meeste van hierdie misdade heimlik gebeur, kan ook aanvaar word dat baie van hierdie gebelgdheid kom van mans wat agter die deur staan.

Die gemeenskapswoede teen hierdie soort misdaad bly ook nie uit nie. Pas is weer berig oor ’n groep gemeenskapslede wat ’n man wat glo sy meisie en dié se suster met petrol besprinkel en aan die brand gesteek het, agternasit en met klippe doodgegooi het. Albei susters word vir brandwonde behandel.

Gemeenskappe is woedend en verwag van die owerhede om hulle beter te beskerm – en veral te verseker dat die probleem deur streng wetstoepassing en behoorlike vonnisse kortgevat word. Maar die verkeerde boodskap sal ook bly uitgaan as die leiers nie ’n goeie voorbeeld stel nie. Smerig soos dit is, het die media ook ’n verantwoordelikheid om die boodskap oor te dra dat sulke optredes onaanvaarbaar is. Dit wek die verkeerde indruk as albei (wit) rektore in ’n kleinerige stad gelyktydig buite-egtelike verhoudings het, dit redelik algemeen bekend is, en die media swyg daaroor. (Albei rektore het intussen afgetree.) ’n Swart rektor se kaperjolle haal egter wel die media.

Moraliteit is nie sommer iets goedkoops wat langs die pad opgetel word nie. En Suid-Afrika het ’n lang, harde pad om hiervan werk te maak, soos blyk uit ’n onlangse verslag van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke wat in die Regina Mundi-kerk in Soweto bekend gemaak is.

Intussen word Suid-Afrika beskryf as ’n Mafia-skadustaat. Ons is dus (nog) nie ’n Mafia-staat nie, net amper een. En die ANC se planne om dit nou met erns aan te spreek, ontlok niks meer as ’n reaksie van wag en sien nie. Vantevore het sulke bekpraatjies bloot by bekpraatjies gebly.

Nog ʼn SA jagter sterf in Zim

$
0
0

Theunis en Carike Botha. Foto: Facebook

Theunis Botha (51), ʼn bekende professionele jagter en jagoperateur van Limpopo, is tydens ʼn jagtog in Zimbabwe dood.

Zimbabwe se Sunday News berig Botha en sy jaggeselskap het Vrydagmiddag in Gwai gaan stap toe hulle omstreeks 17:30 op ʼn teeltrop olifante afgekom het.

Volgens die Mirror het verskeie olifantkoeie op die jaggeselskap afgestorm en het een van die koeie Botha met haar slurp opgetel. Een van die ander jagters het die olifantkoei geskiet en sy het bo-op Botha geval.

Kuronda Safaris, wat glo die jagtog gereël het, het op Facebook hul medelye uitgespreek met Botha se vrou, Carike, en sy gesin. “Hy was ʼn uitsonderlike man met ʼn fantastiese sin vir humor. Ons gaan hom en ons stories om die kampvuur baie mis.”

Hoërskool Ben Vorster het op Facebook gesê Botha is ʼn oud-Vossie. “Ons harte gaan uit na sy vrou, Carike, en kinders. Theunis se drie oudste dogters, Marike, Lisa en Carmen, is ook oud-Vossies. Mag God julle dra en vertroosting bring in hierdie hartseer tyd.”

Botha was die eienaar van Theunis Botha Big Game Safaris and Hounds in Tzaneen waar hy saam met sy vrou en vyf kinders gewoon het.

Volgens berigte was Botha vriende met Scott van Zyl (44) wat verlede maand in Zimbabwe dood is. Van Zyl was saam met ʼn groep buitelandse jagters in Zimbabwe vir een van sy gereelde jaguitstappies. Een van sy honde het spoorloos verdwyn en hy het na die hond gaan soek. Hy het nooit na die kamp teruggekeer nie.

ʼn Grootskaalse soektog is van stapel gestuur en reddingspanne het meer as ʼn week lank onverpoos na Van Zyl gesoek.

Van Zyl se spore het op ’n sandwal van die Limpoporivier doodgeloop en dit is ook hier waar die Zimbabwiese polisie twee krokodille verlede week doodgeskiet het. Menslike oorskot wat binne die krokodille gevind is, is weggestuur vir DNS-toetse om te bevestig dat dit Van Zyl s’n is.

ʼn Derde krokodil is later ook doodgeskiet en ʼn skoen soortgelyk aan dié wat Van Zyl gedra het toe hy vermis geraak het, is binne die dier gevind. DNS-toetse het bevestig die menslike oorskot wat gevind is, is dié van Van Zyl.

Vier vas vir vlaag rooftogte in Kaap

$
0
0

Argieffoto: Phillip Bruwer

Die polisie in die Wes-Kaap het vier verdagtes vasgetrek in verband met die vlaag gewapende rooftogte wat die afgelope tyd in en om Kaapstad plaasgevind het.

Lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, het Maandag in ʼn verklaring gesê die voortslepende ondersoek na gewapende en transitorooftogte begin vrugte afwerp.

Speurders van Malmesbury het ʼn 32-jarige man in hegtenis geneem in verband met ʼn rooftog by ʼn veiligheidsmaatskappy waartydens ʼn groot aantal vuurwapens gesteel is.

“In ʼn ander klopjag is twee mans, onderskeidelik 43 en 45 jaar oud, vasgetrek in verband met ʼn transitorooftog wat in April plaasgevind het,” het Traut gesê.

ʼn 33-jarige man is in Khayelitsha vasgetrek vir ʼn transitorooftog wat in Februarie plaasgevind het.

“Nadere ondersoek sal bepaal of die mans ook met ander misdaad verbind kan word,” het Traut gesê.

Pensioentrekker langs hoofweg aangeval, beroof

$
0
0

Argieffoto

ʼn Pensioentrekker wat op die N3 in Pietermaritzburg geryloop het, is met ʼn skerp voorwerp gesteek en beroof.

Nick Dollman, woordvoerder vir Netcare 911, het gesê die voorval het omstreeks 12:00 Sondagmiddag plaasgevind.

“Dit het naby die Kerkstraatbrug plaasgevind. Die 64-jarige man beweer hy wou ʼn saamrygeleentheid kry toe hy deur ʼn onbekende aantal mans oorval is wat geld van hom geëis het. Hy het homself probeer verdedig, maar is oorrompel, gesteek en beroof,” het Dollman gesê.

Volgens Dollman is die man in die bors gesteek en in ʼn bedenklike toestand na ʼn nabygeleë hospitaal geneem waar ʼn chirurg reeds op hom gewag het.

Volgens Dollman was die polisie se honde-eenheid op die toneel.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, kon egter nie onmiddellik die voorval bevestig nie.

Ontploffing by raffinadery in Sasolburg

$
0
0

Foto: ER24.

Elf mense is Maandagoggend beseer in ʼn ontploffing by die Natref-raffinadery by Sasolburg in die Vrystaat.

Sasol en Total bedryf die Natref-raffinadery. Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici het omstreeks 08:04 op die toneel opgedaag en die fabriek was reeds ontruim.

“Een man het matige beserings opgedoen en tien ander geringe beserings,” het Meiring gesê.

Die pasiënte is op die toneel behandel en daarna na ’n nabygeleë mediese instansie geneem vir verdere mediese behandeling.

Alex Anderson, woordvoerder van Sasol, het gesê die voorval het omstreeks 07:45 plaasgevind. “Natref se nooddienste is ontplooi en alle personeel is van die gebou ontruim. In dié stadium is geen ernstige beserings aangemeld nie.”

Volgens Anderson sal meer inligting bekend gemaak word namate dit beskikbaar word.

Die polisie was nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie.

Natref-ontploffing word ondersoek

$
0
0

Foto: ER24.

ʼn Ondersoek is reeds aan die gang na die ontploffing Maandagoggend by die Natref-raffinadery by Sasolburg in die Vrystaat.

Sasol en Total bedryf die Natref-raffinadery. Alex Anderson, woordvoerder van Sasol, het gesê die ontploffing het omstreeks 07:45 in die gebied van die waterstofkompressors plaasgevind. “Agt mense is vir skok behandel, drie vir stofinaseming en drie vir geringe beserings.”

Volgens Anderson is Natref se nooddienste onmiddellik na die ontploffing ontplooi en is alle personeel ontruim. Die ontploffing het ʼn brand tot gevolg gehad, wat volgens Anderson teen 08:45 geblus is.

“Eenhede in die omgewing van die waterstofkompressors is gesluit. ʼn Ondersoek na die voorval is reeds begin om die oorsaak van die ontploffing vas te stel sowel as die uitwerking wat die voorval op produksie sal hê.”

Volgens Anderson neem Natref voorvalle van dié aard baie ernstig op. “Die veiligheid van ons werknemers, diensverskaffers en gemeenskap is ʼn prioriteit.”

Momberg voer aan daar is met bewyse gepeuter

$
0
0

‘n Skermskoot uit die video wat deur eNCA op YouTube gelaai is.

Vicki Momberg (48), die eiendomsagent wat in die sop beland het oor rassistiese uitsprake, het Maandag in die Randburg-landdroshof vertel hoe daar met die beeldmateriaal wat as bewysstukke gebruik word, gepeuter is.

Dit kom nadat ʼn video aan die lig gekom het wat wys hoe Momberg op 3 Februarie 2016 op haar selfoon praat en die k-woord gebruik en vir iemand sê swart mense in Johannesburg is “verskriklik” en sy is keelvol daarvoor.

Die video is geneem oomblikke nadat ʼn grypdief haar motorvenster stukkend geslaan het.

“Ek het na die video gekyk en ek voel daar is daarmee gepeuter, alles wat ek gesê het was trauma, ek kan nie verduidelik nie….”

Adv. Joe Davidovitz wat vir Momberg optree het sy kliënt gevra of sy kan onthou dat sy een van die polisiebeamptes ʼn klomp rassistiese beledigings toegesnou het. Momberg het geantwoord dat sy nie kan onthou nie.

Sy staan tereg op vier aanklagte van crimen injuria vir haar beweerde uitlatings.

Yusuf Baba, die staatsaanklaer, het aan die hof gesê die media het ʼn aansoek gebring dat die verhoor uitgesaai moet word. Momberg het egter gesê sy is glad nie gemaklik om te getuig sou daar kameras teenwoordig wees tydens die hofverrigtinge nie.

Momberg het gesê sy het nie tans ʼn vaste adres nie en dat sy by verskillende mense woon. Sy werk nie tans nie. Sy het aangedui sy het ʼn matrieksertifikaat, ʼn diploma in modeontwerp asook talle sertifikate wat verband hou met die eiendomswêreld.

Toe Davidovitz haar vra hoe sy gevoel het ná die voorval het sy stil geword en begin huil. Die hof het vir ʼn wyle verdaag sodat sy kon kalmeer.

Toe die hofverrigtinge voortgesit is, het sy getuig dat sy drie mense onthou, wat ʼn wit polisiebeampte insluit, wat haar eerste genader het.

“Hy [ʼn swart beampte] het my genader asof hy my wil slaan en bly vra wat het gebeur. ʼn Klomp mense het my toe gebel,” het Momberg gesê.

“Ek het vir hom bly vra of iemand my net huis toe kan neem,” Davidovitz het haar toe gevra of sy kan onthou dat sy 10111 gebel het en die operateur beledigings toegesnou het.

“Ek kan nie onthou wat ek gesê het nie, ek was kwaad, ek wou in daardie stadium net hulp gehad het,” het Momberg laat hoor. Davidovitz het haar gevra of sy al voorheen die k-woord gebruik het en sy het gesê sy kan nie onthou dat sy dit op ʼn daaglike basis gebruik het nie. “Natuurlik is dit ʼn neerhalende woord, dis nie deel van ʼn beskaafde woordeskat nie,” het Momberg gesê.

Davidovitz het haar herinner dat sy die k-woord ʼn paar keer in die video en die noodoproep-opname gebruik het. “Kan jy vir die hof sê waarom jy daardie woord gebruik het?”

“Nee, ek kan nie,” het sy geantwoord.

Baba het dit aan Momberg gestel dat hoewel sy gesê het sy nie ʼn rassis is nie, sy op kamera gevang is waar sy die k-woord 48 keer gebruik het. Momberg het gesê sy voel dat dit oordryf is en blykbaar gelag voordat sy gesê het sy wou nie ʼn swart mens naby haar hê nie.

Baba het ook verwys na ʼn soortgelyke saak waarin Momberg aangekla en vrygespreek is in Durban toe sy in 2006 gevra het dat enigiemand behalwe ʼn swart mens haar help by ʼn polisiestasie. Baba het haar gevra oor die 10111-opname en die video en waarom sy sê die staat het glo net sekere video’s gekies.

Momberg het gesê na haar opinie is daar met die video gelol. “Ek was ʼn slagoffer, ek het al talle traumatiese ervarings gehad en niemand is nog ooit vasgetrek daarvoor nie, ons regstelsel is onregverdig.”

Die saak duur voort.


Wes-Kaap tot rampgebied verklaar

$
0
0

Stand van Wes-Kaapse damme (8 Mei 2017) Foto: Departement van water en sanitasie

Die Wes-Kaap is nou amptelik ʼn rampgebied.

Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, het die provinsie tot ʼn rampgebied verklaar te midde van die ergste droogte die afgelope eeu.

Volgens Zille sal dié stap steun bied aan die Wes-Kaapse rampbestuur se strategie om te verseker dat krane in die provinsie nie droog loop nie. Die verklaring tot rampgebied sal vandeesweek in die Staatskoerant verskyn nadat dit reeds verlede week deur Zille onderteken is.

Die ramp sal geklassifiseer word vir ʼn tydperk van drie maande wat verleng kan word indien nodig. Volgens Zille stel die Wet op Rampbestuur die provinsiale regering in staat om tydens ʼn rampklassifikasie sleuteldiensleweringspunte te beskerm deur addisionele befondsing.

Die strategie, genaamd projek “Avoiding Day Zero”, fokus op aanvraagbestuur, berging tydens die wintermaande en grondwaterbestuur.

Zille het gesê die nasionale tesourie en die departement van water en sanitasie sal genader word indien daar verdere bystand nodig is.

Intussen sal daar onmiddellik ingrypings wees in die vorm van die sink van boorgate by hospitale in die metro, tenders vir die bou van ontsoutingsaanlegte by Koeberg, die aanstel van grondwaterspesialiste in elke distrik en die assessering van waterbeperkings in die onderskeie munisipaliteite.

“Ons wil graag die publiek gerusstel dat die verklaring tot rampgebied geen rede tot paniek is nie. Dit gee die provinsie net meer mag om in te gryp,” het Zille gesê. “Ons doen ʼn beroep op alle inwoners om steeds voort te gaan om water te spaar.”

Man sterf toe voertuig hom tref

$
0
0

Argieffoto van die dubbeldekker-gedeelte van die snelweg Foto: noelcmn, pentaxforums.com

ʼn Man van Durban is Maandagmiddag dood toe hy deur ʼn voertuig op die N2-hoofweg getref is nadat hy glo van kapers probeer vlug het.

Chris Botha, Netcare 911-woordvoerder, het gesê die man is op die toneel dood as gevolg van die veelvuldige beserings wat hy opgedoen het.

Botha meen verslae van die toneel dui daarop dat die man deur ʼn onbekende aantal rowers beroof is en oor die hoofweg gehardloop het om te probeer wegkom toe die voertuig hom getref het.

Hy het gesê dit is die tweede keer “in ʼn kwessie van ʼn paar weke” dat ʼn onskuldige mens op dié einste manier dood is nadat hy naby ʼn oop pad beroof is.

Meer besonderhede oor die voorval was teen Maandagmiddag nog nie beskikbaar nie. Die polisie ondersoek die saak.

Parys-boere: Staatsgetuie sê verklaring ‘was regte ding om te doen’

$
0
0

Van links is Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Maroela Media.

ʼn Getuie het Maandag in die hooggeregshof in Parys getuig hy is deur lede van die Valke geïntimideer om ʼn verklaring as ʼn staatsgetuie af te lê oor die gebeure van 6 Januarie 2016 toe twee vermeende plaasaanvallers na bewering aangekeer en só erg aangerand is dat hulle later aan hul beserings beswyk het.

Fanie Oosthuizen (44), ʼn plaasvoorman van die Parys-omgewing, was Maandagoggend weer in die getuiebank waar ses mans op twee aanklagte van moord teregstaan. Boeta van der Westhuizen (46), Loedie van der Westhuizen (19), Anton Loggenberg (50), Cor Loggenberg (20), Miela Janse van Vuuren (23) en kapt. Henk Prinsloo (47) word aangekla van die moord op Samuel Tjixa en Simon Jubeba.

Die staat beweer Tjixa en Jubeba is op 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip, net buite Parys, aangekeer en aangerand. Hulle is van die toneel na ʼn hospitaal in Parys gehaas, maar albei is kort ná die voorval oorlede.

Oosthuizen het Vrydag aan die hof gesê hy was die betrokke dag ook op die toneel waar Tjixa en Jubeba aangekeer is. Oosthuizen is verlede jaar in verband met dieselfde voorval in hegtenis geneem, maar getuig nou as ʼn staatsgetuie ingevolge artikel 204 van die Strafproseswet. Oosthuizen is Maandag deur adv. Hans de Bruin vir die verdediging kruisondervra nadat hy Vrydag sy getuienis gelewer het.

Oosthuizen het Maandag aan die hof bevestig dat sy seun, Daniël, en broer, Johan, ook die betrokke dag op die toneel was. Hy het gesê Daniël het egter niks aan Tjixa en Jubeba gedoen nie. Hy het gesê Johan het wel een van die verdagtes met ʼn vuis in sy sy geslaan. Oosthuizen het gesê hy het by sy aankoms op die toneel gesien hoe Loedie een van die verdagtes, wat op die grond gelê het, skop. Hy beweer hy het vir die groep gesê, “Stadig manne, nie so erg nie,” waarna Loedie opgehou het om die man te skop.

Oosthuizen het ook erken hy het een van die verdagtes se arm agter sy rug gedraai en hom gevra waar die vuurwapen is. Hy het gesê toe die verdagte hom nie antwoord nie, het hy sy arm nog meer gedraai. Die verdagte het hom op sy naam genoem en gesê hy maak hom seer en Oosthuizen het hom toe gelos. De Bruin het Oosthuizen gevra of dit nie waar is dat hy ook die verdagte opgetel het en hom op die grond neergegooi het nie. Dit het hy ontken.

De Bruin het Oosthuizen toe ondervra oor die gebeure wat daartoe gelei het dat hy ʼn staatsgetuie geword het. Volgens Oosthuizen het lede van die ondersoekspan van die Valke, wat die saak ondersoek het, aan hom gesê hy kan moontlik vervolging vryspring indien hy die waarheid vertel oor wat daardie dag gebeur het. Hy het ook aan die hof gesê lede van die ondersoekspan het aan hom gesê hulle sal hom in ʼn plek van veiligheid plaas sodat sy lewe nie in gevaar sal wees wanneer hy ʼn staatsgetuie is nie.

Op ʼn vraag van De Bruin het Oosthuizen gesê die Valke het, terwyl hy in aanhouding was voor sy borgtogaansoek, gedreig om sy seun en sy broer in hegtenis te neem indien hy nie aan hulle vertel wat gebeur het nie. Volgens Oosthuizen het die Valke gesê sy broer en seun was ook die dag op die toneel en dit is genoeg rede om hulle in hegtenis te neem.

Oosthuizen het aan die hof gesê hy het uiteindelik besluit om ʼn verklaring by die Valke af te lê omdat “dit die regte ding was om te doen” en omdat sy regsverteenwoordiger gesê het die tyd was nou reg om die waarheid oor die gebeure van daardie dag te vertel. Hy het gesê hy is deur sy prokureur na adv. Barry Roux verwys wat namens hom en van die ander mans wat in daardie tyd beskuldigdes was, te onderhandel om staatsgetuies te word.

Oosthuizen het gesê hy was “tot ʼn mate” verlig toe hy sy verklaring as staatsgetuie afgelê het, maar het geweet die verhoor moet nog plaasvind en was daarom nie heeltemal ontspanne oor die saak nie. De Bruin het gevra of dit is omdat hy geweet het hy gaan ongemaklike vrae moet beantwoord. “Dit is nie maklik om hier te staan nie,” het Oosthuizen gesê. “Mense maak jou uit as ʼn verraaier en ʼn rugsteker en mense wat jou altyd gegroet het, groet jou nie meer nie.” Op ʼn vraag van De Bruin of hy na die beskuldigdes verwys, het Oosthuizen gesê hy verwys na die beskuldigdes en hul families en vriende.

De Bruin het Oosthuizen gevra om gedeeltes uit ʼn verklaring voor te lees wat hy [Oosthuizen] vroeër afgelê het. Hy het daarin gesê twee beamptes van die Valke het hom probeer oortuig om ʼn staatsgetuie te word. “Hulle het my ingelig dat hulle genoeg bewyse teen my het om my toe te sluit en het gesê hulle het ook genoeg bewyse teen my seun, want hy was op die toneel. Hulle het nie gesê wat die bewyse teen my en my seun was nie,” het Oosthuizen gesê.

“Ek het geïntimideerd gevoel en nie geweet wat om te doen nie. Ek het gesê ek kan nie ʼn besluit neem voordat ek met my regsverteenwoordiger gepraat het nie. Hulle het toe gesê daar is klaar iemand wat met hulle praat en ek het aangeneem hulle het dus reeds inligting oor die voorval gekry. Hulle het gesê ek moet onthou ek kan skuldig bevind word op grond van gemeenskaplike doel omdat ek op die toneel was. Hulle het net negatiewe dinge te sê gehad oor my regsverteenwoordiging en ek het hoogs geïntimideerd gevoel deur hul dreigemente om my seun en broer in hegtenis te neem.”

Oosthuizen het ook gesê hy dink die Valke het met opset veroorsaak dat die proses van sy borgtogaansoek sloer sodat hulle hom langer in aanhouding kan hou en druk op hom plaas om ʼn staatsgetuie te word. Hy het gesê hy het in ʼn stadium aan die ondersoekspan genoem dat hy hou van visvang en beweer ʼn beampte van die Valke het aan hom gesê hulle sal hom ʼn plek langs die rivier gee waar hy kan woon omdat hy van visvang hou.

De Bruin het vroeër die dag Oosthuizen uitgevra oor die eerste verklaring wat hy aan die polisie gegee het, voordat hy ʼn staatsgetuie geword het. Oosthuizen het beweer hy het die verklaring in die polisieselle onderteken en het aan die hof gesê hy het nie ʼn eed afgelê voordat hy dit gedoen het nie. De Bruin het aangevoer dit is hoogs onwaarskynlik dat Oosthuizen nie ʼn eed afgelê het toe hy die verklaring onderteken het nie en beweer nou dat hy nie die eed afgelê het nie omdat hy bang is daar is iets in die verklaring waarmee die verdediging hom gaan konfronteer.

Oosthuizen het erken hoewel hy in hierdie verklaring gesê het hy het niks gedoen om Tjixa en Jubeba se dood te veroorsaak nie, beteken dit nie hy het niks verkeerd gedoen nie.

Oosthuizen se kruisondervraging sal Dinsdagoggend voortgesit word.

Die staatsaanklaers het joernaliste in die hof versoek om nie foto’s van die staatsgetuies te neem nie uit vrees dat hulle geïntimideer sal word.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

SAPD moet opdok vir AfriForum se regskoste

$
0
0

Foto: SAPD, Facebook

Die Noord-Gautengse hooggeregshof het Maandag die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) beveel om die burgerregte-organisasie AfriForum se regskoste te betaal nadat die SAPD onvoorbereid by dié hof opgedaag het.

AfriForum se aansoeke teen die SAPD ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting sou Maandag in die hof aangehoor word.

In die eerste aansoek versoek AfriForum die SAPD om syfers bekend maak van hoeveel staatsgeregistreerde vuurwapens tussen 2009 en 2014 deur die polisiediens verloor of van die diens gesteel is. Voorlopige syfers dui aan dat sowat 6 000 vuurwapens in dié tydperk verlore geraak het.

In die tweede aansoek versoek AfriForum die SAPD om die laaste interne-ouditverslag oor opleiding binne die SAPD aan die burgerregte-organisasie beskikbaar stel. Dié inligting sal onder meer aandui hoeveel operasionele polisiebeamptes inderdaad bevoeg is om vuurwapens te dra.

Ian Cameron, AfriForum se veiligheidshoof, het gesê die SAPD se regsverteenwoordiger het egter onvoorbereid by die hof opgedaag en aangevoer dat hulle nie daarvan bewus was dat die saak vandag op die rol is nie.

Volgens Cameron het regter Hennie de Vos gesê die dae is verby dat staatsadministrateurs nie hul werk doen nie. Die saak is tot Woensdag 24 Mei 2017 uitgestel en De Vos het beveel dat die SAPD AfriForum se regskoste vir vandag moet dek.

“AfriForum is van mening dat die SAPD onverantwoordelik met staatsgeregistreerde vuurwapens omgaan, wat ’n direkte invloed op alle landsburgers se veiligheid het. Dit versterk AfriForum se inisiatief om gemeenskappe te mobiliseer om hulself binne die raamwerk van die wet te beveilig en misdaad te help bekamp,” het Cameron gesê.

Beroepsduiker sterf by Sodwanabaai

$
0
0

Argieffoto (Foto: tpsdave, Pixabay)

ʼn 55-jarige beroepsduiker is Sondag by Sodwanabaai aan die KwaZulu-Natalse Noordkus dood nadat hy saam met ʼn groep navorsers videomateriaal verfilm het vir ʼn dokumentêr wat bedoel is om natuurbewaring aan te moedig en die publiek daaroor in te lig.

Die duiker is geïdentifiseer as Mitsuyoshi Tanaka, ʼn voormalige duikinstrukteur met sowat 25 jaar ervaring en een van die senior duikers op dié maandlange projek van die International Association of Nitrox and Technical Divers en die Suid-Afrikaans gebaseerde maatskappy Triton Dive Lodge.

Triton Dive Lodge het in ʼn verklaring gesê alle veiligheidsvoorsorgmaatreëls is getref voordat Tanaka Sondag by ander duikers sowat 70 m onder die oppervlak aangesluit het.

Met geen tekens van enige gevaar nie het die groep duikers, insluitend Tanaka, glo ná ʼn wyle weer na die oppervlak begin kom. Tanaka was toe egter bewusteloos.

Lede van die groep het onmiddellik kardiopulmonêre resussitasie op hom toegepas, en is hy dadelik na die strand geneem waar nooddienste hom na die Mseleni-hospitaal gehaas het.

Tanaka is egter by sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Die presiese oorsaak van sy dood is nie in dié stadium bekend nie en ʼn ondersoek duur voort.

Albei organisasies wat aan die projek gewerk het, het intussen hul medelye aan sy familie oorgedra.

Die dokumentêr waarmee die organisasies besig is fokus spesifiek op die beskerming van selakante en seeskilpaaie. Video’s in Engels in isiZulu oor dié dokumentêr is ook in die vervaardigingsproses om jong kinders op te voed en in te lig oor dié aspek van natuurbewaring.

Bylmoorde: Henri was vriendelik, joviaal by die hospitaal

$
0
0

Henri van Breda in die hof (April 2017) Foto: Catherine Rice/ANA

Henri van Breda was volgens getuienis “vriendelik en joviaal” en het glo kalm en selfversekerd voorgekom toe hy ná die Stellenbosch-bylmoorde saam met ʼn vriend na die hospitaal is.

Dr. Michelle van Zyl het Maandag aan die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê sy het ook nie pynmedikasie vir die 27-jarige voorgeskryf nie.

Volgens haar verslag het sy asem effens na alkohol geruik.

Van Zyl sê Henri het ʼn snywond aan die linkerkant van sy buik gehad, maar hy het nié steke vir die wond gekry nie omdat dit nie diep genoeg was nie. Hy het ook krapmerke op sy linkervoorarm gehad en ʼn kneusplek op sy bors wat nie gebloei het nie.

Sy het hom ontslaan, maar die polisie het haar later gevra om hom weer te ondersoek nadat hulle gesê het Henri is ʼn verdagte in die moord. Hy was sowat ʼn uur later weer daar waartydens sy bloed getrek het.

Van Zyl sê hy was “100% georiënteerd” toe sy hom die tweede keer gesien het, maar nie so vriendelik soos die eerste keer nie.

Met sy tweede besoek was albei sy oë opgeswel. Sy het egter aan die hof gesê dat wonde ʼn rukkie kan neem om vorm aan te neem op die liggaam, veral as dit nie diep is nie. Sy het egter bevestig dat hy geen teken van harsingskudding getoon het nie.

Van Zyl het verder ook gesê hy was hoegenaamd nie emosioneel nie.

Die saak is tot Dinsdag uitgestel wanneer dr. Marianne Tiemensma, ʼn deskundige in forensiese patologie en kliniese forensiese ondersoek, sal getuig.

Sy het voorheen getuig die beserings wat Henri op die dag van die bylmoorde opgedoen het, lyk grotendeels asof dit self toegedien is.

Van Breda (22) word daarvan beskuldig dat hy sy pa, Martin van Breda (54), ma, Theresa (55), en broer, Rudi (22), op 26 Januarie 2015 met ʼn byl in die gesin se huis op die De Zalze-landgoed buite Stellenbosch vermoor het. Sy sussie, Marli (toe 16 jaar oud), het die aanval oorleef, maar ʼn breinbesering opgedoen en ly aan geheueverlies.

Man in hof wat drie vroue doodry

$
0
0

Argieffoto ter illustrasie

Die 53-jarige Simon Phukhubye het Maandag vlugtig in die Seshego-landdroshof verskyn op aanklag van dronkbestuur, strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur.

Phukhubye is die afgelope naweek in hegtenis geneem nadat drie vroue dood is toe hy Saterdagoggend in ʼn groep van vyf vroue in Limpopo ingeploeg het.

Die drie vroue is op slag dood en twee ander is in ʼn ernstige toestand na die hospitaal geneem. Die vroue is tussen 26 en 46 jaar oud.

Volgens lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het hulle glo vir vervoer gestaan en wag om ʼn politieke byeenkoms in Seshego by te woon toe die man hulle getref het.

Ngoepe sê die saak teen die man is uitgestel tot 28 Mei. Hy is intussen vrygelaat op R1 000 borgtog.


[Video] Talle sterf in ontploffing tydens konsert

$
0
0

Gewapende polisiebeamptes buite die Manchester Arena kort nadat ʼn ontploffing die arena geruk het waar Arianda Grande opgetree het (22 Mei 2017). Foto: Peter Byrne/PA via AP

Minstens 19 mense is dood tydens ʼn ontploffing Maandagaand by die Manchester Arena in Manchester in Engeland waar die Amerikaanse sangeres Ariana Grande opgetree het.

Die polisie het gesê die ontploffing het omstreeks 22:30 by die arena met plek vir 21 000 konsertgangers plaasgevind. Talle kinders was ook in die skare. Altesaam 59 mense is in die ontploffing beseer.

Kort ná die ontploffing was verskeie polisiebeamptes en nooddienste op die toneel en die gebied is afgesper. Theresa May, Brittanje se eerste minister, het gesê die polisie hanteer die voorval as ʼn “afskuwelike terreuraanval”.

Polisiebeamptes buite die Manchester Arena kort nadat ʼn ontploffing die arena geruk het waar Arianda Grande opgetree het (22 Mei 2017). Foto: Peter Byrne/PA via AP

Hoofkonstabel Ian Hopkins, polisiehoof in Manchester, het gesê die voorval word as ʼn terreuraanval beskou, maar daar is nog nie veel meer inligting beskikbaar nie. Hy het gesê die polisie werk op plaaslike en nasionale vlak saam, asook saam met die nasionale anti-terreurpolisie en Brittanje se intelligensiedienste.

Intussen het die Amerikaanse departement van binnelandse sake in ʼn verklaring gesê hy monitor die situasie by die Manchester Arena en sal sy volle samewerking aan sy Britse eweknieë gee in die ondersoek na die ontploffing.

Andy Burnham, burgemeester van Manchester, het Maandagaand op Twitter sy medelye uitgespreek teenoor die families van oorledenes. “My hart gaan uit na die families wat geliefdes verloor het en my bewondering aan ons dapper nooddienste. ʼn Aaklige nag vir ons wonderlike stad,” het hy getwiet.

Amber Rudd, Brittanje se minister van binnelandse sake, en Nicola Sturgeon, Skotse premier, het ook albei hul medelye teenoor die families van die slagoffers uitgespreek.

Ooggetuies van die voorval het vertel hoe mense ná die ontploffing huilend en skreeuend uit die arena gehardloop het. Die onderstaande video, wat ná die ontploffing geneem is, is een van talle wat op sosiale media gedeel is:

Rower ontsnap uit beskuldigdebank

$
0
0

Argieffoto

ʼn Pa van twee jong kinders wat op ʼn aanklag van gewapende roof skuldig bevind is, het Maandag uit die beskuldigdebank van ʼn hof in Kaapstad ontsnap, oomblikke nadat hy vier jaar tronkstraf opgelê is.

Aldrin (Ollie) Witbooi (37) het só vinnig uit die hof verdwyn dat hy weg was voordat iemand besef het wat gebeur het. Teen laat Maandagaand was hy steeds op vrye voet.

Witbooi het in die Parow-streekhof voor landdros Constance Nziweni verskyn. Die landdros het Witbooi ses jaar tronkstraf opgelê waarvan twee jaar opgeskort is. Daar was ʼn oproer in die hof toe hy skielik oor die agterkant van die beskuldigdebank gespring en by die deur uit verdwyn het voordat enigiemand hom kon keer.

Die saak hou verband met ʼn voorval in Oktober 2015 toe Witbooi en sy niggie by die huis van ʼn Nederlandse immigrant, Aarnold de Myunk, gekuier het. Toe De Myunk die hek vir die twee oopgemaak het, het ʼn tweede onbekende man met ʼn vuurwapen verskyn en in die huis ingehardloop. Hy het die huis omgekeer en met De Myunk se duur musiekopnametoerusting op die vlug geslaan.

Witbooi en sy niggie is in hegtenis geneem, maar die niggie is later vrygespreek op die aanklagte teen haar.

Die landdros het tydens die vonnisoplegging gesê Witbooi het gedurende die verhoor volgehou hy is onskuldig en het die staatsaanklaer, Barry van der Berg, gedwing om De Myunk na die getuiebank te roep. Sy het gesê Witbooi het die slagoffer gedwing om die hofverrigtinge by te woon en hom weer die trauma van daardie aand laat herleef.

De Myunk het ná die rooftog besluit om terug te keer na Nederland. “Dit is deur jou optrede dat die slagoffer nie meer veilig voel in Suid-Afrika nie en ons land verlaat het met ʼn slegte siening van die land,” het die landdros gesê. “Dit is mense soos jy wat ons land ʼn slegte naam gee.”

Sy het gesê ʼn gedeelte van die vonnis is voorwaardelik opgeskort sodat dit soos ʼn swaard oor Witbooi se kop kan hang en hom twee keer laat dink voordat hy die oortreding herhaal.

Man langs snelweg geskiet

$
0
0

Foto: Marshall Security

ʼn 58-jarige man is Maandagaand langs die N2 in Durban geskiet nadat sy voertuig onklaar geraak het.

Kyle van Reenen, bemarkingsbestuurder van Marshall Security, het in ʼn verklaring gesê die voorval het in Clare Hills gebeur. Volgens Van Reenen is veiligheidsbeamptes omstreeks 20:30 na die toneel op die N2 Suid, net ná die Umgeniweg-wisselaar, ontbied.

“Volgens inligting wat op die toneel aan die veiligheidsbeamptes gegee is, het die man langs die pad stilgehou nadat sy voertuig meganiese probleme ondervind het. ʼn Onbekende aantal verdagtes het hom genader en geëis dat hy sy waardevolle besittings aan hulle oorhandig voordat hulle ʼn vuurwapen uitgeruk en die man geskiet het. Hy is in sy linkerskouer gewond en die verdagtes het te voet gevlug,” het Van Reenen gesê.

Hy het gesê die man is op die toneel gestabiliseer voordat hy na ʼn nabygeleë hospitaal geneem is. Die polisie ondersoek die voorval.

Nóg lyke in myn gevind, ‘leier’ vas

$
0
0

Argieffoto

Nog vyf liggame is uit die Eland-skag buite Welkom in die Vrystaat gehaal.

Maroela Media het vroeër berig die polisie is na die myn ontbied nadat liggame ondergronds gevind is. Dit volg ná ʼn ondergrondse ontploffing vroeër vandeesmaand in die myn. Die myn se veiligheidsmaatskappy het ondersoek ingestel en sedertdien is 34 liggame na die oppervlak gebring.

Die polisie in Welkom se ondersoek duur voort. Die liggame wat opgespoor is, het reeds begin ontbind. Sommiges het ook naamplaatjies gedra. Brig. Motantsi Makhele, provinsiale woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, het gesê die oorsaak van die ontploffing is steeds nie bekend nie en sal deel uitmaak van die polisie se ondersoek.

Volgens Makhele is daar Maandag ʼn klopjag op ʼn huis in Robertostraat in Welkom gedoen en 19 mans wat van Lesotho afkomstig is, is deur die polisie vir ondervraging ingeneem. “Ná verdere ondersoek het ons nog ʼn huis in Tiptolstraat in Welkom besoek en daar is beslag gelê op kospakkies wat ons glo aan onwettige myners verkoop of afgelewer sou word. Van die kos was byna verrot,” het Makhele gesê.

Die eienaar van dié huis, ʼn 39-jarige man, is in hegtenis geneem nadat daar ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie in sy besit gevind is. “Hy is glo die leier van die 19 mans,” het Makhele gesê.

Hy sal Woensdag in die Welkom-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van ʼn onwettige vuurwapen.

Maroela Media het vroeër berig 11 mense is in hegtenis geneem in verband met die voorval. Lt. Genl. Lebeona Tsumane, Vrystaatse polisiekommissaris het gesê die 11 mense word daarvan aangekla dat hulle by onwettige mynbedrywighede betrokke was.

Nuuskommentaar: Aardbewings (of gebrek daaraan) laat ons kopkrap, soos politiek

$
0
0

Argieffoto

Met amper die helfte van die jaar verby het die aarde vanjaar tot dusver buitengewoon min noemenswaardige aardbewings in vergelyking met ander jare beleef. Beteken dit dat daar druk opbou vir ’n aantal baie grotes wat kom? Suid-Afrika is grootliks buite hierdie spervuur, maar het sy eie sosio-politieke potensiële brandpunte waar die druk moontlik aan die opbou is.

Met ’n aardbewing van 5,2 op die momentmagnitudeskaal buite Stilfontein op 3 April, en ’n stewige 6,5 in Botswana kort daarna, asook die sterftes in Italië, mag Suid-Afrikaners onder die indruk verkeer dat vanjaar ’n groot aardbewingjaar is. Maar die werklikheid is dat vanjaar tot dusver buitengewoon stil is wat aardbewings van 7 of sterker betref, met nog net twee wat vanjaar wêreldwyd voorgekom het. Albei was boonop in Januarie vanjaar en hul episentrums diep.

Verlede jaar is die aarde 16 keer deur ’n skudding van 7 of meer geruk, en die jaar tevore, 18 keer. Dit lyk dus of die aarde “agter skedule” is, en dit geld ook ligter aardskuddings. Verlede jaar was daar 14 421 aardbewings van 4 of sterker, teenoor vanjaar se 4 382. En ons is byna halfpad deur die jaar.

Kan ’n mens iets hieruit wys word? In die VSA word byvoorbeeld bereken dat Die Grote wat Los Angeles moet tref, al jare laat is.

Bou daar dalk aardbewings wêreldwyd op sodat die aarde skielik ’n aantal groot, verwoestende aardbewings gaan kry? Of laat die kleiner aardbewings wat wel voorkom die spanning in die verskuiwingsvlakke genoegsaam skiet gee? Dit kan met redelike sekerheid gesê word dat daar minstens op sommige plekke spanning vir groot aardbewings aan die opbou sal wees. Wanneer daardie aardbewings kom, sal ons waarskynlik kwalik kennis neem omdat die meeste diep onder die see of in ander onherbergsame streke gaan voorkom, of die episentrum te diep onder die aarde sal wees om groot skade te kan aanrig. Maar die kanse is ook daar dat daar enorme skade en lewensverlies kan wees. Suid-Afrika kan egter redelik gerus wees dat daar nie sommer werklike grotes in die land sal voorkom nie.

Geoloë en seismiese kenners is deurgaans met navorsing besig om maniere te probeer vind om aardbewings te voorspel. Ingenieurs en argitekte ontwerp nuwe geboue sodat hulle sterk aardbewings kan weerstaan. Uitgebreide stelsels van tsoenami-waarskuwings bestaan.

Hoewel Suid-Afrika die afgelope paar eeue ’n paar stewige aardbewings beleef het, soos die Bolandse aardbewings, is die land eintlik ’n taamlike aardbewingvrye land. Die hoofrede is dat kontinentale drywing weg van Suid-Afrika plaasvind, en dus minder druk op die vasteland plaas. Kleiner verskuiwingsvlakke kom wel landswyd voor, wat meestal ligte trillings, of baie ligte aardbewings veroorsaak. Dat Nkandla met ’n bunker teen aardbewings toegerus is, is eintlik ’n skande.

Wat die sosio-politieke situasie in Suid-Afrika betref, het die land egter ’n magdom verskuiwingsvlakke. Miskien is die direkte Afrikaanse vertaling van die Engelse woord vir verskuiwingsvlak, foutlyne, ’n meer gepaste uitdrukking. Die land is op byna enige denkbare vlak heterogeen, met ’n regering wat die ras-foutlyne deurlopend voed, ’n groot probleem. Solidariteit het die regering by verskeie internasionale liggame oor dié rassisme gaan verkla, en berei voor vir hofsake plaaslik.

Die taalkwessie word nou in verskillende howe gevoer nadat onder meer Afrikaanssprekendes ’n foefie gebruik het om die wegdoen van Afrikaans by universiteite “die bevordering van meertaligheid” te noem.

Die regering hou vol met “kortpad”-ekonomiese probeerslae wat egter soos taks ’n handjievol bevoordeel en ’n massa in groot armoede laat.

Die land word “regeer” deur ’n president wat bitter baie mense nie as hul president beskou nie, onder meer omdat hy sy ampseed en die Grondwet gereeld minag.

Die vlakke van misdaad in die land laat spanning op verskeie terreine opbou. Op ’n dag gee iets mee, en die sosio-politieke toneel ontbrand en vandalisme en selfs dood volg. Coligny, Eldoradopark en verskeie ander gebiede was min of meer gelyktydig, en om skynbaar heel verskillende redes, aan die brand.

Vanuit die geledere van die Seunse Weenkoor is veral wit mense verwyt vir die oorkook van die situasie op Coligny. Ander ontleders wat meer holisties na die probleem gekyk het, is erg in hierdie geledere verkwalik.

Die werklikheid is dat die regering lomp en soms selfs moedswillig op sulke situasies reageer en sake vererger. Die optrede van Noordwes se premier by die begrafnis van die seun wie se dood die vonk in die kruitvat was, het hom ’n klag by die Menseregtekommissie op die lyf laat loop. Repudiëring uit eie geledere bly ook uit.

Dit beteken nie alle wit mense op Coligny se hande was skoon nie, maar daar is maniere om brûe te bou, en daar is maniere om mense baie weerstandig te maak om brûe te bou, veral brûe wat bestand is teen die foutlyne.

Sirië is ’n baie goeie voorbeeld van waar foutlyne losgetorring het en die land laat ontbrand het. Wat sake meer kompleks maak, is dat daardie foutlyne oor landsgrense loop, en maak dat buurlande, of groepe in buurlande, ’n belang het om betrokke te raak, of minstens op ’n spesifieke uitkoms te hoop.

Om maar een voorbeeld te noem. Die Basjar al-Assad-dinastie, wat die land via die Baath-party regeer, behoort tot die Alawiete, ’n kleinerige sekte van die Sjiïete-minderheid in Sirië. Die aangrensende Iran het egter ’n Sjiïete-meerderheid, en hulle het ’n groot belang in Sirië se geostragiese waarde om wapens by die Sjiïtiese Hezbollah-terreurbeweging in Libanon te kry. Veral Israel het ’n belang dat hierdie wapens Hezbollah nie bereik nie, en voer periodiek lugaanvalle op bergplekke op die toevoerroetes uit.

By hoeveel plekke in Suid-Afrika is die foutlyne aan die lostorring, en wag eintlik net vir die vonk in die kruitvat?

Die land het brugbouers nodig, en diegene wat vir die regering gaan wag daarvoor, gaan lank wag. En dis beter om hierdie drukkokers op te spoor en te ontlont as om te wag dat die foutlyn se drukking so hoog word dat dit tot ’n verwoestende aardskuddende ramp lei.

Viewing all 56621 articles
Browse latest View live