Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all 56621 articles
Browse latest View live

[Foto’s] Groot probleme by Grootfontein  

$
0
0

Foto: AfriForum Jeug.

Daar blyk nie veel uitkoms te wees vir studente van die Grootfontein Landboukollege in Middelburg nie.

Talle ontevrede studente het verlede week begin om uiting te gee aan hul misnoeë oor die verblyftoestande by dié kollege uiting deur ’n varkhok voor die ingang van die kollege op te rig.

Dié protesaksie het gevolg nadat herhaalde pleidooie deur AfriForum Jeug en studente aan Tino Herselman, direkteur van die kollege, op dowe ore geval het. Die jeugorganisasie het ook versoek dat studente se griewe onder Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye, se aandag gebring word tydens sy onlangse besoek aan die kollege. Geen terugvoer is tot dusver ontvang of dit wel gebeur het en of daar opgetree gaan word nie.

“Die bestuur dring daarop aan dat ons die regte kanale moet volg om ons klagtes aan te meld, maar wanneer ons dié kanale volg, kry ons weinig tot geen reaksie nie. Indien die bestuur wel ’n klagte aanspreek, bied hulle slegs tydelike oplossings,” sê Jan-Hendrik Goosen, voorsitter van AfriForum Jeug se Grootfontein-tak.

Maroela Media kon daarin slaag om Herselman in die hande te kry, maar hy wou nie kommentaar lewer oor die aangeleentheid nie. Hy het alle medianavrae na die departement van landbou, bosbou en visserye verwys.

Ná verskeie herhaaldelike pogings om kontak te maak met die departement, asook beloftes van terugvoer, het Maroela Media egter steeds geen terugvoer ontvang nie.

Volgens Marike van As, AfriForum Jeug se koördineerder vir die Universiteit van die Vrystaat en Grootfontein Landboukollege, is die verblyftoestande egter nie die enigste probleem by dié kollege nie. Daar is ook probleme soos swak bestuur van die koshuis en sewe opleidingsplase, onregverdige afdwinging van transformasie en miskenning van taalregte. Sy sê AfriForum Jeug en verskeie studente is ook bekommerd oor die gehalte van onderrig by dié kollege.

“Die staat druk vir grondhervorming, maar die instansies waar jong boere opgelei moet word, gaan ten gronde. Dit blyk dat die privatisering van hierdie instansies die enigste alternatief is indien die politieke wil nie daar is om huidige probleme aan te spreek en op te los nie. Ons wil hê Grootfontein Landboukollege moetweer een van die beste in die land wees,” sê Van As.

Van As vertel van ʼn vergadering wat op 13 Maart met Herselman, ouers en studente gehou is waarby sy ook teenwoordig was. “In die vergadering is daar gesels oor die klagtes oor die verblyf asook die akademiese aangeleenthede. Gedurende die vergadering is daar talle beloftes gemaak, onder meer dat ʼn sekere toets waaroor die studente bekommerd was omdat hulle nie die werk verstaan nie, eers uitgestel sou word tot daar behoorlike klasse in Afrikaans aangebied kon word. Daardie toets het toe wel plaasgevind. Ek het op 17 Maart vir Herselman ʼn brief oor die vergaderings geskryf en alle bewyse aangeheg,” het Van As gesê.

Van As het op 27 en 31 Maart met Herselman opgevolg toe sy geen terugvoer ontvang nie. Sy het eers op 3 April terugvoer ontvang. “Daar is hoofsaaklik aandag gegee aan die akademiese klagtes en nie aan die verblyfklagtes nie. Die kollege het sewe miniplase en studente leer dan boer op een van hierdie plase. As gevolg van inmenging van ʼn vakbond is die befondsing van dié plase gevries en kon daar nie verkope of aankope gedoen word nie – dit sluit die voer en enting van die diere in.

“Herselman kon gelukkig die kwessie oplos. Hy het ook teruggeskryf dat daar nou ʼn tolk aangestel is. Die bogenoemde toets waaroor die studente gekla het, kon glo ook oorgeskryf word as hul punte swak was. Die taalbeleid van die instansie is verander, maar die studente was veronderstel om nog dié jaar in Afrikaans te kon voltooi,” het van As verduidelik.

Verder het daar glo klagtes van ouers gekom dat die foto’s op die instansie se webtuistes ou foto’s was en dat dit glad nie meer so lyk daar nie. “Die dag wat ons hulle gaan besoek het, was ek in een van die badkamers langs die klaskamers – dis die badkamers wat besoekers ook moet gebruik – dis absoluut verskriklik,” het Van As gesê.


Centurion-sinkgat: ‘Dit is buitengewoon groot’

$
0
0

Die kruising waar die sinkgat ondergronds gevorm het. Foto: Google Earth

Ingenieurs gaan minstens ʼn week benodig om die presiese omvang van ʼn massiewe sinkgat onder ʼn besige aansluiting in Centurion te bepaal.

Peter Sutton, DA-raadslid van die wyk in Die Hoewes waar die sinkgat onder die aansluiting van Jeanlaan en Gerhardstraat gevorm het, het Donderdag aan Maroela Media gesê ʼn span kenners het die oggend begin om die gebied te evalueer.

Maroela Media het vroeër berig kontrakteurs wat opknappingswerk in die omgewing doen het op die sinkgat, wat nog nie ingeval het nie, afgekom terwyl hulle ʼn in die omgewing gegrawe het. Volgens Sutton is die sinkgat minstens 12 m diep en so groot soos ʼn skoolsaal. Die paddikte tussen die teer en die gat is slegs sowat 75 cm en die kruising is noodgedwonge vir die publiek en motoriste se veiligheid gesluit.

“Die presiese grootte van die sinkgat kon nog nie vasgestel word nie, aangesien die sigbaarheid van kant-tot-kant nie duidelik gemeet kon word nie,” het Sutton gesê.

“Die gat is buitegewoon diep en wyd. ʼn Ingenieursverslag sal in die volgende week voorberei word. Daar sal onder meer sirkelboring moet plaasvind om die presiese omvang van die sinkgat te bepaal.”

Sutton het gesê die gevaargebied word afgebaken en daar sal gepoog word om toegang te skep na die nabygeleë Zenex-vulstasie en omliggende twee sentrums om die kruising.

“Ons sal eers weet hoe lank dit gaan neem om die kruising vir verkeer oop te maak, hoe die gat gevorm het en hoe om die gebied te rehabiliteer as die ingenieursverslag voltooi is.”

Die aansluiting is een van die hoofroetes in Centurion wat nagenoeg 40 000 voertuie per dag hanteer en wat nou van alternatiewe roetes gebruik moet maak.

“Ons besef watter ongerief die sluiting veroorsaak en die stadsraad sal alles doen wat hy kan om die probleem sou gou moontlik op te los.”

Die ingang na die sinkgat. Foto: Via Edward Bromfield / Facebook

Sosiale media, reputasie en die impak op ondernemings se inkomste

$
0
0
sosiale-media-facebook-twitter-instragram

Foto: LoboStudioHamburg/Pixabay.com

Boikotte wat op sosiale media gedryf word kan beslis ʼn negatiewe impak op ʼn onderneming se winsgewendheid hê, maar kenners is verdeeld oor presies hoe blywend die impak vir ʼn maatskappy sal wees.

Daar is hierdie week wyd berig dat sekere konsessiehouers van die Spur-restaurantgroep ʼn beduidende afname in hul maandelikse inkomste gesien het ná ʼn “Boikot Spur”-groep op Facebook begin is. Die groep het Afrikaners aangemoedig om weg te bly van die restaurantgroep en die groep se hoofbestuur gekap oor die manier waarop hulle ʼn woedende woordewisseling tussen twee ouers van verskillende rasse hanteer het.

“Sosiale media gaan beslis oor verhoudings bou, daarom kan dit net soveel van ʼn positiewe as negatiewe impak vir ʼn onderneming hê. Die goue reël bly geld: al doen jy ʼn duisend dinge reg, een negatiewe voorval kan jou reputasie ongelukkig heeltemal beskadig,” het die sosiale media-kenner, Lesley-Anne Mallon, gesê. Sy is die eienaar van Think Social Media en het verskeie jare se bemarkingsondervinding.

“Dit gaan tyd en harde werk neem om daardie reputasie te herstel. Mense gaan ongelukkig nog oor ʼn jaar of twee terugverwys na die hele Spur-voorval, net soos in die geval van die Ford Kugas wat vlamgevat het,” het Mallon gesê.

“Sosiale media het dit beslis makliker as ooit vir verbruikers gemaak om te kla en dit is ʼn daaglikse uitdaging vir handelsmerkbestuurders om hul kliëntedienskanale so te bestuur dat klagtes op die regte wyse hanteer word. As ʼn mens egter na vorige oproepe op sosiale media kyk wat ʼn handelsmerk wou boikot, het dit selde ʼn beduidende langtermyn-impak op ondernemings se winste gehad,” het Jacqui Mackway-Wilson, ʼn digitale bemarkingskonsultant van Go Social SA, gesê.

Sy het verwys na die polities-gemotiveerde veldtog teen Woolworths wat klante gevra het om die winkelgroep te boikot omdat hulle Israeliese produkte invoer. Volgens ʼn berig deur Chris Moerdyk op The Media Online is daar verskeie Facebook-inskrywings gedoen, getwiet en berig hieroor, maar die groep se winsmarge het nie noemenswaardig gedaal nie.

“Meer onlangs is 4 556 van Ford SA se Kuga-sportnutsvoertuie herroep nadat 45 van die voertuie se enjins vlamgevat het. Dit het die handelsmerk onder geweldige druk geplaas en verkope in Januarie het met 50% gedaal. Opnames onder verbruikers het ook getoon dat Suid-Afrikaners nou versigtig is om ʼn Ford te koop, maar dit het hulle nie heeltemal afgeskrik nie. Ford is in Januarie vanjaar ook aangewys as een van die top-vyf beste passasiersmotorverkopers in Suid-Afrika.

“Dit mag wees dat verbruikers veel meer uitgesproke op sosiale media is oor hul griewe met sekere handelsmerke – en soms heeltemal geregverdig – maar die realiteit is dat daar talle ander faktore is wat hul besluite rondom aankope beïnvloed en dit speel dikwels ʼn groter rol wanneer dit by verbruikers se aankope kom.”

Mackway-Wilson meen as ʼn verbruiker of klant steeds voel hulle kry waarde vir geld en ’n mededingende prys vir ʼn produk of diens, sal ʼn boikotveldtog nie maklik slaag nie. Sy meen die meeste verbruikers is ook ’n bietjie apaties as dit by ʼn boikotveldtog kom, wat die sukses van so ʼn veldtog op die langtermyn kan beïnvloed.

Mallon en Mackway-Wilson is dit eens dat ’n goeie krisisbestuurplan beslis ʼn handelsmerk kan help om weer hul plek in die Suid-Afrikaanse mark te herwin.

Mackway-Wilson meen in die geval van Ford SA het die uiteindelike herroeping en uitgebreide dekkingsaanbod vir Kuga-eienaars die motormaatskappy se reputasie tot ʼn mate herstel.

“Ek dink egter die feit dat Ford SA nie hul bemarkingstrategie aangepas het nie, en net bly adverteer het asof niks gebeur het nie, het hul reputasie tog wel skade berokken. Spur blyk ʼn krisiskommunikasieplan te volg wat deurslaggewend kan wees. Hul bestuur is oop met hul kommunikasie en toeganklik vir die media – dit is beslis ʼn voordeel. Die opslae rondom die hele Spur-voorval sal later afneem, maar dit beteken nie ʼn voorval soos dié kan ʼn maatskappy nie seermaak nie,” het Mallon bygevoeg.

Parys-boere: Getuie vertel van ‘bobbejaanspanner’, knipmes en honde

$
0
0

Die ses beskuldigdes Donderdag (18 Mei 2017) in die hof voordat die hofverrigtinge begin. Foto: Maroela Media

‘n Boer van die Parys-distrik het Donderdag in die hooggeregshof in die dorp getuig hoe hy gesien het hoe verskeie mans twee vermeende plaasaanvallers klap en skop ten spyte daarvan dat hy hulle gevra het om op te hou.

Stephanus Johannes Cilliers is Donderdag deur die staat na die getuiebank geroep in die verhoor van Boeta van der Westhuizen (46), Loedie van der Westhuizen (19), Anton Loggenberg (50), Cor Loggenberg (20), Miela Janse van Vuuren (23) en kapt. Henk Prinsloo (47) wat aangekla word van die moord op Samuel Tjixa en Simon Jubeba. Die staat beweer die ses beskuldigdes was deel van ʼn groep mans wat Tjixa en Jubeba op 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip, net buite Parys, aangekeer en so erg aangerand het dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

Cilliers het getuig hy woon al sedert sy geboorte in die gebied en boer op ʼn plaas in die Parys-distrik. Cilliers en sy pa, Johan Cilliers sr., is voorheen ook in verband met dieselfde voorval in hegtenis geneem en aangekla. Die aanklagte is egter in April 2016 teen hulle teruggetrek omdat daar nie genoeg bewyse was dat die mans by die voorval betrokke was nie.

Cilliers het tydens sy getuienis aan die hof gesê hy was die middag van 6 Januarie 2016 in die dorp (Parys) toe hy ʼn oproep gekry het dat Loedie van der Westhuizen sr. op sy plaas, Biesiesbult, aangeval is. Nadat hy brandstof in sy bakkie gegooi het, het hy in die rigting van Biesiesbult gery. Op pad daarheen het sy ma hom laat weet dat sy twee mans op hul plaas sien hardloop het in die rigting van Swartklip, ʼn plaas naby Biesiesbult.

Hy het gesê met sy aankoms by Swartklip het hy gesien hoe twee verdagtes met honde deur die veld gehardloop kom. Hy het ook gesien hoe sy pa en sy suster se seun, Rian, van voor af kom. Cilliers het gesê hy het uit sy voertuig geklim en vir die verdagtes gesê om stil te staan. Hy het gesê hy het een verdagte gevang, maar die tweede een het weggehardloop. Rian het die twee verdagte platgeduik en hy en Cilliers se pa het hom op die grond vasgedruk.

Miela Janse van Vuuren en Loedie van der Westhuizen tydens die ondersoek ter plaatse Dinsdag (16 Mei 2017). Foto: Maroela Media

Volgens Cilliers het Wikus van der Westhuizen, Daniël Oosthuizen en Loedie van der Westhuizen (een van die beskuldigdes) kort daarna op die toneel aangekom. Cilliers het getuig Loedie het een van die verdagtes gevra wat “Oubaas se honde” by hulle maak en toe die verdagte hom nie antwoord nie, het hy hom geklap.

Cilliers het getuig Müller van der Westhuizen en Wian van der Westhuizen het ook opgedaag. Hy beweer Müller het een van die verdagtes twee keer opgetel en op die grond neergegooi. Volgens Cilliers het nie hy of sy pa aan die verdagtes geslaan nie, maar het hulle albei vir die ander gesê om op te hou.

Hy sê hy het gesien hoe Loedie ʼn “bobbejaanspanner” op ʼn bakkie gaan haal en daarmee terugkom. Cilliers beweer Loedie het weer die verdagte gevra hoekom die honde daar is en toe die verdagte nie antwoord nie, het Loedie met die “bobbejaanspanner” op die grond langs die verdagte geslaan.

Cilliers het in die hof gesê hy het gesien hoe Van Vuuren, Loedie, Wikus, Wian, Daniël en Fanie Oosthuizen die verdagtes op hul bene en in die maag skop. Hy het later tydens kruisondervraging toegegee dat hy moontlik foutiewelik gedink het dat Van Vuuren die verdagtes geskop het terwyl hy eintlik net bloed van sy bene afgevee het.

Cilliers het getuig hy is daarna weg by die toneel omdat sy vrou gebel het en gesê het daar is ʼn probleem by hulle skape. Hy het gesê die verdagtes het regop op die grond gesit toe hy by die toneel weg is. Nadat hy seker gemaak het dat alles in orde is op sy plaas, het hy teruggery na die toneel by Swartklip. Hy het gesê dit was teen daardie tyd al sterk skemer en hy het gesien dat die verdagtes op die grond gelê het.

Die beskuldigdes, hul regspanne en die regter op die toneel. Foto: Mariné Lourens

Cilliers het getuig Thomas Direko, ʼn voorman op ʼn boer van die distrik se plaas, het ook by die toneel opgedaag. Direko is ook op die staat se lys van getuies. Volgens Cilliers was Cor, Boeta en Anton ook op die toneel toe hy terugkeer, maar hy het getuig Van Vuuren was toe nie meer daar nie.

Cilliers beweer hy het gesien hoe Boeta en Anton die twee verdagtes agterop Anton se bakkie laai. Hy het gesê nie een van die verdagtes het enige reaksie getoon nie. Die verdediging het Cilliers later tydens die kruisverhoor daarop gewys dat daar in sy pa se verklaring staan dat Anton met een van die verdagtes in Sotho gepraat het en dat die verdagte hom geantwoord het. Cilliers het hierop gesê sy pa het in ʼn stadium naby aan die voertuig gestaan waar die verdagtes gelê het, maar hy [Cilliers] was te ver van die voertuig af om te hoor wat daar gesê word.

Op ʼn vraag van die staat of die verdagtes op die bakkie gegooi of versigtig neergesit is, het Cilliers gesê dit was donker en hy kon nie sien nie. Hy het ook gesê hy was te ver van die bakkie af om te sien of daar bloed op die verdagtes se gesigte was of nie. Hy het gesê in hierdie tyd het Prinsloo en Ockert van Zyl, wat vroeër vandag in die getuiebank was, ook daar aangekom.

Die verdediging het Cilliers gevra of hy bewus is van bewerings dat Wian ʼn knipmes gevat het en dit hard in een van die verdagtes se gesig gegooi het. Cilliers het gesê hy het wel gesien hoe Wian die knipmes gooi, maar kon nie sien waar op die verdagte se lyf die knipmes hom getref het nie.

Kapt. Henk Prinsloo en Cor Loggenberg in die hof (18 Mei 2017). Foto: Maroela Media

Die verdediging het ook aangevoer dit was Müller en nog ʼn persoon wat die verdagtes op die bakkie gelaai het en nie Boeta en Anton soos Cilliers beweer het nie. Cilliers het hierop gesê dit was donker en hy het ver van die bakkie af gestaan, so hy kon nie duidelik sien wat by die agterkant van die bakkie gebeur nie.

Cilliers het ook tydens die getuienis gesê die honde wat op die toneel was het aan Loedie van der Westhuizen sr. behoort. Hy het aan die hof gesê dit was windhonde en hulle is nie aggressief nie. Op ʼn vraag van die staat het hy gesê hy weet nie hoe dit gebeur het dat die honde by die toneel opgeëindig het nie.

Regter Corné van Zyl het op versoek van die staat die hof tot Vrydag verdaag wanneer die verhoor weer om 09:00 sal hervat.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

[Video] Bylmoorde: Henri se beserings, noodoproep in kollig

$
0
0

Henri van Breda. Foto: Skermskoot/eNuus-video

Die moordbeskuldigde Henri van Breda het op die dag wat sy familie met ‘n byl vermoor is, heelwat krapmerke en twee snywonde aan sy lyf opgedoen.

Van Breda (22) word daarvan beskuldig dat hy sy pa, Martin van Breda (54), ma, Theresa (55), en broer, Rudi (22), op 26 Januarie 2015 met ʼn byl in die gesin se huis op die De Zalze-landgoed buite Stellenbosch vermoor het. Sy sussie, Marli (toe 16 jaar oud), het die aanval oorleef, maar ʼn breinbesering opgedoen en ly aan geheueverlies.

Sy moordverhoor vind tans in die Wes-Kaapse hooggeregshof plaas.

Lees alle vorige berigte oor die bylmoorde-saak op Maroela Media.

Dié insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv na eNuus.

[This post contains video, click to play]

Wetsontwerp oor landbougrondbesit verg noukeurige oorweging

$
0
0

Argieffoto: led.co.za

Die vakbond Solidariteit het kommentaar ingedien oor die Wetsontwerp op die Regulering van Landbougrondbesit (2017) wat deur die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming gepubliseer is.

Volgens Gerhard van Onselen, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), poog dié omstrede wetsontwerp om die regering se beheer oor en betrokkenheid by landbou te verbreed deur middel van ʼn reeks regulatoriese intervensies.

“Hierdie intervensies poog om onder andere die volgende in te stel: ʼn grondkommissie, ʼn register van landbougrondeienaarskap waarin ras, geslag en nasionaliteit aangedui moet word, ʼn verbod op die verkryging van landbougrond deur buitelanders, kategorieë van plafonne wat die besit van landbougrond beperk, en om sekere grondgedeeltes wat die aangewese plafonne oorskry as landbougrond vir hertoewysing te oormerk,” verduidelik Van Onselen.

Solidariteit is daarvan oortuig dat die waarskynlike ekonomiese gevolge van die Wetsontwerp op die Regulering van Landbougrondbesit noukeurige verdere ondersoek vereis. Van Onselen het ook genoem dat daar tans onsekerheid is oor die presiese uitwerking van die wetsontwerp soos dit tans daar uitsien, maar dat dit waarskynlik skadelik vir die ekonomie sal wees.

“Die minister se finale gedelegeerde gesag in die vasstelling van plafonne, asook die regulasies wat nog opgestel moet word, maar waarvoor die wetsontwerp reeds voorsiening maak, dra by tot die onsekerheid,” het hy bygevoeg.

Solidariteit se aanbeveling is dat die wetsontwerp teruggehou moet word totdat ʼn deegliker en meer deursigtige sosio-ekonomiese koste-voordeel-analise uitgevoer is en dit aan ʼn openbare ondersoek onderwerp is. ʼn Verdere problematiese aspek is dat dit moeilik is om die presiese ekonomiese impak te bepaal omdat daar onsekerheid bestaan oor die werklike aard van die genoemde plafonne.

Volgens Van Onselen is dit belangrik om die regstreekse en onregstreekse impak van landbou op die ekonomie in ag te neem. Kommersiële landbou is steeds ʼn belangrike werkgewer en speel ʼn belangrike rol in uitvoere, en gevolglik ook in Suid-Afrika se handelbalans. “Daarbenewens is hierdie sektor nóú gekoppel aan ander sektore wat van landbou-insette gebruik maak. ʼn Verswakte landbousektor kan ʼn nadelige domino-effek op ander sektore van die ekonomie hê,” sê Van Onselen.

“Daar is in werklikheid slegs ʼn klein aantal van die totale getal boere in Suid-Afrika wat meer as slegs op bestaansboerdery produseer. Dit is diegene wat die res van Suid-Afrika voed en tot uitvoere bydra. Maatreëls wat ʼn goed funksionerende landboumark kniehalter en wat beleggings in landbou en landbouproduksie verhinder, sal ondeurdag wees,” sê Van Onselen.

Spesifieke knelpunte wat in Solidariteit se kommentaar vervat is, sluit in: die impak op die totale landbouproduksie; die impak op landboubeleggings; die addisionele koste van bykomende rompslomp; en die moontlike uitwerking op die waarde van grond en die breër finansiële sektor.

Solidariteit het die reg voorbehou om, indien nodig, in ʼn later stadium die grondwetlikheid van die wetsontwerp te toets.

Treinwaens brand by Pta-stasie

$
0
0

Brand by Pretoria-Noord-stasie (18 Mei 2017) Foto: @TrafficSA, Twitter

Minstens vier waens van ’n trein brand tans by die Pretoria-Noord-stasie.

Johan Pieterse, woordvoerder van Tshwane-nooddienste, het aan Maroela Media gesê die brand het omstreeks 17:00 uitgebreek. “Ons wag vir ’n elektriese sertifikaat van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) voor ons die brand kan probeer blus,” het hy verduidelik.

Volgens hom is daar ’n baie sterk kragstroom en die brandweermanne kan moontlik skok indien hulle water sou spuit voor die krag afgeskakel is.

Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie. Gerugte doen die rondte dat dit moontlik weens betogings kon wees.

Pieterse het gesê die moontlikheid bestaan dat die brand van die vier waens na ander waens kan versprei.

Dana Wannenburg, DA-raadslid, het aan Maroela Media gesê indien die lyn gesluit word om die brand te blus, sal talle pendelaars gestrand wees en van alternatiewe vervoer gebruik moet maak. Hy is op pad na die toneel.

Motsoeneng se verhoor uitgestel

$
0
0

Hlaudi Motsoeneng. Foto: Catherine Rice/ANA

Hlaudi Motsoeneng, omstrede voormalige bedryfshoof van die SAUK, se dissiplinêre verhoor is Donderdag uitgestel.

Kaizer Kganyago, woordvoerder vir die SAUK, het gesê die verhoor is tot 24 Mei uitgestel.

Dié verhoor wat Woensdag begin het word gehou na aanleiding van ʼn mediakonferensie wat Motsoeneng op 19 April gehou het.

“Die SAUK het vandag [Donderdag] sy argumente gesluit en Motsoeneng se regsverteenwoordigers het uitstel gevra om verskeie redes,” het Kganyago gesê. Die redes sluit in dat hulle eis dat die voorsitter van die dissiplinêre verhoor onttrek en om aansoek te doen by die Kommissie vir Versoening Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) vir beskermde openbaarmaking van die inligting wat tydens die perskonferensie bekend gemaak is.

ʼn Uitspraak in die Wes-Kaapse hooggeregshof het in Desember gelas dat Motsoeneng onbevoeg is om enige pos by die uitsaaier te beklee totdat ʼn dissiplinêre verhoor hom vrygespreek het van enige aantygings, of as ʼn hof die openbare beskermer se verslag wat meld dat hy gejok het oor sy akademiese kwalifikasies en dat hy sy eie salaris onregmatig verhoog het, ter syde stel.

Sy pogings om teen dié uitspraak te appelleer het misluk.


Mynbaas en werker sterf ná ure ondergronds

$
0
0

Reddingswerkers probeer by die mans uit te kom. Foto: Verskaf

ʼn Mynbaas en ʼn werker is dood nadat hulle Donderdag ure lank ondergronds in Primrose, Germiston, vasgekeer was.

Annine Siddall, woordvoerder van ER24, het gesê die twee mans het na bewering meer as 75 m ondergronds gegaan in die myn langs Stanleyweg om watervlakke na te gaan, toe hulle vasgekeer geraak het.

“Paramedici is omstreeks 15:00 na die toneel ontbied en daar is vasgestel dat een van die mans toe reeds sowat ʼn uur lank sonder suurstof was.”

Ná ʼn langdurige reddingsproses deur brandbestryders en reddingswerkers is een van die mans se liggame omstreeks 18:00 na die oppervlak gebring en deur paramedici op die toneel dood verklaar.

Die tweede persoon se liggaam is omstreeks middernag na die oppervlakte gebring.

“Ten spyte van die reddingswerkers se volgehoue pogings kon die mans nie na veiligheid gebring word nie en is hulle dood weens ‘n tekort aan suurstof,” het sy gesê.

Dit is nog nie duidelik hoe die mans ondergronds vasgekeer geraak het nie. Die voorval word ondersoek.

Nog lyke in myn gevind; 11 vas

$
0
0

Argieffoto

Elf mense is in hegtenis geneem nadat nog vier liggame Donderdag uit die Eland-skag van ʼn myn in Welkom in die Vrystaat gehaal is.

Lt.genl. Lebeoana Tsumane, die Vrystaatse polisiekommissaris, het gesê die elf mense word daarvan aangekla dat hulle by onwettige mynbedrywighede betrokke was.

Maroela Media het vroeër berig die polisie is Maandag na die myn ontbied nadat liggame ondergronds gevind is. Dit volg ná ʼn ondergrondse ontploffing verlede week Donderdag in die myn. Die myn se veiligheidsmaatskappy het ondersoek ingestel en sedertdien is 29 liggame na die oppervlak gebring.

Tsumane het gesê ʼn geregtelike doodsondersoek word gedoen. “ʼn Span ondersoekkenners is geïdentifiseer wat die ondersoek na hierdie voorval en ander onwettige mynvoorvalle sal lei,” het hy gesê.

“Saam met die mynbestuur het ons maatreëls in plek gestel om die voortsetting van onwettige mynbedrywighede stop te sit. Ons sien hierdie tragedie in ʼn baie ernstige lig en daarom is ons betrokke by uitgebreide operasionele en praktiese maatreëls om onwettige myners te keer.”

Kol. Thandi Mbambo, Vrystaatse polisiewoordvoerder, het gesê die voorlopige ondersoek dui daarop dat die sterftes verbind word met die ontploffing wat in ʼn ventilasieskag plaasgevind het. “Die meeste van die liggame wat deur die mynsekuriteit en reddingspanne gevind is, het naamplaatjies met kontakbesonderhede en nasionaliteite op. Die oorledenes wat van naburige lande afkomstig is, moet nog geïdentifiseer word,” het Mbambo gesê.

“Die liggame wat al heeltemal ontbind het se identiteit sal deur middel van DNS-toetse vasgestel word. Twee van die oorledenes is tot dusver deur familielede geïdentifiseer en teruggeneem na hul land van herkoms. Die elf mense wat in hegtenis geneem is, is aangekla van onwettige mynbou, betreding en diefstal van myneiendom. Hulle sal binnekort in die hof verskyn.”

Nuuskommentaar: Die groot sinkgat onder verkeerskruising

$
0
0

Argieffoto ter illustrasie

Die groot sinkgat onder ’n besige kruising in Centurion kan as simbool ingespan word van ’n land wat ’n kruispad bereik het en ’n nuwe koers moet inslaan… maar dit kán nie ’n kruispad met ’n groot sinkgat onder wees nie, want dan is ’n stofwolk en ’n groot gat die onafwendbare gevolg.

Groot dele van Suid-Afrika is op rotsformasies geleë wat oor die jare deur die natuur opgelos word en grotte, sinkgate, waterfonteine en vele meer vorm. Van die grotte is toerismebesienswaardighede, Kuruman in die Noord-Kaap kry sy water só op ’n natuurlike manier en dit bied wonderlike plekke vir paleontologiese en argeologiese uitgrawings soos die Wonderwerkgrot en die Sterkfontein-kompleks.

Die regering het by tye sy hande vol met plakkers wat nie gevaarlike gebiede wil ontruim nie, en ander wat weer juis na hierdie “vakante” gebiede trek en op dienste aandring. Dit terwyl dit lewensgevaarlik kan wees om op daardie plekke te woon.

Die proses waardeur hierdie holtes en grotte gevorm word, is normaalweg baie stadig, met reënwater wat koolsuurgas opdoen en dan bitter stadig aan die rots met ’n hoë kalkinhoud wegvreet. Benewens die openinge wat in die rots ontstaan, ontwikkel daar ook dikwels stalagmiete en stalaktiete.

Mynbou, waar water uit ondergrondse kamers onttrek word, versnel die proses wat tot sinkgate kan lei, al vind die eintlike mynbou-aktiwiteite kilometers dieper in gans ander tipes rotsformasies plaas. Maar dit het ook al enorme skade en lewensverlies tot gevolg gehad.

Onlangs was daar die geval in die Noord-Kaap waar ’n belangrike roete tydelik gesluit moes word toe ’n sinkgat die pad begin ondergrawe het.

Gister het die nuus gebreek van ’n sinkgat so groot soos ’n skoolsaal en sowat twaalf meter diep, wat onder ’n besige kruising in Centurion gekry is. Die “dak” wat moes keer dat die voertuie nie in die gat val nie, was na berig word net 75 cm dik. Die verkeer word erg ontwrig terwyl detail-ondersoeke gedoen word om te bepaal presies wat die omvang van die sinkgat is.

In ’n nuuskommentaar met ’n politieke grondslag soos dié is die vraag hoeveel belangrike kruisings in ons land nie bo politieke sinkgate geleë is nie? Hoeveel staan op die punt om in te stort, en hoeveel, soos Coligny, het nie reeds skade gely nie?

Op die oomblik is dit groot nuus oor die baie gevalle van geweld teen vroue en baie jong kindertjies. In baie gevalle blyk dit dat van die vroue deur hul eie kêrels vermoor is, en dat moeite gedoen word om van die lyk ontslae te raak, soos deur dit te verbrand.

In minstens een geval het die man die lyk ’n ruk in sy yskas gehou.

Ja, dit is siek. Maar is dit net ’n klompie siek individue wat nou toevallig ’n toename toon, of is dit op die een of ander manier die produk van ’n siek samelewing? In watter mate kan dit herlei word na die bedenklike en immorele voorbeeld wat van die land se leiers stel, en die feit dat hulle skynbaar daarmee wegkom?

En wat hierby aansluit: Watter leiers en gemeenskapsfigure se gereelde uitsprake is eintlik deel van die probleem, en nie die oplossing nie?

Die land word op die oomblik erg geteister deur voorvalle van rassisme en beweerde rassisme. Weer eens – hoeveel hiervan se wortels spruit nie uit die optrede van politieke leiers wat knaend die rassetamboer slaan om persoonlike steun te probeer werf nie? Op 21 Mei vier Suid-Afrika saam met talle ander lande Unesco se Wêrelddag vir Kulturele Diversiteit, maar hoeveel is daar vir minderhede te vier as daardie kulturele uniekheid gebruik word om teen sekere groepe te diskrimineer?

Solidariteit is juis besig om die regering by verskeie internasionale en plaaslike instellings hieroor op te skroef.

Dat twee graderingsagentskappe die land tot rommelstatus afgegradeer het, het ook ’n oorsaak. Is dit nie ook maar ’n geval van ’n swaargewigpolitikus wat tot in die middel van ’n kruising gery het nie – ’n kruising waar hy geweet het ’n groot sinkgat is, en gaan spring het tot die spul begin ingee het nie? Toe die krake kom, gee die politikus pad en staan eenkant sy hande in onskuld en was.

Media 24 se hoofartikel handel vandag oor die minister van justisie, Michael Masutha, se aanval op die regbank. Binne die ANC is ’n beweging wat ruimte probeer skep vir pres. Jacob Zuma se vergrype teen die grondwet, en hulle beskuldig nou die regbank, wat telkemale ’n stokkie daarvoor steek, van die oorskryding van juridiese bevoegdhede (judicial overreach). Dít nadat Suid-Afrika nou al ruim langer as twintig jaar ’n grondwetlike demokrasie is – of moes wees as dit nie vir regeringsvergrype daarteen was nie.

So ’n kruising waaronder daar ’n groot sinkgat is, is ook nie die ideale plek om te gaan stilstaan en te gaan kopkrap oor watter rigting om in te slaan nie.

Ja, die land het ’n kruispad bereik, en dit is duidelik dat dit nie dieselfde koers kan bly inslaan nie. Maar die regte kruispad moet gekies word, anders bly daar dalk van die voorneme van ’n koersaanpassing net ’n groot stofwolk en ’n reusegat oor.

Vier vroue met leeudele betrap

$
0
0

Argieffoto: popista.com

WAARSKUWING: Die foto’s onderaan die berig is grafies van aard en kan kinders en sensitiewe lesers ontstel.

Vier vroue is vandeesweek in Limpopo in hegtenis geneem nadat liggaamsdele van leeus in hul besit gevind is.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die vroue, tussen 29 en 48 jaar oud, is Woensdagaand tydens ʼn intelligensiegedrewe-operasie buite Burgersfort in hegtenis geneem.

“Die vroue, onderskeidelik van Venda, Lebowakgomo, Phalaborwa en Tubatse, is omstreeks 21:00 in Praktiseer vir die besit van liggaamsdele van twee leeus in hegtenis geneem,” het Ngoepe gesê.

Die polisie het twee leeus se koppe, agt pote en twee leeuvelle in die vroue se besit gevind en daarop beslag gelê.

Volgens Ngoepe is die oorsprong van die dele onbekend, asook waarvoor dit bedoel is.

Die vroue moet binnekort in die Praktiseer-landdroshof verskyn.

Ngoepe het die inhegtenisneming as ʼn deurbraak beskou te midde van ʼn vlaag voorvalle waar verskeie leeus in die provinsie vir hul liggaamsdele doodgemaak is. Die leeuslagtings hou moontlik verband met die plaaslike moetie-mark. Lees meer hier.

Wildtuin waarsku teen malaria

$
0
0

Argieffoto. Foto: Pixabay.

Die Krugerwildtuin het gaste gewaarsku om voorsorgmaatreëls te tref teen malaria voor hulle die park besoek.

William Mabasa, woordvoerder van SANParke, het gesê die park is in ʼn malariagebied geleë, hoewel dit as ʼn lae-risiko-gebied beskou word.

“Ons het al swaar reën gehad vanjaar en daar lê oral poele water. Ons ondervind dus tans ʼn paar malariagevalle, veral in die noordelike dele van die park,” het Mabasa gesê.

“Dit blyk dat malaria op die randjie van ʼn uitbreking is alhoewel dit amper winter is, met sommige van die land se provinsies wat honderde gevalle aanmeld. Daarom waarsku ons gaste om voorsorgmaatreëls te tref in oorleg met hul dokters omdat die wildtuin bekend is as een van die malaria-endemiese gebiede in Suid-Afrika,” het Mabasa gesê.

Mabasa het gesê deur muskietweerder op die vel te gebruik, gaas voor vensters en deure toe te hou en die binnekant van die blyplek met afweerder te spuit kan die risiko vir malaria aansienlik verminder word.

Mabasa het ook gesê dat alhoewel malaria-seisoen gewoonlik van Oktober tot April is, dit hierdie jaar ’n bietjie anders is.

“Ons het mediese dokters aan diens in Skukuza, die KNP se hoofkamp, en die publiek is enige tyd welkom om hulle telefonies te raadpleeg by 013 735 5638 voordat hul die wildtuin besoek.”

Man in Randburg deur trein doodgery

$
0
0

Paramedici op die toneel. Foto: ER24

ʼn Man, vermoedelik in sy 30’s, is Donderdagaand in Randburg in Gauteng dood toe hy glo probeer het om op ʼn bewegende trein te spring.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die voorval het by die Maraisburg-treinstasie plaasgevind.

“Met paramedici se aankoms by die stasie, was plaaslike owerhede en lede van die gemeenskapspolisiëringsforum reeds op die toneel. Die man het op die spore gelê en nie beweeg nie,” het Meiring gesê.

Paramedici het die man ondersoek en bevind hy het verskeie beserings opgedoen. “Hy het geen tekens van lewe getoon nie. Niks kon vir hom gedoen word nie en hy is op die toneel dood verklaar.”

Die polisie ondersoek die voorval.

Tekenprent: Radikale ekonomiese transformasie

$
0
0

Jerm gee sy interpretasie van hoe “radikale ekonomiese transformasie” tans in Suid-Afrika toegepas word.

Sien alle vorige tekenprente op Maroela Media.


[Foto’s] Terreur glo nie rede vir Times Square-voorval

$
0
0

Times Square, New York (18 Mei 2017). Foto: Xinhua/Wang Ying

Die man wat Donderdag met sy motor tussen voetgangers in Times Square in die Amerikaanse stad New York ingeploeg en die dood van ʼn 18-jarige vrou veroorsaak het, is in aanhouding.

Richard Rojas (26), in ʼn inwoner van die Bronx-gebied in New York, word onder meer van moord en poging tot moord aangekla.

Rojas het glo met sy motor op ʼn sypaadjie in Times Square tussen voetgangers ingejaag en drie en ʼn halwe blokke ver gery voordat hy teen verkeersversperrings tot stilstand gekom het. ʼn 18-jarige vrou is dood en haar 13-jarige suster is onder die 22 beseerdes. Vier van die beseerdes was in ʼn kritieke toestand en nog drie het ernstige beserings opgedoen.

CNN berig Rojas het positief getoets vir die dwelmmiddel PCP en aan die polisie gesê God het vir hom gesê om dit te doen. Volgens CNN ly Rojas aan ʼn sielkundige afwyking en het hy aan die polisie gesê hy het verwag dat hulle hom sou skiet. Hy het eers probeer vlug, maar is op die toneel in hegtenis geneem en na ʼn mediese fasiliteit geneem waar hy vir dwelmmiddels en alkohol in sy bloed getoets is.

Times Square, New York (18 Mei 2017). Foto: Xinhua/Wang Ying

Bill de Blasio, burgemeester van New York, het gesê daar is geen aanduiding dat die voorval met terreur verband hou nie.

ʼn Ooggetuie het aan DPA gesê sy moes uit die pad uit spring om te verhoed dat sy deur die voertuig getref word. “Toe ons die motor sien, was daar klaar vyf of ses mense op die enjinkap, so ek kon nie regtig die bestuurder sien nie. Mense wat vir die verkeerslig gewag het [om die straat oor te steek] is deur die motor getref,” het Kaoru Emura, ʼn navorser wat in die gebied werk, gesê. “Ek het gewonder hoekom die motor nie stadiger ry nie. Ek het geen remme gehoor nie.”

Emura het gesê sy het mense met nekbeserings en snywonde gesien, terwyl ander geskree het en na die beseerdes gehardloop het.

Rojas, ʼn vlootveteraan, is in 2008 en 2015 in hegtenis geneem vir dronkbestuur en weer vroeër vandeesmaand nadat hy ʼn besoeker in sy woonstel met ʼn mes gedreig het. Hy is ook voorheen in hegtenis geneem omdat hy ʼn taxibestuurder aangeval het.

Times Square is een van New York se grootste toeriste-aantreklikhede en ongeveer 300 000 mense loop elke dag daardeur.

Oorsaak van sanger se dood bekend

$
0
0

Chris Cornell. Foto: Casey Curry/Invision/AP, File

Die sanger en liedjieskrywer Chris Cornell (52) het sy eie lewe geneem.

Cornell is Woensdagaand in Detroit, Michigan, in die VSA oorlede. Hy was die voorsanger van Soundgarden en later Audioslave.

Volgens ʼn mediese ondersoeker het Cornell sy lewe geneem deur homself in ’n hotelkamer te hang ná ’n vertoning deur Soundgarden.

Die polisie het vroeër gesê Cornell se vrou het ’n familievriend gebel en gevra om te gaan kyk waar hy is toe sy lyk gevind is. Cornell se liggaam is op die badkamervloer van die hotelkamer aangetref.

Brian Bumbery, Cornell se agent, het gesê Cornell se dood was “skielik en onverwags” en dat sy vrou en familie erg geskok is.

Cornelle het van 1984 tot 1997 vir Soundgarden gesing en weer van 2010 tot nou. Audioslave is in 2001 begin en het tot 2007 musiek gemaak. Cornell het tussenin ook op sy sololoopbaan gefokus.

Cornell laat ook drie kinders agter.

[Video] Bylmoorde: Henri se vingerafdruk op broodmes gevind

$
0
0

Foto: Skermskoot/eNuus-video

‘n Forensiese deskundige het getuig die beserings wat Henri van Breda op die dag van sy familie se bylmoorde opgedoen het, lyk grotendeels asof dit self toegedien is.

Van Breda (22) word daarvan beskuldig dat hy sy pa, Martin van Breda (54), ma, Theresa (55), en broer, Rudi (22), op 26 Januarie 2015 met ʼn byl in die gesin se huis op die De Zalze-landgoed buite Stellenbosch vermoor het. Sy sussie, Marli (toe 16 jaar oud), het die aanval oorleef, maar ʼn breinbesering opgedoen en ly aan geheueverlies.

Sy moordverhoor vind tans in die Wes-Kaapse hooggeregshof plaas.

Lees alle vorige berigte oor die bylmoorde-saak op Maroela Media.

Dié insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv na eNuus.

[This post contains video, click to play]

Bejaarde ontslaan ná honde hom verskeur

$
0
0

Tom Chapman. Foto: Verskaf

Oudsupt. Tom Chapman (74) kon Donderdagaand weer in sy eie bed slaap nadat hy byna twee weke gelede deur twee honde buite sy huis in Pretoria aangeval en verskeur is.

“Hy is gistermiddag ontslaan en is maar die meeste van die tyd in die bed om te rus. Hy is net op die been as hy badkamer toe gaan, wat so 5 m van sy bed af is, en dan help ons hom tot daar,” het Lana Odendaal, Chapman se dogter, aan Maroela Media gesê.

“Sy wonde het gelukkig nog nie infeksie gekry nie en ons glo dit gaan net beter gaan van hier af. Hy moet Dinsdag weer teruggaan dokter toe sodat sy wonde mooi skoongemaak kan word. Die res van die tyd moet dit verbind bly; ons mag nie daaraan raak nie.”

Odendaal het gesê haar pa is steeds op medikasie en is rustig.

Maroela Media het vroeër berig Chapman, wat jare lank verbonde was aan die Pretoria-stadsraad se elektriese afdeling en wat nou saam met sy vrou, Francis (72), in Parktown Estate in die Moot woon, moes op 8 Mei, half verlam, verwoed veg om die honde met sy werkende hand van sy gesig af weg te hou.

Champan het in 2005 ʼn beroerte gehad wat die linkerkant van sy lyf verlam gelaat het. Ná jare se rehabilitasie kon hy weer begin loop, maar hy sukkel nog met sy balans en die honde het hom maklik omgespring en aan albei sy arms en bene gebyt.

Die honde, van gemengde rasse, het vermoedelik uit ʼn omliggende buurman se erf ontsnap deur op bourommel te klouter en toe oor ʼn muur te spring.

Die honde is uiteindelik met ʼn tuingraaf verjaag, nadat die honde twee omstanders ook gebyt het. Die polisie moes die honde skiet aangesien hulle verwilderd deur die buurt gehardloop het.

Francis was aanvanklik bekommerd dat Tom ná die aanval nie weer sal kan loop nie, weens die ernstige wonde aan sy linkerbeen. Odendaal het egter gesê dit lyk nie of haar pa permanente skade opgedoen het nie en sy glo dat hy weer op sy eie mobiel sal wees, tensy infeksie intree.

“Ons het ʼn rolstoel geleen wat hy vir tyd en wyl sal gebruik tot hy weer kan loop. Tot dan fokus ons nou net daarop dat sy wonde volkome sal genees,” het sy gesê.

Lees die vorige berigte oor Tom Chapman op Maroela Media.

‘Teesakkies’ toe eintlik renosterhoring

$
0
0

Argieffoto

Doeane-beamptes van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het vandeesweek op 7 kg se renosterhoring by die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg beslag gelê.

Sandile Memela, woordvoerder van die SAID, het gesê die stukke renosterhoring is Woensdag in ʼn besending ontdek wat van Doha, Katar, af gekom het. Die besending is by die doeane as “teesakkies” verklaar.

“Nadat die besending geskandeer is, het beamptes iets op die skerm gesien wat soos renosterhorings gelyk het. Die inhoud van die boks is deursoek en agt stukke renosterhoring, wat in foelie toegedraai is, is binne-in gekry. Die renosterhoring is tussen pakkies lekkergoed en sjokolade versteek,” het Memela gesê. Hy het gesê die besending was op pad na Hongkong.

Volgens Memela is die goedere aan die SAPD en die Valke oorhandig wat die saak verder sal ondersoek.

Viewing all 56621 articles
Browse latest View live