![]()
Blade Nzimande (September 2016) Foto: Ntswe Mokoena
Blade Nzimande, leier van die SAKP, het Maandag gesê die ineenstorting van die Werkersdagvieringe in Bloemfontein in die Vrystaat, waar pres. Jacob Zuma sou praat, is ʼn finale “wekroep” vir die drieparty-alliansie.
“Ek dink dis hartseer. Dis baie hartseer. Ek dink ons moet dit regtig as die finale wekroep sien, want as ons nie hierop reageer nie, sal ons baie streng veroordeel word as die generasie van leiers wat toegelaat het dat hierdie alliansie ineenstort. So ons moet hierdie saak behoorlik bespreek,” het hy gesê.
Toesprake by die vakbondfederasie Cosatu se hooffunksie in Bloemfontein om Werkersdag te vier is gekanselleer toe Zuma deur sommige toeskouers uitgejou is.
Beamptes moes bontstaan om die bakleiery tussen die pro-Zuma en anti-Zuma-groepe te keer.
Zuma het vroeër by die byeenkoms opgedaag en blad geskud met die alliansie-leiers en verskeie van sy ondersteuners het “Zuma, Zuma, Zuma” geskree.
Krete van “Zuma must fall” is egter ook in Loch Logan-park gehoor en die president, wat tussen Cosatu-president Sdumo Dlamini en Nzimande gesit het, het sy voorkop gevryf en afgehaal gelyk toe hy sy arms gekruis en die skare toegekyk het.
Die polisie moes ingryp om vakbondlede te verhoed om deur die grensdraad te bars wat opgerig is tussen die skare en die markiestent waar die president en ander beamptes gesit het.
Zuma se lyfwagte het hom daarna weggeneem toe dit duidelik geword het dat die skare hom nie gaan toelaat om te praat nie.
Cosatu en die SAKP het Zuma versoek om te bedank ná sy omstrede kabinetskommeling in Maart toe hy, onder andere, die minister van finansies Pravin Gordhan, afgedank het.
Ace Magashule, premier van die Vrystaat en leier van die ANC in die provinsie, het die gebeure as “ʼn doelbewuste poging om Zuma te verneder” beskryf.
“Dit was vooraf beplan om die leierskap te verneder. Daar is mense wat dit beplan het. Ek het gehoor daar is mense wat hierdie byeenkoms wou ontwrig wat nie eers van hierdie provinsie is nie. Ons het ons video’s geneem, ons sal dit analiseer. Ons vergader môre met alliansie-beamptes,” het Magashule gesê.
“Ek weet dit was ʼn nasionale byeenkoms, maar ek sê net mense in hierdie provinsie is gedissiplineerd. Dit is ʼn vernedering, maar ons het vir hierdie vryheid baklei. Ons het geveg vir werkers se regte.”
Magashule het ʼn boodskap vir leiers in die drieparty-alliansie ANC, SAKP en Cosatu: “Diegene wat ons wil bestuur en na die media toe gaan, asof hulle nie interne konflik het nie, vir hulle sê ons julle veroorsaak ʼn gemors vir hierdie land.”
Hy hou vol die “massas” is lief vir Zuma.
“Die mense ondersteun steeds Jacob Zuma. Miljoene van ons mense het vir die ANC gestem. Kyk waar Zuma gaan en kyk hoe word hy ondersteun. Dit gaan nie oor Zuma nie. Die vyande van die ANC weet hulle moet Zuma aanval. Hulle het [vroeër] Mandela en Mbeki aangeval. Nou val hulle Zuma aan. Hulle sal enigiemand aanval wat die president van Suid-Afrika word – om die ANC te verswak,” het hy gesê.
Zuma is nie die enigste lid van die ANC se topses wat ʼn koue ontvangs gehad het by Werkersdagvieringe nie. ANC-voorsitter Baleka Mbete, wat ʼn skare in KwaZulu-Natal toegespreek het, en die party se adjunk-sekretaris-generaal Jessie Duarte wat in Limpopo ontplooi is, is ook uitgejou.
Werkersdagvieringe waar adjunkpresident Cyril Ramaphosa, ANC-sekretaris-generaal Gwede Mantashe en tesourier-generaal Zweli Mkhize teenwoordig was, het vlot verloop sonder enige groot ontwrigtings.