Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all 56621 articles
Browse latest View live

Polisieman tydens rooftog gewond

$
0
0

Foto: SAPD, Facebook

Die Gautengse polisie is op soek na agt gewapende rowers nadat hulle Dinsdag in die vroeë oggendure by ʼn treinstasie in ʼn skietgeveg met die polisie betrokke was en ʼn polisiebeampte gewond is.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het omstreeks 02:00 by die Pienaarspoort-treinstasie gebeur. Volgens Dlamini was ʼn paar polisiebeamptes van Mamelodi-Oos besig met hul roetinepatrollie naby die treinstasie toe hulle ʼn verdagte groep mans gewaar het.

“Onderwyl hulle die groep dopgehou het, het die verdagtes skielik op hulle losgebrand. ʼn Skietgeveg het ontstaan en die verdagtes het met ʼn bedrag kontant in onbekende voertuie gevlug,” het Dlamini gesê. Een van die polisiebeamptes is in sy bolyf gewond en na ʼn hospitaal gehaas.

Volgens Dlamini is daar ná die skietvoorval vasgestel dat die rowers die veiligheidswagte by die treinstasie vasgebind het voordat hulle toegang tot die kontant in die kluis gekry het. Die wagte is ongedeerd.

“Die polisie doen ʼn beroep op mense met meer inligting oor hierdie verdagtes om na vore te kom. Enige inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei, sal beloon word,” het hy gesê. Inligting oor die saak kan by Crime Stop by 0860 010 111 aangemeld word.


Seun uit rivier gered ná ma verdrink

$
0
0

Argieffoto: SAPD/Facebook

Kort nadat ʼn agtjarige seun Maandagaand uit die Umtamvuna-rivier buite Port Edward in KwaZulu-Natal gered is, het reddingsbeamptes ook sy ma se liggaam uit die water gehaal.

John Nicholas, die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se stasiebevelvoerder in Port Edward, het in ʼn verklaring gesê die voorval het omstreeks 21:00 gebeur.

“Die NSRI se Port Edward-bemanning en reddingswemmers is na die toneel ontbied om die polisie se soek-en-reddingspan te help soek na ʼn ma en haar seun wat vanaf die Umtamvuna-rivierbrug in die water beland het. Die omstandighede hoe die twee in die water beland het, is nog nie bekend nie,” het Nicholas gesê.

Die seun is vinnig uit die water gehaal en was gelukkig ongedeerd. Kort daarna is die vrou ook uit die water gehaal, maar daar was niks wat vir haar gedoen kon word nie en sy is op die toneel dood verklaar.

Volgens die NSRI doen die polisie ʼn geregtelike doodsondersoek.

Vyf wat glo kluis wou opblaas in hof

$
0
0

Die ploftoestel waarop daar beslag gelê is. Foto: Valke

Die vyf mans wat na bewering beplan het om ʼn kerk se kluis te gaan opblaas omdat hulle gedink het die kluis bevat kontant en Krugerrande, het Dinsdag in die hof verskyn.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, het gesê Hamilton Mathebula (38), Mthabeleng Mngwenya (29), Bheki Nkosi (30), Mthombisi Vicent Hlongwane (25) en Sbongile Eddie Nkosi (25) het in die Kabokweni-landdroshof in Mpumalanga op ʼn aanklag van besit van ʼn ploftoestel verskyn. Die saak is tot vandag uitgestel wanneer hulle om borgtog sal aansoek doen.

Maroela Media het vroeër berig die vyf mans het glo beplan om die kluis van ʼn kerk in Chweni in die Kabokweni-omgewing op te blaas. Hulle is Vrydag op pad na die kerk deur lede van die Valke, die Kabokweni SAPD en lede van die polisie se taktiesereaksie-eenheid vasgetrek.

Volgens Sekgotodi is daar op ʼn ploftoestel, asook ʼn BMW-voertuig beslag gelê.

DA kies sy kandidaat vir konstitusionele hof

$
0
0

Argieffoto

Mmusi Maimane, leier van die DA, het regter Leona Theron genomineer om in die konstitusionele hof aangestel te word.

Dit kom nadat pres. Jacob Zuma gesê het hy gaan partyleiers in die Nasionale Vergadering raadpleeg oor wie as regter in die konstitusionele hof aangestel moet word.

Die pos is sedert Johann van der Westhuizen se aftrede op 31 Januarie 2016 vakant en die regterlike dienskommissie (RDK) het reeds onderhoude met kandidate gevoer om dié pos te vul. Die RDK het vier name – regters Jody Kollapen, Stevan Majiedt, Leona Theron en Malcolm Wallis – vir die president se oorweging voorgelê.

“Ek het vandag vir hom teruggeskryf en gemeld dat die DA regter Leona Theron ten volle steun as ons gekose kandidaat. Dit is vir ons van kardinale belang dat enige kandidaat op daardie bank totaal onafhanklik van besigheidsbelange en politieke belange moet wees,” het Maimane gesê.

“In die lig hiervan kies ons regter Theron – sy het ervaring, regskundigheid en het onafhanklike denke geopenbaar. Haar aanstelling tot dié bank sal ook geslagsdiversiteit meebring,” het Maimane gesê.

Regter Theron het die grade BA, LLB en LLM verwerf en is in 1990 as advokaat toegelaat. Theron is tans werksaam by die appèlhof. Sy het van Februarie tot Mei 2015 waargeneem in die konstitusionele hof. Sy het ook aan die Washington-universiteit in Amerika studeer.

Vermiste sersant se fiets dalk gevind

$
0
0

Michael van der Watt.

Die soektog na sers. Michael van der Watt (35) van die Motherwell-taktiesereaksie-eenheid in die Oos-Kaap gaan steeds voort.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die soekspanne het op ʼn fiets afgekom by die Van Standensbrug op die N2 buite Port Elizabeth. “Ons kan nog nie bevestig dat dit wel sy fiets is nie. Ons forensiese span is steeds besig om dit te probeer vasstel,” het Naidu gesê.

Naidu het vroeg Woensdagoggend gesê hulle fynkam in hierdie stadium al die groot fietsryroetes in die hoop om ʼn positiewe leidraad daar te kry. “Die gebied is baie groot en die bosse baie dig. Die gemeenskap is ongelooflik – soveel mense het al ingespring om na Michael te help soek. Ons soek nou in ʼn wyer area, veral in die omgewing van die Van Stadensbrug,” het Naidu gesê.

Naidu het ook gerugte dat die soektog afgelas is ten sterkste ontken. “Ek staan hier op die toneel.” Sy het gesê hulle volg enige inligting op.

Maroela Media het vroeër berig Van der Watt het Sondag vermis geraak. Hy is laas gesien deur ʼn kollega wat hom Sondagoggend ná ʼn nagskof by die huis gaan aflaai het. Hy is as vermis aangemeld deur sy vrou wat nog nie sedert Sondagaand van hom gehoor het nie.

Volgens Naidu het bure beweer hulle het Maandagoggend iemand in fietsryklere die huis sien verlaat. Van der Watt se fiets is ook vermis, maar al sy persoonlike items soos sy selfoon is by die huis.

Die polisie het mense met inligting gevra om die Kabega Park-polisiestasie by 041 397 6801/02 te skakel.

Coligny-saak: ‘Hy het probeer ontsnap’

$
0
0

Betogers buite die Coligny-landdroshof tydens die beskuldigdes se vorige verskyning (28 April 2017). Foto: Verskaf

Die enigste beweerde ooggetuie in die Coligny-moordsaak is in ’n getuiebeskermingsprogram, het die plaaslike landdroshof Woensdag gehoor.

Brig. Clifford Kgorane, wat deel is van die ondersoekspan, het aan landdros Makgaola Foso gesê die getuie moes na ’n plek van veiligheid geneem word nadat die twee beskuldigdes in die saak hom glo die dag ná die beweerde moord by sy huis gedreig het.

Pieter Doorewaard (26) en Phillip Schutte (34) staan tereg op aanklag van moord op Matlhomola Jonas Mosweu (16).

Volgens Kgorane beweer die getuie dat Doorewaard en Schutte op 21 April na sy huis toe gekom het ná die seun se dood die vorige dag.

Hennie du Plessis, Schutte se regsverteenwoordiger, wou tydens kruisondervraging van Kgorane weet hoekom die getuie se verklaring nie in die dossier van 28 April was toe die beskuldigdes die eerste keer in die hof verskyn het nie.

Kgorane het vroeër gesê die getuie se verklaring is reeds op 23 April afgeneem. Staatsaanklaer Nkhetheni Mudau het aan die hof gesê die verklaring was in die dossier en dat Du Plessis nie daarvoor gevra het nie.

Du Plessis het aan die hof gesê die beskuldigdes se weergawe is dat hulle twee seuns gesien het wat sonneblomme uit hul werkgewer, Pieter Karsten, se lande gesteel het. Hulle het een van die seuns gevang terwyl die ander gevlug het.

Volgens Du Plessis het die een seun agterop die bakkie geklim sodat hulle hom na die polisiestasie kon vat. “Die seun het van die bakkie afgespring om te ontsnap toe hulle spoed verminder het om om ’n draai te gaan. Hulle het nie hul hande vir die seun gelig nie.”

Volgens Du Plessis het die beskuldigdes ’n u-draai gemaak en die seun gevind waar hy bewusteloos in die pad gelê het. Hulle het glo ’n swart man en vrou in die pad sien loop en hulle gevra om by die seun te wag terwyl hulle gaan hulp soek het.

Du Plessis het gesê die twee mans het geen mediese opleiding nie en kon dus nie enige bystand aan die beseerde seun verskaf nie.

Die staat beweer Dooreward en Schutte het die seun van die bewegende bakkie gegooi en dat hulle hom gaan oplaai het omdat hulle besef het iemand het hulle gesien.

Dooreward en Schutte se borgtogaansoek duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Coligny op Maroela Media.

[Spotprent] Persvryheidsdag

$
0
0

Persvryheid word vandag gevier te midde van toenemende kommer wêreldwyd.

Die toestand het in nagenoeg twee derdes van lande die afgelope jaar versleg, het Verslaggewers Sonder Grense in hul jaarlikse verslag gesê. Persvryheid word as “baie sleg” beskou in 21 lande en “sleg” in 51 lande. Die toestand het in 62,6% van die 180 lande, wat in die opname ondersoek is, versleg, volgens die nie-regeringsorganisasie.

Spotprent deur Jerm (3 Mei 2017)


Sien alle vorige spotprente

Man in rolstoel skiet rower

$
0
0

Argieffoto: Kent Williamson

ʼn Man in ʼn rolstoel het losgebrand op ʼn vermeende rower wat sy geld in ʼn Oos-Kaapse winkelsentrum wou steel.

Die voorval het Dinsdag omstreeks 14:30 plaasgevind.

Kapt. Nkosikho Mzuku, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagte (44) is glo in die been geskiet.

“Die verdagte het die man probeer beroof terwyl hy die kitsbank gebruik het; hy was ongewapen,” het Mzuku gesê.

Volgens Mzuku het die middeljarige slagoffer toe ʼn handwapen te voorskyn gebring en die verdagte geskiet. Die verdagte is na die hospitaal gehaas vir mediese behandeling.

Hy is tans onder polisiebewaking in die hospitaal.

Sodra hy ontslaan word, sal hy in die Oos-Kaapse landdroshof verskyn op aanklagte van roof.


Sersant se fiets in digte bosse opgespoor

$
0
0

Michael van der Watt.

Die soektog na sers. Michael van der Watt (35) van die Motherwell-taktiesereaksie-eenheid in die Oos-Kaap is vir vandag afgelas, maar sal môre voortduur.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die soekspanne het  vroeër vandag op ʼn fiets afgekom naby die Van Stadensbrug op die N2 buite Port Elizabeth. “Ons kan nou bevestig dat dit wel sy fiets is,” het Naidu gesê.

Die fiets is in ʼn digte bos opgespoor aan die oorkant van die pad naby die brug. “Iemand sou dit daarheen moes dra,” het Naidu gesê.

Lede van die polisie en die gemeenskap het saam op die fiets afgekom toe hulle besig was met ʼn soektog per voet.

Maroela Media het vroeër berig Van der Watt het Sondag vermis geraak. Hy is laas gesien deur ʼn kollega wat hom Sondagoggend ná ʼn nagskof by die huis gaan aflaai het. Hy is as vermis aangemeld deur sy vrou wat nog nie sedert Sondagaand van hom gehoor het nie.

Volgens Naidu het bure beweer hulle het Maandagoggend iemand in fietsryklere die huis sien verlaat. Van der Watt se fiets is ook vermis, maar al sy persoonlike items soos sy selfoon is by die huis.

Die polisie het mense met inligting gevra om die Kabega Park-polisiestasie by 041 397 6801/02 te skakel.

Leeu-aanval: Sy dood het mense op hul knieë gebring

$
0
0

Foto: Phillip Bruwer.

Kristian Prinsloo, wat die dag ná sy 12de verjaardag dood is nadat ʼn driejarige leeumannetjie hom aangeval het, se verhaal “het duisende mense aangeraak en op hul knieë gebring”.

Honderde mense het Woensdag by die Lewende Woord Centurion-gemeente bymekaar gekom om eer aan Kristian te bring, kort nadat hy vroeër die dag in die Pretoria-Oos-begraafplaas te ruste gelê is.

“Alhoewel ons baie hartseer is, is die gebeure hier om Kristian se lewe en vreugde vir die lewe te vier,” het Kristian se pa, Herman Prinsloo (47), aan familie, vriende, skoolmaats en besorgdes gesê wat meer as die helfte van die kerk vol gesit het.

Voor in die kerk, langs pastoor Wouter van der Merwe wat die herdenkingsdiens gelei het, het ʼn groot foto van Kristian tussen blommeruikers en kerse gestaan.

Herman het na dié foto van ʼn glimlaggende Kristian gewys en gesê: “As jy daai smile sien, kan jy nie hartseer wees nie. Ons vier sy lewe; dit is wat hy sou wou gehad het.”

Kristian se skoolmaats, geklee in die kenmerkende grys-en-vlootblou skoolklere van Laerskool Louis Leipoldt waar hy in graad 6 was, het die voorste ry van een van die blokke vol gesit, met Kristian se familie, waaronder sy ma, Adri (47), en ouma, Marie Strydom, in die voorste ry van een van die ander blokke.

Cor en Alet Vos, Strydom se boesemvriende op wie se landgoed die ongeluk op 8 April plaasgevind het, het agter die Prinsloo-egpaar gesit en al die verrigtinge bygewoon om eer te betoon. Die Vos-egpaar en Prinsloo-egpaar het mekaar getroos toe hulle erg emosioneel geraak het terwyl aanbiddingsmusiek gespeel het en foto’s van Kristian op groot skerms vertoon is.

In die foto’s wat gewys is sien ʼn mens die heeltyd hoe Kristian met rooi wangetjies glimlag. Sy liefde vir die buitelewe, natuur, diere, motorfietse en robotte is duidelik sigbaar, soos wat Herman vroeër aan Maroela Media gesê het.

“Kristian Josef Armand Prinsloo is op 25 April 2005 gebore en is op 26 April 2017 oorlede. Hierdie besonderse seun was ons kind, kleinkind en maatjie,” lui die inleiding van sy begrafnisbrief.

“Kristian se roeping op aarde was groot en die volle omgang daarvan sal ons nooit kan bereken nie. Hierdie merkwaardige jong man het duisende mense se hartsnare geroer om weer opreg na God te soek. Van sy skool tot op Facebook het mense van reg oor die wêreld die troonkamer van God binnegegaan om vir hom en sy familie te bid.

“Deur sy verhaal het hy Christene van mense gemaak. Hy was ʼn Josef wat in ʼn put moes beland om ʼn volk te voed. Jesus het ʼn seun se vyf broodjies en twee visse geneem en daarmee duisende mense gevoed en het ook die bietjie wat Kristian gehad het gebruik om duisende mense geestelik te voed.

“Deur sy lewe en selfs deur sy dood, het Kristian bewys dat ons hoop buite onsself lê. Ons weet die trane wat ons vandag moet stort, sal eendag weggevee word. Ons sal bly staan in ons geloof, al verstaan ons nie alles nie. Ons kies Abba Vader se wil bo ons eie.

“Kristian – ons gaan jou mis. Jy was meer as kosbaar. Ons sal sorg dat die goeie dinge wat jy in ons geplant het, vrug sal dra en dat jy eendag trots sal wees op hoe ons dit gebruik het. Jy sal vir altyd omring word deur liefde in ons harte totdat ons jou weer sien.”

Herman het ná die diens aan Maroela Media gesê hulle koester steeds geen kwade gevoelens teen die leeu se eienaars nie en versoek steeds dat die leeu nie van kant gemaak word nie.

Volgens Carel Bothma, Herman se vriend, is dit net so ’n moeilike tyd vir die Vos-gesin en hy het hulle seën toegewens. “Kristian het voor hulle oë grootgeword. Hy was soos ʼn kleinseun vir hulle,” het hy gesê.

Die verrigtinge is afgesluit deur honderde blou ballonne met briefies in die lug te laat opgaan, “waar Kristian nou veilig in Jesus se arms is,” volgens Adri se afskeidsboodskap.

Lees alle vorige berigte oor Kristian Prinsloo op Maroela Media.

Coligny-moordsaak: Saak sal dán voortduur

$
0
0

Betogers buite die Coligny-landdroshof tydens die beskuldigdes se vorige verskyning (28 April 2017). Foto: Verskaf

Die aansoek om borgtog van Pieter Doorewaard (26) en Phillip Schutte (34) het vandag in die Coligny-landdroshof in Noordwes voortgegaan.

Frank Lesenyego, die streekswoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het aan Maroela Media gesê die saak is tot Vrydag 5 Mei uitgestel en die formele borgtogaansoek duur nog voort.

Die staat sal na verwagting nog ʼn getuie roep. Ao. Moremi Modisane het aan die hof gesê hy het die oorledene met sy kop na onder aangetref, met bloed wat uit sy gesig en ore stroom.

Die mans het na bewering twee seuns betrap dat hulle sonneblomme uit boere se landerye gesteel het. Hulle het glo vir die seuns gesê om agterop hul bakkie te klim sodat die mans hulle polisiestasie toe kon vat. Een seun het weggehardloop en die ander seun, Matlhomola Jonas Mosweu, het agterop die bakkie geklim. Hy het glo egter van die bakkie afgespring toe die voertuig om ʼn draai spoed verminder het.

Landdros Makgaola Foso het die twee beskuldigdes gevra of hulle die beweerde gesteelde sonneblomme na die polisie gevat het – hulle het geantwoord hulle het nie.

Matlhomola het sy nek gebreek en is op 20 April oorlede.

Sy pa, Sakkie Dingake, het vroeër gesê die familie het eers Sondag van Matlhomola se dood uitgevind. Hulle het gedink hy kuier by vriende op ʼn plaas in Putfontein. Dingake het ontken dat sy seun sonneblomme sou steel.

Lees alle vorige berigte oor Coligny op Maroela Media.

Miljarde se korrupsie oopgevlek in Jhb

$
0
0

Herman Mashaba. Foto: Facebook/Democratic Alliance

Herman Mashaba, die burgemeester van Johannesburg, het tydens die stadsrede gesê korrupsie en bedrog het met nagenoeg R2 miljard afgeneem sedert genl. Shadrack Sibiya  by die stad se interne ondersoekeenheid aangestel is.

“Ons doen moeite om korrupsie bloot te lê en seker te maak dat dié wat skuldig bevind is aan die pen ry,” het Mashaba aan die raadslede in die splinternuwe raadsaal gesê.

Volgens Mashaba is 30 werknemers al sedert die stigting van die ondersoekeenheid in hegtenis geneem.

Mashaba sê hy sal die vordering van die sake voor die hof fyn dophou.

“Daar is 91 werknemers geskors en drie seniorbeamptes het al bedank as gevolg van hierdie ondersoeke,” het Mashaba gesê.

Mashaba het bevestig dat oor die 300 sake tans ondersoek word. Die sake se monetêre waarde oorskry R10 miljard.

Hy het ook gesê die gesprekke waartydens tenders toegeken word, sal van nou af in kamers gehou word wat toeganklik is vir die publiek, die media en alle ander partye wat belangstel.

“Hierdie dinge is vir té lank agter toe deure gedoen.”

Vyf wat glo kluis wou opblaas se saak voor hof

$
0
0

Die ploftoestel waarop daar beslag gelê is. Foto: Valke

Die vyf mans wat na bewering beplan het om ʼn kerk se kluis op te blaas omdat hulle gedink het die kluis bevat kontant en Krugerrande, het Woensdag weer in die hof verskyn.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, het gesê Hamilton Mathebula (38), Mthabeleng Mngwenya (29), Bheki Nkosi (30), Mthombisi Vicent Hlongwane (25) en Sbongile Eddie Nkosi (25) het in die Kabokweni-landdroshof in Mpumalanga op ʼn aanklag van besit van ʼn ploftoestel verskyn.

Die saak is tot 19 Mei uitgestel vir hul formele aansoek om borgtog.

Die verdagtes bly in aanhouding tot dan.

Maroela Media het vroeër berig die vyf mans het glo beplan om die kluis van ʼn kerk in Chweni in die Kabokweni-omgewing op te blaas. Hulle is Vrydag op pad na die kerk deur lede van die Valke, die Kabokweni-SAPD en lede van die polisie se taktiesereaksie-eenheid vasgetrek.

Volgens Sekgotodi is daar op ʼn ploftoestel asook ʼn BMW-voertuig beslag gelê.

Baba in asblik gestort

$
0
0

Argieffoto

Die liggaam van ʼn pasgebore babaseun is Woensdagmiddag in ʼn asblik buite ʼn winkelsentrum in Pietermaritzburg se middestad gevind.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die liggaam is deur veiligheidsbeamptes gevind. Hulle het die baba na hul kantoor by die winkelsentrum geneem, waarna paramedici en die polisie ontbied is.

“Die seun was in ʼn plastieksak toegedraai. Hy is ondersoek en het geen teken van lewe getoon nie. Ongelukkig kon daar niks vir hom gedoen word nie en hy is op die toneel dood verklaar,” het hy gesê.

Die polisie ondersoek die voorval.

Gauteng-skoolaansoeke bereik mylpaal

$
0
0

Argieffoto (Foto: Pexels, Pixabay)

Meer as 150 000 aansoeke is teen Woensdagmiddag op die Gautengse departement van onderwys se aanlyn stelsel vir skoolaansoeke ingedien.

Oupa Bodibe, woordvoerder van die departement, het gesê teen 12:00 is 154 916 aansoeke ontvang. “Dit is amper die helfte van die 350 000 aansoeke wat vir die 2018-skooljaar verwag word,” het Bodibe gesê.

“Om hierdie mylpaal in ʼn dag en ʼn half te bereik is betekenisvol en regverdig die skuif na aanlyn aansoeke. Met normale aansoeke sou dié hoeveelheid eers in sowat drie maande bereik kon gewees het.”

Die departement van onderwys het Dinsdag in ʼn verklaring gesê hy is baie tevrede met die aanlyn stelsel en die oorweldigende reaksie van Gauteng-ouers. “Die terugvoer van die ouers wat die aanlyn stelsel gebruik of ʼn toelatingsentrum besoek het om daar aanlyn aansoek te doen, was tot dusver oorwegend positief,” lui die verklaring.

“Binne die eerste 20 minute wat die stelsel beskikbaar gemaak is, het meer as 16 000 ouers reeds suksesvol aansoek gedoen. Teen middagete is 90 984 aansoeke deur die stelsel verwerk.”

Dié suksesvolle registrasies volg ná 2016 se ineenstorting van die webwerf waarop ouers hul kinders kon registreer.

Ouers van graad 1- en graad 8-leerders kan van Dinsdag aanlyn aansoek doen vir toelating tot Gauteng-skole volgende jaar. Ouers wat nie toegang tot die internet het nie, kan een van die 65 toelatingsentrums in die provinsie besoek en van daar af aanlyn aansoek doen.

Ouers wat nog nie aansoek vir hul kinders gedoen het nie, word versoek om dit so gou moontlik te doen. Aansoeke sal op 12 Junie om middernag sluit. Die plasing van leerders sal van 24 Julie gedoen word.


Pta-snelweg toe weens betogings

$
0
0

Foto: Via Netstar Traffic / Twitter

ʼn Gedeelte van die R21-snelweg in Pretoria is Donderdagoggend vir verkeer gesluit nadat betogers die pad versper het.

Aanvanklik was die noordelike en suidelike gedeelte van die snelweg naby die Nellmapius-afrit gesluit, maar beamptes kon daarin slaag om die suidelike baan van die snelweg weer vir verkeer oop te stel.

Alle bane van die noordelike gedeelte van die snelweg (in die rigting van Pretoria) was egter nog teen 07:00 tussen die Olifantsfontein- en Nellmapius-afrit vir verkeer gesluit en is omstreeks 08:00 vir verkeer oopgestel. (Lees meer hier) 

Die rede vir die betoging kon nie dadelik bevestig word nie. Op ʼn foto wat van die betogers geneem is, kan ʼn plakkaat met die woorde, “We need land”, egter gesien word.

Die Gautengse polisie is op die toneel en monitor die situasie.

Foto: Verskaf

R21 weer oopgestel ná protesaksie

$
0
0

Foto: Via Netstar Traffic / Twitter

Motoriste kan nou weer vrylik op die R21-snelweg beweeg.

“Albei rigtings is nou weer oop vir gebruik,” het sr.supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, aan Maroela Media gesê.

In dié stadium is daar nog niemand in hegtenis geneem in verband met die protesaksie nie.

Maroela Media het vanoggend berig ʼn gedeelte van die R21-snelweg was gesluit ná betogers vroegoggend die pad versper het.

Aanvanklik was die noordelike en suidelike gedeelte van die snelweg naby die Nellmapius-afrit gesluit, maar beamptes kon daarin slaag om die suidelike baan van die snelweg weer vir verkeer oop te stel.

Alle bane van die noordelike gedeelte van die snelweg (in die rigting van Pretoria) was egter nog teen 07:00 tussen die Olifantsfontein- en Nellmapius-afrit vir verkeer gesluit.

Die rede vir die betoging is steeds nie duidelik nie. Op ʼn foto wat van die betogers geneem is, kan ʼn plakkaat met die woorde, “We need land”, egter gesien word.

“Dit is moeilik om te sê, ons hoor so baie stories,” het Mahamba laat hoor.

Mahamba het motoriste verseker dat die metropolisie op die toneel sal bly en die situasie sal monitor.

‘My kind sal weer loop’

$
0
0

Rudi Kunz die dag wat die ongeluk gebeur het. Foto: Verskaf

ʼn Stamselprosedure word vandeesweek op Rudi Kunz (30), die man van Hoedspruit in Limpopo wat verlam is nadat hy op 1 April teen ʼn rivieroewer vasgeduik het, gedoen.

Johan Kunz, Rudi se pa, het Woensdag aan Maroela Media gesê Rudi het meer as ʼn maand ná die ongeluk steeds geen gevoel in sy lyf nie en kan steeds nie self asemhaal nie. “Hy het gevoel tot so drie vingers onder sy keel en van daar af is daar niks. Hy is nog steeds aan die ventilator gekoppel,” het Johan gesê. “Die probleem is net, hoe langer hy die ventilator gebruik, hoe meer verswak sy spiere. Hy kan ook nie na ʼn rehabilitasiesentrum geskuif word as hy nie self kan asemhaal nie.”

Johan sê die ventilator is deur ʼn gaatjie in Rudi se keel ingesit, terwyl ʼn voedingsbuis direk in sy maag ingeplaas is. “Hy is by sy volle bewussyn en weet wat om hom aangaan. My kind weet wat is fout met hom,” sê hy. Rudi kan ʼn bietjie kommunikeer, maar nog nie behoorlik praat nie en hulle maak meestal van lippetaal gebruik om te verstaan wat hy sê.

Maroela Media het vroeër berig Kunz het saam met ʼn groep vriende by die Klaseriedam gaan uitspan toe die ongeluk gebeur het. Melissa Swan, een van Kunz se vriendinne, het vroeër vertel sy was in die water toe Rudi van die oewer af in die dam geduik het. Toe hy ná ʼn rukkie opkom, het hy geen gevoel in sy lyf gehad nie en iemand moes induik om hom uit die water te haal.

Kunz is per ambulans na ʼn hospitaal in Nelspruit gehaas en later per helikopter na die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas. ʼn Skandering het getoon van sy boonste werwels het geskuif en hy het ook swelling op sy brein opgedoen weens die stamp teen sy kop. Hy het kort daarna ʼn operasie ondergaan om sy werwels weer in plek te kry.

Johan sê dokters meen die kans is skraal dat Rudi weer sal kan loop, maar hy en sy vrou weier om moed te verloor. “Ek het net vir daardie dokter gesê, doen jy net die operasie om sy ruggraat te reg te maak en dan sal God sorg dat hy weer loop. Dit is net God wat ʼn mens kan heelmaak. My kind sal weer loop, al vat dit vyf jaar. Ek glo dat die Here hom sal gesond maak.”

Volgens Johan hoop die familie nou dat die stamselprosedure sal help om Rudi genoeg te laat herstel sodat hy self kan asemhaal. “Dr. Hein van Wyk wat die prosedure gaan uitvoer, sal Vrydag Johannesburg toe gaan om die eerste gedeelte daarvan te doen en Saterdagoggend die tweede gedeelte,” sê hy. Hy verduidelik dat stamselle dikwels gebruik word om ruggraatbeserings te behandel, maar die sukses daarvan en mate van herstel verskil van pasiënt tot pasiënt.

“Dit is ʼn baie duur prosedure, maar ʼn vriendin van Australië het die geld geskenk sodat ons dit kan laat doen. Dit is ongelooflik, ek het nie eens woorde om ons dankbaarheid te betuig nie. Dit is net ongelooflik hoe baie ondersteuning ons familie van oral oor kry,” sê Johan.

“ʼn Skool in Hoedspruit het ʼn ruk terug ʼn geleentheid ter ondersteuning van Rudi gehou. Sy naam was op die sportveld geskryf en ʼn vliegtuig het oor die skool gevlieg. Hulle het vir hom geld ingesamel en die kinders in die skool het 400 briewe vir hom geskryf. Ek kan nie vir jou sê hoe hierdie soort ondersteuning ons in hierdie tyd dra nie. Dit is regtig ongelooflik, want dit is al hoe ons hierdeur sal kom, deur mense wie se harte op so ʼn wonderlike manier oop is.”

Kunz se vriende het ʼn fonds gestig om geld vir sy mediese koste in te samel. Daar sal vandag ʼn gholfdag in Nelspruit ter geldinsameling gehou word. Alle inligting oor die gholfdag en geldinsameling is op die Rudi Kunz Support Fund-Facebookblad beskikbaar.

Lees alle vorige berigte oor Rudi Kunz op Maroela Media.

Ouers soek antwoorde ná gestremde seun onverwags sterf

$
0
0

Johan Vermeulen. Foto: Verskaf

ʼn Ouerpaar van die Wes-Kaap is in ʼn stryd gewikkel om antwoorde te kry nadat hul 23-jarige gestremde seun onverwags in ʼn versorgingsoord in Balfour, Mpumalanga, oorlede is.

Johan Vermeulen is op 26 November 2016 dood nadat hy volgens die bestuur van die versorgingsoord geval het en beseer is. Thys Vermeulen, Johan se pa, vermoed egter daar steek meer agter sy seun se dood.

Vermeulen het aan Maroela Media gesê Johan is met Cornelia de Lange-sindroom gebore, ʼn ontwikkelingsversteuring wat tot verstandelike en fisieke gestremdheid lei. Volgens Vermeulen het die sindroom tot gevolg gehad dat Johan ten tyde van sy dood die liggaamsbou van ʼn 10-jarige seun gehad het en glad nie kon praat nie. Sy verstandelike vermoëns is ook aangetas.

Johan is sedert Januarie 2014 in Huis Sunfield Fortuna in Balfour versorg. Vermeulen het gesê hy en sy vrou het middel 2016 van die Noord-Kaap na Parow verhuis, wat tot gevolg gehad het dat hulle net elke paar weke by Johan kon gaan kuier. Voor sy dood was Johan gelukkig by Sunfield Fortuna en was Vermeulen en sy vrou meestal tevrede met die versorging wat Johan daar ontvang het.

“Ons het nooit rede gehad om te vermoed dat iets nie pluis was nie,” het Vermeulen gesê. “In Januarie 2016 is Johan hospitaal toe geneem omdat hy sy heup seergemaak het. Die personeel het vir ons gesê hy het sy voet gestamp en toe mank geloop. X-strale het later getoon hy het sy heup seergemaak.”

In hierdie geval het iemand van Sunfield Fortuna dadelik Johan se ouers gebel en hulle ingelig dat hy hospitaal toe geneem is. Die Vermeulen-egpaar sou normaalweg ook ingelig word indien Johan siek gevoel het en dokter toe geneem moes word.

Vermeulen sê niemand het hom egter gebel om hom in te lig van die val wat glo tot Johan se dood gelei het nie. “Ek het die aand van 26 November net ʼn oproep gekry om te sê my seun is dood. Ek het nie eens geweet daar was iets fout nie.” Personeel by Sunfield Fortuna het vir Vermeulen gesê Johan het die oggend geval en is na ʼn staatshospitaal geneem waar hy steke gekry het en weer huis toe gestuur is. Hy is dieselfde aand dood.

Johan Vermeulen. Foto: Verskaf

Vermeulen sê dit was dadelik vir hom vreemd dat Johan na ʼn staatshospitaal toe geneem is, omdat hy ʼn hospitaalplan het en voorheen na private hospitale geneem is vir mediese behandeling. Volgens Vermeulen was hy en sy vrou nog altyd bereid om vir mediese onkoste te betaal wat nie deur die hospitaalplan gedek word nie.

Vermeulen het later ook vasgestel Johan het na bewering ook op 11 November en 24 November by die versorgingsoord geval. Dit was dadelik vir hom eienaardig dat Johan so baie sou val, omdat sy balans baie goed was en hy glad nie gesukkel het om te loop nie.

“Johan se toestand was baie uniek. Ons het deur die jare al vasgestel dat anti-psigotiese middels of enige middels wat ten doel het om ʼn persoon te kalmeer, die teenoorgestelde uitwerking op Johan het en hom hiperaktief en duiselig gemaak het. Daarom het die personeel by Sunfield Fortuna streng opdrag gehad om absoluut geen medikasie vir Johan te gee nie behalwe die chroniese medikasie wat deur ʼn neuroloog voorgeskryf is vir die hoofpyne wat hy gekry het,” het hy gesê.

Vanweë Johan se gestremdheid het hy soms “moeilik geraak”, maar hy was nooit aggressief nie. Johan kon gewoonlik maklik gekalmeer word deur byvoorbeeld sy aandag met iets anders af te trek.

“Ek het ná sy dood ʼn vermoede gekry daar is moontlik vir hom medikasie gegee om hom te ‘kalmeer’, wat daartoe gelei het dat hy so baie geval het.” Vermeulen het gesê die dokter wat die inwoners van Sunfield Fortuna behandel, het later ook aan hom bevestig dat Johan na hom toe gebring is en dat hy vir hom medikasie voorgeskryf het. Die dokter kon glo egter nie bevestig watter medikasie hy voorgeskryf het nie.

Nog ʼn aspek wat die Vermeulen-egpaar onraad laat merk het, is die feit dat die nadoodse ondersoekverslag daarop dui dat daar vyf wonde vanuit verskillende tydperke aan sy skedel was. Volgens Vermeulen het hy geen benul waar hierdie wonde vandaan kom nie, aangesien Johan nooit voorheen geval of kopbeserings opgedoen het nie.

“Ek weet nie wat by Sunfield Fortuna gebeur het nie. As my seun medikasie gekry het wat hy nie moes nie, was dit nalatig van die personeel wat dit vir hom gegee het. Of hy enigsins aangerand of opsetlik seergemaak is, weet ek nie. Ek weet wel hy is aan onnatuurlike oorsake dood en daarom moet daar ʼn logiese verduideliking vir sy dood wees.”

Die nadoodse verslag dui die oorsaak van Johan se dood as “blunt force injury” aan.

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het aan Maroela Media gesê die polisie het met ʼn geregtelike doodsondersoek begin ná Johan se dood. Nadat die nadoodse ondersoek egter daarop gedui het dat hy aan onnatuurlike oorsake gesterf het, is dit waarskynlik dat die saak na moord verander sal word. Hlathi kon nie Woensdag bevestig of die saak al na moord verander is nie.

Brenda Gouws, algemene bestuurder van Sunfield Fortuna, het aan Maroela Media bevestig dat Johan ʼn inwoner by die versorgingsoord was en dat hy op 26 November 2016 geval en beserings opgedoen het.

“Ingevolge Sunfield se beleid is hy onverwyld vervoer om professionele mediese aandag te kry. Nadat hy mediese behandeling ontvang het, is hy teruggeneem na Sunfield Fortuna waar die personeel na hom omgesien het. Later die aand het hy, vermoedelik vanweë die beserings, beswyk,” het sy gesê.

Volgens Gouws kan daar weens die geregtelike doodsondersoek en moontlikheid van ʼn moordsaak nie in dié stadium verder kommentaar gelewer word nie. “Die voorval word as uiters hartseer ervaar en ons betuig ons innige simpatie en medelye met Johan se ouers en dierbares,” het sy gesê.

“Die direksie van Sunfield Fortuna beklemtoon sy vertroue in die bestuur van die tehuis wat in uiters moeilike omstandighede met groot sorg en liefde na die inwoners omsien.”

Man swaar gestraf vir dubbele plaasmoord

$
0
0

Argieffoto: AfriForum Jeug

ʼn Man is in die hooggeregshof in Thohoyandou in Limpopo gevonnis vir ʼn dubbele plaasmoord in Musina in 2010.

Kapt. Matimba Maluleke, woordvoerder van die Valke, het gesê Gibson Banda (43) is tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op Johan Greyvenstein (54) en sy vrou, Annelise (53), in November 2010.

Banda het op die egpaar se plaas gewerk. Die egpaar is doodgeskiet en hul liggame is in hul bakkie naby die plaashuis gevind. Banda, ʼn Zimbabwiër, het ná die moorde na sy tuisland gevlug. Hy is in Zimbabwe in hegtenis geneem en aan Suid-Afrika uitgelewer met behulp van Interpol.

Volgens Maluleke is daar tydens Banda se inhegtenisneming beslag gelê op goedere wat tydens die moord gesteel is, sowel as die vuurwapen waarmee die egpaar vermoor is.

Banda is tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moorde, 15 jaar tronkstraf vir roof met verswarende omstandighede, drie jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen en drie jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ammunisie.

Genl.maj. Thobeka Jozi, hoof van die Valke in Limpopo, het die vonnis verwelkom. “Ons glo dit sal ʼn sterk boodskap rig aan voornemende misdadigers. Ons wil die polisie, nasionale vervolgingsgesag en almal andersins betrokke bedank vir hul toewyding om seker te maak die oorledenes se familie kry berusting rakende die gruwelike voorval wat hulle moes deurmaak.”

Viewing all 56621 articles
Browse latest View live