Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all 56621 articles
Browse latest View live

Helpende Hand reageer oor fopnuus ná Coligny-krisis

$
0
0

Solidariteit Helpende Hand het Sondag reageer oor aantygings dat die organisasie “slegs swart lede van die gemeenskap” bygestaan het met hulp ná betogings in Coligny in Noordwes.

“Aantygings en bewerings dat die Solidariteit Helpende Hand-tak op Coligny enigsins of slegs aan swart lede van die gemeenskap hulp, goedere of geldelike bystand verleen het, is nie waar nie,” het die organisasie in ʼn verklaring gesê. “Ons tak op Coligny het goedere ingesamel om te versprei onder gesinne wat deur hierdie krisis geraak word en daar is geen goedere of hulp aan enige ander lede van die gemeenskap gegee nie.”

Maroela Media het vroeër berig verskeie vragmotors en huise is die afgelope paar dae deur betogers aan die brand gesteek, winkels geplunder en talle ondernemings erg beskadig. Paaie in die gebied was met tye onbegaanbaar en talle voertuie is deur betogers met klippe bestook.

“Helpende Hand werk onverpoosd voort om Afrikaner-armoede aan te spreek en die organisasie bou hierop voort met sy projekte en inisiatiewe. Altesaam 75c uit elke rand wat geskenk word, word direk aan projekte spandeer om hierdie doel te bereik. Elke projek dra die belange van ’n kwesbare kind, bejaarde of student op die hart en niks het sedertdien verander nie.”

Die organisasie het gesê hy waarsku die publiek teen plasings soos die betrokke stuk teks in die foto hiernaas en versoek dat sy ondersteuners en lede van ander organisasies van die Solidariteit Beweging met sorg en oorleg sal onderskei tussen “fopnuus” en werklike feite voordat hulle nuus deel.

Lees alle vorige berigte oor Coligny op Maroela Media.


Polisie waarsku teen dié ‘parfuum’

$
0
0

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Die berig is intussen bygewerk. Meer inligting volg onderaan die berig.

Die polisie in Mpumalanga het Sondag ʼn waarskuwing uitgereik dat lede van die publiek nie sommer aan ʼn papier moet ruik waarop parfuum glo gespuit is nie.

“Indien enigiemand jou in die parkeerarea van ʼn winkelsentrum voorkeer en vra of jy belangstel in parfuum en dan ʼn papier vir jou gee om aan te ruik, moet dit asseblief nie doen nie,” het brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, gesê. “Dit is ʼn nuwe bedrogspul, dit kan moontlik dwelmmiddels wees en jy kan dalk jou bewussyn verloor indien jy daaraan ruik. Die misdadigers kan jou dan moontlik ontvoer of beroof.”

Volgens Hlathi is die inligting deur ʼn senior polisiebeampte aangestuur. “Neem asseblief kennis hiervan en stel ook ander hiervan in kennis.”

Ná verskeie persone Maroela Media gekontak het dat hierdie moontlik vals inligting kan wees, het Maroela weer by brig. Hlathi aangeklop vir verdere inligting en om te bepaal of daar moontlik enige gedokumenteerde voorval in Mpumalanga was. Hy kon nie onmiddellik enige voorvalle bevestig nie maar het mense wel gewaarsku om versigtig te wees. “Ons doen ʼn beroep op persone om ten alle tye bedag te wees wanneer vreemdelinge hul nader en onbekende dienste aanbied.”

Vier sterf, twee beseer tydens Carletonville-ongeluk

$
0
0

Argieffoto: ER24

Vier persone is dood en twee ander beseer toe hul motor Sondagoggend op die R501 naby Oos-Driefontein in Carletonville in Gauteng omgeslaan het.

“Paramedici het omstreeks 07:00 by die toneel opgedaag,” het Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, gesê. “Al ses persone het in dieselfde motor gereis. Twee persone wat noodlottige beserings opgedoen het, is in die wrak aangetref. Nog twee persone wat ook op die toneel dood verklaar is, het ʼn paar meter van die voertuig af gelê. Hulle is vermoedelik uit die motor geslinger toe dit gerol het.”

Nog twee persone het matige beserings opgedoen. “Hulle is op die toneel behandel en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.”

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.

Voortvlugtiges op Mpuma-plaas aangekeer

$
0
0

Themba Andries Nkosi (21) en Sibusiso Lusenga (25) (Foto: SAPD, Mpumalanga)

Twee persone, wat uit die polisie in Machadodorp in Mpumalanga se aanhoudingselle ontsnap het, is weer in hegtenis geneem.

Themba Andries Nkosi (21) en Sibusiso Lusenga (25) is in hegtenis geneem vir diefstal, ontvoering en aanranding voor hulle verlede week Donderdag uit die selle ontsnap het, het brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, gesê.

“Die twee mans is Saterdagaand weer in hegtenis geneem nadat die polisie ʼn wenk ontvang het oor waar die twee hulself bevind,” het hy bygevoeg. Die inligting het die polisie na ʼn plaas, ongeveer 30 km buite Machadodorp, gelei.

“Polisiebeamptes is ontplooi en het vinnig reageer. Die twee mans het geslaap toe die beamptes toegeslaan het.” Die twee mans het glo na die plaas toe gekom om werk te soek. Hulle het kos gekry en ʼn plek om te slaap.

“Hulle is weer in aanhouding en die polisie het ook beslag gelê op ʼn gesteelde vuurwapen,” het Hlathi gesê.

Die ondersoek oor die ontsnapping duur voort.

Geen veldtog om ANC-president te verkies nie, sê Mbete

$
0
0

Baleka Mbete, ANC-voorsitter en speaker van die nasionale vergadering, tydens ‘n onderhoud met ANA (30 April 2017) Foto: Nosipiwo Manona/ANA

Baleka Mbete, ANC-voorsitter en speakter van die nasionale vergadering, het gesê daar is nie enige veldtog tans aan die gang vir die presidentskap van die ANC voor die party se verkiesingskonferensie in Desember nie.

“Daar is nie enige resies vir die leierskap in die ANC nie,” het sy in ʼn onderhoud in Port Elizabeth aan die African News Agency gesê. “Die party het dit vroeër vanjaar baie duidelik gestel dat daar geen resies, geen verkiesingsveldtog is nie. Daar word dus verwag dat ANC-kaders nie aan enige bedrywighede vir só veldtog sal deelneem nie.”

Sy het gesê dis moontlik dat persone dalk uitlatings maak in reaksie op sekere kwessies en dat hulle moontlik buite konteks aangehaal word. “Dit beteken nie hulle is besig met ʼn verkiesingsveldtog nie,” het sy gesê.

Dit het duidelik geword dat pres. Jacob Zuma se eksvrou, Nkosazana Dlamini-Zuma, sy goedkeuring geniet om hom as president van die ANC op te volg. Mbete het moontlik self ook haar oog op die pos.

Mbete wou tydens die onderhoud nie bekend maak of Dlamini-Zuma die beste vroulike kandidaat is wat die ANC het nie. “Ek is nie bereid om enige vraag te beantwoord oor enige individu wat betref die kandidaatskap nie. Wag asseblief vir ons totdat die tyd gereed is. Sodra die tyd aangebreek het, sal ons almal die kans hê om kommentaar te lewer.”

Sy wou ook nie bevestig of ontken dat sy haarself vir die ANC-presidentskap beskikbaar sal maak nie. “Moet ons nie dwing om hierdie vrae te beantwoord nie. Ons mag nie antwoord nie,” het sy gesê.

“Enigiemand wat deelneem aan ʼn verkiesingsveldtog, doen dit nie-amptelik. Dit kan beskou word dat daardie persoon doelbewus die reëls van die ANC oortree. Dit kan lei tot dissiplinêre stappe, indien dit ʼn verkiesingsveldtog is.”

Oor die welgestelde Gupta-familie het Mbete gesê: “Ek was nog nooit by Saxonwold [die Guptas se eiendom in Johannesburg] nie. Ek onthou net een van die Gupta-broers het in Luthuli House ʼn algemene uitnodiging gegee. ‘Kom kuier gerus, die ou vrou maak lekker kerrie,’ het hy gesê, maar ek was nog nooit by hulle huis nie,” het Mbete verduidelik.

Volgens haar was sy te besig met haar werk en haar gesin om by die Gupta-familie te gaan kuier. “Ek hardloop rond tussen die parlement en [die ANC-hoofkantoor] Luthuli House. My hande is vol en ek het nou ook gesinsverantwoordelikheid.”

Sy is nie bewus van enige bande tussen die Guptas en die ANC as ʼn organisasie nie. “Natuurlik is daar moontlik persoonlike vriendskappe met verskeie ANC-mense, ministers en individue. Dit beteken nie daar is formeel ʼn band met die ANC en daardie familie nie.”

Oor staatskaping en die beweerde rol van die Gupta-familie hierin, het Mbete gesê: “Dit laat die vraag ontstaan of dit die sleutelprobleem is wat ons in Suid-Afrika het. Ek dink hierdie tipe fenomeen, genaamd staatskaping, is iets wat ons die volwassenheid moet hê om te ondersoek. Ons moet kyk waar lê die probleem. Om voor te gee dat hierdie spesifieke familie die begin van ons ekonomiese probleme is, sou oneerlik wees.”

Mbete het in reaksie op ʼn vraag dat die publiek wil hê Zuma moet bedank, gesê dit is nie “onweerlegbaar” die wil van die land nie. “Hoe weet ons dat ons werklik kan sê dit is wat die land wil hê?” wou sy weet. “ʼn Paar van ons maak ʼn groot geraas en dit trek aandag, maar dit beteken nie dis ʼn landswye versoek nie. Ons het nog nie ʼn referendum gehou om te bepaal of dit is wat die land definitief wil hê nie.

“Voor dat die ANC na die beleidskonferensie gaan, sal ons ʼn konsultatiewe proses volg oor algemene kwessies wat onder ons aandag gebring is. Dit sal vir ons inligting gee oor die kwessies in sekere sektore en groepe wat die kwessie aangeroer het oor die leier van die ANC.

“2017 is ʼn baie belangrike jaar vir die ANC. Ek dink dit sal ʼn groot fout wees om die amptelike stappe te ontwrig om ʼn nuwe leierskapkollektief te verkies. Ons het met ons veterane ooreengekom dat daar twee dae van konsultasie sal wees voordat ons met die beleidskonferensie begin.”

Nuuskommentaar: Werkersdag nou politieke slagveld danksy Zuma?

$
0
0

Pres. Jacob Zuma. Argieffoto: Ntswe Mokoena, GCIS

Gaan die verwagte skare by vandag se Cosatu-hooffunksie ter viering van Werkersdag in Bloemfontein vir pres. Jacob Zuma uitjou? Of dan net ’n deel van die skare?

Die simboliek hieragter, al sou dit nie die eerste keer wees dat Zuma as president deur ’n deel van die skare uitgejou wees nie, oorskadu eintlik enige ander simboliek wat meer regstreeks met Werkersdag verband hou. Soos dat daar bitter baie Suid-Afrikaners is wat nie werk het nie.

Die vorige keer wat Zuma uitgejou is, was tydens ’n gedenkdiens vir oud-pres. Nelson Mandela nadat dié ikoon kort tevore gesterf het. Die geleentheid, in die FNB-stadion in Soweto, is onder andere deur pres. Barack Obama bygewoon, en toegespreek. Min Suid-Afrikaners het egter die uitjouery gehoor omdat persone met bedenklike joernalistieke integriteit besluit het om dit uit die plaaslike uitsendings te sensor.

Op die gevaar af dat die kameel agter die bult gehaal gaan word (die gebruiklike gedierte van hierdie spreekwoord kan nie ingespan word nie omdat Zuma dalk rassisme daarin kan lees) word die volgende moontlike scenario geskep:

Sou die verrigtinge vandag in Bloemfontein ’n ongewenste afloop hê, kan net die ANC daarvoor blameer word. Met dié verrigtinge, waarvoor die ANC se geaffilieerde vakbondfederasie Cosatu tradisioneel die eienaarskap neem, word nie net sy eie president nie, maar ook die leiers van die ander alliansievennote, die ANC en die SAKP as sprekers genooi.

Om Zuma steeds af te vaardig terwyl beide Cosatu en die SAKP formeel aandring dat Zuma die tuig moet neerlê, is doodgewoon om realiteite uit te daag. Enige intelligensieverslag wat sy sout werd is, sou ook daarteen waarsku.

Na die gevolglike polemiek waar minstens drie groot vakbonde stem dik gemaak het, het die ANC steeds besluit om Zuma af te vaardig. Die veiligheid van slegs een persoon tel, en dit is Zuma, en voldoende voorsorg vir sy veiligheid word getref.

Die Vrystaatse ANC, onder die leiding van die Zuma-pion, premier Ace Magashule, bring ook sy kant, en na berig word, word groot getalle ANC-ondersteuners wat Zuma-aanhangers is, na die verrigtinge opgevorder. Of iemand in die gehoor nog sal kans sien om Zuma in Comrade Eisj se intimiderende skare teen te gaan, moet nog gesien word.

Min mense sal werklik na Zuma se rede wil luister, al is dit bloot omdat dit wat hy na verwagting gaan sê, niks nuuts is nie. Hy sal weer die kwessie van radikale ekonomiese transformasie noem, hy sal “wit monopolistiese kapitaal” vir als wat verkeerd loop met die ekonomie blameer, en hy sal swart solidariteit probeer aanblaas, onder meer deur die grondkwessie op ’n verdraaide manier voor te hou. (Hiermee volg hy presies die patroon wat politieke wetenskaplikes al voor 1994 gewaarsku het – wanneer dit nie meer so goed werk om alles wat verkeerd loop op die vorige bedeling te plaas nie, sal ’n populistiese aangeleentheid soos grondgryp benut word soos in Zimbabwe gebeur het.)  Ook die gevolge – ’n meer rasgepolariseerde samelewing, is voorspelbaar, en meer belangrik, ’n regstreekse vergryp teen sy ampseed.

Dus wie wil nou luister?

Veral omdat twee van die ander sprekers, Comrade Eisj en die Cosatu-president, Sidumo Dlamini, nog dit wat Zuma gaan sê gaan eggo. Dlamini is argaïes as Zuma-pion as president van Cosatu ontplooi, en is onlangs deur Cosatu gerepudieer vir sy openbare steun aan Zuma. Maar baie mense sal die verrigtinge op TV wil volg om te sien of daar ’n saakmakende protes teen Zuma se teenwoordigheid, en onder die wakende oog van Comrade Eisj, sal wees.

Want dit wat buite-om vandag se verrigtinge op die spel is, is veel meer as ’n (beperkte) uitjouery, ’n paar bolle wat mag rol, of selfs potensiële vandalisme aan motors in die nabygeleë parkeerarea van ’n groot winkelsentrum. (Ja, daar gaan meer as genoeg mense wees wat niks van die potensiële moleste by Loch Loganpark weet nie, en die vakansiedag op betaaldag wil gebruik vir inkopies.)

Sou alles rustig verloop, beteken dit nie die spanning is weg nie, bloot opgebottel vir latere probleme.

Die groter konteks is dat daar uit bykans elke oord druk is dat Zuma moet bedank. Verskeie bekendes het onlangs in koerantartikels Zuma se “sondes” gelys (en dis ’n baie lang lys) en gevra dat hy moet bedank of die trekpas moet kry, waaronder die vorige openbare beskermer, Thuli Madonsela, en die voorsitter van die moderamen van die NG Kerk, ds. Nelis Janse van Rensburg.

Die bekende Tim du Plessis waarsku dat dit nou belangriker is om eers die verkiesing van 2019 te beveilig en motiveer dit deeglik.

Maar durf die moontlikheid dat Zuma en sy ondersteuners die 2019-verkiesing op die een of ander manier kaap of manipuleer te veroorsaak dat die druk op Zuma verslap word? Sekerlik nie, maar dit moet ook oordeelkundig aangepak word sodat Zuma nie onnodige skietgoed kry om die rassetamboer te moker nie.

Wat baie belangrik is, is dat die Nasionale Stigtingsdialoog Inisiatief van onder meer die stigtings van FW de Klerk, Jakes Gerwel, Thabo Mbeki, Phumzile Mlambo-Ngcuka, hoofman Albert Luthuli, Desmond en Leah Tutu, Helen Suzman en Robert Sobukwe gesteun moet word om die Zuma-nalatenskap op te ruim.

Net so het die Afrikaner en ander minderhede ’n baie groot belang daarby dat die Solidariteit Beweging se Plan B nie in die warboel vergete moet raak nie, maar juis nou behoorlik beslag moet kry om ’n behoorlike verskil te maak.

En laat ons nie vandag die miljoene vergeet wat nié werk het nie – nie omdat hulle werksku is nie, maar bloot omdat daar nie genoeg werk vir veral ongeskooldes is nie – en so ook aan hul gesinne wat broodgebrek ly. Dit verhoog die druk op ’n (politieke) omgewing wat bevorderlik is vir die skep van werkgeleenthede – en daar staan Zuma breed in die pad.

Alle oë op Werkersdagvieringe in Bloemfontein

$
0
0

Pres. Jacob Zuma tydens die Vryheidsdagvieringe op 27 April 2017 in KwaZulu-Natal (Foto: GCIS)

Alle oë is Maandag op die Werkersdagvieringe in Bloemfontein, waar pres. Jacob Zuma na verwagting die vakbondfederasie Cosatu gaan toespreek.

Dit volg nadat sommige Cosatu-filiale gesê het Zuma is nie “geskik en bevoeg” om die land te lei nie, en indien hy by die Werkersdagvieringe sou praat, sal dit ʼn “verwarrende boodskap stuur”.

Zuma sal na

verwagting ook die podium deel met SAKP-leier Blade Nzimande, wat ook die president versoek het om te bedank.

Cosatu, SAKP en die ANC vorm die drieparty-alliansie, wat die afgelope ruk struwelinge beleef oor Zuma se voortgesette leierskap. Die stryery het gebeur nadat Zuma die kabinet geskommel het en minister van finansies, Pravin Gordhan, en sy adjunk Mcebisi Jonas, aan die einde van Maart afgedank het.

Die National Health Education & Allied Workers Union (Nehawu) en die Communications Workers Union (CWU) het dit baie duidelik gemaak dat hulle nie wil hê Zuma moet die skare toespreek nie.

Cosatu en die ANC hou egter vol Zuma sal die skare by die hooffunksie van die Werkersdagvieringe in Bloemfontein toespreek. Cosatu het gesê Zuma sal die werkers toespreek in sy kapasiteit as leier van die ANC.

Dis nog nie duidelik hoe Nehawu en CWU sal reageer nie.

Cosatu het Sondag in ʼn verklaring gewaarsku: “Ons moet hard werk om ons verskille op ʼn volwasse manier te hanteer en nie in ʼn maalkolk van politieke stamgebondenheid ingesuig word nie. Ons moet versigtig wees om nie ʼn hele party of alliansie weg te gooi of af te maak as verrot weens een komponent waarvan ons nie hou nie.”

Zizi Kodwa, woordvoerder van die ANC, het gesê: “Op hierdie Werkersdag en hierna, moet en sal die revolusionêre alliansie voortgaan en alles in sy vermoë doen om die uitdagings binne die alliansie aan te spreek.”

Maimane by Werkersdagvieringe in Kaapstad

$
0
0

DA-Werkersdagvieringe in Kaapstad (Foto: DA, Twitter)

Mmusi Maimane, leier van die Demokratiese Alliansie, sal Maandagoggend ʼn toespraak lewer by sy party se Werkersdagvieringe by die Blue Downs-stadion in Kaapstad.

“Suid-Afrika vier vanjaar die 23ste herdenking van Werkersdag, ʼn dag waar ons die lang stryd, om ʼn kultuur van mense- en werkersregte te vestig en om regverdige indiensnemingstandaarde in te stel wat nou deur artikel 23 van ons Grondwet beskerm word, vier,” het die DA in ʼn verklaring gesê.

“Ons vier en eer ook die miljoene werkende Suid-Afrikaners wat daagliks help om hierdie land te bou – die ruggraat van ons ekonomie. Werkers wat dienste verskaf, ons kinders opvoed, infrastruktuur bou, produkte vervaardig, en na ons omsien in hospitale. Sonder hulle, kan ons land nie vorentoe beweeg nie.”

Bonginkosi Madikizela, waarnemende provinsiale leier van die DA, sal by Maimane aansluit.


Nuwe vakbondfederasie hou optog in Durban

$
0
0

Zwelinzima Vavi, algemene sekretaris van Saftu

Die nuwe vakbondfederasie, die South African Federation of Trade Unions (Saftu) en sy hooffiliaal, die National Union of Metal Workers (Numsa) sal Maandag tydens Werkersdag ʼn optog hou in Durban.

Numsa het gesê sy lede vergader by Curries Fountain-sportgronde voordat hulle na die stadsaal sal beweeg. ʼn Gedetailleerde lys van politieke en sosio-ekonomiese eise, wat direk verband hou met die ekonomiese krisis wat die meerderheid werkers in die gesig staar, sal oorhandig word.

“Ons betoog onder Fidel Castro se slagspreuk, ‘Groot probleme vereis groot oplossings’,” het Phakamile Hlubi, woordvoerder van Numsa, in ʼn verklaring gesê. “Ons memorandum verklaar oorlog op twee dekades van neo-liberale imperialistiese ekonomiese beleide wat verantwoordelik is vir die krisis van werkloosheid, armoede en ongelykheid. Dit het ons ekonomie afgebreek en ons gemeenskappe verwoes.”

Numsa het gesê hy vier Werkersdag saam met Saftu. “Dit is gepas dat ons Werkersdag saam met ons onafhanklike, militante werkersvakbondfederasie, Saftu, vier.”

Hanekom in die sop oor sy 2019-stem

$
0
0

Derek Hanekom (Foto: Rama, Wikimedia Commons)

Die ANC-jeugliga het Maandag versoek dat die minister van toerisme, Derek Hanekom, in die openbaar om verskoning moet vra of moet bedank oor sy uitlating dat hy nie seker is vir wie hy tydens die volgende verkiesing sal stem nie.

Hanekom, wat aan die einde van Maart afgedank is tydens die omstrede middernagtelike kabinetskommeling, het Donderdag gesê hy is nie seker of hy in 2019 tydens die algemene verkiesing vir die ANC gaan stem nie.

Hanekom het as ʼn ANC-LP aangebly, ondanks vier van sy afgedankte kabinetskollegas wat uit die parlement bedank het. Hy is ook ʼn lid van die nasionale uitvoerende raad van die ANC en hoof van die nasionale dissiplinêre komitee.

Mlondi Mkhize, woordvoerder van die ANC-jeugliga, het gesê die jeugliga hoop dat die partyleierskap die saak vinnig sal hanteer. Die jeugliga meen die ANC-leierskap het tot dusver die saak geïgnoreer.

“Ons versoek die ANC-leierskap om nie comrade Derek ongestraf te laat nie. Dit is belangrik dat ons almal gedissiplineerd bly in die organisasie,” het Mkhize gesê. “Ons is uiters besorg, want comrade Derek is ʼn NUK-lid van die ANC en hoof van die nasionale dissiplinêre komitee. Vir iemand met sulke verantwoordelikhede, behoort hy van beter te weet.”

Die ANC-jeugliga versoek die ANC-leierskap om vinnig op te tree.

Mkhize het gesê Hanekom se kommentaar blyk dat sy stem vir die ANC afhanklik is van wie in Desember tydens die ANC se verkiesingskonferensie as president van die ANC aangewys word.

“Ons veroordeel hierdie idee ten sterkste. Daar kan nooit ʼn verskoning wees vir só uitlating nie. Die ANC is nie minder belangrik as die individue wat dit lei nie. Ons versoek die ANC-leierskap om dadelik ʼn openbare verskoning te eis, of comrade Derek moet uit die NUK en as hoof van die nasionale dissiplinêre komitee bedank. As die ANC-jeugliga is ons bekommerd dat sy uitlatings verkeerde idees in die organisasie gaan kweek.”

Hanekom het in November verlede jaar tevergeefs probeer om ʼn mosie van wantroue teen ANC-president Jacob Zuma in te stel tydens ʼn NUK-vergadering in Pretoria.

Veiligheidswag geskiet toe hy rowers wou fnuik

$
0
0

Argieffoto

Die polisie in die Oos-Kaap ondersoek ʼn saak van poging tot moord toe gewapende mans Maandagoggend vroeg ʼn Cash and Carry-winkel in Port Elizabeth wou beroof.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê Fidelity-veiligheidswagte het omstreeks 05:00 by die perseel in Algoapark aangekom toe hulle die gewapende rowers betrap het.

“Een van die veiligheidswagte het uit hul voertuig geklim en die winkel betree. Net toe hy weer na die voertuig wou terugkeer, het ʼn gewapende rower hom gekonfronteer,” het sy gesê. “Die rower het op die veiligheidswag geskiet, en hy het teruggeskiet. ʼn Groep van meer as vyf rowers en veiligheidswagte het daarna op mekaar geskiet. Die rowers het te voet gevlug.”

Een van die veiligheidswagte is beseer. Hy is na ʼn hospitaal geneem.

Die polisie vermoed een van die verdagtes is moontlik ook beseer.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Pasgebore babaseuntjie in plastieksak gevind

$
0
0

Argieffoto

ʼn Pasgebore babaseuntjie is Maandagoggend in ʼn plastieksak in Berea, Johannesburg, gevind. Hy was in ʼn kritieke toestand.

“Paramedici van ER24 het op die toneel in Joe Slovo-rylaan afgekom, waar provinsiale nooddienste reeds besig was om die kind te ondersoek,” het Russel Meiring, woordvoerder van ER24, gesê. Die seuntjie was in ʼn kritieke toestand. “Hy is na Johannesburg-hospitaal geneem vir dringende behandeling.”

Plaaslike owerhede stel ondersoek in.

Coligny-moordsaak: Dringende hofaansoek aangehoor

$
0
0

Betogers buite die Coligny-landdroshof (28 April 2017). Foto: Verskaf

Die twee mans wat tereg staan op ʼn aanklag van moord in verband met die dood van ʼn 12-jarige seun in Coligny in Noordwes, sal Maandagmiddag ʼn dringende aansoek in die Noordwes-hooggeregshof bring.

Pieter Doorewaard en Phillip Schutte het Vrydag in die Coligny-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en poging tot moord. Die saak is tot 9 Mei uitgestel wanneer die twee beskuldigdes se borgtogaansoek aangehoor sou word.

Frank Lesenyego, die streekswoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het aan Maroela Media gesê Doorewaard en Schutte se regspan sal vandag ʼn dringende aansoek bring om te versoek dat hul borgtogaansoek reeds môre aangehoor word. Die aansoek word om 16:00 aangehoor.

Maroela Media het vroeër berig Doorewaard en Schutte het na bewering twee seuns betrap dat hulle sonneblomme uit boere se landerye gesteel het. Hulle het glo vir die seuns gesê om agter op hul bakkie te klim sodat die mans hulle polisiestasie toe kon vat.

Pieter Karsten, die werkgewer van die twee mans, het in ʼn onderhoud met RSG se Monitor en Spektrum beweer een seun het weggehardloop en die ander seun het agter op die bakkie geklim. Volgens Karsten het die seun van die bakkie afgespring toe die voertuig om ʼn draai spoed verminder het. Hy het ernstige beserings opgedoen en is op 20 April oorlede.

African News Agency (ANA) het intussen die seun as Matlhomola Jonas Mosweu geïdentifiseer. Volgens ANA het Matlhomola se pa, Sakkie Dingake, gesê die familie het eers Sondag van Matlhomola se dood uitgevind. Hulle het al die tyd gedink dat hy by vriende op ʼn plaas in Putfontein kuier. Dingake het ook ontken dat sy seun sonneblomme sou steel.

Cosatu kanselleer Werkersdag-toesprake

$
0
0

Pres. Jacob Zuma tydens die Vryheidsdagvieringe op 27 April 2017 in KwaZulu-Natal (Foto: GCIS)

Die vakbondfederasie Cosatu het alle toesprake by sy hooffunksie in Bloemfontein om Werkersdag te vier, gekanselleer.

Pres. Jacob Zuma sou Maandagmiddag die skare toespreek, ondanks minstens drie Cosatu-filiale wat dit duidelik gemaak het dat hulle nie wil hê die president moet praat nie, aangesien dit teenstrydig sal wees met die vakbondfederasie se versoek dat hy moet bedank.

EWN berig Zuma het te midde van chaos by die vieringe opgedaag en lede van Cosatu het hom uitgejou. Volgens EWN is Sdumo Dlamini, president van Cosatu, en Naledi Pandor, lid van die nasionale uitvoerende raad van die ANC ook uitgejou.

Pro- en anti-Zuma-groepe het met mekaar begin baklei en die vakbondfederasie het besluit om die toesprake te kanselleer.

Coligny-seun se nek het gebreek, sê pa

$
0
0

Vragmotors wat deur betogers in Coligny in Noordwes aan die brand gesteek is (25 April 2017). Foto: Facebook via Marlene Roux

ʼn 12-jarige seun wat van ʼn bewegende voertuig afgespring het toe hy glo daarvan beskuldig is dat hy sonneblomme gesteel het, het gesterf weens ʼn gebreekte nek, het sy pa Maandag gesê.

“Sy nek was gebreek. Hy het ʼn sny op sy ken en agter sy nek,” het Sakkie Dingake, die seun se pa, gesê. Hy het sy seun, Matlhomola Jonas Mosweu, Sondag by die regeringlykshuis in Lichtenburg uitgeken.

Maroela Media het vroeër berig die kind se dood het aanleiding gegee tot die gewelddadige betogings in Coligny waartydens minstens drie vragmotors en drie huise afgebrand en talle winkels geplunder is.

Pieter Doorewaard en Phillip Schutte, twee boere van die gebied, is in hegtenis geneem in verband met die kind se dood. Die mans het na bewering twee seuns betrap dat hulle sonneblomme uit boere se landerye gesteel het. Hulle het glo vir die seuns gesê om agter op hul bakkie te klim sodat die mans hulle polisiestasie toe kon vat. Een seun het weggehardloop en Matlhomola het agter op die bakkie geklim. Hy het van die bakkie afgespring toe die voertuig om ʼn draai spoed verminder het.

Dingake (45) van Scotland- informele nedersetting naby Tlhabologang, het gesê sy seun is laas op 18 April gesien toe sy ouma hom dorp toe gestuur het om paraffien te gaan koop. “Hy het teruggekeer en is toe weer daar weg. Dis die laaste keer wat ons hom gesien het. Ons het die heeltyd gedink hy kuier by maats op ʼn plaas in Putfontein,” het Dingake gesê. “Hy kuier gereeld daar tydens skoolvakansies.”

Hy het gesê die gesin het Sondag uitgevind Matlhomola is dood.

Dingake se vrou, Agnes Mosweu (43) het gesê sy het haar seun se vriende gevra of hy op die Putfontein-plaas is, maar hulle het gesê hy is nie daar nie. “Ek was besorg. Ek was by die kerk toe ek ʼn oproep gekry het om na die polisiestasie toe te kom.”

Dingake het gesê die laerskoolhoof het ʼn foto gebring en wou weet of dit sy kind is. Hy is daarna na die regeringlykshuis geneem om hom uit te ken.

“My hart is stukkend. Diegene wat dit aan my seun gedoen het, moet dieselfde oorkom. Hulle het my seun doodgemaak, hulle moet ook doodgemaak word,” het hy gesê.

Hy ontken bewerings dat Matlhomola sonneblomme gesteel het. “Hy het nie sonneblomme gesteel nie. Hy eet nie eers sonneblomsade nie. Waarom sal hy sonneblomme steel?”

Die begrafnisreëlings is reeds getref en Matlhomola sal Saterdag in Coligny begrawe word.

Matlhomola was ʼn graad 6-leerling by ʼn plaasskool in Coligny. Hy is die derde van sewe kinders.

Maroela Media het vroeër berig Doorewaard en Schutte se regspan sal vandag ʼn dringende aansoek bring om te versoek dat hul borgtogaansoek reeds môre aangehoor word. Dit was aanvanklik geskeduleer vir 9 Mei. Die aansoek word om 16:00 aangehoor.

Inwoners van die informele nedersetting beweer een van die beskuldigdes het vroeër ook twee persone doodgemaak. “Twee persone is al op sy plaas dood gevind. Hy het glo toevallig op hulle afgekom. As daar nie ooggetuies was in die saak van Matlhomola Mosweu nie, sou hy sy liggaam in die veld gestort het, en dan dae later die polisie gekontak het om te sê hy het iemand dood aangetref op sy plaas.”

Lees alle vorige berigte oor Coligny op Maroela Media.


[Video] Oud-krieketspeler geskok oor SA-Zim-grens

$
0
0

Pat Symcox (skermgreep uit die video)

Pat Symcox, gewese draaibouler van die nasionale krieketspan, het ʼn video op sosiale media gelaai oor die toestand van die grens tussen Suid-Afrika en Zimbabwe.

“Vandag het ek ʼn nasionale skande gesien,” het Symcox geskryf toe hy die video Sondagaand op sy Facebook-blad gelaai het.

Hy verduidelik in die video hy is op die grens tussen Suid-Afrika en Zimbabwe, maar daar is nie enige heining om onwettige immigrante te keer nie. Dit wil voorkom of die heining platgetrap is. “Hier is die doringdraad, maar meeste daarvan is gesteel,” verduidelik hy. “Hoe gaan mens sigaret- of motordiefstal polisieer? Wie gaan daarvoor betaal? Hoe sal dit werk? Dis mal.”

Gauteng-aansoeke maak oop vir 2018-skooljaar

$
0
0
skool-21.jpeg

Argieffoto

Aanlynaansoeke vir die 2018- akademiese jaar in Gauteng vir leerlinge in graad 1 en graad 8 maak amptelik op Dinsdag, 2 Mei 2017 oop.

Aansoeke kan Dinsdag vanaf 08:00 ingedien word en die aansoeke sluit op 12 Junie 2017 om middernag.

Ouers kan die volgende webwerf besoek om hul kinders vir graad 1 of graad 8 in te skryf: www.gdeadmissions.gov.za

“Ons neem kennis dat sommige ouers reeds voor die geskeduleerde datum aansoek gedoen het, maar dié aansoeke is ongeldig,” het Oupa Bodibe, waarnemende hoof van kommunikasie van die Gautengse departement van onderwys, in ʼn verklaring gesê. “Die betrokke ouers moet weer op 2 Mei om 08:00 inteken en die aansoeke indien.”

Inskrywings vir leerlinge in graad 2 – 7 en graad 9 – 11 het reeds op 18 April oopgemaak.

Werkersdag: Nie veel om te vier nie, sê Maimane

$
0
0

Mmusi Maimane, leier van die DA, tydens die Werkersdagvieringe in Kaapstad (1 Mei 2017) Foto: DA, Twitter

Mmusi Maimane, leier van die Demokratiese Alliansie, het Maandag gesê werknemers in Suid-Afrika het nie veel om te vier nie, weens hoë vlakke van werkloosheid en pres. Jacob Zuma se regering wat nie meer vir hulle werk nie.

“Drie-en-twintig-jaar later het die tyd aangebreek om die mag weg te neem van ʼn regering wat nie meer vir ons werk nie. Vandag voel dit of daar nie veel is om te vier nie,” het Maimane gesê. “Ons het die vryheid om te werk, maar 9 miljoen van ons susters en broers, pa’s en ma’s, seuns en dogters, het nie werk nie.”

Hy het sy toespraak gelewer by die DA se Werkersdagvieringe by die Blue Downs-stadion in Kaapstad. Bonginkosi Madikizela, waarnemende provinsiale leier van die DA, het by hom aangesluit.

Hy het gesê miljoene sal hul werk verloor as Zuma sy wil kry. Hy het gesê Zuma het die regering in ʼn “misdaadsindikaat” omskep en die nasionale tesourie is sy persoonlike “spaarvarkie”.

“Jacob Zuma se leuenagtige, stelende, bedrieglike regering is verkeerd. Dit hou nie by die regverdige reëls van die spel nie. Dit lei Suid-Afrika in die verkeerde rigting. Dit breek ons ekonomie af en verhinder ons vermoë om werk te skep vir miljoene mense,” het Maimane gesê.

“Jacob Zuma praat oor radikale ekonomiese transformasie, maar wat hy bedoel is radikale verryking van ʼn klein elite, insluitend sy vriende, die Guptas. Ons ekonomie het nie Zuma se radikale transformasie nodig nie. Dit het ʼn algehele modernisering nodig, want ons ou ekonomiese praktyke werk eenvoudig nie.”

Maimane het gesê die land het diegene, sonder kapitaal, nodig om weer die kapitaalmark te betree en dat klein ondernemings die middelpunt van die ekonomie moet wees en dat hulle deur ʼn bekwame staat ondersteun moet word.

Hy het gesê die mense is nie die probleem nie, maar die regering maak dit baie moeilik vir mense om suksesvol te wees.

“Wanneer jy ʼn regering het wat vir almal werk, kry jy ʼn ekonomie waar almal werk. Wanneer die regering vir almal werk, kan jongmense skool verlaat met die vaardighede wat hulle nodig het.

“Wanneer die regering vir almal werk, word die water-, elektrisiteit-, vervoer- en kommunikasie-infrastruktuur gebou wat nodig is vir ondernemings om te groei en suksesvol te wees. Dan word die beste, slimste, mees bekwame en ervare mense in die kabinet aangestel.”

Werkersdag: Uitjouery beplan om Zuma te verneder, sê Magashule

$
0
0

Lede van Cosatu tydens Werkersdagvieringe (1 Mei 2017) Foto: Cosatu, Twitter

Ace Magashule, voorsitter van die ANC in die Vrystaat en premier van die provinsie, het Maandag gesê die uitjouery van pres. Jacob Zuma en die gevolglike ontwrigting van Cosatu se Werkersdagvieringe in Bloemfontein was beplan om die staatshoof te verneder.

Maroela Media het vroeër berig alle toesprake is gekanselleer toe Zuma by Loch Logan opgedaag het voor ʼn skare wat “Zuma must fall” gedreunsing het. ʼn Tweede groep het pro-Zuma-krete geskree.

“Dit was vooraf beplan om die leierskap te verneder. Daar is mense wat dit beplan het. Ek het gehoor daar is mense wat hierdie byeenkoms wou ontwrig wat nie eers van hierdie provinsie is nie. Ons het ons video’s geneem, ons sal dit analiseer. Ons vergader môre met alliansie-beamptes,” het Magashule gesê.

“Ek weet dit was ʼn nasionale byeenkoms, maar ek sê net mense in hierdie provinsie is gedissiplineerd. Dit is ʼn vernedering, maar ons het vir hierdie vryheid baklei. Ons het geveg vir werkers se regte.”

Magashule het ʼn boodskap vir leiers in die drieparty-alliansie ANC, SAKP en Cosatu: “Diegene wat ons wil bestuur en na die media toe gaan, asof hulle nie interne konflik het nie, vir hulle sê ons julle veroorsaak ʼn gemors vir hierdie land.”

Hy hou vol die “massas” is lief vir Zuma.

“Die mense ondersteun steeds Jacob Zuma. Miljoene van ons mense het vir die ANC gestem. Kyk waar Zuma gaan en kyk hoe word hy ondersteun. Dit gaan nie oor Zuma nie. Die vyande van die ANC weet hulle moet Zuma aanval. Hulle het [vroeër] Mandela en Mbeki aangeval. Nou val hulle Zuma aan. Hulle sal enigiemand aanval wat die president van Suid-Afrika word – om die ANC te verswak,” het hy gesê.

Zuma se lyfwagte het Maandag vinnig met hom weggery nadat dit duidelik was dat talle vakbondlede hom nie sou toelaat om te praat nie. In een stadium het die polisie voor ʼn grensdraad gaan staan tussen die skare en die markiestent waar Zuma gesit het, toe die mense teen die staalheining begin druk het.

Zuma het afgehaal gelyk toe hy tussen Sdumo Dlamini, president van Cosatu, en Blade Nzimande, sekretaris-generaal van die SAKP, gesit het. Die president het toegekyk hoe die twee groepe met mekaar baklei het. Hy het die byeenkoms kort daarna verlaat.

Coligny-moordsaak: Hof lewer uitspraak oor dringende aansoek

$
0
0

Betogers voor die Coligny-landdroshof in Noordwes (28 April 2017) Foto: @IanCameron23, Twitter

Die Noordwes-hooggeregshof het Maandagmiddag uitspraak gelewer oor ʼn dringende aansoek van die twee mans wat tereg staan op ʼn aanklag van moord in verband met die dood van ʼn 12-jarige seun in Coligny in Noordwes.

Frank Lesenyego, die streekswoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het aan Maroela Media gesê die hof het die twee mans se aansoek, dat hul borgtogaansoek reeds môre aangehoor word, goedgekeur. Die aansoek is om 16:00 aangehoor.

Pieter Doorewaard en Phillip Schutte se borgtogaansoek is aanvanklik vir 9 Mei geskeduleer.

Doorewaard en Schutte het Vrydag in die Coligny-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en poging tot moord.

Die mans het na bewering twee seuns betrap dat hulle sonneblomme uit boere se landerye gesteel het. Hulle het glo vir die seuns gesê om agter op hul bakkie te klim sodat die mans hulle polisiestasie toe kon vat. Een seun het weggehardloop en die ander seun, Matlhomola Jonas Mosweu, het agter op die bakkie geklim. Hy het glo egter van die bakkie afgespring toe die voertuig om ʼn draai spoed verminder het.

Matlhomola het sy nek gebreek en is op 20 April oorlede.

Sy pa, Sakkie Dingake, het vroeër gesê die familie het eers Sondag van Matlhomola se dood uitgevind. Hulle het al die tyd gedink hy kuier by vriende op ʼn plaas in Putfontein. Dingake het ontken dat sy seun sonneblomme sou steel.

Maroela Media het vroeër berig die kind se dood het aanleiding gegee tot die gewelddadige betogings in Coligny waartydens minstens drie vragmotors en drie huise afgebrand en talle winkels geplunder is.

Lees alle vorige berigte oor Coligny op Maroela Media.

Viewing all 56621 articles
Browse latest View live