Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all 56621 articles
Browse latest View live

Bokspeler moes rowers glo rondry

$
0
0

Rohan (links) en Runan. Foto: Facebook

Die Leeus se Springboksenter Rohan Janse van Rensburg is glo saam met sy broer en ʼn vriendin deur rowers aangehou voor hy hulle moes rondry.

Runan Venter, Janse van Rensburg se broer, het op Instagram van die angswekkende voorval vertel. Hy het gesê hy, Janse van Rensburg en die vriendin het Donderdagaand gelê en fliek kyk toe hy die honde hoor blaf en grom het.

“Ek het buitentoe geloop om te kyk wat aangaan, toe kom drie swart mans met gewere op my afgehardloop en wil my skiet. Hulle bind my en haar [die vriendin] toe vas op die grond, sit die geweer teen ons koppe en sê as ons ʼn geluid maak, skiet hulle my broer.”

Volgens Venter moes Janse van Rensburg hierna met die drie rowers rondry en hulle in ʼn township gaan aflaai met die goedere wat hulle gesteel het. Venter en die vriendin was intussen ure lank vasgebind.

Die foto wat Runan op Instagram gedeel het.

“Ure later het hy veilig by ons twee aangekom en ons prys God dat Hy letterlik al sy engele om ons gehad het in hierdie tyd. Wees dankbaar vir wat jy in jou lewe het – dis sekondes, dan verander jou lewe vir altyd,” het Venter gesê.

Maroela Media kon nie onmiddellik vasstel waar die voorval plaasgevind het nie.

Venter het kort ná die voorval ʼn foto van hom, Janse van Rensburg en die vriendin gedeel en gesê die foto is omstreeks 04:00 Vrydag geneem toe hulle drie vir die eerste keer weer veilig saam was.

Janse van Rensburg sterk tans aan ná ʼn operasie nadat hy ligamente in sy knie geskeur het. Hy sal na verwagting vir die volgende drie maande buite aksie wees.


Waarskuwing ná talle haaie by Plett opgemerk is

$
0
0

Foto: Ewald Stander/NSRI

Die publiek word gemaan om versigtig te wees as hulle strande aan die Suid-Kaapse kus besoek nadat ’n groot aantal grootwithaaie by Plettenbergbaai opgemerk is.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het die publiek gemaan om veral versigtig te wees aan die Tuinroete se kus, tussen Nature’s Valley en Mosselbaai, en spesifiek die kusgebied by Plettenbergbaai.

Volgens die NSRI is die toename in haaie normaal vir dié tyd van die jaar aangesien hulle agter prooi soos vis en robbe aan is wat natuurlik hier voorkom.

Die NSRI het mense versoek om nie te swem of aan enige watersport deel te neem waar voëls, dolfyne en robbe vreet, waar visgevang word of waar walvisse gestrand is nie. Mense is ook versoek om nie te diep in die see, in riviermonde of saans te swem nie.

Enige persoon wat in ʼn noodgeval verkeer, kan 112 of 082 990 5975 vir noodgevalle spesifiek in Plettenbergbaai skakel.

Nog ʼn plaasaanval in die Vrystaat

$
0
0

Argieffoto: Nico Strydom

ʼn Boer is verskeie kere met ʼn mes gesteek tydens die vierde plaasaanval in net meer as ʼn week in die Vrystaat.

Sers. Martin Xuma, woordvoerder van die polisie, het gesê die 52-jarige boer is omstreeks 06:30 Saterdag op sy plaas in die Tweespruit-omgewing aangeval.

“Hy het die honde hoor blaf en is na buite om te sien wat aangaan. Hy is na sy kantoor wat losstaande van die huis is. Die kantoor was nie gesluit nie en hy het ʼn man in die kantoor aangetref.”

Volgens Xuma het die man, wat nie bekend is aan die slagoffer nie, ʼn mes uitgepluk. Die boer is in die bors en twee keer in die rug gesteek. Die aanvallers het hierna met die boer se Land Rover gevlug. Hy het egter naby die toneel teen ʼn boom vasgery en verder te voet gevlug.

Xuma het gesê die boer sterk in ʼn stabiele toestand in ʼn hospitaal aan. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die polisie ondersoek sake van aanranding met die doel om ernstig te beseer en motordiefstal.

Enigiemand met inligting oor die voorval kan die ondersoekbeampte by 082 466 7899 of die Tweespruit-polisiestasie by 051 963 9301 bel.

Die jongste aanval volg ná twee plaasaanvalle op 20 April waartydens drie mense vermoor is. Pieter van der Berg (49) en sy huishulp Tsietso Matsabisa (57) is op ʼn plaas in die Wepener-distrik vermoor. Johannes du Randt, ʼn boer van Ladybrand, is dieselfde dag wreed op sy plaas vermoor.
ʼn 87-jarige boer van die Parys-distrik is op 19 Maart aangeval en met ʼn hamer geslaan. Hy is later die week aan sy beserings dood.

Beloning uitgeloof ná seun se dood

$
0
0

Anita by haar seun Ruan.

Dit is al langer as ʼn maand en Anita Greyvenstein soek steeds antwoorde oor wat in die vroeë oggendure van 19 Maart met haar 18-jarige seun gebeur het.

Ruan Viljoen se liggaam is in die vroeë oggendure ʼn paar honderd meter van sy motor langs die N14-snelweg in Centurion gevind. Volgens Greyvenstein het Ruan vermoedelik beheer oor sy motor verloor waarna die motor oor die middelman en die teenoorgestelde bane is voor dit aan die ander kant van die pad teen ʼn boom tot stilstand gekom het.

Ruan het sy selfoon gevat, die motor gesluit en was vermoedelik op pad na ʼn nabygeleë vulstasie om sy ouers te bel toe hy deur ʼn motor doodgery is. Ruan se nek is op twee plekke en sy rug op drie plekke gebreek. Die linkerkant van sy liggaam is vergruis.

Greyvenstein en haar man, Sergei, doen intussen alles in hul vermoë om antwoorde te kry oor wat gebeur het. “Die motor wat hom getref het, moet vir seker baie skade opgedoen het. Ruan het ook ʼn erge kopbesering opgedoen, so ons dink hy het die motor se windskerm getref.”

Motoronderdele wat naby Ruan se liggaam gevind is, word intussen ontleed. Volgens Greyvenstein het Volkswagen aan hulle bevestig die buffer wat gevind is, is dié van ʼn silwer Golf 6. Hulle wil intussen nie die moontlikheid uitskakel dat die onderdele moontlik al langs die pad gelê het voor Ruan se dood nie.

Ruan (Foto: Facebook)

Sanral het intussen ook beeldmateriaal aan die gesin verskaf van voertuie wat naby die tyd van die ongeluk deur nabygeleë tolhekke gery het. Hulle wil deur die beeldmateriaal gaan in die hoop om ’n voertuig te sien wat aan die beskrywing voldoen.

Daar is ook ʼn hofbevel bekom om selfooninligting van diensverskaffers te kry van mense wat in daardie tyd naby selfoontorings naby die toneel was. Volgens Greyvenstein poog hulle ook nou om inligting te kry van maatskappye wat opsporingstelsels verskaf.

Volgens Greyvenstein is daar blou strepe op die buffer gevind en wag hulle nou op forensiese uitslae om te probeer vasstel of dit van Ruan se denim afkomstig is. Daar word ook gekyk of daar vingerafdrukke is op enige motoronderdele wat op die toneel gevind is.

Greyvenstein het gesê hulle sal ʼn beloning uitloof vir enigiemand wat hulle met inligting oor die voorval kan bystaan. Inligting sal vertroulik hanteer word en kan anoniem verskaf word. Bel Greyvenstein by 083 702 6369.

Ruan het verlede jaar matriek aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria behaal.

Raaisels oor Ötzi en ‘Adidas-dame’ ontrafel

$
0
0

Foto: Die skoongemaakte “Adidas”-skoene. Bron: Center of Cultural Heritage of Mongolia

Die raaisels oor die oorsake van dood van twee antieke figure wat om verskillende redes opslae gemaak het, is kort ná mekaar ontrafel.

Ötzi die ysman, wie se veryste oorblyfsels hoog in die Alpe gevind is, het 5 300 jaar gelede in die bronstydperk geleef. Sy oorskot en kleredrag is vanuit alle hoeke bestudeer, maar die oorsaak van dood het wetenskaplikes bly ontwyk.

’n Teorie dat hy dood is aan ’n oppervlakkige wond aan sy skouer wat deur ’n pyl met ʼn klippunt veroorsaak is, is nou bewys as nie die oorsaak van dood nie. Die wond kon nie meer as ’n koppie bloed opgelewer het nie. Letsels op sy skedel was ook nie dodelik nie, en is waarskynlik deur valle veroorsaak. Daar is intussen vasgestel hy het verkluim.

Die navorsing is deur prof. Frank Rühli, ’n antropoloog van die Universiteit van Zürich, gelei.

Intussen het navorsers ook vasgestel dat die vrou wat 1 100 jaar gelede in die Altai-berge in Mongolië gesterf het, dood is ná sy ernstige wonde aan haar gesigbene opgedoen het. Dit is onbekend of sy geval het of aangeval is.

Die vonds van haar erg verweerde mummie was opspraakwekkend weens die skoeisel wat sy aangehad het, en wat verbasend na ’n paar hedendaagse Adidas-skoene gelyk het. Noudat die skoene skoongemaak is en die kleure helderder vertoon, is die ooreenkomste met die Adidas-tekkies nog sterker.

Die vonds het ’n jaar gelede wêreldwyd opslae gemaak en heelwat samesweringsteorieë is afgestof en in die sosiale media gepubliseer.

Lees meer in Science News

Lees meer in Siberian Times

Meisie (7) verdrink amper

$
0
0

Foto: Rescue Care

ʼn Sewejarige meisie is in die hospitaal nadat sy Saterdag amper in die swembad van ʼn hotel in Umhlanga in KwaZulu-Natal verdrink het.

Ceron Lennox, woordvoerder van Rescue Care, het gesê met paramedici se aankoms op die toneel was die meisie in ʼn kritieke toestand. ʼn Dokter wat op die toneel was, het noodbehandeling op die meisie toegepas nadat sy uit die swembad gehaal is.

Volgens Lennox is die meisie aan ʼn ventilator gekoppel en is daar weens die aard van haar beserings besluit om ʼn helikopter te ontbied om haar na ʼn hospitaal te haas. Sy is na die Durban-hospitaal geneem vir verdere mediese sorg.

Die presiese besonderhede oor hoe die meisie in die swembad beland het en die voorafgaande gebeure word deur die polisie ondersoek.

Fica: ‘Zuma se geldsake moet eerste ondersoek word’

$
0
0

Pres. Jacob Zuma tydens Donderdag se Vryheidsdagvieringe. Foto: Kopano Tlape/GCIS

“Noudat pres. Zuma die Wysigingswetsontwerp op die Finansiële Intelligensiesentrum (Fica) onderteken het, moet sy geldsake eerste ondersoek word.”

Só meen dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus, nadat Zuma die wet bekragtig het. “Die ondertekening is nie goeie nuus vir Zuma en sy vriende wat deel is van die staatskaping nie. Dit is duidelik dat Zuma alles in sy vermoë gedoen het om die ondertekening so lank moontlik te vertraag en hy moes weereens eers deur ʼn hofaansoek gedreig word.”

Die wet is ʼn poging om geldwassery te bekamp en sal banke verplig om die finansiële sake van prominente mense te fynkam. Die wet maak onder meer voorsiening vir soektogte sonder ʼn lasbrief.

“Hierdie Fica-wysingswetsontwerp het ten doel om toonaangewende politici en mense se geldsake te laat ondersoek om sodoende verdagte transaksies, geldwassery en die finansiering van terrorisme te beveg.

“Die Vryheidsfront Plus verwelkom die ondertekening en alle kabinetslede se geldsake behoort ook ondersoek te word sodat belastingbetalers verseker kan wees staatskaping word vasgevat,” het Groenewald gesê.

Die DA het intussen gesê daar is ʼn risiko dat Malusi Gigaba, minister van finansies, die inwerkingstelling van die Fica-wet kan vertraag.

David Maynier, woordvoerder van die DA, het gesê die wet word van krag op die datum soos deur die minister besluit en in die Staatskoerant afgekondig word.

Maynier het gesê daar is ook kommer oor of die Finansiële Intelligensiesentrum, wat ʼn begroting van R289 miljoen vir 2017-’18 het, die nodige hulpbronne het om die wysigingswetsontwerp doeltreffend in werking te kan stel.

“Die minister sal sonder twyfel onder politieke druk verkeer om die toepassing van die wet te vertraag om sy politieke meesters, naamlik die Guptas, te beskerm. Die minister moet dus daadwerklik optree en duidelike tydsraamwerke uiteensit vir die inwerkingstelling van die wet.”

Veiligheidswag tydens rooftog doodgeskiet

$
0
0

Argieffoto: Kent Williamson

ʼn Veiligheidswag is Saterdagoggend in Delft in Kaapstad tydens ʼn rooftog doodgeskiet.

Lt.kol. Andre Traut, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn groep van ses gewapende rowers het omstreeks 08:00 op ʼn winkel toegeslaan.

“Een veiligheidswag is doodgeskiet en ʼn ander wag is in die been gewond. Hy is in die hospitaal opgeneem vir behandeling.”

Volgens Traut het die verdagtes met ʼn onbekende bedrag kontant gevlug en is niemand nog in hegtenis geneem nie. “Die verdagtes se wegkommotor, ʼn ligte afleweringsvoertuig, is later in Philippi gevind.”

Traut het gesê geen verdere besonderhede kan in dié stadium bekend gemaak word nie.


Man sien hoe broer verdrink

$
0
0

Foto: Netcare 911

ʼn Man het Saterdag in die see by Blue Lagoon-strand in Durban, KwaZulu-Natal, verdrink.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê twee broers van Pietermaritzburg het in die see geswem toe een van hulle in die moeilikheid beland het.

Volgens Botha is die man reeds deur lewensredders uit die water gehaal met paramedici se aankoms op die toneel. Paramedici kon niks meer vir hom doen nie en hy is op die toneel dood verklaar.

ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

Tiener deur haai aangeval by Plettenbergbaai

$
0
0

Argieffoto van ‘n witdoodshaai ter voorstelling (Foto: Terry Goss, Wikimedia Commons)

ʼn Tiener wat besig was om branderplank te ry, is Saterdagmiddag deur ʼn haai gebyt, het die Nasionale Seereddingsinstituut gesê.

Die span van NSRI Plettenbergbaai is omstreeks 17:00 na die toneel by The Waves, ʼn gewilde branderplankrygebied by Keurboomstrand, ontbied, het Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, gesê.

“Die span is dadelik na die toneel ontplooi, saam met die AMS/EMS Skymed-reddingshelikopter en Med-Life-ambulansdiens.

“ʼn 14-jarige tiener van Port Elizabeth was reeds op die strand en het bytmerke op sy regterkuit gehad nadat die haai hom aangeval het,” het Lambinon verduidelik.

Paramedici het hom op die toneel behandel en hy is in ʼn stabiele toestand na die hospitaal geneem. Hy sterk aan in die hospitaal in ʼn bevredigende toestand nadat die bytplekke behandel is.

“Die tiener was op sy branderplank saam met twee ander branderplankryers. Hy het op die agterste golf omgedraai om met die golf uit te ry, toe hy ʼn vin in die water opgemerk het. Hy het ʼn stamp gevoel en toe ʼn byt aan sy regterkuit. Hy kon met die golf by die strand uitkom waar sy pa vir hom gewag het,” het Lambinon gesê. “Sy pa en omstanders het die voorval sien gebeur en dadelik hulp ontbied.”

Volgens Lambinon sal haainavorsers ondersoek instel om te bepaal watter tipe haai dit was en hoe groot die haai was, maar voorlopige tekens dui daarop dit was ʼn withaai van ongeveer twee meter lank. Dit is egter nog nie bevestig nie.

Die NSRI het Vrydag ʼn waarskuwing uitgereik vir strandgangers aan die kuslyn van die Suid-Kaap waar ʼn toenemende aantal haaie opgemerk is. “Die NSRI maan die publiek om versigtig te wees, veral op die kuslyn van die Suid-Kaap (Tuinroete), tussen Nature’s Valley en Mosselbaai, en veral by Plettenbergbaai,” lui die verklaring.

Tiener kritiek wat uit Durban-gebou val

$
0
0

ʼn Tiener is kritiek beseer nadat hy uit ʼn parkeergebou by Durban se suidelike strand geval het (29 April 2017) Foto: Netcare 911

ʼn Tiener is kritiek beseer nadat hy Saterdagmiddag uit ʼn parkeergebou by Durban se suidelike strand geval het.

“ʼn 18-jarige seun het op ʼn muur van ʼn boonste parkeerverdieping gesit toe hy gegly en geval het,” het Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, gesê. “Die tiener is vir ernstige kopbeserings behandel voordat hy na ʼn hospitaal geneem is vir verdere behandeling.”

Veiligheid opgeskerp ná Kaapstad-transitorooftog

$
0
0

Argieffoto: Kent Williamson

Die polisie in Kaapstad sal hul sigbaarheid verhoog in kritieke gebiede soos winkelsentrums en by kitsbanke om rooftogte te verhoed, ná ʼn veiligheidswag Saterdagoggend tydens ʼn kontant-in-transitorooftog by ʼn winkel in Delft in Kaapstad doodgeskiet is.

ʼn Groep van ses gewapende rowers het omstreeks 08:00 op die winkel toegeslaan. Een veiligheidswag is doodgeskiet en ʼn ander wag is in die been gewond. Hy is in die hospitaal opgeneem vir behandeling.

Die rowers het met ʼn onbekende bedrag kontant gevlug en niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die verdagtes se wegkommotor, ʼn ligte afleweringsvoertuig, is later in Philippi gevind.

“Ons doen ʼn beroep op die gemeenskap om die polisie by te staan met enige inligting wat van waarde kan wees om die misdadigers so gou as moontlik aan te keer,” het Bongani Mkhongi, adjunkminister van polisie, in ʼn verklaring gesê. “Die ministerie van polisie wil die gemeenskap van Delft verseker dat die polisie die stad van hoek tot kant sal deursoek om die misdadigers aan te keer.”

20 sterf in ongeluk: Geen kwade gevoelens jeens minibusbestuurder

$
0
0

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, tydens Amos Mnguni se begrafnisdiens. Foto: Balise Mabona/ANA

Panyaza Lesufi, LUR van onderwys in Gauteng, het Saterdag die publiek versoek om nie enige kwade gevoelens teen die familie van Amos Mnguni (76) te koester nie ná ʼn ongeluk waartydens Mnguni, 18 skoliere en nog ʼn volwassene gesterf het nie.

Die ongeluk het op 21 April op die R25 buite Bronkhorstspruit plaasgevind. Mnguni se minibus het teen ʼn vragmotor gebots en die minibus het aan die brand geslaan. Die leerlinge was van Refano Primary School en Mahlenga Secondary School in Sokhulumi op pad na hul huise in onderskeidelik Wolvenkop en Verena in Mpumalanga. Sewe skoliere het die ongeluk oorleef.

Lesufi het ʼn toespraak gelewer tydens Mnguni se begrafnisdiens in Wolvenkop. “As ʼn regering is ons nie hier om te kies wie is skuldig en wie is onskuldig nie,” het hy gesê. “Ons is hier om almal te ondersteun. Ons het ʼn doelbewuste besluit geneem om bystand te lewer aan elke familie. Ons sal nie teen enigiemand diskrimineer nie. As hierdie familie berading nodig het, sal ons dit vir hulle gee. As hulle water nodig het, sal ons dit vir hulle gee.”

Lesufi het gesê DNS-toetse duur voort om die liggame uit te ken en bygevoeg die persone kan dalk volgende week begrawe word, indien die reëlings volgens plan verloop. Die ongeluk het dit ook aan die lig gebring dat die regering wette in plek moet stel om oorgrens-skoliervervoerstelsels te reguleer sodat leerlinge, wat skool bywoon in ander provinsies, op verskillende maniere bygestaan moet word.

Hy het die betrokke families bedank vir hul geduld tydens die uitgerekte proses van DNS-toetse. “Die dag waarop die ongeluk plaasgevind het, sal elke jaar by die betrokke skole herdenk word,” het hy gesê.

Verskeie persone het tydens Mnguni se begrafnis gepraat en hom beskryf as “ʼn goeie persoon wat graag ander gehelp het”. Sy familie het gehuil terwyl hulle na die sprekers geluister het.

Pat Ngomane, LUR van gemeenskapsveiligheid het gesê dit is van geen nut om vingers te wys nie. Mnguni was ʼn tradisionele geneesheer, maar net soos enigiemand anders, het hy nie geweet wanneer hy sal sterf nie, aangesien slegs God dié dag weet. “Kom ons werk saam en hou op om vinger te wys. Laat ons in God glo,” het hy gesê.

Ngomane het gesê die regering neem kennis van die publiek se opmerkings oor die toestand van die pad waar die ongeluk plaasgevind het, en die kwessie sal binnekort aangeroer word.

Sphiwe Sibanyoni, sekretaris van die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxivereniging (Santaco) in Mpumalanga, het gesê die raad het bevind dat Mnguni se minibus geldige permitte gehad het om leerlinge te vervoer. Hy het gesê Santaco bly toegewyd om taxibestuurders op te lei wat “goeie bestuurdersgedrag” betref.

Paulos Mnguni, Amos se broer, het die regering en almal bedank wat die families bystaan van diegene wat in die ongeluk omgekom het.

Amos word oorleef deur sy ma, dogter, twee susters, agt kleinkinders en een agterkleinkind.

Lees alle vorige berigte oor die Bronkhorstspruit-minibusongeluk op Maroela Media.

Motorfietsryer sterf toe hy koedoe tref

$
0
0

Die toneel Sondagoggend 30 April 2017 op die R512 buite Lanseria waar ‘n motorfietsryer ‘n koedoe getref het (Foto: ER24)

ʼn Motorfietsryer is Sondagoggend op die R512 buite Lanseria dood toe hy ʼn koedoe getref het.

“Paramedici is omstreeks 07:30 na die toneel ontbied waar die man, sy motorfiets en die koedoe ʼn paar meter van mekaar gelê het,” het Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, gesê. “Die man het noodlottige beserings opgedoen. Hy is op die toneel dood verklaar.” Die koedoe is ook dood aangetref.

“ʼn Ooggetuie het gesê die man en sy motorfiets het deur die lug getrek, maar hy het nie gesien die man het ʼn dier getref nie. Hy het die koedoe eers opgemerk toe hy ondersoek ingestel het.”

Plaaslike owerhede was op die toneel.

Madeleine McCann: Ouers bly hoop

$
0
0

Kate and Gerry McCann Foto: Joe Giddens/Pool via AP

Die ouers van die vermiste Madeleine McCann, die driejarige wat in 2007 tydens ʼn gesinsvakansie in Portugal verdwyn het, het tydens die 10 jaar-herdenking van haar verdwyning gesê hulle bly vol hoop dat hulle een dag weer met hul dogter herenig sal word.

Die McCanns het in ʼn onderhoud met Britse media, wat Sondag gepubliseer is, gesê hulle voel bemoedig deur die “ware vordering” wat die Britse polisie die afgelope vyf jaar in die saak gemaak het.

Scotland Yard het verlede week gesê speurders volg steeds “kritieke leidrade” op om Madeleine op te spoor. Sy het die aand van 3 Mei 2007 uit die gesin se vakansiehuis in Algarve verdwyn. Haar ouers het by ʼn nabygeleë restaurant gaan eet nadat hulle Madeleine en hul tweeling in die bed gesit het.

Die polisie het gesê ondanks ʼn ondersoek, wat tot dusver al meer as £11 miljoen (R190 miljoen) beloop, gesê daar is geen “definitiewe bewyse” of Madeleine, wat nou byna 14 jaar oud is, nog steeds lewe of reeds dood is nie. Die meisie is uit die woonstel ontvoer, maar hoe en waarom dit gebeur het, bly ʼn raaisel.

Een teorie is dat dit moontlik ʼn rooftog is wat skeefgeloop het.

Gerry McCann (48) het gesê dit is “vreeslik” dat sy nog nie gevind is nie en het bygevoeg: “Geen ouer sal ooit ophou soek nie, tensy mens definitief weet jou kind is dood nie. En ons het net nie die bewyse daarvoor nie.”

Sy vrou, Kate, stem saam. “My hoop dat Madeleine nog leef het ná 10 jaar nog nie vervaag nie. Ek het nooit gedink ons sal na soveel jaar nog in hierdie situasie wees nie. Dis ʼn lang tyd.”

Madeleine McCann

Die saak het wêreldwyd belangstelling geprikkel weens die McCanns se veldtog om hul saak so wyd as moontlik te publiseer om Madeleine op te spoor. Die egpaar het gesê hulle beplan ook om ʼn uitspraak te daag nadat ʼn hof ʼn speurder van Portugal vrygespreek het op aanklag dat hy lasterwette oortree het toe hy in ʼn boek aangevoer het hulle was betrokke by Madeleine se verdwyning.

Op die vraag hoe dit met die gesin gaan, het die McCanns gesê, net soos ander gesinne wat tragedies beleef het, probeer hulle aanbeweeg en om op hul 12-jarige tweeling te fokus.

“Jy pas aan en kry ʼn nuwe tipe normaal,” het Gerry gesê. “In ʼn stadium moet jy aanvaar dat die tyd nie stilstaan nie.”

Hy het gesê Kate koop jaarliks nog steeds verjaarsdag- en Kersgeskenke vir Madeleine.

“Ek moet natuurlik dink hoe oud sy nou is en koop dan iets wat, wanneer ons haar kry, nog steeds behoorlik sal wees. Ek dink baie daaroor,” het Kate verduidelik. “Sy is nog steeds ons dogter. Sy sal altyd ons dogter bly.”

Lees alle vorige berigte oor Madeleine McCann op Maroela Media.


46 onwettige immigrante in hegtenis geneem

$
0
0

Die groep van 46 persone wat die land sonder geldige dokumentasie betree het Foto: SAPD, Mpumalanga

Altesaam 46 uitlanders, sonder geldige dokumentasie, is Vrydag in Mpumalanga in hegtenis geneem.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het in ʼn verklaring gesê die persone is by Mashishing- informele nedersetting in hegtenis geneem toe die waarnemende kontrole-immigrasiebeampte ʼn wenk ontvang het oor twee vragmotors vol vermoedelik onwettige immigrante wat by die informele nedersetting geparkeer staan.

“Hy het sy kollega gekontak en hulle het op die klag reageer. Die persone is van verskillende lande en het nie geldige dokumente gehad nie,” het Hlathi bygevoeg. “Hulle het die plaaslike polisie gekontak en die groep, altesaam twee van Zambië, 14 van Mosambiek, 17 van Malawi en 13 van Zimbabwe is in hegtenis geneem.”

Die toesighouer van die groep het gesê hulle was op pad om telefoonlyne in die dorp en Mashishing te installeer.

Die persone staan tereg op aanklag van oortreding van artikel 49 van die Wet op Immigrasie. Die persoon wat na bewering die persone gehuur het om die werk te doen, staan tereg op aanklag van die oortreding van die indiensneming van uitlanders sonder geldige permitte.

“Die persone verskyn Dinsdag in die Lydenburg-landdroshof,” het hy gesê.

1 500 poste by JMPD beskikbaar

$
0
0

Die Johannesburgse metropolisie (JMPD) is op soek na 1 500 mans en vroue om opleiding te ondergaan en, indien hulle die kursus suksesvol voltooi, staan hulle die kans om as metropolisiebeamptes aangestel te word.

“Ek is op soek na mans en vroue wat die hoogste sin van geregtigheid en integriteit het om by die JMPD aan te sluit om die inwoners van Johannesburg te beskerm en te dien,” het Michael Sun, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, Sondag gesê.

Die werwingsveldtog is die departement van openbare veiligheid se eerste stap onder die nuwe administrasie om sigbare polisiëring op te skerp en poste te skep vir mans en vroue wat óf werkloos is óf op soek is na ʼn betekenisvolle manier om ʼn bydrae te lewer tot die samelewing, het hy gesê.

“Met ʼn bykomende 1 500 beamptes wat in die stad ontplooi word, is ons seker dat sigbare polisiëring meer doeltreffend sal wees om misdaad te bekamp.”

Aansoekers moet Suid-Afrikaanse burgers wees wat in Johannesburg woon; tussen 18 en 35 jaar oud wees; oor ʼn geldige matrieksertifikaat beskik; vaardig wees in Engels; in besit wees van ʼn geldige kode B-rybewys (handrat); fisies en geestelik geskik wees; en oor die vermoë beskik om ʼn vooraf-fiksheidstoets af te lê; en geen misdaadrekord of burgerlike uitspraak hê wat betref bedrog of korrupsie nie; en bereid wees om ʼn vuurwapen te dra en diens te doen in ʼn uniform.

“Ons sien uit na die dapper mans en vroue wat op ons versoek gaan reageer en beamptes gaan word van ʼn elite wetstoepassingsagentskap in die stad,” het Sun bygevoeg.

Persone wat belangstel om aansoek te doen, kan meer besonderhede bekom by Luyanda Longwe, skakelbeampte van die kantoor van die burgemeesterskomiteelid van openbare veiligheid. Stuur ʼn e-pos aan luyandalo@joburg.org.za of skakel 082 875 6299. Sluitingsdatum vir aansoeke is 4 Mei 2017.

Episodes van gewilde reeks onwettig vrygestel

$
0
0

Orange Is The New Black

ʼn Kuberkraker of “hacker” beweer hy het verskeie episodes van die jongste seisoen van Netflix se gewilde reeks, “Orange Is The New Black” vrygestel.

Die kuberkraker, ook bekend as The Dark Overlord, het vroeg Saterdagoggend op Twitter ʼn skakel gedeel waar 10 episodes van die reeks se vyfde seisoen glo beskikbaar is om afgelaai te word. Die Associated Press kan nie wettig die egtheid van die lêers bevestig nie.

Nuwe episodes van die reeks is geskeduleer om amptelik op 9 Junie vrygestel te word. Onwettige kopieë van die reeks se episodes kan ʼn impak hê op Netflix se gebruikersgetalle en die maatskappy se aandeleprys. ʼn Woordvoerder vir Netflix wou Saterdag nie kommentaar lewer oor die vrystelling van die episodes nie.

Netflix het vroeër gesê ʼn klein diensverskaffer wat met verskeie groot TV-ateljees werk, is deur ʼn kuberkraker aangeval. Die maatskappy, geleë in Los Gatos, Kalifornië, het gesê dit is ʼn “aktiewe situasie” wat deur die FBI en ander owerhede ondersoek word.

The Dark Overlord het geëis dat Netflix ʼn losprys betaal in ruil dat hy nie die episodes vooraf aanlyn versprei nie. Die kuberkraker het Saterdag in ʼn verklaring gesê Netflix het nie reageer op die eis nie.

“Dit hoef nie só te gebeur het nie, Netflix,” het die kuberkraker geskryf. “Julle gaan baie meer verloor as die geld van ons beskeie losprys.”

Die kuberkraker beweer hy het nog reekse van Netflix en ander ateljees, insluitend ABC, National Geographic en Fox gesteel. The Dark Overlord het beloof om ook dié episodes vry te stel, tensy die “beskeie losprysbedrae” betaal word.

Gerugte dat daar ʼn groot hoeveelheid inligting uitgelek het van Hollywood-flieks en televisie-episodes doen al maande lank die ronde. Skermgrepe van die beeldmateriaal en ʼn afskrif van ʼn voorgestelde ooreenkoms om die gesteelde materiaal uit te vee in ruil vir duisende dollar in elektroniese valuta, word ter ondersteuning versprei.

Netflix maak staat op “Orange Is The New Black” om 3,2 miljoen kykers by te voeg tussen April en Junie. Dit is beduidend meer as die maatskappy se gemiddelde groei van 1,8 miljoen intekenare in dieselfde periode die afgelope vyf jaar. Wanneer Netflix se kwartaallikse intekenare nie strook met die bestuur se vooruitsigte nie, val die aandeleprys gewoonlik.

Bekende bergklimmer sterf naby Everest

$
0
0

Ueli Steck (11 September 2015) Foto: Christian Beutler/Keystone via AP

Die wêreldbekende Switserse bergklimmer, Ueli Steck, is Sondag dood in ʼn bergklimongeluk naby die berg Everest in Nepal.

Mingma Sherpa van die Seven Summit Treks, die ekspedisie-organiseerders, het gesê Steck is by Kamp 1 van berg Nuptse oorlede. Sy liggaam word na Lukla geneem, waar die enigste lughawe in die gebied geleë is.

Dis nog nie duidelik hoe Steck dood is nie, maar hy was van plan om volgende maand 8 850 m te klim – Everest en die nabygeleë berg Lhotse. Hy het vermoedelik op die ys gegly en geval.

Dit is die eerste sterfgeval van die lente-bergklimseisoen in Nepal wat in Maart begin het, en tot einde Mei voortduur. Honderde bergklimmers is op die berg om in Mei die Himalajas te klim, wanneer daar ʼn paar geleenthede sal wees vir gunstige weer.

Die 40-jarige Steck was een van die bekendste bergklimmers van sy generasie. Hy is bekend vir sy spoed en het verskeie rekords verbeter vir die noordelike kant van die Eiger, ʼn klassieke piek in die Bernese Alpe. Hy het dié berg binne twee uur en 47 minute geklim sonder ʼn tou.

Steck was in 2013 die eerste persoon wat alleen die Annapurna, suidelike kant in Nepal, geklim het nadat hy byna in 2007 hier gesterf het. Hy het die volgende jaar die “Piolet d’Or” ontvang, wat beskou word as die Oscar van bergklim.

Hy het in 2015 besluit om al 82 pieke in die Alpe te klim wat hoër is as 4 000 m. Hy het slegs per voet, fiets en sweeftuig tussen die berge gereis. Hy het dit binne 62 dae afgehandel en sy reputasie as “die Swiss Machine” gestand gedoen.

Hy het verlede maand in ʼn onderhoud met die Switserse koerant Tages-Anzeiger gesê hy beskou homself as ʼn “buitestander” in die bergklimwêreld, omdat atletiese prestasie vir hom belangriker is as avontuur.

Oor sy Everest-Lhotse-ekspedisie, waar hy vinnig van een piek na ʼn ander sou klim, insluitend om in die “doodsone” te oornag, het Steck gesê: “As ek op Everest is, kan ek enige tyd ophou. Die risiko is dus baie laag. Dis ʼn fisies projek. Ek gaan dit óf kan doen, óf ek gaan nie die krag hê om die trajek oor te steek nie.”

Op ʼn vraag wat hy as die sukses van die ekspedisie sou beskou, het hy aan Tages-Anzeiger gesê: “Natuurlik wil ek Everest en Lhotse klim. Maar dit is ʼn baie hoë doelwit. Mislukking sal wees as ek sterf en nie huis toe kom nie.”

Dokter geskiet tydens rooftog by Pta-winkelsentrum

$
0
0

Die toneel by die Gift Acres-winkelsentrum (30 April 2017) (Foto verskaf aan Maroela Media)

ʼn 60-jarige dokter is Sondagmiddag geskiet tydens ʼn gewapende rooftog by die Gift Acres-winkelsentrum in Pretoria.

Kapt. Ilze Jones, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die man het omstreeks 12:30 uit die Woolworths gekom toe drie mans hom genader en waardevolle besittings geëis het. Volgens ooggetuies was daar ʼn woordewisseling en die mans wou die man vermoedelik in hulle motor in dwing.

Die man het hom teengesit en drie skote is gevuur. “Die man is twee keer in sy bene getref,” het Jones bygevoeg.

Die man is ʼn dokter by die nabygeleë Wilgers-hospitaal. “Hy is ná die skietery na die Wilgers-hospitaal geneem. Hy is in ʼn stabiele toestand.”

Die aanvallers het daarna met ʼn wit BMW gevlug.

Gerugte dat dit ʼn poging tot ʼn kaping was om die man se Porsche te steel, kan nie bevestig word nie.

Maroela Media wag vir terugvoer van die sentrum se bestuur.

Viewing all 56621 articles
Browse latest View live