![]()
Pres. Jacob Zuma tydens Donderdag se Vryheidsdagvieringe. Foto: Kopano Tlape/GCIS
As ʼn mens regtig wil verstaan wat radikale ekonomiese transformasie (RET) behels, sal jy jou Westerse ideologiese denkwyse van die ekonomie opsy moet skuif. Dit sal jou help om te verstaan dat die regerende party maklik teen die beste belange van die ekonomie én Suid-Afrikaners kan optree omdat dit deel is van ʼn diep vasgelegde ideologie binne die ANC.
Só meen dr. Frans Cronje, scenario-beplanner en hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings. “Moet asseblief nie geflous word deur die gedagte dat hierdie term nou eers die laaste paar maande ontstaan het nie. Enige iemand wat vertroud is met die ANC se 1960-model vir die Nasionale Demokratiese Revolusie, sal beslis nie verras wees oor wat RET behels nie. Dit is die kern van die ideologiese beleid wat die ANC dryf.”
Cronje het gesê hierdie ideologie is sosialisties en kommunisties van aard, wat beteken alle mag moet na die staat gesentraliseer word. Dit behels ook dat die staat beheer van die kapitalistiese ekonomie moet neem – en dit hoef nie noodwendig binne ʼn dag of twee gedoen te word nie. Hy meen ook die radikale populistiese uitsprake rondom RET kan die lede in die ANC wat tans in leierskapstryd gewikkel is, op takvlak binne die ANC bevorder.
President Jacob Zuma het Donderdag tydens ’n Vryheidsdagvieringgeleentheid in KwaZulu-Natal gepoog om te verduidelik wat presies RET behels nadat verskeie vrae oor die term ontstaan het.
In sy toespraak het hy gesê hoewel politieke vryheid al behaal is, ekonomiese vryheid nog talle Suid-Afrikaners ontwyk. “Laat ek herhaal: RET behels die fundamentele verandering in die struktuur, stelsels, instellings en patrone van die eienaarskap, bestuur en beheer van die ekonomie ten gunste van alle Suid-Afrikaners, veral die armes, waarvan die meeste swart en vroulik is.”
Zuma het verwys na die hoë vlakke van ongelykheid wat steeds in die samelewing heers deur te sê wit huishoudings verdien steeds vyf keer meer as swart huishoudings. Hy het ook gesê regstellendeaksiebeleide en die Wet op Gelyke Indiensneming laat transformasie in die werksplek steeds te stadig plaasvind.
Verder het hy beloof die ANC sal alle instrumente tot die regerende party se beskikking gebruik om die kwessies rondom grondbesit en grondhervorming aan te spreek. Zuma het gesê grondonteiening sonder vergoeding is hoog op die party se agenda.
Ekonomiese en politieke ontleders meen hierdie uitsprake van Zuma het eintlik niks nuuts oor RET gesê nie.
Dr. Eugene Brink, politieke ontleder van Solidariteit, en Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep, het albei gesê dit is maklik om saam te stem met dit wat Zuma gesê het oor die verandering wat benodig word rondom armoede en werkloosheid. “Werkloses moet bemagtig word, maar dit is die einde van sy uitsprake oor RET wat my diep bekommerd maak en wat dan boonop ʼn rassekleur bykry,” het Roodt gesê.
“ʼn Mens kan met die doelwitte saamstem, maar die middele wat die ANC wil gebruik om armoede aan te spreek, die ekonomie te laat groei en werkloosheid te verminder is net nie haalbaar nie. Hulle gaan dit ongelukkig nie met groter sosialisme regkry nie en ek glo dít is wat RET kortliks behels,” het Brink gesê.
Roodt meen ʼn mens kan maar net kyk na wat met die land onder Zuma se administrasie gebeur het om af te lei wat RET sou beteken. “Mag is meer en meer gesentraliseer en sekere individue is geweldig verryk. Staatinstellings soos Eskom, SAL, Prasa en die Valke is onder Zuma heeltemal vernietig. Ek verwag dat ons meer van dieselfde kan verwag wat net nog meer ondergrawing en ondermyning sal beteken.
“RET klink vir my na groter sosialistiese kommunistiese beleidsrigtings. Dit is die herverdeling van bates en ja, vir ʼn paar maande of jare gaan dit dalk goed met dié wat dit ontvang het, maar daarna sit jy met dieselfde of groter probleme.
“Zuma kan maar net na Venezuela en Zimbabwe gaan kyk om te sien hoe goed hierdie soort beleidsrigting vir die ekonomie werk. Venezuela se winkelrakke is leeg en Zimbabwe se werkloosheidsyfer is bykans 90%,” het Adam Jacobs, ʼn onafhanklike ekonoom, gesê.
“Om die ekonomie weer aan die groei te kry gaan ons ʼn vryer ekonomie, vry markte en investering nodig hê. Ongelukkig gaan niemand in jou land wil investeer as jy hulle nooi om te belê, maar aan die anderkant dood belas en hulle eiendomsreg wil wegneem nie. Ook nie as die kans bestaan dat hulle maatskappy genasionaliseer gaan word of hulle sommer net in die algemeen sleggesê word in die media nie,” het Brink bygevoeg.
Cronje meen ʼn mens kan ook maar net na lande soos Zimbabwe en Venezuela gaan kyk om te sien hoe ʼn regering teen sy ekonomie optree. “Die ANC se grootste probleme en teenstand kom uit die nuwe jong swart middelklas – hulle lei die protesbewegings, is aktiviste en die opposisie. Daar is ʼn groot aanduiding dat jou vlak van onderwys en toegang tot werksgeleenthede bepaal of jy vir die ANC sal stem of nie.
“Dus kan dit polities ten gunste van die ANC wees om ʼn ekonomiese agterstand te bewerkstelling. Kyk maar na pres. Robert Mugabe – hy het gebaat uit sy land se agteruitgang.”
Hy meen die land sal nie iets soos die swak ekonomiese groei gebruik om ʼn nuwe vyand te skep waarteen die regerende party mense wat arm is kan “beskerm” nie. “Hulle sal aanvoer dat die armes hulle net meer mag moet gee om hulle finaal te bevry van die vyande soos ‘witmonopoliekapitaal’ en dan sal dit weer beter gaan.
“RET kom al verskeie dekades en ons weet wat dit behels: Die staat sal al meer inmeng met individue en ondernemings se ekonomiese besluite. Die enigste vraagstuk is hoe vinnig die ANC dit kan laat gebeur en waar hulle die klem sal laat lê, maar daar behoort geen twyfel te wees oor waarheen hulle met RET wil beweeg nie.”
Jacobs het gesê Suid-Afrikaners moet onthou dat ʼn individue of onderneming gelikwideer kan word, maar ʼn land kan nie bankrot speel nie. “Mense vra altyd wat sal gebeur as die Suid-Afrika net aanhou om swak ekonomiese en politiek beleide te volg? Wel, landsburgers sal net verder verarm onder die swak beleid en die werkloosheidsyfer sal beslis nie daal nie.”