Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all 56621 articles
Browse latest View live

Noordwes-betogings: ‘Polisie het beheer oor gebied’

$
0
0

Vragmotors wat deur betogers in Coligny in Noordwes aan die brand gesteek is (25 April 2017). Foto: Facebook via Marlene Roux

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het Woensdag bewerings ontken dat die polisie nie beheer oor die situasie in Lichtenburg en Coligny in Noordwes, waar gewelddadige betogings al dae lank woed, het nie.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê hoewel die provinsiale polisie die situasie behoorlik hanteer het, is daar vroeër besluit dat nasionale ingryping nodig was. Addisionele polisiebeamptes van die eenheid vir openbare orde, die taktiese reaksie-eenheid en die eenheid vir sigbare polisiëring is na Lichtenburg, Coligny en Itsoseng ontplooi.

“Die verhoogde sigbaarheid van polisielede en geteikende operasies het onmiddellik gehelp om die gebied te stabiliseer,” het Naidoo gesê. “Gedurende hierdie operasies is 48 mense in hegtenis geneem. Ses mense is op aanklagte van openbare geweld in hegtenis geneem, terwyl twee vasgetrek is nadat hulle ʼn polisie-njala aan die brand gesteek het. Altesaam 42 mense is in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde goedere nadat hulle na bewering winkels in die gebied geplunder het.”

Naidoo het gesê nog twee mans is in hegtenis geneem in verband met die dood van ʼn 12-jarige seun in Coligny. Die seun se dood was na bewering die oorsaak van die geweld in die dorp.

Betogings in Coligny en Lichtenburg in Noordwes (April 2017). Foto: Facebook via Intelligence Bureau SA

Maroela Media het vroeër berig verskeie vragmotors en huise is die afgelope paar dae deur betogers aan die brand gesteek, winkels geplunder en talle ondernemings erg beskadig. Paaie in die gebied was met tye onbegaanbaar en talle voertuie is deur betogers met klippe bestook.

“Die inhegtenisnemings van mense wat by onwettige aktiwiteite betrokke is, is aanduidend dat die polisie geen vorm van geweld of wetteloosheid sal duld nie,” het Naidoo gesê. “Hoewel ʼn mate van rustigheid in die gebied herstel is, gaan die polisie voort om die situasie te monitor. Bewerings wat in sekere dele versprei is dat die polisie nie beheer oor die situasie het nie, word weerlê.”

Hy het gesê die polisie is tans in gesprek met verskeie sektors van die gemeenskap wat hul daartoe verbind het om saam met die polisie te werk om stabiliteit in die gebied te herstel.


Pa gevonnis vir verkragting van eie dogter

$
0
0

Argieffoto: Kent Williamson

ʼn Man van Vredenburg in die Wes-Kaap is Woensdag lewenslange tronkstraf deur die Vredenburg- streekshof opgelê vir die seksuele aanranding en verkragting van sy eie dogter.

Lt.kol. André Traut, polisiewoordvoerder, het gesê volgens hofstukke het die pa sy dogter reeds op negejarige ouderdom, in 2008, seksueel begin aanrand.

Hy het haar glo sedert 15-jarige ouderdom verkrag en misbruik.

Volgens Traut kon die pa daarin slaag om die dogter te oortuig dat hy niks verkeerds doen nie, maar sy het hom in 2016, op 17-jarige ouderdom, by die polisie aangemeld.

Die polisie verwelkom dié vonnis. “ʼn Deeglike ondersoek het tot die spoedige vonnisoplegging bygedra, en ons is tevrede met die regter se besluit,” het hy gesê.

Polisie maan motoriste: Wees gewaarsku

$
0
0

Foto: Gautengse departement van verkeersveiligheid, Facebook

Suid-Afrika se adjunkminister van vervoer, Sindisiwe Chikunga, het Woensdag motoriste landwyd gemaan om ekstra waaksaam te wees wanneer hulle oor die langnaweek reis.

Chikunga het gesê die verkeer op paaie sal na verwagting drasties toeneem tussen Vryheidsdag op 27 April en Werkersdag op 1 Mei.

“Niemand is veronderstel om te sterf bloot omdat die paaie besiger is oor langnaweke nie. Tog gebeur dit telkemale in Suid-Afrika. Meer as 200 mense is tydens Paasfees op SA paaie oorlede – 75 meer as verlede jaar. Ons moet saamwerk en nie toelaat dat mense so roekeloos is nie.”

Chikunga het ook gesê diegene wat die wet verontagsaam, moenie onder die indruk verkeer dat hulle die verkeerspolisie kan omkoop nie.

Dit volg nadat ʼn 51-jarige senior verkeersbeampte van die Nelson Mandelabaai-verkeersdepartement Woensdag in hegtenis geneem is op aanklag van omkopery.

Daar word beweer dat die beampte R200 van ʼn motoris gevra het om nié ʼn boete uit te skryf nie.

Die verkeersbeampte het vinnig in die hof verskyn en sal op 24 Mei hoor wat die beslissing is.

Brig. Laurence Soekoe, woordvoerder van die polisie, het gesê motoriste moet twee keer dink wanneer hulle padreëls oortree. “Die inhegtenisneming bewys daar is gevolge vir onetiese en onprofessionele optrede deur wetstoepassers. Die Suid-Afrikaanse polisiediens is daartoe verbind om te verseker dat korrupsie en omkopery die nekslag toegedien word.”

Man vas vir beplande moord op staatsleiers

$
0
0

Argieffoto

ʼn 23-jarige man is Woensdag in hegtenis geneem nadat hy beplan het om talle kabinetslede, lede van staatsinstansies en prominente Suid-Afrikaners, wat na bewering by ʼn staatskaping sou baat, te vermoor.

Brig. Hangwani Mulaudzi het in Oktober verlede jaar gesê die Valke het bewyse bekom wat toon dat die man die moord van nagenoeg 19 mense beplan het.

Van dié bewyse was onder meer briewe aan geselekteerde maatskappye wat gevra het vir skenkings sodat die verdagte en die groep waarvan hy deel is, Anti-State Capture Death Squad Alliance (ASCDSA), dié operasie met R140 miljoen kon finansier.

ʼn Deeglike ondersoek in Pretoria en Johannesburg het Woensdag tot die man se inhegtenisneming gelei.

“Die verdagte én ʼn stigter van die ASCDSA is in Midrand vasgetrek terwyl hy aan skenkers [van dié organisasie] verduidelik het hoe die moord op die mense gaan afloop,” sê Mulaudzi.

Hy het gesê die name van die 19 mense sal eers in die hof bekend gemaak word.

Die Valke se ondersoek het ook die sogenaamde Anti-White Monopoly Capitalists Regime (AWMCG) se planne in die wiele gery.

Dié groep het glo dieselfde modus operandi gehad vir die beplande moord op nagenoeg vier mense.

Niemand is nog in verband met die AWMCG in hegtenis geneem nie.

Die 23-jarige man sal na verwagting Vrydag in die Johannesburg-landdroshof verskyn.

Nuuskommentaar: Maak die Grondwet ons vry?

$
0
0

Op Vryheidsdag kan die nuwe Grondwet gevier word. Daar kan ook besin word of ’n ander staatkundige model nie ’n beter oplossing as die huidige sou kon gee nie, maar veral kan daar besin word oor die beste metodes om die leemtes en die geleenthede in die Grondwet te benut om die huidige wantoestande so doeltreffend moontlik die hoof te bied.

Maak die Grondwet ons vry?

Die ANC self verskaf (deesdae) hier die antwoord, maar om ’n heel ander rede as wat minderheidsgroepe dit sou beskryf, naamlik “nee”. Voortgesette armoede (en aanverwant soos ongelykhede) vereis “nog ’n bevryding”. Om nie van minderheidsregte te praat nie.

Dit is ligjare verwyder van ’n moontlik anekdotiese aanhaling van Kwame Nkruhma met Ghana se onafhanklikheid: “Ontvang hiermee die politieke vryheid en alles sal vir julle daarby gevoeg word.”

Toe nou nie.

Soos belowe, kyk ons vandag na ’n aantal verskillende staatkundige modelle ter wille van lesers wat nie weet hoeveel opsies daar met die onderhandelinge om ’n nuwe Grondwet beskikbaar was nie.

Grondwetlike modelle

As eerste opmerking kan gemeld word dat lande met ’n heterogene bevolkingsamestelling gewoonlik na ’n grondwetlike model neig wat meer gedesentraliseerd is, terwyl lande met ’n homogene bevolking na ’n unitêre stelsel neig tensy daar historiese of ander faktore soos die grootte van die land ter sprake is.

Met Suid-Afrika se besonder heterogene bevolkingsamestelling sou staatsregtelik en politiek wetenskaplik verwag word, gegrond op politiek-sosiologiese empiriese data, dat Suid-Afrika ’n Grondwet met sterk federale karakter sou kry, en in die besonder dié van ’n etniese federasie soos Indië en België. Dit was aanvanklik ook duidelik die doel van die destydse Suid-Afrikaanse regering en die Nasionale Party wat wesenlik onder een opdraggewende gesag gestaan het.

Die opdragte en aanwysings aan diegene wat namens onder meer die administrateurs voorleggings aan die onderhandelingspan by Kodesa moes maak, was dus byna klakkeloos geneem uit ’n studie van die staatkundige komitee van die presidentsraad, Besluitnemings- en Konflikbeslegtingsmeganismes en -tegnieke in staatkundige stelsels.

(Die uwe dra eersterangs kennis van dié opdragte en hul inhoud, want ek was getaak om die Vrystaatse administrateur se insette op te stel – deurnag tuis op ’n IBM-rekenaar sonder harde skyf.) Die volgende dag is dié stukke Kempton Park toe aangery.

Uit mediaberigte oor die onderhandelings is die gevoel egter gekry dat hierdie insette wat in opdrag van die regering, en volgens bepaalde riglyne, opgestel moes word, deur die regering se onderhandelaars ongelees in die asblik gesmyt is, veral ná Roelf Meyer hoofonderhandelaar van die regering geword het. Die uwe is dus dalk subjektief wanneer hy met ’n joernalistieke juweeltjie van die vermaarde rubriekskrywer, dr. Leopold Scholtz, saamstem dat die regering sy derde span se reserwes as onderhandelaars ingestuur het. Hieroor is Scholtz destyds erg deur Cape Libs gekritiseer, wat sommer ’n aanduiding gee dat die Grondwet as ’n liberale, unitêre grondwet beskryf kan word, en dikwels steeds so deur liberale ontleders bemark word … en baie kwaad word vir minderheidsgroepe wat die elemente wat minderheidsregte (behoort) te beskerm, aanwend “om die pilare van ’n liberale grondwet mee om te trek”.

Dit moet net bygevoeg word dat die kabinet uiteindelik die voorgestelde oorgangsgrondwet goedgekeur het, wat beteken dat die onderhandelaars in ’n stadium die kabinet se koppe by wyse van spreke heeltemal moes draai. Daar was wel sekere beskermingsmeganismes in die oorgangsgrondwet wat nie in die finale een opgeneem is nie, soos dat die regte van ’n amptelike taal soos dit voor 1994 bestaan het, nie verminder mag word nie. Die ANC was onversetlik dat hulle dié bepaling wou verwyder, wat ’n goeie beeld gee van hul onverdraagsaamheid teenoor minderheidsregte.

Dat die Grondwet op bykans haas elke terrein onder druk sou kom, deurdat dit nie die bevolkingswerklikheid erken het nie, is dus te wagte.

Watter alternatiewe opsies was daar?

Federasies

Hoewel nie die losste vorm nie, word federasie eerste bespreek omdat dit die behandeling van ander modelle vergemaklik. Definisies verskil redelik wyd (soos ook by ander modelle) en die “vereistes” wat hier gestel word, is nie noodwendig by alle federasies teenwoordig nie. Tipies sou ’n federasie bestaan uit ’n land wat uit ’n aantal deelstate saamgestel is, en dié deelstate beskik oor ’n wye verskeidenheid oorspronklike en gedelegeerde magte waarby die sentrale regering nie mag inmeng nie. Onderwys en polisie is twee tipiese voorbeelde. Die sentrale regering beskik weer oor soewereine gesag soos buitelandse sake, verdediging en sekere maatskaplike kwessies. Dit is egter algemeen dat oor tyd heen, en namate so ’n staat ’n hegter eenheid word, die sentrale regering deur kruipende sentralisering al meer magte sou oorneem, gewoonlik deur “sekere maatskaplike aangeleenthede” te “rek”. Dit kan tot oneindige hofsake aanleiding gee, soos nou in die VSA oor sommige state wat by skole kospakkies voorsien, en ander state nie.

België was tot enkele jare gelede nog ’n unitêre staat, maar sy heterogene karakter het ’n proses van “groeiende federalisme” aan die gang gesit, tot dit nou as (etniese) federasie bekend staan. Trouens, in sommige bronne word gemeen dat België nou reeds kenmerke van ’n konfederasie begin toon, hoewel daardie waarnemers dalk ’n definisie vir konfederasie gebruik wat te ver van die algemene staan. Trouens, die regerende party, die NV-A, het betreklik onlangs die konsep van konfederalisme vir bespreking oopgestel, maar is oor ’n wye front, ook in die media, die kop gewas.

Benewens ’n geografies gebaseerde federasie kan in beginsel ook ’n korporatiewe federasie bestaan. In die ou VSA het twee stamme dikwels dieselfde grond bewoon en daarop gejag, maar elke stam het totaal onafhanklik oor sy eie stamgenote die septer geswaai. Dié stelsel is veral geskik waar (van die) bevolkingsgroepe te verspreid woon om sinvol geografies ondervang te kan word. Die Maori-kongres (voorheen parlement genoem) beskik oor sekere regeermagte oor Maori’s ongeag waar hulle woon. (Hulle het ook, soos die oorspronklike inwoners van Indië, gewaarborgde setels in die nasionale parlement.)

Konfederasies

In ’n tipiese konfederasie geld die internasionale reg, eerder as nasionale reg, tussen die deelnemende state. Ander definisies bepaal dat die samevoeging van dié state deur verdrae bepaal word, wat dan kan insluit dat daar wel ’n nasionale parlement en nasionale wetgewing kan wees. Tipies sal deelnemende state ook sonder belemmering uit die konfederasie kan tree.

Die interessantheid is dat die bekendste lande wat hulself ’n konfederasie noem, soos die Switserse Konfederasie, of, soos reeds genoem, die Konfederasie van suidelike state van Amerika, verreweg nie as konfederasies kwalifiseer nie.

Switserland kon wel tot ongeveer 150 jaar gelede as konfederasie kwalifiseer, maar nadat ’n wegbreekpoging van Rooms-Katolieke kantons met wapengeweld gekeer is, is dit geen konfederasie nie maar eerder ’n klassieke federasie.

Die “konfederale” state in die VSA het vanuit die staanspoor ’n grondwet aanvaar wat sterk ooreengekom het met dié van die noordelike state (’n federasie). Met die grondwetskrywing is selfs afskeiding verbied – iets wat in die noorde wel tegnies moontlik is, hoewel baie moeilik.

Die naaste aan ’n hedendaagse konfederasie is die Europese Unie, hoewel sommige waarnemers meen dit bevat elemente van federalisme.

Konfederasies was algemeen onder voor-koloniale bevolkings in Noord- en Sentraal Amerika, byvoorbeeld die Tolteke en Asteke.

Grondwetlike en parlementêre demokrasieë

Demokratiese state kan ook verdeel word tussen state waar die grondwet oppergesag het, en waar die parlement die oppergesag het. Pres. Jacob Zuma het al verskeie kere sy ontevredenheid uitgespreek dat die Grondwet die “meerderheidswil” frustreer, maar dit is die bes beskikbare verskansing teen ’n meerderheidsdiktatuur.

Selfregerende gebiede

Voorts kan selfs unitêre state selfregering toestaan aan streke waar minderheidsgroepe woon, soos die Kataloniërs en Baske in Spanje en die Skotte in Brittanje. Trouens, die Europese Unie vereis dit vir deelname aan die Unie en dis een van die vernaamste redes waarom Turkye se pogings om ’n lidland te word, nog nie kon slaag nie. Hierdie selfregering kan ook korporatief wees.

Bied die Suid-Afrikaanse Grondwet voldoende uiting vir minderheidsregte?

Dié kwessie is tot groot mate “sub judice” en sal waarskynlik uiteindelik besleg word wanneer die taalkwessie rondom Kovsies se verengelsing voor die konstitusionele hof dien.

Artikel 235 steek wel soos ’n pynlike vinger in die oog van diegene wat die Grondwet simplisties liberaal, unitêr wil beskou. Dié artikel maak vir geografiese of korporatiewe selfbeskikking voorsiening, maar nie vir volkome onafhanklikheid nie. Dit beperk, soos die internasionale reg, die gronde vir selfbestuur/onafhanklikheid tot taal en kultuur, en sluit ras as norm uit.

Benewens ’n skynbaar grootskaalse onwilligheid van minderheidsgroepe om hiervan gebruik te maak, is dit ook duidelik dat die toepassing van dié artikel teen die ANC-beleid indruis. Tydens die abortiewe Kliptownberaad in 2012 wat nasionale versoening moes bevorder, het dr. Nkosazana Dlamini-Zuma byvoorbeeld in reaksie op ’n toespraak van dr. Pieter Mulder minderheidsregte vir die Afrikaner afgeskiet. Sy wou weet hoekom die Afrikaner nie eenvoudig deel van die meerderheid word nie.

(Met haar gewese man se huidige tirades teen wit mense en hoe wittes “gemelk” moet word en hul plek moet ken, is die antwoord taamlik voor die hand liggend – wit mense en Afrikaners is nie welkom as volwaardige lede van “die meerderheid” nie.)

Voorts het Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, in ’n onderhoud met Beeld op ’n vraag oor minderheidsregte vir die Afrikaner die opsie van minderheidsregte vir wit mense heeltemal afgeskiet. (Dit is ’n ou taktiek van die ANC om ’n volkeregtelike entiteit soos die Afrikaner dadelik met “witte of wit mense” te vervang, wat nie oor positiewe volkeregtelike regte beskik nie.)

Is ons vry?

Volgens dr. Theuns Eloff, voorsitter van die FW de Klerkstigting, bestaan daar vele vryhede, soos die vryheid om geloof te beoefen.

Intussen het Verslaggewers sonder Grense (VSG) se jongste persvryheidsindeks die lig gesien, en hoewel persvryheid op globale skaal ’n laagtepunt bereik het, het Suid-Afrika se posisie van die 38ste tot die 31ste plek verbeter. Dit moet egter vermeld word dat dié instansie die afgelope aantal jare foutiewe inligting oor Suid-Afrika koester, soos die stand van die sogenaamde snoerwet, en dat dié indeks wesenlik sy waarde verloor het. Veel meer waarde kan aan Freedom House se indeks geskenk word. Op VSG se indeks stof Suid-Afrika byvoorbeeld die VSA baie ver uit, terwyl Freedom House Suid-Afrika net as gedeeltelik persvry klassifiseer, en ook op die kreeftegang plaas.

Eloff wys egter ook op die volgende: “Baie Suid-Afrikaners, veral dié wat 1994 beleef het, sal vanjaar se Vryheidsdag as die laagtepunt van alle Vryheidsdae beskou.

Hoekom? Omdat ons sien wat op politieke, ekonomiese en maatskaplike gebied om ons gebeur. Daar is groot spanning in die regerende party – oor die huidige president, maar ook in die leierstryd vir ’n nuwe president. Daar is sprake van korrupsie, en staatskaping deur regeringsleiers en amptenare. Ons sien dat die ekonomie stagneer en dat ons land se finansiële stelsel basies na rommelstatus afgradeer is. Ons beleef rassespanning en ’n klaarblyklik totale gebrek aan versoening en gedeelde waardes.”

Die vraag word dikwels gevra of Suid-Afrika nou beter daaraan toe is as sou daar nie ’n skikking bereik gewees het nie? Dit is ook oudpres. FW de Klerk se standpunt.

Maar wat van ’n opvolgvraag? Sou die land nie nog beter daaraan toe gewees het as die skikking ’n grondwet sou oplewer wat meer geskik vir die heterogene omstandighede is nie? Dit is immers waarom baie wit mense “ja” in die referendum gestem het dat onderhandelings kan voortgaan, maar met die “waarborg” dat ’n ondoeltreffende skikking in ’n opvolgreferendum geveto kon word. Dié referendum het egter nooit plaasgevind nie.

Alternatiewe opsies

Steeds glo baie mense uit minderheidsgemeenskappe dat die huidige Grondwet reg en goed is, en vergeet of ignoreer dat Solidariteit byvoorbeeld die DKD-saak gewen het om blatante diskriminasie teen bruin mense stop te sit. Trouens, daar word oor ’n wye front veldtogte en hofsake gevoer, en internasionale forums word gereeld opgesoek.

Solidariteit se Plan B wat binne die beperkings van die Grondwet lewensvatbare opsies bied, word deur verskeie liberale as ’n “onvergeeflike” mosie van wantroue teen die “wonderlike Grondwet” beskou, en skryf selfs dat die Solidariteit Beweging ’n staatskaping op die Afrikaner uitgevoer het. Gereeld gaan daar ’n geweeklaag van die Seunse Weenkoor op, en lê die Orakel van Stellenbosch misplaaste eiertjies.

Die land sit nou met ’n gegewe. Die sterkste aanduidings van grondwetlike veranderings wat kan kom, is waarskynlik Zuma en Kie se voorneme om die Grondwet so te wysig dat grondgryp-optrede sonder vergoeding moontlik sal word.

Die beste waarborg om die beste van die saak te maak is om by burgerlike instellings soos lidorganisasies van die Solidariteit Beweging aan te sluit.

Daar is volop opsies, sodat dit kortsigtig sou wees om te sê Netwerk 24 tas mis waar dit in vandag se hoofartikel onder meer skryf: “Wanneer die magshebbers dan vandag toenemend praat asof die Grondwet nie meer saak maak nie, is dit die moeite werd om woorde soos dié (van Mandela) te vier. Om ons te herinner dat ons Grondwet ’n saak is waarvoor mense gesterf het. Om wéér te bevestig dat ons dit nie sal prysgee ter wille van ’n individu (Zuma) se eng belange nie.”

Die Grondwet is nie volmaak nie, maar dit is nou al wat ons het om mee te werk, en dit gaan harde werk op talle fronte kos om die buigsaamheid in die grense daarvan so gestrek te kry dat dit tot voordeel van almal sal wees – ook die minderheidsgroepe.

Man kritiek ná hy om ‘geen rede’ op N3 geskiet is

$
0
0

Argieffoto: Netcare 911

ʼn 29-jarige vragmotorbestuurder van Pietermaritzburg is Donderdagoggend vroeg in ʼn kritieke toestand na die hospitaal gehaas toe hy glo sonder rede deur ʼn ander man op die N3 by die Kerkstraat-afrit geskiet is.

Chris Botha, Netcare 911-woordvoerder, sê die ambulansdiens is omstreeks 02:30 Donderdag na die toneel ontbied.

Botha sê hoewel die man in ʼn kritieke toestand is, kon hy daarin slaag om aan paramedici te vertel dat hy deur ʼn onbekende man in die maag geskiet is nadat hy by die Kerkstraat-afrit stilgehou het. Die man het gesê hy is om ‘geen rede’ geskiet.

Hy het glo uit die vragmotor gespring en te voet gevlug tot by ʼn nabye vulstasie, waar werknemers die polisie ontbied het.

Dit is nie seker waarom die vragmotorbestuurder stilgehou het nie, maar daar word vermoed dat hy vir die ander man ʼn saamrygeleentheid wou gee.

Volgens werknemers van die vulstasie is die bestuurder ʼn buitelandse burger.

Die polisie het teen Donderdagoggend nog nie meer inligting oor dié voorval gehad het nie, maar wel bevestig dat die saak ondersoek word.

Leeu-aanval: Huldeblyke stroom in ná seun sterf

$
0
0

Kristian Prinsloo. Foto: Facebook

Hartroerende huldeblyke van oor die hele Suid-Afrika én die buiteland het sedert Woensdag ingestroom nadat Kristian Prinsloo (12), die skoolseun wat vroeër vandeesmaand deur ʼn leeumannetjie aangeval is, Woensdagoggend oorlede is.

Kristian se ouers, Herman en Adri Prinsloo, het die tragiese nuus op ʼn Facebook-groep, wat ter ondersteuning van Kristian gestig is, bevestig. “Kristian Josef Armand Prinsloo is om 10:50 oorlede. Lief vir jou, my seun,” het hulle geskryf.

“Vandag is een van daardie dae wat ons nooit wou hê moes gebeur nie. Kristian – jy was ʼn wonderwerk vir jou ma en pa, ʼn vriend, ʼn kleinkind en iemand met soveel liefde en wie se lig net geskyn het. Soos ons groet, breek my hart, maar jy was een van God se mooiste blomme, en Hy het jou huis toe gevat,” het Rayne-Mari Muir geskryf.

“Mamma Adri, Pappa Herman en Ouma Marie. Vandag wil ons dat die Here almal se hande hoog hou. En weet, dierbare Heer, vandag gee ons u hoogste troon al die eer. U het besluit dis genoeg, en ek bring die familie tot by u troon. Dankie vir u pad vorentoe in hul lewe en dat hulle ook met hulle hande in U sʼn sal staan,” het Paul Badenhorst vir die familie gebid.

Die gesin word ook oorval met boodskappe van bemoediging. “Julle seun het derduisende harte gesteel in die kort tydperk. Hy het mense wêreldwyd geraak – jonk en oud. Ek kan my nie indink hoe julle moet voel nie, maar soos die liedjie sê: In the arms of the Angels. Dit is waar hy nou is met sy vriendelike glimlag,” skryf Yolanda Jacoby.

Dít is bloot ʼn tydelike skeiding tussen Kristian en sy ouers, het Mari Gerber bemoedig. “Jy het die wedloop voltooi en nou is jy ʼn engeltjie by Jesus. Sprei jou vlerke, my skat, en hou dit oor jou pappa-hulle.”

Honderde ander boodskappe het Donderdagoggend nog bly instroom op dié Facebook-blad.

Herman en Adri het in dié stadium nog nie weer met die media gepraat nie.

Lees die boodskappe en huldeblyke op die Kristian Prinsloo Facebook-blad.

Coligny-betogings: ‘Dís wat gebeur het’

$
0
0

Vragmotors wat deur betogers in Coligny in Noordwes aan die brand gesteek is (25 April 2017). Foto: Facebook via Marlene Roux

Pieter Karsten, die werkgewer van die twee mans van Coligny wat Woensdag in hegtenis geneem is in verband met die dood van ʼn kind, het vir die eerste keer met die media gepraat oor die gebeure in dié dorp wat gewelddadige betogings tot gevolg gehad het.

Karstens het in ʼn onderhoud met RSG se Monitor en Spektrum gesê inwoners van dié dorp het al Sondagmiddag, nog voor betogings op dié dorp begin het, gehoor dat mense die volgende dag in massas na die dorp gaan opruk om te betoog.

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes, het gesê die gemeenskap was glo ontevrede omdat die polisie “niks doen” om die seun se dood te ondersoek nie, maar brig. Sabata Mokgwabone, provinsiale woordvoerder van die polisie, sê ʼn geregtelike doodsondersoek is onmiddellik deur die polisie begin.

Betogings op die dorp het Maandag begin en intussen is huise en besighede geplunder en afgebrand.

Karsten meen dit alles is die gevolg van ʼn ongeluk.

“Die verwoesting van die aangeplante landerye is al vir lank ʼn kopseer,” sê hy aan RSG. “Ons het byna elke week moeilikheid en ons moes mense kry om ons landerye te beveilig.

“Ons manne [die twee mans wat in hegtenis geneem is] het toe twee van die jong seuns in die pad gesien wat met sonneblomme loop wat hulle gesteel het. Hulle het toe vir die seuns gesê om agter op die bakkie te klim sodat die mans hulle polisiestasie toe kon vat. Die een seun het weggehardloop en die ander seun het uit vrye wil agter op die bakkie geklim. Hulle het hom nie gedwing, geskiet, geslaan of hulle hande op hom gerig nie,” sê hy.

Karsten sê hoewel die mans geweet het dat niks daarvan sou kom as hulle die seuns by die polisie verkla nie, wou hulle hom net waarsku. “Die polisie sou hom waarskynlik sommer net ʼn waarskuwing gee, en dan sou hy gaan. Toe die mans egter op ʼn draai spoed verminder, het hy van die bakkie afgespring. Hy het sy nek gebreek.”

Mokgwabone het bevestig die mans sal Vrydag in die hof verskyn. Hulle name en die ligging mag egter nie bekend gemaak word nie.

Maroela Media het vroeër berig verskeie vragmotors en huise is die afgelope paar dae deur betogers aan die brand gesteek, winkels geplunder en talle ondernemings erg beskadig. Paaie in die gebied was met tye onbegaanbaar en talle voertuie is deur betogers met klippe bestook.

Nagenoeg 48 mense is tot dusver in hegtenis geneem. Ses mense is op aanklagte van openbare geweld in hegtenis geneem, terwyl twee vasgetrek is nadat hulle ʼn polisie-njala aan die brand gesteek het. Altesaam 42 mense is in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde goedere nadat hulle na bewering winkels in die gebied geplunder het.

Lees alle vorige berigte oor Coligny op  Maroela Media.


Brandstofpryse styg weer

$
0
0

Argieffoto

Die departement van energie het Donderdag aangekondig die prys van brandstof gaan op 3 Mei wéér styg.

Motoriste sal voortaan 49c per liter meer vir petrol opdok, en tussen 30 en 32c per liter vir diesel.

Dié aankondiging, wat op Vryheidsdag gemaak is, beteken die prys van petrol gaan vanaf 3 Mei die hoogste wees wat dit in die afgelope jaar en ʼn half was. Die prys van diesel was in die afgelope twee jaar ook nog nie só hoog nie.

Gas sal ook na verwagting met 96c per kilogram styg.

Volgens dié verklaring van die departement word die styging in pryse toegeskryf aan die swak rand teen die Amerikaanse dollar.

Die aankondiging volg kort nadat die departement einde Maart net voor die Paasnaweek ʼn daling in brandstofpryse aangekondig het.

‘Wittes van Suid-Afrika nie werklik vry op Vryheidsdag’

$
0
0

Pieter Groenewald tydens ‘n vorige toespraak in die parlement. Foto: Twitter

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het Donderdag gesê Vryheidsdag beteken nie werklik iets nie, omdat die ANC-regering deur onderdrukkende rassewette en kwetsende uitsprake ʼn nuwe verdrukking geskep het waaronder wit mense van die land nie vry kan wees nie.

Groenewald het gesê dié dag behoort gevier te word deur erkenning te gee aan die Grondwet wat veronderstel is om vryheid aan almal in Suid-Afrika te bring.

“Die Grondwet het nie vryheid vir almal gebring nie, en die VF Plus sal diskriminasie teen wittes beveg so lank as wat daar nie volle gelykheid en erkenning aan almal in die land gegee word soos deur die Grondwet se aanhef bepaal word nie.

“Die aanhef lui Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, en dat diegene wat hulle beywer het om die land op te bou en te ontwikkel, gerespekteer moet word.”

Groenewald het gesê in die praktyk word daar nie erkenning gegee aan almal nie deurdat die regerende ANC by monde van pres. Jacob Zuma die wit mense van Suid-Afrika beskuldig dat alles wat verkeerd gaan hulle skuld is.

“Pres. Zuma verkwalik die wittes vir die swak ekonomiese groei, werkloosheid en ongelykheid weens sogenaamde wit monopolie-kapitaal. Die retoriek dat wittes die land se grond gesteel het en dat dit daarom sonder vergoeding genasionaliseer moet word, is niks anders as ʼn aanslag teen wittes nie.

“Almal in Suid-Afrika moet gelyk erken en behandel word, maar tans word daar teen wittes en veral die wit jeug gediskrimineer deur regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB). Jong mense sukkel om beurse te kry en word beperk om toelating te kry tot mediese studie ten spyte van goeie akademiese prestasies, bloot op grond van hul velkleur. Die Grondwet het gewis nie vryheid vir almal in Suid-Afrika gebring nie.”

Man neem video van selfmoord oor vriendin hom los

$
0
0

James M. Jeffrey (Foto: Facebook/Daily Mail)

ʼn 49-jarige man van die Amerikaanse deelstaat Alabama het homself Woensdag doodgeskiet terwyl ʼn video van sy selfmoord regstreeks op sosiale media gebeeldsaai is.

Volgens polisieowerhede het die “erg ontstelde” James M. Jeffrey sy lewe geneem omdat hy en sy spesiale vriendin se paadjies geskei het.

Die Daily Mail berig Jeffrey se vriendin het glo minute vroeër die polisie gebel en gesê sy is bekommerd omdat hy nie meer sy selfoon antwoord nie.

Die polisie kon egter nie daarin slaag om Jeffrey se huis betyds te bereik nie, en hy het sy eie lewe geneem etlike minute voor hulle by sy huis opgedaag het.

ʼn Video van sy selfmoord, wat regstreeks op Facebook gebeeldsaai is, is nagenoeg 1 000 keer gekyk voor dit deur Facebook verwyder is.

Dit is die derde soortgelyke geval in April. Vroeër vandeesmaand het ʼn Thaise man eers sy 11 maande oue dogtertjie vermoor en toe homself geskiet, en ook ʼn video van die moord en selfmoord verfilm.

Twee mans van Afghanistan is ook verlede week in hegtenis geneem nadat hulle ʼn video van die bendeverkragting van ʼn tienermeisie op sosiale media gedeel het.

Maroela Media het ook vroeër berig oor die selfmoord van die Amerikaner Steve Stephens nadat hy oor Paasfees ʼn 74-jarige man doodgeskiet en ʼn video daarvan op sosiale media gedeel het. Stephens het later, voor hy deur polisie vasgetrek kon word, sy eie lewe geneem.

Bron: Daily Mail

Talle in Jhb beseer ná gasontploffing

$
0
0

Argieffoto.

Altesaam 13 mense is Donderdagmiddag in Doornfontein in Sentraal-Johannesburg beseer tydens ʼn gasontploffing by ʼn skrootwerf.

Chris Botha, Netcare911-woordvoerder, het gesê paramedici is na ʼn vulstasie in die omgewing ontbied nadat die brand van die skrootwerf versprei het.

Nege mense is ernstig beseer, twee is in ʼn kritieke toestand en twee mense het slegs geringe beserings opgedoen.

Botha sê mense moet veral waaksaam wees met die gebruik van gas in wintermaande wanneer daar ʼn toename in gasgebruik is. “As jy gasgereedskap gebruik, maak seker dat die toestelle deur handelaars goedgekeur en in ʼn goeie werkende toestand is selfs nog voordat jy dit gebruik.”

Nege pasiënte is deur Netcare911 en vier deur provinsiale paramedici na die hospitaal vervoer.

Die oorsaak van die ontploffing is nie bekend nie. ʼn Polisieondersoek duur voort.

Egpaar op plaas aangeval; een verdagte dood

$
0
0

Argieffoto: SAPD

Die polisie is op soek na drie mans wat Donderdagoggend vroeg ʼn egpaar op Lephalale aangeval, vasgebind en beroof het.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê vier gewapende mans het die man (73) en sy vrou (58) met pistole aangehou voor die verdagtes hulle vasgebind het.

Die verdagtes het die egpaar daarna van hulle pistole en ander waardevolle items soos selfone beroof.

Volgens Ngoepe kon die man daarin slaag om hom los te wikkel en ʼn ander pistool, wat in die huis weggesteek was, te gryp. Hy het daarna op die verdagtes losgebrand.

Die verdagtes het glo al die gesteelde goedere, afgesien van een selfoon, neergegooi en hulself uit die voete gemaak.

Die polisie is na die toneel ontbied en het die verdagtes agterna gesit. Een van die verdagtes, ʼn 20-jarige man, is dood langs die pad aangetref.

Ngoepe sê ʼn grootskaalse soektog na die ander drie verdagtes duur voort.

Enigiemand met inligting word versoek om die polisie  by 086 001 0111 (misdaadnoodlyn) te bel.

‘SA benodig leiers met waardes, integriteit’, sê Ndileka Mandela

$
0
0

Ndileka Mandela saam met Kenneth Meshoe van die ACDP, Mosiua Lekota van Cope en Mmusi Maimane van die DA (Foto: ANA)

Die ontslape voormalige Suid-Afrikaanse pres. Nelson Mandela se oudste kleindogter het Donderdag tydens ʼn byeenkoms gesê Suid-Afrika benodig dapper leiers met morele waardes en integriteit wat die Grondwet sal handhaaf.

Ndileka Mandela (52) het gepraat tydens ʼn Freedom Movement-byeenkoms in Pretoria waar talle politieke leiers ʼn beroep op pres. Jacob Zuma gedoen het om af te tree.

Die byeenkoms is juis op Vryheidsdag gehou om presies 23 jaar van demokrasie te herdenk.

“Vandag is ʼn dag wat ons onsself moet herinner wie ons as mense is en waarvoor ons staan as ʼn volk. Ons is ʼn nie-rassige en nie-seksistiese demokratiese land wat soos een mens moet baklei vir ons demokrasie, ongeag ons politieke oortuigings, ras en geloof.

“Ons doen ʼn beroep op ons leiers om altyd die Grondwet te respekteer. Ons vra ook die regering om na ons stemme te luister, na ons sorge en vir ons gelyke kanse te gee in terme van onderwys, werk en voordeel trek uit Suid-Afrika,” het sy gesê.

Politieke leiers hou hande vas om te wys dat saam staan vir SA se demokrasie ongeag ras en geloof (Foto: ANA)

Mandela het vroeër vandeesmaand erken dat sy nooit weer vir die ANC sal stem nie, en gesê dat sy haar geloof in dié party verloor het ná die Sassa-skandaal.

Die byeenkoms is oorheers deur lede van die DA.

Die leier van dié party, Mmusi Maimane, het ná die geleentheid gesê daar gaan nog talle sulke byeenkomste wees. Hy het ook gesê daar sal ʼn optog wees op dieselfde dag as wat die Nasionale Vergadering in ʼn mosie van wantroue teen Zuma stem.

“Selfs al weier Zuma om na die betogers te luister, is hy steeds besig om sy leierskap te verloor en al meer Suid-Afrikaners begin saamstaan sodat hy uit sy amp ontslaan kan word.”

[Spotprent] Só ‘vry’ is ons op Vryheidsdag

$
0
0

Vryheidsdag word jaarliks op 27 April gevier. Vanjaar vier Suid-Afrika 23 jaar sedert die land in 1994 ʼn demokrasie geword het. Hoe ‘vry’ is ons wérklik? Dís die vraag wat Jerm met dié spotprent takel.

Spotprent deur Jerm (27 April 2017)

Sien alle vorige spotprente


Nuuskommentaar: Stryd teen Zuma voor groot toets op Werkersdag

$
0
0

Pres. Jacob Zuma tydens Donderdag se Vryheidsdagvieringe. Foto: Kopano Tlape/GCIS

’n Tradisionele gebruik tydens Cosatu se tradisionele hooffunksie tydens sy jaarlikse Meidagviering het nou onverwags vir pres. Jacob Zuma en die ANC ’n baie warm patat geword. Die saak sal waarskynlik voor Maandag agter die skerms vir vertoon na buite tot rus gebring word, maar agter die skerms sal die bloedlating nie sommer ook so onder die mat ingevee kan word nie.

’n Interessante aspek rakende die stryd om van pres. Jacob Zuma ontslae te raak, speel hom nou af – maar dié keer binne die drieparty-alliansie. Zuma is geskeduleer om op Werkersdag Cosatu se hoofsaamtrek, wat dié keer in Bloemfontein plaasvind, by te woon en toe te spreek, maar dit is by voorbaat in omstredenheid gedompel nadat ’n brief van een van die filiale, Nehawu, uitgelek het waarin gevra word dat Zuma as spreker onttrek word.

Ook die Kommunikasiewerkersvakbond het so ’n brief aan Cosatu gestuur.

Dié onvrede is geen verrassing nie, aangesien Cosatu, soos die derde alliansievennoot, die SAKP, die veldtog en oproepe steun dat Zuma as president sy tassies moet pak.

Maar heeltemal so eenvoudig is dit nie.

Binne die tipe vakbondwese wat Cosatu verteenwoordig, is die sekretaris-generaal dikwels die belangrikste funksionaris. Toe Zuma rondom die Marikana-gebeure sy Zumafikasie en Zoeloefikasie van instansies wat Cosatu insluit die hardste gedryf het, het hy daarin geslaag dat sy bondgenoot, Sidumo Dlamini, dié vakbondfederasie se president word. Die werklike gesag en gesig van Cosatu was egter die sekretaris-generaal, Zwelinzima Vavi. Daar sou op ’n ander manier van Vavi ontslae geraak moes word. Vavi het nie lekker met Zuma gestryk nie, en hy is later behoorlik uit Cosatu uitgewerk. Dit het daartoe bygedra dat Numsa, wat tradisioneel Cosatu se ruggraat was, maar met die opkoms van die onafhanklike Amcu na die derde plek teruggesak het, ook uitgewerk is.

Die somtotaal is dat Cosatu nie meer die krag binne die ANC is wat dit was nie.

Cosatu het tradisioneel aan die ANC ’n belangrike logistieke onderbou tydens verkiesings gegee. Dit geld ook ander liggame soos die ANC se jeugliga wat sedert Zuma se bewindsaanvaarding heelwat in statuur verloor het.

Met Vavi uit, en Dlamini as president, het die pad geplavei gelyk vir Zuma om ook op Cosatu as bondgenoot te kon reken, al was dit dan ook ’n verswakte vennoot. Maar Cosatu het nogtans besluit om Zuma die rug toe te keer, en onder meer besluit om Zuma se 75ste verjaardagpartytjie te boikot. Dlamini het egter wel opgedaag en ook sy steun aan Zuma toegesê, iets waarvoor hy amptelik deur Cosatu gerepudieer is.

Daar is heelwat tradisie ingebou in die hooffunksie van Cosatu se Meidagviering. Die verrigtinge word onder andere deur die president van Cosatu, asook die leier van die SAKP toegespreek, en die ANC, wat ook genooi word om ’n spreker te stuur, “ontplooi” dan ook sy president. Dit was dus eintlik ’n vanselfsprekende verwikkeling dat Zuma as spreker “ontplooi” sou word.

In sekere sin sou dit ook ’n veilige keuse kon wees. Die Vrystaat se premier is deel van die sogenaamde Premierliga wat Zuma sterk steun. Premier Ace Magashule het baie sterk aanhang wat sy teenstanders in die ANC oordonder. Sy betrokkenheid sou verseker dat daar baie Zuma-ondersteuners by die verrigtinge sou wees.

Nehawu en die kommunikasiewerkersvakbond redeneer egter dat dit onbehoorlik sou wees dat Cosatu formeel om Zuma se kop op die skavot roep, maar dat hy nogtans een van die hoofsprekers by hul hooffunksie sal wees. Met ook dr. Blade Nzimande, die SAKP-grootbaas, as spreker is daar minstens een spreker wat geen ooghare vir Zuma het nie. Dlamini sal waarskynlik weer vir Zuma in die bres tree, en interne ontevredenheid binne Cosatu verdiep. Cosatu kan dit nie werklik bekostig nadat Vavi die leiding geneem en tot leier verkies is van die nuwe vakbondfederasie, South African Federation of Trade Unions (SAFTU), nie. Nog Cosatu-vakbonde kan besluit om te dros.

Zuma self sou ook geadviseer word om die eerbare ding te doen en hom as spreker te onttrek. Zuma self het egter tot dusver die optogte en protesaksies teen sy voortgesette presidentskap afgemaak, en selfs in pseudo-godsdienstige terme veroordeel omdat teen hom, as aangewys deur God, in opstand gekom is.

Die paleisrewolusie binne die ANC raak nou erg ingewikkeld. In sy hofstukke om die UDM se aansoek voor die konstitusionele hof teen te staan dat die komende mosie van wantroue in die parlement per geheime stem plaasvind, voer Zuma onder meer aan dat drie van die ANC se groot ses wat sy kabinetskommeling gekritiseer het, sedertdien “in die openbaar” om verskoning gevra het. Die drie, Gwede Mantashe, Cyril Ramaphosa en dr. Zweli Mkhize, het egter nou op ’n streep ontken dat hulle enigsins vir hul kritiek om verskoning gevra het. Hiermee beskuldig hulle by implikasie vir Zuma dat hy in sy stukke aan die konstitusionele hof meineed gepleeg het.

Suid-Afrikaners sal nie lank hoef te wag om te sien hoe die paleisrewolusie vir Maandag se Bloemfonteinse verrigtinge ontplooi nie. Na verwagting sal op hoë vlak skadebeheer toegepas word, en van grootskaalse “window dressing” gebruik gemaak word om die vonk weg van die petrol te hou.

Maar agter die skerms gaan die bloedvloei nie sommer gestuit word nie, en Zuma se posisie al meer onder druk kom – ironies teen die agtergrond dat Zuma se posisie juis weens die druk in ander ANC-sektore nou versterk word.

Dit verhoog op die lange duur die kanse vir ’n skeuring.

Coligny: Seun se identiteit steeds nie bekend; mans in hof

$
0
0

Vragmotors wat deur betogers in Coligny in Noordwes aan die brand gesteek is (25 April 2017). Foto: Facebook via Marlene Roux

Die 12-jarige seun wat in Coligny in Noordwes dood is nadat hy na bewering van ʼn bewegende bakkie afgespring het, was teen Donderdagmiddag, ʼn week ná sy dood, steeds nie geïdentifiseer nie.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, het bevestig die polisie sukkel steeds om die seun se identiteit vas te stel. Intussen sal twee mans vandag in die hof verskyn in verband met die seun se dood.

Maroela Media het vroeër berig Pieter Karsten, die werkgewer van die twee mans, het in ʼn onderhoud met RSG se Monitor en Spektrum gesê die mans het twee seuns betrap dat hulle sonneblomme uit boere se landerye gesteel het. Hulle het vir die seuns gesê om agter op hul bakkie te klim sodat die mans hulle polisiestasie toe kon vat. Die een seun het weggehardloop en die ander seun het agter op die bakkie geklim.

Karsten beweer toe die bakkie om ʼn draai spoed verminder het, het die seun van die steeds bewegende voertuig afgespring. Hy het ernstige beserings opgedoen en is later oorlede.

Sy dood het gewelddadige betogings tot gevolg gehad waartydens minstens drie huise en drie vragmotors aan die brand gesteek en verskeie winkels geplunder is.

Mokgwabone het vroeër gesê die twee mans, onderskeidelik 26 en 33 jaar oud, is Dinsdag in verband met die seun se dood in hegtenis geneem.

Talle ander verdagtes is ook in hegtenis geneem in verband met die geweld, beskadiging van eiendom en plundering van winkels in dié dorp, asook in Blydeville net buite Lichtenburg.

Lees alle vorige berigte oor Coligny op Maroela Media.

Spur sê jammer en kondig aksieplan aan

$
0
0

Argieffoto

Die restaurantgroep Spur het ʼn amptelike aksieplan aangekondig ná die voorval by die Texamo Spur by The Glen-winkelsentrum in Maart vanjaar.

Die organisasie sê in ʼn verklaring hy het “tyd gehad om te besin” oor die groep se optrede voor, gedurende en ná die voorval waarin ʼn man en ʼn vrou mekaar verskree en byna te lyf gegaan het oor bewerings dat die vrou se seun glo die man se seun geboelie het.

In ʼn onderhoud met Maroela Media op 22 Maart het die organisasie gesê ʼn deeglike ondersoek het getoon dat Lebohang Mabuya, die vrou, se weergawe van die voorval akkuraat is.

Sy het aangevoer dat die man haar kind aggressief gegryp het en dat die onderonsie vandaar ontstaan het.

“Spur wil van hierdie geleentheid gebruik maak om die publiek om verskoning te vra. Ons reaksie het tekortgeskiet en nie voldoen aan ons gewone hoë standaarde nie. Ons moes beter gevaar het. Ons verwag dit van onsself en ons glo Suid-Afrikaners verdien beter,” lui die verklaring.

Die organisasie het gesê hy het sedert die voorval aan ʼn aksieplan gewerk om sy “tekortkomings in die hanterings van die saak aan te pak”.

Die groep het onder meer prof. Elmien du Plessis van die regsfakulteit aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, ook ʼn lid van die Menseregtekomitee van die NWU, genader om ʼn paneel kenners saam te stel om ʼn indiepte-ondersoek te doen van al die relevante aspekte van die voorval op 19 Maart en hoe dit sedertdien hanteer is.

“Die paneel sal heeltemal onafhanklik wees en onbeperkte toegang hê tot alle feite en opnames wat betrekking het op die voorval. Die span sal aanbevelings aan Spur maak oor stappe wat gedoen kan word om tekortkomings in ons reaksie reg te stel en ook ons hantering van soortgelyke voorvalle in die toekoms te rig.”

Die organisasie het gesê hoewel hy die dringendheid van die kwessie aan Du Plessis oorgedra het, sal die saak na alle verwagting ʼn geruime tyd neem om af te handel. Verdere besonderhede oor die paneellede en die tydlyn sal weldra bekend gemaak word.

“Ongeag die bevindings en aanbevelings van die paneel, het almal by Spur dit eens dat sekere onmiddellike stappe genoodsaak is. Ons het reeds ʼn nasionale aksieplan van stapel gestuur om die verhouding tussen kinderoppassers en kinders in ons Play Canyons-speelplekke te vergroot, sodat daar meer volwasse toesig is.

“Ons het ook ʼn heropleidingsaksie begin wat ten doel het om die kundigheid en vaardighede van kinderoppassers te verskerp. Ons stel tans planne in werking om die veiligheid van kliënte en personeel in ons restaurante te verseker.”

Lees alle vorige berigte oor Spur op Maroela Media.

Man sterf toe motor teen trok bots

$
0
0

Foto: ER24

ʼn Man is Vrydag in die vroeë oggendure dood nadat sy motor op die N1 Suid in Centurion van agter teen ʼn vragmotor gebots het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die ongeluk het omstreeks 04:00 net voor die John Vorster-afrit gebeur. Die man was vermoedelik in sy 40’s.

“Paramedici het met hul aankoms op die toneel die wrak van die motor in die vinnige baan op die snelweg gevind, terwyl die vragmotor in die noodbaan geparkeer was. Die bestuurder van die motor was in die wrak vasgekeer. Hy het ongelukkig reeds aan sy veelvuldige beserings beswyk,” het Meiring gesê.

Hy het gesê die vragmotorbestuurder was ongedeerd.

Die oorsaak van die ongeluk sal deur die polisie ondersoek word.

‘Zim-soldate’-uitlating lei tot diplomatieke relletjie

$
0
0

Fikile Mbalula, minister van polisie (25 April 2017) Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Zimbabwe se ambassadeur in Suid-Afrika het sy ongelukkigheid te kenne gegee oor Fikile Mbalula, minister van polisie, se uitlatings.

Isaac Moyo het die departement van internasionale betrekkinge vroeër die week besoek om sy ongelukkigheid uit te spreek rakende Mbalula se uitlatings.

Mbalula het gesê lede van die Zimbabwiese nasionale weermag, wat van militêre diens in hul land wegvlug, neem deel aan gewelddadige misdaad in Suid-Afrika.

Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge, het bevestig Moyo het die departement genader oor Mbalula se uitlatings.

Hy kon egter nie bevestig dat Simbarashe Mumbengegwi, Zimbabwe se minister van buitelandse sake, vir Mphakama Mbete, Suid-Afrika se ambassadeur in Zimbabwe, ontbied het om Mbalula se opmerkings te verduidelik nie.

“Hulle is oudsoldate van Zimbabwe wat in die land is, wat banke beroof en misdaad pleeg. Hulle hardloop weg van oom Bob [Zimbabwiese president Robert Mugabe],” het Mbalula tydens ʼn perskonferensie in Pretoria gesê.

Die minister het egter gesê sy uitlatings is nie xenofobies nie.

“Zimbabwiërs werk in ons land – baie goeie Zimbabwiërs. Hulle werk in ons kombuise, hulle doen alles, hoogs opgeleide mense. As daar iets is wat pres. Mugabe gedoen het, was dit om sy mense op te lei. Die mense wat in jul kombuise werk, is dokters. Hulle is hoër gekwalifiseerd as julle. Hulle is van Zimbabwe,” het Mbalula bygevoeg.

Viewing all 56621 articles
Browse latest View live