Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all 56621 articles
Browse latest View live

Rasse-konflik is slegs ʼn rookskerm vir vandalisme in Coligny

$
0
0

Betogings in Coligny en Lichtenburg in Noordwes (April 2017). Foto: Facebook via Intelligence Bureau SA

Die bewering dat die plundering en die brand van winkels en woonhuise in Coligny die gevolg is van ʼn rassevoorval waar ʼn boer die dood van ʼn twaalfjarige swart seun veroorsaak het, is bloot ʼn rookskerm om winkels in Coligny te plunder.

Só sê Pieter Groenewald, leier van die VF Plus. Hy het Coligny vandag besoek om eerstehands vas te stel wat die oorsaak van die gewelddadigheid is, en hoe die situasie tans daar uitsien.

Hy het onder meer gesprek gevoer met die polisie-generaal wat in operasionele beheer van die omgewing staan en is die versekering gegee dat die situasie onder beheer is en dat polisieversterkings op pad is om die geweldpleging die hoof te bied.

Groenewald sê dit was veral opvallend dat feitlik al die drankwinkels op die dorp, insluitende die hotel se kroeg, geplunder is. Twee privaat wonings wat aan die kant van die dorp, naby die informele nedersetting geleë is, is ook afgebrand deur betogers.

Hy sê die situasie is nou onder beheer gebring en die polisie het onderneem om ander private wonings op die dorp te beveilig.

“Ek het gisteraand ook met die nasionale kommissaris van polisie gepraat oor verdere versterkings omdat die polisie aanvanklik nie genoeg lede op die brandpunte gehad het nie en omdat hulle aandag gefokus was op Lichtenburg, sowat 30km van Coligny.

“Die gemeenskap self is ook goed georganiseer en by geleentheid moes gemeenskapslede die polisie bystaan omdat daar slegs een Nyala-voertuig met sowat ses polisielede teenwoordig was.

“Ek spreek my dank uit teenoor die gemeenskapslede wat weereens getoon het ons moet in noodsituasies self paraat en gereed wees omdat daar nie ten alle tye van die polisie verwag kan word om die publiek en hul eiendom op kort kennisgewing te beveilig nie,” het Groenewald bygevoeg.

Lees alle vorige berigte oor die geweld op Lichtenburg en Coligny op Maroela Media.


[Foto’s] Coligny-betogings: ‘Ek moes magteloos staan en toekyk’

$
0
0

Foto: Cobus van Tonder.

Betogers het Dinsdag chaos gesaai in Coligny, Noordwes, deur vragmotors en huise aan die brand te steek en winkels te plunder.

Cobus van Tonder, bestuurder van TCC Bande en Vervoer, het aan Maroela Media gesê hulle het massiewe skade gely.

“Ek was gisteroggend by die werk en het hulle toe gehoor aankom, ek het alles gesluit en huis toe gegaan,” het van Tonder gesê. “Die man van die onderneming oorkant die pad het my gebel en gesê hulle is besig om alles af te brand. Ek het soontoe gery en magteloos by die palissades gestaan en kyk hoe brand hulle my vragmotors af.”

Van Tonder het gesê die erf waarop die besigheid geleë is, is 2,8 ha groot. “Daar was ganse en van my kinders se skapies ook daar. Hulle het die diere gejaag, oor hul skouers gegooi en hulle uit die voete gemaak daarmee,” het Van Tonder verduidelik.

Drie van sy vragmotors is aan die brand gesteek. “Een smeul steeds. Dié wat hulle nie afgebrand het nie, het hulle by die windskerms en kantvensters uitgegooi. Hulle het my laaigraaf se vensters ook uitgegooi.”

Van Tonder sal Woensdagoggend met sy versekeringsmaatskappy begin gesels oor wat alles gesteel of vernietig is. “Sover weet ek van al die skootrekenaars, gelukkig het ek my persoonlike een by my gehad.”

Van Tonder het via ander bronne verneem dat die betogers hom teiken omdat hy glo die grond ‘gesteel en onwettig bekom’ het. “Ek het hierdie grond in 2002 op ʼn veiling gekoop,” het Van Tonder gesê.

Volgens hom kan hy die betogers aan die ander kant van die spoorlyn hoor skree. “Hier klap ʼn skoot, daar skree ʼn kleintjie.” Hy het gesê die dorp het Woensdag vroegoggend rustig gelyk.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê een trekker, drie vragmotors en drie huise in die dorp is Dinsdag afgebrand. “Geen beserings is aangemeld nie. Dit lyk asof daar niemand in die huise was toe dit aan die brand gesteek is nie.”

Coligny-betogings: Twee vas ná kind se dood

$
0
0

Vragmotors wat deur betogers in Coligny in Noordwes aan die brand gesteek is (25 April 2017). Foto: Facebook via Marlene Roux

Twee verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die dood van ʼn kind in Coligny wat gewelddadige betogings tot gevolg gehad het.

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes, het bevestig twee verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die dood van die 12-jarige kind. Hy het die polisie geloof vir hul vinnige reaksie.

Brig. Sabata Mokgwabone, provinsiale woordvoerder van die polisie, het vroeër aan Maroela Media gesê die betogings in Lichtenburg hou glo met dienslewering verband, terwyl die geweld in Coligny met die dood van ʼn seun verband hou.

Volgens Mokgwabone het die seun glo Donderdag van ʼn bakkie afgeval of afgespring en ernstige beserings opgedoen. Hy is later in die hospitaal oorlede. Die gemeenskap was glo ontevrede omdat die polisie “niks doen” om die seun se dood te ondersoek nie, maar Mokgwabone sê ʼn geregtelike doodsondersoek is onmiddellik deur die polisie begin.

Die identiteit van die seun en die presiese omstandighede rondom sy dood is nog nie bekend nie en dit vorm deel van die polisie se ondersoek. Mokgwabone het gesê die verdagtes sal na verwagting Vrydag in die plaaslike landdroshof verskyn.

Mahumapelo het intussen ʼn taakspan aangestel om die gewelddadige betogings waartydens vragmotors, huise en polisievoertuie aan die brand gesteek en talle eiendomme beskadig is, te ondersoek. Die taakspan is op die been gebring om die betogende inwoners van die Ditsobotla plaaslike munisipaliteit se klagtes te ondersoek. Hy het ook ʼn beroep op inwoners gedoen om kalm te bly en hulself van gewelddadige optrede te weerhou.

Die taakspan bestaan uit vyf LUR’e en twee burgemeesters en word deur Sello Lehari, LUR vir onderwys en sportontwikkeling, gelei. Die span sal vandag met verskeie rolspelers vergader en deurlopend aan Mahumapelo terugvoering gee.

SAL-kajuitpersoneel staak oor kostoelaag

$
0
0

Foto: ANA

Kajuitpersoneel van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het Woensdagoggend voor die lugredery se hoofkantoor in Kempton Park begin betoog.

Nagenoeg 1 300 lede, sowat 85%, van kajuitpersoneel neem glo aan die staking deel en eis dat hul internasionale kostoelaag van $130 (R1 710) na $170 (R2 236) verhoog word. Volgens die South African Cabin Crew Association (SACCA), wat die werkers verteenwoordig, is die toelaag die afgelope ses jaar nie aangepas nie.

SAL het intussen bevestig daar is vertragings en kansellasies weens die stakings. Tlali Tlali, woordvoerder van SAL, het gesê vlugte wat vroegoggend van kusstede moes vertrek, is die ergste geraak deur die stakings.

Tlali het gesê die vereiste aantal kajuitpersoneellede is nie tans beskikbaar om sekere vlugte te kan bedryf nie. “SAL sal deurlopend kommunikeer oor watter opsies beskikbaar is om die uitwerking van die vertragings te probeer beperk.”

Reisigers kan SAL nader vir meer inligting:
Johannesburg-inbelsentrum: 011 978 1111 of 0861 606 606
Webwerf: www.flysaa.com
Facebook: www.facebook.com/flysaa
Twitter: Twitter.com./flysaa

Ouers en seun se lyke in huis gevind

$
0
0

Argieffoto: Kent Williamson

Drie gesinslede is Sondagaand in hul huis aan die Oos-Rand doodgeskiet.

Kapt. Mega Ndobe, woordvoerder van die polisie, het gesê die gesin se dogter (43) het Maandagoggend op haar pa (63), ma (62) en broer (27) se lyke afgekom waar hulle in ʼn plas bloed gelê het.

Die gesin van vier het saam in die huis in Spruitview in Katlehong gewoon. “Sy het onmiddellik na haar naaste polisiestasie gery en die voorval aangemeld. Niks is tydens die voorval gesteel nie,” het Ndobe gesê.

Volgens Ndobe is daar ʼn vuurwapen op die toneel gevind. “Ná ʼn ondersoek het dit aan die lig gekom dat dit die man se gelisensieerde vuurwapen is,” het Ndobe verduidelik.

“Die omstandighede rondom die skietery is glad nie duidelik nie. Ons ondersoek tans ʼn saak van moord, maar dit kan ook verander.”

Die wêreld in foto’s – 26 April 2017

$
0
0

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Die Suid-Koreaanse weermag lanseer verskeie vuurpyle tydens ʼn oefenlopie saam met die VSA in Pocheon, Korea. Foto: Ahn Young-joon, AP

ʼn Vrou en haar kinders loop verby ʼn muur vol koeëlmerke weens die konflik tussen polisie en bendes in Rio de Janeiro, Brasilië. Foto: Silvia Izquierdo, AP

ʼn Ortodokse priester woon ʼn gedenkdiens in die Oekraïne by wat die slagoffers van die Tsjernobyl-kernramp vereer. Dit is 31 jaar sedert die ramp. Foto: Sergei Chuzavkov, AP

Mediese studente van Thailand neem ʼn oomblik van stilte by kadawers om hul dankbaarheid te betoon aan die mense wat bereid is om hul liggame te skenk vir die Chulalongkorn-hospitaal in Bangkok. Foto: Sakchai Lalit, AP

Kinders ry op ʼn mallemeule tydens Moulid, ʼn godsdienstige fees in Kaïro, Egipte. Foto: Amr Nabil, AP

Staat se kernkragplan onwettig

$
0
0

Omgewingsaktiviste buite die Wes-Kaapse hooggeregshof. Foto: Catherine Rice/ANA

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het Woensdag bevind die staat se verkrygingsprosesse vir sy kernkragbouprogram is onwettig en ongrondwetlik.

Aktiviste van Earthlife Africa het ná afloop van die hof se uitspraak verheug buite die hof in die reën gedans.

Earthlife Africa en die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskap se Omgewingsinstituut (Safcei) het in 2015 die saak by die hof ingedien. Die aktiviste het aangevoer die regering kan nie die een duisend miljard rand bekostig wat dit sal kos om met die kernkragbouprogram voort te gaan nie.

Hulle het ook gesê die regering het nie openlik opgetree toe hy ʼn ooreenkoms as deel van die program onderteken het nie. Die organisasies het die regering daarvan beskuldig dat die regte prosedures nie gevolg is deurdat die planne nie eers in die parlement gedebatteer is nie.

Regter Lee Bozalek het in sy uitspraak, wat hy voor ʼn volgepakte hofsaal gelewer het, die Suid-Afrikaanse regering se ooreenkomste met Rusland, die VSA en Suid-Korea ter syde gestel.

Die hof het ook bevind Tina Joemat-Petersson, die voormalige minister van energie, het onwettig opgetree toe sy in 2016 die verkryging van kernkrag na Eskom oorgeplaas het.

Statistieke dui op drastiese toename in plaasmoorde

$
0
0

Foto: Rozier van Tonder

Die plaasmoord- en plaasaanvalstatistieke vir die finansiële jaar 2016-’17 is vandag deur die AfriForum Navorsingsinstituut (ANI) in Pretoria bekend gestel.

Die getal bevestigde plaasaanvalle vir die tydperk 2016-’17 is 357 en die getal plaasmoorde ’n kommerwekkende 74.

AfriForum het ook vandag met ’n konvooi na die Uniegebou gery waar ’n petisie met 175 000 name teen plaasmoorde aan die presidensie oorhandig is. Die sanger Steve Hofmeyr was ook deel van die konvooi.

Lorraine Claasen, misdaadontleder by ANI, sê dat plaasmoorde ook vanjaar internasionaal onder ’n groter soeklig geplaas is, veral nadat landsburgers van onder meer Brittanje en Nederland onlangs slagoffers van plaasmoorde in Suid-Afrika was.

“As die frekwensie van plaasaanval- en plaasmoordvoorvalle deur die 2017-kalenderjaar dieselfde bly, blyk dit dat die syfers weer gaan toeneem. Tot dusver is 113 aanvalle en 29 plaasmoordvoorvalle geverifieer.”

Claasen sê voorts dit is van uiterste belang dat alle mense in landelike gebiede hul veiligheid opskerp. AfriForum moedig gemeenskappe aan om betrokke te raak by sekuriteitsnetwerke in hul omgewing. “Dit is noodsaaklik om dit vir die aanvallers so moeilik moontlik te maak om by die wonings toegang te verkry,” sluit Claasen af.

Slagoffers en/of familie van slagoffers van plaasaanvalle word aangemoedig om voorvalle by stopdiemoorde@afriforum.co.za of stopthemurders@afriforum.co.za aan te meld.

Die tydperk vir dié syfers is van kalenderjaar na finansiële jaar verander sodat dit met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se jaarlikse misdaadstatistiekeverslag vergelyk kan word.


Trokke tydens Limpopo-betoging verwoes

$
0
0

Foto: SAPD

Minstens vier vragmotors is Dinsdagaand buite Phalaborwa in Limpopo verwoes nadat woedende betogers paaie afgesper en voertuie aan die brand gesteek het.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie is omstreeks 22:00 na die toneel naby Ga-Makhushane ontbied.

“Met hul aankoms was vier vragmotors, wat aan verskillende maatskappye behoort, reeds aan die brand gesteek en heeltemal uitgebrand,” het Ngoepe gesê. “Sewe ander vragmotors is uit die parkeerdepot na veiligheid by ʼn plaaslike myn gelei.”

Ngoepe het gesê die betoging hou vermoedelik verband met vorige klagtes van inwoners oor die myne in die gebied. Hy kon egter nie bevestig presies waaroor die inwoners ontevrede is nie.

Volgens Ngoepe is sake van opsetlike saakbeskadiging en openbare geweld aanhangig gemaak. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die polisie is steeds besig om die situasie in die gebied te monitor.

AfriForum het ʼn plan om SA se misdaadprobleem hok te slaan

$
0
0
isdaad-polisie-crime-scene-kent-williamson-3

Argieffoto: Kent Williamson

Die burgerregte-organisasie AfriForum sal op Saterdag 6 Mei ʼn nasionale veiligheidstrategie, genaamd Projek Nehemia, bekendstel in ʼn poging om Suid-Afrika se groeiende misdaadprobleem te bekamp.

“Met sowat 18 000 moorde wat per jaar gepleeg word, kan ons eenvoudig nie meer terugsit en toelaat dat nog ʼn landsburger ʼn syfer in hierdie skokkende statistieke word nie. Gemeenskappe is ʼn integrale deel in die bekamping van misdaad.

“Ons grootste probleem is tans dat daar talle suksesvolle veiligheidstrukture is, maar geen nasionale plan om hulle doeltreffend te laat saamwerk nie,” het Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, gesê.

Volgens Cameron is die bekendstelling van die nasionale strategie deel van ʼn veiligheidsberaad wat AfriForum saam met die Solidariteit Beweging by die Heartfelt Arena in Pretoria sal hou. Talle kenners sal verduidelik hoe uiters belangrik gemeenskappe se rol in misdaadbekamping is. Konferensiegangers sal ook kan sien wie is van die hoofrolspelers in die geveg teen misdaad.

“Kenners gaan ook verduidelik hoe gemeenskappe en individue in die geveg teen misdaad betrokke kan raak. Gemeenskappe moet eenvoudig begin om hulle binne die wetlike raamwerk self te beveilig. Buurt- en plaaswagte is bewese konsepte wat misdaad saam met die polisie en privaat sekuriteit kan hokslaan. Dit is al herhaaldelik bewys.”

Afgetrede genl. Roland de Vries, ʼn raadgewer vir Projek Nehemia, is een van die sprekers tydens die beraad en sal verduidelik hoe inligting doeltreffend gebruik kan word om misdaad te bekamp. “Die strategie van Projek Nehemia is inklusief en het ten doel om alle gemeenskappe met inligtingsbestuur en misdaadvoorkoming deur ʼn nasionale netwerk te help.”

Tydens die beraad sal daar ook gefokus word op:

  • Die vestiging van ’n nasionale operasionele vermoë binne die wetlike raamwerk.
  • Die vestiging van ’n nasionale veiligheidstelsel in samewerking met alle rolspelers.
  • Die skep van ’n nasionale bewustheid om gemeenskappe te mobiliseer om saam te werk in die stryd teen misdaad.
  • Die werf van nasionale en internasionale steun.

Van die ander sprekers vir die dag sluit in: Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, Yusuf Abramjee, gemeenskapsaktivis, wat sal praat oor die rol van die burgerlike samelewing in die stryd teen misdaad en Mosiuoa Lekota, leier van Cope, wat sal praat oor die impak van misdaad op landelike gebiede.

Dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies sal internasionale voorbeelde gee van hoe samelewings teen misdaad kan veg, terwyl Ben Freeth, ’n boer van Zimbabwe, sal verduidelik wat Suid-Afrika se voorland is indien niks gedoen word nie.

Verskeie misdaadvoorkomingorganisasies soos onder meer ER24, Hi-Risk Unit, Golan Krav Mag Internasionaal, Legally Armed, die Tshwane-metropolisie, Suid-Afrikaanse polisiediens, AfriForum 911 en C-Track sal ook tydens die beraad uitstallings hou.

Daar is minder as ʼn week oor om te registreer vir die beraad. Bespreek jou sitplek by hierdie geleentheid deur www.veiligheidsberaad.co.za te besoek.

Seun sterf ná leeu-aanval

$
0
0

Kristian Prinsloo. Foto: Facebook

Kristian Prinsloo (12), die skoolseun wat vroeër vandeesmaand deur ʼn leeumannetjie aangeval is, is Woensdagoggend oorlede.

Kristian se ouers, Herman en Adri Prinsloo, het die tragiese nuus op ʼn Facebook-groep, wat ter ondersteuning van Kristian gestig is, bevestig. “Kristian Josef Armand Prinsloo is om 10:50 oorlede. Lief vir jou my seun,” het hulle geskryf.

Kristian het Dinsdag sy 12de verjaarsdag in die Mediclinic Muelmed in Arcadia, Pretoria, gevier waar hy behandel is sedert die voorval op 8 April. Hy was sedert die leeuaanval in ʼn koma en het ook bronchitis opgedoen.

Maroela Media het vroeër berig Kristian is op ʼn landgoed naby Lephalale (Ellisras) in Limpopo deur ʼn leeumannetjie aangeval. Marie Strydom (75), Adri se ma, het die leeu van Kristian afgestoei.

Kristian, ʼn gr. 6-leerder aan die Laerskool Louis Leipoldt, het oudergewoonte dié skoolvakansie by Strydom in Lephalale gaan kuier waar die tragedie hom afgespeel het.

Lees alle vorige berigte oor Kristian Prinsloo op Maroela Media.

NDBV verwelkom verbod op eet van honde en katte

$
0
0

Argieffoto

Taiwan het ʼn verbod geplaas op die eet van honde en katte, hoewel dit steeds algemeen in ander Oosterse lande is.

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het die stap geloof en die hoop uitgespreek dat lande waar dit steeds voorkom Taiwan se voorbeeld sal volg.

Taiwan se Wet op Dierebeskerming is intussen reeds gewysig en hiervolgens kan oortreders met tot NT$250 000 (R108 294) beboet word. Die wysigings aan die wetgewing behels ook swaarder strawwe vir dade wat verband hou met wreedheid teenoor diere en die bekendmaking van oortreders se name en foto’s.

Honde en katte word steeds in China, Suid-Korea, Laos, Viëtnam, Kambodja, Thailand, die Filippyne, Noord-Indië en selfs in afgeleë gebiede in Afrika en Switserland geslag en die vleis geëet.

Die NDBV meen die publiek se verontwaardiging en veroordeling van die daad het daartoe gelei dat die welsyn van diere in Taiwan oor die algemeen verbeter het.

In 2016 het internasionale diereregte-aktiviste ʼn petisie begin teen China se Yulin-fees en meer as 11 miljoen handtekeninge is ingesamel, het The Washington Post berig.

Volgens berigte word tot 10 miljoen honde jaarliks by dié fees geslag en geëet. Meer as 30 miljoen honde word jaarliks wêreldwyd geslag en geëet, asook nagenoeg 4 miljoen katte jaarliks in China.

Pta-prokureur buite werk doodgeskiet

$
0
0

[OPVOLG] Lees die opvolgberig hier.

Argieffoto: Kent Williamson

ʼn Prokureur (46) van Pretoria is Woensdagoggend koelbloedig doodgeskiet oomblikke nadat hy uit sy motor geklim het by die regsfirma waar hy werksaam was.

Die voorval het omstreeks 06:30 in Emily Hobhouse-straat in Pretoria-Noord plaasgevind.

Kapt. Kay Makhubela, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê ʼn onbekende man het uit ʼn VW Golf geklim, oor die muur gespring en die prokureur meer as een keer geskiet.

“Niks is tydens die voorval gesteel nie,” het Makhubela gesê. “ʼn Saak van moord word deur die polisie ondersoek. “ Hy het gesê die motief vir die moord is nog nie bekend nie.

“Nadat die polisie die toneel vir leidrade gefynkam het, het ons ondersoek ons na Atteridgeville gelei waar daar twee verdagtes in hegtenis geneem is,” het Makhubela gesê. Hy het gesê daar is ook op die vuurwapen en die VW Golf beslag gelê wat vermoedelik tydens die aanval gebruik is

Die oorledene se naam word weerhou tot al sy naasbestaandes in kennis gestel is. Maroela Media kon ten spyte van talle pogings nie die firma waar die moord plaasgevind het vir kommentaar bereik nie.

Bylmoorde-saak uitgestel

$
0
0

Henri van Breda in die hof. Foto: Suné van Heerden

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het Woensdag die verhoor teen die moordverdagte Henri van Breda tot 2 Mei uitgestel.

Van Breda het Maandag ontken dat hy sy pa, Martin van Breda (54), ma Theresa (55) en broer Rudi (22) op 26 Januarie 2015 met ʼn byl vermoor het. Sy sussie Marli (toe 16 jaar oud) het die aanval oorleef.

Die eerste polisiebeampte wat ná die moord op die toneel aangekom het, sal op 2 Mei kruisondervra word.

Die hof het Maandag tydens sers. Adrian Kleynhans, wat ook deel van die aanvanklike ondersoekspan was, se getuienis gehoor Van Breda het nie gehuil toe hy [Kleynhans] op die toneel aangekom het nie, maar hy het wel emosioneel gelyk.

Kleynhans het gesê daar was geen tekens van ʼn huisbraak nie en talle waardevolle items, waaronder ʼn televisie en ʼn handsak met geld in, was onaangeraak op die toneel.

Van Breda het Maandag skuld ontken op drie aanklagte van moord, een van poging tot moord en een van dwarsboming van die gereg.

Van Breda het in sy verklaring wat aan die hof voorgelees is vertel die aanvaller het eers vir Rudi met “ʼn voorwerp” aangeval, en minute later vir Martin, toe hy weens die geraas ondersoek ingestel het. Die aanvaller het daarna glo ook vir Theresa en Marli aangeval.

Van Breda het gesê hy kan onthou die aanvaller het gelag terwyl hy met die aanval besig was en was nie besorg oor sy teenwoordigheid nie.

Regter Siraj Desai, die staatsaanklaer Susan Galloway en Van Breda en sy regspan, was Dinsdag by die huis vir ʼn ondersoek ter plaatse. Verslaggewers is ook tydens die ondersoek ter plaatse toegelaat, maar is nie toegelaat om die huis binne te gaan nie.

Lees alle vorige berigte oor die bylmoorde op Maroela Media.

SAL-staking: 32 vlugte gekanselleer

$
0
0

Foto: ANA

Minstens 32 SAL-vlugte moes Woensdag gekanselleer word nadat nagenoeg 1 300 kajuitpersoneel, wat eis dat hul internasionale kostoelaag verhoog word, begin staak het.

Die gekanselleerde vlugte sluit 28 plaaslike vlugte, drie streeksvlugte en een internasionale vlug in.

Honderde desperate reisigers het by die SAL-toonbanke by die OR Tambo Internasionale Lughawe tou gestaan nadat hulle gehoor het dat hul vlugte vertraag of heeltemal gekanselleer is. Die stakende kajuitpersoneel eis dat hul internasionale kostoelaag van $130 (R1 710) na $170 (R2 236) verhoog word.

Gift Bilankulu, tesourier van die South African Cabin Crew Association (SACCA), het gesê kajuitpersoneel se kostoelae is nie voldoende wanneer hulle na internasionale bestemmings moet reis waar die lewensomstandighede anders as in Suid-Afrika is nie. Ongeveer 80% van SAL se kajuitpersoneel is lede van SACCA.

Die kajuitpersoneel het Woensdagoggend gesê hulle het geen ander keuse as om te staak nie, aangesien hul kostoelae in die afgelope ses jaar nog nie aangepas is nie.

Ann Skelton, ʼn SAL-passasier wat veronderstel was om ʼn vlug vanaf Johannesburg na Port Elizabeth te haal, het gesê sy is kalm, maar gefrustreerd dat sy in ʼn ry moet wag. “Hulle het nou vir ons gesê die vlug is gekanselleer,” het sy gesê.

Nog ʼn reisiger, Hendry Mathonsi, het gesê hy het vanaf Nelspruit gery om ʼn vlug na Kaapstad te haal vir ʼn werksgeleentheid. “SAL het niks gesê nie. Ons het reeds besprekings aan daardie kant gemaak en as ons nie vandag opdaag nie, weet ons nie of ons vergoed sal word nie,” het hy gesê.

Intussen berig EWN SAL het Woensdagmiddag ʼn hofinterdik bekom om die staking te beëindig en werkers te dwing om onmiddellik terug te keer werk toe.

SAL het vroeër in ʼn verklaring gesê hy het SACCA ingelig dat hy die hof sal nader om ʼn einde aan die staking te bring.


Die 457-visumveranderinge in Australië – dít is wat jy moet weet

$
0
0
australiese-immigrasie-en-werkspermit

Dit sal nou moeiliker vir buitelanders wees om vir werk in Australië aansoek te doen. Foto: Interstaff.com

Malcom Turnbull, eerste minister van Australië, se regering het verlede week besluit om die 457-werksvisum – ’n Australiese visum wat vaardige beroepslui toelaat om tydelik in die land te werk – te skrap. Dit het opnuut die kollig op dié land se groot getal buitelandse werknemers geplaas.

Die visum word vervang met ʼn nuwe raamwerk wat minder poste en strenger voorvereistes vir keuring bevat vir buitelanders wat vir ʼn werksvisum aansoek doen.

Volgens Jock Collins, ʼn professor in sosiale ekonomie aan die Sydney Universiteit van Tegnologie in Australië, is dit eintlik nie ʼn verbasende skuif nie, aangesien die land elke jaar 700 000 tydelike immigrante en 200 000 permanente immigrante inneem. Daar is tans sowat 95 000 mense wat met ʼn 457-visum in Australië werk.

Collins het op die webwerf The Conversation aangevoer dat 1 500 dosente en 250 tutors met die 457-visum by universiteite in diens geneem word. Hy het gesê die visum kan ook ʼn moontlike impak op studente hê wat in Australië wil studeer.

Volgens die Australiese webwerf GoodFood.com het die verandering aan die 457-visum ook ʼn oproer in die land se restaurant- en grasvryheidsbedryf veroorsaak. Dié bedryf ervaar ʼn groot tekort in vaardighede wat luidens die webwerf net sal vererger weens die nuwe strenger maatreëls vir die aanstelling vir buitelanders in die bedryf.

Die webwerf Wêreldwyd berig dat hierdie visum veral gewild was onder Suid-Afrikaners omdat dit hulle in staat gestel het om met hul gesinne na Australië te verhuis en ná ʼn minimumtydperk aansoek te doen vir permanente verblyf.

Die 457-visum, of sogenaamde “Temporary Work (Skilled) visa (subclass 457)” was ʼn visum vir buitelandse burgers. Dit het ʼn geskoolde werker die toestemming verleen om na Australië te reis en vir vier jaar in hul genomineerde beroep vir hul goedgekeurde borg te werk. Werkers moes geborg word deur ʼn Australiese onderneming en die onderneming moes kon bewys dat hulle nie ʼn geskikte Australiese burger vir die pos kon vind nie.

Die visum is al ʼn geruime tyd lank die teiken van die land se federale regering omdat hulle voel die visum stel buitelanders in staat om ten koste van die plaaslike arbeidsmark aangestel te word. Die minister van immigrasie, Peter Dutton, het verlede jaar aangedui dat die regering die aantal nywerhede waarvoor 457-visum-aansoekers in aanmerking kan kom, gaan afskaal, maar die skielike en algehele afskaffing van die program het mense onkant gevang.

457-visum-verkorte-beroepslys

Van die werke waarvoor buitelanders nie meer sal kan aansoek doen na die afskaffing van die 457-visum in Australië nie. Foto: Rob Harris/Twitter.com

Die 457-visum sal heeltemal afgeskaf word en in sy plek sal daar twee nuwe visumprogramme wees: ʼn twee-jaar-visum en ʼn vier-jaar-visum, bekend as die tydelike vaardigheidstekortvisum. Die nuwe visa sal in Maart 2018 in werking tree. Daar was aanvanklik 650 werksgeleenthede vir die 457-visumhouers beskikbaar, maar onder die nuwe program sal dit met 200 verminder word.

Die nuwe visa-klasse sal strenger vereistes aan werksoekers stel, wat die volgende insluit:

  • ʼn Hoër vaardigheid in Engels as taal
  • Die deeglike nagaan van agtergrond en kriminele rekords
  • ’n Vereiste van minstens twee jaar se werkservaring
  • ʼn Verpligte arbeidsmark-toets

Volgens Turnbull sal hierdie nuwe visa verseker dat Australiese ondermenings net poste met buitelanders vul waar daar ʼn werklike vaardigheidstekort is.

Werkers met die nuwe visa sal ook nie so maklik vir permanente verblyf aansoek kan doen nie, het Dutton gesê. Hy het aangevoer die 457-visum het gewoonlik op ʼn aansoek vir permanente verblyf uitgeloop, maar dit sal veral nie meer onder die nuwe twee-jaar-visum kan gebeur nie.

Dit gaan werkgewers ook nou meer kos om ʼn buitelandse werksoeker te borg. Die fooi vir ʼn vier-jaar-visum word meer as verdubbel na 2 400 Australiese dollar en ʼn twee-jaar-visum sal 1 500 Australiese dollar beloop.

Alhoewel die verandering eers na ʼn jaar ingestel sal word, het die Australiese regering reeds verlede week aangekondig dat hulle ʼn “beduidende verkorte beroepslys” bekend sal stel wat sal beperk vir watter werke buitelanders mag aansoek doen met die 457-visum.

Die goeie nuus vir die 95 000 met ʼn 457-visum is dat hulle nie in onmiddellike gevaar vir deportasie verkeer nie. Turnbull het gesê dié werkers sal teen die verandering beskerm word en kan volgens die visum se voorwaardes aanhou werk.

Dit blyk egter dat 457-visumhouers probleme kan verwag as hulle in die land wil aanbly. Turnbull en Dutton het nie duidelikheid verskaf oor of die 457-visumhouers hul verblyf onder die 457-program sal kan verleng nie, en of hulle onder die nuwe tydelike visumprogram sal moet aansoek doen indien hul visum verstryk nie.

Dit is tans onduidelik wat die impak van die veranderinge op die arbeidsmark van Australië gaan wees. Josh Butler, mede-redakteur van Huffington Post Australië, het gesê baie van die 457-visumhouers is kokke, bestuurders, boere en arbeiders, maar die visumhouers werk ook in beroepsvelde van geneeskunde, tegnologie en opvoeding. “Ons weet nie hoeveel dié verandering hierdie beroepsvelde gaan raak nie en dit is ʼn ope vraag of Australië die landsburgers met die vaardighede het om die poste te vul.”

  • Lees meer oor die belangrike verandering rondom die nuwe tydelike werkvisa vir Australië, die strenger vaardigheidsvereistes en toegewings vir bepaalde streke in Australië op Wêreldwyd.

Prokureur sê oor moordenaar voor hy sterf

$
0
0

Sam Ntsoko. Foto: http://www.hsr.co.za

Die prokureur wat Woensdagoggend voor sy werksplek in Pretoria-Noord doodgeskiet is, het glo aan ʼn veiligheidswag gesê wie hom geskiet het oomblikke voor hy gesterf het.

Sam Ntsoko (46) is voor 07:00 voor die Hack, Stupel & Ross-prokureursfirma in Emily Hobhouse-straat doodgeskiet. Maroela Media het vroeër berig Ntsoko het by die perseel ingery toe ʼn man vermoedelik oor die muur gespring en langs sy voertuig verskyn het. Hy het Ntsoko meer as een keer deur sy voertuig se ruit geskiet voordat hy op die vlug geslaan het. Niks is tydens die voorval gesteel nie.

Twee verdagtes is Woensdagmiddag in Atteridgeville in hegtenis geneem. Kapt. Kay Makhubela, woordvoerder van die polisie, het gesê daar is ook op die vuurwapen en ʼn VW Golf beslag gelê wat vermoedelik tydens die aanval gebruik is.

Herman Smalberger, ʼn senior vennoot by Hack, Stupel & Ross, het aan Maroela Media gesê Frans Bapela, die veiligheidswag by die firma, het vanuit elders op die perseel die skote gehoor en nader gehardloop. Volgens Bapela het Ntsoko uit die motor geklim en gesê: “Sê vir die polisie dit was Nico”, voordat hy inmekaargesak het.

Smalberger het gesê hy weet nie wat die motief vir Ntsoko se moord was nie, maar hy glo dit was nie roof nie.

Hy het gesê Ntsoko het sedert 2000 by die firma gewerk en was sedert 2005 ʼn vennoot. “Sam se familie was vanoggend by die kantoor en ons het gereël dat hulle berading ontvang. Al die personeel het ook berading ontvang voordat hulle huis toe gestuur is,” het hy gesê. Hy het gesê die kantoor was vandag uit eerbetoon vir Ntsoko gesluit.

Volgens Smalberger was Ntsoko die pa van drie minderjarige kinders. Geen begrafnisreëlings is nog bekendgemaak nie.

Só lyk plaasaanvalle in afgelope jaar

$
0
0

Die groep op pad na die Uniegebou (26 April 2017). Foto: Rozier van Tonder

“As die frekwensie van plaasaanval- en plaasmoordvoorvalle deur die 2017-kalenderjaar dieselfde bly, blyk dit dat die syfers weer gaan toeneem.”

Dít is een van die kommerwekkende stellings wat in die AfriForum Navorsingsinstituut (ANI) se verslag oor die plaasmoord- en plaasaanvalstatistieke vir die finansiële jaar van 2016-’17 gemaak word. Die statistieke is Woensdag bekendgestel.

AfriForum het vandag met ’n konvooi na die Uniegebou gery waar ’n petisie met 175 000 name teen plaasmoorde aan die presidensie oorhandig is.

Die getal bevestigde plaasaanvalle vir die tydperk 2016-’17 is 357 en die getal plaasmoorde ’n kommerwekkende 74. Die ANI het verduidelik die data is ingesamel deur gebruik te maak van verskeie bronne, onder meer die Suid-Afrikaanse media, inligting op sosiale media, rapportering van voorvalle aan veiligheidsnetwerke, asook slagoffers of families van slagoffers wat die voorvalle by AfriForum aanmeld.

“Voorvalle word geverifieer en die feite daarvan word bevestig. Daar is egter voorvalle van plaasaanvalle waarvan daar nie kennis gedra word nie. Vir die rede word die plaasaanvalstatistiek as konserwatief beskou en is die syfers onderhewig aan verandering,” lui die verslag.

Die tydperk vir die syfers van plaasaanvalle en -moorde is van kalenderjaar na finansiële jaar verander sodat dit met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se jaarlikse misdaadstatistiekeverslag vergelyk kan word.

Toename in plaasmoorde

Die jongste statistieke toon dat 357 plaasaanvalle in die 2016-’17-finansiële jaar voorgekom het, teenoor 446 in 2015-’16. Hoewel daar ʼn daling in plaasaanvalle aangeteken is, was daar egter ʼn drastiese toename in plaasmoorde van 49 in 2015-’16 tot 74 in 2016-’17.

In 2014-’15 is 60 plaasmoorde en 490 plaasaanvalle aangeteken en in 2013-’14 is 57 plaasmoorde en 517 plaasaanvalle aangeteken.

Volgens die ANI se ontleding van die statistieke is Gauteng die provinsie waar die meeste plaasaanvalle en plaasmoorde in 2016-’17 voorgekom het.

Grafika: AfriForum Navorsingsinstituut

Altesaam 21 plaasmoorde het in Gauteng voorgekom, asook 22,8% van die plaasaanvalle dié jaar. Twaalf plaasmoorde het in Mpumalanga plaasgevind, gevolg deur 11 plaasmoorde in KwaZulu-Natal, 9 in Noordwes, 8 in Limpopo, 6 in die Vrystaat, 3 in die Oos-Kaap, 3 in die Wes-Kaap en 1 in die Noord-Kaap.

Die Vrystaat het die tweede meeste plaasaanvalle vir die jaar beleef (15,7%), gevolg deur Mpumalanga (14,8%), Noordwes (14,8%), Limpopo (13,4%) en KwaZulu-Natal (10,1%). Die minste plaasaanvalle het in die Noord-Kaap voorgekom (1,1%).

Die ANI het ook ʼn onderskeid getref tussen aanvalle wat op plase voorgekom het teenoor aanvalle op kleinhoewes. Altesaam 71,1% van die aanvalle het op plase gebeur, teenoor 28,9% van die aanvalle op kleinhoewes.

In Gauteng het 17 van die moorde op kleinhoewes plaasgevind, teenoor vier moorde op plase. In KwaZulu-Natal het al 11 moorde in die provinsie op plase gebeur. Van die 12 moorde in Mpumalanga het tien op plase plaasgevind en twee op kleinhoewes. In Noordwes is vier moorde op plase aangeteken en vyf op kleinhoewes.

Aanvalle meestal oor naweke

In die 357 voorvalle wat die afgelope jaar aangeteken is, was daar meer as 553 slagoffers betrokke. Die gemiddelde aantal slagoffers per aanval is vier, terwyl die gemiddelde ouderdom van slagoffers 55 jaar is. In 62% van die gevalle is slagoffers wat 51 jaar en ouer is aangeval.

In 40% van die gevalle was slagoffers tussen 51 jaar en 70 jaar oud en in 22% van die gevalle was die slagoffers ouer as 70 jaar. Slagoffers tussen die ouderdomme van 21 en 50 jaar maak 25% van die totale slagoffers uit.

Die statistieke toon dat die meeste plaasaanvalle wel oor naweke gebeur. Die meeste van die aanvalle het op ʼn Saterdag gebeur (17,6%), gevolg deur Sondag (15,9%) en Vrydag (15,1%). Altesaam 14,5% van die aanvalle het op ʼn Donderdag gebeur.

Grafika: AfriForum Navorsingsinstituut

Die meeste van die plaasaanvalle het ná donker gebeur. In 36% van die gevalle het die aanvallers tussen middernag en 06:00 die oggend toegeslaan. In 34% van die gevalle het die aanvalle tussen 18:00 en middernag gebeur. Altesaam 16% van die gevalle het in die oggende plaasgevind en 14% van die aanvalle in die middae.

Daar is tydens 19% van die voorvalle aangemeld dat wapens en ammunisie by slagoffers geroof is, terwyl die slagoffer se voertuig in 24% van die gevalle as wegkommotor gebruik is. In 31% van die plaasaanvalle is daar op die slagoffers geskiet of ʼn daadwerklike poging aangewend om die slagoffer(s) te vermoor

In vier gevalle is ’n slagoffer tydens die aanval ontvoer en elders vrygelaat of vermoor. Daar is in ses gevalle bekendgemaak dat ʼn vrou tydens die aanval verkrag is. Die ANI meen dié syfer kan egter hoër wees omdat hierdie sensitiewe inligting dikwels van die publiek weerhou word. In 13 voorvalle het marteling voorgekom waar slagoffers onder meer met strykysters gebrand, gewurg en selfs met ʼn elektriese boor gemartel is.

Slagoffers en/of familie van slagoffers van plaasaanvalle word aangemoedig om voorvalle by stopdiemoorde@afriforum.co.za of stopthemurders@afriforum.co.za aan te meld.

SAL-staking beëindig

$
0
0

Foto: ANA

Suid-Afrikaanse kajuitpersoneel het Woensdag gesê hulle sal terugkeer werk toe nadat ‘n arbeidshofinterdik ʼn einde aan hul staking gebring het.

Ongeveer 200 kajuitpersoneel het vandag buite SAL se hoofkantoor in Kempton Park saamgedrom in protes teen hul internasionale kostoelae wat volgens hulle nog nie in die afgelope ses jaar aangepas is nie. Die stakende kajuitpersoneel eis dat hul internasionale kostoelaag van $130 (R1 710) na $170 (R2 236) verhoog word.

SAL het vandag die hof met ʼn dringende aansoek genader om die staking onwettig te verklaar en die kajuitpersoneel te dwing om hul pligte te hervat. Die lugredery het vroeër gesê altesaam 32 vlugte moes gekanselleer word weens die staking.

SAL het die South African Cabin Crew Association (SACCA) ingelig dat hulle beplan om die hof te nader waarna SACCA by die hof uitstel versoek het om hulle in staat te stel om hofdokumente in antwoord op SAL se hofaansoek in te dien. SACCA het egter versuim om die spertyd van 13:00 te haal om die interdik teen te staan.

SAL het in sy hofdokumente gesê die personeel het op ʼn onbeskermde staking gegaan en het die hof versoek om ʼn bevel uit te reik om werknemers te verhoed om aan die staking deel te neem. SAL het ook versoek dat die hof in sy bevel SACCA verbied om deelname aan die staking aan te moedig.

Alf Lees, die DA se skaduminister van finansies, het gesê hy verwelkom die hofinterdik wat ʼn einde aan die staking gebring het. Lees het gesê die staking is slegs ʼn simptoom van ʼn baie groter krisis by SAL. “Die feit is dat Dudu Myeni, wat meer soos ʼn korporatiewe oorlogslid as ʼn voorsitter optree, hierdie lugredery ten gronde laat gaan het en SAL bankrot gemaak het,” het hy gesê.

“ʼn Skokkende verlies van R4.5 miljard word vir 2016/17 voorspel, wat bygevoeg word by die R1,5 miljard verlies in 2015/16 en R5,6 miljard verlies in 2014/15.”

Lees het gesê altesaam R19,1 miljard se regeringswaarborge is reeds gebruik, wat beteken SAL sal waarskynlik nog ʼn finansiële reddingsboei binne die volgende 12 maande benodig. “Die feit is dat SAL nou in ʼn krisis is wat Suid-Afrika se kredietgradering affekteer,” het Lees gesê.

“Ek het daarom aan die voorsitter van die staande komitee oor finansies, Yunus Carrim, geskryf om ʼn dringende vergadering met SAL op 4 of 5 Mei in die parlement te belê.”

NUMSA het gesê hy sal regsadvies oor die hofinterdik inwin. “Ons glo die interdik is foutief omdat ons as ʼn erkende vakbond by SAL nie deel van die aansoek was nie,” het Phakhamile Hlubi, NUMSA se woordvoerder, gesê. “SAL is verplig om seker te maak dat alle belanghebbendde partye die geleentheid gegun word om te reageer en dit het nie gebeur nie. Ons hoor nou by ons prokureurs wat ons volgende stap sal wees.”

SACCA het gesê sy lede sal terugkeer werk toe terwyl onderhandelinge met die bestuur van SAL voortgaan.

‘Slang in die gras met kernkragooreenkoms’

$
0
0

Omgewingsaktiviste buite die Wes-Kaapse hooggeregshof. Foto: Catherine Rice/ANA

Die VF Plus het Woensdag gesê ʼn beslissing deur die Wes-Kaapse hooggeregshof dat die staat se verkrygingsprosesse vir sy kernkragbouprogram onwettig en ongrondwetlik is, is aanduidend daarvan dat die proses waarskynlik “met groot ongerymdhede gepaardgegaan het”.

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder, het in ʼn verklaring gesê hy verwelkom die hof se beslissing. “Ons verwelkom ook die hof se bevel dat die regering die partye se regskoste moet betaal, al beteken dit dat die belastingbetaler eintlik moet pa staan vir nog ʼn poging van die ANC-regering om die staatskas te plunder,” het gesê.

Maroela Media het vroeër berig regter Lee Bozalek het in sy uitspraak, wat hy voor ʼn volgepakte hofsaal gelewer het, die Suid-Afrikaanse regering se ooreenkomste met Rusland, die VSA en Suid-Korea ter syde gestel. Die hof het ook bevind Tina Joemat-Petersson, die voormalige minister van energie, het onwettig opgetree toe sy in 2016 die verkryging van kernkrag na Eskom oorgeplaas het.

Alberts het gesê Earthlife Africa en die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskap se Omgewingsinstituut (Safcei), wat die hofaansoek gebring het, moet geloof word vir die hofstryd wat hulle twee jaar lank gevoer het. “Die VF Plus het nog deurentyd gesê daar is nie vuil kragsentrales in Suid-Afrika nodig nie, en ons is daarom verheug oor die uitspraak. Daar kan genoeg krag vir die land opgewek word deur ʼn kombinasie van bestaande kragbronne en hernieubare bronne soos son en wind te gebruik, wat ʼn snelgroeiende bedryf is,” het hy gesê.

“Die hele [kernkragproses] is duidelik deur die ANC gedryf bloot om hul eie sakke te vul. Eskom het byvoorbeeld reeds ʼn surplus krag. Waarom dan ʼn kernkragsentrale wat Suid-Afrika in ʼn bodemlose skuldput sal dompel net om ʼn paar mense ryk te maak?”

Die DA het op sy beurt ook die hofuitspraak verwelkom en dit as “ʼn oorwinning vir alle Suid-Afrikaners” beskryf. Gordon MacKay, die DA se skaduminister van energie, het gesê die party sal nou seker maak dat Eskom alle werk wat deel van die kernkragprogram vorm staak.

“Wat beteken dit vir die regering se kernkragooreenkoms? Eenvoudig gestel, beteken dit daar is geen wettige besluit deur die regering om kernkrag te verkry nie. Alle kernkragverkrygingsprosesse is gestaak,” het MacKay gesê. “Die stryd om kernkrag te stuit keer nou terug na die parlement en die DA sal alles in sy vermoë doen om hierdie onbekostigbare en korrupte ooreenkoms te keer.”

Viewing all 56621 articles
Browse latest View live