Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all 56621 articles
Browse latest View live

Bejaarde skiet ‘aanvaller’ op plaas dood

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

ʼn Vermeende aanvaller is Donderdagoggend tydens ʼn aanval op ʼn plaas buite Potchefstroom in Noordwes doodgeskiet.

Rudie du Toit, voorsitter van die Potchefstroom landelike veiligheidsforum, het aan Maroela Media gesê drie verdagtes het omstreeks 07:30 op Conrad Beukes se plaas toegeslaan. Volgens Du Toit is Beukes in sy 70’s en woon alleen.

Die verdagtes het glo lappe om hul gesigte gedraai om hul identiteit te verbloem. “Twee van die verdagtes het buite gewag en een het deur die kombuisdeur ingekom. Hy het eers die huishulp oorval en sy het geskree. [Beukes] het dit gehoor en sy vuurwapen gegryp,” het Du Toit gesê.

Die verdagte, wat ʼn vuurwapen by hom gehad het, is na die kamer, waar ʼn struweling tussen hom en Beukes ontstaan het. Drie skote is afgevuur en die verdagte is doodgeskiet. Die twee verdagtes buite die huis het gevlug. Volgens Du Toit het Beukes net ligte beserings opgedoen.

Beukes het hulp ontbied en landelike veiligheidsgroepe en polisiebeamptes was binne tien minute daar. “Ek moet regtig die goeie werk van die Noord-Vrystaatse landelike veiligheidsgroep en die Vredefort-koepel se landelike veiligheidsgroep uitlig. Hulle het ongelooflike samewerking gegee om te help om na die verdagtes te soek,” het Du Toit gesê.

“Hulle het gehelp om ʼn vliegtuig te kry om vanuit die lug met die soektog te help en het twee hommeltuie gereël om ook te help. Die polisie het ook baie vinnig reageer.” Die polisie se honde-eenheid en ander ondersteuningsdienste het gehelp om die verdagtes se spoor te volg. Du Toit het gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Lt.kol. Pelonomi Makau, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie het op die verdagte se vuurwapen beslag gelê. ʼn Saak van moord word ondersoek.


[Video] Spur stel beeldmateriaal beskikbaar ná voorval

$
0
0
'n Skermskoot uit die video

‘n Skermskoot uit die video

Die restaurantgroep Spur het Donderdag ʼn gedeelte van kringtelevisiebeeldmateriaal van die voorval wat Sondag by die Texamo Spur by The Glen-winkelsentrum in Johannesburg plaasgevind het, aan die media beskikbaar gestel.

Die beeldmateriaal wys hoe ʼn man ʼn kind aan die arm gryp, voordat die kind se ma hom aan die ander arm gryp en ʼn woordewisseling volg.

Pierre van Tonder, uitvoerende hoof van Spur, het Woensdag aan Maroela Media gesê ʼn deeglike ondersoek van dié beeldmateriaal toon die vrou in die video, Lebohang Mabuya, se weergawe van die voorval is akkuraat.

Die man in die video het Mabuya se seun glo daarvan beskuldig dat hy sy kind geboelie het. Mabuya het egter aangevoer dit was die man se kind wat haar seun geboelie het.

“Die beeldmateriaal toon duidelik die man het die vrou se kind op ʼn aggressiewe manier gegryp en dié soort optrede is onaanvaarbaar,” het van Tonder gesê. Hy het gesê dit is nie duidelik of die man se kind wel geboelie is nie, maar selfs al sou dit die geval wees, was dit volgens Van Tonder onnodig om aggressief en beledigend te wees.

Hy het ook gesê Spur het nog nie daarin geslaag om met die man in verbinding te tree nie, hoewel die organisasie Mabuya Woensdag ontmoet het.

Maroela Media het vroeër berig ʼn gesin van Capital Park in Pretoria vrees intussen vir hul lewe nadat hulle talle doodsdreigemente gekry het sedert hul telefoonnommer en huisadres verkeerdelik as dié van die man in die sogenaamde Spur-voorval versprei is.

Maroela Media het versoek dat die beeldmateriaal van die hele voorval, insluitend die gebeure vooraf in die speelarea, beskikbaar gestel word. Spur het nog nie op die versoek reageer nie. Van Tonder het egter Woensdag aan Maroela Media bevestig die volle video stem steeds ooreen met Mabuya se weergawe.

[This post contains video, click to play]

Doodskis-video: Nog aanklagte kom

$
0
0

Oosthuizen (links) en Jackson tydens 'n vorige verskyning in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Oosthuizen (links) en Jackson tydens ‘n vorige verskyning in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Willem Oosthuizen (28) en Theo Martins Jackson (29), wat daarvan beskuldig word dat hulle ‘n man in ʼn doodskis gedruk het, gaan nou ook van poging tot moord aangekla word.

Oosthuizen en Jackson het Donderdag in die Middelburg-streekhof verskyn. Die staatsaanklaer het tydens die verrigtinge bekend gemaak aanklagte van poging tot moord gaan by die klagstaat gevoeg word. Die twee mans is aanvanklik van ontvoering en aanranding met die doel om ernstig te beseer aangekla.

Die mans sal van 26 tot 29 Junie verhoor word. Landdros Jongilizwe Dumehleli het Oosthuizen en Jackson op 8 Desember borgtog geweier.

Tydens die borgtogaansoek het die hof onder meer Victor Rethabile Mlotshwa, die beweerde slagoffer en die beskuldigdes se weergawes van die gebeure gehoor. Mlotshwa het gesê hy het deur ʼn veld gestap toe die beskuldigdes hom voorgekeer het. Hy het gesê hy is aangerand en vasgebind en later gedwing om in ʼn doodskis te klim.

Die beskuldigdes het aangevoer Mlotshwa het koperkabels gesteel en hulle wou hom ʼn les leer. Volgens hul verklarings, wat aan die hof voorgelees is, het hulle nie bedoel om Mlotshwa leed aan te doen nie. Hulle het ook gesê Mlotshwa het hulle gedreig.

Op die video kan gesien word hoe ʼn man huil terwyl twee ander mans hom in ʼn doodskis indwing. In die agtergrond sê ʼn manstem: “Kom nou, ons wil die petrol gooi, man. Klim in!”

Oosthuizen en Jackson het hulle op 14 November in die teenwoordigheid van hul regsverteenwoordiger by die Blinkpan-polisiestasie oorgegee.

Die beweerde voorval het op 17 Augustus naby die Komati-kragstasie plaasgevind. Die beskuldigdes beweer egter die voorval was op 9 September.

Mlotshwa het eers vroeg in November ʼn saak by die polisie aanhangig gemaak nadat die video van die voorval op sosiale media versprei is en hy “verneder” gevoel het.

Lees alle vorige berigte oor die doodskis-video op Maroela Media.

Boer sterf in fratsongeluk

$
0
0
Cas Schmidt en sy vrou Elsa. Foto: Facebook.

Cas Schmidt en sy vrou Elsa. Foto: Facebook.

ʼn Boer van Dordrecht in die Oos-Kaap is die naweek in ʼn fratsongeluk dood toe hy homself per ongeluk geskiet het.

Brigadier Marinda Mills, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê Cas Schmidt, in sy laat sestigs, het sy dubbelloophaelgeweer teen ʼn boom laat staan op die plaas Kleinfontein.

“Die geweer het verstrengel geraak in takke of bosse en het afgegaan toe hy dit wou optel. ʼn Skoot het afgegaan en Schmidt is in die bolyf getref,” het Mills gesê.

Schmidt was in die veld besig met sy vee. “ʼn Plaaswerker het gesien wat gebeur en die familie in kennis gaan stel,” het Mills verduidelik.

Die polisie is na die toneel ontbied, maar dit was reeds te laat om hom te red. “Dit was sy eie wettige vuurwapen,” het Mills gesê.

“Sover word geen vuilspel vermoed nie. Die ondersoek duur voort, maar ons vermoed nie enige vuilspel nie.”

ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen. Schmidt word oorleef deur sy vrou, Elsa en vier kinders.

Die wêreld in foto’s – 23 Maart 2017

$
0
0

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

wereld-foto-8

Pakistan se president, Mamnoon Hussain, staan in die middel op ʼn militêre voertuig tydens Pakistan se Republiekdagvieringe. Foto: Anjum Naveed, AP

wereld-foto-7

ʼn Valskermsoldaat vertoon sy vaardighede tydens ʼn militêre parade in Islamabad, Pakistan. Foto: Anjum Naveed, AP

wereld-foto-1

Twee vlugteling-seuns van Soedan dra hul besittings op pad na ʼn sentrum in Palorinya, Uganda. Foto: Justin Lynch, AP

wereld-foto-6

Pous Franciskus maak grappies met ʼn dogtertjie ná ʼn private ontmoeting met Kameroen se president, Paul Biya, by die Vatikaanstad. Foto: Vincenzo Pinto, AP

wereld-foto-9

ʼn Lugfoto van Pingba in China se Guizhou-provinsie wys die blommeprag in dié gebied. Foto: Xinhua/Liu Xu) (yxb)

Boer op plaas met ysterstaaf aangerand

$
0
0
plaashek-pexels

Foto: Pexels.

Vier mans het ʼn boer Woensdagaand op ʼn plaas buite Villiers in die Vrystaat oorval en met ʼn ysterstaaf aangerand.

Maroela Media verneem Jan Lourens, in sy 70s, was ure lank vasgebind voordat ʼn buurman op hom afgekom het. Die buurman het glo bekommerd geraak omdat hy nie vir Lourens oor die tweerigting-radio in die hande kon kry nie en het gaan ondersoek instel.

Kapt. Livhuhani Hani, woordvoerder van die polisie, het gesê Lourens is omstreeks 17:30 in sy huis oorval. “Die verdagtes het [Lourens] met ʼn ysterstaaf geslaan en geëis dat hy die sleutels van die kluis oorhandig. Hulle het verskeie vuurwapens uit die kluis gesteel,” het Hani gesê. Sy het gesê die aanvallers het Lourens se hande en voete vasgebind voordat hulle gevlug het.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. ʼn Saak van huisroof word ondersoek.

Enigiemand met meer inligting word versoek op kapt. Mosiuoa Mokhethi op 082 372 0379 te skakel.

Graad 1-juffrou dood aangetref

$
0
0

skool-21.jpeg

Argieffoto

ʼn 24-jarige graad 1-juffrou is Donderdagoggend dood aangetref in haar woonstel in Virginia in die Vrystaat.

ʼn Familievriend en bure het omstreeks 08:00 op Kay-Leen Peterson se liggaam afgekom. Sy was ʼn juffrou by een van die laerskole in Virginia, het sers. Mamello Mokhuoane, woordvoerder van die polisie, gesê.

“Kay-Leen se familie in Bloemfontein was besorg toe hulle haar nie op haar selfoon in die hande kon kry nie. Haar kollegas by die skool het ook vir die familie gesê sy het nie Woensdag by die werk opgedaag nie,” het Mokhuoane verduidelik.

Die polisie en nooddienste is na die toneel ontbied. Sy is op die toneel dood verklaar. Die polisie ondersoek ʼn saak van moord.

“ʼn Voorlopige ondersoek het die polisie na Seloja, Meloding gelei waar Kay-Leen se motor, ʼn swart Renault Clio, aangetref is. Die polisie het leidrade opgevolg en ʼn 21-jarige is ondervra. Die polisie se ondersoek duur voort.”

Eskom teken vyfjaarkontrak met NamPower

$
0
0

Argieffoto (Foto: baptisteh, Pixabay)

Eskom het Donderdag ʼn vyfjaarkontrak vir elektrisiteitverskaffing met Namibië se nasionale kragvoorsiener, NamPower, onderteken.

Matshela Koko, tussentydse uitvoerende hoof van Eskom, het in ʼn verklaring gesê Eskom is gereed om elektrisiteit aan die streek te verskaf, wat sal lei tot groei in albei ekonomieë met ʼn groter aanvraag na elektrisiteit, wat weer die streekskragopwekkingsbedryf sal stimuleer.

“Eskom het omgedraai en ons het nou surpluskapasiteit beskikbaar om ekonomiese groei te bevorder. Hierdie ooreenkoms verskaf energiesekerheid aan Namibië en bied ekonomiese ontwikkeling en groei in die land sonder enige bekommernisse oor die beskikbaarheid van elektrisiteit,” het Koko gesê.

“Dis jammer dat ons streek steeds sukkel om toegang tot elektrisiteit vir al sy burgers te bied en krag te voorsien aan hul bedrywighede en myne. Dit beperk ekonomiese groei en versuim om werk te verskaf aan ons mense. Eskom glo die uitdaging is nou te fokus op samewerking tussen verskillende lande en beskikbare elektrisiteit te deel.”

NamPower het gesê hy sal alles in sy vermoë doen om seker te maak dat elektrisiteit op ʼn volhoubare manier aan die nasionale ekonomie verskaf word.

Eskom het reeds langtermynooreenkomste met Lesotho en Swaziland.


Vere waai tydens pluimvee-debat in parlement

$
0
0

Argieffoto

Die openlike vyandigheid tussen hoenderinvoerders en vervaardigers het Donderdag geïntensiveer toe albei partye mekaar blameer het vir die krisis wat deur die pluimveebedryf in die gesig gestaar word.

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) en die vereniging van vleisinvoerders en –uitvoerders (Amie) het by vakbonde en staatsdepartemente aangesluit om die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid van die krisis in te lig.

Sapa voer aan die Europese Unie stort onwettig en onregverdig hoenderporsies in Suid-Afrika en indien die regering nie sou ingryp en moontlik tariewe verhoog nie, sal dit werksverliese tot gevolg hê.

“Wie trek voordeel uit die storting? Dit is baie moeilik vir ons om vir seker te weet. Dit is ʼn kombinasie van die invoerder en die handelaar. Sommige invoerders bly inderdaad in Nettletonweg – die rykste straat in Suid-Afrika,” het Kevin Lovell, uitvoerende hoof van Sapa, gesê. “Lei invoere tot werksverliese? Ons het dit duidelik bewys.”

Georg Southey, voorsitter van Amie, het egter gesê die krisis in die pluimveebedryf en moontlik gevolglike werksverliese is nie weens invoere nie. “Werksverliese kan nie gebaseer word op storting nie. Die werksverliese is gebaseer op die ondoeltreffendheid in hul bedrywighede,” het hy gesê. Volgens hom is die druk in die pluimveebedryf “deur hul eie toedoen”.

Marthinus Stander, uitvoerende hoof van Country Bird Holdings (CBH) het volgehou die bedryf “is op die randjie van ineenstorting”.

CBH, Suid-Afrika se derde grootste pluimveevervaardiger, het in Augustus verlede jaar kennis gegee dat hy sy Mahikeng-abattoir gaan sluit. Die maatskappy het die slagpale in 2006 aangeskaf toe die vorige maatskappy, Agrichicks, gelikwideer is.

“Dis ʼn baie moeilike besluit om te maak as jy besef dat jy die maatskappy, wat jy laat herleef het, se deure moet toemaak. Die rede is grootliks te wyte aan die ongekontroleerde gesubsidieerde storting van hoenderporsies in die Suid-Afrikaanse mark deur die EU,” het Stander verduidelik.

Die departement van handel en nywerheid het intussen CBH genader en versoek dat hy die sluiting van die slagpale moet opskort. Indien die abattoir sou sluit, sal dit lei tot altesaam 1 605 direkte en indirekte werksverliese. “Ek dink die stres is ondraaglik. Ek skryf ʼn maandelikse tydskrif wat aan ons werknemers versprei word, en elke keer moet ek vir hulle sê hulle moet vasbyt. En mens kan dit voel, mens kan dit sien, dis baie moeilik.”

Hy het gesê EU-invoere het sedert 2008 die hoogte ingeskiet en plaaslike vervaardigers kan nie met die volume van hoenderporsies uit Europa kompeteer nie. “Maak nie saak hoe mededingend jy is nie. Selfs al vervaardig ons ʼn hele hoender teen die goedkoopste prys in die wêreld, kan ons nie kompeteer met ʼn gestorte produk nie.”

Stander het gesê hulle het die EU in Pretoria genader om ondersoek in te stel om sy mark oop te maak aan Suid-Afrikaanse hoenderborsieporsies, maar het erken dat dit onwaarskynlik is dat hulle ooit na die EU sal uitvoer.

“Hoenderborsies is eenvoudig die kroonjuweel. Dit is die produk wat hulle drie tot ses keer duurder as donker vleis in hul eie mark kan verkoop, omdat die mark dit verkies, so hulle beskerm dit.”
Hy het gesê banke is reeds “in limbo” wat betref hulp aan die bedryf. “Jy weet wat banke doen. As die son skyn, gee hulle vir jou ʼn sambreel. Sodra dit begin reën, wil hulle die sambreel terughê.”

Stander het gesê hulle wag vir ʼn teken, iets beduidend wat wys wat die regering doen en dat die plaaslike pluimveebedryf ondersteun word.

Vakbonde het ook die regering versoek om in te gryp, maar gesê gewone Suid-Afrikaners, die privaat sektor en handelaars moet ook hul bydrae lewer. “Ons het ʼn massaveldtog nodig om Trots Suid-Afrikaans gewild te maak. Hier is ʼn goeie geleentheid om dit te laat herleef,” het Matthew Parks van die vakbondfederasie Cosatu gesê.

Parks het versoek dat afdankings dadelik opgeskort moet word en dat diegene wat reeds afgelê is, weer aangestel moet word of elders ontplooi moet word. “Daar moet ewekansige toewyding wees oor verbruikerspryse. Ons kan nie die pryse net los waar dit is nie. Handelaars se pryse is soms ten koste van die vervaardigers.”

Die Food and Allied Workers Union het aangevoer dat duisende poste nie opgeoffer moet word ter wille van “ʼn paar honderd stoorplekposte” in die invoer- en uitvoerbedryf nie.

Nuuskommentaar: Strooipoppe word voos geskiet

$
0
0

Argieffoto: Pixabay

Op die oomblik is daar soveel debatte, veral op sosiale media, oor hoe goed of sleg sekere bekendes nou eintlik is. In baie gevalle is die werklikheid nie so erg nie, en daarom word strooipoppe opgestel wat pa of ma moet staan vir vele werklike of gewaande slegte optredes.

Hoeveel sake waaroor die publiek en die media so stof opskop is die gevolg daarvan dat strooipoppe van die werklikheid geskep word, en die strooipoppe, eerder as die werklikheid, dan onder skoot kom?

Hoeveel van die volgehoue aanvalle op Helen Zille, Wes-Kaapse premier, is nog op die werklike persoon gemik, en hoeveel op ’n strooipop van haar wat vir teikenskiet gebruik word?

En so af en toe word sommer nog strooipoppe langsaan opgetrek en na geskiet. Seker die mees klassieke voorbeeld is toe Max du Preez onlangs in een van sy rubrieke oor Zille se twiet skryf: “G’n wonder nie verstokte ras-fundamentaliste soos Steve Hofmeyr en Kallie Kriel het dadelik tot Zille se redding gekom.” So ’n beskuldiging teen Kriel staan in skrille kontras met ’n advertensie wat op die oomblik loop van AfriForum Jeug Kovsies waarin rasbeheptheid afgewys word.

Maar dit is asof Max en die ander lede van die Seunse Weenkoor, wanneer dit by die Solidariteit Beweging en sy filiale kom, kompulsief dinge kwytraak wat nie werklik is nie, en ook ander leiers is al as strooipoppe opgestel. Lees gerus Kallie Kriel se artikel hieroor op Maroela Media. Die opskrif: “Die tirannie van politieke korrektheid knou oop gesprek.

Kriel wys daarop, en dit kan met vele voorbeelde gestaaf word, dat sekere historiese kwessies deur die ANC tot heilige koeie verhef word, en dat enige aanval daarop as rassisme afgemaak word. ’n Goeie voorbeeld was toe dr. Pieter Mulder, toe nog leier  van die Vryheidsfront Plus, ’n “lesing” oor grondbesit in die parlement gelewer het. Sy feite was in skrille kontras met gereelde stellings van onder meer Zuma self dat wit mense die grond bekom het deur dit van swart mense te steel. Die ANC se strooipop, dus. So onthuts was die ANC en ander partye dat Zuma self tot die debat toegetree het en vir Mulder die leviete voorgelees het.

Op ’n globale skaal is daar ’n reuse-histerie oor Donald Trump se verkiesing tot Amerikaanse president. Trump leen hom tot kritiek, maar die volgehoue histerie van byvoorbeeld sekere media lyk ook al meer na kompulsiewe gedrag om hul teleurstelling / ongeloof te verwoord oor die linkses / liberales teen hul verwagting die kreeftegang gegaan het.

Trump se ondersteuners reageer in gelyke munt om vir hom in die bresse te tree, met soms die mees verregaande stories wat vir die waarheid opgedis word.

Dieselfde geld ook ander karakters soos Wladimir Poetin, die Russiese president, en op die oomblik, Geert Wilders, die vurige Nederlandse politikus. Daar is net geen einde aan skrywes van analiste om Wilders se vertoning in die Nederlandse verkiesing af te maak, of op te hemel nie. En steeds word die strooipoppe van Wilders opgestel … sy ondersteuners wat van hom ’n politieke wonder maak, en sy teenstanders wat hom en sy ideologie as gevaarlik beskou. Baie van die “feite” wat opgedis word versmelt met die samesweringsteorieë.

Oor baie sake is daar nie besonderse politieke korrekte weergawes wat die een of ander kant as heilige koei kan opstel nie.

Die EFF kan tegnies nie sy mond veel oor die Zille-twiet lug nie, want sy eie leier, Julius Malema, het enkele jare gelede by Medunsa gesê apartheid was nie net sleg nie. Tog sal die EFF dit anders sien – Malema is swart en Zille is wit. En siedaar, ons het nog ’n voorbeeld van politieke korrektheid wat ’n rasbenepe tirannie skep.

Voorbeelde van hoe vooroordeel tot die opstel van strooipoppe kan lei is volop. Na afloop van die Reitz-vier-debakel skryf ’n senior joernalis oor die voorval asof die video-opnames soos ’n “candid camera”-opname geskiet is, met die skoonmakers wat salig onbewus daarvan was. In werklikheid het hulle vrywillig deelgeneem, en toe die eindproduk vir hulle gewys is, het hulle van hul vriende gaan roep om saam te kyk. Uiteindelik is die vier gevonnis op aanklagte waarvoor hulle nie eens aangekla was nie, en moes die hooggeregshof met ’n appèl sake in die reine bring.

In die ou Suid-Afrika is gereeld kursusse aangebied oor hoe kulture verskil sodat konfliksituasies voorkom kan word. So is onder meer verduidelik dat in die wit kultuur ’n vrou eerste by ’n deur moet in- of uitgaan, terwyl dit in die swart kulture die man is wat eerste moet deurgaan om seker te maak daar wag nie gevare aan die ander kant nie.

Kursusgangers het byvoorbeeld ook geleer welke uitspraak vir die naam, Mangaung, die korrekte is. Spreek dit verkeerd uit, en dit beteken “die plek wat stink”. Ongelukkig word dié weergawe gereeld oor nasionale senders gehoor.

Is kursusse waar wit en swart kan leer wat kwetsend teenoor mekaar is, nie nou gebiedend noodsaaklik is nie? Hoeveel wit mense was voor die Zille-kwessie bewus daarvan dat die woord “kolonialisme” so ’n negatiewe konnotasie het? Dit kon nie sonder meer “geweet” gewees het nie weens die voorkeurgebruik van Engels, die verklaring van koloniale grense as onaantasbaar al is baie van hierdie grense permanente bronne van konflikgenerering, en vele meer.

Net so, hoeveel wit mense was bewus van die sensitiwiteit oor “blackfacing” voor ’n voorval groot opskudding veroorsaak het?

Maar die skoen is soms ook aan die ander voet, soos wanneer ’n LP tydens ’n debat oor plaasaanvalle uitroep die boere moet lewend begrawe word. Of om wit mense van gronddiefstal te beskuldig, en Jan van Riebeeck te gaan slegsê.

Vermiste tiener gevind: Man vas

$
0
0

Rene Roman

Die polisie het ʼn 50-jarige man in hegtenis geneem nadat die liggaam van ʼn vermiste 13-jarige meisie vroeër die week gevind is.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê Rene Roman se halfnaakte liggaam is Dinsdag in Lavender Hill naby haar ouerhuis gevind.

Volgens mediaberigte is Roman se liggaam in ʼn houthut in die agterplaas gevind. Haar hande en voete was vasgebind en die liggaam het al begin ontbind.

Roman is op 10 Maart die laaste keer lewend gesien deur ʼn vriend. Volgens Van Wyk is die verdagte Dinsdag in Stellenbosch in hegtenis geneem. “Polisiebeamptes het die man Donderdag na die toneel geneem waar Roman se liggaam gevind is. ʼn Groot groep lede van die gemeenskap het die man probeer aanval en ʼn polisiebeampte is in die proses beseer en vier polisievoertuie beskadig.”

Volgens Van Wyk moes die polisie hul ondersoek van die misdaadtoneel opskort weens die plofbare situasie. Die verdagte sou reeds Donderdagmiddag in die Wynberg-landdroshof verskyn het.

Van Wyk het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om die polisie toe te laat om hul werk te doen. “Dit is teen die wet om reg in eie hande te neem,” het hy gesê.

Londen: Dodetal styg; groep aanvaar verantwoordelikheid

$
0
0

ʼn Britse LP, Tobias Ellwood (links), staan by nooddienswerkers op die toneel buite die Paleis van Westminster in Londen (22 Maart 2017). Foto: Stefan Rousseau/PA via AP

Die Islamitiese Staat (Isis) het verantwoordelikheid vir die dodelike aanval in Westminster in Londen aanvaar.

Maroela Media het vroeër berig ʼn enkele aanvaller het met ʼn motor in voetgangers op die Westminster-brug ingejaag voordat hy ʼn polisiebeampte binne die hekke van die parlement met ʼn mes doodgesteek het.

Die polisie het intussen bekendgemaak die dodetal van die aanval het tot ses gestyg. Dit kom nadat ʼn 75-jarige man Donderdagaand in die hospitaal dood is toe die masjiene wat hom aan die lewe gehou het afgeskakel is.

Die oorledenes is die aanvaller, vier lede van die publiek en ʼn polisiebeampte. Minstens 29 mense wat tydens die aanval beseer is, word steeds in hospitale behandel.

Die aanvaller is deur die polisie as Khalid Masood (52) geïdentifiseer. Hy is doodgeskiet deur polisiebeamptes nadat hy probeer het om die Britse parlementsgebou binne te gaan.

Die metropolisie het gesê Masood is in Kent gebore en het in die westelike Middellande gewoon. “Hy het talle vorige oortredings vir onder meer aanranding en die besit van aanvalswapens. Sy laaste oortreding was in 2003.”

Maroela Media het vroeër berig sewe mense is in hegtenis geneem in verband met dié dodelike terreuraanval.

Theresa May, die Britse eerste minister, het gesê daar is steeds ʼn baie hoë risikofaktor in die land. May het Europeërs en die wêreldgemeenskap gemaan om sterk en verenig te staan teenoor terreur.

 

Vrou gevonnis vir moord op man

$
0
0

Carolina Visser. Foto: SAPD

Carolina Visser (44) is skuldig bevind en gevonnis vir die moord op haar man verlede jaar.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê Visser is in die hooggeregshof in Polokwane tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op Leon Potgieter (62).

Potgieter is op 19 Februarie verlede jaar by die egpaar se huis in Kampersrus buite Hoedspruit doodgeskiet.

Visser is tot ʼn bykomende drie jaar gevonnis vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ses maande vir die besit van ongelisensieerde ammunisie.

Volgens Ngoepe het Visser beweer sy was die slagoffer van huishoudelike geweld. Sy het egter nooit ʼn saak by die polisie aanhangig gemaak in die verband nie. Visser het Potgieter drie keer in die kop geskiet. Sy liggaam is later in die egpaar se bed gevind.

Agt Sassa-beamptes in hegtenis geneem

$
0
0

Van die beamptes wat in hegtenis geneem is. Foto: SAPD

Agt beamptes van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) is in hegtenis geneem op aanklag van bedrog en korrupsie.

Kapt. Dineo Sekgotodi, woordvoerder van die Valke in Mpumalanga, het gesê die verdagtes, sewe vroue en ʼn man tussen 32 en 63 jaar oud, is Donderdag in hegtenis geneem.

Volgens Sekgotodi het die beamptes glo Sassa se stelsels gemanipuleer deur mense sonder gebreke as gestremdes te klassifiseer om sodoende toelaes te bekom. “Die verdagtes het sodoende glo die staat met meer as R5,5 miljoen bedrieg.”

Sekgotodi het gesê die ondersoek na die bewerings het reeds in Desember 2015 begin. “Die verdagtes sal Vrydag in die Tonga-landdroshof verskyn.”

Genl.maj. Zodwa Mokoena, provinsiale hoof van die Valke, het gesê diegene wat by korrupte bedrywighede betrokke is, moet weet die Valke gaan hulle opspoor en vervolg.

“Korrupsie in die regering en private sektor beroof ons mense van iets wat aan hulle verskuldig is en ons sal geen steen onaangeroer laat nie om seker te maak diegene wat hulle hieraan skuldig maak word vervolg.”

Scott-Crossley se verhoor begin dan

$
0
0

Mark Scott-Crossley in die hof. Foto: SAPD

Mark Scott-Crossley het Vrydag weer in die Lenyeye-landdroshof naby Tzaneen in Limpopo verskyn.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die saak is tot 12 April uitgestel wanneer Scott-Crossley se verhoor in die streekhof sal begin. Ngoepe het gesê die polisie se ondersoek na die voorval is afgehandel.

EFF- en ANC-lede het soos met vorige verskynings voor die hof betoog. “Die polisie se openbare orde-lede was ook buite die hof om seker te maak daar is geen voorvalle nie.”

Scott-Crossley is verlede maand borgtog geweier. Hy staan tereg op ʼn aanklag van poging tot moord.

Scott-Crossley is op 18 Januarie in Pretoria in hegtenis geneem. Maroela Media het vroeër berig ʼn lasbrief is op 21 Desember vir sy inhegtenisneming uitgereik in verband met ʼn voorval op 14 Desember.

Op dié betrokke dag het Silence Mabunda (37) glo iets by ʼn winkel in Hoedspruit gekoop. Mojapelo het vroeër gesê Mabunda het buite die winkel op sy foon staan en praat toe ʼn man die foon uit sy hand gegryp en dit op die grond stukkend gegooi het.

Betogers buite die hof. Foto: SAPD

Mabunda het toe glo teruggestap na sy werkplek, ʼn wildrehabilitasiesentrum buite Hoedspruit. Dit is toe dat hy glo deur ʼn voertuig omgestamp is waarna die bestuurder ook met die voertuig oor hom sou gery het. Volgens berigte het Mabunda ernstige beserings aan sy bene opgedoen en loop nou met krukke.

Die polisie het aanvanklik ʼn tref-en-trap-ongeluk ondersoek, maar dit is intussen na ʼn saak van poging tot moord verander.

Scott-Crossley is in 2005 tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir sy aandeel in die moord op een van sy werkers, Nelson Chisale, wat in ʼn hok met drie wit leeus gegooi is. Chisale is glo ook erg aangerand deur twee ander werkers voordat hy in die hok gegooi is.

Scott-Crossley se skuldigbevinding is in 2007 deur die appèlhof ter syde gestel en sy vonnis is na vyf jaar tronkstraf verander vir medepligtigheid aan die daad aangesien daar nie bepaal kon word of die oorledene moontlik al weens die aanranding gesterf het voordat hy in die leeuhok gegooi is nie.

Scott-Crossley is in 2008 op parool vrygelaat en het teen einde 2010 sy vonnis uitgedien.

Lees alle vorige berigte oor Mark Scott-Crossley op Maroela Media.


[Foto’s] Reusebrand woed in Durban

$
0
0

Foto: Twitter via @kznems.

ʼn Reusebrand het in ʼn gebou naby die Durbanse hawe in KwaZulu-Natal uitgebreek.

Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, het gesê die fabriek is aan Suidkusweg geleë. “Toe ons op die toneel aankom het rook uit die gebou geborrel. Daar was talle lede van die plaaslike brandweer ook op die toneel.”

Jamieson het gesê die brand het groot skade aan die struktuur van die gebou veroorsaak. “Volgens die SAPD op die toneel is daar waspanele in die gebou. Dit en die stormsterk wind wat waai maak dit baie moeiliker vir die brandweer om die brand onder beheer te bring.”

Volgens Jamieson is een persoon beseer tydens die voorval en deur Rescue Care na ’n nabygeleë hospitaal vervoer. Hy het ligte brandwonde opgedoen.

“Dit is nog onduidelik hoe die brand ontstaan het, maar die saak sal ondersoek word,” het Jamieson gesê.

Die wêreld in foto’s – 24 Maart 2017

$
0
0

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Polisie in Manila probeer ʼn hek toe hou tydens ʼn protesoptog in die Filippyne. Foto: Aaron Favila, AP

ʼn Nuwe tolstelsel word binnekort op Duitsland se A5-snelweg ingestel. Foto: Michael Probst, AP

Indonesiese polisiebeamptes in Bekasi vorm ʼn verdedigende formasie tydens ʼn botsing met ʼn Moslem-groep wat protesteer teen die bou van ʼn Katolieke Kerk. Foto: Achmad Ibrahim, AP

Joernaliste van China neem foto’s van panda Bao-Bao tydens sy aankoms by sy nuwe huis in Dujiangyan in China se Suid-Wes provinsie. Foto: Chinatopix via AP.

Modelle vertoon Yuma Koshino se klerereeks tydens die modeweek in Tokio. Foto: AP Photo/Koji Sasahara.

Hoenderbedryf: ‘Ons vra nie gunste, net regverdige behandeling’

$
0
0
hoenders

Foto: Zdenet/Pixabay.com

Plaaslike hoenderprodusente is oortuig die bedryf kan minstens nog 20 000 werksgeleenthede skep waar dit die meeste benodig word – vir ongeskoolde werksoekers in die platteland – mits die bedryf teen die storting van buitelandse invoer van bevrore hoenderprodukte beskerm word.

Die teenpool is dat indien die bedryf sou vou, meer as 133 000 mense hul werk kan verloor. Die hoenderbedryf is die grootste subsektor in Suid-Afrikaanse landbou met ʼn brutowaarde van R31,5 miljard per jaar.

Die inkrimping van die hoenderbedryf sal ook ʼn negatiewe impak op die plaaslike verbruik van mielieboere se produksie hê aangesien mielies 60% van hoenderprodusente se uitgawes is en die hoenderbedryf die grootste verbruiker van geelmielies en die tweede grootste verbruiker van witmielies is. As die bedryf verklein is dit dus nie net werksverliese in die hoender- en pluimveebedryf wat geraak word nie. Die implikasie vir die landbou is veel wyer en verskeie randbedryfsrigtings sal ook hierdeur geraak word.

Die hoenderbedryf is die afgelope twee weke weer in die kollig nadat die vere Donderdag behoorlik gewaai het tydens ʼn parlementêre debat tussen hoenderinvoerders en vervaardigers waarin albei partye mekaar geblameer het vir die krisis in die bedryf.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa het op 15 Maart ná vrae oor die krisis in die hoenderbedryf in die nasionale raad vir provinsies gesê die regering sal nie toelaat dat die storting van oorsese hoenderprodukte in die plaaslike mark veroorsaak dat nóg mense hulle werk in die hoenderbedryf verloor en hoenderplase gesluit word nie.

Ramaphosa het gesê twee taakspanne is op die been gebring om die situasie in die hoenderbedryf te ondersoek. Planne om die insetkoste in die bedryf te verlaag en ʼn finansiële reddingsboei is van die voorstelle waarna gekyk sal word in ʼn poging op die plaaslike bedryf van ondergang te red.

Chris Schutte van Astral Foods en Marthinus Stander van Country Bird Holdings (CBH) het aan Maroela Media gesê die krisis wat die bedryf tans in die gesig staar het nie oornag ontstaan nie. Schutte en Stander voer aan dat Suid-Afrika nie ʼn gekoördineerde landboubeleid het wat met ʼn internasionale handelsbeleid in pas is nie.

Schutte en Stander meen die handelsooreenkoms is veronderstel om Suid-Afrika en Europa onbeperkte vryehandel na mekaar se markte te gee, maar dit is tans nie ʼn tweerigtingstraat nie. “Europa sit met ʼn strukturele probleem, hulle kan nie al die porsies in hulle mark verkoop kry nie en stort dit dan hier, maar Suid-Afrika kan nie ʼn enkele hoender in Europa verkoop nie. Europa gebruik tegniese maatreëls om dit te verhoed en sal byvoorbeeld sê ons volstruise het voëlgriep daarom kan hulle nie ons hoenders koop nie, terwyl dit nie eers dieselfde biologiese siekte is wat kommersiële hoenders bedreig nie. Verder sê die lande dan eenvoudig hulle sal besluit wanneer hulle ons vleis gesond en veilig verklaar kan word en daag net nooit op om dit te doen nie,” het Stander gesê.

‘n Skermskoot uit ‘n e-Nuus video oor die krisis in die plaaslike hoenderbedryf.

“Europa kan hoendervleis teen R30 per kg produseer terwyl dit ons in Suid-Afrika sowat R27 per kg kos. Die probleem is egter die lande word gesubsidieer en boonop verhaal hulle die totale produksiekoste en maak ʼn reusewins uit die verkope van die witvleis, die hoenderborsies, wat teen soveel as R180 per kg in Europa verkoop word. Dit beteken die res van die hoender kan vir ʼn appel en ʼn ei in Suid-Afrika verkoop word.”

Stander sê ʼn heel hoender word in Suid-Afrika vir R35 per kg verkoop terwyl die oorsese afvalstukke vir so min as tussen R12 en R16 ingevoer word. “Hoenderprodukte kom goedkoop in die land in, maar dit skep iewers elders in die wêreld werk en vernietig ʼn plaaslike pos. Boonop word daar kostes en marges bygevoeg en op die ou einde moet die verbruiker daarvoor betaal.”

Nog ʼn kommerwekkende stelling wat die produsente maak is dat daar dikwels nie ʼn beduidende prysverskil tussen die plaaslike produkte en ingevoerde produkte is wat in winkels verkoop word nie. Die Suid-Afrikaanse verbruiker se beursie baat dus nie by die goedkoper produkte wat ingevoer word nie.

Stander het verder gesê dit is ook ʼn slegte idee om goedkoop proteïen aan ʼn land se mense te verskaf op die basis van ʼn ander land se storting van die produk. “Enigiets kan gebeur en dan is daardie proteïen nie meer beskikbaar nie. Onthou in Suid-Afrika is hoender ons goedkoopste proteïen en ʼn soort stapelvoedsel terwyl dit in Europa as ʼn gesondheidsproduk gesien word.”

Volgens Stander het onafhanklike navorsing wat in 2014 deur die Wageningen Universiteit in Nederland gedoen is, bevind Suid-Afrika is die vyfde sterkste hoendervervaardiger uit 16 lande naas Brasilië, Argentinië, die VSA en die Oekraïne. Boonop het dieselfde navorsing getoon dat Suid-Afrika se bedryf een van die tegnies effektiefste bedrywe ter wêreld is.

“Ons vra nie vir ʼn spesiale guns of om beskerm te word omdat ons oneffektief of nie-kompeterend is nie. Ons vra doodeenvoudig dat hierdie handelsooreenkoms van albei kante regverdig moet wees. As Europa toegelaat word om hulle hoender hier te stort moet Suid-Afrika se hoenderbedryf toegelaat word om ʼn gedeelte van ons hoender in hulle mark te verkoop. Dit is ʼn feit, elke land beskerm sy hoenderbedryf want dit is ʼn groot werkverskaffer en dit het verskeie parallelle ondernemings wat hand aan hand loop, maar ons is een van die lande met die minste beskerming in terme van die bedryf,” het Schutte gesê.

Stander en Schutte sê verder dat die voorgestelde 13,9% invoerheffings op bevrore hoender belaglik is. “Ek vermoed die EU sit en lag vir ons want dit is gelyk aan 17 (euro-)sent en sal absoluut geen impak maak op die hoeveelheid hoender wat uitgevoer word nie. Ons het ʼn meer indringende ingryping nodig maar ʼn invoerheffing van 36% kan ʼn korttermynoplossing wees om die bedryf van ondergang te red. In die langertermyn moet daar die een of ander vorm van heronderhandeling wees om te verseker dat Suid-Afrika ons eie voedselsekuriteit in die toekoms kan handhaaf,” het Schutte gesê.

Stander meen die publiek kan baie doen om die plaaslike hoenderbedryf te ondersteun. “Ek dink ʼn bewustheid van wat besig is om te gebeur help reeds baie. Suid-Afrikaanse verbruikers kan gerus wees dat ons ʼn mededingende bedryf is, wat ʼn klomp goeie goed vir Suid-Afrika doen en net vir regverdige behandeling vra. As ons die prentjie omdraai kan ons werk skep, voedselsekuriteit verskaf en landelike ontwikkeling aanhelp.”

  • Maroela Media het met Chris Schutte van Astral Foods en Marthinus Stander van Country Bird, albei lid van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa), gesels oor die wanpersepsies rondom die bedryf. Schutte en Stander het ook verduidelik wat gedoen kan word om die bedryf te red. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

Solidariteit se aansoek oor Hlaudi dan aangehoor

$
0
0

Hlaudi Motsoeneng. Foto: Catherine Rice/ANA

Die vakbonde Solidariteit en Bemawu se aansoek, om Hlaudi Motsoeneng as respondent by te voeg in dié twee vakbonde se kostebevelsaak teen die SAUK, sal Dinsdag in die arbeidshof in Johannesburg aangehoor word.

Die arbeidshof het in 2016 beslis die sogenaamde SAUK 8 is onregmatig afgedank. Die hof het ook Solidariteit en Bemawu, wat elk vier van die SAUK-lede verteenwoordig het, se aansoeke om die joernaliste weer aan te stel, met koste toegestaan.

Volgens Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, voer die vakbonde aan al het Motsoeneng nie self die opdrag uitgevoer nie, die de facto besluit om die joernaliste af te dank op sy instruksie uitgevoer is deur Simon Tebele, wat reeds as respondent ingesluit is.

Die vakbonde wil Motsoeneng as respondent insluit om hom persoonlik aanspreeklik te hou vir die twee vakbonde se regskoste, het Van der Bijl gesê.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het verlede maand die SAUK se aansoek om appèl teen ʼn vroeëre hofuitspraak, wat Motsoeneng se aanstelling as groepshoof van korporatiewe sake by die openbare uitsaaier onwettig verklaar het, van die hand gewys.

Die hof het vroeër bevind Motsoeneng is onbevoeg om enige posisie by die openbare uitsaaier te beklee totdat ʼn verdoemende verslag van die openbare beskermer tersyde gestel is of ʼn nuwe dissiplinêre verhoor hom van enige oortreding vrygespreek het.

Lees alle vorige berigte oor die SAUK op Maroela Media.

Hoop vir Namib se laaste wilde perde

$
0
0
woenstyn-perde-van-die-namib

Die wilde perde van die Namib staan op die randjie van uitwissing. Die droogte en ‘n trop gevlekte hiënas plaas ekstra druk op die kwynende perdebevolking. Foto:
NamibiaWildHorses/Facebook.

Wilde perde in die Naukluft Nasionale Park in Garub, Namibië, staan op die randjie van uitwissing en sal binnekort na ʼn veiliger habitat verskuif word om hierdie rare verskynsel van die Namibiese woestyn te red.

Volgens die Namibiese stigting vir Wilde Perde (Namibia Wild Horses’ Foundation – NWHF) het die droogte, wat Suider-Afrika tans teister, migrerende wild van die noorde en ooste van die land gedryf na groener weivelde in die suide en dit is hier waar ʼn trop gevlekte hiënas nou hoofsaaklik jag op die perde in die Garub maak. Dit plaas ekstra druk op die kwynende perdebevolking, wat tans net uit 128 perde bestaan. Geen nuwe vulletjies het sedert 2013 oorleef nie en die trop het net 39 merries oor, berig die Facebook-blad Informanté. Die hiënas vang tans omtrent elke derde dag ʼn perd en die stigting is bevrees dat die trop teen hierdie tempo teen so vroeg as Augustus kan uitsterf.

Na verskeie berigte oor die lot van die wilde perde en ʼn dringende beroep van die publiek dat die perde gered moet word, het die NWHF saam met die Namibiese departement vir omgewingsake besluit om die trop perde na ʼn veiliger habitat, weg van die hiënas, te skuif. Die NWHF is nou op soek na ʼn stuk grond waarheen die perde geskuif kan word sodat hulle steeds naby die Garub is, waar die diere die laaste 100 jaar al leef.

Volgens die NWHF is dit belangrik dat die publiek toegang tot die perde het, aangesien die trop een van die top tien toeriste aantreklikhede in die land is. Die stigting is ook afhanklik van donasies om die perde te hervestig en het reeds 1,5 miljoen Namibiese dollar van internasionale en nasionale donateurs ontvang vir voer om die trop tydens die droogte te onderhou.

woenstyn-perde-van-die-namib-ou-foto

Die herkoms van die wilde perde van Namibië sal seker vir altyd ‘n geheim bly, maar daar bestaan verskeie teorieë. Foto: NamibiaWildHorses/Facebook.

Die oorsprong van die Namib se wilde perde is onbekend, maar volgens Wikipedia is daar verskeie teorieë oor die perde se herkoms. Volgens een teorie het ʼn vragskip met volbloed Arabiese perde onderweg na Australië naby die mond van die Oranjerivier gestrand. Die sterkste perde het uitgeswem en hulle op die Garub-vlaktes gevestig. Nog ʼn teorie voer aan die perde is ʼn kruising van die Kaapse perd of Basotho-ponie van die Khoi-khoi, maar die waarskynlikste teorie is dat die Namib se wilde perde ʼn kombinasie van ontsnapte Suid-Afrikaanse militêre perde en Namibiese geteelde Duitse perde is.

Die Duitse Baron von Wolf, wat die Dunwisib-kasteel op die rand van die Namib-woestyn gebou het, het ʼn trop van 300 perde gehad. Wolf is dood in die Eerste Wêreldoorlog in Europa en die perde op sy plaas is net so gelaat om rond te dwaal op onomheinde grond, relatief naby aan die plek waar die wilde perde vandag nog woon.

Die genetiese bewyse van ʼn studie wat in 2001 gedoen is, het egter getoon die perde is eerder afstammelinge van volbloed Arabiese perde, as die Hackneys en Trakehners wat Wolf in sy teelprogram gebruik het. Verdere navorsing uit die argief van teelprogramme voor 1914 en bloedstudies toon die wilde perde is afstammelinge van volbloed rydiere en nie werkperde nie.

woenstyn-perde-van-die-namib-voer

Die stigting het reeds 1,5 miljoen Namibiese dollar van internasionale en nasionale donateurs ontvang vir voer om die trop tydens die droogte te onderhou Foto: NamibiaWildHorses/Facebook.

Nog ʼn studie, wat in 2005 gedoen is, toon die Namibiese woestynperde kan ʼn kruising tussen Europese teelperde en ontsnapte militêre perde wees. Nog ʼn bron van die teelperde is ʼn stoetplaas naby Kubub, wat aan die voormalige burgemeester van Lüderitz, Emil Kreplin, behoort het tussen 1911 en 1919. Foto’s van die stoet skouperde uit hierdie tydperk lyk baie soos die wilde perde van vandag. Daar word gereken die militêre perde is verwilder deur bomme wat Duitse vliegtuie tydens die Eerste Wêreldoorlog op Suid-Afrikaanse kampe gegooi het. Die ontsnapte weermagperde het by die perde van die Kreplin-stoetplaas aangesluit en waarskynlik by ʼn paar standhoudende watergate in die Aus-berge en Garub bymekaar gekom.

Tog het die wilde perde daarin geslaag om heeltemal aan te pas by die droë Namibiese klimaat en navorsing het getoon die diere plaas nie ekstra druk op die omgewing nie. Die trop het altyd uit sowat 200 perde bestaan, wat volhoubaar is vir die geharde habitat. Die wilde perde is een van net 50 wilde perdbevolkings in die wêreld.

Viewing all 56621 articles
Browse latest View live