![]()
Patat die vriendelike donkie. Foto: Verskaf
Die video volg onderaan die berig
Patat, oftewel Donka, is ʼn 18 maande oue donkievulletjie van Suid-Afrika wat oornag ʼn internetsensasie geword het.
Talle sosialemediagebruikers het vandeesweek op Facebook en WhatsApp met Patat kennis gemaak waar hy dolgelukkig en balkend nader gehardloop kom as hy sy menspappa, Stoffel van Zyl (52), se stem hoor.
“Sy blydskap om sy mense te sien is iets ongelooflik om te aanskou,” is een van die talle kommentare wat die emosies wat dié video uitlok, opsom.
Stoffel, ʼn boer en bekende in die landboukringe, het Saterdag aan Maroela Media gesê hy wou al lankal ʼn donkie gehad het om hans groot te maak.
“Ek het ʼn plaas buite Groblershoop in die Nood-Kaap, maar woon op ʼn plaas buite Welkom in die Vrystaat. Ek en my vennoot het laat in 2015 van Groblershoop teruggery Vrystaat toe, toe hy vir my sê hy weet van ʼn weesdonkie waarvoor iemand ʼn eienaar soek. Ek het daar gaan stop en hom aangeneem. Ons het hom aanvanklik Patat genoem, maar hy het vinnig die bynaam Donka gekry,” het Stoffel gesê.
Patat was twee maande oud toe Stoffel met hom by sy Welkom-huis opgedaag het. Hy is in die Van Zyl-gesin se huis grootgemaak en het hom vinnig as deel van die gesin ingewurm.
Ná ʼn jaar het hy egter te groot geword vir die huis en moes hy van Desember op die Groblershoop-plaas gaan bly, waar hy vinnig maats gemaak het met ʼn “potbelly”-varkie, twee ganse, hoenders en twee koedoekalfies. Hy het egter nie van sy mensfamilie vergeet nie.
“Ons kom so een keer per maand op die Groblersoop-plaas en as hy my bakkie sien of my stem hoor, kom hy opgewonde aangehardloop. Die video wat tans die ronde op sosiale media doen is sowat ʼn maand gelede geneem, maar is een van baie wat wys hoe gelukkig hy is. Ek het dit op Facebook geplaas om vir my vriende te wys en toe ek weer sien is dit teen Saterdag al meer as 220 000 keer gekyk.”
Stoffel beskryf Patat as ʼn liefdevolle dier met ʼn siel en persoonlikheid. “ʼn Donkie is nie ʼn dier wat alleen wil wees nie, hy wil aan iets of iemand geheg wees. Donka is ʼn deel van ons gesin en steel harte waar hy gaan. Hy spring gereeld agter op my bakkie en het al saam met ons dorp toe gery om ʼn melkskommel by McDonald’s te gaan drink. Almal kyk vir die donkie en wil foto’s neem, hy is baie geliefd.”
Patat word nie net met melkskommels bederf nie: Hy lê ook graag weg aan wortels, appels en enige peuselhappies wat Stoffel aan hom dra … iets waarvan hy baie gaan kry as hy in September twee jaar oud word.