Riaan Roux (46), ʼn fotograaf van Klerksdorp in Noordwes, het in die plaaslike streekhof skuld erken nadat meer as 2 000 pornografiese foto’s van kinders in sy besit gevind is.
Roux het ʼn pleit- en vonnisooreenkoms met die staat aangegaan waarin hy erken hoe hy onder die gebruikernaam Daswolf die foto’s van die internet afgelaai en op ʼn hardeskyf gestoor het.
Volgens die inligting in die ooreenkoms het Roux se aksies vir die eerste keer in 2015 aan die lig gekom toe die polisie inligting van Interpol in Rusland ontvang het van ʼn moontlike verdagte in Suid-Afrika wat pornografiese foto’s en beeldmateriaal van kinders aflaai. Die IP-adres wat gebruik is om die pornografie mee af te laai, is met Roux verbind.
Roux se huis en fotografiese ateljee is deursoek en die polisie het op skootrekenaars, geheuestokkies, hardeskywe en selfone beslag gelê. Altesaam 2 391 foto’s van minderjarige kinders, wat kaal in speelareas en op strande afgeneem is, is gevind. Roux is uiteindelik in April verlede jaar op ʼn aanklag van die besit van kinderpornografie in hegtenis geneem.
In die pleitooreenkoms erken Roux hy het beplan om die foto’s af te laai en hy is nie deur iemand anders beïnvloed om dit te doen nie. “Ek aanvaar daar is geen verskoning vir my optrede nie,” het hy gesê.
Die staat het aangevoer dit is verswarend dat Roux ʼn professionele fotograaf is wat dikwels vertrou word om foto’s van kinders te neem tydens fotosessies of by skoolbyeenkomste. Die staat het ook aangevoer dat Roux die ervaring en toerusting het om foto’s te redigeer, wat “nie ʼn ongewone praktyk is vir mense wat kinderpornografie vervaardig, versprei en besit nie”. Roux het nie self die pornografiese foto’s wat in sy besit gevind is geneem nie.
Roux is ʼn boete van R5 000 of 18 maande tronkstraf opgelê, asook ʼn verdere drie jaar tronkstraf wat vir vyf jaar opgeskort is. Sy naam is in die nasionale register vir seksuele oortreders opgeneem en die hof het gelas dat hy onbevoeg is om ʼn vuurwapen te besit.
Roux is in 1990 op twee aanklagte van diefstal skuldig bevind en in 1994 op drie oortredings van die Wet op Plofstowwe. Hy is verloof en is die pa van twee minderjarige kinders. Die kinders is nie in sy sorg nie.