Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all 56621 articles
Browse latest View live

Jong man dood langs pad gekry

$
0
0
Ruan Viljoen (Foto: Facebook)

Ruan Viljoen (Foto: Facebook)

Ruan Viljoen (18) se liggaam is Sondag ʼn paar honderd meter van sy motor gevind langs die N14-snelweg in Centurion.

Sergei Greyvenstein, Ruan se pa, het Dinsdag aan Maroela Media gesê Ruan is in ʼn tref-en-trap-ongeluk oorlede. “Ruan se motor het onklaar geraak en hy het langs die pad stilgehou. Sy selfoon se battery was ongelukkig pap en hy kon nie enige hulp ontbied nie. Hy het sy goed opgepak en begin stap – vermoedelik in Jeanlaan se rigting, waarskynlik om my te probeer bel.”

Volgens Sergei het ʼn silwer motor Ruan getref en weggery. Hy versoek enigiemand wat verdere inligting oor die ongeluk het om met die polisie in verbinding te tree.

Ruan het verlede jaar aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria gematrikuleer.

Hy laat sy ma Anita, pa Sergei en ʼn negejarige sussie agter.

“Gaan jou mis my seun. Jy is en was my alles. God het jou vir my geleen sodat ek kan verstaan hoe om onvoorwaardelik lief te hê. You made me so proud everyday,” het Sergei op Facebook oor sy seun gesê.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het in ʼn verklaring gesê paramedici van ER24 was op pad terug na hul tak toe hulle ʼn voertuig op die middelpaadjie van die snelweg opgemerk het. “ʼn Jong man se liggaam is ʼn ent verder aangetref. Hy het veelvuldige beserings opgedoen. Niks kon ongelukkig verder vir hom gedoen word nie en hy is op die toneel dood verklaar.”

Kapt. Agnes Huma, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

Boodskappe van medelye stroom in op sosiale media ná Ruan se afsterwe.
Ruan Viljoen (Foto: Facebook) Ruan Viljoen (Foto: Facebook) Die toneel op die N14 (Foto: ER24)


[Foto’s] 29 voertuie bots op N12-snelweg

$
0
0
Ongeluk op die N12 (21 Maart 2017) Foto: ER24JHBCentral, Twitter

Ongeluk op die N12 (21 Maart 2017) Foto: ER24JHBCentral, Twitter

Minstens een persoon is Dinsdagoggend dood en 60 persone beseer toe 29 motors op die N12-snelweg naby Putfontein in Benoni, Ekurhuleni, in ʼn ongeluk betrokke was.

ER24 het gesê die voertuie, waaronder motors en vragmotors, het omstreeks 06:45 naby die Daveyton-afrit in swak sig weens mis plaasgevind.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici was op die toneel en die pad is vir verkeer gesluit om die ongelukstoneel op te ruim. Die toneel strek oor sowat 3 km.

Die beseerde persone is na verskeie hospitale geneem.

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.

Motoriste word aangeraai om van alternatiewe roetes gebruik te maak.

Ongeluk op die N12 (21 Maart 2017) Foto: ER24JHBCentral, Twitter Ongeluk op die N12 (21 Maart 2017) Foto: ER24JHBCentral, Twitter Ongeluk op die N12 (21 Maart 2017) Foto: ER24JHBCentral, Twitter Ongeluk op die N12 (21 Maart 2017) Foto: ER24JHBCentral, Twitter

[Foto’s] Stoomtrein-pretrit in die wiele gery

$
0
0
Die trein van Friends of the Rail wat tot stilstand gedwing is nadat die spoorlyn gesteel is (21 Maart 2017) Foto: Gemeenskapspolisiëringsforum, Cullinan

Die trein van Friends of the Rail wat tot stilstand gedwing is nadat die spoorlyn gesteel is (21 Maart 2017) Foto: Gemeenskapspolisiëringsforum, Cullinan

ʼn Stoomtrein van Friends of the Rail is Dinsdagoggend op pad na Cullinan tot stilstand gedwing nadat ʼn gedeelte van die spoorlyn gesteel is.

Alika Steyn van Friends of the Rail het aan Maroela Media gesê die spoorlyn is deur die aand gesteel en die treindrywers het onwetend met hul passasiers uit Pretoria vertrek.

Die pretrit vind daagliks tussen Hermanstad-stasie in Pretoria en Cullinan plaas. Die trein ry teen ongeveer 60 km/h en dit neem ongeveer drie ure om die afstand af te lê.

“Ons het busse ontbied en dit het reeds van die passasiers opgelaai wat steeds graag die dag in Cullinan wil deurbring. Die busse sal die passasiers weer later vanmiddag terugbring na Pretoria,” het Steyn verduidelik. “Persone wat eerder direk wil terugkom na Pretoria, kan ook met ʼn bus terugkeer.”

Volgens Steyn is dit nie die eerste keer wat die spoor gesteel word nie. “Dit het al talle male gebeur.”

Sy is in hierdie stadium net bewus van die twee drywers wat geringe beserings opgedoen het.

Karen Yssel, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Cullinan, het gesê ambulanse is tans op die toneel. Sy is ook net bewus van persone wat geringe beserings opgedoen het. “Nie een van die trokke het gelukkig omgeslaan nie. Persone het egter teen mekaar gestamp toe die trein so skielik tot stilstand gekom het,” het sy verduidelik. Volgens inligting het een persoon moontlik ernstige beserings opgedoen.

Die trein van Friends of the Rail wat tot stilstand gedwing is nadat die spoorlyn gesteel is (21 Maart 2017) Foto: Gemeenskapspolisiëringsforum, Cullinan Die trein van Friends of the Rail wat tot stilstand gedwing is nadat die spoorlyn gesteel is (21 Maart 2017) Foto: Gemeenskapspolisiëringsforum, Cullinan Die trein van Friends of the Rail wat tot stilstand gedwing is nadat die spoorlyn gesteel is (21 Maart 2017) Foto: Gemeenskapspolisiëringsforum, Cullinan Die trein van Friends of the Rail wat tot stilstand gedwing is nadat die spoorlyn gesteel is (21 Maart 2017) Foto: Gemeenskapspolisiëringsforum, Cullinan Die trein van Friends of the Rail wat tot stilstand gedwing is nadat die spoorlyn gesteel is (21 Maart 2017) Foto: Gemeenskapspolisiëringsforum, Cullinan

Man by Spur verbied ná voorval by restaurant

$
0
0
Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

Spur Steak Ranches het reageer oor ʼn voorval wat by Texamo Spur by The Glen-winkelsentrum in Johannesburg plaasgevind het.

ʼn Video van die voorval is op Facebook gedeel deur ʼn klant wat Sondag tydens die onderonsie die restaurant besoek het.

ʼn Man en vrou baklei op die video met mekaar, nadat die man die vrou se seun glo daarvan beskuldig het dat hy sy kind geboelie het. Die vrou voer egter aan dis die man se kind wat haar seun geboelie het.

Die man dreig om die vrou te slaan waarna sy hom daarvan beskuldig dat hy haar boelie.

Daar is tydens die verloop van die voorval geen teken van ʼn restaurantbestuurder nie, slegs ʼn paar kelners en van die ander restaurantgangers wat probeer ingryp.

Die vrou voer ook aan dit is net omdat hulle swart is dat die man hulle aanval.

Spur het intussen die voorval bevestig. “Ons is geskok oor die manier waarop die volwassenes hulself gedra, veral met so baie kinders teenwoordig,” lui ʼn verklaring van die restaurantgroep. “As ʼn familierestaurant keur Spur glad nie hierdie tipe gedrag goed nie.”

Aldus die verklaring het hulle die voorval ondersoek en Texamo Spur se personeel en bestuur het aangevoer hulle het wel probeer ingryp, maar is telkens deur die “ontstoke manlike klant weggestamp”.

Personeel het dadelik die winkelsentrum se veiligheidsbeamptes ontbied toe die situasie geëskaleer het, lui die verklaring.

“Die man is nie by enige Spur-restaurant landswyd welkom nie. Ons kan nie enige vorm van geweld teenoor vroue en kinders duld nie, ongeag die omstandighede,” het Spur se bestuur bygevoeg. “Ons is baie jammer dat kinders aan hierdie tipe gedrag blootgestel is en wil die publiek en al ons lojale klante verseker dat ons die voorval nie ligtelik opneem nie.”

NEEM KENNIS: Maroela Media se redaksie kies om nie die video te publiseer nie weens die taalgebruik in die video en verskeie kinders wat in die video te sien is. Hiermee slegs skermskote uit die video:

Skermskoot uit die video Skermskoot uit die video Skermskoot uit die video Skermskoot uit die video Skermskoot uit die video Skermskoot uit die video Skermskoot uit die video Skermskoot uit die video Skermskoot uit die video

Dam-uitstappie eindig tragies

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

ʼn 12-jarige seun se liggaam is Dinsdag uit ʼn dam in Geysdorp naby Delareyville in Noordwes gehaal nadat hy van ʼn opblaasbare speelding, wat deur ʼn boot gesleep is, afgeval het.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het Sondag plaasgevind. “Die slagoffer en vier ander seuns, almal tussen 12 en 13 jaar oud, het op die band gery voor hulle afgeval het. Die bestuurder van die boot kon die ander seuns uit die water haal, maar die 12-jarige het verdrink.”

Polisieduikers het Maandagoggend met die soektog begin en die seun se liggaam is vanoggend gevind.

“Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. ʼn Saak van strafbare manslag word ondersoek,” het Mokgwabone bygevoeg.

Padongelukkefonds by OB verkla

$
0
0
Padongelukkefonds

Padongelukkefonds

Die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) het ʼn klag by die openbare beskermer ingedien teen die Padongelukkefonds (POF).

Numsa wil hê die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, moet die omvang van skuld by die POF ondersoek en hoe die skuld sy vermoë, om sy kernmandaat te vervul, beïnvloed. Die POF se kernmandaat is die betaling van vergoeding aan slagoffers van padongelukke.

Irvin Jim, algemene sekretaris van Numsa, het Dinsdag in ʼn verklaring gesê POF is in ʼn permanente krisis en het ʼn skuldlas groter as R8 miljard.

Die balju van die hof het vroeër vanjaar beslag gelê op ʼn POF-bankrekening, weens die skuldlas van R8,2 miljard, en dit het betalings ter waarde van meer as R550 miljoen verhinder. Die beslaglegging is later opgehef en betalings het hervat aan eisers, diensverskaffers, aandelehouers en versorgers.

Daar is ook berig dat die POF maandeliks meer as 1 000 lasbriewe van die balju ontvang, en dat meer as 3 000 lasbriewe nog betaal moet word. Dit is glo ook algemeen dat daar beslag gelê word op bates van die POF, dit verwyder en verkoop word.

Jim het gesê die bestuur van POF versuim om sy verskaffers betyds te betaal en het bygevoeg die fonds het nie ʼn stelsel om regsfooie betyds te betaal nie, wat daartoe lei dat daar beslag gelê moet word op eiendom. “Dit beteken ook dat personeellede vir lang tye nie stoele het om op te sit of rekenaars het om op te werk nie. Dit het ʼn groot impak op die slagoffers, wat hoofsaaklik arm is en van die werkersklas is,” het Jim bygevoeg. “Slagoffers ly selfs nog meer en dis ʼn mors van die belastingbetalersgeld.”

Jim het gesê dit is ook ʼn risiko vir die privaatheid en vertroulikheid van miljoene burgers elke keer wanneer daar beslag gelê word op die POF se rekenaars en dit verwyder word – en dit is moontlik ʼn oortreding van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting.

Hy het gesê Numsa het ʼn skrywe aan Mkhwebane gerig om, onder andere, ondersoek in te stel of die POF die wet oortree het en watter stappe gedoen word om die private inligting te beskerm wanneer die rekenaars verwyder word.

Numsa-lede wat by die POF werk, het Donderdag landswyd begin staak. Hulle eis salarisverhogings en wil hê dit moet teruggedateer word tot 2015. Numsa-lede het Vrydag die strate ingevaar met hul griewe. Hulle het hul eise aan die departement van vervoer in Pretoria oorhandig. Jim het gesê die POF het egter geen teken getoon dat hy belangstel om te onderhandel nie en het nog geen formele versoek ingedien om met die werkers in gesprek te tree nie.

Eugene Watson, uitvoerende hoof van die POF, het verlede week gesê Numsa se redes vir die staking is onredelik en sonder enige meriete.

Thandeka Ngwenya, woordvoerder vir die POF, het gesê Numsa het nie enige onderhandelingsregte by die fonds nie, aangesien hy minder as 1 000 lede het met werknemers wat gemiddeld R350 000 verdien.

Veldwagter glo per ongeluk doodgeskiet

$
0
0

Veldwagters in die wildtuin. Foto: SANParke/Facebook

Veldwagters in die wildtuin. Foto: SANParke/Facebook

ʼn Veldwagter is Maandag in Onder-Sabie in die Krugerwildtuin doodgeskiet.

William Mabasa, woordvoerder van SANParke, het gesê besonderhede oor die voorval is steeds vaag en die polisie stel ondersoek in.

Fundisile Mketeni, hoof van SANParke, het gesê hulle is hartseer oor die dood van ʼn hardwerkende kollega. Hy het SANParke se meegevoel uitgespreek met die veldwagter se naasbestaandes en kollegas.

Geen verdere besonderhede is bekend gemaak nie. SANParke het wel gesê dit lyk asof die voorval ʼn ongeluk was.
Mketeni het gesê die noodlottige skietvoorval het plaasgevind na ʼn twee dae lange operasie waartydens nege vermeende stropers aangekeer is en op vier swaarkalibergewere beslag gelê is.

Drie vermeende stropers is op 19 Maart in hegtenis geneem in Pretoriuskop. ʼn Jaggeweer, ammunisie, ʼn byl en renosterhorings is in hul besit gevind. Nog ʼn vermeende stroper is kort daarna in Stolznek in hegtenis geneem terwyl sy beweerde medepligtige daarin kon slaag om te ontsnap. Die eenheid het op nog ʼn jaggeweer, ammunisie en ander toerusting wat vir stropery gebruik word, beslag gelê.

Nog vyf vermeende stropers is kort daarna in hegtenis geneem en daar is op nog twee jaggewere, ammunisie en renosterhorings beslag gelê.

Twee by hof vasgetrek vir huisroof

$
0
0

polisie-huisroof-crime

Argieffoto: SAPD/Facebook

Twee verdagtes, onderskeidelik 32 en 35 jaar oud, verskyn Woensdag in die Klerksdorp-landdroshof op aanklagte van huisroof na ‘n voorval in November verlede jaar.

Lt.kol. Pelonomi Makau, woordvoerder van die polisie, het gesê drie gewapende mans het ‘n 47-jarige man voor sy huis voorgekeer toe hy op pad was werk toe. Hulle was met ‘n vuurwapen, mes en teëlsnyer gewapen.

“Die verdagtes het die man in sy huis ingedwing voordat hulle hom, sy vrou, die huishulp en ‘n tuinwerker met skoenveters vasgebind het.” Volgens Makau het hulle die egpaar met die vuurwapen deur die gesig geslaan en die vrou het ernstige gesigbeserings opgedoen.

“Die verdagtes het gedreig om hulle met ‘n strykyster te brand en die het tuinwerker probeer dwing om die huiseienaar se vrou te verkrag.” Makau het gesê die verdagtes het ‘n vuurwapen, juwele en ‘n onbekende bedrag kontant gesteel nadat hulle die vrou gedwing het om die kluis oop te sluit.

Die verdagtes het die huis geplunder en ander items soos sonbrille, beursies en horlosies gesteel. “Die slagoffers is na die badkamer geneem, waar hul monde met kleefband toegeplak is. Die verdagtes het gevlug nadat hulle die slagoffers in die huis toegesluit het.”

Volgens Makau is die verdagtes Maandag by die Klerksdorp-landdroshof in hegtenis geneem waar hulle verskyn het in verband met ‘n huisroof vroeër vandeesmaand in Klerksdorp.


Nuuskommentaar: Trumpkaart en gesteelde spoorlyn

$
0
0

Argieffoto

Argieffoto

Hoewel die persentasie Amerikaners, wat meen die VSA is op die regte pad, konstant afgeneem het sedert pres. Donald Trump die bewind oorgeneem het, is hy wat dit betref, nog baie beter daaraan toe as waarmee oud pres. Barack Obama teen die einde van sy bewind mee tevrede moes wees. Maar het Suid-Afrika wat koers hou in die regte rigting betref, nie reeds so erg ontspoor dat dit ʼn baie dinamiese leier gaan verg om die land weer gerig te kry nie?

In die VSA was daar Watergate en daarna het dit mode geraak om “-gate” aan basies enige skandaal te koppel. Dit het ook na Suid-Afrika oorgewaai met “Sarafinagate”, “Nkandlagate”, “Nenegate”, “Sassagate” en vele ander. Die VSA word juis nou weer deur die sogenaamde “Russiagate” stormagtig rondgepluk.

Hoewel die drywers van Russiagate vir pres. Donald Trump as teiken in die oog het, is dit nog moeilik om te sien wie werklik die spit gaan afbyt. Die bekende kommentator, Patrick J. Buchanan, meen in ʼn meningstuk dit kan die linkses wees wat self in die proses ge-Haman (van Ester-faam) kan word.

Die Rasmussenpeiling meet gereeld wat genoem word, “Right direction, wrong track.” Dit kom maar net daarop neer dat gemeet word tot hoe ʼn mate Amerikaners glo die land is op die regte koers. Dit gewoonlik maar aan die lae kant.

Die uitslag van die presidentsverkiesing aan die einde van verlede jaar het die Amerikaners  se koppe ook nie gedraai om te glo die land is nou op koers nie. Dit het in die lae 30 persent bly boer. Maar na Trump se bewindsoorname het dit tot 47 % opgeskiet. Dit is in ʼn ander orde as die 20’s, waar die VSA die meeste van verlede jaar geboer het. Boonop was Amerikaners se tevredenheidsvlak met Trump in die eerste maand meer as 50%. (Ander faktore word dan gemeet).

Waarop Trump wel moet let, is dat die persentasie wat meen die VSA is op koers in die regte rigting, sedertdien konstant daal en nou reeds op 40 % staan. Hy het nog wel ʼn bietjie tyd om sy troefkaarte te speel voordat die vertrouensvlakke gaan terugsak na die vlakke waaraan Barack Obama gewoond moes raak, maar om so vroeg in die termyn reeds al die troewe te moet speel, is ook nie ʼn goeie ding nie.

Met die ontsporing van ʼn toeristetrein tussen Pretoria en Cullinan nadat sowat 200 meter spoorlyn die naweek voete gekry het (en nie die eerste keer nie), kon baie lesers in hul reaksie nie anders as om ook ironie daarin raak te sien nie.

ʼn Soort gelatenheid, dat die land nooit behoorlik op koers sal kom nie omdat iets, hetsy die misdaadvlakke, swak regering of korrupsie, wel sal sorg dat haas enigiets wat mooi op koers is, sal ontspoor. Na berig word brom lede van die Pan Afrikaanse Parlement (PAP) selfs om die vergaderplek uit Suid-Afrika te verskuif nadat na die lede hier die slagoffers van misdaad was.

Menseregtedag is gister in Suid-Afrika gevier, te midde van kundiges en politici wat eerder uitwys watter leemtes daar bestaan wat die stand van menseregte in die land in die wiele ry. Weereens is dit hoofsaaklik misdaad, swak regering en korrupsie. Trouens, die hele kwessie is oorheers deur premier Helen Zille se twiet, waarin sy dit durf waag het om te sê kolonialisme was nie net sleg nie. Dit het onder meer ʼn onafhanklike regbank opgelewer.

Zille het na berig word gesê sy kon nie sê wat sy gesê het nie, omdat sy wit is. Daarenteen het Zuma in sy menseregteboodskap (weer) oorboord gegaan met die hoeveelheid kere wat hy spesifiek na “swart” verwys het en in die proses sy ampseed weer lustig vir ʼn paar sesse gemoker het.

Dat Zuma die land van koers af regeer het, is ʼn gegewe. Die vraag is of sy opvolger in staat sal wees om die land weer op koers te kry. Daar is immers nie iewers ʼn herstelknoppie wat net gedruk kan word nie.

En nou is bitter baie dinge op die spel, soos onder meer rommelstatus. Wat dit betref, het Zuma ʼn baie slegte troefkaart gespeel toe hy self voorbrand begin maak het vir grondonteiening sonder vergoeding. Sedertdien kring dit uit en het nou ook na die sogenaamde “premierliga” versprei, met die premier van Noordwes wat vir ʼn referendum oor die saak gevra het.

Dit lyk al hoe meer asof die Amerikaanse “Right direction, wrong track”, hier moet lees: “Rigtingbeneweld en die spoor byster.”

Baba sterf terwyl maatskaplike werkers staak

$
0
0
Argieffoto Foto: HeikeIr, Pixabay

Argieffoto Foto: HeikeIr, Pixabay

ʼn Baba van ses maande oud is Dinsdag dood nadat kinders van ʼn kindersorgsentrum van die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling na ʼn ander sentrum geskuif is weens ʼn staking van maatskaplike werkers.

Volgens die departement is 90 kinders uit provinsiale sorgsentrums geskuif aangesien daar niemand was om na hulle om te sien nie weens die voortslepende staking.  Kinders is verlede week uit die Walter Sisulu-jeugsentrum in Soweto geneem na ʼn ander sentrum.

Nandi Mayathula-Khoza, Gautengse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, het gesê die landwye staking van maatskaplike werkers wat lede is van die National Education, Health and Allied Workers Union (Nehawu) het ʼn negatiewe uitwerking op die kwesbare begunstigdes in die staat se sorg.

“Die kinders is Vrydag geskuif terwyl stakende werkers ingange by die betrokke sentrums versper en toegang tot noodsaaklike voorraad soos kos, medikasie en linne belemmer het,” het die departement in ʼn verklaring gesê.

Nehawu-lede, wat vir die departement maatskaplike ontwikkeling werk, het vroeër vandeesmaand met ʼn volskaalse staking regoor die land begin nadat onderhandelinge oor werksomstandighede met die departement ʼn dooie punt bereik het.

Meer besonderhede oor die kind se dood is nie bekend gemaak nie.

Mayathula-Khoza spreek Woensdag die media toe om meer inligting oor die uitwerking van die staking te gee.

Inwoners, toeriste vlug ná aardbewing Bali tref

$
0
0
'n Kaart waarop die episentrum van die aardbewing aangedui word. Grafika: https://earthquake.usgs.gov

‘n Kaart waarop die episentrum van die aardbewing aangedui word. Grafika: https://earthquake.usgs.gov

Inwoners en toeriste van die Indonesiese eiland, Bali, het Woensdag uit hul huise en hotelle na hoër grond gevlug nadat ʼn aardbewing die eiland geskud het.

Volgens die Amerikaanse Geologiese Opname (USGS) het die aardbewing, wat 5,5 gemeet het, omstreeks 07:10 voorgekom. Die episentrum was ongeveer 2 km noordoos van Banjar Pasekan, ʼn dorp in die suidoostelike deel van Bali, teen ʼn diepte van 118km.

Die Indonisiese agentskap vir meteorologie, klimatologie en geofisika, het die aardbewing as 6,4 op die momentmagnitudeskaal gemeet, maar het gesê dit sal nie ʼn tsoenami veroorsaak nie, omdat die episentrum so diep was.

Hoewel die aardbewing paniek onder inwoners en toeriste veroorsaak het, was is geen sterftes of ernstige skade dadelik aangemeld nie. Volgens ooggetuies het bedrywighede op die eiland teruggekeer na normaal nadat inwoners SMS-boodskappe ontvang het dat geen tsoenami verwag word nie.

Indonesië is geneig tot seismiese ontwrigting weens sy ligging op die sogenaamde “Pasifiese Ring van Vuur”. In Desember 2004 het ʼn massiewe aardbewing naby Sumatra-eiland ʼn tsoenami veroorsaak, waarin 230 000 mense in 12 lande gesterf het.

Forbes se lys van rykstes bekend

$
0
0
Bill Gates. (Foto: Kamil Zihnioglu/AP via wire.africannewsagency.com)

Bill Gates. (Foto: Kamil Zihnioglu/AP via wire.africannewsagency.com)

Forbes het onlangs weer sy ranglys van die wêreld se rykste mense bekend gemaak.

Die tydskrif stel die ranglys jaarliks op. Vanjaar is ʼn rekordgetal van 2 043 miljardêrs op die lys. “Aandelemarkte, hoër kommoditeitspryse en outydse entrepreneurskap het gehelp om vanjaar ʼn rekordjaar te maak vir welvaartsontwikkeling regoor die wêreld,” het Luisa Kroll en Kerry Dolan, assistentredakteurs by Forbes Media, gesê.

Bill Gates (61) is vir die vierde agtereenvolgende jaar die rykste mens ter wêreld. Gates, medestigter van Microsoft, is al vir die laaste 23 jaar op hierdie lys, waarvan hy 18 jaar bo aan die lys gepryk het. Hy het ʼn persoonlike fortuin van $86 miljard.

Die res van die top vyf lyk so:

  1. Warren Buffett (86)

Die uitvoerende hoof van Berkshire het ʼn persoonlike fortuin van $75,6 miljard.

  1. Jeff Bezos (53)

Hy is vir die eerste keer in die nommer drie posisie met ʼn persoonlike fortuin van $72,8 miljard. Bezos is die uitvoerende hoof van Amazon.com.

  1. Amancio Ortega (80)

Dié Spaanse klerehandelaar is in die vierde plek met ʼn persoonlike fortuin van $71,3 miljard.

  1. Mark Zuckerberg (32)

Die uitvoerende hoof van Facebook het ʼn persoonlike fortuin van $56 miljard.

Die rykste Suid-Afrikaner is die mynbaas Nicky Oppenheimer (71) met ʼn persoonlike fortuin van $7 miljard. Hy is 199ste op die ranglys. Johann Rupert (66) is op nommer 237, met ʼn persoonlike fortuin van $6,1 miljard. Christo Wiese (75) is op nommer 269, met ʼn persoonlike fortuin van $5,6 miljard. Koos Bekker, Allan Gray, Patrice Motsepe, Stephen Saad en Jannie Mouton het ook die lys gehaal.

President Donald Trump (70) is 544ste op die lys, met ʼn persoonlike fortuin van $3,5 miljard. Altesaam 227 vroue het die lys gehaal.

Kyk hier vir die volledig lys.

Bus ry skoolseun dood

$
0
0
Paramedici op die toneel. Foto: Verskaf

Paramedici op die toneel. Foto: Verskaf

ʼn Bus het ‘n sesjarige seun Woensdagoggend op pad skool toe doodgery.

Volgens Garrith Jamieson, operasionele direkteur van Rescue Care, het die voorval omstreeks 08:00 in Anettweg in Reservoir Hill in Durban plaasgevind.

“Die seun het vermoedelik gehardloop om die bus te haal, toe hy glo gestruikel en die bus hom getref het,” het Jamieson gesê.

Die kind het verskeie kritieke beserings opgedoen en was reeds dood toe paramedici by die toneel opdaag.

Die polisie was op die toneel en ondersoek die voorval.

Drie vas vir inbraak by hoofregter se kantoor

$
0
0

Foto: SAPD/Twitter

Foto: SAPD/Twitter

Drie mense is in hegtenis geneem in verband met die inbraak die afgelope naweek by hoofregter Mogoeng Mogoeng se kantoor in Midrand.

Lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, het Woensdag tydens ʼn mediakonferensie gesê die drie mans is in Mamelodi in hegtenis geneem. Hy het gesê die polisie het op ongelisensieerde vuurwapens, vervalste identiteitsdokumente en ʼn motor beslag gelê. Die verdagtes sal na verwagting vandag in die hof verskyn.

Phahlane het gesê die polisie is nou op soek na ene Nkosinathi Msimango, wie se naam opgeduik het tydens ondervraging van die ander verdagtes. Volgens Phahlane kan Msimango moontlik die polisie met meer inligting bystaan.

Hy het gesê dit is nog nie duidelik of “inligting van binne af ontvang is” en tot die rooftog gelei het nie. Die moontlikheid word egter ondersoek. Phahlane het gesê hy kan nie sover enige besonderhede oor die verdagtes bekend maak nie, maar het wel bevestig hulle is nie werknemers van die departement van justisie en konstitusionele ontwikkeling nie.

Phahlane het gesê ʼn veiligheidsevaluering sal by Mogoeng se kantore gedoen word. Hy het ook bevestig die toerusting wat gesteel is, is nog nie teruggevind nie.

Maroela Media het vroeër berig minstens 15 rekenaars, wat sensitiewe inligting bevat, is vroeg Saterdagoggend uit ʼn kantoor in Midrand gesteel, wat onder meer menslikehulpbroninligting van regters en werkers van die kantoor van die hoofregter bevat.

Die kantoor van die hoofregter word deur ʼn private veiligheidsmaatskappy beskerm.

Lees alle vorige berigte oor Mogoeng Mogoeng op Maroela Media.

Vier vas oor renosterhorings en vuurwapen

$
0
0
Foto: SAPD

Foto: SAPD

Vier mense is Dinsdag naby Hazyview in Mpumalanga in hegtenis geneem nadat twee renosterhorings, vuurwapens en renosterstropingstoerusting in hul besit gevind is.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie het inligting ontvang oor mense wat glo renosterhorings in hul besit het. Lede van die polisie se taktiese reaksie-eenheid, honde-eenheid en nasionale ingrypingseenheid, asook ʼn helikopter van die Kruger-wildtuin, het vinnig op die inligting reageer en op die betrokke huis in die Calcutta-gebied toegeslaan.

“Toe die polisie voor die hek stop, het ʼn man in ʼn wit Ford Ranger-bakkie uit die voertuig gespring en ʼn plastieksak in die bure se erf gegooi voordat hy probeer weghardloop het. Hy is in hegtenis geneem en twee renosterhorings is in die plastieksak gevind,” het Hlathi gesê.

Die polisie het daarna die huis deursoek en op ʼn jaggeweer met ʼn knaldemper in die plafon bo die gang afgekom. Beamptes het ook tydens die soektog ammunisie vir ʼn .458 kaliber vuurwapen, ʼn klein byl en twee messe met vars bloed daarop gevind. “Nog twee mans en ʼn vrou wat in die huis was, is ook in hegtenis geneem,” het hy gesê.

Volgens Hlathi sal die vier verdagtes op aanklagte van die besit van renosterhorings en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie tereg staan. Hulle sal binnekort in die Calcutta-landdroshof verskyn.

Die inhegtenisneming volg op ʼn operasie van twee dae die afgelope naweek toe die polisie nege vermeende stropers aangekeer en op vier swaarkalibergewere beslag gelê het.

Een van die verdagtes. Foto: SAPD Foto: SAPD Drie van die verdagtes. Foto: SAPD

Bendeverkragting van meisie (15) regstreeks uitgesaai

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

ʼn 15-jarige meisie van Chicago in Amerika is erg getraumatiseerd en sterk tans by die huis aan nadat sy die afgelope naweek die slagoffer van ʼn bendeverkragting was wat regstreeks op Facebook uitgesaai is.

Volgens die polisiewoordvoerder, Anthony Guglielmi, het minstens 40 mense na die regstreekse uitsending van die verkragting gekyk sonder om die voorval by die polisie aan te meld.

Guglielmi het gesê die polisie is eers Maandag oor die voorval ingelig, nadat die dogter se ma “naarstigtelik van ontsteldheid” aan die hoof van die departement, superintendent Eddie Johnson, vertel het haar dogter word sedert die naweek vermis.

Die ma het glo ook skermskote van die videomateriaal aan hom gewys. Johnson, wat glo duidelik ontsteld was oor die voorval, het onmiddellik ʼn soektog na die vermeende verkragters van stapel gestuur en Facebook gevra om die video dadelik te verwyder.

Guglielmi sê die polisiedepartement is in die proses om Facebook te dagvaar om die name van die kykers bekend te maak.

Die 15-jarige is Dinsdag gevind en met haar gesin herenig. Sy het glo aan die polisie gesê sy ken ten minste een van die vermeende verkragters, maar dit is nog onseker hoe hulle mekaar ken.

ʼn Woordvoerder vir Facebook, Andrea Saul, het gesê die video is intussen verwyder en ʼn ondersoek duur voort. “Sulke misdade is afskuwelik en ons kan nie toelaat dat sulke inhoud op Facebook uitgesaai word nie,” het sy gesê.

Jeffrey Urdangen, ʼn professor in die regte aan Chicago se Noordwes-Universiteit, het Dinsdag gesê die 40 kykers het nie die wet oortree deur die video te kyk of dit nie by die polisie aan te meld nie. Urdangen meen ʼn klag van kinderpornografie kan ook net aanhangig gemaak word indien die kykers die video afgelaai het.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Dit is die tweede keer vanjaar dat polisie ʼn misdaad ondersoek wat regstreeks op Facbeook uitgesaai is.

In Januarie vanjaar is vier mense in hegtenis geneem nadat hulle ʼn verstandelik gestremde man getart en mishandel het en dit ook regstreeks uitgesaai het.

Muntskilpad sterf na tweede operasie

$
0
0
Die seeskilpad, gedoop “Spaarvarkie.”(Foto: Sakchai Lalit)

Die seeskilpad, gedoop “Spaarvarkie.” 915 munte is uit sy maag verwyder. (Foto: Sakchai Lalit)

ʼn Seeskilpad is Dinsdag in Thailand dood aan bloedvergiftiging ná ʼn tweede operasie.

Die skilpad is vroeër vandeesmaand geopereer om 915 munte uit die skilpad se maag te verwyder. Vyf veeartse van Bangkok se Chulalongkorn-universiteit het die operasie uitgevoer, wat die eerste van sy soort ter wêreld was.

Na die sewe ure lange operasie op 6 Maart het dit gelyk asof die skilpad goed herstel, maar Saterdag het sy egter begin verswak en die veeartse het vasgestel haar dunderm het gedraai. Sy het tydens die noodoperasie in ʼn koma verval.

Nantarika Chansue, een van die veeartse, het gesê die oorsake is bloedvergifting, wanvoeding en stres. “Ons het ons bes probeer, maar ons kon haar nie red nie.”

Lees meer hier oor die eerste operasie.

Man sterf ná rusie met vrou

$
0
0
Argieffoto: Nico Strydom

Argieffoto: Nico Strydom

ʼn 33-jarige man is Dinsdagaand dood nadat ʼn vrou hom glo tydens ʼn argument by ʼn huis in Pretoria verskeie kere met ʼn mes gesteek het.

Konst. Tumisang Moloto, polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê die voorval het by ʼn huis in Wolfaartstraat in Hercules, in die weste van die stad, plaasgevind. Die man en vrou was glo in ʼn verhouding.

“Die paartjie het vermoedelik baklei toe die vrou die man verskeie kere met ʼn mes in die bolyf gesteek het.” Die 32-jarige vrou is omstreeks 22:00 in hegtenis geneem.

Paramedici van Best Care het die man na die Kalafong-hospitaal geneem, waar hy later aan sy beserings beswyk het.

Die motief vir die moord en rede vir die argument word deur die Hercules-polisie ondersoek.

Die vrou sal later vandeesweek in die Pretoria-landdroshof verskyn op aanklag van moord.

Ma oor kind (3) se dood: ‘Ek sal myself nooit vergewe’

$
0
0
AJ Small. Foto: Facebook

AJ Small. Foto: Facebook

ʼn Ouerpaar van Koppies in die Vrystaat is verpletter nadat hul driejarige seuntjie Maandag dood is nadat sy ma oor hom gery het.

Pastoor Marietjie Ras van die Volle Evangelie Kerk in Koppies, waar die gesin lidmate is, het aan Maroela Media gesê die voorval het op ʼn plaas in die Rooipoort-distrik gebeur. Die seuntjie, AJ Small, se ma, Bernadette, het hom glo nie gesien nie en per ongeluk met ʼn voertuig oor hom gery.

AJ is na ʼn hospitaal in Kroonstad gehaas waar hy dood verklaar is. Ras het gesê sy weet nie of AJ op die plaas of eers in die hospitaal dood is nie. “Ek was nie daar toe dit gebeur het nie, so ek kan nie sê hoe presies dit gebeur het nie. Ek weet net dit bly ʼn hartverskeurende storie. Daardie ouers gaan deur hel. Bernadette huil sonder ophou. Die mense is stukkend.”

Bernadette het Dinsdagaand op haar Facebook-profiel geskryf sy sal haarself “nooit kan vergewe” vir wat gebeur het nie. “Dis seer, Piepies. Ek wens ek kon die tyd terugdraai. Ek het jou rêrig nie gesien nie,” het sy geskryf.

AJ Small. Foto: Facebook

AJ Small. Foto: Facebook

“Mense kan my maar met klippe stenig en ek sal dit vat. Jy is my miracle baba. Reg van die begin af het ons aanhou baklei en baklei vir jou lewe, min wetend dat ek jou kort lewetjie tot ʼn einde sal bring. Ek is en sal vir altyd jou liefhê met my hele hart. Ek weier om goodbye te sê. Natuurlik bevraagteken ʼn mens nie God se planne nie.”

Ao. Lorraine Earl, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig ʼn voorval waartydens ʼn kind raakgery is, word ondersoek. “Die presiese omstandighede word in hierdie stadium deur die polisie ondersoek en ek kan die besonderhede daarvan tans nie bevestig nie,” het sy gesê.

Earl het gesê dit is ook nog nie duidelik of die polisie ʼn geregtelike doodsondersoek sal doen en of ʼn klag van strafbare manslag aanhangig gemaak sal word nie.

Die Small-egpaar het ook ʼn dogter, Jessica (6). Dit is nog nie duidelik wanneer ʼn gedenkdiens vir AJ gehou sal word nie.

Angus Buchan: ‘Die Here voorsien vir dié biddag’

$
0
0
Angus Buchan. Foto: Landi Malan.

Angus Buchan. Foto: Landi Malan.

Die idee vir ʼn nasionale biddag het begin met ʼn video wat op WhatsApp die ronde gedoen het van ʼn boer wat vra dat ʼn geestelike leier in Suid-Afrika moet opstaan en die mense van die land moet lei. Die evangelis Angus Buchan beplan dié biddag vir volgende maand.

“Ek gaan draf vier dae per week,” het Buchan Woensdag tydens ʼn mediakonferensie die oorsprong van dié biddag verduidelik. “Toe ek die oggend gaan draf nadat ek die video gesien het, het ek met die Here daaroor gepraat. My eerste gedagte toe ek dit sien was: ‘Waarom doen jy dit nie self nie?’. Die Here het egter vir my twee goed gesê. Eerstens ‘It’s time’ en tweedens ‘One million’.”

“Daar is nie ʼn spesifieke rede waarom ons op 22 April besluit het nie. Dit was net die eerste beskikbare datum. Bloemfontein is ook die middelpunt van die land en dit is waarom ons besluit het om dit daar te hou. Gewoonlik sou ʼn byeenkoms van dié omvang ʼn jaar of meer neem om te beplan. Ons doen hierdie een in twee maande,” het Buchan gesê.

Volgens Buchan het hy ʼn ongelooflike span wat help om dié dag moontlik te maak. “Toe ons noem dat ons dit wil doen, was daar byna onmiddellik 17 boere wat gesê het dat ons hulle plase gratis kan gebruik. Daar is vier baniere wat opgesit is, die grootste baniere wat ek nog gesien het. Een so ʼn banier kos R380 000. Iemand het betaal daarvoor, ek weet nie wie nie. Ons het ʼn duisend toilette nodig vir die dag. Soveel as 700 mobiele toilette en die vragmotors om dit te vervoer en die instandhouding daarvan is reeds geborg. Ons klankstelsel en platform alleen kos R6 miljoen. Die Here sal voorsien,” het hy bygevoeg.

“My een seun is baie goed met statistieke. Hy verduidelik dit só: Veronderstel daar staan mense skouer teen skouer en daardie lyn is 500 m breed, vat daardie lyn mense en strek dit 2 km terug. Daardie massiewe soliede blok mense, dis omtrent soveel soos 1 miljoen. Het jy al ooit ʼn miljoen mense op een plek gesien? Ek het nie. Daar gaan dalk nog meer as een miljoen opdaag. Ek weet die Here sal nie sy kinders teleurstel nie. Daar gaan omtrent 16 voertuie per sekonde daar aankom. Mense borg busse, die Here voorsien,” het Buchan gesê.

Volgens Buchan sou die mediese dienste alleen R3 miljoen gekos het. “Die jong dokters van Bloemfontein het reeds aangebied om gratis te kom help. Ons het al 5 000 vrywilligers, dis regtig ongelooflik. Met ons grootste Mighty Men-konferensie het ons ses mobiele stasies met klank en skerms gehad tussen die gehoor om seker te maak almal kan hoor en sien. Vir dié biddag gaan ons 27 hê!”

Mense wat die geleentheid bywoon gaan hulle eie kos en water vir die dag moet bring. Buchan het gesê mense sal op die gras kan sit op komberse of op kampstoele. “Mense vra my oor die weer, maar ek weet nie.

“God gaan op 22 April teenwoordig wees daar. Mense sal in hul sitplekke genees word. Dit het al gebeur dat mense letterlik uit hulle rolstoele opstaan en begin loop. Dis ook hoekom ons dit nie regstreeks gaan uitsaai nie, mense mis die punt. God roep sy mense, Hy sê: ‘Kom ons bid saam.’ Ons moet almal daar teenwoordig wees. As jou troue geskeduleer is vir 22 April, skuif dit! Hoe wil jy getroud wees in ʼn land met soveel anargie. Mense gaan daardie dag genees word van vrees, stres, angstigheid en onsedelikheid. Mense sê vir my dis vir hulle ongerieflik. Ja, dis vir my ook ongerieflik! Ons moet die ekstra myl stap, dit is ʼn kritieke tyd vir ons land, ons staan voor ʼn kruispad,” het Buchan gesê.

“Jy wil nie hê jou kinders moet jou eendag vra: ‘Pa, was jy daardie dag daar toe die Here Suid-Afrika kom besoek het?’ en jy moet nee sê nie,” het Buchan gesê.

Buchan het gesê die afgelope tyd was vir hom nog die moeilikste van sy lewe. “Ek was nog nooit soveel aangeval, persoonlik aangeval, soos nou nie. Ek het gelukkig ʼn wonderlike span om my wat my ‘beskerm’ teen dié dinge. Ek stel nie belang in die kritiek nie maar ook nie in die vleiery wat ek ontvang nie. Ek spandeer meer as vyf ure per dag met die woord in my stilkamer, dis my veilige plek,” het Buchan gesê.

“Die nasionale biddag gaan op 22 April by die Wilde Als plaas so vier kilometer buite Bloemfontein plaasvind. Die plaas is 2 000 ha groot.” Volgens Buchan sal die SAPD en die weermag betrokke wees vir veiligheid en is daar ook kontak gemaak met private instansies.

Buchan het wel gesê die geleentheid sal opgeneem en daarna beskikbaar gemaak word. “22 April sal ʼn dag wees wat generasies nog vir jare gaan onthou en oor praat”.

Viewing all 56621 articles
Browse latest View live