Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all 56621 articles
Browse latest View live

Gerrie Nel bedank

$
0
0
Staatsaanklaer Gerrie Nel tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool (SAPA)

Staatsaanklaer Gerrie Nel tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool (SAPA)

Lees ook: Gerrie Nel gaan Afriforum toe

Staatsaanklaer adv. Gerrie Nel het by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) bedank.

Maroela Media verneem van ʼn betroubare bron Nel het die NVG 24 uur kennis gegee.

Nel, die voormalige hoof van die nou ontbinde Skerpioene, is een van die land se voorste aanklaers en alombekend om sy rol in die Oscar Pistorius-saak.

Nel het destyds die Skerpioene se ondersoek na die oudpolisiehoof Jackie Selebi gelei.

Nel, in regskringe ook bekend aan sy bynaam “The Bulldog”, het in die 80’s as aanklaer begin werk.


Gerrie Nel gaan AfriForum toe

$
0
0
Staatsaanklaer Gerrie Nel tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool (SAPA)

Staatsaanklaer Gerrie Nel tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool (SAPA)

Adv. Gerrie Nel gaan by die burgerregte-organisasie AfriForum aansluit.

Maroela Media het van ʼn betroubare bron verneem Nel gaan glo betrokke wees by ʼn onafhanklike ondersoekeenheid van AfriForum. Nie Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum of Nel het die skuif bevestig of ontken nie.

AfriForum hou Dinsdagmiddag om 15:00 ʼn mediakonferensie om meer lig op die aangeleentheid te werp.

Maroela Media het vroeër berig Nel het Dinsdag by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) bedank. Nel het die NVG 24 uur kennis gegee.

Nel, die voormalige hoof van die nou ontbinde Skerpioene, is een van die land se voorste aanklaers en alombekend om sy rol in die Oscar Pistorius-saak.

Nel het destyds die Skerpioene se ondersoek na die oudpolisiehoof Jackie Selebi gelei.

Nel, in regskringe ook bekend aan sy bynaam “The Bulldog”, het in die 80’s as aanklaer begin werk.

Helen Zille: Die stryd duur voort

$
0
0
Helen Zille tydens die verkiesingsveldtog in 2009, die jaar wat sy op 6 Mei premier van die Wes-Kaap geword het. Sy is twee jaar tevore, ook op 6 Mei, verkies tot DA-leier (Foto word met vergunning op Maroela Media gepubliseer) Foto: Helen Zille, "Not Without a Fight"

Helen Zille tydens die verkiesingsveldtog in 2009, die jaar wat sy op 6 Mei premier van die Wes-Kaap geword het. Sy is twee jaar tevore, ook op 6 Mei, verkies tot DA-leier (Foto word met vergunning op Maroela Media gepubliseer) Foto: Helen Zille, “Not Without a Fight”


Deur Suné van Heerden

“Is daar iets soos ’n eerlike politikus?” wonder ek, terwyl ek Helen Zille se outobiografie, Not without a fight, lees. Deurgaans in die boek voel dit vir my of daar om elke hoek en draai iemand in ʼn hoë pos is wat vir sy eie selfsugtige gewin daar beland het.

“Ek gaan die waarheid vertel, ek gaan nie doekies omdraai nie,” het Zille aan Penguin Random House, die uitgewers van haar outobiografie, gesê toe hulle haar in 2015 genader het om die boek te skryf. “My idee was om eers die boek aan te pak wanneer ek in 2019 uittree as premier van die Wes-Kaap, maar hulle het daarop aangedring dat die tyd ryp is om die boek te skryf. Ek het deeglik besef dit gaan moeilik wees, want ek werk nog saam met van die mense.”

Ek kuier die Donderdagoggend by haar in die kantoor. Dis ’n gemaklike gesprek, ons sit in ’n groot sitkamer op banke, soos ou vriende en kuier. Haar kantoorpersoneel is vriendelik, elkeen kom stel hulself voor, en elkeen ken my naam.

Ek het voorberei om die onderhoud in Engels met haar te voer, maar sy dring daarop aan dat ons in Afrikaans moet gesels – en sy gesels in ʼn gemaklike, idiomatiese Afrikaans.

“Is daar nog iets soos ʼn eerlike politikus?” stel ek my vraag aan Zille.

“Daar is baie van ons,” antwoord sy, maar bevestig die politiek is definitief nie vir iemand wat naïef is nie. “Ek verwag altyd dat mense eerbaar gaan wees, dis hoe ek grootgemaak is.”

Helen Zille as 'n joernalis by die Rand Daily Mail (Foto word met vergunning op Maroela Media gepubliseer) Foto: Helen Zille, "Not Without a Fight"

Helen Zille as ‘n joernalis by die Rand Daily Mail (Foto word met vergunning op Maroela Media gepubliseer) Foto: Helen Zille, “Not Without a Fight”

Toetrede tot die politiek

Zille se outobiografie begin met ʼn aangrypende familiegeskiedenis – van haar ouma wat uit Nazi-Duitsland kon ontsnap tot familielede in die buiteland wat sy nooit eers van geweet het nie.

Toe Tony Leon, leier van die Demokratiese Party, Zille in 1998 genader het om die politiek te betree, vir ʼn moontlikheid om ʼn setel in die provinsiale wetgewer te beklee, was Zille se ma sterk daarteen gekant en het vir haar dogter gesê: “Jy is gans te sensitief om in die politiek te wees.” “Nie meer nie,” het Zille geantwoord.

Dié outobiografie is nie ’n “maklike lees” nie. Jy moet konsentreer en fokus – bloot omdat dit so volgepak is met feite, dis duidelik Zille was ’n joernalis. Die boek is insiggewend, sy speel oop kaarte, en sy kan alles wat sy skryf, met bewyse staaf.

Politici probeer graag hul eie beuel blaas in só outobiografie, maar Zille is eerlik oor haarself en die pad wat sy geloop het. Sy deel persoonlike staaltjies, met ʼn goeie skeut humor en skroom nie om die sluier te lig oor dit wat agter die skerms aangaan nie.

Sy vertel van die opdraande stryd toe sy aanvanklik in die DA begin opgang maak het. Dis duidelik dat Tony Leon destyds bedreig gevoel het deur dié dinamiese vrou. “Ons het koppe gestamp, en nie altyd oor goed saamgestem nie en hy het my teengestaan as leier van die party.” Maar in die boek is dit duidelik hoe die verhouding verbeter het. “Ek eer hom vir die deurbrake wat hy gemaak het vir die party. Hy was ’n goeie leier.”

Helen Zille ontvang in 2008 die Wêreld Burgemeester-toekenning, twee jaar nadat sy burgemeester van Kaapstad geword het (Foto word met vergunning op Maroela Media gepubliseer) Foto: Helen Zille, "Not Without a Fight"

Helen Zille ontvang in 2008 die Wêreld Burgemeester-toekenning, twee jaar nadat sy burgemeester van Kaapstad geword het (Foto word met vergunning op Maroela Media gepubliseer) Foto: Helen Zille, “Not Without a Fight”

Nie sonder ’n stryd nie

Zille skerts in die boek oor die titels wat Twitter-gebruikers voorgestel het, waaronder To Helen Back, Twar and Peace, From Godzille to Vuvuzille en Zille: No Vanilla. Maar dit was haar man, Johann Maree, wat met die boek se titel vorendag gekom het. Een aand, tydens ʼn televisieprogram, Borgen, het een van die karakters aan ʼn vroue politikus gesê: “Dis nie tipies van jou om sonder ʼn stryd op te gee nie.” Johann het na sy vrou gedraai en gesê: “Dis iets wat ek van jou ook sou kon sê. Ek dink die titel van jou boek moet wees – Not Without a Fight (Nie sonder ʼn stryd nie).”

En dis baie duidelik dat Zille hard moes baklei en nog harder moes werk en soms haar eie lewe op die spel moes plaas om dit te behaal wat sy uiteindelik reggekry het.

Sy verduidelik aangrypend in die boek hoe sy en die eerste DA-ondersteuners in die Wes-Kaap aanvanklik deurgeloop het onder dreigemente van ander partye en hoe die kiesers soms ná vals bewerings in die tronk gegooi is of daar gedreig is dat hul huise afgebrand sou word.

Sy skryf hoe sy in die aande met haar klein Opel in Khayelitsha en Langa moes inry om die DA-ondersteuners by te staan, omdat die polisie nie wou ingryp nie. Volgens die polisiebeamptes was dit die DA wat “soek vir moeilikheid”, omdat hulle in ʼn ANC-gebied ʼn ander party wou ondersteun. Dit was die ANC se doel om die kiesers só te viktimiseer totdat hulle uiteindelik moed opgee, en terugkeer na die ANC.

Dis moeilik om te dink, in die lig van die DA se wegholsukses tydens die plaaslikeregeringsverkiesing in 2016, dat die party in 2001 slegs 300 lede in die Langa-tak gehad het. Dit was deurgaans ʼn opdraande stryd in die N2-kiesafdeling.

***

“Hoe het jy kans gesien om dit te doen? Wat was jou motivering?” wil ek by haar weet.

“Dit was my werk,” antwoord sy half nonchalant. “Dit was my werk om takke te stig in die Wes-Kaap, en ek het dit gedoen wat dit ook al geverg het om te doen.”

Ek skud my kop in ongeloof. “Baie mense sou omgedraai het, nie kans gesien het nie.”

“Ek het ʼn pligsbesef gehad,” sê sy. “En as jou lede gedreig word, moet jy as kiesafdelingshoof daar wees om hulle te beskerm.”

Beste en slegste besluite

Zille het byna in 1981 die land permanent verlaat toe Matt Franjola, ʼn verslaggewer van Associated Press, haar gevra het om te trou en saam met hom na Amerika te verhuis. “As ek nou terugkyk, was dit die beste besluit van my lewe om nie na Amerika toe te gaan nie. Ek het in daardie stadium geweet dis ʼn lewensveranderende besluit, maar glad nie besef hoe ingrypend my lewe daarna sou verander nie.”

Sy verduidelik ook omvattend in die boek die lang verloop van hoe Zille en Patricia de Lille besluit het om Mamphela Ramphele, voormalige visekanselier van die Universiteit van Kaapstad, by die politiek te probeer betrek. Zille en Ramphele het ʼn lang pad saam gestap. Hul kinders was saam in die UK-kleuterskool en Zille het in ʼn stadium vir Ramphele by die UK gewerk. Dan volg die opkoms van Ramphele se Agang en die rampspoedige gevolge van ʼn politieke verhouding toe die DA Ramphele as hul presidensiële kandidaat wou bekend maak. “As ons nou terugkyk, stem ons almal saam dit was ʼn fout, miskien my grootste fout ooit as DA-leier, en ek neem volle verantwoordelikheid daarvoor.”

Hartsake

Uit haar vertelling is dit baie duidelik Zille is ʼn werkoholis. Sy het soms 03:00 in die oggend opgestaan om met haar dagtaak te begin en het laataand nog in die bed sit en werk – veral toe sy leier van die DA en premier van die Wes-Kaap was.

“Mens voel altyd skuldig oor jou gesin wat jy afgeskeep het, maar ek het vandag ʼn baie goeie verhouding met my twee seuns, hulle neem my nie kwalik nie,” vertel sy van haar twee seuns, Paul (32) en Thomas (27). “Hulle is twee ongelooflike jong mans. My huwelik en my familie is bankvas. Al is ek spyt oor goed, het dit ons eerder sterker gemaak, dit het nie letsels gelaat nie. Hulle weet ek het altyd my bes gedoen.” Zille besing ook die lof van haar skoondogter, Gretl.

Hoe ontspan ʼn werkoholis? “Tyd saam met my seuns. Selfs toe hulle klein was, om met hulle tyd te kon spandeer op pad skool toe en terug. Of in die tyd wat ek 03:00 in die oggend opgestaan het om werk toe te gaan, en my seun dan eers by die huis gekom het nadat hy musiek gemaak het iewers. Dan skink ek ʼn koppie tee, en hy kry iets om te eet en ons gesels net eers. Dit is die maaltye saam met die gesin, die onverwagse oomblikke waar mens heeltemal ontspan.”

Ufundo en #FeesMustFall

Zille verwys in die boek na ʼn projek wat reeds in 1994, nog lank voor #FeesMustFall ʼn hutsmerk op Twitter en ʼn kreet op kampusse geword het, om studente te help om hul finansiële probleme te oorkom. Thandeka Kunene was in daardie stadium primaria van die UK-koshuis, Liesbeeck Gardens, met 800 studente. Kunene het een Maandagoggend, terwyl sy deur die koshuis geloop het, gesien hoe skoonmakers al die leë bierblikkies en -botteltjies verwyder. Sy het hulle gehelp om een groot stapel te maak, om te bepaal presies hoeveel alkohol oor ʼn naweek verbruik word. Binne een enkele naweek het studente van Liesbeeck Gardens minstens R330 000 se alkohol verbruik.

Dit was vir Kunene teenstrydig met die studente se klagte dat hulle ʼn tekort het aan geld vir studies, maar steeds dié bedrae geld oor ʼn naweek kon uitdrink. Sy het direk alkohol by die verskaffers begin aanskaf en ʼn studente-onderneming, genaamd Ufundo, op die been gebring en die wins aangewend vir finansiële hulp aan studente. Ufundo was vinnig die grootste studente-organisasie op die kampus, en het studente van al die verskillende politieke faksies bymekaargebring.

Die studentegeldtekort was in daardie jaar R3 miljoen, en danksy Ufundo wat binne die eerste jaar R1 miljoen kon insamel, kon die universiteit die balans dek en daar was geen finansiële uitsluitings nie.

Ek verwys in die onderhoud na Ufundo en vra Zille of sy reken só iets sou weer kon werk. “Dit moet uit die boesem van die mense self kom. Thandeka was só ʼn groot gees omdat sy die oplossing gesien het. ʼn Mens het iemand nodig wat só ʼn eerlike insig het om so iets te doen. ʼn Leier wat die mag het om die mense agter haar te skaar.”

Mmusi Maimane en Helen Zille neem 'n blaaskans in 'n motor tydens die 2014 nasionale verkiesing. "Ek was moontlik besig om iets op Twitter te skryf," verduidelik Zille. Mmusi was die premierskandidaat vir Gauteng (Foto word met vergunning op Maroela Media gepubliseer) Foto: Helen Zille, "Not without a Fight"

Mmusi Maimane en Helen Zille neem ‘n blaaskans in ‘n motor tydens die 2014 nasionale verkiesing. “Ek was moontlik besig om iets op Twitter te skryf,” verduidelik Zille. Mmusi was die premierskandidaat vir Gauteng (Foto word met vergunning op Maroela Media gepubliseer) Foto: Helen Zille, “Not without a Fight”

Die struggle vir ekonomiese vryheid

Dan vra ek haar oor EFF en Julius Malema. “Ek wens eintlik dat die EFF iewers ʼn munisipaliteit kon wen,” verduidelik sy. “Ek sou baie jammer voel vir daardie stad en munisipaliteit, maar dit sal die mense help om te kan sien of hulle by die beloftes kan hou wat hulle gemaak het. Die vraag is of dit die DA se resep of die EFF se resep is wat die deurbraak gaan maak.

“Ons moet die alternatief wys, veral waar die DA aan bewind is, dat ons die beste toekoms kan bied vir almal wat die ekonomie, werksgeleenthede en onderwys betref – ons resep is die beste. As ons dít kan bewys, dan kan ons bewys een stel beginsels en vordering werk, en ʼn ander een nie.”

In die boek verwys sy na Francis Fukuyama wat gesê het enige suksesvolle samelewing moet gebou word op drie bene, naamlik ʼn bekwame staat, ʼn werkende regstelsel en ʼn kultuur van aanspreeklikheid, insluitend ʼn aanspreeklike regering.

Zille verklap aan my dat haar volgende boek waarskynlik sal handel oor hoe moeilik dit is om ʼn bekwame staat op te bou. “Dis nie net blokkies op ʼn papier wat sê wie doen wat nie.”

Dan wil ek weet wat dink sy is die toekoms van die DA, nou ná die munisipale verkiesing in Augustus 2016. Volgens haar het die DA in Pretoria en Johannesburg selfs ʼn moeiliker stryd as wat die party gehad het om die DA in die Wes-Kaap te bou. “Die DA in die Wes-Kaap het beslis die weg gebaan, maar verdere vordering vir die DA gaan afhang hoe die party presteer,” verduidelik sy. “Dis maar soos ʼn joernalis – jy is net so goed soos jou vorige artikel. Dit is veral moeilik in plekke waar die party ʼn minderheidsregering het; besluite hang van ons opponente af. As mens nou ʼn gemors daarvan gaan maak, gaan dit met die volgende verkiesing baie moeiliker wees.”

Die stryd duur voort

Dis duidelik in my gesprek met Zille dat daar nog baie veggees in haar is, dat sy nog lank nie klaar is met haar plig nie.

“Wat wil jy hê moet op jou grafsteen staan?” vra ek. Sy dink lank na. “Ek het die beste gedoen wat ek kon, onder die omstandighede.”

Ons stap ná die gesprek uit in ʼn groot gang, ek is gretig om ʼn foto saam met haar te neem – ek wil darem dié gesprek verewig. Sy vra sommer een van die veiligheidswagte om vir ons die foto te neem; sy ken al die personeel op die naam. En dan stap sy saam met my tot by die hysbak, en gesels nog lekker, al weet ek haar skedule is baie beperk.

En toe die deur voor my toegaan, besef ek Zille is nog lank nie klaar nie, en 2019 is definitief nie die laaste wat ons van haar gaan sien of hoor nie.

***

Helen Zille se outobiografie, "Not Without a Fight", uitgegee deur Penguin Random House

Helen Zille se outobiografie, “Not Without a Fight”, uitgegee deur Penguin Random House

Ek beveel hierdie boek ten sterkste aan: vir die persone wat onbewus is van die mespunt waarop Suid-Afrika gestaan het in die laat 1980’s, vroeë 1990’s; vir die persone wat onseker is waarom iemand soos Helen Zille meer as 1 miljoen Twitter-volgelinge het; vir die persoon wat meer wil weet wat agter die skerms aangaan: hoe Zuma haar die aand voor haar eerste premiersvergadering by sy huis, gekontak en op haar gemak gestel het; vir enigiemand wat meer wil weet oor die intriges van Suid-Afrika se politiek die afgelope paar jaar; en hoe sy ʼn hele provinsie se werksverrigting en dienslewering omgekeer het.

Of jy nou ʼn aanhanger van Helen Zille of haar politieke oortuigings is of nie, jy kan nie haar waagmoed, durf of die weg wat sy gebaan het, ontken nie. Lees die boek en reageer daarop – die kans is goed dat jy ʼn eerlike antwoord gaan kry van ʼn eerlike politikus.

Not without a Fight word uitgegee deur Penguin Random House. Koop die boek nou.

Terminale 6-jarige begin gr. 1: ‘Jy is so braaf, ek vergeet hoe jy ly’

$
0
0
Ruben Scharneck (Foto: Facebook)

Ruben Scharneck (Foto: Facebook)

Dit was ʼn reënerige Maandagoggend in Pretoria toe die Scharneck-gesin al van vroegoggend geskarrel het om hul twee seuns skoolgereed te kry. Die gesin se optrede was soos dié van duisende ander huishoudings – pak die skooltasse, sit die kosblikke in en trek skoolklere aan, want Rossouw gaan na gr. 7 en Ruben na gr. 1.

In dié huishouding is daar egter een groot verskil: Ruben is terminaal siek, en hoewel dokters hom nie lank gegee het om te leef nie, hou sy ongelooflike wilskrag hom aan die lewe.

Hoewel dokters se voorspelling dat die jong vegtertjie reeds in die hemel moes wees nie akkuraat was nie, gaan dit nie goed met sy gesondheid nie. Wat egter merkwaardig is, is sy wil om te leef – en meer as dit, om normaal te leef, sê sy ma, Marinda, in ʼn reeks Facebook-inskrywings.

Hy kon daarom Maandagoggend in die reënerige weer gr. 1 toe soos ander gesonde kinders.

Ruben Scharneck (Foto: Facebook)

Ruben Scharneck (Foto: Facebook)

“Dit is alles te danke aan julle gebede vir Ruben dat hy skool toe kon gaan. Dit is ʼn wonderwerk dat hy steeds saam met ons hier is. Hy is mal oor skool en wil weer teruggaan,” skryf Marinda.

“Ons wil baie dankie sê vir Laerskool Menlopark en sy onderwyseres, Anna-Marie. Ons het selfs huiswerk gekry en moet boeke oortrek. Dit is ʼn seën om normaal te voel.”

Ruben het in Desember ʼn geruime tyd in die hospitaal deurgebring nadat sy organe begin oppak het. Marinda sê egter deur dit alles hou hy aan baklei om te lewe. “Hy het selfs ʼn grappie gemaak en vir homself gelag. My klein engel is so braaf. Ek bid elke dag dat God jou pyn sal wegvat. As die tyd aanbreek vir jou om ons te verlaat, weet net dat jy meer geliefd is as wat jy ooit sal weet.”

Ruben is ook in Oktober verlede jaar amptelik as Affie-seun ingehuldig, een van sy grootste drome, en het in November ʼn dag as Tuks-student by die Universiteit van Pretoria deurgebring.

Hy is in 2014 met hoërisiko-neuroblastoom gediagnoseer en het 100 dae van chemoterapie ondergaan. Hoewel die uitslae positief gelyk het, was die Scharnecks platgeslaan toe dit blyk dat die kanker in Junie 2015 weer versprei het.

Hoewel hy selfs nietradisionele kankerbehandeling uit Australië ontvang het én in Januarie verlede jaar weer ʼn groot operasie ondergaan het om al die gewasse te verwyder, het die gesin nie die goeie nuus ontvang waarop hulle gehoop het nie. Van die gewasse was vas aan die aorta en dokters kon dit nie verwyder nie.

Hy het altesaam al nege operasies ondergaan, maar die negende operasie was die laaste. Aangesien dokters weier om hom verder te opereer of selfs te ondersoek, verseker Marinda nou haar seun se grootste drome word bewaarheid.

Lees alle vorige berigte oor Ruben op Maroela Media.

Vir meer inligting, besoek Hope4Ruben op Facebook.

Smiley: ‘Ek is gedwing om moord op Anika te beken’

$
0
0
André van Wyk. Foto: Phillip Bruwer

André van Wyk. Foto: Phillip Bruwer

Die saak van André van Wyk (24), wat aangekla word van die moord op Anika Smit, het Dinsdag in die Pretoria-Noord-landdroshof ʼn skokwending geneem toe Van Wyk met sy borgtogaansoek begin het.

Adv. Corrie Niewenhuizen, Van Wyk se regsverteenwoordiger, het begin deur aan te voer sy kliënt het geen vorige veroordelings nie. Staatsaanklaer adv. Tania Carstens het hierna aangevoer die saak moet as ʼn skedule 6-misdryf aangehoor word. Die landdros het die versoek toegestaan en Van Wyk moet dus buitengewone omstandighede bewys oor hoekom hy op borgtog vrygelaat moet word.

Adv. Niewenhuizen het hierna begin om Van Wyk se verklaring aan die hof voor te lees. Van Wyk is 24 jaar oud, enkellopend en het geen afhanklikes nie. Hy woon in Pretoria-Noord by sy ouers en het voor sy arrestasie as ʼn lugversorgertegnikus gewerk en R4 000 per maand verdien. Van Wyk het nie ʼn paspoort nie en het aangedui dat hy skuld sal ontken op die aanklagte teen hom.

Volgens Van Wyk het hy op 16 September, die dag voor hy homself aan die polisie oorgegee het, ʼn werksfunksie bygewoon waar hy drank gedrink het voor hy later saam met vriende verder gaan kuier het. Volgens hom het hulle na ʼn kuierplek gegaan waar ʼn man en ʼn vrou hom genader het. Hy voer aan die man en vrou het hom en sy familie gedreig en dat hulle hom gedwing het om polisie toe te gaan en ʼn bekentenis af te lê.

Anika Smit

Anika Smit

Van Wyk is op 17 September na die polisie waar hy ʼn verklaring afgelê en homself oorgegee het. Hy voer aan hy het kort hierna besef hy het ʼn fout gemaak en het aangedui hy sal die verklaring betwis aangesien hy nie “duidelik” en “nugter” gedink het nie. Volgens Van Wyk het hy deurentyd sy volle samewerking aan die polisie gegee en sal hy voortgaan om dit te doen. Hy het ook DNS-monsters verskaf en volgens hom stem dit nie ooreen met die DNS wat op Anika se liggaam en die moordtoneel gevind is nie. Hy het ook gesê hy was nog nooit by die huis waar Anika vermoor is nie.

Van Wyk het aangevoer dit is in belang van geregtigheid dat hy op borgtog vrygelaat word. Hy het gesê sy ouers kan R5 000 vir borgtog bekostig. Hy het bygevoeg dit is belangrik dat die ware moordenaar geïdentifiseer word. Hy het gesê hy is spyt oor die verklaring wat hy afgelê het en dat hy Anika se ouers ‘vals hoop’ gegee het.

Die hof het hierna vir tee verdaag.

Anika is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is nooit gevind nie.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

Nuuskommentaar: De Lille en die ruik-’n-rot-spel

$
0
0
Patricia de Lille. Foto: Twitter

Patricia de Lille. Foto: Twitter

Die eise van die snelgroeiende Kaapstad is so groot dat die burgemeester nie nog ander veeleisende verpligtinge ook kan “bykom” nie. Hoekom is daar dan soveel bedenkinge as Patricia de Lille juis dit as rede vir haar bedanking as Wes-Kaapse DA-leier aanvoer?

Patricia de Lille was nog nooit ’n dowwe ster nie. Of sy nou baie verbaal was (as prominente PAC-leier), of ’n groter as lewensgroot profiel bekom het nadat sy die ID gestig het en tot bitter na aan die koningin van die bruin mense en wit en bruin vroue gevorder het, of toe sy weer ’n gedaanteverwisseling moes ondergaan nadat die ID deur die DA ingesluk is – haar ster het selde verdof.

Tog kon die ongemaklike gevoel nie afgeskud word dat sy die laaste ruk nie heeltemal haarself was nie, en waarnemers het oor ’n breë front saamgestem.

Nou word kliphard bespiegel oor die “werklike” redes waarom sy so skynbaar uit die bloute, en amper ’n jaar voor die volgende leierskapsverkiesing, as Wes-Kaapse leier van die DA bedank het. Haar, en die DA se verduideliking dat sy meer aandag aan haar amp as burgemeester van Kaapstad wil bestee, word met byna dieselfde ontsag as duidelike fopnuus hanteer. Dis immers die era van die post-waarheid.

’n Besliste mening oor of daar waarheid steek in die bespiegelings, moet eers in die ontplooiing van die feite agterweë gelaat word, maar die oog tog ook nie daarvan afgehaal word nie. Veral die bespiegelings dat dit deel van ’n leierskapstryd is, kan nie geïgnoreer word nie. Dink maar aan die hipotetiese gevolge as De Lille kort voor die 2019-verkiesing na die ANC oorloop, en in die proses ’n groot deel van haar lojale kiesers saamneem. Of is dit so hipoteties? Ná die stigting van die ID het dié party aanvanklik tot groot ontsteltenis van baie van sy lede die ANC gesteun. Sou die DA ten spyte van die hipotetiese drostery na die ANC die Wes-Kaap en die stad Kaapstad kon behou?

Reeds in 2007, nog voor die ID en DA saamgesmelt het, maar as koalisie Kaapstad regeer het, het De Lille ’n striemende aanval op Helen Zille van stapel gestuur.

Sedertdien was daar talle berigte en bespiegelings dat die verhouding tussen De Lille en Zille nie al te vars was nie. Heelwat hiervan is egter deur die ANC gestook en kon net sowel duimsuiery gewees het.

Met die opname in die DA, het dit geblyk dat De Lille se steun onder bruin mense nie sonder krakies was nie. Ikosa, wat in ’n groot deel van die Suid-Kaap en Karoo ’n beduidende politieke party is, het tot stand gekom. Sy relevansie het ook nie juis afgeneem toe prominente lede by die ANC gaan aansluit het nie.

Sommige prominente ID-lede is regstreeks ANC toe. Dit beteken egter De Lille moes heelwat steun van buite die ID saamgeneem het DA toe.

Daar was baie vrae oor hoekom dit De Lille ná verlede jaar se munisipale verkiesing so lank geneem het om ’n nuwe burgemeesterskomitee vir Kaapstad aan te wys. Dit is eers baie onlangs, naamlik 24 Januarie vanjaar, gedoen. Bespiegelings wou dit hê dat sy doodseker wou maak dat die nuwe komitee slegs uit sterk De Lille-lojaliste moes bestaan. In die Wes-Kaap, met sy baie Zille-lojaliste, sou dit ’n gedugte taak wees.

Maar bespiegelings daargelaat – om burgemeester van Kaapstad te wees is ’n gedugte taak. Die stad is deur Tesourie geloof omdat dit 67% van sy begroting aan arm mense en hul woongebiede bestee. Die Tesourie het bevind dat die stad buitengewoon ruimhartig is in die voorsiening van gratis basiese dienste.

Boonop is die stad een van die mees snelgroeiende stede in die land. Wat net sowel bygevoeg kan word, is dat ’n groot deel van die nuwe aankomelinge arm mense uit die Oos-Kaap is. Om hulle ekonomiese vlugtelinge te noem, het die ANC bitterlik ontstel. Dit pas nie by hul refrein dat die Wes-Kaap “bevry” moet word nie.

Dié invloei, asook natuurlike aanwas, saam met aankomelinge uit Somalië, Nigerië en elders, veroorsaak dat die voorsiening van basiese dienste ’n bykans onmoontlike taak is. Dit word met ’n vergrootglas deur die ANC dopgehou, en as daar die geringste teken is dat Kaapstad nie bykom nie, snater die ANC oor die DA wat nie vir die armes omgee nie.

Nog iets waarop die oog gehou moet word, is Kaapstad se instelling van sy eie plan, bekend as die Organisatoriese Ontwikkelings- en Transformasieplan (Organisational Development and Transformation Plan [ODTP]). Suid-Afrika het die bitter ervaring dat die woord “transformasie” wyd as verskoning gebruik word om feitlik enige ras-gebaseerde onheiligheid mee aan te vang. Dis jammer dat die woord ook hier ingesluip het.

Die huidige droogte en verskerpte waterbeperkings, omvangryke brandstigting, en haweloses is maar enkele van die knelpunte waarmee die regerende DA sonder die “hulp” van die ANC mee te kampe het.

Die druk om ook sulke sake aan te spreek is groot en blyk onder meer uit ’n skrywe van die bekende Joan Hambidge aan Netwerk 24: “Ongelukkig kom die baasskap van ’n stad met verpligtinge en as me. De Lille en haar span nie nou optree nie, gaan die stad vir almal ’n plek van ontheemding raak.”

Tegnies is dit dus reg, en groots, dat De Lille haar verpligtinge tot die stad verskraal, wat boonop die land se wetgewende hoofstad is, asook ’n baie belangrike toerismebestemming. Stedelike verval om by die instroom van migrante by te hou is dus nie ’n opsie nie. Die stad moet eenvoudig sy hulpbronne buite-om staatsbydraes vergroot, en dit kan nie halfhartig gedoen word nie.

De Lille sal haar filantropiese motiewe deurlopend moet bewys, of waarnemers gaan haar onder ’n vergrootglas bly dophou vir ander motiewe. Sy word reeds daarvan “beskuldig” dat sy oor tyd gesorg het dat haar lojaliste sleutelampte en -poste in sowel die metro as die Wes-Kaapse regering kry, wat normaalweg ’n seker teken van ’n oorname van die een of ander aard is. As dit die waarheid sou wees …

Anika-saak: Polisieverklaring skets donker prentjie van Smiley

$
0
0
André van Wyk Dinsdag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

André van Wyk Dinsdag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

André van Wyk (24), wat aangekla word van die moord op Anika Smit, het glo aan ʼn selmaat gesê hy het Anika verkrag.

Dit is volgens lt.kol. Mike van Aardt, ondersoekbeampte in die saak. Van Aardt se verklaring is aan die hof voorgelees. Volgens Van Aardt het Van Wyk op 17 September, die dag wat hy hom aan die polisie oorgegee het, mondelings erken dat hy Anika vermoor het.

Daar is ook ʼn waarskuwingsverklaring afgeneem en Van Wyk het bevestig dat dit korrek is. Van Wyk is op 21 September weer ondervra. Dit is glo eers toe dat hy gesê het hy is gedreig deur mense wat wou hê hy moet skuld beken.

Volgens Van Aardt se verklaring het ʼn selmaat van Van Wyk in November aan hom gesê dat Van Wyk gesê het hy het die oorledene verkrag. Van Wyk en Anika was saam op skool. Van Wyk het glo ook op ʼn skoolbank geskryf dat hy Anika vermoor het. Volgens Van Aardt word Van Wyk deels met die misdaadtoneel en die moord verbind. Van Aardt het bevestig dat Van Wyk saam met sy ouers bly en dat sy hoogste kwalifikasie gr. 10 is.

Volgens Van Aardt is Van Wyk nie altyd eerlik nie en het hy glo al gesteel. Van Wyk het glo vertel hy gaan met die polisie se koppe smokkel deur sy bekentenis terug te trek. Hy het glo ook erken hy het neigings om diere te wil seermaak. Volgens Van Aardt het Van Wyk gesê hy wil as “Smiley Scissor Hands” in die tronk bekend staan en dat hy ʼn tatoeëermerk op sy bors gaan kry van twee hande met bloed wat daarvan afdrup.

Van Wyk het glo ook erken dat hy die moordtoneel “skoongemaak” het, Anika se hande verwyder en daarvan ontslae geraak het. Hy het glo ook ʼn vuurwapen en Mandrax-tablette van die toneel verwyder.

Adv. Corrie Niewenhuizen, Van Wyk se regsverteenwoordiger, het ná Van Aardt se verklaring aan die hof voorgelees is, gesê daar is geen DNS-bewyse dat Van Wyk die moord gepleeg het nie. Niewenhuizen het gesê al bewyse wat die staat het, is Van Wyk se aanvanklike bekentenis en bewerings van medegevangenes.

Volgens Niewenhuizen sou Van Wyk nie ʼn bekentenis afgelê het as sy familie en hy nie gedreig is nie. Niewenhuizen het weer gesê dit is in belang van geregtigheid dat Van Wyk op borgtog vrygelaat word.

Die hof het hierna vir middagete verdaag.

Anika is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is nooit gevind nie.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

‘Haatspraak-wet inkrimineer amper almal’

$
0
0
jeremy-nell-haatspraakwetsontwerp-deur-reint-dykema

Die spotprettekenaar Jeremy Nell het ook sy stem toegevoeg by die wat teen die voorgestelde wetsontwerp op haatspraak is. Foto: Reint Dykema.

Die definisie van die voorgestelde wetsontwerp oor die voorkoming en bestryding van haatmisdaad en haatspraak is tans so wyd dat dit die meeste Suid-Afrikaners op die een of ander wyse sou inkrimineer, wat kan lei tot ʼn gevangenisstraf van tot drie jaar.

Dit is die regsmening van die burgerregte-organisasie AfriForum wat vandag die ongrondwetlikheid van die wetsontwerp by sy hoofkantoor in Centurion, Pretoria, tydens ʼn blitskonferensie bespreek het. Die regsmening is opgestel deur adv. Mark Oppenheimer, ʼn mediaregkenner, in samewerking met adve. Martin Brassey SC en Gretha Engelbrecht.

AfriForum het ook ʼn veldtog van stapel gestuur wat aan die publiek die geleentheid bied om hul stemme by dié wat teen die wetsontwerp gekant is, te voeg.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het erken dat haatspraak en rassisme inderdaad ʼn probleem in Suid-Afrika is. “Die ANC poog egter met hierdie wetsontwerp om mikrobestuur op die samelewing toe te pas, wat die situasie net sal vererger, eerder as om dit te beveg.

“Die wet maak ook duidelik voorsiening vir selektiewe vervolging. Die implikasies daarvan gaan weereens wees dat ons dubbele standaarde het in die land, maar nou word die geleentheid skep om hierdie dubbele standaarde spesifiek in ons howe toe te pas.”

adv-mark-oppenheimer-mediaregkenner-deur-reint-dykema

Adv. Mark Oppenheimer, ‘n mediaregkenner. Foto: Reint Dykema.

Oppenheimer sê die oorheersende kwessie is die wyse waarop die wetsontwerp gedefinieer word. “Die Grondwet maak duidelik watter spraak op haatspraak neerkom – verkondiging van haat op grond van ras, geslag, etnisiteit en geloof – en dit wat neerkom op aanhitsing om skade te berokken. Die wetsontwerp gaan egter verby hierdie spraak en brei dit uit om bespotting en belediging in te sluit en dit het drakoniese regtelike strawwe. Ons sal by implikasie toegesluit kan word vir grappies oor prokureurs en joernaliste.”

Hy het voorgestel dat die wetsontwerp gewysig word om onder meer nie strafregtelike strawwe vir haatspraak in te sluit nie, maar eerder beskuldigdes toelaat om onvoorwaardelik om verskoning te vra, om gemeenskapsdiens te doen en boetes aan die slagoffer, of ʼn organisasie wat die slagoffers verteenwoordig, uit te reik. Die boete kan R100 000 wees vir eerste oortreders en nie meer as R500 000 vir daaropvolgende skuldigbevindings nie.

Jeremy Nell, die spotprenttekenaar beter bekend as Jerm, het saam met AfriForum ʼn voorlegging oor die wetsontwerp aangebied. “Ek sal van beroep moet verander na iets veiligers, maar op ʼn ernstige noot is dit ʼn belaglike voorstel om vryheid van spraak te onderdruk. ʼn Wet soos hierdie ondermyn die beginsels van demokrasie,” sê hy.

Roets meen dat die probleem van rassisme, soos baie van die lande se ander probleme, teruggevoer kan word na kwessies soos die gehalte van onderwys, armoede en werkloosheid, wat “vrugbare grond” vir rassisme skep. “Die wetsontwerp is soos om die simptome te behandel sonder om die oorsaak van die probleem aan te spreek. As ons rassisme wil aanspreek, moet ons meer Suid-Afrikaners toegang gee tot gehalte-onderwys wat mense toegang tot werk sal gee.”

ernst-roets-afriforum-deur-reint-dykema

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van Afriforum. Foto: Reint Dykema.

Die besware wat in AfriForum se voorlegging teen die wetsontwerp geopper is, sluit die volgende in:

  • Die nodige balans tussen die reg op vryheid van spraak en die potensiële beperking daarvan word nie getref nie.
  • Die drempel wat vir die definiëring van haatspraak gestel word, is so laag dat spraak wat deur die Grondwet beskerm word ook gekriminaliseer word.
  • Die gevolge hiervan is dat robuuste debatte en gesprekvoering oor sensitiewe politieke kwessies ontmoedig sal word. Komediante en spotprenttekenaars sal byvoorbeeld in voortdurende vrees vir strafregtelike vervolging leef.
  • Billike en akkurate verslagdoening van haatspraak word ook gekriminaliseer. Selfs boekwinkels wat voorraad aanhou waarin daadwerklike haatspraak behandel word (byvoorbeeld boeke oor Nazi-Duitsland of die Rwandese volksmoord) kan vervolg word.
  • Gevangenisstraf word opgelê in gevalle waar ander optrede meer gepas sou wees. Eerste oortreders kan vir drie jaar gevangenisstraf gevonnis word en tweede oortreders vir tien jaar.
  • Die wetsontwerp maak dit vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) moontlik om selektiewe en arbitrêre vervolgings toe te pas, wat in die praktyk daartoe kan lei dat “haatspraak” wat kritiek op die regering of die regerende party bevat tot vervolging sal lei, terwyl die regering of die regerende party se eie “haatspraak” geïgnoreer word.

AfriForum se aksieplan teen die voorgestelde wetsontwerp sluit die volgende in:

  • Voortgesette voorleggings sal op die wetsontwerp gelewer word, wat die moontlikheid van ʼn voorlegging in die parlement insluit.
  • AfriForum se regspan berei voor om die wetsontwerp in die hof te beveg sou dit deur die Nasionale Vergadering (NV) en die president goedgekeur word.
  • ʼn Petisie kan op AfriForum se webwerf onderteken word, waardeur die publiek hulle steun verleen aan AfriForum se veldtog om die wetsontwerp te stop. Besoek stoprassisme.co.za.
  • ʼn Skenking van R10 kan aan AfriForum se regsfonds gemaak word deur die woord “Rassisme” na 38312 te SMS.

Verkeer erg ontwrig toe brandweerwa omslaan

$
0
0
Foto: ER24

Foto: ER24

Die verkeer in Constantia Kloof in die weste van Johannesburg is Dinsdagoggend erg ontwrig nadat ʼn brandweerwa met twee ander voertuie gebots en omgeslaan het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê by paramedici se aankoms op die toneel in Christiaan de Wet-rylaan, het die brandweerwa op sy kant teen ʼn motor gelê met ʼn tweede motor gedeeltelik onder die brandweerwa vasgevang.

Foto: ER24

Foto: ER24

Altesaam agt mense, insluitend vier brandbestryders, het geringe tot matige beserings opgedoen. “Die mense is op die toneel behandel voordat hulle na verskillende hospitale in die gebied geneem is,” het Meiring gesê.

“Dit is nie duidelik wat die botsing veroorsaak het nie, maar die verkeer is erg ontwrig terwyl owerhede besig was om die toneel op te ruim.” Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

Die wêreld in foto’s – 31 Januarie 2017

$
0
0

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

wêreld-foto

Vrywilligers van ʼn Sikh-tempel Dinsdag besig om haweloses in Nieu-Delhi gratis mediese sorg te bied. Foto: Tsering Topgyal, AP

wêreld-foto

Ongeveer 300 inwoners van Kambodja se noordwestelike provinsies Dinsdag buite dié land se premierwoning in Phnom Penh. Hulle het ʼn petisie oor ʼn grondkwessie met die provinsiale owerheid aan die premier, Hun Sen, oorhandig. Foto: Heng Sinith, AP

wêreld-foto

Brandbestryders het Maandag alles in die stryd gewerp om ʼn veldbrand te blus wat sowat 800 huise in ʼn gemeenskap in die Chileense kusdorp Dichato bedreig het. Die suide van Chili word tans geteister deur veldbrande. Foto: Esteban Felix, AP

wêreld-foto

Toeriste vroeër die week op besoek aan ʼn tempel in Kaifeng in China se Henan-provinsie. Foto: Li An, Xinhua

wêreld-foto

Die Griekse premier, Alexis Tsipras, is Dinsdag amptelik verwelkom tydens ʼn plegtigheid in die Serwiese paleis in Belgrado. Tsipras is op ʼn ampsbesoek van twee dae aan dié land. Foto: Darko Vojinovic, AP

Polisieman in hof oor ‘bloedmonsters in mikrogolf’

$
0
0
Shaun Donovan Hoffman Foto: SAPD / African News Agency

Shaun Donovan Hoffman Foto: SAPD / African News Agency

ʼn Adjudant-offisier in die polisie wat daarvan aangekla word dat hy bloedmonsters in dronkbestuursake gekook het, het Maandag weer in die handelsmisdaadhof in Bellville verskyn.

Shaun Donovan Hoffman (45) wat voorheen gestasioneer was by Pinelands-polisiestasie in Kaapstad, staan tereg op aanklagte van dwarsboming van die gereg en drie aanklagte van korrupsie.

Hoffman se verhoor sou na verwagting Maandag begin het, maar sy regsverteenwoordiger, Helena Brink, het aangedui dat Hoffman sonder rede haar mandaat beëindig het. Dit sal die derde keer wees dat Hoffman ʼn nuwe regsverteenwoordiger aanstel.

Hoffman is verlede jaar op borgtog van R2 000 vrygelaat. Landdros Sabrina Sonnenberg het sy borgtog verleng en hom gemaan om op 17 Februarie weer in die hof te verskyn.

Die saak hou verband met drie dronkbestuursake. Hoffman het na bewering bloedmonsters in ʼn mikrogolfoond gekook voordat hy die monsters vir forensiese analise gestuur het om die bloedalkoholvlakke te toets.

Hy het in twee gevalle na bewering telkens omkoopgeld van R1 000 van die twee dronkbestuurverdagtes geëis om die bewyse te laat “verdwyn”. Hy staan in dié twee gevalle onderskeidelik tereg op aanklagte van korrupsie en dwarsboming van die gereg.

Hy het na bewering in die derde geval omkoopgeld van R2 000 van die dronkbestuurverdagte geëis om van die bewyse ontslae te raak. In dié geval staan hy ook tereg op een aanklag van korrupsie en een van dwarsboming van die gereg.

Lees alle vorige berigte oor Shaun Donovan Hoffman op Maroela Media.

Anika se pa: ‘Dis sommer ʼn klomp leuens’

$
0
0
Johan Smit buite die hof. Foto: Phillip Bruwer

Johan Smit buite die hof. Foto: Phillip Bruwer

André van Wyk (24), die man wat aangekla word van die moord op Anika Smit, se borgaansoek sal Vrydag voortgaan. Anika is in 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor.

Adv. Tania Carstens, staatsaanklaer, het nadat die hofverrigtinge hervat is gesê saam met Van Wyk se grondwetlike regte kom daar ook sekere verpligtinge. Sy het gesê in die ses jaar sedert die moord het niemand hom of sy familie gedreig nie en het hy nooit na vore gekom nie.

Carstens het gesê Van Wyk probeer nou ʼn weergawe voorhou dat hy deur mense in ʼn kuierplek gedreig is om na vore te kom. Carstens wou weet wat die waarskynlikheid daarvan is dat Van Wyk nie melding daarvan sou maak toe hy homself aan die polisie oorgegee het nie.

Carstens het gesê Van Wyk het eerder besluit om ʼn waarskuwingsverklaring te onderteken en dieselfde dag ʼn bekentenis voor ʼn landdros te maak. Sy het gesê Van Wyk het by minstens vier geleenthede volgehou hy is skuldig. Sy het ook verwys na Van Wyk se beweerde uitlatings dat hy met die polisie se koppe gaan smokkel en sy beweerde bekentenisse tenoor selmaats.

Carstens het gesê Van Wyk se persoonlike omstandighede regverdig nie dat hy op borgtog vrygelaat word nie. Sy het gesê Van Wyk het nou dat hy die erns van die saak besef sy weergawe verander. Sy het Van Wyk se geloofwaardigheid bevraagteken. Volgens Carstens het Van Wyk gesê hy vrees vir sy lewe en om dié rede moet hy ook borgtog geweier word.

André van Wyk Dinsdag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

André van Wyk Dinsdag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Adv. Corrie Niewenhuizen, Van Wyk se regsverteenwoordiger, het gesê dit is vreemd dat Van Wyk dan nou, amper sewe jaar ná die moord, uit die bloute sou sê dis hy wat die moord gepleeg het. Volgens Niewenhuizen sou Van Wyk se gewete hom lankal gery het. Niewenhuizen meen daar moenie veel waarde geheg word aan Van Wyk se beweerde bekentenisse teenoor selmaats nie. Niewenhuizen het ook aangevoer die inligting wat Van Wyk gegee het, is wyd bekend in die media.

Die saak is hierna tot Vrydag uitgestel wanneer die landdros uitspraak gaan lewer in die borgtogaansoek. Van Wyk bly in aanhouding.

Johan Smit, Anika se pa, het buite die hof aan verslaggewers gesê die bewerings wat Van Wyk vandag in sy borgtogverklaring aangevoer het, is “sommer ʼn klomp leuens”.

“Dit is net ʼn slim storie van sy regspan om vir hom borgtog te kry. Hy het kort-kort sy storie verander en nie een van sy stories was dieselfde nie. As ek gedreig word deur iemand gaan ek dit onmiddellik sê.”

Smit het gesê hy was bly toe Van Wyk homself aan die polisie oorgegee het aangesien daar toe uiteindelik iets gebeur het in die saak. “In hierdie stadium kan ons nou maar net kyk wat gebeur vorentoe. Dit is al wat ek in die stadium wil sê.”

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

Gerrie Nel: ‘Almal moet gelyk wees voor die reg’

$
0
0
Adv. Gerrie Nel (middel) Dinsdag (31 Januarie 2017) tydens 'n mediakonferensie in Centurion. By hom is Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid. Foto: Marius Vermaak

Adv. Gerrie Nel (middel) Dinsdag (31 Januarie 2017) tydens ‘n mediakonferensie in Centurion. By hom is Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid. Foto: Marius Vermaak

Adv. Gerrie Nel het Dinsdag gesê hy het besluit om ʼn pos by die burgerregte-organisasie AfriForum te aanvaar omdat hy bekommerd is oor die persepsie dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geneig is tot selektiewe vervolgings en dat almal skynbaar nie gelyk is voor die reg nie.

Nel het tydens ʼn mediakonferensie by AfriForum se kantoor in Centurion gepraat enkele ure nadat die nuus van sy bedanking by die NVG en aanstelling by AfriForum aan die lig gekom het. Nel sal die hoof van AfriForum se nuwe private vervolgingseenheid wees.

Suid-Afrikaanse wetgewing maak private vervolging moontlik in gevalle waar die NVG besluit om iemand wat van ’n misdryf verdink word nie te vervolg nie.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het Dinsdag gesê die organisasie het beplan om die nuus van Nel se aanstelling op 2 Februarie bekend te maak, maar het besluit om die amptelike aankondiging te vervroeg nadat die nuus voortydig in die media uitgelek het.

Volgens Nel sal sy posisie by AfriForum hom die geleentheid bied om vanuit die burgerlike samelewing te help verseker dat almal, ongeag van hul posisie, gelyk is voor die reg. “Ek glo in die oppergesag van die reg. AfriForum se pasgestigte private vervolgingseenheid bied aan my die geleentheid om vanuit die burgerlike samelewing te help verseker dat almal, ongeag posisie, gelyk is voor die reg. Ek en AfriForum is nou in ’n posisie om korrupte persone wat nie deur die NVG vervolg word nie self te vervolg,” het Nel gesê.

Hy het gesê dit was nie ʼn maklike besluit om ʼn leeftyd as staatsaanklaer agter te laat nie. “AfriForum is die enigste organisasie wat hul hulpbronne beskikbaar gestel het om ʼn eenheid van dié soort op die been te bring. So, toe ek genader is met ʼn aanbod om in die private sektor te werk, maar steeds ʼn aanklaer te wees en steeds ʼn verskil te maak, het ek die geleentheid aangegryp.”

Nel het beklemtoon dat hy nie ʼn politieke agenda het nie en niks sal doen waarin hy nie in glo nie. “Ek daag almal uit om ons dop te hou en die werk te volg wat ons doen. Kritiseer ons as jy dink ons doen iets verkeerd. Daag ons uit as jy dink ons het ʼn agenda. Ek is seker dat ons geen van hierdie uitdagings sal hê nie.”

Kriel het gesê Nel se aanstelling is ’n reuse-stap vorentoe in AfriForum se stryd teen korrupsie en die plundering van belastingbetalers se geld. Volgens Kriel vertrou hy dat Nel se aanstelling ’n duidelike boodskap aan korrupte politici en amptenare op nasionale, provinsiale en plaaslike regeringsvlak sal stuur dat hulle nie langer weens hul politieke kontakte van vervolging gevrywaar is nie.

“Korrupte persone moet besef dat niemand bo die reg verhewe is nie, selfs nie die land se president nie,” sê Kriel. “Dit is in ons almal se belang dat ons seker maak dat daar verantwoordbaarheid is.” Kriel het gesê die eenheid sal nie nou enige name bekendmaak van mense wat vervolg sal word nie.

Nel het gesê hy sal begin met ’n ondersoek om te bepaal wie is die openbare amptenare teen wie daar ’n sterk saak is, maar wat nie vervolg word nie.

Volgens Kriel sal Nel nou begin om ander kundiges by AfriForum se privaat vervolgingseenheid te betrek om te verseker dat AfriForum oor die sterkste moontlike vermoë beskik om in te tree waar die strafregstelsel versuim om geregtigheid te laat geskied.

Kriel het daarop gewys dat, hoewel dit baie duur is om privaat te vervolg, beteken Nel se aanstelling by AfriForum dat privaat vervolging nie meer ’n onhaalbare droom is nie.

Tweelingbroer se dood steeds ʼn raaisel

$
0
0
Christo (links) en Beyers Adendorff. Foto: Verskaf

Christo (links) en Beyers Adendorff. Foto: Verskaf

ʼn Familie is desperaat op soek na antwoorde nadat ʼn man, een van ʼn tweeling, vroeër vandeesmaand buite Kimberley in die Noord-Kaap onder raaiselagtige omstandighede dood is.

Christo en Beyers Adendorff (43) was nie net identiese tweelingbroers nie, maar ook mekaar se beste vriende. Yolanda du Preez, hul suster, vertel aan Maroela Media dat die broers eintlik mekaar se sielsgenote was wat nog altyd alles saam gedoen het.

Nooit kon Christo dink toe hy die aand van 14 Januarie vir Beyers by ʼn kollega se verjaardagpartytjie groet, dat dit die laaste keer sou wees wat hy met hom praat nie. Die volgende keer wat Christo vir Beyers gesien het, was in die waakeenheid van ʼn hospitaal in Kimberley waar hy in ʼn kritieke toestand was.

Volgens Du Preez het Christo en Beyers saam in ʼn huis in Kimberley gewoon waar hulle vir GVK Siya Zama Construction gewerk het. Albei is ongetroud. “Ons hele familie bly nog steeds in Louis Trichardt. Christo en Beyers kom ook van Louis Trichardt af, maar hulle het altyd rondgetrek na waar hulle met ʼn projek vir hul maatskappy besig was en het al meer as ʼn jaar lank in Kimberley gewoon.”

Du Preez sê Christo en Beyers het die betrokke aand ʼn verjaardagpartytjie langs die Rietrivier in Ritchie bygewoon. Christo het later die aand huis toe gegaan en vir Beyers gegroet aangesien ʼn vriend Beyers by die huis sou gaan aflaai. “Beyers se ID en selfoon was in die motor waarmee Christo gery het, aangesien hulle hul goed van die begin van die aand af in die motor gelaat het,” het sy gesê.

Toe Christo die volgende dag besef dat Beyers nooit huis toe gekom het nie, het hy begin deur al hul vriende te bel om te hoor of Beyers dalk elders oornag het. Die vriend wat Beyers sou huis toe neem het gesê hy het Beyers by die partytjie gesoek en toe hy hom nie kon kry nie, het hy aangeneem dat Beyers besluit het om wel saam met Christo huis toe te ry.

“Christo het al die polisiestasies, klinieke en hospitale in die omgewing gebel en rondgery om na Beyers te soek, voordat hy hom uiteindelik in die staatshospitaal in Kimberley opgespoor het. Hy het erge kopbeserings gehad en was in ʼn ernstige toestand. Beyers het toe reeds ʼn breinoperasie ondergaan om die bloeding en drukking op sy brein te verlig.”

Volgens Du Preez het ʼn verbyganger glo die Sondag omstreeks 03:00 vir Beyers langs die pad na Ritchie, sowat 1 km van die N12-roete, aangetref. Omdat hy geen identifikasie by hom gehad het nie, is hy as ʼn onbekende pasiënt in die hospitaal opgeneem.

Beyers het sedert hy langs die pad gevind is nooit weer sy bewussyn herwin nie en hy is op 21 Januarie in die hospitaal dood verklaar. Sy familie het besluit dat sy organe geskenk kan word vir oorplantings. Volgens die dokters gebeur dit selde dat al die organe van een persoon gebruik kan word soos wat by Beyers die geval was, sê Du Preez.

“Ons weet hy kon vir ten minste vyf ander mense ʼn nuwe lewe gee, en dit is vir ons as familie een ligpunt in hierdie donker tyd,” het Du Preez gesê.

Sy het gesê die familie is egter nog nie nader aan enige antwoorde oor wat met Beyers gebeur het nie. “Ons weet hy is nie beroof nie, omdat hy geen van sy persoonlike besittings by hom gehad het nie. Die uitslae van die nadoodse ondersoek dui daarop dat hy met ʼn harde voorwerp teen die kop geslaan is. Meer as dit kan ons nie bespiegel nie, aangesien ons nie daar was om te sien wat gebeur het nie. Ons hoop dat die polisie se ondersoek iets sal oplewer.”

Beyers word ook deur sy jonger broer, Mauritz, en ouers, Christo en Alida Adendorff, oorleef.

Kapt. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie het ʼn beloning van R25 000 uitgereik vir enigiemand met meer inligting rondom Beyers se dood wat tot die inhegtenisneming van die verdagte/s kan lei. Enigiemand met meer inligting word gevra om ao. Piet Hugo by 082 301 9995 of ao. Henk van Der Merwe op 082 447 1250 te bel.

Lephalale-sakeman in hof oor onwettige renosterjag

$
0
0
Van die pote wat op die plaas in Lephalale gevind is (Foto: Heritage Protection Group)

Van die pote wat op die plaas in Lephalale gevind is (Foto: Heritage Protection Group)

Antonio Freitas (55) van Lephalale (Ellisras) in Limpopo, het Dinsdag in die hof verskyn op aanklag van die onwettige jag van beskermde wilde diere.

Maroela Media het vroeër berig Freitas is by Ring-Beult Steenbokpan-plaas in Lephalale (Ellisras) in hegtenis geneem in verband met die onwettige jag van beskermde wilde diere.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het gesê Freitas se aansoek om borgtog hervat Woensdag.

Beamptes het beslag gelê op sewe renostersterte, agt pote en vleis wat alles in ʼn yskas gebêre is. Daar is ook renostervelle op die plaas gevind. Mojapelo het gesê die ondersoek sal bepaal waar die renosters vandaan kom.


Vyf vas oor 10-jarige seun se verkragting

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

Vyf persone, waaronder vier minderjariges, is in hegtenis geneem in verband met die verkragting van ʼn tienjarige seun se verkragting.

Maroela Media het vroeër berig die seun is Sondag omstreeks 16:30 in Thabong naby Welkom in die Vrystaat aangeval. Hy het saam met sy vriende in ʼn watergat geswem toe die vyf persone hulle genader het. Die seun se vriende kon weghardloop, maar hy het in die modder vasgesit.

“ʼn 21-jarige man is Maandag in hegtenis geneem,” het sers. Mamello Mokhuoane, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die ander vier verdagtes, almal tussen 14 en 16 jaar oud, is later in hegtenis geneem en in die toesig van hul ouers vrygelaat.”

Die 21-jarige man sal Woensdag in die Welkom-landdroshof verskyn. “Maatskaplike werkers sal intussen met die vier minderjariges kontak maak as deel van ʼn voorlopige ondersoek.”

Die seun is na ʼn hospitaal geneem nadat hy die saak by die polisie aanhangig gemaak het. Hy is intussen uit die hospitaal ontslaan.

Ses vas oor renosterstropery

$
0
0
Argieffoto: viechfisch, Pixabay

Argieffoto: viechfisch, Pixabay

Ses mans is vandeesweek in die Hluhluwe Imfolozi-natuurreservaat in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem in verband met renosterstropery.

“Een persoon is aanvanklik buite die natuurreservaat in hegtenis geneem, en nog vyf persone is daarna by ʼn bed-en-ontbyt-gastehuis in Nongoma in hegtenis geneem,” het brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, gesê.

Leon Steven Staltz (32), Thabo Mohlala (31), Holy Ndlovu (27), George Kenneth Ndlovu (40), Given Mokoena (37) en Thabani Sbusiso Mdlalose (32). van Mpumalanga, het Dinsdag in die Matubatuba-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie en sameswering om renosters te stroop.

“Al die verdagtes bly in aanhouding vir verdere ondersoek. Hulle sal volgende week voor ʼn landdros in KwaMsane verskyn,” het Naidoo bygevoeg.

Die taakspan het beslag gelê op ʼn jaggeweer, verskeie patrone, messe, ʼn knaldemper en reënjasse. Die jaggeweer word vir ballistiese toetse gestuur om te bepaal of dit tydens enige ander misdryf gebruik is.

SAPD tree nie op teen rassisme in eie geledere nie

$
0
0
Sandra Malebe-Thema. Foto: Facebook

Sandra Malebe-Thema. Foto: Facebook

Die vakbond Solidariteit het vandag bekend gemaak dat hy die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) hof toe vat aangesien hy strydig met die bepalings soos vervat in artikel 60 van die Wet op Gelyke Indiensneming optree. Dit volg nadat genl.maj. Sandra Malebe-Thema teen die einde van verlede jaar rassistiese en diskriminerende opmerkings teenoor opleidingspersoneel verbonde aan die Polisie se opleidingskool op Oudtshoorn gemaak het sonder dat dit enige nagevolge vir haar ingehou het.

Volgens Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, is die betrokke personeellede se grondwetlike reg op waardigheid en gelykheid deur dié optrede ernstig aangetas. “Nie net het Malebe-Thema die personeellede ten aanskoue van die rekrute aan die opleidingskool verneder deur hulle op die verhoog te verkleineer nie, maar sy het ook weens hul ras diskriminerend teenoor die betrokke personeellede opgetree,” het Van der Bijl gesê.

“Nadat die betrokke personeellede interne grieweprosedures gevolg het en Solidariteit haar weens haar optrede by die Menseregtekommissie verkla het, het die SAPD nie teen die sperdatum van 20 Januarie teen Malebe-Thema opgetree nie,” het Van der Bijl gesê. “Kragtens artikel 60 van die Wet op Billike Indiensneming kan Solidariteit nou die SAPD weens sy gebrek aan optrede teen Malebe-Thema in die arbeidshof pak.”

Volgens Van der Bijl sal die vakbond hierdie weg volg aangesien daar nie daadwerklik teen Malebe-Thema opgetree is nie. “Solidariteit eis dat hierdie voorval onpartydig ondersoek en die nodige dissiplinêre stappe teen Malebe-Thema geneem word,” het Van der Bijl gesê.

Lees alle vorige berigte oor Sandra Malebe-Thema op Maroela Media.

Pa in hof oor porno van sy tweelingdogters

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

ʼn 44-jarige man het Dinsdag in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn op aanklag dat hy pornografie versprei het van sy agtjarige tweelingdogters.

Die man, van Lorraine in Port Elizabeth, se vrou was ook in die hof. Sy naam kan nie bekend gemaak word nie, om die identiteit van sy kinders te beskerm.

Hy staan tereg op drie aanklagte wat verband hou met die vervaardiging, verspreiding en besit van kinderpornografie wat onder ʼn skedule 5-oortreding val.

Hy is in November 2016 deur die gesinsgeweld-eenheid in hegtenis geneem.

Volgens die klagstaat het hy glo foto’s geneem waarin sy dogters seksueel uitgebuit word en hy het kaal foto’s van hulle aanlyn versprei. Hy staan ook tereg op aanklag van die besit van kinder- en babapornografie op sy skootrekenaar.

Hy het geen vorige skuldigbevindings of hangende sake teen hom nie en is tans vry op borgtog van R10 000.

Die saak is uitgestel, aangesien die staat vir ʼn rekenaarverslag wag. Hy moet na verwagting op 9 Maart weer in die hof verskyn.

Unisa en Nehawu skik oor salarisse

$
0
0
Staking by Unisa (Januarie 2017)

Staking by Unisa (Januarie 2017)

Die Universiteit van Suid-Afrika en die vakbond Nehawu het Dinsdag formeel ʼn loonooreenkoms onderteken.

Unisa en die National Education, Health and Allied Workers Union het ʼn ooreenkoms by Muckleneuk-kampus onderteken waar permanente werknemers ʼn verhoging van tussen 5% en 8% sal ontvang vir die 2017 finansiële jaar.

Die universiteit het in ʼn verklaring gesê kragtens die ooreenkoms is die verhoging op ʼn glyskaal gebaseer, met werknemers op hoër vlakke wat die laagste persentasie verhoging ontvang, en diegene op die laagste vlak wat die hoogste persentasie verhoging ontvang.

“Werknemers wat in ʼn tydelike kapasiteit aangestel is, byvoorbeeld vastetermynkontrakte of uurliksetarief-werknemers, uitgesluit diegene wat aangestel is kragtens die studentewerkerskema en informelewerkerskema, sal ʼn 7,75% verhoging ontvang,” het Martin Ramotshela, woordvoerder van Unisa, gesê.

Die partye het ingestem dat die salarisverhogings rondom 15 Februarie vanjaar in werking sal tree. Die partye het ingestem dat die beginsel van “geen werk, geen salaris”, nie van toepassing sal wees nie, en dat die interdik wat die universiteit tydens die staking bekom het, gekanselleer word.

Viewing all 56621 articles
Browse latest View live