![President Zuma during a press briefing]()
President Jacob Zuma (Foto: GCIS)
Kan daar ná een maand van 2017, veral ’n maand waarin daar verskeie ingrypende veranderings ingetree het, sinvol projeksies vir die res van die jaar gemaak word? Omtrent al wat seker is, is dat dinge gaan verander.
Met die eerste maand van 2017 so te sê op sy rug is dit nou ’n algemene speletjie om dié maand met verlede jaar s’n te vergelyk en projeksies vir die res van vanjaar te maak.
Inderdaad is daar baie nuwe verwikkelinge, waarvan die ampsaanvaarding van pres. Donald Trump van die VSA sekerlik die ingrypendste is. Die plaaslike nuustoneel word oorheers deur pres. Jacob Zuma, hoewel die opvolgstryd wat in Desember ’n hoogtepunt behoort te bereik, lank nie die enigste “show” in Suid-Afrika op die planke is nie soos sommige meningsvormers te kenne gee nie.
Zuma bly egter die grootste enkele gemene deler, asook gemeenste speler,wat sake vir ontleders en ernstige kiesers baie moeilik maak. Dit is duidelik dat die era van die post-waarheid voortgesit word, en dat dié brousel goed gelaai word met fopnuus, regeringspropaganda en kubergapsing; en dat hierdie brousel ’n klimaat skep waarin samesweringsteorieë en ontkennings weer ’n omvangryke oplewing toon – lekker gedryf deur die ruimte wat die kuberruim bied.
In hierdie klimaat van wantroue en selfs massa-paranoia eskaleer die verskynsel van ideologiese onverdraagsaamheid. Veral die liberaliste, wat veronderstel is om vrye denke te ondersteun, word erg van onverdraagsaamheid en bevooroordeeldheid beskuldig. Van die gebruiklike sêding, “ek verskil van jou, maar ek sal jou reg om te verskil tot die dood verdedig”, is daar weinig sprake. Dit is egter nie ’n gans nuwe verskynsel/opvatting nie nadat Rhoda Kadalie al enkele jare gelede geskryf het dat politieke korrektheid die diktatuur van die liberalis verteenwoordig.
Rou vitrioel oorspoel daagliks van alle ideologiese hoeke die kuberruimte, en nie alleen is die objektiewe ontleding van feite onder druk nie – selfs die onvervreembare reg van ontleders om feite so objektief moontlik te beoordeel, is onder vitrioeldruk.
Kortom, die ontleder wat nie ’n ekstreme standpunt, hoe besaai met fopnuus en propaganda ook al, as vertrekpunt gebruik nie, kan amper weet hy gaan die konka met vitrioel op hom omgekeer kry. Soms is dit bewysbaar duidelik dat die leser wat so kras kommentaar op rubrieke lewer, daardie stukke glad nie gelees het nie, en die oorspronklike skrywers onder meer kritiseer oor “feite” wat glad nie in die stukke genoem is nie.
Gelukkig is daar wel lesers wat weldeurdagte kommentaar lewer en dit waardeer dat Maroela Media nie altyd by die politiek korrekte draaiboek hou nie. Juis in ’n poging om objektief werklike feite onder die loep te neem.
Dit dan die agtergrond.
Uit korrespondensie met Amerikaners in verskillende dele van die VSA is dit duidelik dat Trump met sy verkiesingsbeloftes (waar hy in die uitvoering daarvan reeds een bloedneus in die hof weg het), op rou senuwees ’n vrugbare teelaarde kon vind. Uit Washingtonstaat in die Noordweste van die VSA skryf ’n boer onder meer:
“There are four languages posted and used now at the Department of Motor Vehicles. English, Spanish, Russian and Vietnamese, which reflect the latest wave of immigration in our area. If you go to a Supermarket you can hear 4 to 5 Languages – Russian, Spanish, Chinese, Vietnamese, Korean, and … English. Get away from the Western Coastal Cities, and you hear predominantly English, and the Agriculture workers speak Spanish.”
Dit staan in skrille kontras met die versugting by baie om die “baie ou” VSA te laat herleef: “Do not let the government do for you that you can do for yourselves.”
Die “ou VSA” word beskryf as: “It is White, English Speaking, and Christian.” Die “nuwe VSA word beskryf as: “Then there is the new emerging America. It is ‘Multicultural’, multi-language, Non-Christian. It is very government dependent.”
Dié boer, wat aangetroude Indiese familie het wat in Nederland woon, en trots op dié familie is, gee nie te kenne vir wie hy gestem het nie, maar as uitgesproke Christen word die indruk geskep dat Trump ook sy stem gekry het.
Is dit nie feitlik identies met die waarneming wat Wes-Europreërs in hul lande beleef nie?
Uit Maryland aan die teenoorgestelde kant van die VSA skryf ’n vroueboer: “The election has caused a lot of anger. Especially that Trump is doing what he said he would do. I’m a supporter – this country is out of control. Someone has to make hard decisions. But you cannot admit it publicly because you are then automatically a racist, sexist, etc. People were tired and want a radical change.”
Of die voorbeelde van ’n regser verskuiwing in die VSA en Wes-Europa so ’n eenvoudige verskynsel is soos wat sommige kommentators dit maak wat hygend opgewonde die drade bymekaartrek, sal die tyd leer. Wes-Europa is bekend daarvoor dat politieke en ideologiese golwe in sterk siklusse kan voorkom. Dink maar aan die permissiewe liberale era van Joop den Uyl, met Christen-demokrate wat ’n dekade of wat later ’n ruk die politieke toneel in verskeie lande oorheers het. In ʼn stadium was daar ’n ideologiese veronderstelling dat die politiek so vervloei het dat die ideologiese spektrum nie meer as ’n reguit lyn van regs na links uitgebeeld kan word nie, maar as ’n ronde bal waar ’n “linkse” party sekere beleidsrigtings met ’n “regse” party sou deel. Dit was in daardie stadium so nommerpas, dat sommige waarnemers (insluitend die uwe) dit ook in Suid-Afrika probeer verkwansel het.
Die opkom van duidelik regse partye (of soos dit in eie geledere genoem word, nasionalistiese partye) soos dié van Geert Wilders en Marine le Pen, het dié model egter laat sneuwel.
Gaan die gebruiklike liberale onverdraagsaamheid en ook weerstand uit die middelgrond ’n nuwe vervloeiing keer om weer ’n ideologiese bal eerder as ’n reguit lyn te vorm?
Op die plaaslike politieke toneel speel die ideologiese stryd hom ook af, maar elkeen is erg aan hibriede-vorme gekoppel. Word na die ANC se linkse kritici geluister, kan die ANC nie eerlik lid wees van Sosialisme Internasionaal nie, periodieke bekpraatjies ten spyt. Die beoogde stigting van die Werkersparty deur Numsa is ’n uitvloeisel hiervan.
So is daar ook vrae oor die versoenbaarheid van die DA se beleidsmanifestasies met dié van Liberalisme Internasionaal.
Uiteindelik sit Zuma egter met omtrent al die saakmakende speelkaarte in sy hand. Hy kan die ekonomie byvoorbeeld erg omkeer deur Brian Molefe as nuwe minister van finansies aan te wys en Pravin Gordhan uit die kabinet weg te laat. Hy kan soortgelyke moleste veroorsaak deur sy eie “jail free ticket” te probeer koop deur sy gewese vrou, Nkosazana Dlamini Zuma, as nuwe minister van finansies aan te wys.
En dis maar enkele voorbeelde van waar hy deur “strategiese” skuiwe, of deur ’n versuim om iets te doen soos om gediskrediteerdes in saakmakende poste te verwyder, die land enorme skade kan berokken om sy eie bas in die post-Zuma-era te beskerm.
Hoeveel gelees kan word in die Russies-Turkse vredespogings in Sirië is ook moeilik bepaalbaar. Noord-Korea bly ’n los kanon (met kernplofkoppe). China maak sy stem al dikker. En dan is daar nog die yslike Spaanssprekende wêreld wat dikwels in die konteks van internasionale politiek vergete bly.
Een maand nadat verskeie dramatiese veranderinge ingetree het, is heeltemal te min om eenvoudige optelsomme te probeer maak om vir die ganse wêreld toekomsvoorspellings te maak.