![Ruben (23 maande) en Ruan (6 maande) Foto: Facebook]()
Ruben (23 maande) en Ruan (6 maande) Foto: Facebook
Die son het nog nie in die ooste opgekom nie, dan herhaal Katinka Roodt haar daaglikse gebed. Sy vou haar hande saam en sluit haar oë: ‘Here, dankie dat ons leef en vir U genade. Here, my kinders het seer; hulle is nie gesond nie en dit was nog nooit maklik nie. Maar soos elke ander dag, weet ek U genade gaan hulle én vir my, omvou. Dankie dat ons gedra word en dankie vir die voorreg om hul ma te wees”.
Dié pad was in twee jaar nog nie een keer sonder duwweltjies nie. Empatiseer jy, keer sy vinnig: Daar is ander mense wat báie swaarder aan hul kruise dra en selfs vir hulle is die Here se genade ook genoeg.
Roodt en haar man, Pieter, se twee seuns, Ruben (23 maande) en Ruan (6 maande), het albei ʼn beenmurgoorplanting nodig.
Ruben was onder meer 54 dae in die intensiewesorgeenheid weens die sogenaamde “Pneumocystis jiroveci”-longontsteking, ʼn virus wat mense met ʼn baie swak immuunstelsel aanval.
Ruan, wat verlede jaar gebore is, is gebore met gastroskise, ʼn toestand waar die baba se ingewande aan die buitekant van sy lyf ontwikkel. In dieselfde tyd is Ruben vir die vierde keer in die hospitaal opgeneem en aan ʼn ventilator gekoppel.
Sy vertel hulle het geweet daar is gróót fout, want sy kon nie eens haar kind vashou voordat die dokter het hom dadelik weggeneem het nie.
“Hoe bly mens staan? Waaraan klou mens vas? Jy kan nie – jy word gedra deur die Here en deur engele. Nes dit begin lyk het asof Ruben se gesondheid verbeter, word hy weer dodelik siek. En Ruan se diagnose was vir ons ewe swaar. Toe kom ons ook daardeur met krag van Bo,” vertel sy.
![Ruben (23 maande) en Ruan (6 maande) Foto: Facebook]()
Ruben (23 maande) en Ruan (6 maande) Foto: Facebook
Etlike maande later is die gesin se lewe wéér skielik omgekeer: Ruben en Ruan is albei met een van die seldsame immuungebrek, SCID (Severe Combined Immunodeficiency), gediagnoseer. Dié toestand word gekenmerk deur ʼn uiters swak immuunstelsel, wat mens vatbaar maak vir enige virus. Selfs die kleinste virus kan dodelik wees.
Roodt sê dié diagnose was ʼn groot terugslag vir die gesin. “My hart was gebreek. Ek kan my kinders nêrens heen vat nie, nie na die dieretuin toe nie en ook nie saam met hulle in ʼn sandput speel nie. Ek kan nie eens troeteldiere aanhou nie, omdat enige kiem hulle dodelik siek kan maak.
“Ek het aanvanklik gewroeg met vrae: Here, hoekom? Hoekom mý kinders? Maar dan maak Hy my hart rustig en ek weet dat alles oukei sal wees. Dan besef ek weer: my kruis is nie só swaar nie en ek is weer van voor dankbaar dat ek vir hulle kan lief wees.”
Ruben was so siek dat hy vandag, op 23 maande, presies dieselfde weeg as sy boetie.
Dokters het intussen gesê ʼn beenmurgoorplanting is al opsie om haar seuns te genees. Agt internasionale skenkers is vir Ruben opgespoor en twee skenkers in Suid-Afrika en 57 internasionaal vir Ruan.
Dié operasie kos R6 miljoen. Hoewel die mediese fonds aanvanklik goedkeuring geweier het, meen Roodt dit is “die Here se hand” dat hulle intussen R5, 3 miljoen vir die operasies beskikbaar gestel het.
“Dinge soos dié gebeur en dan jubel ek, want ek weet God is groot en ek weet Hy voorsien. Die ander R750 000 wat ons kort, is om die beenmurg vir Ruben na Suid-Afrika te bring, aangesien ons geen gepaste skenker vir hom in Suid-Afrika kon kry nie. As die Here vir ons R5,3 miljoen kon stuur, weet ek hy kan ons help met hierdie geld ook,” vertel sy.
Die oorplantings moet voor April vanjaar gedoen word, omdat die seuns se SCID-toestand sal veroorsaak dat hulle die hele winter dodelik siek in die hospitaal sal wees omdat hulle nie soos gesonde mense die kieme kan teenwerk nie.
Sy sê egter hulle is vol vertroue dat die Here weer sal voorsien. “Die Here het gesê Hy sal voorsien, daarom vertrou ons op Hom. En as die beenmurg hier aankom, bid ons weer kliphard en smeek weer by Hom dat sy liggaam nie die beenmurg verwerp nie. Ek glo in genade en ek glo dat my seuns ʼn normale lewe sal lei.”
ʼn Trustfonds is intussen in die seuns se naam gestig om te probeer fondse insamel vir die beenmurg.
Vir meer inligting, of om betrokke te raak, besoek Ruben en Ruan vir beenmurg op Facebook of die Roodt-gesin se Go Fund Me-blad.