![Stephan Harris (28) wat beseer is tydens 'n onderonsie tussen inwoners in Bremerstraat, Pretoria (Best Care-paramedikus Xander Loubser het toestemming van Harris se gesin gekry om 'n wasige foto van hom aan die media te verskaf vir publikasie.)]()
Stephan Harris (28) wat beseer is tydens ‘n onderonsie tussen inwoners in Bremerstraat, Pretoria (Best Care-paramedikus Xander Loubser het toestemming van Harris se gesin gekry om ‘n wasige foto van hom aan die media te verskaf vir publikasie.)
Minstens agt persone is beseer tydens ʼn onderonsie die afgelope naweek oor die oprig van nuwe plakkershuise langs Bremerstraat in Pretoria.
Frik van Wyk, DA-raadslid, het aan Maroela Media gesê die stadsraad het, sonder om die wyksraadslede of die plaaslike inwoners in kennis te stel, besluit om nuwe plakkershutte in die informele nedersetting op te rig. Daar is ʼn groep persone wat van Jeffsville- informele nedersetting, langs Atteridgeville, geskuif moes word nadat sinkgate in Jeffsville ingeval het.
“Die persone is eers in ʼn skoolsaal gehuisves, maar die eerste plakkershuise is toe Donderdagaand opgerig langs die bestaande informele nedersetting langs Bremerstraat,” het Van Wyk verduidelik.
Volgens hom was dit aanvanklik nie ʼn rassegeskil nie. “Nie die inwoners van die voorstad of die informele nedersetting is in kennis gestel van die ‘nuwe bure’ wat hulle sou kry nie en mense was veral besorg dat misdaad in die gebied sou toeneem indien nuwe huise in die gebied opgerig sou word.”
Van Wyk verduidelik hulle was Donderdag in ʼn raadsvergadering toe hulle van die verwikkelinge verneem het. “Ons kon egter nie die raadsvergadering dadelik verlaat nie, as gevolg van die koalisieregering met die EFF is dit nie duidelik wanneer ʼn stemmery in die vergadering sal plaasvind nie, en ons kan dus nie die saal verlaat tensy die vergadering verdaag het nie.”
Volgens hom was ʼn ANC-raadslid wel bewus van die oprig van die plakkershuise in die gebied.
Van Wyk sê hulle het met die burgemeester die LUR vir behuising in die raadsvergadering kontak gemaak en hulle versoek om die oprig van die plakkershuise op te skort. “Ons het vir hulle gevra ons wil net eers die situasie met die inwoners bespreek voor enige verdere stappe gedoen word of verdere plakkershuise opgerig word. Hulle het ons verseker dat hulle ʼn alternatief gekry het, maar dit was ʼn leuen.
“Tot ons onsteltenis het ons teen Vrydagoggend ontdek dat hulle nie ophou bou het aan die plakkershuise nie en die inwoners het al hoe nader beweeg aan die nuwe plakkershuise. Dit het baie spanning veroorsaak,” het Van Wyk verduidelik. “Teen die tyd wat ek die metropolisie kon ontbied was daar reeds ʼn klein oorloggie aan die gang. Die inwoners van die buurt en die informele nedersetting het toe reeds begin baklei.”
Hy sê hy het simpatie met die inwoners, want persone wat net tydelik in die oorspronklike informele nedersetting sou bly, is ses jaar later nog steeds daar. Volgens hom was die inwoners veral warm onder die kraag, omdat hulle voel hulle word mislei deur die regering.
Van Wyk het gesê een vrou is in hegtenis geneem nadat die polisie haar nie onder beheer kon kry nie. “Sy was baie emosioneel. Die polisie het haar gemaan om te kalmeer en gewaarsku dat hulle haar in hegtenis sou neem omdat sy besig is om verskeie wette te oortree, maar sy het nie bedaar nie. Hulle het haar daarna in hegtenis geneem.”
Hy het ook simpatie met die persone in die informele nedersetting. “Dis goeie mense wat daar bly. Dis die mense wat in ons huise en by ons vulstasies werk wat daar bly. Hulle versoek ons nou al ʼn geruime tyd om ligte aan te bring om misdaad in die aand te bekamp. Hulle was ook ontsteld oor die nuwe bure wat hulle skielik bygekry het, en besef ook dat dit ʼn nuwe kriminele element kan bring.”
Hy het bygevoeg die polisie het gesukkel om die inwoners onder bedwang te bring.
“Uiteindelik is daar tussen tien en elf nuwe plakkershuise opgerig.”
Xander Loubser van Best Care het aan Maroela Media gesê hulle het Vrydag agt persone behandel. Twee persone is vir skietwonde behandel. “Een persoon is in sy been geskiet en die tweede persoon is met ʼn rubberkoeël van die polisie geskiet,” het hy verduidelik. “Een voetganger is beseer toe ʼn taxi op hom afgejaag het. Dié voorval is nie afsonderlik van die geweld in die gebied nie. Verskeie persone is ook met bakstene aangeval.”
Een van die persone wat beseer is, is Stephan Harris (28) wat Vrydagaand na Kalafong-hospitaal geneem is nadat hy aangerand is. Harris is op asemhalingsondersteuning omdat hy longtrauma opgedoen het. “Vog wat uit sy oor kom, is ʼn aanduiding dat hy ernstige skedelfrakture opgedoen het,” het Loubser bygevoeg. Hy is steeds in ʼn ernstige toestand in die hospitaal.
Volgens Loubser het hulle Saterdag geen ongevalle gehad nie. “Die polisie het ʼn baie sterk teenwoordigheid in die gebied behou.”
Van Wyk was self ook Sondag in die gebied en het bevestig dat dit tans rustig is.
Maroela Media wag op terugvoer van die polisie.