![demokrasie]()
Argieffoto.
Die VSA het pas van ’n volwaardige demokrasie tot ’n gebrekkige demokrasie op die demokrasie-indeks teruggesak, maar die samestellers wys daarop dat Donald Trump se verkiesing tot president nie die oorsaak nie, maar die gevolg van die kreeftegang was. Ook Suid-Afrika kruie onvermoeid op die kreeftegang aan.
Die groot nuus van die jongste demokrasie-indeks van die Economist Intelligence Unit is dat die VSA van ’n volwaardige demokrasie na ’n gebrekkige demokrasie afgegradeer is. Maar, wys die opstellers van die indeks, dit het niks met Donald Trump se verkiesing tot president te make nie. Trouens, Trump se verkiesing was die gevolg van foutlyne wat reeds aanwesig was.
Vir die rekord, die VSA het van 20ste posisie in 2015, en laaste op die lys van volle demokrasieë, teruggeval tot die 21ste plek, wat hy met Italië deel. Die grootskaalse verdeeldheid in die Amerikaanse kieserskorps, en lae vlakke van vertroue in die verkose verteenwoordigers, dra hiertoe by. Trouens, volgens ’n Rasmussen-peiling van ’n paar jaar gelede sou die Amerikaanse kiesers meer vertroue hê in kongreslede wat willekeurig uit die telefoongids aangewys is, as die lede wat hulle self verkies het.
Maar wat van Suid-Afrika?
In 2015 was Suid-Afrika volgens die indeks die 37ste mees demokratiese land, dus hoegenaamd nie meer ’n volwaardige demokratiese land nie. In 2016 het die land na die 39ste plek teruggesak. Op die subindekse vaar Suid-Afrika taamlik goed en kry onder meer 8,33 vir politieke deelname, en ook soveel vir die verkiesingsproses en pluralisme. Die funksionering van die regering kry 8,21, en vir burgerlike regte word 7,94 toegeken. Die land kry egter net 5 uit tien vir sy politieke kultuur.
Of baie mense met die tellings van die subindekse sou saamstem, veral teen die agtergrond van sterk aanduidings van staatskaping, is erg te betwyfel. Ná die stem-fiasko wat in die konstitusionele hof gaan draai het klink die telling vir stemprosesse ook verdag.
Die belangrike is egter dat Suid-Afrika lank nie ’n volwaardige demokrasie is nie, en verder terugsak op die indeks van gebrekkige demokrasieë. Suid-Afrika word ook sleg deur Botswana in die 27ste posisie afgestof, terwyl Suid-Afrika boonop agteruit boer.
Wat Suid-Afrika se oorsese vriendskappe betref lyk sake ook nie goed nie. Onder die Brics-lande vaar net Indië in die 32ste posisie beter as Suid-Afrika, terwyl Brasilië in die 51ste posisie ook onder die state met gebrekkige demokrasieë val. Rusland (134) en China (138) kon nie die lys van hibride-stelsels haal nie en word as outoritêre state geklassifiseer. So ook Kuba (128) met wie Suid-Afrika hegte bande handhaaf.
Volgens die verslag kan omtrent die helfte van die wêreld se state beskou word as sou hulle ’n demokrasie van die een of ander aard wees. Die aantal wat as volwaardige demokrasieë beskou word, het in die jongste verslag egter van 20 tot 19 afgeneem.
Die navorsers het 2016 tot jaar van Revenge of the “deplorables” benoem. Daar word ook na die jaar van demokratiese resessie verwys. Die vorige jaar het as Democracy in an age of anxiety bekendgestaan.
Die verslag bevestig dat die Onafhanklike Verkiesingskommissie sy vinger sal moet begin trek om sy onafhanklikheid bo alle twyfel te bevestig, en om sy plig met ondersoeke na te kom, soos die bewerings dat die ANC met verlede jaar se munisipale verkiesing ’n R50 miljoen begroting gehad het vir ’n vuilspel-veldtog om die DA en die EFF in ’n slegte lig te stel.
Dit toon ook dat veral pres. Jacob Zuma se gereelde uitsprake teen aspekte van die grondwetlike demokrasie, en veral dit wat neerkom op ’n diktatuur – tirannie van die meerderheid – sal moet staak.
Moontlik het die land nog “baat” gevind by ’n nasleep van die wittebrood van die Nelson Mandela-era, waar die Suid-Afrikaanse demokrasie ’n wêreldwye euforie veroorsaak het en die grondwet oor ’n wye front sonder bevraagtekening as die beste ter wêreld beskou is.
Want as hierdie reste van die wittebrood verdamp, kan Suid-Afrika sommer indrukwekkend val op die indeks. Namibië, wat Suid-Afrika ver in die persvryheidsindeks klop (17de), word byvoorbeeld in die demokrasie-indeks 71ste geplaas, veel swakker as Suid-Afrika (39ste op die persvryheidsindeks). Is die werklike gaping dan regtig so groot, veral as in ag geneem word dat Suid-Afrika se posisie op Verslaggewers sonder Grense se indeks erg omstrede is, en glad nie klop met die power syfer wat Freedom House aan Suid-Afrika toeken nie?
En hoe minder vry die pers in ’n land is, hoe yler raak sy demokrasie en hoe swakker neig dit om op die korrupsiepersepsie-indeks te vaar.
Boonop is dit te betwyfel of minderhede in Suid-Afrika sal saamstem dat Suid-Afrika op verdienste die 39ste posisie op die demokrasie-indeks behaal het.