Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all 56621 articles
Browse latest View live

Narkotiseur gevonnis oor 2-jarige ná operasie sterf

$
0
0
Jaundré Bennett

Jaundré Bennett

Dr. Deon Kotzé (64) is Donderdag in die streekhof in Vereeniging gevonnis vir die dood van ʼn tweejarige seuntjie ná ʼn mangeloperasie.

Jaundré Bennett is op 4 Mei 2012 dood ná ʼn mangeloperasie die vorige dag. Vier spesialiste is ná Jaundré se dood van strafbare manslag aangekla, maar slegs Kotzé, ʼn narkotiseur van Vereeniging, is uiteindelik vervolg.

Kotzé het in Januarie verlede jaar erken hy was nalatig ten tyde van Jaundré se mangeloperasie en dat hy te veel narkose toegedien het. Kotzé is Donderdag tot vier jaar tronkstraf gevonnis, wat vir vyf jaar opgeskort is. Hy moet ook 18 maande gemeenskapsdiens by ʼn hospitaal doen, wat insluit mediese opleiding aan studentenarkotiseurs.

Geraldine Bennett (29), Jaundré se ma, het in trane aan Maroela Media gesê die vonnis is belaglik. “Hy het vier jaar gevat om skuldig te pleit en dan moet hy net 18 maande se korrektiewe toesig doen. Hoe werk dit?”

Volgens Bennett het alles daarop gedui dat Kotzé nalatig was. “Hoe kan hy so ligtelik daarvan afkom? Nie eens huisarres nie. Hy kan steeds praktiseer en voortgaan met sy lewe. Ons het gedink ons sal nou afsluiting kan kry.”

Heinrich en Geraldine saam met Heinrich jr. en Jessica.

Heinrich en Geraldine saam met Heinrich jr. en Jessica.

Bennett het gesê hulle sal nou weer die Raad vir Gesondheidsberoepe (RGBSA) wat destyds besluit het om Kotzé se optrede te ondersoek, nader. Dit is nie duidelik of daar al wel enige besluit geneem is nie.

“Ek het geen idee hoe ons dit agter ons gaan sit of dit kan verwerk nie. Dis emosioneel uitputtend om elke keer alles van voor af te moes beleef met die hofverskynings. Jaundré sou nou gr. 1 toe gegaan het.”

Bennett het verlede jaar aan Maroela Media vertel sy het die oggend van Jaundré se operasie haar pa gebel en gesê sy het ʼn slegte gevoel. Volgens Bennett wens sy dat sy die dag na haar “sesde sintuig” geluister het, want dan was haar woelwaterseuntjie dalk nog hier.

Volgens Geraldine het Jaundré se dood ook spanning in haar en haar man, Heinrich, se huwelik veroorsaak en sy wou soms net “opgee”. Die egpaar het nog twee kinders, Heinrich jr. en Jessica. Heinrich jr. was vyf jaar oud toe sy boetie oorlede is. Jessica word amper drie jaar oud en het nooit haar boetie geken nie.


SA man verdagte ná ‘koelbloedige’ moord op Britse man

$
0
0
Volgens polisie is Kenway (39) Dinsdag op ʼn “koelbloedige teregstellingswyse” doodgeskiet (Foto: Daily Mail)

Volgens polisie is Kenway (39) Dinsdag op ʼn “koelbloedige teregstellingswyse” doodgeskiet (Foto: Daily Mail)

Die Thaise polisie is op soek na twee mans van Brittanje en Suid-Afrika ná die moord op ʼn Britse pa van vier by ʼn gewilde strandoord.

Volgens polisiebeamptes is Tony Kenway (39) Dinsdag op ʼn “koelbloedige teregstellingswyse” doodgeskiet.

Kringtelevisiebeeldmateriaal van die toneel wys hoe ʼn man die deur van Kenway se geparkeerde rooi Porsche Cayenne oopmaak en hom dan in die kop skiet. Die man het daarna op ʼn motorfiets gespring, wat deur ʼn medepligtige bestuur is, en weggejaag.

Kenway was glo op pad huis toe ná hy by die gimnasium geoefen het.

Die twee verdagtes is intussen as Abel Caldeira Bonito van Suid-Afrika en Miles Dicken Turner van Brittanje geïdentifiseer.

Die verdagtes het glo twee dae vantevore in Thailand geland, maar het intussen glo weer landuit gevlug.

Die twee verdagtes het op 'n motorfiets gevlug (Foto: Daily Mail)

Die twee verdagtes het op ‘n motorfiets gevlug (Foto: Daily Mail)

Die polisie ondersoek ʼn webwerf waar met sokker gedobbel is wat glo ʼn rusie tussen die partye kon veroorsaak het, maar het intussen gesê dit kan nog nie as amptelike motief vir die moord beskou word nie.

Kenway het glo talle vyande gemaak deur middel van dié webwerf nadat hy in die laat negentigerjare vanuit Europa na Spanje en later Thailand getrek het om sy besigheid uit te brei.

Kenway se vrou, Pans, het in September 2016 lewe geskenk aan hul vierde kind.

Sy suster, Kirsty Kenway, sê die familie is gebroke oor sy dood.

Die verdagtes staan tereg op aanklag van moord, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en die besit van ʼn vuurwapen sonder ʼn wettige lisensie.

Bron: Daily Mail

Nóg beamptes vas oor lisensiekantoor-korrupsie

$
0
0
Foto: SAPD/Facebook

Foto: SAPD/Facebook

Nog amptenare by Johannesburg se twee lisensiedepartemente is Donderdag op aanklagte van korrupsie in hegtenis geneem.

Die Stad Johannesburg het gesê die sewe inhegtenisnemings Donderdag bring die getal amptenare wat tot dusver vir korrupsie vasgetrek is op 15 te staan. “Die oorblywende 100 lisensiebeamptes wat in die forensiese verslag geïdentifiseer is, sal in die komende weke in hegtenis geneem word,” is bekendgemaak in ʼn verklaring.

Maroela Media het vroeër berig ʼn ondersoek deur die stad se interne forensiese ondersoekeenheid, onder leiding van genl. Shadrack Sibiya, het grootskaalse korrupsie by die departement oopgevlek. Volgens die verslag het die stad R14 717 444 in 972 beweerde korrupte transaksies verloor.

“Ons het vinnig opgetree om te verseker dat 72 van die beweerde korrupte lisensiekantoorbeamptes wat geïdentifiseer is uit hul poste geskors is. Al 72 beamptes is die geleentheid gegee om redes te verskaf hoekom hulle nie geskors moet word nie. Hierdie redes was egter nie voldoende nie. Ons hoop om die dissiplinêre verhore so vinnig moontlik te hou. Die gepaste regsprosesse sal deurentyd gevolg word,” lui die verklaring.

Vier van die beamptes wat vandag in hegtenis geneem is, was by die Martindale-lisensiekantoor, terwyl die ander drie van die Langlaagte-departement is.

Herman Mashaba, Johannesburg se burgemeester, het vroeër gesê hy sal alles in sy vermoë doen om korrupsie onder die openbarediens-amptenare uit te roei.

Die amptenare wat in hegtenis geneem is, sal binnekort in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn.

FNB gaan eienaars van gesteelde sluitkissies vergoed

$
0
0

FNBFNB het Donderdag bevestig dat hy in die proses is om kliënte te vergoed ná rooftogte by die bank se takke in Randburg, Parktown en Sunnypark in Gauteng in Desember.

Duisende sluitkissies met verskeie waardevolle items daarin is gesteel en beskadig. Die waarde van die sluitkissies se inhoud word op etlike miljoene beraam.

FNB het gesê dat hy kliënte billik sal vergoed vir byvoorbeeld die vervanging van trousertifikate, identiteitsdokumente, geboortesertifikate en paspoorte.

Jacques Celliers, hoof- uitvoerende beampte van FNB, het gesê die bank berou die impak van hierdie voorvalle. Hy het ook gesê dat FNB-kliënte vergoed sal word vir bybetalings en ander koste rakende die terugeis van versekeringsmaatskappye in die gevalle waar kliënte suksesvolle eise ingedien het.

Celliers het bygevoeg dat hulle ook moontlike vergoeding vir kliënte wie se sluitkissies gesteel of beskadig is en wat nie versekering het nie, sal bespreek. Volgens Celliers is hulle nie wetlik verplig om dit te doen nie.

“Ons hoop dat hierdie pogings die negatiewe impak op ons kliënte kan beperk terwyl die ondersoeke nog hangende is,” het Celliers gesê. “Daar is ’n spesifieke span wat net werk om hierdie aangeleentheid te hanteer. FNB kan ongelukkig nie sê wanneer presies hierdie proses afgehandel sal wees nie omdat elke eis verskil.”

FNB het onlangs die skorsing van drie werknemers van die Parktown-tak bevestig, maar wou nie kommentaar lewer oor die polisieondersoek nie.

‘My kind sal volkome herstel’

$
0
0
Foto: Verskaf

Miané Ainslie (2). Foto: Verskaf

“Ek weet sy gaan gesond word. Daar is ʼn Hoër Hand aan die werk, hoër as ons, hoër as die dokters. Ek betwyfel dit nie vir ʼn oomblik nie – sy sal volkome herstel.” So sê Claudette Ainslie (34) ná haar dogtertjie, Miané (2), in November 2015 byna in ʼn opblaasswembad in Witbank (eMalahleni) verdrink het.

“Ek sien die vordering wat sy maak; waar sy was net ná die ongeluk toe sy nie eens kon beweeg nie, tot waar sy nou is – daar is groot vordering. Sy kan nou met ʼn bietjie hulp haar koppie meer regop hou. Haar handjies is meer oop en sy begin nou selfs na goed uitreik.”

Claudette en Miané woon sedert Augustus 2016 by haar suster in Ifafa, KwaZulu-Natal, en Claudette sê hoewel hulle albei soms “af” dae beleef, gaan dit onder omstandighede goed met hulle.

“Dit gaan net beter hier met Miané. Dit is warmer en die lug is ook skoner as in Witbank met al daai myne. Met my gaan dit ook goed, ek voel soms hartseer, maar ek bly positief. Ek ontvang my krag van die Here. Dit is net Hy, en om Miané se gesiggie te kan sien, wat my die krag gee om elke dag op te staan en weer te probeer.”

Volgens dié mamma hou Miané van rof speel en geniet dit vreeslik wanneer al die aandag op haar is. “Sy is vreeslik mal oor soen. Sy giggel so as ek haar in haar nekkie soen – haar hele gesiggie kry sommer lewe.”

Miané, wat in Maart haar derde verjaardag vier, was vir die afgelope drie weke in ʼn rehabilitasiesentrum naby Durban en volgens Claudette het dié drie weke haar ongeveer R120 000 uit die saak gejaag.

“Ons gaan na die rehabilitasiesentrum toe soos wat ek die nodige geld kan insamel. Ons het in hierdie drie weke so baie geleer en dit het vir Miané ongelooflik baie gehelp. As ons net meer geld kan insamel sodat sy langer in rehab kan bly, sal haar vordering soveel verbeter. In hierdie stadium moet sy nuwe breinpaadjies bou en dit kan slegs gedoen word deur genoeg terapie.”

Miané het breinskade opgedoen en het ‘n baie erge graad van serebrale gestremdheid. Sy het ook gesukkel met epilepsie en het ongeveer 10 aanvalle per dag beleef. Met haar nuwe medikasie is die aanvalle verminder tot drie per dag. Volgens Claudette sal meer terapie dié probleem ook help beheer.

“Maar dit gaan nie net oor die terapie nie, sy het ook baie toerusting nodig en daar moet baie toetse gedoen word. Dit kos alles baie geld.”

Besoek gerus Miané se Facebook-blad indien jy ‘n bydrae wil maak.

Foto: Verskaf Foto: Verskaf Foto: Verskaf

Vriend op Springbok se plaas geskiet

$
0
0
Johan Goosen en Armandt Stoman. Foto: Via Facebook.

Johan Goosen en Armandt Stoman. Foto: Via Facebook.

Die veelsydige Springbok-agterspeler Johan Goosen (24) het glo Dinsdag ʼn vriend van hom per ongeluk op sy Oos-Kaapse plaas geskiet en gewond.

Brig. Miranda Mills, provinsiale polisiewoordvoerder, het Donderdag aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 11:00 op Goosen se plaas naby Aliwal-Noord plaasgevind.

“Dit blyk dat mnr. Goosen die vriend per ongeluk met ʼn jaggeweer in die enkel geskiet het. Die polisie het egter nog nie die presiese omstandighede rondom die skietery nie en is nog besig om dit te ondersoek,” het Mills gesê.

Mills het gesê Goosen en die vriend, Armandt Stoman (25), se verklarings kon nog nie deur die polisie afgeneem word nie.

Sy het verduidelik Stoman is ná die voorval na ʼn hospitaal in Bloemfontein gehaas is en moes intussen reeds twee operasies ondergaan.

Volgens Mills was Goosen ná die voorval erg getraumatiseerd en moes ook behandeling vir skok ontvang. “Die polisie gaan vandag probeer om albei mans se verklarings af te neem as almal tot verhaal gekom het.”

Mills het gesê hoewel geen misdaad vermoed word nie, ondersoek die polisie die aangeleentheid.

“Sodra al die nodige verklarings afgeneem is, sal besluit word watter soort saak aanhangig gemaak gaan word,” het sy gesê.

Goosen het in 2014 tydelik na Frankryk verhuis om vir die Racing 92-klub in Parys rugby te speel. Hy is in 2016 deur Allister Coetzee nadergehark om in die jaareindtoer na Europa vir die Springbokke uit te draf.

Hy het in Desember 2016 skokgolwe veroorsaak toe hy, aldus Racing 92, onverwags sy uittrede uit rugby aangekondig het om ’n kommersiële betrekking in Suid-Afrika te aanvaar, waarna hy teruggekeer het na sy plaas. Racing 92 dreig Goosen met regstappe vir kontrakbreuk.

Ma ‘wag vir nuus’ ná dogter verdwyn

$
0
0
Nicola Pienaar. Foto: Facebook

Nicola Pienaar. Foto: Facebook

Presies drie weke nadat Nicola Pienaar, ʼn jong vrou van die Paarl, spoorloos verdwyn het, is haar ouers nog niks nader aan antwoorde oor waar hul dogter is nie.

Pienaar (28) se ma, Marlaine Pienaar-Vice, het haar dogter op 5 Januarie vir die laaste keer by haar spreekkamer in die Paarl gesien. Pienaar-Vice werk as ʼn sielkundige in die Paarl, maar woon in Durbanville. Pienaar woon in ʼn woonstel agter die spreekkamer en het haar ma by haar praktyk gehelp.

Pienaar-Vice het aan Maroela Media gesê omdat sy en haar dogter ʼn baie noue band het en mekaar byna elke dag gesien het, is dit vir haar baie vreemd dat haar dogter nog nie met haar kontak gemaak het nie. “Dit is totaal uit karakter vir haar om net te verdwyn en niks van haar te laat hoor nie. Ek het onmiddellik gedink iets is fout toe ek niks van haar hoor nie en haar nie in die hande kon kry nie,” het sy gesê.

Pienaar se selfoonnommer wys dat sy die aand van 5 Januarie om 22:30 vir die laaste keer aanlyn was. Jacobus Oosthuizen (32), Pienaar se kêrel, is op 21 Januarie in Port Elizabeth in hegtenis geneem nadat Pienaar se motor in sy besit gevind is. Die motor is in Pienaar-Vice se naam geregistreer. Oosthuizen beweer hy en Pienaar was op 7 Januarie na Port Elizabeth onderweg toe hulle ʼn uitval gehad het. Hy beweer hy het haar in Oudtshoorn afgelaai waar sy ʼn bus sou neem terug huis toe.

ʼn Bron na aan die ondersoek het egter aan Maroela Media gesê dat Pienaar glad nie gesien word in die beeldmateriaal van veiligheidskameras by die vulstasies waar Oosthuizen langs die pad brandstof ingegooi het nie. Volgens hierdie beeldmateriaal was Pienaar nie saam met Oosthuizen in die motor toe hy die Paarl verlaat het nie. Oosthuizen het glo Pienaar se petrolkaart gebruik om brandstof mee in te gooi.

Oosthuizen sal môre weer in die hof op aanklag van motordiefstal verskyn. Hy is steeds in polisieaanhouding. Intussen gaan die soektog na Pienaar steeds voort.

Pienaar-Vice het aan Maroela Media gesê sy gaan sedert haar dogter se verdwyning deur ʼn warboel van emosies. “Ek is natuurlik baie angstig en bekommerd en hartseer. Ek dink ek het die vaardighede om hierdie emosies te hanteer en daarom cope ek nog in die stadium. Ek wag vir nuus oor Nicola. Ek kan nie met ʼn rouproses begin voor ek meer weet nie. As die werklikheid ooit moet kom dat sy nie meer daar is nie, dan sal die wiele afval. Maar vir die oomblik hanteer ek dit so goed as wat ek kan.”

Lees alle vorige berigte oor Nicola Pienaar op Maroela Media.

Vlootbasis-inbraak: Man gevonnis

$
0
0
Foto: SA vloot

Foto: SA vloot

Duncan Gouvias (22), een van drie jong mans wat in hegtenis geneem is ná ʼn inbraak by die vlootbasis in Simonstad verlede jaar, is tot 43 jaar tronkstraf gevonnis.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke in die Wes-Kaap, het Donderdag gesê Gouvias is verlede week in die Wynberg-streekhof gevonnis nadat hy skuldig gepleit het op aanklagte van inbraak en verskeie oortredings van die Vuurwapenbeheerwet.

“Gouvias is altesaam tot 43 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is op vyf verskillende aanklagte. Die vonnisse, wat strek van vyf tot 13 jaar (wat vir vyf jaar opgeskort is) per aanklag, sal gelyktydig uitgedien word en die beskuldigde sal effektiewelik ses en ʼn half jaar tronkstraf moet uitdien,” het Ramovha gesê.

Maroela Media het vroeër berig Gouvias is einde Julie deur die Valke in hegtenis geneem saam met twee medepligtiges, Dilian Sewkumar (18) en Karabo Ramokgopa (19). Die inbraak was op 23 Julie waartydens onder meer handgranate, ʼn verskeidenheid vuurwapens, ammunisie en weermagtoerusting gesteel is.

Al drie het op 1 Augustus vir die eerste keer in die Simonstad-landdroshof verskyn.

Die saak is tot 23 Februarie uitgestel wanneer Sewkumar en Ramokgopa na verwagting gaan pleit. Sewkumar is steeds in aanhouding en Ramokgopa is in huisarres.


Fonds vir Brink-gesin: ‘Finansies moet hul nie bekommer’

$
0
0
Danie, sy vrou Lise en van voor Rachel, Daniël, André, Johann en Mieke.

Danie, sy vrou Lise en van voor Rachel, Daniël, André, Johann en Mieke.

Lise Brink, die vrou wat steeds in die hospitaal behandel word nadat sy, haar man en hul kinders op 16 Desember in ʼn ernstige motorongeluk betrokke was, gaan kaakchirurgie moet ondergaan en moet ook ʼn rugstut en prostese vir haar linkerbeen bekom.

Dr. Dirk Hermann, voorsitter van die direksie van Solidariteit Helpende Hand en bestuurshoof van Solidariteit, het gesê Lise se kaakchirurgie word vir volgende week beplan. Intussen is daar ook X-strale geneem om te bepaal of chirurgie op haar rug enigsins nodig is. “ʼn Rugfusie sal uit die aard van die saak ʼn groot impak hê op Lise se vordering. As dit nie gedoen hoef te word nie, maak dit haar herstel net soveel gouer en makliker,” het Hermann gesê.

Intussen stroom bydraes vir die André en Rachel Brink-fonds in, ʼn fonds wat gebruik sal word om te help om die gesin se mediese onkoste te dek. Ernst Vorster, woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand, het gesê die totale bedrag in die fonds staan tans op R135 000. “Die oop hande en warm harte van mense wat omgee het hierdie besonderse bedrag moontlik gemaak,” het Vorster gesê.

“Ons kan net dankie sê vir almal se bydrae, groot en klein. Wanneer ons saamstaan kan ons wonders verrig.”

Volgens Vorster is die volle impak van die gesin se mediese onkoste nog nie bekend is nie, maar is hulle reeds bewus van Lise se komende kaakchirurgie, die rugstut, dringende nasorg en die ontwikkeling van die prostese vir haar linkerbeen wat onder die knie geamputeer is. “Die koste van hierdie ingrypings beloop honderde duisende rande. My uitdaging aan die publiek is dus om die volgende mikpunt van R300 000 in te samel om die gesin te ondersteun. Ons wil verhoed dat finansies deel van die gesin se kommer word.”

Volgens Lise se man, dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, is Lise al sterk genoeg om te praat eerder as om net te fluister. “Sy praat wel met ʼn effense falsetto, maar sy praat!”

'n Gedenkdiens is Sondag vir André en Rachel Brink gehou (Foto: Maroela Media)

‘n Gedenkdiens is Sondag vir André en Rachel Brink gehou (Foto: Maroela Media)

Maroela Media het vroeër berig Lise, Danie en hul vyf kinders was op 16 Desember op pad om by familie aan te sluit vir die vakansie toe hul motor naby Theunissen in die Vrystaat buite beheer geraak en gerol het. André (13) en Rachel (8) is in die ongeluk dood, terwyl Lise kritieke beserings opgedoen het. Haar galblaas is verwyder ná die ongeluk. Johann (9) het ook kopbeserings en harsingskudding opgedoen, maar is kort daarna ontslaan.

ʼn Gedenkdiens van André en Rachel is Sondag in Pretoria gehou.

Hermann het gesê familielede help tans met Johann en Mieke se tuisskoolprogram sodat hul skoolloopbaan soos normaal kan voortgaan. “Danie skakel baie stadig in by die werk, maar beplan om nog rustig te wees voordat hy volspoed inval. Sy huis en gesin is nou absoluut die heel belangrikste dinge,” het Hermann gesê.

Hy het gesê die fonds word streng binne Solidariteit Helpende Hand bestuur. Die fonds se bankbesonderhede en donasiemetodes is op Helpende Hand se webtuiste beskikbaar.

Lees alle vorige berigte oor die Brink-gesin op Maroela Media.

Die wêreld in foto’s – 26 Januarie 2017

$
0
0

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

wereld-foto-4

Iranse brandbestryders met die lyk van ʼn kollega wat ʼn vuurdood gesterf het toe ʼn gebou in Tehran, dié land se hoofstad, ineengestort het ná ʼn brand waarin minstens 30 mense die lewe gelaat het. Die gebou van 17 vloere het op 19 Januarie ineengestort. Foto: Ahmad Halabisaz, Xinhua

wereld-foto-2

ʼn Vuurspuwer in aksie op ʼn plaaslike tempelfees in Changsha-stad in China se Hunan-provinsie. Dié fees het Donderdag begin. Foto: Li Ga, AP

wêreld-foto

Nooddienswerkers besig om noodvoorraad te versprei nadat swaar reënbuie in die suidweste van Pakistan voorgekom het. Minstens 18 mense is dood in reënverwante ongelukke in die laaste twee dae, het die plaaslike media Woensdag berig. Foto: Asad, Xinhua

wêreld-foto

Roger Federer van Switserland besig om sy handtekening te deel nadat hy sy landgenoot Stan Wawrinka Donderdag geklop het in die halfeindstryd op die Australiese Ope-tennistoernooi in Melbourne. Foto: Andy Brownbill, AP

wêreld-foto

Yskristalle hang van ʼn watertoring in Nagykanizsa nadat die wand gekraak het as gevolg van water wat gevries het. Nagykaniza is ongeveer 208 km suidwes van Boedapest in Hongarye. Foto: Gyorgy Varga, AP

Egpaar helder oordag op plaas oorval, aangerand

$
0
0
Argieffoto: Nico Strydom

Argieffoto: Nico Strydom

Die polisie en lede van die gemeenskap is tans besig met ʼn soektog na twee aanvallers wat ʼn egpaar op ʼn plaas in die Luckhoff-omgewing in die Vrystaat enkele ure gelede oorval en aangerand het.

Konst. Peter Kareli, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê besonderhede oor die aanval is nog vaag aangesien die egpaar tans mediese behandeling ontvang en nog nie volledige verklarings aan die polisie kon gee nie.

“In dié stadium kan ek bevestig dat twee verdagtes omstreeks 12:30 die egpaar op die plaas Avondsrus oorval en aangerand het. Die verdagtes het ʼn jaggeweer, ʼn .303-geweer, selfone en ʼn onbekende bedrag kontant geroof en met die egpaar se wit Toyota Corolla-motor op die vlug geslaan,” het Kareli gesê.

Hy het gesê die egpaar het self na die polisiestasie gery om hulp te kry. “Die vrou het glo bestuur omdat haar man erger beserings as sy opgedoen het. Dit is nog nie duidelik hoe ernstig hul beserings is nie. Hulle word tans by die kliniek op Luckhoff behandel. Die mediese personeel kan dalk sê dat hulle in ʼn hospitaal opgeneem moet word. Ons wag nog om te hoor.”

Hy het gesê die egpaar se voertuig is kort ná die aanval naby die Havenga-brug gevind waar dit omgeslaan het. Die verdagtes en vuurwapens was skoonveld, maar die gesteelde kontant is in die motor gevind. “Die polisie is tans op die spoor van die verdagtes.”

Kareli kon nie onmiddellik die slagoffers se name bevestig nie. Hy het gesê ʼn saak van roof is aanhangig gemaak.

Puk-SR-lid geskors oor diefstalbewerings

$
0
0
Hoofgebou by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit Foto: Maryke Laas, NWU

Hoofgebou by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit Foto: Maryke Laas, NWU

ʼn Studenteraadslid van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus is tydelik van pligte onthef, hangende die uitkoms van ‘n ondersoek en/of dissiplinêre verhoor na ʼn beweerde voorval van winkeldiefstal.

Volgens ʼn verklaring wat die SR uitgereik het, het die voorval het vroeër vandeesweek in die kampus se studentekafeteria plaasgevind.

Die betrokke student se naam word weerhou tot die ondersoek afgehandel is, maar die SR het bevestig die lid gee volle samewerking in die proses.

Die Universiteit is tans besig met ʼn interne ondersoek.

Kaapstad bevestig strenger waterbeperkings

$
0
0
Argieffoto: Wikimedia

Argieffoto: Wikimedia

Die Stad Kaapstad het Donderdag bevestig dat strenger maatreëls vanaf 1 Februarie toegepas sal word wat waterbeperkings betref.

Die gebruik van drinkwater vir nie-noodsaaklike gebruik, word onder andere verder beperk.

Die vlak 3b-beperkings word ingestel as gevolg van ʼn ernstige droogte en die herhaalde versuim om te voldoen aan die vasgestelde waterbesparingsteiken van 800 miljoen liter per dag. Die gemiddelde gebruik per dag teen 23 Januarie 80 miljoen liter bo dié vlak en damvlakke het tot 40,4% gedaal. Volgens die stad is dit baie moeilik om die oorblywende 10% van ʼn dam se kapasiteit te onttrek.

“Die nasionale departement van water en sanitasie het op 6 Januarie 2017 reeds aangedui dat die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel het dat daar landswyd ʼn verminderde kans is op bogemiddelde reënval tussen Januarie en April 2017,” het die stad in ʼn verklaring gesê. “Hulle het aangedui dat dit die damme tot drie jaar kan neem om te herstel. Tensy daar dus ʼn ingrypende en beduidende verandering kom aan die reënvalpatrone, is die pad na herstel nog lank en is daar weer ʼn moontlikheid van ʼn winter met ʼn lae reënval.”

Boetes ter waarde van R5 000 is ook voorgestel as deel van die verskerpte waterbeperkings.

Die skedule 3b-waterbeperkings sluit in:

Die natlei of waterbesproeiing (met munisipale water) van blombeddings, grasperke, groente en ander plante, sportgronde, parke en ander oop ruimtes word slegs op Dinsdae en Saterdae toegelaat voor 09:00 of ná 18:00 vir ʼn maksimum van een uur per dag per perseel, en slegs as ʼn emmer of gieter gebruik word. Geen tuinslange of besproeiingstelsels mag gebruik word nie.

Geen natlei of waterbesproeiing word toegelaat binne 48 uur nadat dit gereën het nie, om voldoende versadiging te verseker. Klante of fasiliteite wat van boorgate, behandelde afvalwater, fonteinwater of putte gebruik maak, is nie kwytgeskel nie.

Geen bote of voertuie mag met munisipale water gewas word nie – dit sluit residensiële, sake- en nywerheidspersele in. Voertuie en bote moet met nie-drinkbare water gewas word of by ʼn kommersiële karwas gewas word.

Lees meer oor die nuwe waterbeperkings op die stad se webwerf.

‘n Video van Theewaterskloof-dam op 17 Januarie 2017, soos verfilm deur Mille Foto:

DA eis Opod-ondersoek oor Phahlane

$
0
0
Lt.genl. Khomotso Phahlane, die waarnemende nasionale polisiekommissaris. Foto: SAPD

Lt.genl. Khomotso Phahlane, die waarnemende nasionale polisiekommissaris. Foto: SAPD

Die Demokratiese Alliansie het Donderdag gesê hy is in besit van ʼn volledige forensiese verslag wat deur CPN Forensic and Accounting Services opgestel het oor bewerings deur die polisievakbond Popcru van korrupsie in die polisie se forensiesedienste-eenheid.

Die forensiese dienste was in daardie stadium onder leiding van genl. Khomotso Phahlane, die huidige waarnemende nasionale polisiekommissaris.

Zakhele Mbhele, die DA se skaduminister van polisie, het gesê die party is van voornemens om die volledige verslag aan die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) te oorhandig en die organisasie te versoek dat hul bestaande ondersoek Phahlane se hele loopbaan in die Suid-Afrikaanse Polisiediens sal insluit.

“Ons dring daarop aan dat, wanneer hierdie verslag deur die portefeuljekomitee van polisie bespreek word, dat Phahlane geroep sal word om verantwoording te doen oor hierdie bewerings,” het Mbhele bygevoeg. “Die komitee moet ook bepaal of daar voldoen is aan die aanbevelings in die verslag.”

Mbhele het gesê dit is verdoemend dat president Jacob Zuma en die minister van polisie, Nathi Nhleko, nie bekwaam is om ʼn behoorlike aanstelling in die senior leierskap van die polisie te doen nie. “Hulle stel duisende Suid-Afrikaners teleur wat jaarliks slagoffers van misdaad word. Daarom is die DA meer as ooit vasbeslote om die verrotting in die SAPD uit te roei en seker te maak dat ons die beste span ooit het wat misdaad beveg.”

Volgens die verslag is daar ʼn bykomende betaling van bykans R500 000 aan Crimetech, dieselfde maatskappy wat die klankstelsel in Phahlane se luukse woning in Pretoria geïnstalleer het. Die verslag dui onder andere ook op onreëlmatige aanstellings; ʼn verjaarsdagpartytjie vir Phahlane in 2009 onder die voorwendsel dat dit ʼn polisiewerkswinkel was; en finansiële dokumente wat nie behoorlik op datum gehou is nie.

Die verslag het onder andere aanbeveel dat ʼn gedetailleerde oudit gedoen moet word en BTW-onreëlmatighede moet by die SAID aangemeld word. Moontlike samespanning tussen die maatskappye Kriminalistik en Crimetech Labs moet ook by die Nasionale Tesourie aangemeld word vir verdere ondersoek.

Brig. Sally de Beer, woordvoerder van die polisie, het in ʼn verklaring gesê Phahlane het op 1 Desember ʼn perskonferensie gehou waar die uitslag van ʼn onafhanklike forensiese ondersoek deur CPN vrygestel en verwelkom is.

Phahlane het in daardie stadium gesê die bewerings is alles vervat in ʼn brief gedateer 25 Junie 2012 wat Popcru aan genl. Riah Phiyega gestuur het, wat in daardie stadium die nasionale polisiekommissaris was. Phahlane het op 10 September 2012 op die bewerings reageer en CPN is op 23 Maart 2013 aangestel om die bewerings te ondersoek.

Volgens Phahlane is die CPN-verslag op 23 April 2014 aan die SAPD beskikbaar gemaak. “Ek het egter eers op 13 April 2015 met genl. Phiyega vergader waar sy my in kennis gestel het van die uitslag van die verslag,” het Phahlane verduidelik. ʼn Afskrif van die verslag is op 30 April 2015 aan Popcru gestuur.

“Die uitslag van die bewerings is nooit deur Phiyega bekend gemaak nie,” het hy bygevoeg. Volgens hom was daar vir meeste van die bewerings geen bewyse van enige onreëlmatighede nie, of was die bewerings ongegrond. Lees die volledige mediaverklaring hier.

Volgens De Beer is die verslag kort ná Phahlane se perskonferensie in Desember aan die portefeuljekomitee van polisie gestuur. “Die DA is deel van dié komitee,” het sy gesê. “Die DA meen die verslag moet deel vorm van ʼn deurlopende Opod-ondersoek. Aangesien die verslag deur ʼn onafhanklike firma opgestel is, kan dit deur enige entiteit ondersoek word.”

Afleggingsproses by AngloGold Ashanti duur voort

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit het vandag gerugte weerlê dat daar reeds ’n ooreenkoms tussen AngloGold Ashanti en vakbonde bereik is om al 849 poste, wat deur ’n artikel-189 afleggingsproses by die maatskappy geraak word, te red. Dit volg nadat vroeër vandeesweek berig is dat daar reeds ’n ooreenkoms bereik is waarin geaffekteerde werknemers oorgeplaas of heropgelei sal word.

Volgens Connie Prinsloo, adjunkhoofsekretaris van die mynboubedryf by Solidariteit, was die vakbond vandeesweek aktief betrokke by vergaderings met die bestuur van die maatskappy en is daar nog hoegenaamd nie enige ooreenkoms bereik nie. “Solidariteit sal natuurlik verheug wees oor elke pos wat moontlik gered kan word,” het Prinsloo gesê.

Volgens Prinsloo sal die vakbond alles in sy vermoë doen om te verseker dat daar so min as moontlik poste deur hierdie proses geraak word. “Die 189-proses, soos deur die Wet op Arbeidsverhoudinge uiteengesit, moet egter eers begin waarna Solidariteit in die beste belang van sy lede sal optree,” het Prinsloo verduidelik.

Prinsloo het daarop gewys dat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) nou ’n kommissaris moet aanwys wat die afleggingsproses gaan fasiliteer. “Ons sal wag om te hoor wie as fasiliteerder gaan optree. Die fasiliteringsproses sal daarna kan begin,” het Prinsloo gesê.


Hof hoor oor ‘moordenaar’ se vorige oortredings

$
0
0
hof-hamer

Argieffoto.

Mzwandile Majosi (28), die man wat in hegtenis geneem is nadat ʼn polisiebeampte se liggaam in ʼn veld buite Kimberley gevind is, staan nou vir die vierde keer in sy lewe op ʼn strafregtelike aanklag tereg.

Maroela Media het vroeër berig Majosi is in hegtenis geneem nadat die liggaam van konst. Lentswe Edward Mogorosi op 8 Januarie in die veld naby Lerato Park gevind is. Mogorosi het verskeie steekwonde aan sy liggaam en gesig gehad.

Kapt. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, het gesê van Mogorosi se gesteelde besittings is in Majosi se besit gekry toe hy in hegtenis geneem is.

Volgens Nkwalase het Majosi Donderdag in die Kimberley-landdroshof verskyn waar hy om borgtog sou aansoek doen. Toe Majosi egter die bewyse aangehoor het wat die staat voorgelê het om sy borgtogaansoek teen te staan, het hy van plan verander en sy borgtogaansoek laat vaar.

“Die Valke se ondersoek het aan die lig gebring dat Majosi in 2008 aan roof skuldig bevind is, in 2010 aan diefstal en later weer vir dwelmbesit in hegtenis geneem is. Die derde aanklag teen hom is steeds hangend,” het Nkwalase gesê.

Majosi sal in polisieaanhouding bly tot sy volgende hofverskyning op 23 Maart.

Betogers storm Absa-bank binne

$
0
0
Betogers buite 'n Absa-bank in die Durbanse sakesentrum. Foto: Twitter via @DuRRbanSA

Betogers buite ‘n Absa-bank in die Durbanse sakesentrum. Foto: Twitter via @DuRRbanSA

ʼn Paar honderd lede van die ANC-jeugliga het Donderdag buite die Absa-bank in Durban se sakesentrum betoog.

Talle van die betogers het die bank binnegestorm waar hulle gesing en gedans het, voordat hul toegang na die kitsbanke buite die bank versper het.

Die betoging volg op ʼn verslag van Busiswe Mkhwebane, die openbare beskermer, waarin voorlopig bevind is dat Absa onbehoorlik gebaat het uit staatshulp in die apartheidsera.

Die Mail & Guardian het vroeër berig dat die bank gedwing kan word om die R2,25 miljard staatshulp wat hulle in 1985 ontvang het, aan die Reserwebank terug te betaal as die voorgestelde regstellende stappe in die voorlopige verslag van die OB onveranderd bly.

Betogers buite 'n Absa-bank in die Durbanse sakesentrum. Foto: Twitter via @DuRRbanSA

Betogers buite ‘n Absa-bank in die Durbanse sakesentrum. Foto: Twitter via @DuRRbanSA

Betogers het Donderdag lede van die publiek verhoed om die bank in Anton Lembede-straat binne te gaan of die kitsbanke te gebruik. Daar was ʼn swaar polisieteenwoordigheid buite die bank terwyl die dansende betogers plakkate opgehou het wat onder meer gelui het, ““Corruption is corruption, no matter who is doing it” en “Boycott Absa”.

Die betogers het gesê die protesaksie vorm deel van hul eis dat Absa die geld terugbetaal wat van “ons mense gesteel is”.

Nadat ANC-jeugligaleiers hulle toegespreek het, is die betogers deur drie eThekwini Metro- munisipale busse opgelaai en weggeneem.

Muthambi ʼn twispunt in SAUK-besprekings

$
0
0
Faith Muthambi. Foto: GCIS

Faith Muthambi. Foto: GCIS

Of Faith Muthambi, minister van kommunikasie, gedeeltelik aanspreeklik gehou kan word vir die gemors by die SAUK en of sy enige wette oortree het, het Donderdag ʼn twispunt veroorsaak toe LP’s oor die voorlopige verslag van die ondersoek na die openbare uitsaaier debatteer het.

Die DA het voorgestel dat die ad hoc komitee se verslag ʼn waarneming moet insluit dat Muthambi opsetlik die wet verskeie kere oortree en die parlement mislei het. “Ek dink ons moet kategories stel watter wette sy oortree het,” het DA-LP Mike Waters gesê.

Waters het ook gesê die verslag moet ʼn gedeelte bevat oor die minister wat die aanstelling van Hlaudi Motsoeneng as bestuurshoof in 2014 onregmatiglik beïnvloed het.

Die ANC se Makhosi Khoza wou gehad het die gedeeltes van die verslag waar die minister genoem word, moet anders bewoord word. “Ek stem saam met die byvoeging wat Waters voorstel, maar ek dink ons moet die bewoording dat die raad onder druk geplaas is, verander. Ek dink ons moet sê die raad was of in die geheim of openlik onder druk geplaas om mnr Motsoeneng in die posisie aan te stel,” het Khoza gesê.

ANC-LP Juli Killian het gesê alhoewel daar negatiewe getuienis teen die minister gelewer is, was dit nie deel van die komitee se mandaat om haar optrede te ondersoek nie. “Ek dink ons moet bedag wees op sommige van die kommentaar oor die aandeelhouer [Muthambi] se rol met betrekking tot die effektiewe funksionering van die raad. Ons het dit nie regtig ondersoek nie,” het sy gesê.

“Kom ons sê eerder net die komitee spreek sy kommer uit dat die minister moontlik x, y en z oortree het.”

Die DA se Phumzile van Damme het gesê die komitee se verslag moet baie spesifiek wees oor die wette wat die minister oortree het en wat die gevolge van haar aksies moet wees. Sy het ook aangevoer dat die minister vir die komitee gelieg het. “Sy het haar grondwetlike plig oortree deur die raad te druk om mnr. Motsoeneng aan te stel en sy het vir ons gesê sy het dit nie gedoen nie.”

LP’s sal vandag weer vergader om die verslag te finaliseer. Hulle sal ook besluit of ʼn stel aanbevelings by die verslag ingesluit sal word voordat dit aan die betrokke partye gestuur word.

Die verslag moet na verwagting teen 21 Februarie afgehandel wees voordat dit aan die Nasionale Vergadering vir debat voorgelê sal word.

Uitspraak in modelbaas-saak uitgestel

$
0
0
Dawie de Villiers in die hof. Foto: ANA

Dawie de Villiers in die hof. Foto: ANAie

Dawie de Villiers, die Johannesburgse modelagentskapbaas wat teregstaan op verskeie aanklagte wat verkragting, seksuele aanranding en die besit van kinderpornografie insluit, gaan nog ʼn ruk moet wag om sy lot te weet.

Uitspraak in die saak teen hom het Woensdag hervat nadat dit in Desember uitgestel is.

Regter Cassim Moosa het in die hooggeregshof, wat in Palm Ridge sit, voortgegaan om die getuienis van 27 getuies voor te lees van die aanklagte wat terugdateer tot 2010.

Moosa het die getuienis van ʼn 22-jarige vrou voorgelees wat beweer sy is deur De Villiers verkrag toe sy 15 jaar oud was. Hy het ook die getuienis gelees van ʼn vrou wat beweer De Villiers het onbetaamlik aan haar gevat en onvanpaste boodskappe gestuur. Hy het ook die getuienis van ʼn vrou wat beweer sy is met R50 000 ingedoen voorgehou.

Die uitspraak het na Donderdag oorgegaan, maar kon nie voortgaan nie aangesien Moosa siek was. Die saak is met twee weke uitgestel en word op 8 Februarie hervat. De Villiers se borgtog is verleng.

Lees alle vorige berigte oor Dawie de Villiers op Maroela Media.

SAUK-joernalis in gesig geskiet

$
0
0

Suna Venter

Suna Venter

Suna Venter, een van die sogenaamde SAUK 8-joernaliste, is met ʼn windbuks in die gesig geskiet.

DA-LP Phumzile van Damme het dié inligting Vrydag aan lede van die ad hoc-komitee wat die SAUK ondersoek bekend gemaak. LP’s het gesê daar moet met die relevante owerhede gekonsulteer word, insluitend die polisie, sodat die saak onmiddellik aandag kan kry.

Venter het aan Maroela Media gesê sy het op 14 Januarie by ʼn winkel in Linden, Johannesburg, stilgehou om iets op te laai. Sy het gesê die voorval was nie op 15 November verlede jaar soos wat deur talle ander media berig word nie. “Ek het die goed opgelaai en was besig om in die motor te klim. My kop was nog buite die motor en dit het ewe skielik gevoel of iemand my hard in die gesig slaan.”

Volgens Venter was daar bloed en het sy net dadelik probeer om daar weg te kom. Sy het ʼn  man gesien, maar kon niks verder uitmaak nie. Sy het nie aanvanklik besef sy is geskiet nie. Die wond aan haar wang het egter seerder geraak en begin opswel waarna sy dokter toe is.

Twee koeëls is Maandag tydens ʼn operasie verwyder. Sy het ook hierna die saak by die polisie aangemeld. Volgens Venter vermoed die polisie nie dat die voorval ʼn mislukte kaping was nie en moontlik eerder verband hou met vroeëre dreigemente wat sy en ander joernaliste ontvang het ná die gebeure by die SAUK.

Die DA het in November die polisie versoek om beskerming te verskaf aan die sogenaamde SAUK 8, wat volgens mediaberigte doodsdreigemente ontvang. Die Sunday Times het destyds berig Venter, senior radioregisseur, ontvang dreigboodskappe, daar is by haar motor ingebreek en daar is glo op haar geskiet. Daar is glo ook by die TV-regisseur, Busisiwe Ntuli, se huis ingebreek en iemand het glo in haar motor probeer vasry. Foeta Krige, uitvoerende regisseur van Monitor en Spektrum op RSG, se huiswerker is glo tydens ʼn rooftog by Krige se huis met ʼn vuurwapen gedreig.

Krige, Venter, Ntuli, Krivani Pillay, Jacques Steenkamp, Lukhanyo Calata, Vuyo Mvoko en Thandeka Gqubule is almal in Julie deur die SAUK afgedank omdat hulle volgens die uitsaaier “voortgaan om die SAUK-bestuur se gesag te ondermyn” en hul “wangedrag onhoudbaar” geword het. Nadat die joernaliste hulle na die arbeidshof gewend het, is sewe van hulle weer in hul poste aangestel.

Mvoko, wat slegs op kontrakbasis vir die SAUK gewerk het en nie vas aangestel was nie, se hofaansoek om weer deur die openbare uitsaaier aangestel te word, is in Augustus in die hooggeregshof in Johannesburg van die hand gewys. Mvoko het intussen aangedui hy sal teen die uitspraak appelleer.

Die ad hoc-komitee vergader weer vandag om hul verslag te finaliseer. Die komitee sal ook besluit of ʼn stel aanbevelings by die verslag ingesluit sal word voordat dit na die betrokke partye gestuur word.

Die verslag moet na verwagting teen 21 Februarie afgehandel wees voordat dit aan die Nasionale Vergadering vir debat voorgelê sal word.

Viewing all 56621 articles
Browse latest View live