Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all 56621 articles
Browse latest View live

Twee kritiek beseer in Pta-motorfietsongeluk

$
0
0
Motorfietsongeluk in Akasia, Pretoria op 12 September 2015 Foto: Netcare 911

Motorfietsongeluk in Akasia, Pretoria op 12 September 2015 Foto: Netcare 911

Twee persone is Saterdagaand kritiek beseer nadat ʼn motorfiets ʼn taxi omstreeks 20:00 in Britsweg, Akasia in Pretoria, getref het.

“Twee persone het in die pad gelê toe paramedici by die toneel opgedaag het,” het Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, in ʼn verklaring gesê. “Hulle het kritieke beserings opgedoen.”

Een van die pasiënte is met ʼn Netcare-helikopter na ʼn hospitaal geneem en die tweede persoon is met ʼn ambulans na ʼn gespesialiseerde fasiliteit geneem onder bewaking van paramedici.

Die polisie stel ondersoek in na die oorsaak van die ongeluk.


3 dood, 30 beseer in KZN-ongeluk

$
0
0
Foto: ER24PMB, Twitter

Foto: ER24PMB, Twitter

Drie persone is Sondagoggend omstreeks 06:00 dood en minstens 30 beseer in ʼn ongeluk op die N3 naby Hilton in KwaZulu-Natal.

“Volgens berigte op die toneel het ʼn enkelkajuitbakkie die pad verlaat en 100 meter verder teen ʼn boom tot stilstand gekom,” het Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, in ʼn verklaring gesê. “Ses mense was in die voertuig vasgekeer toe paramedici by die toneel opgedaag het.”

Drie persone in die kajuit het aan hul beserings beswyk en is op die toneel dood verklaar. Nog drie persone het kritieke beserings opgedoen. Nog 24 persone het geringe tot ernstige beserings opgedoen.

Die brandweer moes meganiese toerusting gebruik om drie persone uit die wrak te bevry.

Van die persone het glo agterop die bakkie gesit en daar was ook glo persone op ‘n sleepwa.

Foto: ER24

Foto: ER24

Stad se versuim laat grondbesetting voortduur

$
0
0
Stad Johannesburg soos gesien van die dak van die Oribi-hotel in Troyeville Foto: Chris Kirchhoff, MediaClubSouthAfrica.com (http://www.mediaclubsouthafrica.com)

Stad Johannesburg soos gesien van die dak van die Oribi-hotel in Troyeville Foto: Chris Kirchhoff, MediaClubSouthAfrica.com (http://www.mediaclubsouthafrica.com)

Die Demokratiese Alliansie het gesê die stad Johannesburg moet sy planne om behuising beskikbaar te stel versnel, aangesien huidige tekorte onwettige grondbesetting laat voortduur.

Persone wat onwettig regeringsgrond beset, het onlangs tydens ʼn openbare vergadering in wyk 97 Wilgeheuwel dit duidelik gestel dat hulle geen ander opsie het as om die wet te oortree nie, aangesien die stad hulle nie van behoorlike behuising voorsien nie, het Alan Fuchs, DA-lid van die provinsiale wetgewer, in ʼn verklaring gesê.

Dan Bovu, burgemeesterskomiteelid van behuising, het gesê die persone kan slegs geskuif word sodra voldoende alternatiewe akkommodasie beskikbaar is. Geen sperdatums is egter verskaf nie.

“Ons het uit die verlede gesien dat onwettige grondbesetting al hoe meer onbepaald voortduur, aangesien swak beplanning, koördinasie en korrupsie die beskikbaarstelling van voldoende behuising verhoed,” het Fuchs bygevoeg. “Die gebiede ontvang selde dienslewering, het onvoldoende water en sanitasiegeriewe en persone word aan onnodige gesondheidsrisiko’s blootgestel.”

Hy het gesê die stad kan nie sy grondwetlike mandaat om toegang tot menswaardige lewenstoestande, sanitasie en skoon water te verskaf, ontduik nie. “Met die 2016 plaaslike verkiesing om die draai, moet die ANC-beheerde stad Johannesburg sy diensleweringsprogram opknap, anders sal hy by die stembusse verneder word.”

Skoon oudit vir handel en nywerheid

$
0
0
Rob Davies, minister van handel en nywerheid Foto: Departement van handel en nywerheid

Rob Davies, minister van handel en nywerheid Foto: Departement van handel en nywerheid

Die departement van handel en nywerheid het ʼn skoon oudit van die ouditeur-generaal ontvang vir sy 2014/15- finansiële jaar.

Minister Rob Davies het tydens ʼn funksie van die OG in Pretoria gesê die departement sal poog om dié status vol te hou.

Die skoon oudit beteken dat die departement se finansiële state vir 2014/15 geen materiële wanvoorstellings bevat het nie en die departement het aan wetgewing voldoen.

Davies het gesê die departement het ʼn kultuur van “voortgesette verbetering” geskep en bykomende prosesse sal ingestel word om seker te maak die departement bly ʼn wêreldgehalte organisasie.

“Ons weet ons sal selfs nog harder moet werk om ʼn skoon oudit te behou,” het hy gesê. “Dit sal ʼn toegewyde spanpoging op alle vlakke wees.”

Entiteite van die departement wat ook ʼn skoon oudit ontvang het, sluit die Nasionale Verbruikerstribunaal, die Nasionale Kredietreguleerder, die Nasionale Bemagtigingsfonds, die Nasionale Metrologiese Instituut van Suid-Afrika, die Uitvoerkredietversekeringskorporasie van Suid-Afrika en die SA Buro van Standaarde in.

Davies het Lionel October, die direkteur-generaal van die departement van handel en nywerheid, gelukgewens met sy strategiese rigtinggewing en leiding.

[Foto’s] R9.4 miljoen vir Dries Visser-koedoebul

$
0
0
Die opreggeteelde koedoebul, Hercules, van Dries Visser wat vir R9.4 miljoen verkoop is (Foto: TrophyBreeders.co.za)

Die opreggeteelde koedoebul, Hercules, van Dries Visser wat vir R9.4 miljoen verkoop is (April 2015) Foto: TrophyBreeders.co.za

ʼn Koedoebul is Saterdag by ʼn veiling in Thabazimbi, Limpopo, vir ʼn rekordbedrag van R9.4 miljoen verkoop.

Farmingportal berig die Dries Visser opreggeteelde koedoebul Hercules (66⅝”) is by die Trophy Breeders®-wildsveiling verkoop.

“Die koedoemark bied groot moontlikhede vir ontwikkeling,” het ʼn verheugde Dries Visser aan Farmingportal gesê. “Ons sal hernude belangstelling in dié pragtige dier sien, veral koedoes bo 60”.”

Hercules is ouer as 10 jaar. Klik hier vir nog besonderhede oor dié koedoebul.

Die veiling het by die Thabazimbi-skougronde plaasgevind.

Die vorige rekordbedrag vir ʼn koedoebul by ʼn veiling was R2.4 miljoen.

Die opreggeteelde koedoebul, Hercules, van Dries Visser wat vir R9.4 miljoen verkoop is (April 2015) Foto: TrophyBreeders.co.za Die opreggeteelde koedoebul, Hercules, van Dries Visser wat vir R9.4 miljoen verkoop is (April 2015) Foto: TrophyBreeders.co.za Die opreggeteelde koedoebul, Hercules, van Dries Visser wat vir R9.4 miljoen verkoop is Foto: TrophyBreeders.co.za Hercules se seun, Thor en Thor se seun regs Foto: TrophyBreeders.co.za Die opreggeteelde koedoebul, Hercules, van Dries Visser wat vir R9.4 miljoen verkoop is (April 2015) Foto: TrophyBreeders.co.za

Uitlander in Plettenbergbaai-hof oor seksuele oortredings

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

ʼn 38-jarige man van Ghana sal na verwagting Maandag weer in ʼn landdroshof in Plettenbergbaai in die Wes-Kaap verskyn op aanklag van verskeie seksuele oortredings met vier meisies tussen sewe en 11 jaar oud.

“Die man het die misdade glo tussen 31 Augustus en 8 September gepleeg voor hy in hegtenis geneem is,” het kapt. Bernadine Steyn, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die man staan tereg op verskeie aanklagte waaronder ontbloting en tentoonstelling van geslagsorgane aan kinders, kinderpornografie, poging om seksuele misdrywe te pleeg en seksuele aanranding.”

Die man het Donderdag en Vrydag in die Kwanokuthula-landdroshof verskyn en die saak is uitgestel tot Maandag vir sy aansoek om borgtog.

Gooi kernbomme op Mars, meen Elon Musk

$
0
0
Elon Musk tydens 'n beraad in 2013 deur Heisenberg Media via Wikimedia Commons

Elon Musk tydens ‘n beraad in 2013 deur Heisenberg Media via Wikimedia Commons

Die Suid-Afrikaaans-gebore ruimte-entrepreneur, Elon Musk, het hom groot kritiek op die hals gehaal toe hy tydens Stephen Colbert se The Late Show op Amerikaanse TV gesê het Mars se klimaat kan gou meer ondersteunend vir menslike besetting gemaak word.

Volgens Musk moet kern-hittebomme oor Mars se pole ontplof word. Dit sal die waterdamp, wat geys vasgevang is, in die atmosfeer vrylaat, en deur ‘n rits gevolge die instandhouding van oseane moontlik maak.

Wetenskaplikes het gou gereageer deur te sê so ‘n uitkoms is nie seker nie. In die ergste scenario kan soveel stof opgeskop word dat dit die sonstrale heeltemal uitsluit en die planeet nog kouer word.

Ander metodes is ook reeds voorgestel, maar dit blyk heelwat stadiger prosesse te behels, en word boonop ook as verregaande beskryf.

Lees meer: Christian Science Monitor

Musk maak die uitlating tydens hierdie uitsending:

[Foto’s] Maroela Media se Buitebioskoop bekoor groot Afrikaanse gehoor 

$
0
0
Maroela Media se eerste Buitelugbioskoop is Saterdag goed ontvang. Foto's: Phillip Bruwer

Maroela Media se eerste Buitelugbioskoop is Saterdag goed ontvang. Meer foto’s volg onderaan die berig. Foto’s: Phillip Bruwer

ʼn Toentertydse tradisie met ʼn moderne kinkel het gesinne, vriende en verliefdes Saterdag na die Pretoria Botaniese Tuin laat stroom vir Maroela Media se heel eerste Buitebioskoop. Die idee van fliek, musiek, piekniek en samesyn, amper soos die inry van ouds, was só gewild dat die 1 200 beskikbare kaartjies drie dae voor die geleentheid reeds uitverkoop was.

“Ons wou Maroela Media se aanlyngemeenskap en hul gesinne die geleentheid gee om bymekaar te kom en te kuier op ʼn veilige plek, en terselfdertyd die Afrikaanse filmbedryf en Afrikaans se 90ste herdenking as amptelike taal te vier,” het Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, Sondag gesê.

“Alles het seepglad verloop; elke rolspeler voor en agter die skerms was professioneel en het sy kant gebring. Ek is trots daarop om met hierdie vlak van professionaliteit in die Afrikaanse kunste- en vermaakwêreld geassosieer te word.”

Besoekers het van 14:00 in die heerlike lenteson begin uitspan voor die reusagtige silwerskerm op die grasperk van een van die gewildste parke in die Jakarandastad. Die skerm van 14 m wyd en 3 verdiepings hoog het die gevoel geskep dat ʼn mens in ʼn teater sit, maar met dieselfde nostalgie en atmosfeer van ʼn inryteater.

Gewapen met kampstoele, piekniekkombersies, heerlike versnaperings, lafenis vir die keel en ʼn lus vir lekker kuier het feesgangers die nege uur lange geleentheid aangepak.

ʼn Fliekresensiewerkswinkel, aangebied deur Leon van Nierop, is voor die flieks aan ʼn aantal gaste aangebied, terwyl Hennie Jacobs en Diaan Lawrenson tussendeur die gehoor vermaak het. Die gewilde groep Kaleidoskoop, asook MD Greyling en Rickus Nel het gesorg vir die musiek totdat dit begin skemer word het en tyd was vir die eerste fliek, Hollywood in my Huis.

Danie Bester is daarna aangewys as Maroela Media se eerste Bioskoop-boffin en Lombaard het aan hom ʼn Maroela-toekenning oorhandig nadat Van Nierop verduidelik het waarom Bester vir sy bydrae tot die Afrikaanse filmbedryf vereer word.

Bester se naam is welbekend in die Afrikaanse rolprentbedryf en hy het reeds nagenoeg 19 Afrikaanse rolprente vervaardig. Sommige van hierdie rolprente was van die grootste flieks in die plaaslike bedryf en het telkens ʼn nuwe standaard gestel soos BakgatWolwedans in die SkemerPad na jou hart en Ballade vir ʼn Enkeling. Lees hier meer oor wat Van Nierop oor hom te sê gehad het.

“Ek het regtig nie verwag om vanaand ʼn toekenning te wen nie,” het Bester verbaas gesê. “Ek het net gekom om fliek te kyk!”

Buiten sy titel as Bioskoop-boffin spog hy ook met ʼn pragbeeld van die beeldhouer Milandi Coetzer.

Daarna is feesgangers bederf met die heel eerste publieke vertoning van Die Pro, wat eintlik eers amptelik op 18 September bekend gestel word. Die fliek is met luide applous ontvang.

Die eindtitels van Katinka Heyns se immergewilde fliek, Die Wonderwerker, het omstreeks middernag gerol voor fliekgangers moeg maar tevrede hul piekniekmandjies opgepak het en slapende kinders en komberse kar toe gedra het.

Maroela Media se verslaggewers het deur die dag tussen die skare gaan kuier en te oordeel aan die vriendelike geselsies, smaaklike peuselhappies en ietsie vir die dors, was die meeste mense duidelik beïndruk met die geleentheid.

“Maroela het duidelik hier raakgevat met die konsep,” het die bekende vervaardiger Giep van Zyl Sondag aan Maroela Media gesê. “Die rustigheid van die gehoor – wat hoofsaaklik te make het met die goeie organisering en die regte teikenmark wat opgedaag het – het ook vir my goed afgeloop. Die Wonderwerker was my hoogtepunt, asook die basaargehalte pannekoek!”

Een van Maroela Media se afgetrede lesers, Martie la Grange, het Sondag laat weet: “Die geleentheid was fantasties! Dit bring herinneringe terug van vergange se dae toe ons nog jonk was en inry toe gegaan het. Die atmosfeer was lekker en ons het rondom ons net Afrikaans gehoor! Die flieks was asemrowend en dit was interessant om Leon van Nierop se geselsies met die rolspelers te kon meemaak.”

Sy het gesê al negatiewe ding wat sy te sê het, was dat hulle moes huis toe gaan. “Ons moes 20 minute in die kar wag voor ons eers in die stroom motors kon plek kry. Ons moes langer gekuier het,” skerts sy.

Lombaard het gesê die terugvoer wat sy gekry het, is dat dit mense trots gemaak het om met ʼn Afrikaanse gemeenskap te identifiseer. “Mense het dit geniet om in die buitelug te kuier op ʼn plek waar hulle en hul kinders veilig is. Dis vir ons by Maroela lekker om te kan sê hierdie is ons lesers, wat so lief is vir Afrikaans en mekaar se geselskap so geniet.”

Op die vraag of daar ʼn volgende Buitebioskoop gaan wees, sê Lombaard: “As omstandighede ons toelaat – verseker! Ons hoop dat hierdie ʼn jaarlikse instelling op ons lesers se kalenders kan word.”

Lombaard het al die rolspelers wat die geleentheid moontlik gemaak het, waaronder Pretoria FM wat die mediavennoot was, uit haar hart uit bedank.

“Ook elkeen van ons lesers wat kom kennis maak en saamkuier het – dis ‘n voorreg om julle te kon ontmoet!”

Buitebioskoop 2015 Buitebioskoop 2015 Buitebioskoop 2015 Buitebioskoop 2015 Buitebioskoop 2015 Buitebioskoop 2015 Buitebioskoop 2015 Buitebioskoop 2015 Buitebioskoop 2015 Buitebioskoop 2015 Buitebioskoop 2015 Buitebioskoop 2015 Buitebioskoop 2015 Buitebioskoop 2015 Buitebioskoop 2015 Bekendes: MD Greyling en sy vrou, Denise. Bekendes: Aanbieders Hennie Jacobs en Diaan Lawrenson Diaan Lawrenson en Hennie Jacobs sien hulself op Maroela Media Bekendes: Vilje Maritz, Lee Nagel en Francois Jacobs Bekendes: Ricus Nel Bekendes: Lorraine Swanepoel (Kokkedoor) Bekendes: Lorraine Swanepoel (Kokkedoor) Bekendes: Arno Greeff en Andre Velts Bekendes: Vanessa Morey en Shoki Mokgapa Bekendes: Janis Ellis en Jacobus le Rous Bekendes: Tiaan van Niekerk en Reine Swart Bekendes: Leon van Nierop Clumze Eddie vermaak die kinders Buitebioskoop 2015 Buitebioskoop 2015 Susan Lombaard (algemene bestuurder van Maroela Media) saam met die aanbieders Buitebioskoop 2015-gaste Buitebioskoop 2015-gaste 'n Boer maak 'n plan Buitebioskoop 2015-gaste Maroela Media Buitebioskoop fliekpiekniek pretoria botaniese tuin (49) Kaleidoskoop in aksie MD Greyling en Ricus Nel MD Greyling en Ricus Nel Buitebioskoop 2015 Gaste: Karla du Plessis, Lizelle Bekker, Luani Samons, Lenka Reyneke, Annise Eallozi en Luné Els Quintin en Engela van Wyngaardt Martie en Phillip Bruwer Charlotte en JP van Wyk Maruis en Riëtte Boersma Rolf en Mareli Hansen Christo Bruwer en Ryno Ellis Vena Strauss en Venamari en Danie Coetzee Daan en Retha Bornman Cameron en Charmaine Duvenage Helga de Vente, Cornelia Kerkhoff en Marlene de Vente Baronese Coutriers en Riquelmé Jacobs Madeleine, Philip, Chrismi en Kallie Swanepoel Marna Roos en Janina van Zyl Karli, Johan en Nina Roos en Eli Ecroignard Buitebioskoop 2015 Buitebioskoop 2015 Bioskoop-boffin: Leon van Nierop en Danie Bester Bioskoop-boffin: Leon van Nierop en Danie Bester Bioskoop-boffin: Susan Lombaard (Maroela Media) en Danie Bester Bioskoop-boffin: Susan Lombaard (Maroela Media) en Danie Bester Bioskoop-boffin: Danie Bester Maroela Media se koöperasie by Buitebioskoop Maroela Media se koöperasie by Buitebioskoop Maroela Media se koöperasie by Buitebioskoop Maroela Media se koöperasie by Buitebioskoop Maroela Media se koöperasie by Buitebioskoop Maroela Media se koöperasie by Buitebioskoop

Presidensie moet antwoord oor Guptas se Eskom-kontrak

$
0
0
Atul Gupta (Argieffoto)

Atul Gupta (Argieffoto)

Mediaberigte het Sondag bevestig dat Eskom agteroor gebuig het om seker te maak dat die Gupta-familie, wat politieke bande het, ʼn steenkoolkontrak van R4 miljard ontvang, het die Demokratiese Alliansie gesê.

“Dit is adjunkpresident Cyril Ramaphosa, hoof van die regering se ‘oorlogkamer’ vir die energiekrisis, se plig om ʼn volle en gedetailleerde verduideliking te gee hoe dit onder sy toesig plaasgevind het, of hy in kennis gestel is van die ooreenkoms, en watter rol hy gespeel het om seker te maak dat dit goedgekeur word,” het Natasha Mazzone, woordvoerder van die DA, in ʼn verklaring gesê.

Sy is van plan om skriftelik vrae te rig aan Ramaphosa in dié verband.

“Die Guptas se maatskappy, Tegeta Exploration and Resources, het merkwaardig genoeg ʼn R4 miljard-kontrak ontvang om die Majuba-kragstasie in Mpumalanga vir die volgende 10 jaar van steenkool te verskaf, ondanks die feit dat hulle sedert 2011 verwerp word weens hul swak gehalte steenkool,” het sy gesê.

Die maatskappy het met sy vyfde probeerslag die kontrak gekry, nadat hy vier keer onsuksesvol was met sy steenkoolgehaltetoets, teen ʼn koste van R100 000 per toets aan Eskom. Nadat die ooreenkoms onderteken is, is vier senior werknemers op ʼn omstrede wyse geskors nadat hulle die gehalte van die Gupta-steenkool bevraagteken het, het Mazzone bygevoeg. Die analisverslae ná die toetse dui daarop dat die steenkool “marginaal” is en dit laat vrae ontstaan waarom hierdie gehalte steenkool gekies is bó beter opsies.

“Dit is welbekend dat die Gupta-familie sterk bande met die ANC, en veral pres. Jacob Zuma, het. Van die huur van die Gupta-vliegtuig en die berugte ‘Guptagate’, tot verhoogde uitgawes vir advertensiespasie vir die regering in die Gupta-beheerde koerant, The New Age is een ding seker – die Guptas kom eerste, en Suid-Afrika kom tweede,” het sy gesê.

Mazzone het bygevoeg sy sal ook vrae aan Ramaphosa stel oor ander belangrike kwessies. Dit sluit in die hoeveelheid kontrakte wat Tegeta Exploration and Resources by Eskom het; wat die aard, waarde en besonderhede van dié kontrakte is; of alle kontrakte aan die voorgeskrewe tenderprosesse onderwerp is, en indien nie, waarom nie; en watter ander finansiële belange, direk of indirek, het die Guptas in Eskom.

“Suid-Afrika het die reg om seker te wees dat elke sent van openbare geld gespandeer word om die lewens van elke burger te verbeter. Ons land kan glad nie bekostig dat die Guptas of enige ander persoon met politieke bande wins maak ten koste van gewone, hardwerkende Suid-Afrikaners wat reeds onder druk is nie.”

BBP-beampte het glo vrou, dogter doodgeskiet

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

ʼn Adjudantoffisier van die eenheid wat baie belangrike persone by die Uniegebou beskerm, is in hegtenis geneem in verband met die moord op sy vrou en dogter, het die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat (Opod) Sondag gesê.

“Die 46-jarige beampte, van die Pretoria-beskermingseenheid by die Uniegebou, het na bewering sy 23-jarige dogter en sy 42-jarige vrou by hul huis in Pretoria-Wes doodgeskiet,” het Grace Langa, woordvoerder van Opod, in ʼn verklaring gesê. “Die paartjie het glo die oggend ʼn stryery gehad voor die beampte na sy neef se begrafnis toe gegaan het. Toe hy terugkeer, het hy sy vrou gevra om vir hom kos te maak. Terwyl sy in die kombuis doenig was, is hy na ʼn ander kamer waar hy ʼn vuurwapen gaan haal het en hy het sy vrou en dogter doodgeskiet.”

Volgens Langa het die beampte daarna weer sy dienspistool in die kluis gebêre en hy en sy 17-jarige seun en broerskind, wat ook in die huis was, na bure toe geneem. Hy het die buurman gevra om hulle na die polisiestasie te neem waar hy dadelik in hegtenis geneem is.

“Hy sal na verwagting Maandag in die Pretoria-Sentraal-landdroshof verskyn. Die ondersoek duur voort,” het Langa bygevoeg.

Noodsaaklike Agoa-vergadering Maandag belê

$
0
0
Pres. Barack Obama en pres. Jacob Zuma  by die Uniegebou in Pretoria tydens die Amerikaanse president se besoek aan Suid-Afrika in Junie 2013 (Foto: GCIS)

Pres. Barack Obama en pres. Jacob Zuma by die Uniegebou in Pretoria tydens die Amerikaanse president se besoek aan Suid-Afrika in Junie 2013 (Foto: GCIS)

Beamptes van Suid-Afrika en Amerika sal Maandag ʼn noodsaaklike, dringende vergadering hou in ʼn poging om handelskwessies op te los voor Suid-Afrika dalk ʼn gedeelte of sy volle R21 miljard per jaar-ooreenkoms van belastingvrye toegang tot die winsgewende Amerikaanse mark verloor.

Indien die kwessies nie voor 30 September opgelos word nie, kan Suid-Afrika geweier word, gedeeltelik of ten volle, om enige voordeel te trek uit sy deelname in die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa).

Agoa sou op 30 September verstryk. Die Amerikaanse kongres het dit onlangs vir 10 jaar verleng, maar het Suid-Afrika uitgesonder en sy volgehoue deelname op voorwaarde gestel dat die land groter toegang bied in sy mark vir Amerikaanse pluimveeprodukte, beesvleis, en varkvleisinvoere.

Die Amerikaanse administrasie, wetgewers en die veiligheidsbedryf eis ook dat Suid-Afrika sy voorgestelde wetgewing, wat buitelandse veiligheidsmaatskappye sal verplig om minstens 51% aandele aan Suid-Afrikaners te verkoop, te wysig.

Die kongres het ʼn sperdatum van 30 September aan Suid-Afrika gestel.

Suid-Afrika het reeds onderneem om konsessies op meeste van dié kwessies te maak, veral in Januarie toe hy ingestem het om minstens 65 000 ton Amerikaanse pluimveeprodukte per jaar in te voer.

Amerika glo egter Suid-Afrika skep nuwe hindernisse om oues te vervang. Die land laat nog steeds nie Amerikaanse pluimveeprodukte toe nie, uit kommer oor ʼn uitbreking van voëlgriep in Amerika. Die land het soortgelyke kommer oor beesvleis en varkvleis geopper.

Trevor Kincaid, adjunkassistent van Amerikaanse handel, het aan ANA gesê Suid-Afrika staan die risiko om baie belangrike invoerevoordele te verloor onder Agoa, indien die land nie vinnig optree nie.

Suid-Afrika het verlede jaar R21 miljard belastingvry onder Agoa na Amerika uitgevoer. Die grootste kategorie is motors ($1.3 miljard); ferromangaan ($183 miljoen); lemoene ($41 miljoen) en wyn ($33 miljoen).

Amerika kan ʼn gedeelte of al hierdie spesifieke voordele van Suid-Afrika ontneem.

Lees ook: SA sleep voete met Agoa-ooreenkoms

16 beseer in KZN-botsing

$
0
0

Argieffoto

Argieffoto

Ses mense is kritiek beseer nadat ’n motor en ’n minibustaxi Sondagmiddag in ’n botsing betrokke was.

Robert Mckenzie, woordvoerder van die provinsiale nooddienste, het gesê die botsing het naby eSikhaleni plaasgevind.

“Die minibus het omgeslaan waarna die motor daarteen gebots het. Ses mense is kritiek beseer, vyf is ernstig beseer en vyf mense het ligte beserings opgedoen,” het Mckenzie gesê.

Die beseerdes is op die toneel behandel voor hulle na nabygeleë hospitale geneem is vir verdere mediese sorg. Die presiese oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

Besoek nasionale parke gratis

$
0
0

Die Augrabies-nasionale park in die Noord-Kaap. Foto: SANParke

Die Augrabies-nasionale park in die Noord-Kaap. Foto: SANParke

Dit is dié week nasionale parkeweek en dagbesoekers kan gratis toegang tot die land se nasionale parke kry.

Edna Molewa, minister van omgewingsake, het die 10de Suid-Afrikaanse parkeweek in samewerking met FNB en Total bekend gestel. Fundisile Mketeni, uitvoerende hoof van SANParke, het tydens die bekendstelling in die Marakele Nasionale Park in Limpopo gesê die inisiatief is daarop gemik om ʼn kultuur van trots by alle Suid-Afrikaners te ontwikkel.

“Die week bied ook die geleentheid om al die nasionale parke ten toon te stel as belangrike en bekostigbare plaaslike vakansiebestemmings wat ’n unieke en interessante ervaring bied vir gesinne en individue van alle agtergronde, kulture, leefstyle en gemeenskappe om te geniet,” het Mketeni gesê.

Hy het skole aangemoedig om ook die nasionale parke te besoek. “Die gewone daaglikse kwotas by die hekke sal steeds in die week geld en voorkeur sal gegee word aan die besoekers wat eerste daar is.”

Gupta-maatskappy kap terug oor Eskom-kontrak

$
0
0

Argieffoto

Argieffoto

Nazeem Howa, uitvoerende hoof van die Gupta-familie se Oakbay Investments, het uitgevaar teen die Sunday Times oor sy berig rakende ʼn steenkoolkontrak met Eskom.

Die koerant het berig dat Tegeta Exploration and Resources, ’n maatskappy wat deur die Gupta-familie besit word, ’n kontrak van R4 miljard gekry het om steenkool te verskaf ondanks die feit dat hulle glo in 2011 nie gebruik is weens die standaard van hul steenkool nie.

Volgens die Sunday Times het die maatskappy ná die vyfde probeerslag die kontrak gekry nadat hulle vier keer die gehaltetoets gedruip het. Howa het in reaksie op die artikel gesê dit is “swak nagevors, feitelik bankrot en ʼn redakteur se kommentaar”.

Volgens Howa word hulle steenkool daagliks getoets. “Oakbay Investments, die gesin se primêre dryfmaatskappy, het minder as 50% aandeelhouding in Tegeta, so om na die Gupta-familie in die opskrif te verwys is kwaadwillig en misleidend.”

Howa het gesê sedert die maatskappy in April vanjaar steenkool begin verskaf het, word daar daagliks toetse gedoen en het daar eers in Augustus “onverklaarbare verskille ontstaan rondom die vlakke van swael” in die steenkool.

Volgens Howa het Eskom toe ʼn ondersoek van stapel gestuur en is alle invorderings van Tegeta eers gestaak. Eskom het ná die afhandeling van die ondersoek weer steenkool by Tegeta begin ontvang.

Sesjarige brand erg met warm water

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

ʼn Sesjarige seuntjie van die Vrystaat het Sondag ernstige brandwonde opgedoen nadat hy glo in ʼn bad vol warm water gespring het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die voorval het in Manyakeng in Wesselsbron plaasgevind.

“Met paramedici se aankoms op die toneel was sy ma besig om hom te versorg,” het Meiring gesê.

Die seuntjie is ondersoek en vir ernstige brandwonde aan sy bene en arms behandel.

Hy is met ʼn ambulans na Mediclinic Welkom vir noodbehandeling geneem.


Nuuskommentaar: Guptas en swart bemagtiging

$
0
0

Atul Gupta (Argieffoto)

Atul Gupta (Argieffoto)

Terwyl daar ’n storm woed oor visvangkwotas wat so gestruktureer is dat gevestigde bruin en Indiërbelange moet plek maak vir nuwe swart toetreders, duisel die kop oor hoe die Gupta-familie steeds voortgaan om skynbaar onvermoeid bevoordeel te word, om te SEB-oes. En die Guptas is nie eens gebore (swart) Suid-Afrikaners nie, maar het uit Indië hierheen geïmmigreer.

In die media word dit deurlopend gestel dat die Guptas noue bande met pres. Jacob Zuma en sy familie het. Let wel, bande met groot voordele vir die Zuma-familie, terwyl die Guptas se New Age buite verhouding baie uit regeringsadvertensies verdien.

’n Mens slaan soms jou hande saam van verbasing oor waar die Guptas se name en belange opduik, soos by die erg omstrede Vrede-suiwelprojek in die Vrystaat wat al diep happe uit die belastingbetalers se sakke gehap het. Onlangs het dit geblyk die staat het ’n straler van die Guptas gehuur om adj.pres. Cyril Ramaphosa en ’n afvaardiging na Japan te vervoer – tot aansienlike duike in die fiskus.

En nou die nuus dat die Guptas ’n steenkoolkontrak van R4 miljard met Eskom losgeslaan het, nadat die gehalte daarvan verskeie kere afgekeur is. Nadat die kontrak toegestaan is, is drie amptenare geskors. Die Guptas self hou vol dat daar geen slang in die gras was nie, maar dit is duidelik dat Ramaphosa, as hoof van die Eskom-intervensiespan, warm vrae sal moet beantwoord. Veral nadat Eskom sulke milde bonusse aan bestuurslui gaan uitdeel het.

Trouens, dit lyk al meer of Ramaphosa onder die druk van die “hospitaal-aangeë” wat die Zuma-kamp in sy rigting slinger om hom as ernstige opvolgkandidaat vir Zuma uit te skakel, tot al meer aanslane lei. En nie almal skynbaar onder druk nie. Ramaphosa se beeld is reeds erg aangetas, ook onder diegene wat hom tot onlangs as vanselfsprekende opvolger beskou het, en selfs as die land se “redder”, aldus Roelf Meyer.

Uiteraard maak die hele kwessie deel van ’n groter probleem uit.

Al is baie van die name wat genoem word van gunstelinge wat baat van Indiese herkoms – name soos Motala (wat verander is nadat daar wetlike beletseling op die oorspronklike Enver Motala beland het), Shaikh, Naidu en ander, is dit nié tot Indiërs beperk nie. “Fronting” bly ’n geweldige probleem. In Desember 2014 is wyd berig oor die pasgestigte Tamborah Resources, wat probeer om Eskom-kontrakte vir die lewering van steenkool los te slaan. Die hoof- uitvoerende beampte van dié firma is niemand anders nie as Nolwandle Mantashe, eggenote van Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC. Sinici sal beweer dat Gwede tot een van Zuma se teenstanders gereken kon word (sodat Zuma selfs “versterkings” na Luthuli-huis moes ontplooi) tot dié potensiële meevaller oor die gesin se pad gekom het – van toe af is hy ’n verbete lojalis.

Maar dit is nie al nie. In Januarie 2015 berig die World Socialist Web Site dat Nolwandle ’n direkteur van die “goed-gekonnekteerde” Bidvest-groep is wat ’n kontrak van R639 miljoen gekry het om etes by Kusile en Medupi te voorsien.

Die hele kwessie word soos volg beskryf: “South Africa’s political elites are profiting from the crisis by awarding themselves massive contracts related to the construction of new power stations. In particular, a company directed by the wife of African National Congress (ANC) Secretary General Gwede Mantashe received a R639 billion ($55 million) contract for providing food to workers at the construction sites of the new Medupi and Kusile power plants … The Public Protector probed the company’s (Hitachi Power Africa) Eskom contract, not least because Valli Moosa, then Eskom chairman, is a senior ANC member. The inquiry concluded that Moosa, now Anglo American Platinum chair, ‘failed to manage the conflict of interests’, and Hitachi could not ‘guarantee that the ruling ANC would not benefit from the R50 million profit it stood to make through its Chancellor House stake’.”

En dan wonder sommige mense hoekom die Openbare Beskermer so gehaat by die Zuma-administrasie is.

Die vraag is nou: Is Ramaphosa nou deel / nog deel van die oplossing / die redder, of deel van die probleem? Hy is in ’n blootgestelde posisie, maar is ook nie dom nie. Maar die land sou intussen baie daarby kon baat as Zuma se opvolger nou volgens normale protokol duidelik kon begin optree en solank vertroue bou dat die land reggeruk gaan word. Ongeag hoe diep die tentakels loop.

Vrou steek glo ander met bierbottel

$
0
0
Argieffoto.

Argieffoto.

ʼn 29-jarige vrou van Heidelberg in Gauteng sal na verwagting Maandag in die plaaslike landdroshof verskyn nadat sy die naweek glo ʼn jong vrou met ʼn gebreekte bierbottel gesteek het.

Kapt. Thivhulawi Tshilate, polisiewoordvoerder, het gesê die voorval het Saterdagaand in Ratanda plaasgevind.

“Daar word beweer dat die verdagte saam met haar vriendin by dié se kêrel gekuier het, toe die klaagster daar opgedaag het,” het Tshilate gesê.

“Die slagoffer het die verdagte se vriendin gekonfronteer oor haar kêrel, waarna ʼn bakleiery uitgebreek het.”

Die verdagte het glo ʼn bierbottel gebreek en haar een keer daarmee in die rug gesteek. Die vrou het ernstige beserings opgedoen en is na ʼn hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Die verdagte is Sondag in hegtenis geneem op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Man helder oordag in Tzaneen-woonstel doodgeskiet

$
0
0

polisie-huisroof-crime

Argieffoto: SAPD/Facebook

ʼn Man is dood en ʼn ander ernstig beseer nadat hulle helder oordag in hul woonstel in Tzaneen, Limpopo, deur gewapende rowers oorval is.

Lt.kol. Malesela Ledwaba, woordvoerder van die polisie, het gesê drie verdagtes het Sondag omstreeks 08:30 by die mans se woonstel in Boundary-straat ingekom.

Hulle was na bewering met vuurwapens en ʼn panga gewapen. Die rowers het een van die mans in die been geskiet en die ander in die maag, voordat hulle met ʼn onbekende bedrag kontant gevlug het. Die rowers het glo met ʼn silwer Hyundai-motor met Gauteng-nommerplate gevlug, het Ledwaba gesê.

“Die man wat in die maag geskiet is, is kort ná die voorval dood terwyl die ander man in die hospitaal opgeneem is,” het Ledwaba gesê. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Ledwaba wou nie die name van die slagoffers bekendmaak nie, aangesien al hul familielede nog nie van hul dood ingelig is nie. “Ons doen ʼn beroep op enigiemand met meer inligting om die ondersoekbeampte by 082 451 7169 te bel,” het hy gesê.

Aanklagte van moord en huisbraak word ondersoek.

Niemand nog vas ná brand NW-gebou verwoes

$
0
0

Munisipale gbou brand op 11 September 2015 in Ventersdorp, Noordwes Foto: @thabiso41 op Twitter.

Munisipale gbou brand op 11 September 2015 in Ventersdorp, Noordwes Foto: @thabiso41 op Twitter.

Niemand is nog in hegtenis geneem nadat ʼn munisipale gebou in Ventersdorp, Noordwes, Vrydag aan die brand gesteek is nie.

Kol. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, het gesê die departement van verkeer se gebou is Vrydag deur ʼn brand verwoes tydens betogings rakende die samesmelting van die Ventersdorp- en Tlokwe- (Potchefstroom-) munisipaliteite.

Inwoners van die twee dorpe wat gekant is teen dié samesmelting, het gesê daar is nie met hulle “gepraat” alvorens die besluit geneem is nie. Tlokwe-inwoners meen die samesmelting sal lei tot ʼn onderbreking in dienslewering.

Die inwoners het Vrydag in albei dorpe oor die samesmelting betoog. Ten spyte daarvan dat die gebou gedurende die betogings aan die brand gesteek is, het Mokgwabone volgehou die brand hou nie met die betoging verband nie.

Forensiese ondersoekspanne sal die gebou fynkam vir leidrade oor wat die brand veroorsaak het, het hy gesê. Die brand het glo aan die agterkant van die gebou ontstaan en stapels dokumente is verwoes. Die gebou is afgesper en veiligheidswagte is om die toneel geplaas om te verseker dat die toneel nie deur omstanders besoedel word nie.

Sanger skuil in hysbak terwyl boewe toeslaan

$
0
0
Mathys Roets

Mathys Roets

Mathys Roets en sy vriendin moes vroeg Saterdagoggend in sy huis se hysbak skuil nadat ʼn onbekende aantal inbrekers op sy huis in Eldoraigne in Pretoria toegeslaan het.

Hoewel die diewe vort is met toerusting ter waarde van nagenoeg R50 000 en ʼn televisiestel, sit hy glad nie op moedverloor se vlakte nie. Die ergste van die voorval is om alles vervang te kry voordat hy Woensdag op ʼn toer gaan.

“Hulle was nie hier om ons seer te maak nie. Hulle het gekom om in te breek en te steel. Hulle moes baie professioneel gewees het,” het Roets Maandag aan Maroela Media gesê.

Roets se motorhuis waar die boewe toegeslaan het. Foto: Verskaf

Roets se motorhuis waar die boewe toegeslaan het. Foto: Verskaf

Hy het verduidelik dat sy huis omhein is met ʼn 2 m hoë elektriese omheining. “Hulle het dit reggekry om oor die heining te kom sonder om die alarm te laat afgaan. Hulle het daarna hul weg tot by my motorhuis gevind sonder om enige ‘ogies’ te laat afgaan. In die motorhuis het hulle ʼn sak gevat wat soos ʼn skootrekenaarsak lyk. My mikrofone en ʼn koordlose klankbord wat aan my iPad kan koppel, was daarin. Hulle het ook ʼn data-projektor gebuit wat ek gebruik wanneer ek motiveringspraatjies doen. Die alarm het eers omstreeks 05:00 afgegaan toe hulle gulsig geraak het en die televisie in die huis kom steel het.”

Roets en sy vriendin, Jané van Litsenborgh, het danksy die alarm wakker geword en gehoor daar is iemand in die huis. Die paartjie het in die hysbak geklim en dit tussen die onderste en boonste verdieping laat stilhou en daar geskuil totdat hulp opgedaag het.

“Veiligheidsbeamptes van ADT was spoedig op die toneel. Dit was seker so drie minute, toe was hulle daar.”

Die inbrekers het hulle kort daarna uit die voete gemaak deur weer oor die heining te klouter. Dié keer het hulle die heining se alarm laat afgaan wat Roets-hulle die gemoedsrus gegee het dat die boewe weg is.

Beamptes van die Wierdabrug-polisie was kort daarna op die toneel.

“Al krisis is om dié toerusting betyds vervang te kry voor my toer Woensdag begin. Dit is toerusting wat spesiaal voldoen aan my behoeftes. Maar ek sal dit vervang kry en dit sal geen uitwerking op my vertonings hê nie,” het hy sy aanhangers gerusgestel.

“Ek is nogal spyt dat hulle met my mikrofone daar weg is; hulle sal nie juis enige nut daaruit kan kry nie. Hulle het seker gedink daar is ʼn skootrekenaar in. So, as iemand êrens ʼn skelm ou hoor sing, en hy klink soos ek, moet hulle my asseblief laat weet!” Hy skerts verder en sê hy neem aanstoot dat hulle ook nie sy tas met CD’s gesteel het nie. “Hulle kon dit maklik vir R20 000 verkoop gekry het.”

Roets is vol lof vir ADT en die Wierdabrug-polisie, wat ʼn saak van huisbraak ondersoek. “Albei spanne was professioneel en deeglik. Die proses het vlot verloop en ek het binne ʼn halfuur ʼn saaknommer gehad wat die administratiewe las op my minder gemaak het.”

Hy het gesê dit is die eerste soortgelyke voorval in die 16 jaar wat hy in die huis woon. Hy beplan om die veiligheid op te knap om tyd te wen indien so iets weer sou gebeur. “Ek weier om in vrees te lewe en gaan nie toelaat dat só ’n voorval dit veroorsaak nie.”

Viewing all 56621 articles
Browse latest View live