Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all 56621 articles
Browse latest View live

Polisiebeampte in hof ná hy glo vrou, dogter doodskiet

$
0
0

Argieffoto: Nico Strydom

Argieffoto: Nico Strydom

ʼn Polisiebeampte verbonde aan die presidensiële beskermingsdienste het Maandag in die Pretoria-landdroshof verskyn op twee moordaanklagte.

Die 46-jarige adjudant-offisier is die naweek in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy vrou en dogter vermoor het. Sy naam kan nie genoem word voordat hy gepleit het nie.

“Daar word beweer dat die beampte wat verbonde is aan die beskermingseenheid by die Uniegebou sy 23-jarige dogter en 42-jarige vrou by hul huis in Pretoria-Wes geskiet het,” het Grace Langa, woordvoerder van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), gesê.

“Die egpaar het na bewering rusie gemaak die oggend voordat die beampte weg is na ʼn familielid se begrafnis. Toe hy die aand teruggekeer het, het hy sy vrou gevra om vir hom kos te maak. Terwyl die vrou besig was om kos te kook, het hy na bewering ʼn vuurwapen in ʼn ander kamer gaan haal, teruggestap en sy vrou en dogter doodgeskiet,” het Langa gesê.

Die beampte het glo ná die onderskeie moorde sy dienspistool terug in die kluis gesit en sy 17-jarige seun en broerskind, wat ook ten tyde van die voorval in die huis was, na die bure geneem. Hy het sy buurman gevra om hom polisiestasie toe te neem, waar hy dadelik in hegtenis geneem is.

Die beampte sal in aanhouding bly tot 21 September wanneer hy na verwagting om borgtog aansoek sal doen.


Kragnetwerk dié week onder druk

$
0
0

Argieffoto (Foto: baptisteh, Pixabay)

Argieffoto (Foto: baptisteh, Pixabay)

Eskom het Maandag gesê die kragnetwerk sal dié week onder druk wees aangesien die elektrisiteit wat van Mosambiek af ontvang word weens instandhoudingswerk gehalveer sal word.

Die kragvoorsiener het gesê beplande instandhouding moet by die Cahora Bassa-hidrokragaanleg en die Hidroelectrica de Cahora Bassa (HCB) in Mosambiek gedoen word. Suid-Afrika sal dus slegs 650 MW krag daagliks vanaf Cahora Bassa invoer in plaas van die 1 500 MW per dag wat gewoonlik ontvang word.

Die instandhoudingswerk sal na verwagting teen Sondag voltooi wees en die aanleg sal vanaf Maandag weer ten volle krag voorsien.

“Die kragstelsel sal onder druk wees, veral gedurende die weeksaand-spitstye van Dinsdag 15 September tot Vrydag 18 September. Eskom sal sy noodreserwes gebruik om die tekort aan te vul,” het Eskom gesê.

Die kragvoorsiener het gesê tans word geen beurtkrag vir die week voorsien nie.

Man met wielsleutel aangerand op Pta-kleinhoewe

$
0
0

Argieffoto: Nico Strydom

Argieffoto: Nico Strydom

ʼn Man van Pretoria is in die hospitaal nadat hy Vrydagaand op ʼn kleinhoewe deur aanvallers oorval en met ʼn wielsleutel aangerand is.

Johan Freysen (55) is omstreeks 21:00 deur drie verdagtes op sy kleinhoewe in De Wildt, noord van Pretoria, oorval. Freysen se vrou, dogter en ʼn vriend was ook glo ten tyde van die aanval in die huis

Kapt. Riana van Aarde, woordvoerder van die polisie, het gesê die aanvallers het glo ʼn vuurwapen by hulle gehad en het Freysen met die wielsleutel aangerand. Freysen se vrou kon daarin slaag om met die trappe op te hardloop na die eerste verdieping van die huis en die paniekknoppie te druk.

“Toe die verdagtes die alarm hoor, het hulle met twee selfone en die sleutels van een voertuig gevlug,” het Van Aarde gesê.

Sy het gesê Freysen het kopbeserings opgedoen en is ná die aanval in die hospitaal opgeneem, maar kon nie bevestig hoe ernstig sy beserings was nie. ʼn Saak van huisroof word ondersoek.

Ma glo vir tabletrekenaar vermoor

$
0
0
Maggie Castleman is glo Saterdag vir 'n tabletrekenaar vermoor. Foto: Verskaf

Maggie Castleman is glo Saterdag vir ‘n tabletrekenaar vermoor. Foto: Verskaf

Maggie Castleman (48), wat skaars drie maande gelede van Nelspruit na Louis Trichardt in Limpopo verhuis het, is Saterdagaand naby haar werkplek in dié dorp glo vir ʼn tabletrekenaar vermoor.

Castleman se dogter, Jennifer Claassen, het Maandag aan Maroela Media gesê inligting oor voorval is nog vaag en vorm deel van die polisie se ondersoek.

“Ons verneem my ma is Saterdagaand omstreeks 19:00 in haar motor naby haar werkplek, in ʼn industriële gebied van die dorp, geskiet,” het Claassen gesê.

“Die polisie vermoed sy het in haar motor gesit en was naby die werk se gebou om toegang tot die plek se WiFi te kry. Iemand het haar seker dopgehou en op haar toegeslaan.”

Volgens Claassen is haar ma in haar linkerbors geskiet. Daar word vermoed dat net haar tabletrekenaar vermis word, maar teenstrydige gerugte  doen die rondte dat haar selfoon en beursie ook gesteel is. “Dis vir ons nog baie deurmekaar wat presies gebeur het.”

ʼn Kollega van Castleman, wat glo by ʼn braai by die werkplek was, het op haar afgekom waar sy langs die motor gelê het en hulp ontbied. Castleman is op die toneel dood verklaar. Claassen is omstreeks 11:30 van haar ma se moord ingelig.

Claassen beskryf haar ma as iemand wat altyd geglimlag het. “Sy was ʼn goeie mens en was altyd vriendelik. Sy het gehou van verf en hekel, al was sy nie regtig goed daarmee nie,” skerts sy hartseer.

Castleman was enkellopend. Haar seun en Claassen se broer, Nico, is vier jaar gelede in die ouderdom van 17 aan kanker oorlede. “Sy as is in ʼn nis van die gedenkmuur by die NG Kerk in Deneysville in die Vrystaat. Ons gaan my ma laat veras en haar as langs my broer s’n sit. Dis wat sy sou wou hê.”

Castleman laat haar dogter en twee susters, Lorraine Robinson en Charmaine Castleman, agter.

Kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig die polisie ondersoek ʼn saak van moord. “Volgens ons inligting word net die tabletrekenaar vermis. Ons weet nog nie hoeveel verdagtes by die voorval betrokke was nie, maar is besig om leidrade op te volg,” het sy gesê.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Middelburg-meisie sedert Donderdag vermis

$
0
0
Neline van Zyl.

Neline van Zyl.

ʼn Volskaalse soektog is van stapel gestuur na ʼn 13-jarige meisie van Middelburg in Mpumalanga wat Donderdag spoorloos verdwyn het.

Volgens Dessie Rechner, stigter en direkteur van Pink Ladies, is Neline van Zyl glo omstreeks 14:00 vir die laaste keer in die omgewing van Hoër Tegniese Skool (HTS) Middelburg gesien. Neline is ʼn leerling aan Laerskool C.R. Swart.

Haar ouers het haar as vermis aangemeld nadat sy nie later die middag teruggekeer het huis toe nie. Die polisie en die gemeenskap soek sedertdien onverpoos na haar.

Neline is skraal gebou, het donkerbruin oë en lang ligte bruin hare. Sy weeg 52 kg en is 1,59 m lank.

Ena Calitz Piloda, ʼn inwoner wat nou betrokke is by die soektog na Neline, het Maandag op Facebook gesê ʼn anonieme persoon het ʼn beloning van R12 000 uitgeloof aan enigiemand met positiewe inligting wat kan help om haar op te spoor. Inligting kan gestuur word aan  rpilodia123@gmail.com, of bel haar by 082 415 8029. Mense kan ook ao. Kevin Gumley by 013-249 1608/1601, of Pink Ladies by 072 214 7439 bel.

Rechner het ʼn beroep op mense gedoen om pamflette met inligting oor haar verdwyning op sosiale media te versprei, in die hoop dat iemand haar sal herken.

neline van Zyl vermis

Student in Stellenbosch-woonstel aangeval

$
0
0

Kristy Davidson se nek na die aanval. Foto: Facebook

Kristy Davidson se nek na die aanval. Foto: Facebook

ʼn Jong student van Stellenbosch is erg getraumatiseer nadat sy Vrydagaand in haar woonstel oorval, gewurg en met ʼn skroewedraaier gesteek is.

Kristy Leigh Davidson (21), ʼn student in bemarking aan die IMM Graduate School of Marketing, het omstreeks 18:15 die aand teruggekeer na haar woonstel in ʼn blok waar meestal studente bly. Volgens haar ma, Zelda, het sy net die voordeur na haar woonstel toegemaak toe sy ʼn klop aan die deur hoor.

“Sy het gedink dit is een van haar vriende wat kom hallo sê, maar toe sy die deur oopmaak het ʼn onbekende man die deur oopgestamp en haar in die woonstel ingestamp,” het Zelda gesê. Die man het Kristy twee keer met ʼn skroewedraaier gesteek en haar gewurg totdat sy haar bewussyn verloor het. Hy het daarna alles uit die woonstel gesteel wat enigsins van waarde was, het Zelda gesê.

ʼn Jong paartjie wat ook in die woonstelblok bly, het Kristy hoor skree en het dadelik die polisie gebel. “Die man is ʼn slegs ʼn blok of twee van die woonstelle af aangekeer,” het Zelda gesê.

Sy het gesê die man het glo toegang tot die perseel verkry deur kougom oor die hek se sensor te plaas om te verhoed dat dit toegaan. Hy het vermoedelik ʼn geruime tyd in die kompleks rondgeloop voordat hy gesien het hoe Kristy by die huis aankom en die geleentheid gebruik het om haar te oorval.

Konst. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat ʼn 30-jarige verdagte in hegtenis geneem is en op 22 September in die hof sal verskyn om vir borgtog aansoek te doen. ʼn Saak van huisbraak word ondersoek.

Polisieman skiet vriendin, pleeg selfmoord

$
0
0

misdaadtoneel

Argieffoto

ʼn 31-jarige vrou sterk in die hospitaal aan nadat haar kêrel, ʼn polisiebeampte, haar glo geskiet en toe selfmoord gepleeg het.

Konst. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het gesê die adjudant-offisier het omstreeks 04:50 Maandagoggend sy vriendin by ʼn huis in Dolphinstraat in die Strand geskiet. Die 44-jarige polisiebeampte het toe selfmoord gepleeg. Hy is op die toneel dood.

Volgens Rwexana was die beampte aan die Macassar-speurtak verbonde. Die polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord en ʼn geregtelike doodsondersoek is geopen. “Die omstandighede rondom die saak word ondersoek,” het Rwexana bygevoeg.

Rwexana wou nie onmiddellik die polisiebeampte se naam bekend maak nie.

Skokvideo van boelie-aanval by Jhb-skool

$
0
0

'n Skermskoot uit die video.

‘n Skermskoot uit die video.

ʼn Video van ʼn laerskoolseun van Johannesburg wat gewelddadig deur medeskoliere aangerand word, het sedert die naweek wyd opslae op sosiale media gemaak.

Op die video kan gesien word hoe ʼn leerder van Laerskool Randfontein deur ʼn groep skoliere op ʼn sportveld geslaan en geskop word. Die seun val naderhand op sy knieë en hou sy hande oor sy kop om homself te beskerm, maar die groep hou net aan om hom te skop terwyl omstanders hulle luidkeels toejuig. Die aanvallers en die leerders wat die voorval met hul selfone verfilm, gebruik ook deurentyd uiterse kru-taal wat nie van laerskoolleerders verwag word nie.

Sharon de Leur, die seun wat aangeval word se tannie, het op haar Facebook-blad van die voorval vertel en gesê die seun is deur ʼn ander leerder na die rugbyveld gelok. “Ongeveer 14 van sy medeskoliere het hulle gevolg, waarvan drie prefekte [lede van die leerlingraad] was,” het sy gesê.

Sy het gesê dit was vir haar byna erger om te sien hoe die omstanders staan en lag terwyl haar broerskind aangerand word. “Hulle het nie eens vir hom jammer gevoel toe hulle bloed en sy oopgebarste lip sien nie. Sy snikke het ook nie hul hartsnare geroer nie. Hulle het net gestaan en kyk en lag,” het sy gesê.

Volgens De Leur het die aanvallers haar broerskind daarvan beskuldig dat hy die onderwysers vertel het dat hulle rook, maar is dit glad nie waar nie. “Die beplanning van hierdie aanval ontstel my. Hulle het duidelik hierdie aanval oor ʼn geruime tydperk beplan,” het sy gesê.

“Al lag hy steeds en maak grappies, glo ek hierdie gewelddadige ervaring sal oor die langtermyn negatiewe effek op hom hê as hy nie behoorlike berading ontvang nie.”

Phumla Sekhonyane, woordvoerder van die departement, het aan Maroela Media bevestig dat die seun wat duidelik op die video gesien kan word terwyl hy die ander seun aanrand, met onmiddellik effek geskors is. “Die seun wat gehoor kan word hoe hy die ander seun aanmoedig en die slagoffer tart, sal ook dissiplinêr verhoor word,” het sy gesê.

Intussen sal die departement Woensdag saam met al die leerders in die video se ouers en sleutelrolspelers van die skool vergader. Sekhonyane het gesê die seun wat aangerand is, ontvang reeds berading.

Die seun se naam word weerhou om sy identiteit te beskerm.

Die video van die aanranding kan hier gekyk word. WAARSKUWING: Die taalgebruik en gebeure in die video is uiters kras en kan sensitiewe lesers ontstel.


[Video] Lugmag, SAL praat oor vlieëniers

$
0
0
Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

Die Suid-Afrikaanse Lugmag het bevestig hy is in gesprek met die Suid-Afrikaanse Nasionale Lugdiens (SAL) oor ‘n tekort aan lugmagvlieëniers.

Die situasie is so benard dat die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) sê, indien daar nou ‘n groot seeramp plaasvind, hy nie noodwendig op die lugmag se bystand sou kon staatmaak nie.

Die insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk eNuus elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv.

Regstappe teen Eskom oor Gupta-kontrak

$
0
0

Die sakeregtewaghond AfriSake het vandag regstappe teen Eskom ingestel, nadat Tegeta Explorations & Resources ʼn R4 miljard kontrak met Eskom losgeslaan het om die Majuba-kragstasie vir die volgende 10 jaar van steenkool te voorsien.

Argieffoto

Argieffoto

Dit kom skaars ʼn week nadat AfriSake, in ’n ander saak, ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering tot Toegang tot Inligting (PAIA) aan Eskom gerig het oor miljoene rande se bonusse wat aan die elektrisiteitverskaffer se topbestuur uitbetaal is.

Tegeta Explorations & Resources het die kontrak na bewering vir die vyfde keer gekry, ondanks die feit dat dit in 2011 verwerp is weens die swak gehalte van die steenkool. Ná die ondertekening van die kontrak is vier senior werknemers – wat die gehalte van die steenkool bevraagteken het – na bewering geskors.

“Juis omdat daar sprake is van korrupsie en oneerlikheid én omdat Eskom politieke bande met die ANC het, behoort so ʼn kontrak nie onderhandel te word nie. Belastingbetalers se geld word gebruik, daarom moet ʼn maatskappy soos Eskom ten alle tye onbesproke en deursigtig optree,” het Stefan Pieterse, AfriSake se nasionale woordvoerder, gesê.

AfriSake se regstappe behels die aanvra van die volgende inligting van Eskom:
• ʼn Lys van alle kontrakte tussen Eskom en Tegeta Explorations & Resources;
• ʼn Lys van tenderaars wat vir die kontrak aansoek gedoen het;
• Skriftelike redes waarom die kontrak aan Tegeta Resources toegeken is;
• ʼn Agenda van die vergadering waar die tender bespreek is;
• Die notule en resolusie waar die tender goedgekeur is;
• Vorige analiseverslae oor Tegeta Explorations se steenkoolgehalte.

“Eskom het 30 dae om die inligting aan AfriForum te verskaf. Indien hulle dit nie doen nie, is ʼn interne appèl ons volgende stap,” het Pieterse gesê.

Twee gou vas ná Humansdorp-ma se moord

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

Twee mans is in hegtenis geneem in verband met die moord op die Roseline Bosman (45) nadat haar liggaam Saterdag in haar huis in Humansdorp in die Oos-Kaap gevind is.

“ʼn 26-jarige man en ʼn 49-jarige man van Hankey is in hegtenis geneem danksy knap speurwerk,” het ao Basil Seekoei, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê.

Bosman se kinders het Saterdag op hul ma se liggaam afgekom in haar huis in Booysestraat, Arcadia. Sy het op haar bed gelê.

“Leidrade het die beamptes na Hankey gelei waar die 26-jarige man in hegtenis geneem is,” het Seekoei bygevoeg. “Hy het van die oorledene se besittings by hom gehad.” Nadat hy ondervra is, is die tweede verdagte Maandagoggend vroeg ook in Hankey in hegtenis geneem.

“Die motief vir die moord is nog onbekend. Nog inhegtenisnemings kan moontlik volg,” het hy bygevoeg.

Die name van die verdagtes sal bekend gemaak word sodra hulle in die Humansdorp-landdroshof verskyn het.

Beurse vir studies in besigheidsbestuur

$
0
0
Argieffoto (Foto: Pixabay)

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Vyf beursprogramme, ter waarde van R250 000 elk, is vandag in Krugersdorp tydens ‘n funksie by die Hoërskool Noordheuwel bekendgestel. Die beurse, wat bekendstaan as die eNuus Elite- beursprogram by Akademia, is spesifiek daarop gemik om studente blootstelling aan die wêreld van werk te gee terwyl hulle na-uurs hul BCom graad in Ondernemingsbestuur by Akademia studeer.

Volgens Andries Cornelissen, nuusredakteur van eNuus, bied hierdie beursprogram aan studente die geleentheid om na drie jaar met ‘n Graad in Ondernemingsbestuur en drie jaar se praktykgerigte werkservaring weg te stap. “Baie maatskappye het in vandag se gejaagde tye min tyd om onervare persone op te lei, en verkies daarom om kandidate met ervaring in die werksgebied aan te stel. Daarom sien ons hierdie as ‘n ideale geleentheid vir die skoolverlatersmark,” aldus Cornelissen.

Verdere voordele van hierdie beursprogram sluit maandelikse sakgeld van R2 000, studiementorskap, persoonlike ontwikkelingskursusse, blootstelling aan verskeie sakeleiers en ‘n buitelandse sakereis in die derde jaar in. Om te kwalifiseer vir die Elite-beursprogram, moet ‘n aansoeker ‘n gemiddelde punt van 70% in sy rekordeksamen behaal en voldoen aan die vereistes vir die spesifieke graadstudie by Akademia. Klik hier om aanlyn in te skryf.

Akademia het ook van die geleentheid gebruik gemaak om sy nuwe studiesentrum in Krugersdorp aan te kondig om die gemeenskappe aan die Wes-Rand van Johannesburg en die nabye Noordwes-provinsie in 2016 te bedien. Volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, is dit die eerste stap in ‘n vyfjaar uitbreidingsproses wat jaarliks nuwe programme en ‘n verdubbeling van die huidige studiesentrums in 2017 behels.

“Die uitbreiding van die universiteitsaanbod in Afrikaans is ‘n hoë prioriteit, siende dat ons onwrikbaar glo in die positiewe voordeel wat moedertaalonderrig vir studente inhou. Wêreldwyd bewys lande soos Duitsland, Japan en Frankryk dat die opleiding van studente in hul moedertaal wêrelderkende leiers oplewer,” het Visser bygevoeg.

Die aankondiging van nuwe kwalifikasies vir 2016 word na goedkeuring daarvan deur die departement van hoër onderwys en opleiding vir Oktober beplan. Benewens die BCom Ondernemingsbestuurgraad, bied Akademia ook na-uurs ander geakkrediteerde kwalifikasies met Afrikaans as die onderrigtaal.

Vierling vir niksvermoedende ma

$
0
0

babaskoentjies repeatcrafterme_comʼn Span dokters en verpleegsters by die Benedictine-hospitaal in KwaZulu-Natal moes Sondagaand vinnig spring om op kort kennisgewing ʼn vierling in die wêreld te bring.

Nobuhle Qwabe (27) van Nongoma het tot gisteraand nie geweet sy is swanger met drie dogters en ʼn seuntjie nie.

Sy het gesê sy het nog tot onlangs voorgeboorte klasse bygewoon. “Ek het regtig nie geweet ek het vier babas nie. Ek was baie verras toe die verpleegsters gesê het ek is met meer as een kind swanger,” het Qwabe gesê. “Toe die dokters daar opdaag en die een na die ander baba gebore word, het ek nie geweet wat om te sê nie. Ek was geskok, maar ek is nou baie opgewonde.”

Dr. Sibusiso Sithole, wat in Kuba opgelei is en gebaseer is by Nkonjeni-hospitaal sowat 50 km van Benedictine-hospitaal, is omstreeks 19:00 deur verpleegsters ontbied toe hulle besef Qwabe gaan meer as een baba hê. Sithole en dr. Kenneth Mbele, ʼn mediese gegradueerde van die Universiteit van KwaZulu-Natal is saam na die hospitaal.

Sithole het gesê die babas het tussen 1 kg en 1.3 kg geweeg. “Al die babas is gesond,” het hy gesê.

Hy het deur die regering se Mandela/Castro-program aan die Santa Clara-universiteit gestudeer. Hy is al agt jaar lank ʼn dokter. “Ek het al talle tweelinge in die wêreld gebring, maar nog nooit ʼn drieling nie, om nie eers te praat van ʼn vierling nie! Dit is ʼn groot wonderwerk.” Hy het die span dokters, verpleegsters en die ma bedank vir hul samewerking. “Sy het nie enige probleme vir ons gegee nie,” het hy bygevoeg.

Die babas word in die hospitaal gehou en sal na ʼn hoësorgeenheid oorgeplaas word vir verdere sorg.

Qwabe is werkloos. Sy bly saam met haar ouma en twee sussies. Sy het ook ʼn negejarige dogter. “Ek weet nie hoe ek vir die babas gaan sorg nie,” het sy gesê. “Ek het net twee hande. Ek gaan ook hulp nodig hê met babaformule en klere.”

Dr. Sibongiseni Dhlomo, provinsiale LUR vir gesondheid, het ʼn dringende beroep op swanger ma’s gedoen om so gou as moontlik met voorgeboorte sorg te begin tydens hul swangerskappe om seker te maak ma en baba kry die beste moontlike sorg. “Dit is ʼn wonderwerk dat die ma geboorte kon skenk aan die vierling sonder enige voorval,” het hy gesê.

Drie sterf in gru-ongeluk op N2

$
0
0

Foto: Netcare 911

Foto: Netcare 911

Drie mense is dood en agt beseer in ʼn gru-ongeluk op die N2 in Durban toe ʼn vragmotor en drie motors Maandagaand gebots het.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê dit is nie duidelik hoe die ongeluk plaasgevind het nie, maar wrakstukke was oor ʼn paar honderd meter op die hoofweg versprei. Slegs een baan op die N2 was oop vir verkeer wat vir ure geraak is weens die ongeluk.

“Toe paramedici op die toneel aankom, het hulle gevind twee mans is reeds in die ongeluk dood. ʼn Vragmotorbestuurder het ook ernstige beserings opgedoen en paramedici het alles in hul vermoë gedoen om die man te stabiliseer. Hy is aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel en na ʼn hospitaal in Umhlanga gehaas. Ongelukkig is hy met sy aankoms by die hospitaal dood,” het Botha gesê.

Die ander pasiënte is op die toneel behandel voordat hulle met ambulanse na verskillende hospitale geneem is. Die polisie was op die toneel om die ongeluk te ondersoek.

Foto: Netcare 911 Foto: Netcare 911

Polisie ontken doodsdreigemente in Senzo Meyiwa-moordondersoek

$
0
0

Senzo Meyiwa Foto: soccerladuma.co.za

Senzo Meyiwa Foto: soccerladuma.co.za

Die polisie het Maandag berigte ontken dat ʼn beampte wat betrokke is by die ondersoek na die moord van Senzo Meyiwa (27), kaptein en doelwagter van Bafana Bafana, bedank het nadat sy doodsdreigemente ontvang het.

“Mediaberigte rakende die ondersoek na [Meyiwa se] moord wat beweer dat kapt. Joyce Buthelezi uit die ondersoekspan bedank het ná onenigheid oor ’n voorstel wat sy gemaak het en waarna sy gevolglik doodsdreigemente ontvang het, is onwaar,” het lt.kol. Solomon Makgale, nasionale woordvoerder van die polisie, gesê.

Buthelezi het glo ’n aanbeveling gemaak dat almal wat in die huis teenwoordig was toe Meyiwa geskiet is, van sy moord aangekla moet word. Maroela Media het vroeër berig die Bafana Bafana-kaptein is in Oktober 2014 doodgeskiet toe twee verdagtes drie aanvallers in sy vriendin se huis in Vosloorus oorval en ’n skietery ontstaan het. Geen ander persoon is tydens die skietery beseer nie.

Makgale het Maandag beklemtoon dat Buthelezi by die ondersoekspan ingesluit is weens haar spesialisvaardighede, maar dat sy nie die dossier by haar gehad het nie. “Soos enige ander spanlid is spesifieke take aan haar toegeken en moes sy haar insette gee wanneer nodig,” het hy gesê. “In teenstelling met mediaberigte, is daar geen komitee aan wie die ondersoekspan verslag moet lewer nie.”

Lees alle vorige berigte oor Senzo Meyiwa op Maroela Media.


KZN-universiteit gesluit nadat gewelddadige betogings uitbreek

$
0
0

Foto: Twitter

Foto: Twitter

Die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) se Westville-kampus is Maandag gesluit nadat gewelddadige betogings uitgebreek het.

Die instansie het klasse opgeskort nadat betogers, wat glo studente is, motors met klippe bestook en geboue op die kampus aan die brand gesteek het. Die universiteit sal minstens tot Woensdag gesluit wees.

Die betogings het laat Sondagaand begin en Maandag voortgewoed. Die betogers is glo ongelukkig oor studiefooie.

KZN Community Watch het op sosiale media gesê die betogers het die geboue geplunder nadat dit aan die brand gesteek is. Volgens die universiteit was veiligheidsbeamptes en die polisie op die toneel om die situasie in bedwang te bring.

Huishulp wat kind glo ontvoer in hof

$
0
0

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 32-jarige vrou wat as huishulp vir ʼn gesin van Oos-Londen gewerk het, sal Dinsdag in die hof verskyn nadat sy glo hul driejarige kleuter ontvoer het.

Die vrou wie se naam nie genoem mag word voordat sy gepleit het nie, het glo die kind ontvoer en na Mosambiek gesmokkel waar sy die kind meer as ʼn maand lank gehou het. Sy het ʼn losprys van R500 000 by die ouers geëis.

ʼn Polisietaakspan het die vrou verlede week in Gauteng in hegtenis geneem. Sy sal vandag in die Mdantsane-landdroshof verskyn op aanklagte van ontvoering, onwettige immigrasie, uitbuiting en mensehandel.

Die kind is met haar ouers in Oos-Londen herenig.

Derick Hougaard in ongeluk

$
0
0
Derick Hougaard. Foto: www.eastertimes.co.za

Derick Hougaard. Foto: www.easterntimes.co.za

Die Blou Bul-liefling, Derick Hougaard, was Maandagaand in Johannesburg in ʼn botsing betrokke ná ʼn opname van SuperSport se gewilde program, SuperRugby.

Johnny Burger, Hougaard se vriend en woordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media gesê buiten ʼn geringe sweepslagbesering en ʼn bietjie lyfseer, is hy andersins ongedeerd.

“Hy was op Marlboroweg op pad na die snelweg, toe hy by ʼn rooi verkeerslig agter ʼn voertuig van Netcare 911 stilgehou het,” het Burger gesê. “ʼn Bakkie het hulle glo nie sien stilstaan nie en het met ʼn hoë spoed van agter teen Derick se Toyota Land Cruiser gebots. Die botsing het veroorsaak dat Derick se motor die voertuig van Netcare 911 gering gestamp het.”

Paramedici van Netcare 911 het hom ondersoek en hy het nie hospitalisering nodig gehad nie.

Hougaard het kort ná middernag getwiet: “Dankie Netcare! Was in ʼn groot ongeluk. Julle was amazing. Waardeer opreg. Julle [het] almal harte van goud. Regtig dankbaar! God seën julle.”

Hy het ook ʼn pluimpie vir Toyota gehad en gesê vir dié vervaardiger gaan dit oor meer as net motors verkoop: veiligheid is die eerste prioriteit.

Volgens Burger is die bestuurder van die bakkie in die botsing beseer en hy is met ‘n ambulans van die toneel weggeneem.

Die ongelukstoneel. Foto: Verskaf Die ongelukstoneel. Foto: Verskaf Die ongelukstoneel. Foto: Verskaf Die ongelukstoneel. Foto: Verskaf Die ongelukstoneel. Foto: Verskaf

Huiseienaar skiet ‘rower’ dood

$
0
0
Foto: Intelligence Bureau SA

Foto: Intelligence Bureau SA

ʼn Man is Dinsdag in die vroeë oggendure doodgeskiet toe hy glo by ʼn huis in Benoni aan die Oos-Rand ingebreek het.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 04:25 by ʼn huis in Lakefield gebeur. Die huiseienaar het glo wakker geword om badkamer toe te gaan toe hy ʼn vreemde geluid in die woonkamer gehoor het. Hy het gaan ondersoek instel en gesien hoe twee onbekende mans goed uit die woonkamer gedra het.

“Hy het hulle beveel om op te hou waarmee hulle besig was en die huis te verlaat, maar hulle het geweier en hom met ʼn skroewedraaier gedreig,” het Dlamini gesê. “Hy het na die slaapkamer gehardloop en sy vuurwapen gegryp. Hy het weer die verdagtes gevra om die huis te verlaat en toe een van hulle na hom gekom het, het hy hom geskiet.”

Die verdagte het glo probeer weghardloop, maar buite die huis inmekaargesak. Hy is op die toneel dood verklaar. Die tweede verdagte het met ʼn televisiestel gevlug.

ʼn Woordvoerder van die ondersoekmaatskappy Intelligence Bureau South Africa het gesê gereedskap is by die verdagte gevind wat glo gebruik is om die veiligheidshek mee oop te breek. Die verdagte het glo ook ʼn kombuismes in sy besit gehad.

ʼn Saak van moord en huisbraak word ondersoek, het Dlamini gesê.

Foto: Intelligence Bureau SA Foto: Intelligence Bureau SA Foto: Intelligence Bureau SA Foto: Intelligence Bureau SA

Kragonderbreking-foto slaan prysgeld van duisende rande los

$
0
0
Mohsen Taha se foto wat as algehele beste foto aangewys is. Foto: ANA

Mohsen Taha se foto wat as algehele beste foto aangewys is. Foto: ANA

ʼn Ugandese fotograaf het die eerste Pan-Afrika-fotokompetisie gewen met ʼn foto van sy eenjarige seun wat op ’n selfoon speel tydens ’n kragonderbreking.

Mohsen Taha (28) het met die louere weggestap vir die algehele beste foto in die Africa 2015-fotokompetisie, asook as wenner van die Tegnologie-kategorie vir sy foto wat wys hoe baie mense nou ʼn selfoon kan bekostig, ongeag of hulle in plattelandse of stedelike gebiede woon.

Carlos Aguiar, ʼn 30-jarige fotograaf van Angola, het met ʼn asemrowende foto van die stedelike ontwikkeling in Luanda as wenner van die Stede-kategorie weggestap. Ahmed a Osman (22) van Kenia is as wenner in die Industrie-kategorie aangewys met ʼn foto van koringlande in Narok wat die snel groei in die landbousektor in Kenia uitbeeld.

Carlos Aguiar was die wenner van die Stede-kategorie. Foto: ANA

Carlos Aguiar was die wenner van die Stede-kategorie. Foto: ANA

“Ek is trots om deel van ʼn kompetisie te wees wat die ekonomiese ontwikkeling hier in Afrika help aanmoedig,” het Taha gesê. “Hierdie kompetisie stel fotograwe in staat om verskeie aspekte van Afrika ten toon te stel en te wys hoe ons gegroei en ontwikkel het tot iets anders en beters. Ses jaar gelede kon ek nie ʼn selfoon bekostig nie. Deesdae het almal in Uganda, van stedelike tot plattelandse gebiede, ʼn selfoon. Hierdie vordering is betekenisvol.”

Ahmed a Osman van Kenia is as wenner in die Industrie-kategorie aangewys.

Ahmed a Osman van Kenia is as wenner in die Industrie-kategorie aangewys.

Agility, ’n geïntegreerde logistieke maatskappy en organiseerder van die kompetisie, het Maandag gesê amateur- én professionele fotograwe kon vir die kompetisie inskryf. Fotograwe van 33 lande het meer as 700 foto’s in die kategorieë Industrie, Tegnologie en Stede ingeskryf. Die foto’s moes die groei en ontwikkeling in Afrika te midde van rekordbelegging, stygende inkomste en verbeterde lewenstandaarde uitbeeld.

Elke kategoriewenner het ʼn kontantprys van $2 000 (ongeveer R26 000) ontvang en die algehele wenner het ʼn bykomende $2 000 ontvang. Al die wenfoto’s sal op CNBC Africa gebeeldsaai word en in die tydskrifte Forbes Africa en Forbes Africa Woman geplaas word.

Viewing all 56621 articles
Browse latest View live