Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all 56621 articles
Browse latest View live

‘Rower’ doodgeskiet in gyselaarsdrama

$
0
0

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

ʼn Gewapende rower is Donderdag tydens ʼn skietgeveg met die polisie en gyselaarsdrama in Mkuze, KwaZulu-Natal doodgeskiet.

Ao. Zwelisha Gumbi, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie is na BFS Loans, ‘n leningsonderneming, ontbied terwyl ʼn gewapende roof reeds aan die gang was. Polisielede het hulle na die toneel gehaas waar die rowers op hulle losgebrand het. Die polisie het teruggeskiet.

“Een van die mans, glo 25 jaar oud, is gewond en later dood,” het Gumbi gesê.

Die tweede rower het homself in die kantoor toegesluit en verskeie mense gyselaar geneem. Die gyselaars het werknemers en kliënte ingesluit. “Die man het homself later aan die polisie oorgegee,” het Gumbi gesê.

Robert McKenzie, woordvoerder van die provinsiale nooddienste, het gesê hulle het probeer om die gewonde man weer by te bring, maar dit was tevergeefs. Hy is op die toneel dood verklaar.


Twee vas ná bejaarde paartjie se gru-moord

$
0
0

Die twee verdagtes. Foto: SAPD

Die twee verdagtes. Foto: SAPD

Die polisie het blitsvinnig twee verdagtes vasgetrek nadat twee bejaardes se liggame Woensdag in hul huis gevind is.

Lt. Juanita Coetzer, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn bejaarde paartjie, onderskeidelik 73 en 62 jaar oud, se liggame is met talle steekwonde in hul huis in Boksburg aan die Oosrand gevind. Dit is nie duidelik waarmee hulle gesteek is nie. Die man en vrou was glo nie getroud nie, maar het jare lank saam gewoon.

ʼn Skoonseun van een van die bejaardes het bekommerd geraak toe hy hulle nie in die hande kon kry nie en is na hul huis om ondersoek in te stel. Daar het hy die deur oopgebreek en hul liggame in die huis gevind. Die paartjie se silwer Honda Jazz was ook weg.

“Die speurders het vanaf gistermiddag [Woensdag] sonder ophou gewerk en die eerste verdagte is Woensdagaand in Reigerpark vasgetrek. Hy is 23 jaar oud,” het Coetzer gesê. “Die Honda Jazz is ook in die Joe Slovo informele nedersetting gevind nadat dit in ʼn botsing betrokke was.”

Die tweede verdagte is Donderdag omstreeks 14:00 ook in Reigerpark in hegtenis geneem. Hy is 22 jaar oud. “Ons kan nog nie die moontlikheid van verdere arrestasies uitsluit nie. Die polisie is steeds besig met die ondersoek en dit is nou in ʼn baie sensitiewe stadium,” het Coetzer gesê.

Die paartjie se name kan nog nie bekendgemaak word nie aangesien al hul familie nog nie van hul dood in kennis gestel is nie.

Die Honda Jazz wat teruggevind is. Foto: SAPD Die Honda Jazz wat teruggevind is. Foto: SAPD

Man in hof vir vrou se skietdood

$
0
0
Odette Barkhuizen. Foto: Facebook

Odette Barkhuizen. Foto: Facebook

George Barkhuizen (45), die man wat aangekla word van sy vrou, Odette (43), se moord nadat sy in Junie in die oprit van haar kantoor in Glenvista, Johannesburg, doodgeskiet is, het Donderdag in die Johannesburg-landdroshof verskyn.

Pamela Immelman, Odette se ma, het aan Maroela Media gesê Barkhuizen se prokureur was nie teenwoordig nie en hy sal op 16 September weer in die hof verskyn vir sy borgtog-aansoek. ‘n Woordvoerder van die polisie kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

Barkhuizen is Dinsdag in hegtenis geneem nadat talle bewyse aan die lig gekom het dat hy glo agter sy vrou se moord sit. Paul O’Sullivan, ʼn forensiese konsultant en eienaar van Paul O’Sullivan & Associates, wat gratis hulp aangebied het om die saak te ondersoek, het gesê verskeie aspekte dui op Barkhuizen se betrokkenheid by Odette se moord, onder andere dat hy glo miljoene rande se versekering op haar lewe uitgeneem het slegs enkele weke voor haar dood.

George Barkhuizen word in hegtenis geneem. Foto: Verskaf

George Barkhuizen word in hegtenis geneem. Foto: Verskaf

Die Barkhuizen-egpaar was ook glo besig om te skei en daar was onenigheid oor hul besigheid wat in Odette se naam geregistreer is. Barkhuizen beweer hy was nie naby die misdaadtoneel ten tyde van sy vrou se moord nie, maar selfoonrekords bewys glo dat hy wel op die toneel was.

Intussen is die familie desperaat op soek na Warwick (23), die egpaar se oudste seun, wat gestremd is en sedert sy pa se inhegtenisneming verdwyn het. Volgens Immelman het Barkhuizen Warwick êrens gaan aflaai voordat hy Dinsdag na die polisie is vir ondervraging. Hy is toe in hegtenis geneem en is nou in polisieaanhouding, maar weier glo om te sê waar Warwick is.

Immelman het Donderdag aan Maroela Media gesê hulle weet steeds nie waar Warwick is nie, maar glo en hoop dat hy in veilige hande is. “Ons het by mense wat weet waar hy is gehoor dat hy veilig is, maar hulle weier ook om te sê waar hy is op instruksie van sy pa wat in die tronk sit. Hoe verstaan jy so iets?,” het sy gesug. “Ons hande is afgekap. Ons hoop nou maar net dat hy veilig is en dat ons met hom in aanraking kan kom sodra sy pa se borgtog-verhoor afgehandel is.”

Baba se lyk in puttoilet gevind

$
0
0

Foto: ER24

Foto: ER24

Die liggaam van ʼn pasgebore babaseuntjie is Donderdag in ʼn puttoilet in Umkomaas, KwaZulu-Natal gevind.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici is na die toneel ontbied nadat die baba se liggaam glo deur die plaaslike polisie ontdek is. Een van die inwoners het glo die voorval by die polisie aangemeld, wat hulle na die toneel gehaas het.

“’n Paramedikus het in die puttoilet ingeklim om die baba uit te haal, maar toe gevind dat die baba reeds dood is,” het Meiring gesê. “Hulle kon niks meer vir die kind doen nie.”

Die saak sal deur die polisie ondersoek word.

Ntlemeza as nuwe hoof van Valke aangestel

$
0
0

Nathi Nhleko. Foto: Werner Beukes/SAPA

Nathi Nhleko. Foto: Werner Beukes/SAPA

Polisieminister Nathi Nhleko het Donderdag aangekondig dat die waarnemende hoof van die Valke, Mthandazo Ntlemeza, permanent in dié posisie aangestel is.

Ntlemeza staan sedert Desember aan die hoof van die eenheid nadat Anwa Dramat uit die posisie geskors is ná ʼn ondersoek oor die onwettige uitlewering van Zimbabwiese burgers in 2010.

Nhleko het by die mediakonferensie gesê Ntlemeza het 34 jaar ervaring as ʼn polisiebeampte en om en by 30 jaar in die ondersoek- en intelligensiediens. Ntlemeza het in 1981 by die polisiemag aangesluit in die destydse Transkei en het sedertdien vir verskeie polisie-eenhede gewerk.

“Genl. Ntlemeza het baie prestasies bereik in die opsporing van misdaad en polisiëring,” het Nhleko gesê. Hy het gesê vyf kandidate is vir die pos oorweeg en onderhoude is met hulle gevoer. Ntlemeza was uiteindelik “die beste man vir die posisie”.

Ntlemeza, wat langs Nhleko gesit het tydens die konferensie, het gesê sy aanstelling dui op die kabinet se vertroue in sy bekwaamheid.

“Ek verseker julle en die burgers van hierdie land van my onwrikbare toewyding teenoor die stryd teen misdaad en die oppergesag van die gereg,” het Ntlemeza gesê. “Ek hoop die [Valke] sal hulself bewys as ʼn gevorderde, bevoegde en betroubare arm van polisiëring in Suid-Afrika.”

Swaar vonnis vir reeksverkragter

$
0
0

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Man wat skuldig bevind is daaraan dat hy ses vroue verkrag het, is Donderdag in die Durbanse streekshof gevonnis.

Aubrey Ndadane (41) is ses lewenslange vonnisse opgelê. Die hof het hom tot ʼn verdere 15 jaar tronkstraf gevonnis omdat hy vyf van sy slagoffers van hul selfone beroof het.

Landdros Wendolyn Robinson het gesê sy kon geen bewyse vind waarom die pa van twee minder as ses lewenslange vonnisse opgelê moet word nie. Die man het sy kop in sy hande gehou terwyl Robinson die vonnis gelewer het.

Hy het die ses vrouens tussen Januarie en Mei vanjaar verkrag nadat hy hulle gelok het met beloftes van moontlike werk. Nadat hy sy slagoffers verkrag het, het hy hulle aangesê om hulself te was met water wat hy in ʼn bottel by hom gedra het. Die verkragtings het in Clairwood, Wentworth en Montclair, almal buurte in die suide van Durban, plaasgevind.

Ndadane het verlede week in trane uitgebars toe hy skuld erken het op die aanklagte. Robinson het gesê hy het nie werklik berou nie, aangesien hy eers ingestem het om ʼn pleitooreenkoms met die staat aan te gaan nadat daar vir hom gesê is dat selfoonrekords hom met die slagoffers verbind. Sy het gesê die hof kon geen dwingende of wesenlike faktore vind om ʼn ligter vonnis op te lê nie.

“Jy het geen verduideliking vir jou vernietigende optrede nie,” het sy gesê. “Hierdie vrouens se lewens is duidelik op die ergste moontlike manier vernietig.” Sy het gesê die feit dat hy die pa van twee minderjarige kinders is, dien ook nie as versagtende omstandighede nie. “Jy is op geen manier ʼn rolmodel vir jou kinders of vir toekomstige generasies nie.”

Zuma tree op teen polisiemoorde

$
0
0

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Pres. Jacob Zuma het die regering opdrag gegee om maniere te vind om die moorde op polisiebeamptes hok te slaan.

“Die president het opdrag gegee dat ons alle moontlike maniere ondersoek om die epidemie te verslaan,” het Nathi Nhleko, die minister van polisie, Donderdag in die Nasionale Vergadering gesê. “Ons sal met gemeenskappe in gesprek tree sodat hulle hul wysheid met ons deel in ons strewe om ’n einde aan die polisiemoorde te bring.”

Nhleko het gesê daar is een polisiebeampte vir elke 360 mense in die land, en dat die verlies van beampte dus ʼn groot gaping laat wat lank vat om te vul. “Die 60 polisiebeamptes wat al vanjaar vermoor is sou verantwoordelik wees vir die veiligheid van omstreeks 21 480 mense.” Nhleko het gesê die vermoorde polisiebeamptes is “nie maklik om te vervang nie” gegewe die tyd wat dit neem om ʼn polisiebeampte op te lei.

“Die president het opdrag gegee dat ʼn plan onmiddellik ontwikkel en geïmplementeer word om die moorde te stuit. Ons het ag geneem van hierdie opdrag geneem en het maatreëls van krag onder die vaandel van die polisie se veiligheidstrategie. Hierdie plan, die Nasionale Tegniese Reaksieplan, moet onmiddellik geïmplementeer word.”

Nhleko het gesê die plan behels onder meer dat polisiebeamptes die tonele waar hul kollegas doodgeskiet is, behoorlik moet ondersoek om te bepaal watter omstandighede tot hul dood gelei het.

Twee polisiebeamptes is Woensdag in Dobsonville, Soweto, doodgeskiet.

Nuwe Valke-hoof se aanstelling ‘moet bevraagteken word’

$
0
0

ValkeDie DA het gesê hy het met benoudheid verneem dat Berning Ntlemeza aangestel is as die nuwe hoof van die Valke.

“Hierdie is ’n man wie se aanstelling en optrede as waarnemende hoof van die Valke deur die Noord-Gautengse hooggeregshof as bevooroordeeld en oneerlik beskryf is,” het Dianne Kohler-Barnard, die DA se skaduminister van polisie, gesê.

“Ons sal om dié rede dringend aan die voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie skryf en versoek dat die minister van polisie onmiddellik na die parlement ontbied word om die rasionaal vir die aanstelling te verduidelik.

“Die onverklaarbare skuif deur die minister moet luidkeels bevraagteken word en sy ongetwyfelde versuim om bevredigende antwoorde te verskaf moet aan ’n parlementêre ondersoek onderwerp word en die aanstelling van Ntlemeza moet ter syde gestel word,” het Kohler-Barnard gesê.

Die DA hou vol dat Ntlemeza se aanstelling aan waarnemende hoof van die Valke onwettig was aangesien die skorsing van sy voorganger, Anwa Dramat, ongrondwetlik was. Die Noord-Gautengse hooggeregshof en die konstitusionele hof het gelas dat die minister van polisie se besluit om Dramat te skors “onwettig” en “ongeldig” was en “ter syde gestel moet word”.

“Die portefeuljekomitee oor polisie kan nie die minister se gedrag, deur Ntlemeza eers onregmatig in ’n waarnemende hoedanigheid aan te stel en nou dit permanent te maak, ignoreer nie,” het Kohler-Barnard gesê.


Ontvoerde driejarige met gesin herenig

$
0
0

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Driejarige meisie van Oos-Londen is Donderdag met haar gesin herenig, meer as ʼn maand nadat sy glo deur haar oppasser ontvoer is.

Perfect Gift Msesiwe is na bewering op 3 Augustus deur haar oppasser ontvoer. Die oppasser het glo R500 000 geëis vir haar veilige terugkeer. Die vrou (32) is glo van Mosambiek afkomstig en is glo deur ʼn ander groep vrouens gehuur.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het aan die Daily Dispatch gesê die meisie is Maandag in ʼn dorpie naby Maputo gevind. Volgens Mulaudzi is die oppasser al Vrydag in hegtenis geneem en is twee van haar familielede in Maputo in hegtenis geneem vir die verskaf van skuiling aan ʼn gesteelde kind.

Mulaudzi het gesê die oppasser sal Dinsdag in die Mdantsane-landdroshof verskyn op aanklag van afpersing, ontvoering en mensehandel.

Perfect is Donderdag by die polisiehoofkantoor in Zwelitsha met haar gesin herenig. Maggie Sotyu, adjunkminister van polisie, het die geleentheid bygewoon en gesê die gesin het ʼn stresvolle vier weke agter die rug.

Zolelwa Msesiswe, die meisie se ma, het gesê sy het die afgelope vier weke elke dag gebid vir die veilige terugkeer van haar dogter. “Ek het geweet God sal my nie teleurstel nie. Ek is baie bly om my kind weer te sien.”

Man weer in hof oor handgranaat-moord

$
0
0

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Voormalige weermagkolonel wat daarvan beskuldig word dat hy sy vrou met ʼn handgranaat vermoor het, sal Vrydag in die Durban-landdroshof om borgtog aansoek doen.

Joel Mahoase (44) het op 29 Augustus na bewering twee M26-handgranate in die kombuis van hul Amanzimtoti-woning gegooi terwyl hy en sy vrou rusie gemaak het. Een van die granate het ontplof en sy vrou, Lesego, het ernstige beserings opgedoen.

Lesego is deur familielede na die Kingsway-hospitaal gehaas, maar is omstreeks 02:00 die volgende dag dood. Sy was ʼn lid van die lugmag en was by die militêre basis by die Bluff in Durban gestasioneer.

Mahoase, ʼn voormalige Umkhonto we Sizwe-lid, het verlede week vlugtig in die hof verskyn. Hy het gehawend gelyk en het net een skoen aangehad.

Lees alle vorige berigte oor die saak op Maroela Media.

Krejcir-vonnisoplegging begin

$
0
0
Radovan Krejcir. Foto: Werner Beukes / SAPA

Radovan Krejcir. Foto: Werner Beukes / SAPA

Die vonnisoplegging van Radovan Krejcir, die Tsjeggiese voortvlugtige en sakeman, en sy vyf medebeskuldigdes sal na verwagting Vrydag in die Johannesburg-hooggeregshof begin.

Dit volg nadat Krejcir verlede maand skuldig bevind is aan poging tot moord, ontvoering en dwelmhandel.

Krejcir se medebeskuldigdes Desai Luphondo, Siboniso Miya, voormalige ao. George Nthoroane, Samuel Maropeng en Jan Lefu Mofokeng is almal skuldig bevind aan ontvoering. Almal, buiten Nthoroane, is ook skuldig bevind op aanklag van poging tot moord. Nthoroane is skuldig bevind aan aanranding.

Hulle is aangekla van die ontvoering en marteling van Bheki Lukhele.

Lukele is die broer van die man wat Krejcir na bewering uit R70 000 en ʼn multimiljoen rand se vrag onwettige metamfetamien bedrieg het. Die staat het voorgehou dat Lukele se aanranding ʼn poging was om sy broer, Doctor Nkosi, ʼn toesighouer by Swissport Cargo Services by die OR Tambo- internasionale lughawe, te vind.

Krejcir staan ook nog tereg op twee aanklagte van moord sowel as een van sameswering om moord te pleeg. Dié aanklagte hou verband met ander sake.

Lees alle vorige berigte oor Radovan Krejcir op Maroela Media.

Nuuskommentaar: Is ons dan ape? Nee, ape gedra hulle beter

$
0
0

Homo naledi (Foto: Skermskoot uit National Geographic-video)

Homo naledi (Foto: Skermskoot uit National Geographic-video)

Die nuus gister dat ’n span wetenskaplikes van oor die wêreld heen ’n nuwe vroeë homonied-spesie, Homo naledi, op Suid-Afrikaanse bodem ontdek het, is wêreldwyd groot nuus. Geen nuusmedium in Suid-Afrika wat sy sout werd is kon werklik waag om ’n blinde oog op dié aankondiging, met bykomende inligting, te werp nie.

En tog, menige redakteur sou by voorbaat krimp in die vooraf-wete dat daar ’n stroom kritiek sou wees. Die woord “evolusie” is immers ’n gelaaide een en maak by baie mense hewige emosies wakker.

En dit is oor hierdie reaksies en die wyse waarop dit dikwels erg beledigend teenoor mede-Christene aangebied word waaroor dit hier handel, eerder as ’n argument vir of teen evolusie. In die proses word hele kerkverbande verdoem – terwyl die Bybel dit immers duidelik stel dat die oordeel ons nie toekom nie.

Uit ’n wetenskaplike oogpunt beskou sal daar vele vraagtekens wees oor hoekom die aankondiging gedoen is terwyl daar byvoorbeeld nog geen ouderdomsbepaling gedoen is nie. Die standaard-proses wat deesdae gevolg word, om die ouderdom deur minstens drie erkende metodes te bepaal, waarvan die resultate ooreen moet kom, gaan nog gevolg word. Veral in hierdie geval waar die nuwe spesie soveel eienskappe met baie ou  en veel jonger spesies deel, sou verwag word dat die ouderdom eers bepaal sou word. Voorts gaan probeer word om DNS te onttrek. Die uitslae hiervan sou vele vrae beantwoord. Die moderne mens, sowel as sy naaste verwante, die Neandertal en Denisovan, het immers een chromosoom minder as die groot ape en ander oorgangsfossiele.

Die NG Kerk se formele beleid oor evolusie maak in hoofsaak vir drie opsies voorsiening wat aan lidmate ’n mate van keusevryheid bied. Dit sluit in: 1) teïstiese evolusie (God beheer die proses as deel van sy skeppingswyse); 2) lidmate kan die Bybelse skeppingsverhale soos vervat in Genesis 1 (die tweede skeppingsverhaal en geskep in die tyd van die ballingskap) en Genesis 2 (die eerste skeppingsverhaal en geskep in die tyd van Dawid en Salomo) aanhang; of 3) ’n benadering wat as ou-aarde-skepping beskryf kan word waar die skepping letterlik met die Bybel ooreenstem, maar in die oper konteks dat die aarde ongeveer 4,5 miljard jaar oud is, en nie 6 000 jaar oud nie (die argument hier is dat een dag soos ’n duisend jaar is, en ’n duisend jaar soos een dag – vergelyk Psalm 90:4 en 2 Petrus 3:8).

Die Hervormde Kerk se standpunt, soos gestel in die e-Hervormer, kom met dié van die teïstiese evolusie ooreen. Daar word onderskei tussen ’n voor-historiese tyd (voor Abraham) en ’n historiese tyd daarna.

Die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (GKSA) se standpunt is verwarrend deurdat, volgens ’n artikel in Die Kerkblad, ’n sinode ’n standpunt ingeneem het wat ooreenstem met die teïstiese evolusie, maar die mediaverklaring wat dit moes toelig, dit grootliks weerspreek het. Meer onlangs het deputate ’n studiestuk opgestel wat sterk ooreenkomste met die jong-aarde-kreasionisme toon, maar die verslag is nie bespreek nie, en die sinode het die status verander na “die opinie van die samestellers”.

In ’n baie interessante artikel in Die Kerkblad het emeritus-dominee Fanie Coetsee na God se twee openbaringswyses, die Skrif (Bybel) en die skepping (wetenskap) verwys.

Die Rooms-Katolieke Kerk, veral soos verwoord deur die jongste twee pouse, staan duidelik in die dampkring van die teïstiese evolusie.

Die Suidelike Baptiste in die VSA het formeel standpunt ten gunste van jong-aarde-kreasionisme ingeneem, ’n benadering wat grootliks voortvloei uit ’n boek wat net meer as 50 jaar gelede die lig gesien het, The Genesis Flood. Hierin is getrag om op wetenskaplike grondslag te toon dat die aarde inderdaad net 6 000 jaar oud is.

In die GKSA se deputateverslag is verwys na “probleemwetenskappe” soos geologie, sterrekunde en fisika wat almal met gegewens werk wat veel ouer as 6 000 jaar is. Hierby kan gevoeg word argeologie, insluitend Bybelse argeologie waar gewerk word met die stad Jerigo wat volgens sommige navorsing 10 000 jaar oud is.

Die idee dat die aarde 6 000  jaar oud is, is die gevolg van berekenings van ’n Anglikaans-Ierse biskop James Ussher (1581-1656) wat die stamregisters bereken het. Ander, wat presies dieselfde berekenings doen, kom egter by net meer as 4 000 jaar uit.

Nie alle wetenskaplikes wat evolusie aanhang, is Christene nie. Baie is ateïste, maar dit is aanmatigend om wetenskaplikes, waaronder paleontoloë, onder ’n kombers van ateïsme in te vee. Boonop is daar grootskaalse onkunde onderling oor die ander benaderings, en dit is dikwels juis hierdie strooipoppe wat aangeval word, eerder as dit wat die betrokkenes self werklik glo. Die bekendstes is seker dat die ontstaan van lewe deel van evolusie uitmaak, of dat evolusie altyd in ’n reguit lyn plaasvind (wat die wetenskaplikes strykdeur ontken).

Ook onder die leserskommentare op Maroela Media word woorde gebruik wat erg kwetsend is, soos “Wat ’n stinkende, stomende pot hondedrek.” Word hier nie nou heel en groot dele van kerkverbande veroordeel nie?

Sal die Here werklik van sy kind verwag om “namens” Hom tot sulke vlakke (en erger) te daal? Word daar dan nie van die Christen verwag dat ander die Here deur hom/haar  kan sien nie?

Moet die Christen nie die goeie vrugte van die Heilige Gees probeer nastreef nie? Dié vrugte, soos saamgestel uit die Bybel, is ʼn begrip van die genade van God, regverdigheid, waarheid, liefde, vrede, geduld, vriendelikheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing, inskiklikheid, genade teenoor ander, onpartydigheid en onbevooroordeeldheid word maar te maklik met die slegte vrugte vervang: deelname aan ongehoorsaamheid, dade wat in die geheim gepleeg word wat te erg is om te noem, verwaandheid, uitlokkendheid/skoorsoekerigheid, jaloesie, selfsug, die vertel van leuens, skynheiligheid en kwaadwillige vooroordeel.

Vrou spring ver om van rowers te vlug

$
0
0

Marietha Kruger. Foto: Facebook

Marietha Kruger. Foto: Facebook

ʼn Vrou van Harrismith in die Vrystaat het Donderdag ʼn verdieping ver geval toe rowers by hul huis ingebreek en sy na veiligheid gespring het.

Michael Kruger het aan Maroela Media vertel sy vrou, Marietha (31), was alleen by die huis toe sy omstreeks 11:00 ʼn klop aan die deur gehoor het. Sy het van die boonste verdieping afgestap na die voordeur, toe die deur skielik oopgestamp is en drie onbekende mans ingekom het.

“Sy het omgedraai en opgehardloop kamer toe, maar twee van hulle het haar agternagesit en by die kamerdeur gevang,” het Michael gesê. “Hulle het haar in die kamer ingestamp, in ʼn duvet toegedraai en vir haar gesê as sy nie stilbly nie, sal hulle haar doodmaak.” Die twee rowers is weer af met die trappe en toe Marietha die houttrappe hoor kraak, het sy opgespring en by die venster uitgespring. Sy het op ʼn sementblad te lande gekom en vermoedelik haar voete gebreek.

“Sy het om ʼn muurtjie langs die huis gekruip en daar weggekruip terwyl die rowers alles gesteel het wat hulle wou. Hulle is daarna na die buurvrou se huis langsaan en het daar ook ingebreek en goed gesteel,” het Michael vertel. Toe die rowers uiteindelik in ʼn silwer Chevrolet Spark gevlug het, het Marietha tot op die gras gekruip en om hulp begin skree. Sy het ure lank om hulp geroep voordat ʼn buurvrou haar teen 16:00 uiteindelik gehoor het en kom help het.

“Toe ek die oproep kry van wat gebeur het, was ek in Durban,” het Michael gesê. “Weet jy hoe voel dit om so oproep te kry terwyl jy so ver is? Dis asof jou bloed stol. Ek het so vinnig teruggery as wat ek kon, maar het eers laat gisteraand [Donderdagaand] hier by haar aangekom.”

Volgens Michael het dokters Marietha se bene en voete tydelik verbind en sal X-strale Vrydag geneem word om te bepaal wat presies gebreek is. “Sy het verskriklike pyn en sy kan glad nie loop nie,” het hy gesê. “My seun sal van nou af saam met my vrou bedags by die huis wees om seker te maak sy is nie alleen as so iets ooit weer moet gebeur nie.”

Krejcir-vonnisoplegging uitgestel

$
0
0
Radovan Krejcir tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes/Sapa

Radovan Krejcir tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes/Sapa

Die vonnisoplegging van Radovan Krejcir, die Tsjeggiese voortvlugtige en sakeman, en sy vyf medebeskuldigdes wat Vrydag in die Johannesburg-hooggeregshof sou begin, is uitgestel.

Volgens die polisie is die vonnisoplegging tot 12 Oktober uitgestel weens “swak gesondheid” van ʼn regsverteenwoordiger.

Krejcir is verlede maand skuldig bevind aan poging tot moord, ontvoering en dwelmhandel.

Krejcir se medebeskuldigdes Desai Luphondo, Siboniso Miya, voormalige ao. George Nthoroane, Samuel Maropeng en Jan Lefu Mofokeng is almal skuldig bevind aan ontvoering. Almal, buiten Nthoroane, is ook skuldig bevind op aanklag van poging tot moord. Nthoroane is skuldig bevind aan aanranding.

Hulle is aangekla van die ontvoering en marteling van Bheki Lukhele.

Lukele is die broer van die man wat Krejcir na bewering uit R70 000 en ʼn multimiljoen rand se vrag onwettige metamfetamien bedrieg het. Die staat het voorgehou dat Lukele se aanranding ʼn poging was om sy broer, Doctor Nkosi, ʼn toesighouer by Swissport Cargo Services by die OR Tambo- internasionale lughawe, te vind.

Krejcir staan ook nog tereg op twee aanklagte van moord sowel as een van sameswering om moord te pleeg. Dié aanklagte hou verband met ander sake.

Lees alle vorige berigte oor  op Maroela Media.

Geen paspoorte, ID’s uitgereik weens kragonderbreking

$
0
0

Argieffoto

Argieffoto

Die departement van binnelandse sake se verifikasiestelsel is buite werking weens ʼn kragonderbreking.

Die departement het in ʼn verklaring gesê die HANIS-stelsel word gebruik om datavaslegging vir slim ID-kaarte en paspoorte te doen. ʼn Kragonderbreking by die departement se Nuwe Samewerking-gebou, waar die stelsel gesetel is, het skade aan die kabels veroorsaak wat die stelsel buite werking gestel het.

“Elektrisiëns het dwarsdeur die nag gewerk om die kabels te vervang, terwyl die departement se IT-span op bystand is om die bediener te herlaai,” het die departement gesê. “Ons hoop dat die stelsel nie later as 13:00 [Vrydag] weer in werking sal wees nie.”

Die departement het verskoning gemaak vir die onderbreking in dienslewering.


Vrou, twee kinders brand in huis dood

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

ʼn Vrou en twee kinders, onder wie ʼn drie maande oue baba, is Vrydag dood toe ʼn huis in Kaapstad tot die grond toe afgebrand het.

Theo Layne, woordvoerder van die Kaapse brandweer, het aan Maroela Media gesê die brand het vroegoggend by ʼn huis in Lavender Hill uitgebreek.

“Die informele struktuur is heeltemal verwoes. Die vrou en twee kinders is op die toneel dood verklaar. ʼn Man is met brandwonde na ʼn nabygeleë hospitaal geneem,” het Layne gesê.

Die slagoffers se ouderdomme was nie dadelik beskikbaar nie.

Die oorsaak van die brand is onbekend en word ondersoek.

Ramaphosa: ‘Negatiwiteit is nasionale sport in SA’

$
0
0

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

Negatiwiteit is vir Suid-Afrikaners ʼn nasionale sport ten spyte daarvan dat die land verskeie verbeteringe op maatskaplike, ekonomiese en politieke gebiede toon, het adj.pres. Cyril Ramaphosa Vrydag gesê.

“Ek het die ander dag in die parlement gesê ons het die afgelope 30 dae geen beurtkrag gehad nie. In plaas daarvan dat dit gevier word, gooi mense koue water daaroor uit. Dit het ʼn nasionale sport onder Suid-Afrikaners geword. Ons put genot daaruit dat alles verkeerd loop,” het Ramaphosa op die nasionale raad vir ekonomiese ontwikkeling en arbeid (Nedlac) se jaarlikse beraad in Pretoria gesê.

“Ons is ʼn nasie wat onsself vermink. Ons sny onsself in stukke en kyk heeltyd na al die negatiewe. Ons kyk nooit na die positiewe nie. Self wanneer Eskom probeer om vir 30 dae beurtkrag uit die land te hou, sê ons ‘dis nie belangrik nie’. Ons kyk na alles uit ʼn negatiewe perspektief. Dis tyd dat ons positief raak. Ons moet nie net onsself lief hê nie, maar ook ons land liefhê en ʼn paar van die positiewe goed wat aan die gang is, raaksien.”

Ramaphosa het gesê die Nedlac-beraad wat ʼn samekoms van die regering, arbeid en die sakebedryf is, moet Suid-Afrikaners hoop gee.

“Nedlac moet ʼn handelaar van hoop wees. Hierdie Nedlac-beraad moet ʼn beraad wees wat hoop kweek. Ons moet hoop aan ons mense gee. Dit is ʼn forum wat alle sektore van ons ekonomie kombineer. Hier moet voorstelle gegee word van praktiese goed wat ons kan doen wanneer ons vandag hier wegstap. Ons moet buitengewone goed doen in tye van buitengewone uitdagings om buitengewone geleenthede aan te gryp,” het Ramaphosa gesê.

Bheki Ntshalintshali, waarnemende hoof van Cosatu, het sy toespraak gebruik om oor die polisiesterftes in Suid-Afrika te praat. “Hoewel dit lyk asof hierdie aanvalle op die polisie is, is dit eintlik op ons gemeenskappe gemik. Dit het ten doel om vrees aan te wakker onder diegene wat ons gemeenskappe moet beskerm. Wanneer dit bereik is, sal dit oorspoel na die wyer bevolking en sal die oerwoudwet van oorlewing van die sterkste seëvier,” het Ntshalintshali gesê.

“Waar het jy gesien dat polisie deur misdadigers gejaag, vasgekeer en doodgemaak word, behalwe in ons geval? Ons dink hierdie saak moet nou aandag kry.”

Vroeër vandeesweek het pres. Jacob Zuma polisiebeamptes aangemoedig om hulself teen misdadigers te verdedig. Altesaam 58 polisiebeamptes het hierdie jaar al gesterf in misdaadverwante aksies.

Twee ‘polisiemoordenaars’ doodgeskiet

$
0
0
Die R5 waarop die polisie beslag gelê het. Foto: SAPD / Twitter

Die R5 waarop die polisie beslag gelê het. Foto: SAPD / Twitter

Twee vermeende polisiemoordenaars is Donderdag in ʼn skietgeveg met die polisie in Johannesburg doodgeskiet.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê twee mans, wat vermoedelik betrokke was in ʼn skietvoorval Woensdag waartydens twee polisiebeamptes doodgeskiet is, is Donderdag naby die De Hoek-tolhek ingewag.

“Die verdagtes het in ʼn rooi Golf GTI gery. Dieselfde voertuig was Woensdag betrokke by ʼn voorval waartydens twee beamptes, van die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings, aangeval en doodgeskiet is,” het Dlamini gesê.

Die beamptes is ao. Samuel Mchizama (50), met 25 jaar diens in die polisie en konst. Solly Maluleke (40), met 10 jaar diens in die polisie.

ʼn Groep van agt rowers het vroeër ʼn supermark in Dobsonville beroof en in drie voertuie, waaronder die rooi Golf met Noordwes-nommerplate, van die toneel gevlug. Een van die voertuie was kort daarna in ʼn botsing met die beamptes se ongemerkte polisievoertuig betrokke.

Die groep rowers het  op die beamptes losgebrand. Mchizama is op die toneel dood en Maluleke het in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Die rowers het met die beamptes se vuurwapens van die toneel gevlug.

“ʼn Grootskaalse soektog na die verdagtes is van stapel gestuur en met die hulp van die publiek het die polisie inligting ontvang wat tot Donderdag se voorval gelei het,” het Dlamini bygevoeg.

Die gevalle beamptes. Foto: Verskaf

Die gevalle beamptes. Foto: Verskaf

Dlamini het gesê die verdagtes het op die polisie losgebrand toe hulle die polisie gewaar het. Die polisie het teruggeskiet en albei verdagtes is noodlottig gewond.

Die polisie het beslag gelê op die motor en ʼn R5-geweer.

Voorlopige ondersoek het bepaal dat die Golf in Moffatview gekaap is. Een van die verdagtes wat dood is, word ook verbind met ten minste vyf ander ernstige misdrywe, waaronder nog ʼn moord op ʼn polisiebeampte.

“Ons wil die publiek bedank vir hul samewerking. Ons doen ʼn beroep op die publiek om aan te hou om inligting aan die polisie te verskaf deur 08600 10111 te bel of ʼn SMS te stuur na Crime Line by 32211. Mense kan ook hul naaste polisiestasie bel of besoek,” het hy gesê.

Die soektog na die ander verdagtes duur voort.

Handgranaat-moord: ‘Vrou het man voorheen probeer vermoor’

$
0
0

Argieffoto

Argieffoto

Joel Mahoase, die voormalige weermagkolonel wat sy vrou na bewering met ʼn handgranaat vermoor het, het in Junie ʼn saak van poging tot moord teen sy vrou aanhangig gemaak.

Mahoase (44) word daarvan beskuldig dat hy op 29 Augustus twee M26-handgranate in die kombuis van hul Amanzimtoti-woning gegooi terwyl hy en sy vrou, Lesego, rusie gemaak het. Een van die handgranate het ontplof en Lesego het kort ná die voorval aan haar beserings beswyk.

Adv. Paul Jorgensen, Mahoase se regsverteenwoordiger, het Vrydag in die Durban-landdroshof gesê Lesego het in Junie vanjaar remvloeistof oor Mahoase se motor uitgegooi terwyl hy in die motor was en probeer om dit aan die brand te steek. Jorgenson het na die letsels op Mahoase se gesig gewys en gesê dit is deur die remvloeistof-aanval veroorsaak.

Dit het ook aan die lig gekom dat Mahoase by ʼn ander geleentheid vir ʼn beskermingsbevel teen sy vrou aansoek gedoen het. Die bevel is as bewys ingedien.

Konst. Dumisane Gumede wat in die getuiebank was, het gesê hy was die beampte wat die poging tot moord aanklag moes ondersoek. “Toe ek haar in hegtenis wou neem, het hy [Mahoase] my gekeer. Hy wou die aanklag teen haar laat vaar,” het Gumede gesê. Jorgensen het aan Gumede gevra of hy daarvan bewus is dat Mahoase destyds nie die saak voor die hof wou bring nie omdat hy graag die probleme tussen hom en sy vrou wou uitstryk.

Gumede het aan die hof gesê volgens die bewyse wat tot dusver versamel is, het Mahoase die aand van 31 Augustus teruggekeer huis toe nadat hy by ʼn begrafnis was. Die egpaar se twee kinders, vyf en agt jaar oud, het in hul kamers geslaap toe Mahoase en sy vrou oor geld begin stry het.

Volgens Gumede was ʼn “neef-broer”, slegs bekend as Tsepo, in die kombuis toe Lesego vir hom kom sê het haar man het haar gedreig. Mahoase het die kombuis binne gekom met ʼn handgranaat in elke hand. Hy het glo die pennetjies uitgetrek en albei handgranate in die kombuis gegooi.

Gumede het aan die hof gesê daar is geen vingerafdrukke van die handgranaat geneem wat nie ontplof het nie. Later het hy gesê “dit is moontlik dat ballistiese beamptes” aan wie die handgranaat oorhandig is, vingerafdrukke geneem het.

Jorgenson het gesê hy wou nie sy kliënt se verdediging nou al bekendmaak nie, maar “hy [Mahoase] het nie die pennetjie van die handgranaat uitgetrek nie”.

Mahoase is ook ʼn voormalige Umkhonto we Sizwe-lid en Lesego was ʼn lid van die lugmag.

Die borgtogverhoor is uitgestel tot later vanmiddag.

Slang pik sanger se seun (3)

$
0
0

Adriaan saam met Jacobus en Anika. Foto: Verskaf

Adriaan saam met Jacobus en Anika. Foto: Verskaf

ʼn Driejarige kleuter se nuuskierigheid het sy sangerpa groot skrik op die lyf gejaag toe sy seun onlangs deur ʼn nagadder gepik is.

Adriaan Joubert, een van die Juba Broers, het Vrydag aan Maroela Media gesê hy was Saterdag, 29 Augustus, omstreeks 10:00 op sy plaas naby Loubad in Limpopo besig om toerusting in sy kombi te laai toe die slang sy seun, Jacobus, gepik het.

“Ek het Jacobus in die kombi gesit terwyl ek die toerusting ingelaai het. Ek het hom ewe skielik vreeslik hoor huil en aanvanklik gedink hy het uit die kombi geval,” het Joubert gesê.

Joubert het dadelik na sy seun gehardloop en gesien Jacobus hou ʼn slang aan sy stert in sy hand vas.

“Ek het groot geskrik. Ek het aanvanklik gedink dit is ʼn pofadder wat ʼn verskriklike gevaarlike slang is. Ek het die slang uit sy hand gegryp en weggegooi, maar gou besef ek sal die slang nodig hê vir identifikasie en teengif.”

Jacobus in die hospitaal. Foto: Verskaf

Jacobus in die hospitaal. Foto: Verskaf

Hy het die slang gou weer opgespoor en gesien dit is ʼn nagadder. Hy het dit doodgemaak en in ʼn kosblik gesit. Joubert het Jacobus en sy twee dogters, Anika (5) en Elrika (ses maande), in die kombi gelaai en by sy sangpaarbroer, Martiens, se huis op die plaas gaan aflaai. Hy het met sy seun en die slang van Loubad na die Montana-hospitaal in Pretoria gejaag.

Joubert het intussen sy vrou, Anri, by haar werkplek in Bela-Bela (Warmbad) gebel, asook die slanghanteerder, Andre Lourens, wat vir hom oor die telefoon verduidelik het watter noodhulp om toe te pas. Lourens het ook die hospitaal gebel en gesê Joubert is op pad sodat hulle kon voorberei. Anri het later in die hospitaal by haar man en seun aangesluit.

“Jacobus is in die hospitaal se pediatriese hoësorgeenheid opgeneem waar die dokters vir hom antibiotika gegee het aangesien daar nie teengif was nie. Hy is op sy linkerhand gepik en sy hele linkerarm het begin opswel soos wat die gif versprei en sy weefsel aangeval het.”
Jacobus moes onder verdowing geplaas word om so min as moontlik te beweeg terwyl die gif uitgewerk het. Hy was vir vyf dae lank daar behandel voordat hy ontslaan is.

Jacobus se hand. Foto: Verskaf

Jacobus se hand. Foto: Verskaf

Sy wond moet steeds daagliks dopgehou word vir infeksie.

“Dit lyk darem asof dit nou goed gaan met hom en hy herstel mooi. Sy handjie is steeds geswel, maar hy gebruik hom, wat ʼn goeie teken is. Die swelling begin ook darem nou sak. Daar is heelwat weefselskade en ons sal dalk later veloorplantings moet oorweeg.”

Joubert het dieselfde dag van die voorval weer terug gery Limpopo toe en was betyds om sy verpligtinge vir die Juba Broers in Polokwane na te kom.

Hy het Lourens in besonder bedank wat hom tydens en na die voorval bygestaan het en het mense ook gewaarsku om veral nou versigtig te wees vir slange aangesien hulle dié tyd van die jaar baie aktief is.

Foto: Verskaf Die slang wat hom gepik het. Foto: Verskaf
Viewing all 56621 articles
Browse latest View live