Suid-Afrikaanse intelligensie- en wetstoepassingsagentskappe het Woensdag gesê daar is geen “geloofwaardige of onmiddellike” terreurdreigemente teenoor Amerikaanse belange in Suid-Afrika nie.
Brian Dube, woordvoerder van die departement van staatsveiligheid, het gesê die Suid-Afrikaanse agentskappe het inligting van die Amerikaanse regering af ontvang. “Ons moes toe ons eie ontleding doen. Ons kon nie ʼn geloofwaardige, onmiddellike dreigement identifiseer soos hulle aangevoer het nie,” het Dube gesê.
“Miskien is dit weens ʼn verskil in die protokol oor hoe dreigemente geïdentifiseer en geklassifiseer word.” Dube het gesê Suid-Afrika sal egter steeds met Amerikaanse agentskappe saamwerk om die oënskynlike bedreiging te evalueer. “Ons kan duidelik nie bekostig om oorgerus te wees nie, aangesien terrorisme ‘n wêreldwye verskynsel is.”
David Nahlobo, minister van staatsveiligheid het Woensdag aan 702 gesê Amerika het die Suid-Afrikaanse regering nie oor die presiese besonderhede van die dreigement ingelig nie. Anonieme bronne in die Suid-Afrikaanse intelligensiediens het glo gesê Amerika het inligting ontvang dat iemand met ʼn Suid-Afrikaanse paspoort glo ʼn lid is van ʼn gewelddadige Islamitiese groep soos IS, Al-Shabab of Boko Haram.
Die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika het Dinsdag gesê hy het inligting ontvang dat ekstremiste moontlik Amerikaanse belange in Suid-Afrika teiken. Die ambassade het in ʼn waarskuwing op sy webtuiste gesê die belange wat moontlik geteiken kan word, sluit in Amerikaanse regeringsfasiliteite en ander fasiliteite wat identifiseerbaar is met Amerikaanse sakebelange.
Cindy Harvey, woordvoerder van die ambassade, wou nie uitbrei oor die aard van die dreigement nie. Alle Amerikaanse ambassade-geboue is in 2009 vir drie dae gesluit ná ʼn terreurdreigement.
Twee mans het Woensdag in die hof verskyn in verband met die moord op ’n man Sondagaand by East Coast Radio se Durban Day-geleentheid.
Tristan Augustus en Radley Warner staan albei tereg op ‘n aanklag van moord en twee aanklagte van poging tot moord. Landdros Vanitha Armu het die saak tot 17 September uitgestel sodat ʼn uitkenningsparade gehou en die saak verder ondersoek kan word.
Die verdagtes word daarvan beskuldig dat hulle Montreal King (19) met ʼn skerp voorwerp doodgesteek het. Nog twee mense is ook met ʼn skerp voorwerp gesteek. Kol. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, het vroeër gesê ʼn geveg het glo tussen twee groepe jongmense uitgebreek by People’s Park naby die Moses Mabhida-stadion waar die geleentheid plaasgevind het.
“Die groepe het mekaar glo beledig toe een van die mans die slagoffer in die bors gesteek het. Die verdagte het glo hierna die mes neergegooi en gevlug terwyl sy vriend die slagoffer glo geskop het,” het Naicker gesê.
Die konfrontasie tussen die twee groepe het glo later voortgegaan waarna ʼn vriend van King in die hand gesteek is, glo deur die man wat King geskop het. Naicker het gesê ʼn derde persoon is ook tydens die voorval gesteek.
Die polisie in KwaZulu-Natal het in Augustus 250 verdagtes op aanklag van seksuele oortredings in die provinsie in hegtenis geneem.
Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê die inhegtenisnemings wat van 1 Augustus tot 31 Augustus gemaak is, was onder meer op aanklag van ontvoering, aanranding, huishoudelike geweld, seksuele aanranding en verkragting.
Zwane het gesê daar is in dié tydperk, wat ook as Vrouemaand bekend is, 65 verdagtes gevonnis op aanklagte van misdade teen vroue. “Nege lewenslange vonnisse en ʼn totaal van 623 jaar tronkstraf is die afgelope maand deur die howe opgelê vir hierdie soort misdade.
Julius Malema, leier van die EFF, in die parlement Foto: africa.widme.com
Julius Malema, leier van die EFF, het Woensdag die eerste slagoffer geword van die nuwe strenger parlementêre reëls toe hy fisies uit die Nasionale Vergadering verwyder is oor aanmerkings wat hy oor adjunkpresident Cyril Ramaphosa gemaak het.
Malema is versoek om op te staan en ʼn uitlating wat hy in die Nasionale Vergadering gemaak het, dat Ramaphosa ʼn moordenaar is, terug te trek. Malema het verwys na die Marikana-gebeure in Augustus 2012 waartydens 34 mynwerkers deur polisiebeamptes doodgeskiet is by Lonmin se myn. Ramaphosa was destyds ʼn direkteur van die mynmaatskappy.
Mmatlala Boroto, voorsitter, het bevind dat Malema se uitlatings “neerhalend” is en daarom onparlementêr is en dat Malema dit moet terugtrek. Malema het in plaas daarvan om die uitlatings terug te trek, gesê: “Cyril is ʼn moordenaar en Cyril het deelgeneem aan die sameswering om myners te vermoor.”
Boroto het Malema versoek om die Nasionale Vergadering te verlaat. Hy het geweier. “Ek sal nie gaan nie. Roep daardie uitsmyters. Ek gaan nêrens nie.” Die parlementêre beskermingsdienste is ingeroep en Malema is uit die Nasionale Vergadering verwyder hoewel EFF-lede dit eers probeer keer het.
Ingevolge reël 54 is Malema nou outomaties vir vyf dae uit die parlement geskors en mag hy nie die perseel in dié tyd betree nie.
‘n Irma Stern-skildery wat vroeër vanjaar ontdek is waar dit as ʼn kennisgewingbord in die kombuis van ’n woonstel in Londen gebruik is, is Woensdag vir £842 500 (of R17 693 080) opgeveil.
Die afslaer Bonhams het die skildery opgeveil nadat een van sy deskundiges, Hannah O’Leary, in Julie daarop afgekom het toe sy die woonstel besoek het om kunswerke te waardeer. Die eienaars van die woonstel het die skildery, getiteld Arab in Black, as ʼn kennisgewingbord gebruik en poskaarte en rekeninge daaraan vasgespeld, onbewus van die waarde daarvan.
Volgens Bonhams het die skildery in die 1970’s in Brittanje beland toe die eienaar daarvan geëmigreer het en is dit later aan die vorige eienaar, waar dit in Julie gevind is, bemaak. Die skildery het oorspronklik aan Betty Suzman behoort. Sy was die dogter van Max Sonnenberg wat Woolworths in Suid-Afrika gestig het en die skoonsuster van Helen Suzman, anti-apartheidsaktivis.
Die skildery is in die 1960’s op ‘n veiling verkoop om geld in te samel vir Nelson Mandela en sy medeverweerders se regskoste in die opspraakwekkende hoogverraadverhoor. Die skildery dateer van 1939.
Bonhams het in 2011 ‘n soortgelyke Stern-skildery vir meer as £3 miljoen (sowat R60 miljoen) opgeveil.
Die dwelmmiddels en twee vuurwapens waarop die polisie in Phoenix, KwaZulu-Natal, beslag gelê het Foto: SAPD
ʼn 36-jarige man is Woensdag in Everham, Phoenix in KwaZulu-Natal, in hegtenis geneem vir die besit van dwelmmiddels en onwettige vuurwapens.
“Lede van die polisie het ʼn wenk opgevolg wat hulle tot ʼn sekere huis in die gebied gelei het,” het maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, gesê. “Tydens ʼn soektog het die beamptes op 4 780 mandraxtablette, 60 heroïen-strooitjies en twee ongelisensieerde vuurwapens met sewe lewendige rondtes ammunisie, afgekom. Die vuurwapens sal vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of hulle tydens enige ander misdade gebruik is.”
Die verdagte sal binnekort in die Phoenix-landdroshof verskyn.
Die polisie in KwaZulu-Natal is op soek na drie mans wat hulle moontlik kan help met inligting oor drie kapings wat vandeesweek in Isipingo en Amanzimtoti plaasgevind het.
“’n Verdagte het homself Woensdag omstreeks 12:15 as ʼn koper voorgedoen en ʼn verkoopsman by ʼn motorhandelaar om die bos gelei om hom op ʼn toetsrit te neem,” het maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, gesê. “Twee gewapende verdagtes het op pad by hulle aangesluit en hulle het saam met die verkoopsman tot by die Folweni-gebied gery.” Die verdagtes het ʼn polisievoertuig opgemerk, die handelaar se voertuig verlaat en te voet gevlug.
Skaars drie ure later, het ʼn verkoopsman van ʼn ander motorhandelaar met ʼn voertuig na ʼn voornemende koper in Isipingo gery wat ook versoek het om die motor te toetsbestuur. Op pad het hulle ook twee gewapende mans opgelaai. “Hulle het saam met die verkoopsman tot by Adams Mission gery waar hulle hom afgelaai en weggery het met die motor,” het Zwane bygevoeg.
Na bewering het ʼn 44-jarige verkoopsman Dinsdag ook saam met ʼn voornemende koper rondgery toe twee gewapende mans hulle ook voorgekeer het en aangesê het om na ʼn snelweg te ry. “Die verkoopsman is by die snelweg afgelaai en die twee gewapende mans, tesame met die ‘koper’, het in die motor gevlug.”
Die polisie in Isipingo en Amanzimtoti ondersoek die onderskeie kapings.
Motorhandelaars word gemaan om bykomende voorsorgmaatreëls te tref wat toetsbestuur betref. “Hulle moet verkieslik deur ʼn veiligheidsmaatskappy begelei word,” het Zwane gesê.
Enigiemand met inligting oor die sake word versoek om die Isipingo-polisie te skakel by 031 913 3409 of die Amanzimtoti-polisie by 031 913 1308.
Sheryl Cwele, veroordeelde dwelmhandelaar en eksvrou van die voormalige minister van staatsveiligheid, het ʼn hofaansoek gebring om op korrektiewe toesig vrygelaat te word.
Die departement van korrektiewe dienste het intussen reeds te kenne gegee dat hy die aansoek sal teenstaan. Cwele het Maandag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg verskyn waar sy in hofdokumente aangevoer het dat sy in aanmerking kom vir korrektiewe toesig, aldus die Daily News.
Volgens die koerant het Cwele vorige hofbeslissings voorgehou wat glo voorsiening maak vir die omskakeling van haar vonnis na korrektiewe toesig. Manelisi Wolela, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, meen dit is egter nie die geval nie. “Mev. Cwele kwalifiseer nie vir die omskakeling van haar vonnis nie, aangesien sy steeds ʼn paar jaar van haar vonnis in aanhouding moet uitdien.”
Cwele is die eksvrou van Siyabonga Cwele, die minister van telekommunikasie en posdienste en destydse minister van staatsveiligheid. Cwele en haar medebeskuldigde, Frank Nabolisa is in Mei 2011 in die hooggeregshof in Pietermaritzburg tot 12 jaar tronkstraf gevonnis vir dwelmhandel.
Cwele en Nabolisa het teen hulle vonnisse geappelleer waarna die hoogste hof van appèl hul vonnisse tot 20 jaar tronkstraf verhoog het. Nabolisa het die konstitusionele hof genader, wat bevind het dat die staat amptelik appèl moes aangeteken het voordat die appèlhof die vonnisse kon verander. Nabolisa se vonnis is terug verander na 12 jaar. Cwele het ook die konstitusionele hof genader en die hof het bevind dat sy dieselfde vonnis as Nabolisa moet kry.
Cwele het reeds sowat drie jaar van haar vonnis uitgedien. Die veroordeelde dwelmmuil Tessa Beetge, een van Cwele se vermeende slagoffers, het aan The Mercury gesê Cwele moet nog tronkstraf uitdien. “Cwele het agter die hele ding gesit, die reëlings en die planne. Dit sal regtig onregverdig wees.” Beetge is in 2008 tot agt jaar tronkstraf gevonnis nadat sy op ’n lughawe in Brasilië met 10 kg kokaïen betrap is. Sy het vyf jaar en 11 maande van haar vonnis uitgedien voor sy na Suid-Afrika teruggekeer het.
Cwele se aansoek Maandag is uitgestel tot ‘n datum wat nog bekend gemaak moet word.
Die reddingspoging in Simon’s Town. Foto’s: Lindsey Cyster
Twee stappers is Woensdag in twee afsonderlike voorvalle op berge in die Wes-Kaap beseer en moes per helikopter gered word.
Vanessa Horn, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid se AMS-noodhelikopterdiens, het gesê in die eerste voorval is ʼn helikopter omstreeks 14:30 ontbied nadat ʼn 19-jarige vrou haar been gebreek het terwyl sy op Red Hill in die Simonstad-omgewing gestap het. Sy is op die toneel behandel en in ʼn stabiele toestand na die Vincent Palotti-hospitaal geneem.
“Die helikopter was skaars terug by die basis toe dit uitgeroep is na die De Hoop-natuurreservaat in Bredasdorp nadat ʼn 64-jarige vrou omstreeks 16:00 haar enkel gebreek het terwyl sy ook gestap het,” het Horn gesê. Reddingswerkers moes abseil om tot by die vrou te kom. Hulle het haar behandel, waarna sy na die Bredasdorp- provinsiale hospitaal geneem is.
Twee vrouepolisiebeamptes van Limpopo word van regsverydeling aangekla nadat hulle ʼn beweerde verkragting glo probeer toesmeer het.
Volgens die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) is ’n polisiebeampte van Polokwane, wat ook ʼn pastoor is, daarvan aangekla dat hy een van sy gemeentelede verkrag het. Die vrou het die beweerde verkragting by die polisie aangemeld.
Grace Langa, woordvoerder van Opod, het gesê die polisiebeampte het toe glo die twee vrouebeamptes R1 500 elk betaal om die slagoffer te kry om ʼn verklaring te onderteken waarvolgens sy die saak terugtrek en om die dossier te laat verdwyn.
Die beweerde gebeure het egter aan die lig gekom en die twee vrouebeamptes word nou van regsverydeling aangekla. Hulle sal op 30 September in die hof verskyn. Opod het ook versoek dat daar dissiplinêre stappe teen die beamptes gedoen word. Hulle mag intussen geen verdere sake van seksuele oortredings of kindermishandeling hanteer nie.
Die verkragtingsaak is intussen weer ingestel en die polisiebeampte sal na verwagting Donderdag in die Seshego-streekhof verskyn.
Twee mense is dood en twee is ernstig beseer toe twee bakkies Woensdagaand naby Bronkhorstspruit gebots het.
Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het Donderdag gesê die botsing het omstreeks 20:00 op die R25 in die Welbekend-omgewing plaasgevind.
“Een bakkie het die ander bakkie teen die kant getref. Dit is nog nie duidelik hoe die botsing plaasgevind het nie en die oorsaak sal ondersoek word,” het Botha gesê.
Volgens Botha is die twee insittendes van die een bakkie op die toneel dood verklaar. Die twee insittendes van die ander bakkie is ernstig beseer en is op die toneel behandel voordat hulle na ʼn nabygeleë hospitaal geneem is vir verdere behandeling.
“Ek dink sy het hard baklei, maar die pyn was te veel. Sy kon nie meer uithou nie. En toe het haar hartjie gaan staan.”
Só het Sibreena da Costa, die ma van die agtjarige Katelint, aan Maroela Media gesê nadat haar enigste dogter Dinsdag aan haar ernstige brandwonde beswyk het. Katelint en haar eenjarige boetie, Jayden, het erge brandwonde opgedoen toe hul ouerhuis in Ellisras deur vlamme verwoes is.
Albei die kinders is in die waakeenheid van die Makweng-hospitaal in Polokwane behandel, waar Katelint Dinsdag dood is. Jayden is steeds in die waakeenheid. Hulle driejarige boetie, Douw, is nie in die brand beseer nie.
Sibreena het Donderdag gesê daar is geen woorde om te beskryf hoe sy voel nie. “Ek voel heeltemal leeg. Ek mis haar so baie. Ek wil haar net vashou, haar soen en vir haar stories vertel. Ek wil vir haar musiek aansit en lag vir haar stories en skerp sêgoed. Hoe gaan ek aangaan sonder haar? Hoe gaan ek aan haar boeties verduidelik waar hulle sussie is?”
Sy vertel dat dit nou nog moeiliker is om vir Jayden in die waakeenheid te gaan kuier omdat dit elke keer ʼn herlewing van Katelint se dood is. “Al die masjiene en goed is presies soos dit was soos toe sy dood is. Dit is moeilik om daar te wees,” het sy gesê. “Ek sal ook nooit weer teruggaan na daardie huis [in Ellisras] toe nie. Ek kan nie. Daar is te veel slegte herinneringe nou daar.”
Sy het gesê ʼn ligpunt in dié stadium is dat Jayden geringe verbetering toon en dat dokters meen hy is buite gevaar. Jayden word steeds onder verdowing gehou, maar die swelling in sy gesig het grootliks gesak. Volgens Sibreena is dit hoogs waarskynlik dat hy in die toekoms veloorplantings sal nodig hê.
Sibreena het gesê sy sal Donderdag Katelint se liggaam gaan uitken, waarna die begrafnisondernemer haar sal kom haal en terugneem Middelburg toe. “Ek wil haar nie begrawe in dieselfde dorp waar sy seergekry het nie, daarom wil ek haar terugneem Middelburg toe waar sy grootgeword het en gelukkig was. Daar sal sy kan rus,” het ʼn emosionele Sibreena gesê.
“Ons gaan haar begrawe en nie veras nie, want ek wil nie hê sy moet ʼn tweede keer brand nie. Ek weet sy staan nou langs haar boetie en moedig hom aan om sterk te wees. Sy was nog altyd ʼn baie eerlike, reguit kind en sy sê nou reguit vir Jayden dat hy moet deurdruk, want ons almal hier het hom nodig. Ek weet sy is nou oukei.”
Groot gedeeltes van Centurion is van vroeg Donderdagoggend af sonder krag.
Volgens die munisipaliteit is die kragonderbrekings in Bronberrik, Cranbrookvale, Eldoraigne, Hennopspark, Wierdapark, Raslouw en Zwartkop weens kabeldiefstal by die Eldoraigne-substasie.
“Weens die erns van die skade kan daar nie gesê word presies wanneer die kragtoevoer herstel sal wees nie,” het ’n amptenaar van die munisipaliteit gesê.
Tegnici werk tans aan die probleem en dit is moontlik dat die kragtoevoer wel teen laat Donderdagaand herstel kan wees.
Maureen Meyer (57), die kleuterskooleienaar van Port Elizabeth wat haarself Woensdag aan die brand gesteek het, het briewe aan haar familie gelaat om te verduidelik waarom sy dit gedoen het.
Meyer, skoolhoof en eienaar van die Clever Kids-kleuterskool in Kabega Park, is dood nadat sy glo omstreeks 11:30 selfmoord gepleeg het. Die voorval het glo buite sig van die kinders en ander onderwysers by die skool gebeur.
Dirk Fourie, Meyer se skoonseun, het Donderdag aan Maroela Media gesê sy skoonma was die laaste persoon wat hulle ooit sou verwag het só iets sou doen. “Dit is vir ons almal ʼn verskriklike skok. Maar ja, soms kan ʼn persoon net tot op breekpunt gedruk word… Sy het briewe aan die familie gelaat waarin sy die redes vir haar besluit verduidelik, maar ons wil dit nie graag bekendmaak nie. Dit is maar ʼn baie sensitiewe aangeleentheid in hierdie stadium,” het hy gesê.
Volgens Fourie was Meyer ʼn bekende en gesiene persoon in Kabega Park. “Sy was byna 30 jaar lank ʼn onderwyseres. Van die kinders in haar skool se ouers was ook in haar skool. Sy was baie geliefd in die gemeenskap,” het hy gesê.
Die skool is tydelik gesluit totdat die familie besluit op ʼn pad vorentoe. “Ons sal vandag deur haar testament gaan en dit sal ʼn goeie aanduiding wees van wat met die skool sal gebeur. Indien die skool wel toemaak, sal ons probeer om dit eers aan die einde van die jaar te doen sodat die ouers genoeg tyd het om alternatiewe reëlings te tref. Maar dit sal van baie goed afhang. Ons sal al die ouers dadelik inlig wat gebeur sodra daar besluit is.”
Hy het gesê ʼn private gedenkdiens sal Vrydag vir Meyer gehou word en die amptelike begrafnis eers volgende week, aangesien hulle wag vir die nadoodse ondersoek om afgehandel te word. “Dis ʼn baie traumatiese tyd vir ons almal,” het Fourie gesê.
Kapt. Johan Rheeder, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn geregtelike doodsondersoek word gedoen.
Terwyl die huidige taaldebat, wat maar op ’n slopingspoging van Afrikaans neerkom, op verskeie kampusse woed en diep spore deur potensiële versoeningslanderye trek, het daar ’n welkome afwisseling gekom. Prof. Jonathan Jansen, Kovsie-rektor, het volgens Volksblad aan die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) gesê dit is nie nodig dat oud-pres. MT Steyn se standbeeld op die Kovsie-kampus afgebreek word nie.
Deur die jare het Jansen hom periodiek as versoener sonder weerga onderskei, net om dan weer deur hete (en dikwels gekruide woorde) polarisasie aan te blaas.
In heterogene lande bly kulturele kwessies soos taal en kultuurhistoriese simbole, soos standbeelde en plekname, deurlopend onder druk. Dit geskied veral in lande wat nie juis as demokrasieë gefunksioneer het nie, en die geskiedenis dikwels deur, en ten bate van die oorwinnaar geskryf is. ’n Goeie voorbeeld is hoe mense in verskillende dele van die Oekraïne die geskiedenis heel uiteenlopend verstaan, nadat die land lank deel van die Sowjet-Unie uitgemaak het.
Tog, in die VSA, wat soms demokrasie tot die absurde voer waar onder meer sherrifs verkies moet word, is daar uiteenlopende idees oor die geskiedenis en vind dit neerslag in die aandrang van die vordering of vernietiging van ou simboliek. Ons is reeds goed vertroud met die gereelde konflik oor mense en soms instellings wat steeds van die suidelike Konfederasie se simbole soos die vlag gebruik maak. Die kiesers van Suid-Carolina het met hul wetgewer se besluit om weg te doen met die gebruik om die Konfederale vlag oor dié deelstaat se hoofstad te laat wapper, saamgestem.
Maar dis nie al brandpunt onder Uncle Sam se neus nie. Die peilingsagentskap Rasmussen het pas gevoelens oor ’n hele paar kwessies getoets. Onder die ander kwessies is byvoorbeeld die besluit dat die hoogste piek in die VSA weer sy inheemse naam terugkry, Berg Dinali. Daar is aandrang dat die presidente se gesigte wat uit rots gekap is by Stone Mountain in Georgia verwyder moet word omdat van die vereerde presidente regstreeks of onregstreeks slawerny goedgekeur het. “But 85% of voters disagree, saying the United States should not erase symbols of its past that are out of line with current sentiments. Most Americans also oppose adding any more presidents to the lineup on Mount Rushmore, perhaps the nation’s most iconic symbol of the presidency.”
Die meeste kiesers meen ook alle medeburgers behoort trots te wees op die land se geskiedenis as geheel, maar ’n belangrike maar, in die Suid-Afrikaanse konteks ook, tot 60% Amerikaners meen ander Amerikaners het selfs nie ’n basiese begrip van hul land se verlede nie.
Pres. Jacob Zuma se onlangse skuldpakkery op Jan van Riebeeck, maar veral sy idilliese voorstelling van sake in die land voor Van Riebeeck se koms, dui op ’n algehele gebrek aan kennis oor die land se geskiedenis. Ja, en daar was in ’n stadium Afrikaanse geskiedenisboeke wat mettertyd al hoe minder swart en bruin mense aan Voortrekkerkant in die laer van Bloedrivier geplaas het, en selfs heeltemal verswyg het. In watter geskiedenisboek die toespraakskrywer van premier Ace Magashule ’n weergawe gekry het dat oudpres. CR Swart ’n Boeregeneraal was en die gebou wat na hom vernoem is na die Fidel Castro-gebou hernoem moes word, sal net nugter en sy maat weet.
Teenoor die NRP probeer Jansen dit soos iets positiefs klink dat Huis JBM Hertzog se naam na Huis Beyers Naudé verander is, maar ná jare se mediagedweep oor “oom Bey” is daar steeds enorme ongelukkigheid by baie oor dié man se optredes.
Dis moeilik om ’n balans te vind.
Doodgewone bogpraatjies is daar ook, soos die burgemeester van die Tshwane-metropool wat tydens oudpres. Nelson Mandela se hospitalisasie in Pretoria gesê het hy wil die naamsveranderinge ter wille van die Madiba-nalatenskap deurdruk.
Maar Mandela word dan as versoeningsikon voorgehou – hoe is ’n proses van absolute polarisasie aanblaas deel van die Madiba-nalatenskap?
’n Krap-krap hier om ’n beentjie ter wille van vrede vir die wagtende kake te gooi, weeg eenvoudig nie op teen die harde werk van ’n holistiese versoeningspoging wat grondwetlik houdbaar is nie.
En neem maar kennis, weens verskeie faktore het die gebruik van die term “transformasie” deel van die probleem, eerder as die oplossing geword. Oor wat die begrip “transformasie” behels is daar lank nie meer eenstemmigheid nie.
Die Gautengse departement van onderwys het gesê ʼn program sal by die Roodepoort Primary School in Johannesburg ingestel word om te verseker dat leerlinge die werk inhaal wat hulle agtergeraak het die afgelope aantal weke.
Phumla Sekhonyane, woordvoerder van die departement, het gesê daar was Donderdagoggend 912 leerlinge by die skool vergeleke met die 643 leerlinge wat Woensdag opgedaag het toe die skool heropen het.
“Die departement se inhaal-program sluit in vakdeskundiges wat by die skool ontplooi is om saam met die onderwysers te werk om leemtes te identifiseer en te help om daarvoor op te maak,” het Sekhonyane gesê. “Kinders sal ook meer individuele tyd saam met onderwysers kan deurbring en sal ekstra klasse gedurende die skoolvakansies ontvang.”
Sy het gesê die departement het ook gereël dat ʼn span sielkundiges die skool besoek om berading aan leerlinge sowel as onderwysers te bied.
Die departement het Vrydag aangekondig dat die skool Dinsdag sal heropen met onderrig wat Woensdag hervat sou word. Die skool was byna vier weke gesluit weens voortslepende onluste wat maande lank ontwrig het. Die Gautengse premier, David Makhura, het gesê daar is besluit om die skool te heropen nadat ʼn verslag en voorstelle deur ʼn bemiddelingspan voorgelê is.
“Veiligheid by die skool sal opgeskerp word om te verseker dat die omgewing veilig en bevorderlik vir effektiewe onderrig en leer is,” het Makhura gesê. “Ons sal ook verseker dat die voorstelle van die bemiddelingspan geïmplementeer word.”
Hy het gesê aandag sal gegee word aan sosiale kwessies van die gemeenskap en omliggende gebiede om ʼn einde te bring aan die onluste by die skool en in die gemeenskap.
Homo naledi (Foto: Skermskoot uit National Geographic-video)
ʼn Ontdekking wat nuwe lig werp op die oorsprong van die mensdom is Donderdag publiek aangekondig as moontlik die “vermiste skakel” in evolusie.
Hier is alles wat jy moet weet oor dié vonds:
1. H. naledi is aanvanklik in 2013 in die Dinaledi-kamer by die Wieg van die Mensdom-wêrelderfenisterrein in Maropeng in Gauteng, Suid-Afrika ontdek.
2. H. naledi is vernoem na die grot, “Opkomende ster”. Naledi beteken “ster” in Sesotho.
3. H. naledi is ʼn nuut ontdekte spesie met ʼn mengsel van fisiese primitiewe en menslike eienskappe wat aandui dat dit gereedskap kon gebruik en regop geloop het, maar ook geklim het en met ʼn breingrootte wat met ʼn vroeër hominied verband hou.
4. Die gemiddelde H. naledi het ʼn klein brein, weeg ongeveer 45 kg, was 1.5 meter lank en, indien die vroulik was, sou dit vir die kleinste skoentjies in ʼn volwasse winkel moes soek.
5. Tot op hede is ongeveer 1 550 fossielelemente gevind wat beskryf is en verteenwoordig minstens 15 individue. Dit is die grootste enkele fossielvonds ooit in Afrika.
Ses van die vroue wat die oorskot uitgehaal het (Foto: John Hawks, ANA)
6. Die ligging en aard van die vonds is noemenswaardig, omdat dit wil voorkom – nadat talle ander teorieë oorweeg is – dat H. naledi doelbewus sy dooies in die afgeleë grot gelaat het, die tipe gedrag wat vroeër, so is daar gedink, beperk was tot die mens.
7. Die ontdekkingspan het gesê hulle het van die moeilikste en gevaarlikste toestande beleef om na menslike oorskot te soek.
8. Die ingang na die grot is só klein dat ʼn versoek op sosiale media gepubliseer is op soek na ervare wetenskaplikes wat in die 18 cm-opening kan pas. Ses vroulike “ondergrondse ruimtevaarders” is uit ʼn wêreldwye poel van kandidate gekies.
9. Belangstellendes kan die gesprek aanlyn volg op #NalediFossils.
Lees alle vorige berigte oor Homo naledi op Maroela Media.
Op Maandag 23 Maart vanjaar was Mariaan Wentzel (41), ʼn diereliefhebber en DBV-inspekteur van Lephalale (Ellisras) in Limpopo, saam met haar drie kinders in die sitkamer van die plaashuis waar hulle pas ingetrek het, besig om bokse uit te pak. Skielik het ʼn vreemdeling, gewapen met ʼn ysterpyp, sy verskyning gemaak. Die volgende 40 minute het haar lewe onherroeplik verander.
“Ek het daardie dag saam met die kinders by die huis gebly om uit te pak nadat ons van Lephalale na Renosterfontein buitekant Vaalwater verhuis het,” het Wentzel Donderdag aan Maroela Media gesê.
Die vreemdeling was Ian Chucko (29), ʼn Zimbabwiër, wat Wentzel aangerand, verkrag en beroof het. Landdros Theuns Prinsloo het hom Woensdag in die Modimolle (Nylstroom)-streekhof tot effektief 20 jaar tronkstraf gevonnis.
Chucko het op die dag van die aanval omstreeks 11:00 toegang tot die plaas, wat ʼn wildsheining het, gekry. Hy het die huis waar Wentzel, haar twee dogters van 7 en 9 en seun (5) doenig was, binnegegaan. Haar man, Morne, was ten tyde van die aanval besig om ʼn vrag huisware van Lephalale na die plaas aan te ry.
Ian Chucko. Foto: Verskaf
“My rug was na die deur en die volgende oomblik het my hond tekere gegaan en my kinders het gegil. Toe ek omdraai het hy my die eerste keer geslaan.” Sy vertel sy kon sien die man was nie van die omgwing nie en het hom in Engels aangespreek. “Ek het hom gevra What do you want?. Hy het sy vinger op sy lippe gesit en gewys ek moet stilbly. Ek vra toe weer, Just tell me what you want, I will give you anything.”
Chucko het gesê hy wil geld hê. Sy het gesê sy het nie geld nie, maar hy kan die televisie, rekenaar en selfone vat. “Ek het gesê Just take what you want and go.” Hy het haar weer geslaan en twee selfone wat daar gelê het, gegryp. Sy vir haar kinders geskree om badkamer toe te gaan, wat hulle gedoen het.
Hy het haar by die voordeur uitgestamp. “Ek was op die grasperk en het hom weer gevra Please take what do you need, what do you want from me? I will give you whatever you want. Hy het my met die pyp op my kop geslaan en terselftertyd na sy broek gewys. Toe weet ek daar is moeilikheid.”
Intussen het haar kinders by die venster uitgekyk en geskree toe hulle hul ma, wat toe erg gebloei het, gesien het. “Ek sê toe, Please not here and just leave my kids alone. Met dié het hy my na die waterpompstasie, sowat 10 m van die huis af, gevat en dit is waar alles gebeur het.”
Wentzel het gesê sy weet nie waar sy die selfbeheersing en kalmte vandaan gekry het nie. “Dit is net asof iets vir my gesê het om nou rustig te wees, want hier is moeilikheid. Dit is genade van Bo wat my gelei het. In ʼn stadium het dit vir my gevoel of ek nie meer in my liggaam is nie. Toe die dinge met my gebeur het, was dit asof God oorgevat het om dit vir my makliker te maak. Dit het baie, baie lank gevoel.”
Sy het gesê sy vermoed hy het nie gekom om te steel nie. “Hy het spesifiek daardie dag gekom om te doen wat hy gedoen het. Toe hy klaar is, het dit gelyk of hy baie senuweeagtig was. Hy het uitgestap en rondgekyk. Ek was bang hy sou teruggaan na my kinders toe. Ek het baie gebloei, was duiselig en was orals seer. Al wat deur my kop gegaan het, was om enigiets te doen om hom van die huis af weg te hou, maak nie saak wat nie.”
Haar man, wat saam met een van haar DBV-kollegas was, het in daardie stadium met die bakkie by die plaashek aangekom. “Gelukkig het ons die voertuig gehoor. Dit was ver maar die enjin se geluid het weergalm. Ek het geweet hulp is op pad, hoewel ek toe nie geweet het wie dit was nie.”
Chucko het senuagtig geraak. “Ek het vir hom gesê, Just take your stuff and run because today they are going to kill you. Hy het homself skoongemaak, die fone gevat en gehardloop.”
Wentzel is met ʼn oop kopwond en verskeie blou kolle aan haar gesig, arms, rug en lyf buite by die huis se hek aangetref. “My werker het die hek oopgemaak. Ek het vir hom geskree om te help want ek is aangeval. My man het toe met die bakkie ingejaag en my op die gras gekry. Al wat ek kon sê is dat ek aangeval en verkrag is. Ek weet nie wie hy gebel het nie, maar binne 10 minute was die plaas vol mense.”
Op die vraag oor wat alles ná die aanval deur haar kop gemaal het, antwoord sy vinnig: “Ek was kwaad, teleurgesteld, ek het hom verwyt. Ek was kwaad vir alles en almal. Ek het seer gehad en gevra waarom dit moes gebeur. Al dié emosies gaan gelyk deur jou kop. Jy is bang. Jy het die hele tyd ontsettende vrees in jou. Die emosies gaan nie vinnig weg nie. Daar is baie dae wat ek nog verwyt en kwaad raak en die hoekom-vraag vra, maar dit raak makliker met die tyd saam, want jy begin dit verwerk.”
Sy het gesê sy glo daar is sekere dinge wat sy nog vir jare saam met haar sal moet dra en verwerk. “Ongelukkig kan jy dit nie net los en sê dit is verby nie.”
Wentzel se huisdokter het haar ná die aanval behandel. Hy het vir haar ʼn kalmeermiddel en antiretrovirale medisyne gegee. Foto’s is van haar beserings geneem, haar wonde is behandel en sy het DNS-monsters laat neem en bloedtoetse ondergaan. “Ek dank die Here dat ek nie MIV positief is nie!”
Sy het gesê sy was nog nooit weer sedert daardie dag terug plaas toe nie. “Boere van die omgewing het dieselfde dag en die dag daarna al ons besittings teruggevat Lephalale toe, waar ek van toe af gebly het.”
Wat haar kort ná die aanval die meeste vertroosting gegee het, is die feit dat die polisie uitstekende werk gedoen het. Deur hul vinnige optrede is Chucko op 10 April in Vaalwater aangekeer. “Dit was ʼn groot verligting om te weet hy was nie meer op straat nie en kan nie terugkom om wraak te neem nie.”
Die eerste keer wat sy Chucko weer in oë gekyk het, was toe sy hom kort nadat hy in hegtenis geneem is, moes gaan uitken. “Ek was baie bang en gladnie seker wat vir my voorlê nie. Ek moes letterlik face to face met hom in aanraking kom en hom uitwys deur aan hom te raak. Ek het hom onmiddellik herken. Ek het die krag gekry en ek het gedoen wat ek moes, met haat en seer steeds in my.”
Sy het hom daarna net twee keer weer vlugtig tydens hofverrigtinge gesien. Chucko het glo geensins enige tekens van berou vir sy dade getoon nie.
“Hy kan nie in aanmerking kom vir parool voordat 20 jaar verby is nie. Dit is goed om te weet dat hy vir 20 jaar uit die samelewing gaan verdwyn en dat ʼn mens nie om enige hoek of draai in hom gaan vasloop nie.”
Hoewel sy bly is dat geregtigheid geskied en Chucko tronkstraf gekry het, voel sy dat 10 jaar nie genoeg tronkstraf is vir ʼn verkragting nie. “Daar sal nooit ʼn vonnis wees wat lank genoeg is vir so-iets nie.”
Op die vraag of die tronkstraf vir die aanklag van roof met verswarende omstandighede vir haar aanvaarbaar is, antwoord sy:
Sy het gesê ʼn wonderlike ondersteuningsgroep, haar gesin en haar geloof. Deur te praat oor die voorval het haar gehelp op haar pad na genesing.
Wentzel se man woon en werk tans in Port Elizabeth en sy beplan om aan die einde van die jaar by hom aan te sluit. Sy wil daar by ʼn instansie betrokke te raak wat verkragtingslagoffers bystaan.
Haar raad aan ander mense, mans en vroue, wat verkrag is, is: “Gaan praat. Praat met iemand, doen net iets want dit is nie nodig om stil te bly nie. Jy het niks om oor skuldig te voel nie. Jy het niks verkeerd gedoen nie. Praat, die gereg sal jou help. Jy bly nie stil nie. As ek stil gebly het, sou ek nie gemoedsrus gekry het nie.”
Maroela Media het haar gevra of sy Chucko ooit sal kan vergewe. “Vergewe ja, vergeet nooit.”
Twee lede van die vloot sal Vrydag in die Simonstad-landdroshof verskyn nadat hulle na bewering verskeie fietsryers en ʼn voetganger met ʼn sambok geslaan het.
Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê Johannes Horn en Musa Kheswa, albei 26 jaar oud, het in die hof verskyn op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Volgens Van Wyk is sewe klagtes by die polisie aangemeld.
Die twee mans het glo Saterdag tussen 06:45 en 07:39 in ʼn silwer VW Polo van Mainweg in Kalkbaai na Simonstad gery en fietsryers en voetgangers met ʼn sambok geslaan. “Die voorvalle het op verskeie plekke gebeur en is nie tot een plek beperk nie,” het Van Wyk gesê. Die twee mans sal albei om borgtog aansoek doen.
Lt. Obed Medupe, woordvoerder van die Simonstad-vlootbasis, het gesê die vloot sal geen stappe teen die twee mans doen totdat die verhoor afgehandel is nie. “Sodra die gereg sy gang gegaan het en die hof ʼn uitspraak gelewer het, sal ons besluit of verdere stappe deur die vloot gedoen sal word,” het hy gesê.
ʼn Senior navorser by die Raad vir Wetenskaplike en Industriële Navorsing (WNNR), wat vals nommerplate gebruik het sodat hy nie tolgeld hoef te betaal nie, is Donderdag gevonnis.
Dr. Stoyan Stoychev (36) het skuldig gepleit op 987 aanklagte van oortreding van die Padverkeerswet en die Sanral-wet, vir al die kere wat hy onderdeur e-tolhekke gery het. Hy het ook op aanklag van bedrog skuldig gepleit omdat hy sy nommerplaat gewysig het in ʼn poging om die e-tolstelsel te omseil.
Stoychev, ʼn Bulgaar, is op 2 Oktober verlede jaar op die N1 in Centurion in hegtenis geneem omdat hy sy Hyundai i30 sonder een van die motor se nommerplate bestuur het, die “C” op die ander nommerplaat na ʼn “O” verander en twee van die syfers omgeruil het.
Hy het later gekloonde nommerplate gebruik wat behoort aan BN Bunting, ʼn motoris wat ʼn geregistreerde e-tol-gebruiker is en sodoende skuld van R13 000 opgebou.
Stoychev het ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan.
Hooflandros Desmond Nair het die ooreengekome vonnis gelewer van ʼn boete van R20 000 of ses maande tronkstraf vir bedrog wat gepleeg is tussen 10 Maart 2014 en 2 Oktober 2014. Daarbenewens moet Stoychev 100 uur gemeenskapsdiens by die DBV verrig.
Die straf vir die ontduiking van e-tol was dieselfde, maar is in geheel opgeskort op voorwaarde dat hy sy e-tol skuld van meer as R14 000 vereffen. Dit sluit die bedrag in wat hy namens Bunting opgebou het.
Die staat het gesê rooi ligte het begin flikker toe gevind is Stoychev en Bunting het by verskillende e-tolhekke in Gauteng deurgegaan op dieselfde tye.
Vusi Mona, Sanral se woordvoerder, het gesê hy dink die pleitooreenkoms is regverdig. “Ons bedank die polisie en die nasionale vervolgingsgesag. Geregtigheid het geskied,” het Mona gesê.