
Argieffoto
ʼn 59-jarige man is in ʼn kritieke toestand in die hospitaal nadat hy Woensdagmiddag in ʼn veld in Meyerton, in Gauteng, deur twee honde verskeur is.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die man het omstreeks 17:00 in die veld langs Louis Trichardtweg geloop toe die twee honde op hom afgestorm het.
“Die man het erge bytwonde aan sy arms, bene, maag en kop opgedoen. ʼn Omstander het die aanval gesien en kon daarin slaag om die honde te verjaag, waarna die persoon die slagoffer bygestaan het totdat paramedici by die toneel opgedaag het.”
Die man is op die toneel behandel en na die Sebokeng-hospitaal geneem.
Beamptes van die Vereeniging-DVB en die polisie is na die toneel ontbied. Maroela Media het navraag by die Vereeniging-DBV gedoen, maar hulle het gesê die inspekteur wat op die toneel was, is nie nou beskikbaar nie.
Maroela Media wag vir terugvoer van die polisie en die Nasionale Dierebeskermingsvereniging oor die omstandighede rondom die aanval.