Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Nuuskommentaar: Is ons slagoffers of gewaande slagoffers?

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

“Die kultus van slagoffer wees” noem John Stossel dit. Stossel is ’n bekende Amerikaanse TV-aanbieder en rubriekskrywer. Hy wonder of hy nie al self die slagoffer hiervan was nie. By geleentheid het hy as joernalis gesê Amerikaanse rofstoei is ’n klug waarna ’n stoeier hom op albei ore gemoker het. Hy het hierna vreeslike oorpyn gehad. Toe verneem hy die stoeier is deur die promotor, Vince McMahon, aangesê om Stossel reg te sien. Stossel het McMahon vervolgens gedagvaar. As deel van die regsverloop moes hy ook ’n dokter wat deur MacMahon se regspan aangewys is, gaan spreek wat verklaar het Stossel se pyne is juridisomaties van aard. Dié uitdrukking, wat hy nie geken het nie, beteken voortdurende pyn waaraan die lyer “vasklou” omdat hy in ’n hofsaak gewikkel is.

Dit is verwant aan psigosomatiese pyne. Kort nadat die stoeiliggaam ’n skikkingsbedrag aan Stossel betaal het, het die pyne begin verdwyn.

In die artikel het Stossel dit egter hoofsaaklik oor diegene wat as iets met hulle verkeerd gaan, altyd sê hulle is die slagoffer van hierdie of daardie rede, selfs ’n eie geestesafwyking. Dis mense wat nie bereid is om verantwoordelikheid te aanvaar vir die gevolge van hul brouwerk nie.

En hiervan sien ons in Suid-Afrika heelwat. Tot Jan van Riebeeck is al deur pres. Jacob Zuma geblameer vir alles wat in die land verkeerd is. Hy beleef heel opsigtelik jansomatiese pyne. Ander sal seker apartosomatiese pyne beleef, en nog ander seker affirmatosomatiese pyne.

Solidariteit se toekomsberaad op 10 Oktober wil breek met hierdie simptoom en aanbeweeg na wat ons self kan doen. Net jammer ’n sekere politieke dampkring meen “self” is ’n vloekwoord.

Natuurlik is daar werklike slagoffers. Om die waarheid te sê, daar is mense, soos oorlewendes van plaasaanvalle, wat aan viktimologie ly. Dit is ’n diep trauma wat nie wil weggaan nie, aangewakker deur die gevoel van geïsoleerdheid en volgehoue blootstelling. Hierdie mense moet op allerlei maniere ondersteun word.

Dit is een ding vir ’n persoon met kanker om te sê hy gaan nie ’n kankerlyer wees nie maar ’n kankervegter, maar ’n ander ding as die persoon wat gediagnoseer word, meegedeel word hy is te laat gediagnoseer en het net ’n kort rukkie om te leef.

En ja, daar vind wonderwerke plaas.

Maar in die breë gemeenskap beleef rubriekskrywers dat diegene wat verkies om slagoffers te wees, veel meer is as diegene wat iets sinvols omtrent presies dieselfde stel feite wil doen. Rubriekskrywers, al raak hulle hoe sat vir die negatiewe, moet egter ook die oog op die lesersgetalle en -terugvoer hou. Geen media wil immers ’n rubriekskrywer, hoe knap ook al, hê wat nie lesers trek nie. (In alle billikheid, Maroela Media het nog nooit druk van hierdie aard op hierdie rubriekskrywer uitgeoefen nie.)

Maar onbewustelik neem die rubriekskrywer waar hoeveel reaksie hy kry. Sommige rubriekskrywers leef eenvoudig vir die reaksie en sal ook die grootste klomp prul opdis omdat hy weet dit roer die lesers. En as dit werk daarmee volhou tot dit nie meer kan nie. Hy is immers nie opgelei en toegerus om enkeldimensioneel met elke rubriek die getalle te trek deur in Zuma-bashing te verval nie.

Ander probeer weer werklik informatief-toeligtend met nugter beskouings wees al lewer dit dikwels min Facebook-“shares” van die hoofblad af op.

Dis so maklik soos van die bed afval om ’n rubriek te skryf wat die metertjies laat bont hardloop, en groot hoeveelhede leserskommentaar trek. Maar dit dra niks tot die lesers se verstaan van wat in die wêreld aangaan by nie. Dit ruim geen waninligting op nie, soos gereelde bewerings dat aardbewings toeneem en aanduidend is van die einde van die wêreld wat op hande is.

Die aktualiteitsrubriek spreek immers tot die leser se intellek, en is veronderstel om dit op ’n beredeneerde wyse te doen.

“Bôrieng” is die reaksie dikwels, soos wanneer die druk waaronder Afrikaans ter sprake kom aan die bod geplaas word. Maar laat Steve oor dieselfde gevolgtrekking Die Stem sing, dan weergalm die vlaktes.

Miskien onderstreep die jongste klompie Maroela-nuuskommentare se Facebook-“shares” van die hoofblad af die punt die duidelikste, met die jongste eerste genoem:

  • Moenie oor misdaad “komkommer” – misdaad is onder beheer, sê minister. 164 en sal waarskynlik nog vanoggend styg, met 12 lesersdeelnames
  • G*tvol vir korrupsie. 55 en geen leserskommentare
  • Katalane stem wéér vir onafhanklikheid. 94 en 13 leserskommentare
  • Kremlin-Afrikaners. 149 en 30 leserskommentare
  • Erfenis word weggetransformeer. 257 en 15 leserskommentare
  • Friese lesse vir Afrikaanssprekende voor Erfenisdag. 55 en 15 leserskommentare. (Die skrywer het per e-pos ’n hele paar gelukwensings gekry.)

Daar was voorbeelde soos “Waar kom die nag van die lang messe vandaan?”, oor Steve Hofmeyr en ander wat meer of baie na-aan ’n duisend “shares” van die hoofblad af gekry het. Net ’n blinde rubriekskrywer sal nie gou kan uitpluis op watter soort onderwerpe en aanslag (selfs al spreek die inhoudelike van lesersreaksies die teenoorgestelde sentimente as die “shares” uit) hy kan bly vuurslaan om die getalle te trek nie. En ironies, dit is maar te dikwels ook dit wat die minste navorsing verg (in min nuuskommentare gaan daar nie minstens anderhalf uur se navorsing in nie, al word alles nie gebruik nie en meestal van parate kennis gebruik gemaak om die gemoedere lekker op te sweep).

Maar Maroela Media is nie ’n kômmin nuuswebwerf wat sy meer intellektuele lesers op die ashoop gooi nie. Om baie meningsvormers as lesers te hê mag moontlik as prys nie teen algemene getalle opweeg nie, maar bly ’n belangrike prys.

Die rubriekskrywer weet hy kan nie elke dag as potroerder vir die aktuele debat almal tevrede stel nie. Hy kan probeer, maar durf ook nie primêre take afskaal nie. Hy moet terselfdertyd fyn van draad wees om die sentimente van die lesers te “lees” om te kan ontgin, maar terselfdertyd ’n vel soos ’n renoster om die tipe leserskommentaar wat soms geslinger word (hoe minder oor die aard en vermeende karakter van die “outeurs” gesê word, hoe beter), die hoof te kan bied.

Feite, feite en nogmaals feite moet die grondslag vorm, en dit help as die rubriekskrywer gevorderde opleiding het om propaganda maklik en betyds te kan eien en buite rekening te laat. Omdat die internet so ’n potente middel vir propaganda en samesweringsteorieë, asook ontkennings geword het, moet dit egter soms aangeraak word, wetende dis ’n kop in die byenes steek met min, indien enige sukses.

En dan is daar nog sommer ghwarre ook. En knap rubriekskrywers met ’n beperkte rakleeftyd, omdat hulle by feite probeer hou en verguis word.

Ja, hulle is soms ook slagoffers, en die “wát” wat van hulle slagoffers maak, is legio.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!